Jesus as Messias verwerp deur die Fariseërs

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Markus 3
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Ds. J.B.K. de Vries, sendingpredikant van Groningen-Noord

LITURGIE
Votum en Seën
Psalm 92: 1 en 2
Wet
Lees: Markus 2
Gebed
Kollekte
Teks: Markus 3: 1-6
Preek
Psalm 26: 3, 5 en 7
Dankgebed
Psalm 48: 1 en 5
Seën

Broeders en susters,

In ons teks lees ons van Sabbatsheiliging. Jesus en die Fariseers diskusseer oor wat mag en wat nie mag op die Sabbat nie. Mag die man met die verdorde hand op die Sabbat genees word? Die Fariseers is van mening dat dit maar kan wag. Jesus beslis: dit kan nie wag nie. Dit lyk soos 'n geskilpunt. Sabbatsheiling is 'n gevoelige saak.

Is Sondagsheiliging nie ook 'n gevoelige saak nie? Kom die vraag, of iets op die Sondag mag of nie, nooit by u op nie? Die viering van die Sondag verskil van gesin tot gesin. Wat een geoorloof vind, vind 'n ander onaanvaarbaar, soos byvoorbeeld om te reis op Sondag.

Hoe maklik sou dit nie gewees het, as u presies geweet het wat wel, en wat nie mag nie. Maar die Skrif gee nie presiese voorskrifte nie. Natuurlik help die Skrif, soos by hierdie geskiedenis. Om 'n sieke te help, is 'n verpligting; dit maak Jesus duidelik. Maar daarmee is alle praktiese probleme nog nie opgelos nie. As 'n dokter 'n gewone operasie, waarby geen dringendheid is nie, op Sondag sou wou uitvoer, sou u dit seker vreemd vind, en beswaar maak.

Miskien het die Fariseers die genesing deur Jesus op die Sabbat ook so beskou. En dan kan ons hulle beswaar in 'n mate verstaan. Moes dit dan noodwendig op die Sabbat plaasvind? Dit kon tog ook op 'n ander dag gedoen word?

Maar dan wys Jesus: dit mag! In ander tekste word meer voorbeelde gegee van wat mag en wat nie mag op die Sabbat nie. Die Skrif lei ons daarin verder.

Maar as u die hoofsaak van hierdie teks en die gelese Skrifgedeelte sien as: wat mag wel, en wat mag nie, en hoe moet die Sabbat gevier word, dan het u die boodskap van hierdie teks nie verstaan nie. Dit gaan oor iets heeltemal anders, en baie belangrikers, as die heiliging van die rusdag.

Dit sal u hoor, as die Woord van God bedien word onder die tema:

JESUS AS MESSIAS VERWERP DEUR DIE FARISEERS.

Daarby let ons op drie dinge:

  1. Jesus ontwyk nie die stryd oor die Evangelie nie.
  2. Jesus openbaar die Evangelie.
  3. Jesus bewys die krag van die Evangelie.

1. Jesus ontwyk nie die stryd oor die Evangelie nie.

In ons teks lees ons van 'n botsing tussen Jesus en die Fariseers. Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. In die tweede hoofstuk van die Evangelie van Markus het ons gelees van verskeie ander botsings.

Die heel eerste keer as Jesus 'n varlamde man genees, wat deur vier manne na Hom toe gebring is. Hulle het hom deur die dak laat sak, omdat hulle weens die samedromming van mense nie by Hom kon kom nie. Die opmerklike is, dat Jesus eers vir die verlamde se: "Seun, jou sondes is jou vergewe".

Enkele skrifgeleerdes wat daar teenwoordig is, dink dan: Hoe durf Hy? Wie, behalwe God, kan sondes vergewe? Jesus ken die gedagtes, en maak dit ook duidelik. "Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe - se Hy vir die verlamde man: ... Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe". En dan staan die man gesond op.

Vervolgens word Levi deur Jesus geroep. In Levi se huis neem Hy dan deel aan 'n maaltyd waar daar ook baie tollenaars en sondaars teenwoordig is. Dit lok kritiek uit van die Farisese skrifgeleerdes, wat vir die dissipels van Jesus se: hoekom eet Hy saam met die tollenaars en die sondaars?

Daarop het Jesus wel 'n antwoord: "Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering".

Ook moet Jesus kritiek verduur oor die feit dat sy dissipels nie vas nie. "Waarom vas die dissipels van Johannes en die van die Fariseers, maar u dissipels vas nie? " Ook dan het Jesus 'n antwoord: "Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? "

Die laaste voorval uit Markus 2 beskryf hoe die dissipels van Jesus op die Sabbat are pluk terwyl hulle deur die gesaaides loop. Volgens die Fariseers mag dit nie. Maar Jesus bestraf nie sy dissipels nie; Hy verdedig hulle eerder.

Hy noem die voorbeeld van Dawid, wat op sy vlug die toonbrode geeet het in weerwil van die wet wat bepaal dat net die priesters daarvan mag eet. En dan sluit Jesus die twispunt af met die woorde: "Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat. "

As hierdie konfrontasies op die ry af beskou word, lyk die een nie so erg soos die ander nie. Die vraag oor die vas klink meer nuuskierig as vyandig. Hulle sou graag wou weet hoekom Jesus afwyk van wat 'n leraar in Israel gewoonlik doen.

By die genesing van die verlamde word daar egter gedink dat Jesus God laster deur sondes te vergewe. Maar Jesus handhaaf sy pretensie: Ek het mag om sondes te vergewe. En van die sabbat se Hy ook, dat Hy Heer daarvan is.

Met ander woorde, Jesus maak duidelik dat Hy groot bevoegdhede aan Homself toeskryf - Goddelike bevoegdhede. Hy volg nie die gewoonte en die leer van die Fariseers nie. Hy volg 'n eie weg, en volg nie die pad wat die Fariseers uitstippel nie.

En dan kom die geskiedenis van ons teks.

Dit is sabbat, rusdag. Jesus het na die sinagoge toe gegaan. Die Seun van God is in die huis van God saam met die volk van God. Hy is daar om die Evangelie te verkondig. Markus noem dit nie uitdruklik nie, maar dit is wel duidelik uit wat hy verder vertel. Die evangelis Lukas se dit egter wel uitdruklik.

Daar is ook Fariseers in die sinagoge. Hulle bedoeling met hierdie kerkbesoek is nie in die eerste plek om die Evangelie te hoor nie. Hulle is daar om Jesus dop te hou, omdat hulle 'n aanklag teen Hom soek. Miskien gaan Jesus die sabbat skend deur 'n man met 'n verdorde hand te genees!

Hulle is in die sinagoge om aanklagmateriaal te versamel teen Jesus van Nasaret. Die verdedigers van die Wet van God is in die huis van God om 'n aanklag op te stel teen die Seun van God. Die Seun van God moet betrap word in die huis van God op die dag van God.

Daar is ook 'n sieke in dieselfde sinagoge, 'n man met 'n verlamde hand. Maar die Fariseers is nie begaan oor sy heil, oor sy verlossing nie. Hulle moet tog die mag van Jesus ken; Hy het op 'n ander sabbat in Kapernaum 'n man met 'n onrein gees genees. En toe het die mense gese: 'n nuwe leer met gesag! Dit was 'n blye verwondering.

Maar hierdie keer is daar by die Fariseers nie die hoop op verlossende ingrype, sodat God oor sy groot dade verheerlik sou word nie. Dit is duidelik, dat hulle hulle bewustelik gaan verset teen Jesus.

Jesus verset Hom teen hulle leer. Eers het hulle hulle kritiese gedagtes gehad; daarna het die kritiese vrae gekom. Maar nou hoef hulle nie meer vrae te stel nie. Jesus van Nasaret volg 'n afwykende weg, Hy is 'n dwaalleraar, 'n ketter. Hy het groot mag, maar Hy gebruik die mag om Israel op 'n dwaalspoor te bring.

Daarom moet die Fariseers hulle verset; die volk word mislei deur Jesus van Nasaret. Daaraan moet hulle iets doen; Jesus van Nasaret moet gekeer word.

Jesus ken die gedagtes. Hy weet wat daar alles in hulle harte omgaan. Sy verlossingswerk gaan nie van een hoogtepunt na 'n ander nie. Hy kan nie ongestoord verder gaan nie. Hy stuit op verset. Hy stuit op die haat van die Fariseers. Hy kan nie sy werk sonder lyding verrig nie.

Wat moet Hy doen? Hy kan die stryd ontwyk; Hy hoef die verlamde man nie te genees nie. Hy kan wag totdat die sabbat verby is. Die Fariseers vorm die invloedrykste groep in Israel; hulle het die grootste aanhang onder die volk. 'n Konflik met hulle kan groot gevolge he vir die werk van Jesus. Hulle kan dit vir Jesus besonder moeilik maak.

Maar Hy het ook 'n Messiaanse opdrag van die Vader. God het hierdie verlamde man op hierdie sabbat en op hierdie plek op Jesus se weg geplaas. Hy moet die Evangelie verkondig; Hy moet die mag van die Evangelie bevestig met wondertekens.

Hierdie Messiaanse opdrag stuit op verset van die kant van die Fariseers. Maar Jesus kan sy opdrag nie uitstel nie. Hy moet gehoorsaam wees aan die Een wat Hom gestuur het. Hy weet dat Hy moet ly en verneder moet word. Hy moet die lyding en die vernedering nie ontwyk nie. Sy Messiaanse werk moet voortgaan.

Daarom se Hy vir die gebreklike man: "Staan op in hul midde". Die man moet vorentoe kom, sodat hy die aandag trek van almal wat in die sinagoge is, ook van die aanwesige Fariseers.

Jesus het meer as net hierdie woorde gese. Hy is naamlik deur die Fariseers uitgedaag. Hulle het Hom gevra of dit geoorloof is om op die sabbat te genees. Volgens die Evangelie van Mattheus het Jesus daarop geantwoord dat 'n mens tog ook op die sabbat 'n skaap uit die sloot sal haal as dit daarin beland het.

Maar Markus noem dit nie. Hy haal die bevel van Jesus aan die gebreklike man aan: "Staan op in hul midde". Daar is nie die minste twyfel oor wat Jesus gaan doen nie. Hy se die Fariseers die stryd aan. Hy weet dat hulle Hom sal aankla; maar sy Messiaanse werk gaan voort.

Jesus vlug nie as verset of 'n aanklag dreig nie. Hy sluit geen kompromis om die teenstelling met die Fariseers te verdoesel nie, of om 'n skyn van eenheid te bewaar nie. Die Evangelie stuit op verset, maar dit wyk nie!

So het God die Evangelie aan die kerk gegee. As die wereld hom verset, wyk die kerk nie en die christen ook nie. Die kerk hoef nie in die wereld uitdagend op te tree nie. Maar die kerk mag ook nie in sy dop kruip nie.

Waar die Evangelie geloen word, swyg die kerk nie. Waar die Evangelie aangeval word, swyg die christen nie. Dit kan moeilik wees om in 'n ongelowige omgewing te praat van die christelike hoop. Dan kom die spot en die smaad.

Wat doen u dan? Trek u uself versigtig terug? Vermy u 'n gesprek oor die Evangelie? Praat u liewers oor iets anders?

Dit is nie maklik om ongewilde dinge te se nie. Maar u het 'n ongewilde opdrag gekry: om as christen te lewe en te getuig in hierdie wereld. By die openbare belydenis van die geloof het u belowe om hierdie opdrag in die krag van God uit te voer.

So staan u in 'n wereld wat bots met die Evangelie. Die Evangelie van die gekruisigde Verlosser is nooit gewild nie. Maar u staan voor daardie Evangelie, wat altyd lyding teweegbring. Moet nooit probeer om populer te word as christen nie; Jesus Christus het nooit populer geword nie, en u sal dit ook nooit word, as u die Evangelie nie verloen nie.

Spreek, as die Evangelie van u Verlosser aangeval word; moenie swyg nie. En wees so navolgers van u Heiland, Jesus Christus.

2. Jesus openbaar die Evangelie.

Jesus wend Hom tot die Fariseers met die vraag: "Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, 'n lewe te red of dood te maak? "

Die Fariseers sien in die sabbatsheiliging van Jesus 'n probleem. En Jesus raak daardie probleem aan, maar op 'n ander manier as die Fariseers. Hulle sien die wet van die HERE as 'n middel om die heil te verdien. Die HERE het in sy wette baie gebooie gegee. Deur volgens hierdie genbooie te lewe, kan die Israeliete die saligheid verdien. Die heiden ken nie hierdie wet nie, en kan daarom geen saligheid verkry nie. Net Israel is deur God uitverkies om die wet te ontvang sodat hulle die ewige heil kan verdien.

Veral die vierde gebod, die sabbatsgebod, is volgens farisese opvatting 'n geleentheid om baie verdienste te behaal. Die wetgeleerdes het honderde konkrete gevalle uitgewerk oor sabbatsheiliging. Die Israeliete het, omring deur tallose bepalings, die sabbat belewe. Al die bepaling het moontlikhede beteken om verdienste by God te behaal. Dit was 'n swaar las, maar deur die las op hom te neem kon 'n Israeliet baie doen vir sy eie heil. Hy moes besondere moeite doen, veral op die sabbat, maar die wins was groot: ewige lewe. Jy kry die ewige lewe, maar jy moet iets daarvoor doen, dit is nie gratis nie.

Van sabbatsheiliging hang baie af. Daar was Fariseers wat geglo het dat die heil in Israel sou neerdaal as slegs twee sabatte volkome presies volgens die wet gevier sou word.

Die sabbatsviering vorm so die hoeksteen van die Farises leer. En dit is duidelik dat Jesus nie die sabbat wou vier volgens die voorskrifte van die wetgeleerdes nie. Hy stel Hom bo die geeerde rabbyne: die Seun van die mens is Here ook van die sabbat.

En hierdie Heer van die sabbat sien daar 'n man wat hulp nodig het. Die hulp kan ook gegee word as die sabbat verby is. Maar Jesus gaan die verlossing in hierdie diens verkondig. Mag Hy nie bewys dat God hom in hierdie diens kan verlos nie?

Moet die mag van die sonde en die dood op die sabbat sigbaar bly? Mag Jesus wel die lewende Woord verkondig, maar nie 'n dooie hand lewendig maak nie? Moet die Messias in hierdie diens die dood laat wag? Volstrek nie.

"Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, 'n lewe te red of dood te maak? " Hierdie vraag pas nie in die Farisese sisteem nie. By hulle gaan dit hierom: hoe kan ons op die sabbat vir ons saligheid verdienstelik wees? Hoe kan die heil in Israel kom deur volkome sabbatsviering? Jesus spreek glad nie van verdienste wat 'n Israeliet op die sabbat sou kon verwerf nie. Hy spreek oor goed of kwaad, red of doodmaak.

Jesus wil hulle voor 'n keuse stel. Hy is immers besig om te red; Hy verkondig die Evangelie; Hy dryf duiwels uit en herstel siekes. Hy het mag om die vernietiging in hierdie wereld te keer.

Maar wie hom teen Hom verset, het gekies vir die kwade en vir die dood!

So wil Jesus in hierdie sinagoge dit duidelik stel dat Hy besig is om te verlos. Hy wil goed doen, ook lewe red. Hy wil so die luisterende gemeente, en ook die Fariseers, oproep om vir Hom te kies, en teen die duiwel, wat kwaad wil doen en die dood van die mens soek.

Maar die Fariseers is van mening dat hulle hierdie Verlosser nie nodig het nie. Hy bedreig juis die saligheid, wat mos deur die onderhouding van die wet verwerf word. Die verlosser kan net van nut wees vir mense wat die wet getrou onderhou en die saligheid al verdien het.

Hulle begryp baie goed dat Jesus hulle leer verwerp. Jesus verkondig verlossing deur genade sonder werke; hulle verkondig verlossing deur werke, deur die wet. Jesus wil hulle greep op die ewigheid losmaak.

Die Fariseers dink: ons is verlore as ons op die genade van God moet bou sonder die werke van die wet. Jesus se: u is verlore as u op u werke en die wet bou. Wat deur een as die weg na die heil beskou word, sien die ander een as die weg na die hel.

Hulle wil nie die weg van Jesus, die weg van heil volg nie. As Jesus sy vraag gestel het, swyg hulle. En hulle se baie deur te swyg: wat Jesus goed noem, noem hulle kwaad.

Jesus is bedroef oor hierdie keuse: hulle verwerp die Evangelie, hulle wil nie van genade lewe nie. Hulle hou vas aan hulle eie sisteem. Hulle glo in die weg van die wet, in die wettisisme. Hulle aanvaar nie genadeloon nie, hulle wil net lewe uit verdienste. En daarom sal hulle vergaan.

Hy kyk ook rond in toorn. Dit is verskriklik as mense die genade van God afwys; as hulle die heil wat God aanbied, te goedkoop vind. Daar in die sinagoge word God afgewys; die goeie wat God wil skenk, wil die Fariseers nie aanvaar nie.

Hulle wil nie na God toe kom deur Jesus nie. Hulle verkies die ander weg, die weg van die wet. En daarom is Jesus kwaad. Hulle ken die Evangelie en die openbaring van God. En hulle wil nie; hulle haat dit!

Dan is Jesus toornig. En as Jesus toornig is, is daar geen hoop meer nie. Dan is daar niemand wat hulle beskerm teen die oordeel van God oor die sonde nie.

Dit gaan in die diens in die sinagoge nie net om die viering van die rusdag, om wat wel en wat nie mag nie. Maar dit gaan daarom: word 'n mens deur genade of deur werke gered? Deur Jesus of deur die wet?

Die vraag het altyd al 'n rol gespeel in elke menselewe. Die Evangelie van Jesus Christus bots met alle ander sisteme; dit verset hom teen alle ander godsdienste.

Die Evangelie van "genade alleen" bots met die heidendom, wat leer dat die mens die gebooie van sy ouers en voorouers moet hou. As hy dit nie doen nie, gaan dit nie goed in sy lewe nie. Vir die mens is die weg van die werke, die weg van die gebooie, die goeie weg. Doen wat jy geleer het, dan sal dit goed gaan in jou lewe.

En dan se die Evangelie: breek met die gebooie van die voorvaders! Lewe volgens die wet van Christus, lewe uit genade! En dit beteken moeite en haat vir die gelowige.

Die Evangelie bots ook met die moderne mens, wat beweer: as daar 'n God bestaan, sal Hy my nie veroordeel nie, want ek lewe mos reg. Die moderne mens stel self sy gebooie vas, en bepaal self wat goed en wat kwaad is. En hy dink dat as hy volgens sy eie gebooie lewe, geen kwaad hom sal tref nie. Hy word gered deur goed te lewe.

En ook in hierdie moderne wereld se die Evangelie: As u dink dat u die toorn van God kan ontwyk deur u werke, deur goed te lewe, dan gaan u verseker verlore. U kan net lewe van genade! Anders is u dood, nou en vir ewig.

Dit is nie populer nie, dit is nie verdraagsaam nie, maar dit is wel die Evangelie van Christus. Dit is die enigste weg na die heil. Wil u nie op die weg gaan nie - God dwing u nie. Maar dink daaraan dat Jesus toornig is op almal wat die weg van genade afwys, almal wat dink dat hulle 'n beter weg gevind het.

En die toorn van Jesus beteken die ewige dood.

3. Jesus bewys die krag van die Evangelie

Jesus het groot woorde gespreek. Die Fariseers kon kies tussen goed en kwaad, lewe en dood, hemel en hel. Hulle kon weet dat Jesus nie net woorde gespreek het nie, maar ook dade gedoen het. Maar nou, in hierdie diens in die sinagoge, word sy mag opnuut bevestig.

Hy gee 'n bevel aan die man met die verdorde hand. Hierdie man het tot nou toe nog maar min aandag gehad in hierdie geskiedenis; die groot geskilpunt is tussen Jesus en die Fariseers, tussen Evangelie en wettisisme. Maar in hierdie stryd het hierdie man ook 'n plek. Tot nog toe het dit gelyk of hy 'n buitestaander is, of die stryd buite hom om uitgebaklei is. Maar met die bevel van Jesus aan hom om sy hand uit te strek, verander dit.

'n Sekere verklaarder het hier opgemerk: "By Markus het hierdie man 'n geval geword, waaraan Jesus sy soewereiniteit demonstreer. Met ander woorde, Jesus het eintlik nie tyd vir hierdie man nie, maar wil net sy eie mag demonstreer met behulp van hierdie man. " Dit is egter 'n radikale mistasting. Jesus is nie 'n weldoener wat willekeurig mense genees nie. Hy genees, Hy red, maar nie outomaties nie. Elke genesing betref 'n bepaalde persoon, en as hierdie persoon geen vertroue in Jesus het nie en hom verset teen die leer van Jesus, is genesing onmoontlik.

Hierdie man het die debat in die diens aangehoor. Hy weet dat die Fariseers getrou is aan die oorlewerings van die voorgeslagte. Hulle verwag die heil van Israel deur die onderhouding van die wet.

Jesus wil daardie Farisese sisteem verbreek.

'n Genesing op die sabbat is teen die leer van die Fariseers. Hierdie man kan kies; hy kan besluit om op 'n ander dag die hulp van Jesus van Nasaret in te roep, of miskien glad nie. Jesus beveel hom: "Steek jou hand uit!" Nou kan hy nie meer die keuse ontwyk nie. Sal hy gehoorsaam wees aan Jesus, wat volgens die Fariseers 'n gevaarlike ketter is, of sal hy die bevel verontagsaam of miskien teenspreek? Hy is nie meer net 'n toehoorder nie. Hierdie man is nie net 'n geval nie; hy word betrek by die stryd tussen wet en Evangelie; hy moet kies. Dit is gevaarlik om vir Jesus te kies, want dit sou haat en teenkanting van die invloedryke Fariseers beteken.

Maar hy kies tog. Hy gehoorsaam Jesus van Nasaret. Hy steek sy hand uit, wat nie moontlik is nie, omdat dit verdor is. Maar hy steek dit uit op bevel van Jesus. Die hand is gesond, en so blyk daar in hierdie diens die mag van Jesus, die mag van die Evangelie.

Jesus het mag om te red, en Hy gebruik sy mag. Die diens in die sinagoge het onvergeetlik geword. Die Evangelie het nie gewyk voor die wettisisme nie. Die dooie hand is deur die lewende Woord lewend gemaak.

Die duiwel het 'n neerlaag gely; hy verheug hom oor leed en ongeluk in die mensewereld. Hy verheug hom oor die Fariseers, wat dink dat hulle die Messiaanse verlossingswerk van Jesus nie nodig het nie, en wat Jesus bestry.

Maar die gemeente in die sinagoge mag weet: Jesus is magtig. Hy verlos en laat Hom nie keer nie. Die gemeente kan tot die gevolgtrekking kom: God werk in ons midde deur Jesus van Nasaret, wat Homself Heer van die sabbat noem. Wie sou Hy anders kon wees as die Messias!

So het die Evangelie deur Jesus gewerk: die gestremde is weer gesond; hy het gekies vir Jesus; die gemeente kan daar sing tot eer van God, wat groot dinge doen en omsien na sy volk.

Maar daar is ook 'n ander effek: die Fariseers is nie oorreed nie, ook nie na die magsopenbaring van Jesus nie. Hulle vrees nie sy toorn nie, ook nie nadat hulle sy groot krag gesien het nie.

Jesus hou aan om hulle heilsisteem te verbreek. Het hulle gewag dat die diens moet klaarkry, of kon hulle dit nie meer uithou nie en het hulle tydens die diens weggeloop? Die sabbat word deur hulle op 'n verskriklike manier ontheilig; die ergste skending van die sabbat denkbaar word gepleeg deur die wetsgehoorsame Fariseers.

Hulle het genoeg bewyse van Jesus se ontrou aan die wet versamel. Hulle besluit op daardie sabbat dat Hy moet sterwe. God se dag is die dag waarop die Fariseers besluit dat God se Seun moet sterwe.

Hulle haat die Evangelie van genade, want dit druis in teen hulle eie sisteem; dit bedreig hulle weg na die heil. Die weg na die heil moet oop bly, die weg van die wet mag nie deur Jesus versper word nie. En daarom moet Hy sterwe.

So gou as moontlik kom hulle in aanraking met die Herodiane, medewerkers van koning Herodes Antipas. Sonder die samewerking en die goedkeuring van Herodes kan die Joodse geregshowe geen doodsvonnis voltrek nie.

Herodes het oenskynlik gelewe soos 'n wetsgehoorsame Jood, om sy Joodse onderdane tevrede te stel. Maar hy was en bly 'n vriend van die Romeine. Hy het saamgewerk met die vyand waarvan die Jode gehoop het om eendag verlos te wees.

Maar noudat dit teen Jesus gaan, skakel die Fariseers hulle vyande, die Herodiane, in. Deur middel van Herodes se aanhangers kan hulle by die koning invloed uitoefen, sodat Jesus op 'n geskikte tyd gevang en doodgemaak kan word. So is die mens wat homself wil verlos, 'n doodsvyand van die genade, 'n doodsvyand van Jesus Christus.

Jesus het eers kritiek en verset van die Fariseers ondervind; nou wil hulle Hom doodmaak. Hy moet sterwe, sodat die weg van die wet nie verbreek word nie. Die religieuse mens, wat nie van genade wil lewe nie, is die groot vyand van Jesus en sluit desnoods 'n verbond met sy grootste vyand. Dit blyk dat godsdiens en owerheid, valse kerk en wereld, kan saamwerk as dit die doel is om die krag van die Evangelie te breek.

So staan hulle teenoor mekaar: Fariseers wat wil doodmaak, en Jesus wat wil red en verlos.

Verset teen die Evangelie mag u nie verbaas nie; wees eerder verbaas as daar geen verset is nie. Dit lyk verbasend dat heidene, soos byvoorbeeld op 'n sendingsterrein, graag gedoop wil word en christene genoem wil word. Honderde sou hulle aanmeld as die doop sou oopstaan vir elkeen wat maar wou.

Maar dit is nie honderde wat ook van genade wil lewe nie. Die honderde wil graag die doop ontvang en terselfdertyd nog bly lewe volgens die reels en die gebooie van die voorvaders. Dit is maar enkeles wat gedoop wil word en wil breek met die heidendom.

Is dit in die weste anders? As die kerk wil doop en trou en begrafnisse hou, het die moderne mens meestal nie eintlik besware nie, want ook die moderne mens is godsdienstig. Maar as die kerk ook 'n breuk met die moderne heidendom en gehoorsaamheid aan Jesus eis, dus 'n nuwe lewe, dan kry die kerk nie 'n groot getal ondersteuners nie.

Want onderwerping aan Jesus en aan die weg van genade is vir geen mens maklik nie. Die mens wil vry wees om self die weg na die heil te kies. Primitiewe heidene kies die weg van die gebooie van die voorouers, die moderne mens kies die weg wat hy persoonlik goed vind.

Maar die kruisweg, die weg van selfverloening en lyding, word deur die massa verwerp. In hierdie wereld geld orals dat elke mens moet kies: genade of wettisisme, Jesus of die duiwel, lewe of dood. Kies radikaal, moenie 'n bietjie aanpas by die moderne heidense lewe nie.

Jesus Christus het ook radikaal gekies, en dit het Hom die lewe gekos. U moet ook radikaal kies, anders kos dit u u lewe. Kies radikaal vir Jesus en die verlossing deur genade, want dan beteken die dood van Jesus u lewe.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)