Die prediking van die evangelie is soos die saai van saad

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Markus 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MARKUS 4: 14-20

LITURGIE:
L. Markus 4: 1-20
Ps. 40: 3
Ps. 40: 2
Ps. 92: 3, 6, 7
SB. 40: 5
Ps. 119: 7

Broeders en susters,

'n Gelykenis fungeer dikwels soos 'n spieël.

Ons herken onsself in die verhaal. Gunstige, maar veral ook ongunstige kante aan onsself vind ons daarin terug.

Dit is ook die bedoeling van 'n gelykenis.

U weet: met diè bedoeling het die profeet Nathan aan koning Dawid 'n gelykenis voorgehou. In diè skatryke boer wat nie daarvoor teruggeskrik het om sy buurman van sy een ooilammetjie te berowe, moes Dawid homself gaan herken.

Met diè bedoeling het ook ons Here Jesus Christus sy gelykenisse vertel.

Daardie oënskynlik eenvoudige verhaaltjies dwing ons om maar eens mooi te kyk. En om dan onsself te ondersoek. Ons moet -hoe dan ook- daarop reageer. 'n Gelykenis vra om 'n reaksie.

Ons skrik van onsself en gaan ons bekeer. Of ons vererg ons vir dit wat ons nie wil weet nie en ons gee pad. Maar in die laaste geval het ons geen enkele verskoning meer.

Niemand kan dan meer sê hy het nie geweet nie. Die spieël was tog aan hom voorgehou?

Maar hy het geweier om te kyk.

Ons het vanaand die gelykenis van die saaier opgeslaan, gemeente. ook so'n spieël.

Dit sal vir u al wel duidelik wees: dit gaan in hierdie gelykenis oor ons hoor na die Woord van God. Hoè hoor ons?

Wat maak u met dit wat u gehoor het? En maak dit wat u gehoor het iets in u?

U moet wel bedink daty die gelykenis van die saaier nie in die eerste plek ons wil laat kyk na wat daar met God se Woord buite die kerk gebeur nie. Ons moet die spieël nie skuins hou sodat ons self buite beeld bly en ons kyk hoedat in die wêreld die gepredikte Woord van God opgevang word nie. Op die sendingsterreine, by ons evangelisasiewerk.

Nee, hierdie gelykenis dwing ons om heel eerste te kyk hoedat dit met onsself gesteld is. In die kerk. As die volk van God.

Ons geniet die voorreg dat God se Woord in velerlei variasie voortdurend aan ons voorgehou word.

Maar het u ook ore om te hoor?

Ofd liewer: het u 'n hart om dit wat u hoor te aanvaar?

Watter vrug kry God se Woord by u?

Tot hierdie vrae dwing die gelykenis van die saaier ons.

Kom ons gaan luister.

Christus leer ons met hierdie gelykenis:

DIE PREDIKING VAN DIE EVANGELIE IS SOOS DIE SAAI VAN SAAD.

ONS SAL AANDAG GEE AAN:

  1. DIE SAAD
  2. DIE AKKER
  3. DIE VRUG

1. "Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai".

Met hierdie kort, maar sprekende beeld het die Here jesus op 'n dag sy eie werk onder God se volk Israel begin tipeer. En daarmee terselfdertyd ook die werk van al die predikers van die Evangelie wat in sy diens op God se akker uitgestuur sou word.

Hulle kan vergelyk word met saaiers wat die Woord saai.

Dit het sin, broeders en susters, dat ons eerste hierdie beeld maar eens op ons laat inwerk.

Ons is geneig om meteens alle aandag te konsentreer op wat met die uitgestrooide saad gebèur. Ons let op die voëls wat dit direk oppik, op die dorings wat dit verstik....

Maar ons lees maar al te gauw daaraan verby, en laat dan te min tot ons deurdring dat God se Woord met saad wat 'n akker soek, vergelyk kan word.

Ons stoot hier op God se wonderlike werkwyse, waardeur Hy dooie lewens tot bloei bring en by ons die sondige onvrugbaarheid oorwen. Hy saai in ons lewe sy Woord.

Dit is om te sien glad nie 'n opsienbarende ding nie. God se Woord is soos 'n onooglike saadkorrel, 'n skynbaar nietige iets wat in die grond verdwyn en daar vereers verborge sy werk doen.

Maar: so werk God in hierdie wêreld aan 'n nuwe wêreld! Hy gebruik geen vertoon van krag en geweld nie. Hy lewer geen indrukwekkende demonstrasie nie. Hy laat maar net sy Woord hoor. En daardie Woord moet dit maak. Soos saad in die akker.

So het God se Seun hier op aarde aan die werk gegaan om vir sy Vader die enselewe weer vrugbaar te maak. Hy het die Woord gesaai. Hy het rondgetrek om te preek. Hy het vir die ore iets om te hoor gegee. Hy het gehoor gevra, en gehoorsaamheid.

O ja, ook die oë het iets te sien gekry. Christus het ook wonders gedoen waaraan hulle hul verkyk het. Maar sy dade het agter sy woorde aangekom en was ook alleen bedoel om sy woorde te bevestig. As daarom die mense maar net op die wonders afgekom het, is die oogverblindende effek van die wonder gou weggewerk deur die indringende woord wat dan geklink het. Want die wonder het geen waarde gehad sonder die woord nie.

Die Here het ook al gou uit sy kring van leerlinge 'n aantal apostels gekies wat eweneens met die woord aan die werk gesit is. Ook hulle is as saaiers aangestel wat die evangelie, die vreugdeboodskap van God mog uitsaai.

En opnuut het dit geen indrukwekkende magsvertoon geword nie, geen grootse optrede nie. Paulus sal later skrywe: Ek het nie by julle gekom om met voortreflikheid van woorde of van wysheid die getuienis van God te verkondig nie. Want dit het God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.

Nog steeds is dit die werkmetode van God: Hy laat sy Woord op aarde hoor. Deur die dwaasheid van die prediking maak Hy iets in ons los.

Die suiwere prediking van die evangelie- dit is die eerste kenmerk van die kerk. Die kerk- die plek op hierdie aarde waar God werk aan die nuwe aarde- kan mens ken aan predikante wat nie anders doen nie as om God se Woord hoorbaar te maak. Sondags van die kansel, op weeksdae in die katkisasieklas, tydens huisbesoeke, in gesprekke in die studeerkamer.

In die kerk werk God aan die verlossing van die wêreld deur ouderlinge en diakens wat bekwaam geblyk het om te kan onderrig. Ook hulle doen feitlik nie anderste as om God se Woord te laat klink, op huisbesoeke en siekebesoeke, en in persoonlike sielssorg.

En as daardie Woord geklink het, het hulle klaargepraat.

Met daardie Woord werk die gemeentelede vervolgens nog weer verder ten opsigte van mekaar. U spreek mekaar daarmee aan tydens 'n indringende gesprek onder vier oë. Ouers hou dit aan hulle kinders voor en leer hulle om daaraan gehoorsaam te wees.

In die skool mag onderwysers en onderwysresse die woords deurgee. Terwyl op die verenigings 'n leier of leidster geen andere taak het as om die opgroeiende kerkjeug die Woord van God geduldig te leer lees.

Hoe vergader, beskerm en onderhou die Seun van God vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is? Hy doen dit deur sy Gees en Woord.

Baie mense deursien nie hierdie simpele middel nie. Hierdie so onopvallende werkmetode van God irriteer hulle alleen maar.

Wat is nou die waarde van maar net woorde?? - vra hulle. Geen woorde maar dade! Hulle begeer 'n kerk wat minder gepraat en meer aangepak word. Die kerk moet volgens hulle siening in die maatskappy aanwesig wees om met die daad in aksie te kom teen onreg, armoede, kernbewapening, diskriminasie en so meer.

Ook onder ons kan hierdie soort klanke wel kop uitsteek. In ons susterkerke in Nederland word momenteel baie gepraat oor die liturgie in die kerk. Dit kan as sodanig 'n goeie ding wees, wat liturgie moet 'n lewendige saak bly. Maar daar word ook in versigtige bewoordings gekla dat ons kerkdienste te veel "hoor- dienste" is. Daar "gebeur" so min.

Moenie dat u u duer sulke geluie vanm die wys laat bring nie, broeders en susters. Die eerste les wat ons uit die gelykenis van die saaier moet leer is: pas op, moenie u vererg nie, struikel nooit oor daardie oënskynlik so eenvoudige gebeure. Daar word alleen maar gepraat. Maar so berei ons God sy wêreldakker op die dag van die groot oes voor.

Sy Woord is soos saad. Saad wat vir die oog min voorstel en in die grond al gou uit mekaar val. Maar wat tog maar 'n verborge kiemkrag in hom dra waardeur nuwe lewe opskiet.

So werk ook God se Woord. As dit eenmaal gespreek is, doen dit iets. God doen daardeur iets- krag van God word daarin openbaar.

Tereg het die dissipels op 'n bepaalde moment vir die Here Jesus gesê: "U het woorde van ewige lewe" (Joh. 6: 68). Asd God se Woord in goeie aarde val by 'n mens, ontspruit in daardie mens 'n nuwe, onverganklike, ewige lewe.

Deur die eenvuodige middel van sy Woord bring God dor lewens tot ongekende bloei. Hy bereik daarmee die totale herskepping. Laat ons nooit twyfel aan die krag van God se Woord, gemeente. Ons ken ons God mos as die God wat deur sy Woord die wêreld geskape het?

Hy het gespreek, en dit was daar. God het as die sprekende God tot ons gekom, eerste in sy skepping, en nou in sy herskepping. God vra ore wat hoor. Geen kyk-religie, of doen-religie soos by die heidene nie. Maar 'n hoor-religie het God aan sy volk gebied.

Wie daarom wil lewe met hierdie God, sal heel eerste moet luister na God.

2. Maar dan is dit wel belangrik hoe ons hoor.

Met 'n halwe oor, of met die hele hart?

Die saad van God vra nou maar eenmaal om 'n ontvanklike akker.

Dit sal nie aan die saad lê nie, maar die vraag is wel: waar kom dit tereg?

Daarvoor word dan ook die meeste ons aandag gevra in die gelykenis van die saaier. Nie alle saad wsat gesaai word, dra ook vrug nie.

Hoe gaan dit mos as die saad sommer uit die hand gesaai word: 'n deel val langs die pad, aan die rand van die akker waar die grond platgetrap is omdat verbygangers wel 'n keer naas die paadjie loop. So gou die saad daar lê, is daar voëls wat dit wegpik. En mense wat op daardie oomblik juis verbygekom het, het ook heelwat korrels onder hul voete vermaal.

Daar is ook 'n deel van die saad wat in ondiepe grond tereg kom, maar 'n dun laagie grond en daaronder 'n klipbank, sodat dit geen reeële groeikans kry nie. Dit kom wel op, maar die wortels wil nie diep nie sodat na 'n paar dae sonskynweer alles verskroei omdat daar te min vogtigheid is.

En nog weer 'n ander deel val tussen die dorings. As dit opkom, groei die dorings saam omhoog en hulle is veel kragtiger; hulle laat die opkomende graan verstik.

Al daardie saad word wel gesaai, en is vasn homself ook vol kiemkrag, maar deur gebrek aan goeie grond groei dit nie tot graan uit nie.

So gaan dit maar as 'n boer in Israel sy land besaai.

Maar so gaan dit ook as God se Woord gesaai word. Want hierdie in Israel so bekende, vir elkeen vertroude beeld pasdie Here Jesus Christus in sy gelykenis toe op ons hoor na God se Woord.

Op dieselfde wyse gaan daar ook veel van God se Woord verlore. Dit word wel gesaai, maar kom nie tot vrug nie.

Dit kan by mense tereg kom by wie dit aan die oppervlakte bly lê. God se Woord vind by hulle geen ingang nie. Hulle hoor wel, en bly 'n lank tyd ook wel kom om te hoor. Maar dit gaan by hulle wel letterlik die een oor in en die andere uit. Hulle kom net so leeg uit die kerk as wat hulle daarin gekom het. Hulle word nie warm onder dit wat hulle te hore kry nie. Hulle ken nie diè gevoel van diep blydskap en verwondering, hulle voel hul ewemin aangespreek deur ernstige vermanings sodat hulle daarvan onder die indruk sou geraak nie.

Nee, hulle het maar net dadelik kritiek op die leraar wat weer niks daarvan tereggebring het nie, veels te saai of veels te moeilik was.

Hulle moet na die diens gou 'n sigaret en praat direk al weer oor sake van 'n heeltemal ander orde. En as hulle by die huis gekom het, kan hulle al nie meer onthou waaroor die preek ook al weer gegaan het nie.

Kom doe ouderlinge op huisbesoek, dan kan hulle oral oor saampraat, maar as die broeders oor die Woord van die HERE begin praat en oor die ywer in sy diens dan stok die gesprek.

En die Bybelgedeelte is nog nouliks klaargelees of hulle begin al weer dadelik oor 'n ander onderwerp.

So kan daar ook seuns en dogters wees, in die katkisasieklas of op die verenigingsaand of tydens die godsdiensles in die skool, wat met 'n glasige blik maar 'n bietjie sit en staar of gewoon hulle aandag by allerhande ander sake pleks van by God se Woord het.

Weet u wat Christus van sulke mense, van sulke seuns en dogters sê, gemeente? Die duiwel is dadelik daar om die goeie saad van God se Woord weg te vat voordat dit selfs nog maar kan begin ontkiem!

Wie staan daarby stil dat die duiwel telkens daarby is om sy slag te slaan en God se Woord uit ons lewe weg te hou?

God se Woord kan ook tereg kom by mense wat wèl aandagtig luister en ook met blydskap die evangelie aanneem. Alleen: dit sit by hulle nie diep nie. As hulle geloof swaar op die proef gestel word, val hulle weg.

U ken dalk wel hierdie tipe van mense: hulle is direk entoesiasties. Kerklede wat sommer dadelik alles wel wil aanpak. As jy hulle hoor, sou mens dink jy kan alles met hulle maak. En hulle meen dit ook opreg. Hulle is bly met goeie preke, hulle raak daaronder sommer ontroerd, partykeer met trane in die oë. Maar daar ontbreek 'n diepe wortel.

Want as daar teleurstellings kom, as hulle oor hulle geloof in die stryd te staan kom, as 'n ernstige siekte of 'n ongeluk 'n skaduwee oor hul lewe lê, kwyn daardie entoesiastiese geloof sommer skielik weg.

En daar kòm beproewings in die lewe van 'n kind van God, gemeente! God laat dikwels juis sy christene baie swaarkry, om ook te toets hoe diep gewortel hulle geloof is. Daar kom verdrukkings en vervolgings vir die wat aan die Here trou wil wees. Die Bybel berei ons herhaalde male daarop voor. Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. En elkeen wat hristus Jesus godvrugtig wil lewe, sal vervolg word.

En dan kom oppervlakkige gelowiges ten val. Hulle het verwag om 'n kroon te ontvang en nou het dit 'n kruis geword. Hulle blydskap sak inmekaar, hulle entoesiasme sterf weg en ons sien hulle teleurgesteld die kerk verlaat.

God se Woord kan in die derde plek ook nog tereg kom by die slag kerkmense by wie die geloofslewe toenemend verstik word deur die sorge van die lewe, die verleiding van rykdom en die begeerte na allerhande ander dinge.

Hierdie mense wil God se Woord wel in hulleself opneem en dit laat rypword, hulle was aanvanklik ook goeie katkisante en meelewende lidmate. Maar hulle is al hoe meer in beslag geneem deur hulle eie sake. Hulle werk, hulle besigheid, hul saaklike verpligtings, dit alles vra soveel aandag en energie van hulle dat die geduldige besigwees met God se Woord daaronder ly. Saamdoen op die mannevereniging- hulle wìl dit wel, maar ja, daar is altyd maar so min tyd nè. Die Skriflesing is die gesin gebeur dikwels maar gou-gou want daar moet nog meer gedoen word en die lewe is maar besig. En sondags in die kerk is hulle feitlik te moeg om nog mooi te kan luister. Self dan kan hulle hul baie besighede nog nie heeltemal los nie.

Christus noem in sy gelykenis ook die bedrog van die rykdom. ook so'n gevaar wat die geloofslewe kan verstik. Skryf die apostel Paulus nie: "die wat ryk wil word, val in versoeking en in strikke en in baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang". Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels. Dit beneem jou stadigaan die sig op God en die vertroue in God. Die wat op sy vermeende skatte op aarde gaan bou, verloor sy skat in die hemel uit die oog. Diè gaan soek homself. En sy lewe word al hoe onrustiger. Want hy soek al hoe meer en is nooit meer tevrede nie. Daar kom 'n begeerte in sy lewe wat nooit versadig raak nie omdat hy homself voortdurend met ander mense vergelyk.

En dit alles verstik al hoe meer die saad van God wat aanvanklik so veelvelowend opgekom het.

Die hande van hierdie mense het na vreeslik baie gegryp en hulle het hulself 'n oomblik ryk gewaan. Maar op die ou end staan hulle met leë hande, sonder vrugte vir God.

Broeders en susters, dalk het u uself in die spieël van hierdie gelykenis herken.

Kom ons kyk in elk geval goed. Ons bekyk onsself. So nodig moet ons maar skrik van onsself.

Hoe is dit met u akker? Hoe is dit met u hart gesteld? Hoe diep kan God se Woord by u gaan? En veral: wat kom daarvan bo?

3. God wil vrugte sien. Dit leer hierdie gelykenis tenslotte vir ons. Die gesaaide saad van God se Woord moet ontkiem en uitgroei tot veelvoudige vrug. Dit is al wat God soek.

Moenie dat u daaraan verby lees nie, gemeente. Ons dink maar dikwels so egosentries, ook selfs in ons geloofslewe. Dan stel ons onsself oop vir God se Woord omdat ons graag gerèd wil word. Ons wil in die hemel kom. Ons wil deelkry aan die vreugde van die nuwe aarde.

Maar God saai sy Woord in ons lewe met heel eerste die bedoeling dat ons lewe vir Hom weer vrugbaar word. "Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra" het Christus gesê. Ons lewe moet vir die HERE en sy koninkryk iets oplewer.

En dit gebeur alleen by die wat God se Woord nie net hoor nie, maar dit ook, soos saad in 'n goeie akker, in hulle opneem en daarna doen! Daar verander daar iets in die lewe. Nie eers eendag in die hemel nie, nee, vandag al. Daar sien jy die lewe rypword vir die dag van God se oes. Nie by almal eweveel en ewe sterk nie. Maar nogtans groei dit: dertig-, sestig- en honderdvoud.

ook in u lewe soek God sulke vrugte, broeders en susters. Daarvoor werk Hy weekliks met sy Woord aan u.

En kyk nou maar mooi in die spieël van hierdie gelykenis. Wat ryp daar aan vrugte by u?

Dit kan nie aan die saad van God se Woord lê nie. Dit hang heeltemal daarvan af hoe u hoor.

Pas dus op hoe u hoor!

AMEN.

(Pretoria 29 Januarie 1989)>/P>

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)