Hy wat Jesus wil volg, moet minstens 'n dienskneg word

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Markus 10
Preek Inhoud: 

15-03-92

MARKUS 10 : 35-45

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 75 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 16 : 1
Skriflesing: Markus 10 : 28-45
Gebed [doop: SB. 14:1]
Kollekte
Sing: Ps. 75 : 4, 5, 6
Tekslesing: Markus 10 : 35-45
Prediking
Sing: Ps. 16 : 2
Bevestiging van ouderling
Sing: Ps. 132 : 6, 10
Dankgebed
Sing: SB. 16 : 5, 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

"kry ons nog 'n referendum-preek"? Die vraag is herhaalde male vir die predikante gevra. Ek sê dit maar reguit. Ja, as dienaar van die Woord wil jy graag geestelike leiding gee, ook as dit oor die christen se roeping in die samelewing gaan. Nee, ek sal nie 'n "referendum-preek" hou nie. Dit is sinneloos om vanaf die kansel vir u "ja" of "nee" te sê.

Volgens die tradisie van die christelike kerk leef ons nou in die lydenstyd, die weke wat aan Goeie Vrydag vooraf gaan. Ek het daarom gekies vir 'n teks wat ons Jesus wys: hoe Hy letterlik op pad Jerusalem toe gegaan het in die wete dat Hy daar sou gaan sterf. Ek het hierdie teks uit Markus 10 gekies, omdat die woorde van Jesus my getref het: "kan julle die beker drink wat ek besig is om te drink?". Jesus gebruik hier 'n beeldspraak uit die OT: waar 'n hele paar keer van "die beker van die toorn van God" gepraat word, 'n beker wat Hy die volke laat drink. Ek wil daaroor 'n bydrae vir die Mededelingsblad skryf.

'n Spesiale teks, gekies vir die Sondag wat aan die referendum vooraf gaan? Nee. Die Woord van die Here is egter dikwels ryker as wat ons vermoet. Dit belig ook die agtergronde van 'n heidense samelewing, soos Suid-Afrika. Dit gee die volk van God wat in die wêreld lewe, baie insig: om tot sy eer en in sy diens volk van God temidde van die volke te wees. Ek preek vir u oor:

HY WAT JESUS WIL VOLG, MOET MINSTENS 'N DIENSKNEG WORD

  1. op die pad van sy lyding,
  2. in die kring van broers,
  3. om sy koms in die wêreld.

1. OP DIE PAD VAN SY LYDING (vs. 35-40)

Jakobus en Johannes vra hulle vraag, nadat die Here Jesus vir sy twaalf dissipels gesê het hoe naby die lyding is (slot van vs. 32). Die pad van sy lewe, en nou, van sy lyding voer na Jerusalem. Daar is nie 'n twyfel moontlik nie: die hoogtepunt van die verwerping van Jesus is naby. Eers sal Hy oorgelewer word aan die Joodse leiers (hulle sal Hom ter dood veroordeel), daarna sal dit húlle wees wat Hom aan die heidene oorlewer. (bespotting, bespuwing, doodmaak).

Dadelik nadat Jesus hierdie hartseer woorde gespreek het, kom twee van sy dissipels by Hom. Hulle het 'n baie dringende vraag. "Meester, ons het 'n versoek waarvan ons baie graag wil hê dat U dit inwillig". Hulle vra nie enigiets nie, soos ons vertaling sê ("wat ook al"), maar een spesiale versoek. "Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter- en een aan u linkerhand?".

Hierdie vraag val sleg op ons ore. Ons weet: Jesus gaan die vraag afwys. Kom ons vergeet effens daarvan en vra: is dit werklik 'n snaakse vraag? Ons het die Skriflesing by vs. 28 begin. Toe die ryk jongeling Jesus nie wou volg nie, omdat hy sy besittings wou vashou, het Petrus vir die Here gesê: "Kyk, óns het alles agtergelaat en óns het u gevolg!". Toe het Jesus gereageer met 'n belofte, 'n belofte van vergoeding: vs. 29-30. 'n Belofte vir hierdie tyd en een vir die "eeu wat kom, die ewige lewe". Dit het in die koppe van Jakobus en Johannes vasgebrand! Hulle dink aan die glorieryke toekoms van hul Meester! Nog sterker kom dit uit in die vertelling deur Mattheus: 19:28! "Voorwaar, Ek sê vir julle wat My gevolg het, - wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, sal julle ook op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel". Dit is Jesus wat éérste van sit op trone gepraat het: in 'n belofte vir die toekoms. Entousiasties kyk sy twee dissipels vorentoe: hulle het lus om saam met Jesus die volk van God te regeer! Dit is nie bloot 'n ereplek waarvir hulle vra, maar vir 'n baie aktiewe plek. Hulle het regtig lus om saam met hulle Meester te regeer!

Kom ons sê: dit is twee christene wat die sukses van Christus in die land wil sien. Die nasie moet met die reg en wet van Christus geregeer word.

"Julle weet nie wat julle vra nie", antwoord die Here. Hy is besig die pad van sy lyding te loop. Die bitter dieptepunt is naby. Is sy dissipels óók bereid om die pad saam met Hom te loop óf wil hulle net 'n vinnige sukses? "Kan julle die beker drink wat Ek besig is om te drink?". 'n Volle beker is in die OT 'n beeld viir die oorvloed wat God gee. Daar is die beker van seën, maar daar is ook die beker van die toorn van God. Ons het dit in Ps. 75 ontmoet: "in Gods hand 'n beker blink, waar die sondaars van moet drink". Die oormaat van God se toorn: dié wat God verwerp, sal die volle toorn van God ontvang. Jésus, die Seun van die mens, is besig om daardie beker uit God se hand aan te neem. Is sy volgelinge bewus van die bitterheid van daardie beker? En wat van "die doop"? Die doop is die onderdompeling. Net soos die beeld van die drink van die beker, is ook dit 'n Ou Testamentiese beeld: die onderdompeling in die watervloed wat besig is om Jesus te oorspoel. Ja, volgelinge van Jesus sal deel in sy lyding: in die bitterheid en die oorspoeling daarvan. Johannes en Jakobus het altwee hulle deel daarvan gekry.

Is ons, christene vandag, bereid om Jesus te volg in 'n wêreld wat Hom nie aanneem nie? Of sal ons 'n eie land skep wat 'n sekere beskerming teen verdere afbraak van die christelike nasie moet bied? Soek ons die sukses van 'n regering van christene, ook as blankes hulself dan sal moet terugtrek in 'n eie staat? Nee, die Heilige Skrif leer die kerk: ons is vreemdelinge in die wêreld wat nogtans orals Jesus volg. Ons het een Meester, soos die Here deur sy dissipels aangespreek is. Dit beteken nie noodwendig dat ons 'n pad van lyding sal loop nie. Die pad van Jésus se lyding is maatstaf: dit is nie die pad van terugtrek uit die wêreld nie, maar van verkondiging: met liefde en opoffering van eiebelang.

2. IN DIE KRING VAN BROERS (vs. 41-44)

Wie is die twee dissipels wat hulle vraag gevra het? Dit is duidelik: die twee "seuns van Sebedeus", twee broers waarvan Jakobus waarskynlik die oudste is. Só word hulle genoem, omdat hulle as bloedbroers optree, en nie as dissipels nie. Hulle soek die eie toekoms, nie die gesamentlike nie. In die evangelie soos Mattheus dit vertel, is dit nog skerper: daar word nog 'n element by vertel, nl. dat dit hulle ma is wat die vraag vir Jesus kom vra. Twee broers. Die familieband is sterk. Die ánder dissipels moet self regkom.

Die tien ander apostels is kwaad. Hulle het wel gehoor wat die twee broers saam met Jesus bespreek. Dalk is hulle ook kwaad vir Jesus. Die Meester bestraf die broers mos nie! Ja, Hy sê basies "nee" vir julle, maar is dit nie met 'n swak argument nie? "Dit berus nie by My om te gee nie". Dan roep Jesus die twaalf almal by Hom. Want die twee is fout, maar die tien dissipels is ook fout. Die ander tien reageer nie met barmhartigheid oor die oormoedige mentaliteit van Jakobus en Johannes nie. Barmhartigheid soek juis om jou broers te wil reghelp. Die tien dissipels reageer uit eergevoel. Wat van joú plek, wanneer 'n ander die vernaamste plek opeis?

Die Meester leer die twaalf, die voormanne van sy kerk, hoe om broers te wees. In vs. 42 sê Hy: "julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies oor hulle héérs, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen".

Ons vertaling laat nie mooi uitkom dat hier twee soorte van heers bedoel word nie. Letterlik sê die Here: "julle weet dat die regeerders van die nasies [oor die volke] heers; en dat die grotes [onder die regeerders] hulle [die ander regerings] oorweldig". Dus 1. die gewone regerings wat oor die volke heers en 2. die besonders magtige regerings in die wêreld wat ander lande en hul regering kan dwing. Ons ken dit uit die onlangse geskiedenis: die regering van Suid-Afrika heers oor die land, maar ook oor hulle is geheers deurdat ander lande hulle mag gebruik het om sanksies op te lê. Dit is die magsstrukture van die wêreld.

Ja, en ook die regering wat mag in die land het, kan héérs oor die bevolking sonder om altyd die goeie te doen. Dit het ons Here Jesus gesê, terwyl die volk van God en die beloofde land onder die mag van die Romeinse Ryk gesug het.

Nee, sê Hy: in my kerk mag daar nie vir mag gesoek word nie. Julle moet saamstaan, want julle sal saam moet stry. Binne die kerk mag die verkeerde voorbeeld van magtige mense nie nagevolg word nie. Ja, dit is wat ons van nature doen: ons soek ons eiebelang, ons invloed, ons sukses en populariteit. Wat jy in die kerk en van My sal leer is dit: "elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees". Het jy 'n behoefte om vooraan te staan, om vorentoe te werk, om vir die Here en sy volk te stry? Dis pragtig, die Here wys jou hoe om dit te doen. Hy gebruik twee woorde: diakonos en doulos. Die "diakonos" is die man wat aan die tafels bedien: 'n dienaar. Die "doulos" is die huisslaaf, die bediende wat eiendom en deel van die huishouding is. Is jy bereid om vir elkeen in die volk van God 'n bediende te wees? Dan eers is julle broers en susters. Dan eers sal julle iets kan bereik, omdat julle dan saamwerk.

Vandag sê ek as dienaar van die Here: ons is geroep om kerk te wees, 'n sigbare deel van die volk van God in die wêreld. 'n Sigbare deel, 'n instrument in die hand van Jesus. Die politieke realiteite van hierdie week màg die gemeente nie uiteenbreek nie. Die geestelike eenheid van diensbaarheid aan mekaar en aan die Here moet voorop staan. Ons soek nie mag teenoor mekaar nie, ook nie die minagting om wat die ander sal stem nie. Jesus sit ons by mekaar en Hy praat met ons almal saam. Vandag mag ons van Hom leer hoe om Hom te volg: deur as broers en susters minstens die bediendes van mekaar te word.

3. OM SY KOMS IN DIE WERELD (vs. 45)

Hoekom moet ons altyd bereid wees om mekaar te dien? Jesus sê dit: "want die seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie mense". Hy sê dit eerste vir die tien plus twee dissipels wat 'n team moet word: almal apostels wat sy evangelie moes verkondig en wat eensgesind die Nuwe Testament vir ons moes skryf. Jesus sê dit vir ons, want dit is die Evangelie!

Ja, noudat Hy sy volk vanuit die hemel regeer, nou wil Hy gedien word. Maar op aarde het Hy gedien en was Hy nooit geëer nie. Hy het homself in die stof gebuig. Dink aan die voetwassing, toe Hy vir sy dissipels uitgebeeld het hoe 'n bediende besig is. Hoe sy volgelinge bereid moet wees om mekaar se voete te was. Hy het vir sy volk sy lewe gegee: sover het sy diensbaarheid uitgestrek dat Hy homself gegee het. Hy noem Homself "die seun van die mens": Hy het is ons skoene gaan staan. Ons: christene? Nee, ons: verlore mense.

Ja, nadrukkelik staan daar: Ek het "gekom". Dit wys op sy sending, sy gewilligheid: deur in die wêreld te kom met die doel om die liefde van Gpod te wys. Die liefde wat in die offer bestaan. Dit is dat Hy "sy lewe gegee het as losprys vir baie". Die "baie" sê vir die dissipels: manne, Ek kyk verder! Ek sien baie mense wat die losprys benodig. Ek sien baie volke wat deur julle diens die Evangelie sal hoor! Daarom sê ek: hy of sy wat Jesus wil volg, doen dit óm sy koms in hierdie wêreld. Ook met die oog op die wêreld moet die kerk van Christus diensbaarheid wys. En dit dan ook léér: ons wys die Evangelie tog?! Dis die Evangelie wat van die pad van Jesus se lyding, van sy bereidheid om te ly wil praat; en dus ook van sy kerk. Dit is die Evangelie wat in die kring van broers geleer word. Dit is die Evangelie wat sy koms in die wêreld ook vandag wil verkondig. Trek die christene hulself uit die samelewing terug of is hulle bereid om saam te dien? Kyk vir Wie jy volg: dit is Jesus wat self die vyand, die Romein nie verdryf het nie. Dit is Hy wat mense soos ons verdra het. Dit is Hy wat in ons skoene gaan staan, sodat ons Hom kán volg.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)