Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel!

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 28
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTH. 28: 11-15

LITURGIE:
Ps. 118: 11, 12
Gebed
L. Matth. 27: 62-28: 20
Ps. 118: 2
Prediking
Ps. 7: 7, 8
Geloofsbelydenis
Ps. 9: 1, 7
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 10, 24, 59

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel".

Met dié spreekwoord sou ek die boodskap van ons tekswoorde kan saamvat.

Die evangelis Mattheüs plaas aan die einde van sy boek waarheid en leuen opvallend teenoormekaar: ons Here Jesus Christus stuur sy leerlinge in die wêreld in met die Woord van die waarheid, die evangelie van sy dood en opstanding.

Maar terselfdertyd stuur die Joodse leiers 'n aantal Romeinse soldate in die wêreld in wat van hulle die leuen geleer het dat Jesus van Nasaret nie regtig opgestaan het nie, maar deur sy dissipels gesteel is.

En van toe af moes elkeen dus kies. Wat was die waarheid en wat was 'n leuen?

Het Jesus van Nasaret die dood oorwin sodat Hy regtig ons Verlosser is? Of is die hele evangelie blote bedrog?

Ons moet die invloed van daardie leuen nie onderskat nie, vertel Mattheüs daarby: die Joodse Sanhédrin se verhaaltjie "is versprei onder die Jode tot vandag toe". Dit het duidelik ingang gevind.

En ons moet vandag, bykans 20 eeue later, vasstel, broeders en susters, dat die leuen steeds springlewend is. Nie net onder heidene en ateïste nie. Daar is nog altyd ook geestelike leiers, teoloë, wat ons wil wysmaak dat Christus nie regtig opgestaan het nie, maar dat die verhaal van sy opstanding maar net die fantasie van sy dissipels is. Mooie drome van leerlinge wat die herinnering aan hul geliefde Here lewendig wou hou.

Ja, die leuen m. b. t. Christus is opstanding is steeds daar.

Want die duiwel, die vader van die leuen, is steeds daar.

Maar as ons ons teksverhaal goed lees, sien ons daar alreeds dat die waarheid tog sterker as die leuen is. Dat die waarheid dit darem gaan wen.

Die boodskap mag ek vir u verkondig, soos volg dus saamgevat:

AL LOOP DIE LEUEN NOG SO SNEL, DIE WAARHEID AGTERHAAL HOM WEL!

Ons let op drie dinge:

  1. DIE JOODSE LEIERS WORD MET DIE WAARHEID GEKONFRONTEER
  2. DEUR HULLE WORD 'N LEUEN GEINTRODUSEER
  3. MAAR DEURDEUR WORD DIE WAARHEID NOG MEER GEFUNDEER

1. Twee groepies mense het op die vroeë Paasmôre Jerusalem toe gehardloop, broeders en susters, om in die stad te vertel wat so pas in die hof van Josef van Arimathea by Jesus se graf gebeur het.

Die een groepie bestaan uit 'n aantal vroue, wat van die engel wat op die weggerolde grafsteen gesit het, te hore gekry het dat Jesus wat gekruisig is, nie meer in die graf is nie, want Hy het opgestaan.

Hulle het met hul eie oë die plek mag sien waar Hy gelê het en rêrig: die graf was leeg!

Toe hulle heeltemaal deurmekaar weggehardloop het om dit aan sy dissipels te vertel, het hulle hul opgestane Heiland Self raakgeloop. En na die ontmoeting met Hom het hulle met nog meer spoed stad toe gegaan om hierdie wonderlike feite aan Christus se dissipels rond te vertel.

Maar daar was nog 'n groepie mense op pad na Jerusalem toe. En hulle was eerder in die stad as daardie vroue. Want terwyl daardie vroue op weg was, kyk, daar kom sommige van die soldate wat Jesus se graf moes bewaak, in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.

Hierdie manne het, toe hulle van die eerste skrik bekom het, hul in paniek uit die voete gemaak- wég uit daardie tuin met daardie graf waarmee sulke snaakse dinge gebeur het. Party van hulle het nog die teenwoordigheid van gees gehad om te besef dat hulle so gou as moontlik hul opdraggewers in kennis moes stel van die rede hoekom hulle van hul pos gedros het.

Ja, nie net Christus se dissipels nie, maar ook die Joodse leiers word dadelik na Christus se opstanding uit die eerste hand met die gebeurtenisse by die graf gekonfronteer. Ook hulle moet dit weet.

Die Vader van ons Here Jesus Christus skud vir die soveelste keer aan Jerusalem. Hy bly hulle die feite onder die neus vrywe. Hy bly 'n beroep op sy volk doen om die Skrifte oop te maak en sy Seun as die Seun van Dawid te aanvaar.

Daarmee het God al dadelik na Christus se geboorte in Betlehem begin.

'n Opvallende en indrukwekkende verskyning van Oosterse magiërs het in Jerusalem kom vra waar die Koning van die Jode gebore is. En Herodes het onmiddellik die Joodse Skrifgeleerdes ingeskakel om by die profete uit te vind wat vroeër aangaande die komende Christus voorsê is.

So wou God sy volk, en allereers hul leiers, wakker skud.

En God het aan sy volk bly skud tot na Christus se dood en opstanding. By sy dood het daar 'n ongewone sonsverduistering plaasgevind, 'n aardskudding het die graftes by Jerusalem oopgegooi. Toe hulle voor die Sabbat alles gou-gou weer wou regmaak, het hulle tot hul skrik agtergekom dat heelparty liggame nie meer daar was nie. Net weg! Ja, God het hulle vir 'n paar dae in die lewe hier op aarde teruggeplaas. En net-nou op hierdie Paasmôre sal hulle in die stad verskyn en heelwat mense die skrik van hul lewe besorg.

Maar voordat dit gebeur, kry eers die owerpriesters en die Joodse Raad uit die eerste hand die berig dat Jesus van Nasaret op wonderbaarlike, ja, op goddelike wyse, uit sy graf verdwyn het.

God het nog altyd daardie moordenaars van sy Seun gelos nie, gemeente. Nog altyd soek Hy hulle bekering. 'n Kerk word nie sommer van die een dag op die ander 'n valse kerk nie. En God se verbondsvloek kom nie uit die lug val nie. God betoon baie geduld. Maar met elke nuwe waarskuwing word dit wel al hoe ernstiger!

Nee, ons Here Jesus verskyn nie Self aan sy regters nie. Dié manier is vir hulle te maklik. Hulle moet in eie verantwoordelikheid besig gaan met al die gebeurtenisse waarmee Hy tot nou toe alreeds 'n beroep op hul gewete gedoen het. Maar al verskyn Christus nie persoonlik aan hulle nie, Hy laat hulle darem ook nie met rus nie.

Hierdie keer is die mense wat hulle rus kom versteur wel die laastes van wie hulle dit verwag het: dis dié mense wat hulle juis ingeskakel het om rus te kry.

Toe Christus op die Goeie Vrydag laat namiddag aan die kruis gesterf het, was die oudstes met 'n vodane gevoel huis toe. Nou kon hulle rustig die Pasga vier.

Jesus was dood. Josef van Arimathea en Nikodemus mog hem, wat hulle aanbetref, wel in 'n pragtige graf begrawe. Hy sou darem nie minder dood wees nie.

Nogtans het hulle daardie nag geeneen van almal lekker kan slaap nie. Die nag tevore was hulle nie bed toe in verband met Jesus se gevangeneming en verhoor. Maar noudat hulle eindelik gerus kon gaan lê, wou die slaap maar nie kom nie. Hulle kon dit maar nie uit hulle kop uitkry nie dat Jesus tydens sy lewe 'n hele aantal kere gepraat het van "uit-die-graf-opstaan". "Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees" het Hy gesê. En hulle onthou ook nog die woorde dat Hy die tempel wou afbreek en in drie dae weer opbou. Blykbaar het Hy toe nie die tempelgebou bedoel nie.

Sê nou Hy staan rêrig na drie dae weer op uit die dood..... Per slot van rekening het Hy ook ander mense weer uit die dood teruggeroep, soos onlangs nog sy vriend Lasarus in Betanië.

Die volgende oggend vroeg, op die Sabbat nogal, hou hulle nog 'n klein spoedvergaderingetjie van die Raad en na bietjie oorleg besluit hulle om nog 'n keer Pilatus toe te gaan; dié keer om 'n wag by die graf te bekom. 'n Paar soldate wat die graf mooi kan dophou om te voorkom dat Jesus se dissipels iets met daardie graf uithaal.

En Pilatus, wat lankal siek en sat is van al die drukte oor daardie Jesus en ook eindelik rus wil hê, gee 'n aantal soldate en boonop 'n verseëling om die graf met die keiserlike seël af te sluit.

En eers toe het die lede van die Sanhedrin bietjie tot rus gekom. Toe kon hul Sabbatdag regtig 'n rusdag word. Dié nag het hulle eindelik weer eens heerlik geslaap.

Maar soggens net na dagbreek kom juis hierdie soldate die oudstes van Jerusalem wreed uit hul soete slaap wakker skud. Juis die mense wat eindelik bietjie rus gebring het, is dit wat die rus meteens weer kom versteur! Hulle hardloop heeltemal van stryk deur Jerusalem se strate, verwonderd nagestaar deur die mense wat as eerstes al op straat is, en slaan vervolgens bonsend op die deure en vensters van die owerpriesters se huise. Dié skiet gou-gou in hulle klere en hoor die hele verhaal aan.

En as ek sê: "die hele verhaal", is dit in hierdie geval ook regtig 'n heel verhaal, broeders en susters. "Alles wat gebeur het", skryf Mattheüs. Hierdie Romeinse soldate het meer van die opstandingsgebeure gesien as wie ook maar! Hulle het die aardbewing meegemaak, die engel van God gesien wat hom nie aan die keiserlike verseëling gesteur het nie maar doodluiters die seël verbreek en die grafsteen weggerol het, waarna hy boonop daardie klip gaan sit het. Toe het hulle soos dooies op die grond neergeval, aanvanklik nie in staat om weg te hardloop nie. Daarom was hulle ook getuie van die ontmoeting van die klompie vroue met daardie engel en hulle het dit self uit die mond van die engel gehoor: "Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Maar Hy is nie meer hier nie, want Hy het opgestaan, soos Hy mos gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het".

Eers daarna was hulle orent en het hulle hul uit die voete gemaak.

Beter getuies kan die lede van die Sanhedrin dus nie kry nie. Hulle word uit die eerste hand met die ware feite van Christus se opstanding gekonfronteer. Al hul moeite om die graf gesluit te hou, het niks gehelp nie. Die graf lê oop en Jesus is weg. Jy kan die waarheid nie begrawe nie!

2. Wat moet die oudstes en owerpriesters nou maak, gemeente?

Mattheüs vertel dat hulle nog dieselfde oggend 'n spoedvergadering van die Sanhedrin bymekaarroep om te bespreek hoedat hulle in hierdie situasie die beste kan handel. Alweer 'n vergadering van die Raad. Daar het die laaste tyd geen dag verby gegaan of hulle was wel gedwing om bymekaar te kom in verband met daardie Jesus. Kom daar dan nooit rus nie? !

Ja, daar kon nou rus kom as hulle nou eindelik vir die waarheid wou swig en erken dat Jesus van Nasareth tog die Koning van die Jode is. Die feite wat hulle nou te hore gekry het, kon mos niemand meer ontken nie? Elkeen kon nou mos op sy vingers natel dat Jesus geen woord te veel gesê het nie, toe Hy homself met Jona vergelyk het en aangekondig het dat Hy drie dae en drie nagte in die hart van die aarde sou wees. Hy hét die tempel van sy liggaam laat afbreek, maar in drie dae is dit ook weer opgebou. Die verhaal van die soldate het alle weë vir hulle verder afgesluit. Nou moes hulle hul koppe buig vir Jesus die Christus en eindelik voor Hom op hul knieë kom.

Maar dis nie wat gebeur nie!

Daar kom geen bekering nie, maar voorgaande verharding. Hulle wíl die waarheid nie aanvaar nie. Liewer probeer hulle om die waarheid geweld aan te doen en die soldate met 'n leuen in die wêreld in te stuur. Dit wat die soldate juis moes voorkom, moet hulle nou maar as die waarheid aan die wêreld voorhou: Jesus het nie opgestaan nie, maar sy dissipels het Hom in die nag kom steel. Die soldate moet maar vertel dat hulle tydens hul diens geslaap het. As daar dalk moeilikheid met Pilatus kom, sal die owerpriesters 'n goeie woord vir hulle doen.

Hulle is selfs bereid om baie swyggeld aan die soldate te voorsien, om hulle om te koop om hierdie verhaal onder die Jode te versprei.

Daardie geld bewys, broeders en susters, dat die Sanhedrin die feiterelaas van die soldate sondermeer geglo het!! Hulle het gewéét dat nie die dissipels die lyk weggeneem het nie, maar dat daar regtig 'n wonder in Jesus se graf moes gebeur het. As hulle ook maar 'n bietjie aan die verhaal van die soldate sou getwyfel het, sou hulle hul ongetwyfeld 'n strenge kruisverhoor afgeneem het om uit te vind of daardie Romeine dalk nie met 'n mooie storie hul drostery wou probeer goedpraat nie. Hulle sou direk die tempelpolisie ingeskakel het om die dissipels op te spoor weens verdenking van lykroof en weens verbreking van die keiserlike seël. Maar hulle maak nie so nie. Die relaas van die soldate het hulle dronkgeslaan. Hulle kan nie meer ontken nie.

Maar hulle wíl die waarheid ook nie érken nie. En daarom moet daar baie geld aan te pas kom om die waarheid te probeer onderdruk. Die verharding van hul harte blyk nou baie duidelik: toe hulle geld vir Judas gegee het, kon dit nog as onwetendheid beskou word; hulle wou 'n dwaalleraar en volksverleier in hande kry. Maar die ongetwyfeld baie groter som wat hulle nou aan die soldate as swyggeld betaal, kan op geen enkele manier meer verdedig word nie. Wie gaan betaal vir leuens, is bang vir die waarheid.

Dit is huiweringwekkend, hoe ver die duiwel mense kan dryf- ook mense wat by God se Woord groot gemaak is! Hoe blyk hier die waarheid van dit wat ons in die Dordtse Leerreëls hoofstuk III/IV, art. 3 bely, dat sonder die genade van die Heilige Gees geen mens tot God kan of wil terugkeer nie. Liewer werk hy homself nog meer in die ongeregtigheid vas.

Namate God met sy verlossingswerk verder kom, dryf Hy die teëstelling tussen die mense ook al hoe meer op: "Wie onreg doen, moet al hoe meer onreg doen; en wie vuil is, sal al hoe vuiler word" (Openb. 22: 11). Want hoe helderder die lig begin skyn, des te minder kan 'n mens nog uit onwetendheid dwaal. Wie dan nog bly dwaal, wil ook nie die regte pad loop nie. Hy het die duisternis liewer gehad as die lig. Hy háát die lig. Dan word algaande die swaarste van alle sondes gebore: die verset teen die Heilige Gees. En dan bly daar geen vergewing meer oor nie.

Op dié pad sien ons in ons teks die Sanhedrin al hoe hardnekkiger aangaan, gemeente.

En die Here het ook hierdie vreeslike geskiedenis vir ons in die Bybel bewaar, om ons te waarsku.

Ook ons staan telkens weer voor die keuse: buig ons vir die feite, of glo ons die leuen? Kniel ons voor Koning Jesus, of verwerp ons die evangelie van sy dood en opstanding as 'n fabel wat deur sy leerlinge in omloop gebring is?

Wie die feite nie aanvaar nie, word deur die vader van die leuen in 'n wêreld van leuens verstrik. Wie nie wil glo dat Jesus leef nie, haal homself die ewige dood op die hals.

3. Maar twyfel u nooit aan die feite van Christus se opstanding nie, broeders en susters? Julle, jongmense? Bekruip die bange gevoel u nooit dat die evangelie dalk net fabels is nie?

Is die leuen van die Sanhedrin tog nie die eintlike waarheid nie?

Gemeente, 'n leuen verraai homself altyd aan die einde van die dag. Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel! Ja, hoe kragtiger jy met 'n leuen die waarheid wil bestry, des te meer bevorder jy meestal die waarheid.

En dit is ook die geval met die leuen wat die Joodse Raad geïntroduseer het.

Daardie leuen het die waarheid van Christus se opstanding feitlik maar net nog meer gefundeer, onderstreep.

Want daardie leuen was so deursigtig! Hulle het die gerug begin versprei dat presies dit gebeur het wat hulle met die Romeinse wag juis probeer voorkom het. Maar jy gaan mos nie jou eie magteloosheid uitbasuin nie?

Boonop: watter soldaat gaan rondvertel hoedat hy by die uitoefening van sy diensplig gefaal het? En hoe dóm was ook hul storie: want as hulle regtig sou geslaap het, kon hulle mos nie weet dat dit Christus se dissipels was wat die liggaam van hul Here weggeneem het! En as die dissipels inderdaad die daders was, hoekom het die Sanhedrin dan hoegenaamd geen teëmaatreëls geneem nie?

Maar veral: al wou die Sanhedrin dit ook nie, hulle het met hul leuen in werklikheid juis saamgewerk aan die verspreiding van die waarheid dat Christus se graf dus na drie dae op 'n vir mense onverklaarbare wyse leeg was. Ten spyte van 'n Romeinse wag en 'n keiserlike verseëling. Selfs Christus se grootste vyande kon dié feit nie ontken nie en het die evangelie van die leë graf maar net publiek onderstreep. Ook hulle het dit rondgebasuin: sy graf is leeg!

En so het hulle met hul leuen maar net daaraan saamgewerk dat op die Pinksterdag derduisende Jode die prediking van die apostels geglo het dat God die smarte van die dood vir Jesus van Nasaret ontbind het en Hom uit die dood opgewek en 'n plek aan sy regterhand in die hemel gegee het. Omdat God Hom tot Here en tot Christus gemaak het, daardie gekruisigde Koning.

Al is die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal dit wel.

Ek het in die inleiding op hierdie preek gesê: waarheid en leuen staan teenoor mekaar aan die einde van Mattheüs se boek. Maar nou kan ons dus net so wel sê: die groot waarheid dat God ons Verlosser ter wille van ons uit die dood in die lewe weergebring het- dié waarheid bly feitlik alleen oor aan die einde van Mattheüs se boek. Want die swak en deursigte leuen van die Joodse raad onderstreep nog te meer daardie waarheid.

Wie van ons durf nou nog te twyfel?

Wie sou dit nou nog waag om hierdie waarheid nie te glo nie?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)