Jesus bewys die beloftes vir elke verskillende mens wat hom volg!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Markus 10
Preek Inhoud: 

05-04-92

MARKUS 10 : 28-31

dankdag

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 81 : 1, 4, 6
Wetslesing
Sing: Ps. 81 : 12, 15, 18
Skriflesing: Markus 1 : 14-20, 10 : 17-34
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 27 : 2, 4, 5
Tekslesing: Markus 10 : 28-31
Prediking
Sing: SB. 6 : 3, 7
Dankgebed
Sing: Ps. 27 : 6
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

die agtergrond van dié gesprek tussen Jesus en sy dissipels is baie duidelik: die ontmoeting van die reisgeselskap rondom die Here met die ryk jongman. 'n Mooie, veelbelowende ontmoeting wat in 'n teleurstelling eindig. Hier is 'n mens wat halfpad die rykdom van die geloof gevind het, maar wat nie sy offer kan bring om homsélf aan die Here te gee nie. Ons het vir onsself gevra: hoe dikwels keer ons halfpad om?

Die ryk jongman loop weg ... met die hartseer in sy oë. In Lukas in die aansluiting tussen daardie ontmoeting en die gesprek wat nou volg, nog duideliker. "En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: hoe moeisaam sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan" (18:24). Jesus reageer op die moeite van die jongman, op die stryd om in die koninkryk in te gaan, op sy onmag wat pynlik uitstaan.

Moet 'n dankdagpreek nie 'n bietjie vroliker wees nie? Ja, jy kan 'n bietjie lag, as jy jouself voorstel hoe 'n kameel deur die oog van 'n naald kruip? 'n Groot kameel met die dikke bult op sy rug ..., hy kry nie eers 'n hoef in nie. Nooit! Dan word dit ernstig: "wie sal dan gered word?". Gemeente, die Woord van die Here gee ruimte vir baie in een teks. Vir dankbaarheid, omdat God ons met onverwagte gawes geseën het; vir hartseer oor die tug oor broers wat dalk nie eers halfpad by Jesus gekom het nie; vir bereidheid om bemoedig te word om die stryd van die geloof saam te onderneem.

Ek preek in opdrag van Christus vanoggend vir u oor:

JESUS BEWYS DIE BELOFTES VIR ELKE VERSKILLENDE MENS WAT HOM VOLG!

By sy woorde

  1. skrik ek vir my besit,
  2. merk ek sy mense op,
  3. wil ek op tyd wees.

1. BY DIE BELOFTE SKRIK EK VIR MY BESIT

Die dissipels het die Here gevolg, toe Hy hulle geroep het. Iemand het gevra: maar hulle was tog nie altyd op pad nie, hulle het tog wel elke nou en dan huis toe gegaan? As ons alles uit die evangelie saamvat, kry ons hierdie beeld: Jesus het sy dissipels geroep om alles te los, die werk en die familie. In die eerste tyd, tydens Jesus se werk rondom die meer van Galilea, het sommige van die dissipels nog gewerk: dink aan die wonderlike visvang. Hul werksplek was die meer van Galilea. Maar wanneer Jesus verder trek, gaan hulle saam. Totdat hulle dag en nag saamreis, omdat die hele land, elke stad en dorp bereik moet word. Die volg van Jesus het vir hulle ingrypende konsekwensies gehad: weg is die eie planne, die eie besigheid, die verpligtings teenoor gesin en familie. Na Jesus se hemelvaart sou dit lewenslang so wees.

Nou reageer die Here op die wegloop van die ryk jongman: met die oog op sy dissipels. "Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe moeisaam sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom" (vs. 23). Dit is belangrik om te sien hoe Jesus reageer. Hy sê nie: kyk, ryk mense is waardelose mense, ek sê vir jou. Nee, Jesus sien die moeite, die pyn van die jongman se besluit, Hy het die hartseer in sy oë gesien. Dáárom wil Hy daaroor praat: in hoe 'n mate is sy dissipels bereid?? Die dissipels is verbaas oor dié reaksie. Jesus se bedoeling dring nie tot hulle deur nie. Oor wie praat Hy nou? En die Here herhaal sy woorde, nou 'n bietjie sterker: "Hoe moeilik is dit vir die wat op hul besit vertrou (!) om in die koninkryk van God te kom". Om sy woorde mooi by hulle te laat uitkom, voeg hy 'n vergelyking toe: 'n kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald as 'n ryk man in die koninkryk van God! Nou is dit duidelik: Jesus gee nie maar net kommentaar op die ryk jongman wat wegloop, Hy praat vir hulle, sy dissipels! Hy praat vir ons, sy volgelinge vandag.

Hoekom krap Jesus se woorde hulle so om? Hulle is geweldig ontstel en vra: "Wie kan dan gered word?". Hoekom krap Jesus se woorde die dissipels so om: hulle hét die Here tog gevolg? Dit is ook Petrus se reaksie: "Here, kyk, ons het alles verlaat en U gevolg"! Ja, maar daar is 'n verskil tussen "verkoop jou besit" en "laat jou besit agter". Die dissipels het nie (soos wat Jesus vir die jongman gevra het) alles verkoop nie. Hoe sterk trek die gesin, die besit, die besigheid? Word dit 'n verhindering om Jesus te volg? Hoe vas sit hulle aan alles wat nog altyd wag (en trek)? "Wie kan gered word, wanneer besittings so 'n gevaar is?". Dit is die gevaar, sê Jesus, dat jy op jou besit vertrou.

Op dankdag mag ons kyk vir alles wat God gegee het. Hy het die gesin gegee: 'n wonder, wanneer jy gesond en in vrede mag lewe. Hy het jou talente en jou werk gegee: 'n wonder om skool toe te kan gaan en 'n werksplek te mag hê. Hy het huise en erwe gegee: 'n rykdom om 'n eie, vaste plekkie op aarde te mag geniet. Die vraag bly egter: hoe dankbaar is jy? Of het God basies uit die prentjie verdwyn, omdat jy op jou besittings vertrou? Skrik jy van Jesus se woorde? Dit is nodig om verder te kom in die koninkryk van God. Of keer ons elke keer halfpad terug? Die standaarde van ons wense is baie hoog. Bly daar geld en tyd oor om in die tuin van die koninkryk te werk? Jou skuldelas is 'n probleem. Dit kan ook die bult van die kameel wees. Jou huiselike geluk is 'n rykdom. Dit kan ook jou bereidheid om in die koninkryk te dien verhinder. Jou werk is 'n seën, maar dit kan jou aan die kleine dinge van die kerk, aan die oog van die naald laat verbykyk.

Vir almal wat oor hul besit geskrik het, sê Jesus: "by mense is dit onmoontlik om op eie krag gered te word, by God is alle dinge moontlik". God kan die wonder bewerk dat jy sy gawes altyd in sy diens gebruik. Jesus sê dit. Hy kyk sy dissipels van daardie dag en van vandag deurdringend aan. Hy onderstreep sy woorde met sy oë. Sien jy Hom? Jesus sien sy mense altyd as indiwidue: elkeen in sy eie omstandighede. Hy sien die ryk jongman, Hy ken vir elk van sy dissipels.

2. IN DIE BELOFTE MERK EK SY MENSE OP

Op dankdag 1992 kan dit moeilik lyk om groot seëninge raak te sien. Die oes sal skraal wees, die werkloosheid het baie groter geword, die ontwaarding van die geld gaan aan, die onrus het die ontwikkeling van baie mense gebreek, bloedvergieting breek die hoop vir versoening. Kom ons kyk vir wat die Here belowe het. Wat het Hy belowe en van watter beloftes mag jy verwag dat dit nou alreeds vervul word?

In vs. 29-30 word beloftes gegee vir mense wat eers baie los moes laat. Dit is mense wat Jesus gevolg het en wat om Jesus te kan volg, baie móes agterlaat. Jesus druk dit in pare uit: broers en susters, pa en ma, eggenoot en kinders. Dié drie pare mense in jou lewe is eerste en tweede graad van bloedverwantskap, die mees noue bande van liefde. Dié drie pare mense is in Jesus se woorde omgee deur: huise en grond. Die huis waar jy woon en die plek wat joune is: dus met in die middel die mense wat saam met jou lewe. Kortom, alles en almal vir wie jy lief is. Alles en almal waaroor die 2de tafel van God se wet gaan: met die opdrag om lief te hê. Kyk, dié agterlaat is die gevolg van 'n keuse. Dit is die realiteit vir die mense wat tot bekering mog kom te midde van 'n volk, 'n samelewing wat Jesus verwerp. Almal, van die eerste dissipels af tot die eerste christene aan toe, moes 'n skerp keuse maak: om Jesus te glo, te volg.

Dit is natuurlik anders wanneer jy met jou ouers, deur hulle en saam met hulle binne die verbond van God groot geword het. Dan hoef jy niks te verlaat nie, omdat almal en alles by Jesus mag behoort! Binne die christelike kerk kan daar egter ook skeidings soos hierdie kom. Dit gebeur wanneer daar iemand vir wie jy lief is, die geloof verloor en halfpad wegloop. Dit kan 'n ouer wees of jou eggenoot, 'n kind, 'n broer of sus. Nee, dan word jy nie geroep om hom of haar te verlaat nie, want jy sal trou bly en hom of haar tot 'n getuienis wees. Jy is en bly geroep: om nie ook self Jesus te los nie. Jy mag jou relasie met jou Heiland nie aan die relasie van liefde opoffer nie. Dit is 'n groot hartseer, as iemand wat so naby jou is, afdwaal. Verstaan die broers en susters in die geloof dit? Ja, en dan is daar die verdriet wanneer die familie die kerk wat jy liefhet, afwys. Jy sien hulle is nie veilig in hulle kerk nie.

Vir wie die hartseer ken is daar beloftes. Ook vir die wat vir die verdriet bewaar is, geld die belofte: kyk vir wat Hy gee! Die Here sê: almal wat mense en besit verloor het, "ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise, broers en susters, moeders en kinderen, en grond". Vir wat jy verloor het, is daar vergoeding! Jy kry meer as wat jy gehad het! Daar is 'n nuwe familie rondom jou. Daar is mense wat soos 'n broer en 'n sus vir jou sal wees. Daar is jong mense wat soos kinders vir jou is. En daar is ouer mense wat soos 'n pa of ma vir jou sal wees. Daar is ook huise en stukke grond waarop jy gasvry onthaal sal word, waar jy welkom is, ook al is dit nie joune nie. Dit is die werklikheid van die jong christelike kerk, soos Handelinge dit beskryf. Die nuwe gemeenskap van mense wat Jesus gevolg het en wat, ook noudat Hy in die hemel is, Hom sal volg.

Ja, ek weet: die verhoudings binne die kerk is dikwels net so sleg as wat dit in 'n familie kan wees. Die verhoudings binne die families in die kerk is partykeer so sleg dat dit die verhouding van geloof in die kerk siek maak. Kyk almal rond: het die Here nie alreeds iemand gegee wat soos 'n broer of sus, 'n pa of ma of soos 'n eie kind vir jou is? Nee, jy hoef nie van die hele gemeente dié liefde te verwag nie. Kyk vir wat die Here temidde van sondaars regkry: is daar iemand wat Hy waarde vir jou gegee het? Ek dink daar is. Want Jesus sien indiwidue in sy kerk: Hy ken elkeen persoonlik. Die een benodig 'n pa, die ander 'n kind. Die een soek 'n broer, die ander 'n ma. Luister mooi. Jesus sê: "daar is niemand ... of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel". 'n Dubbele versekering: elkeen én nou. Dit is 'n belofte wat Hy tasbaar wil vervul. In dié belofte merk ek sy mense op! Want Jesus bewys sy beloftes vir die enkele mense wat Hom volg.

In die belofte ontbreek die pa en die vrou. Hoekom Jesus van die pa's uitgelos het, weet ek nie. Dat Hy nie 'n vrou noem, is verstaanbaar: bekering sê nie dat jy ook die unieke relasie van die huwelik sal ontvang nie. Daar is egter ook 'n toevoeging en dit val nog meer op. Wat jy terug ontvang is "met vervolgings". Ja, die verwerping van Jesus het begin. Die werklikheid kom nou naderby: op die pad wat Jesus loop. Na hierdie gesprek begin die reis wat onderbreek is deur die koms van die jongman. Jesus gaan weer konkreet oor lyding praat (vs. 33v). Wat van vervolgings vir ons? Ons onthou: die kerk sal nie noodwendig fisiese vervolgings ondergaan nie.

Die keuse om Jesus te volg het egter altyd konsekwensies. Huise en grond: ook wanneer jy nie langer 'n eie besit kan bekostig nie, is jy ryk in die koninkryk van God. Ook wanneer die politieke toekoms van Suid-Afrika die blank belange nie meer beskerm nie, sal ons Jesus volg. Ook wanneer die christendom 'n klein plek sal kry, sal ons gasvry wees vir elkeen wat hulp nodig het. Ons sal daaroor moet dink hoe ons as kerk van Christus ander mense in nood kan uithelp. Christelike huise is diensbaar aan die koninkryk. Ja, dit kan ook wees dat die volg van Jesus bande met mense uitsluit. 'n Ongelowige seun of 'n halfpad-christen is sowel binne as buite die kerk 'n ongeoorloofde keuse as huweliksmaat. Kom ons is altyd besig om broers en susters, pa en ma in die geloof te wees. Dalk sal ons ook so mense trek tot die koninkryk van God. As ander Jesus se mense opmerk.

3. BY DIE BELOFTE WIL EK OP TYD WEES

Jesus bewys die beloftes vir die indiwidue wat Hom volg! Die tweede belofte is: "en jy ontvang in die eeu wat kom, die ewige lewe". Mense wat volg, is op pad. Die pad van Jesus in hierdie wêreld is die pad van die ewige lewe. Een dag kom die beslissing: wie het Hom werklik gevolg, sodat hy voor God se troon uitkom? Dan val die beslissing: wie eerste en wie laatste en wie te laat gekom het. Die Here sluit af met die woorde: "maar baie wat eerste is, sal laaste wees; en die wat laaste is, eerste". Die een wat "laaste" genoem word, is dié wat laas geroep is, maar dan ook meteen volg! Die "eerste" is mos die wat vroeër geroep is. Hy sal op die pad moontlik stadig word en laat kom. Vroeë bekerings kan oud word, laat bekerings is meestal jong. Wat van jou?

Dié teks laat ons dink aan die broers oor wie die christelike tug voortgesit moes word. Hulle is "eerstes" vanweë die voorreg om binne die verbond van God groot te mog word. Halfpad (of het hulle nie eers die liefde van Christus geproe?) het hulle omgekeer. Daar was offers wat nie gebring kon word nie. As God dit gee, is daar hartseer, soos in die oë van die ryk jongman. Maar in Jesus se woorde klink 'n bietjie hoop: die "eerste" wat "laaste" kom, kom darem nog nie té laat nie! Mag ons genadige God dit gee. 'n Laat bekering kan 'n jong bekering word. Dalk was daar by hulle nog nie eerder 'n werklike diep bekering nie. Kom ons onthou dat baie van u soos "eerstes" is en dat ons in die gevaar is halfpad te bly staan. Kom ons volg Jesus. Hy noem Homself later so: "Ek is die Eerste en die Laaste". Hy was daar aan die begin, toe Hy sy dissipels geroep het. Hy is daar vandag en sal op die laaste dag daar wees. Hy kan dan nog roep en krag gee om te volg. Want Hy is God. En soos Hy gesê het, by God is alle dinge moontlik!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)