God verklaar Israel se Koning regverdig deur Hom uit die dood op te wek

Teks: 
Matthéüs 28
Datum: 
2017-09-17
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTH.28: 2-6

LITURGIE:
L. Psalm 18
Ps. 68: 1, 2
Ps. 68: 9
Ps. 18: 14 na die doop
Ps. 18: 1, 2, 5, 10
Ps. 18: 20
Ps. 21: 1, 3, 5, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Pase is vir ons die fees van die Here Jesus Christus wat opgestaan het. Ons Heiland het as 'n lyk agter 'n grafsteen verdwyn, maar die bande van die dood kon Hom nie vashou nie. Hy het hulle verbreek soos deurgebrande draadjies. Sy liggaam het nie tot ontbinding oorgegaan nie, maar dit het in daardie graf juis in 'n oogwink van verganklik in onverganklik, van sterflik in onsterflik verander. En dus het Hy op die derde dag weer opgestaan, om 'n leë graf vir goed agter Hom te laat.

So vier ons die Paasfees.

Maar het u gemerk, broeders en susters, hoe dikwels die Bybel in verband met Christus se opstanding praat van opgewék in plaas van opgestaan?

U tref dieselfde aan i. v. m. Christus se hemelvaart. Die een keer lees ons dat Christus na die hemel opgevaar het, die ander keer word gesê dat dat in die hemel opgeneem is.

Ons moet oor hierdie verskil in woordgebruik nie heen lees nie, al lyk dit ook dat dit aan die saak nie so veel verander nie.

Moet maar eens daarop let hoe die apostele vanaf Pinkster aanhoudend daarop wys dat die Jode Christus wel gekruisig het, maar dat God Hom opgewek het. "Julle het die Leidsman tot die lewe gedood" -hoor ons Petrus sê, "maar God het Hom uit die dode opgewek". Wanneer Petrus vertel van Jesus wat opgestaan het, vra hy spesiale aandag vir dit wat Gód gedoen het.

Hierdie opstanding het nie buiten God om gebeur nie.

Inteendeel, op die Paasmôre het God self ingegryp en sy Seun in die lewe teruggehaal.

As die Jode onder leiding van die Sanhedrin hulle Koning die dood ingeja het, plaas God self Hom twee dae later weer in die lewe terug.

Daardie groot saak lê in daardie klein woordjie "opgewek" opgesluit.

God het ingegryp, beteken dit. En God verklaar openlik hierdie Koning wat deur vrywel almal afgewys is, regverdig.

As God Israel se Koning uit die dood opwek, beteken dit sy publieke onskuldig-verklaring. Dit wat Pilatus alreeds as dienaar van God op die vroeë Goeie Vrydagoggend gesê het, sê God nou op die vroeë Paasoggend: "Ek vind geen skuld in Hom nie!".

Ons vind by geeneen van die Evangeliste die opwekking van Christus so duidelik met hierdie bedoeling beskryf nie, gemeente, as by Mattheus.

Ons wil vanoggend saam daarna gaan luister. Ek kan dus die boodskap van ons teksverse so saamvat:

GOD VERKLAAR ISRAEL SE KONING REGVERDIG DEUR HOM UIT DIE DOOD OP TE WEK.

HIERDEUR

  1. BEVANG HY SY VYANDE MET VREES
  2. BEVRY HY SY VOLK VAN VREES.

1. Met Goddelike magsvertoon is ons Here Jesus Christus uit sy graf gehaal, broeders en susters. 'n Indrukwekkende skouspel het hom voltrek in die stille tuin van Josef van Arimathea op die vroeë Paasoggend, al was dit dan ook van korte duur. Kort maar kragtig.

Mattheüs teken vir ons die hele gebeure met 'n paar pennestreke, en die verhaal het vir ons in die loop van die tyd so vertroud geword dat ons geneig is om al te vinnig oor die geweld van daardie eerste oomblikke heen te lees en dadelik maar aandag te gee aan die ontmoeting van die vroue met die engel.

Maar dit mag ons nie ontgaan dat Mattheüs in sy beskrywing van die opstandingsgebeure méér vertel het as al die ander evangeliste nie. Die ander vertel net dat 'n aantal vroue wat met nuwe speserye die laaste eer van die Goeie Vrydag nog bietjie wil rek, tot hul verbasing en skrik die groot ronde grafsteen weggerol vind sodat die graf van Christus ooplê.

Maar hoe dat daardie klip so weggerol is, vertel die ander evangeliste nie daarby nie. In hul beskrywing kom ons saam met die vrou eers by die graf as die groot oomblik al klaar plaasgevind het.

Mattheüs vertel meer. Al het hy dit ook in 'n paar sinne gesê.

En dit wat hy mag vertel is veelseggend vir wie sy Bybel ken en die verbande daarin raakgesien het.

Dit wat hy kan vertel is sekerlik veelseggend vir die Jode, die eerste lesers van sy Evangelieboek, met die oog op wie hy sy relaas ook spesiaal op papier geset het.

Daar was daar in Josef se tuin 'n Kóning begrawe. 'n Koning wat weggelag was weliswaar. Maar nogtans wel deeglik 'n Koning. Israel se Koning.

Die laaste woord wat Mattheüs uit Christus se mond opgeteken en deurgegee het, lees u in vs. 11 van hoofstuk 27. Daar erken Christus voor Pontius Pilatus: "U sê dit: Ek is die Koning van die Jode".

In daardie woord het die hele geheim van sy lewe en sterwe gelê. Die geheim wat Mattheüs alreeds vanaf die eerste bladsy vir ons wou deurgegee het: Hy is dit, die groot beloofde Seun van Dawid, die Koning wat vrede en verlossing kom bring. Hy is dit waarvan die Skrifte voortdurend gepraat het. Hy het gekom om sy volk te red, maar dan wel van hul sóndes. Maar juis daarom is Hy deur sy volk nie aanvaar nie.

Daardie woord voor Pilatus was in Mattheüs se verhaal Christus se laaste woord: inderdaad Pilatus, u het dit gesê. Daarmee het u in een keer alles gesê!

Maar vanaf daardie oomblik is daar met Israel se Koning 'n spottende spel gespeel. Van 'n eerlike beregting het niks tereg gekom nie. Hy het 'n speelbal van Sanhedrin en soldate geword, met 'n bietjie onsekere goewerneur daartussenin.

Die soldate het 'n spotkoning van Hom gemaak, deur Hom 'n rooi soldatemantel om te hang en 'n kroon wat hulle van doringtakke gevleg het, op sy kop te druk, en vervolgens kwansuis onderdanig voor Hom op die knieë te val as huldebetoon.

Pilatus het so sy eie bydrae aan die spot gehad en tegelyk die hoogmoedige Jode in hul eergevoel getas, deur 'n bordjie boaan die kruis te bevestig: "Dit is Jesus, die Koning van die Jode". Met ander woorde: as dít die koning is- hierdie beklaenswaardige skepsel- dat weet mens meteen ook met watter volk jy te make het.

Toe Pilatus geweier het om hierdie opskrif bietjie aan te pas, het die Jode nie beter geweet om te maak nie as om dan maar mee te gaan spot nie. En dan op húlle manier! Die Romeine het per slot van rekening die klok hoor lui sonder om te weet waar die klepel hang. Maar die Joodse leiers het die koninklike pretensies van hierdie Jesus deur en deur geken. En daarmee sou hulle Hom nou om die ore gee.

Het Hy Hom nie aan die volk gepresenteer as die Koning wat gekom het om die hele lewe te verlos nie? Ja, hulle moes toegee: Hy het indrukwekkende dinge in Israel gedoen. Maar wat maak Hy dan nou hier aan 'n kruis? ! As Hy ander kon verlos, selfs uit die dood terughaal, waarom laat Hy Homself dan nou die dood inja?

So het Mattheüs vir ons in die vorige hoofstuk die neergang, om nie te sê nie: die afgang van Israel se Koning beskryf, gemeente.

'n Neergang wat op die dood en 'n graf uitgeloop het. Ten spyte van onmiskenbaar koninklike trekke aan hierdie gekruisigde, het dit gelyk dat sy vyande aan die langste end was.

Die Koning van die Jode het in die dood onder gegaan.

Maar kyk, waarsku alreeds ons teks: nouliks twee dae later, die son is nog besig om op te kom, of daar gebeur alreeds skokkende dinge by sy graf. Skokkend, ja: 'n groot aardbewing deurbreek dreunend die stilte. Alles tril en skok en skeur. En skielik is daar dan ook 'n engel uit die hemel, soos 'n helle bliksemflits, verblindend wit soos vars sneeu in die sonlig, en hy rol sonder enige moeite die swaar klip van voor die grafopening weg en gaan sit daar bo-op.

Die Joodse raad het voorsien dat daar met hierdie graf nog probleme sou kon kom. Hulle het gedink aan 'n ontvoeringsaksie deur Christus se dissipels. En daarteen het hulle hul maatreëls getref.

Maar hulle het buiten die waard gereken. Hulle het nie met Gód gereken nie!

Want hierdie groot aardbewing en hierdie bliksemende engel- dit is geen mensewerk hierdie. Wat beteken dit anders as dat God self nou ingryp-eiehandig, en met Goddelike magsvertoon?

Die Jode het dit goed uit Jesus se mond gehoor- hoofstuk 27: 63: "Na drie dae word Ek opgewek". Let dus op daardie woordkeus: opgewek. Wie anders is in staat om 'n dooie weer uit die dood op te wek en met altwee sy bene in die lewe terug te sit, as God alleen?

God verbreek nou ondubbelsinnig die bande van die dood en haal Israel se Koning wat deur almal weggelag was, weer uit die dood tevoorskyn.

Ek het alreeds gesê, gemeente, dat dit wat Mattheüs in 'n paar woorde hier oor God se ingrype vertel, veelseggend is vir elkeen wat sy Bybel ken en dus hierdie gebeurtenis kan lees in die lig wat die Skrif daaroor laat skyn.

Ons het vanoggend saam Psalm 18 gelees. 'n Psalm wat Christus se vader Dawid gesing het toe God hom uit die hand van al sy vyande gered het. Al 'n hele aantal Psalms van Dawid is in die afgelope dae aan Christus is vervulling gegaan: 6, 69, veral Psalm 22, 31, 34...

Maar nou kom ook Psalm 18 vir Christus tot vervulling; daardie lied van verlossing.

Bande van die dood het Israel se Koning omring (vs. 6 e. v. ), bande van die doderyk was rondom Hom, strikke van die dood het Hom teëgekom.

Maar dan kom God reddend in beweging (vs. 8 e. v. ): Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was op die vyande van sy gesalfde Kneg.

En Hy het die hemel gebuig (vs. 10), en neergedaal. Hy het op 'n gerub, 'n soldaat van die hemelse leërmag, gery om in te gryp. Hy het (vs. 15) sy bliksems in menigte uitgestuur om hulle in verwarring te bring. Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek (vs. 17) en sy Kneg gegryp. Hy het Hom verlos van sy magtige vyand en van sy haters.

So het God eendag ingegryp tydens die lewe van Dawid, die kneg van die HERE. Verlossend het God se hand Hom daar bo-uit gehaal.

Maar so gryp God opnuut in op die vroeë Paasmôre, en Hy haal nou Israel se groot Koning, die groot Seun van Dawid weg uit die onklemming van die doderyk.

Want dan moet u 'n slag verder lees in Psalm 18, gemeente.

Waarom gryp God eiehandig in om Israel se Koning aan die verderf te ontruk? waarom lei Hy Hom uit in die ruimte?

U lees dit in vs. 20: ons hoor Dawid daar sê: "Hy het my gered omdat Hy behae in my gehad het".

Veral met dié Bybelteks het op die Goeie Vrydag die owerpriesters en wetgeleerdes die Here Christus om die ore gegee. Met daardie aanhaling uit die Psalms, wat ons ook in Psalm 22 vind, het hulle sataniese spot 'n hoogtepunt bereik. Honend het hulle geroep (27: 43): "Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het!". Hulle het niks meer daarvan geglo dat God in hierdie Jesus, hierdie Koning wat nie wou veg nie, maar wat wou versoen, 'n behae kon hê nie.

Maar dan laat God nou weet dat hulle hul daarin danig vergis het. Psalm 18 word vervul aan hierdie so bespotte Kneg van die HERE. God het wel deeglik 'n behae in Hom. God kies openlik sy kant. En Christus mag -opgewek uit die dood- dit Dawid nasing (vs. 21 e. v. ): "Die HERE het met My gehandel na my geregtigheid. Hy het My vergelde na die reinheid van my hande. Want Ek het die weë van die HERE gehou. Die Jode het My as 'n godlasteraar beskou, maar Ek het nie goddeloos van my God afgewyk nie. Want al sy verordeninge was voor My en sy insettinge het Ek nie van My verwyder nie. Maar Ek was opreg by Hom en Ek was op my hoede vir my ongeregtigheid. So het die HERE My dan vergelde na my geregtigheid, na die reinheid van my hande voor sy oë".

In dié lig moet u die opwekking van Christus as Israel se Koning sien, broeders en susters. God haal Hom uit die ondergang omhoog en verklaar Hom publiek regverdig, onskuldig.

Hierdie Koning is tog die Koning wat God se volk sal verlos. Hierdie Koning het tog die krag van God agter Hom.

Mattheüs vertel dan ook meteen vir ons daarby dat die bewakers wat deur die Sanhedrin by die graf geplaas was, deur vrees bevang is. Ja, hulle het soos dooies geword!

Die rolle is dadelik omgedraai. Christus word aan die dood ontruk, en sy teëstanders val soos dooies neer. So gaan dit as God publiek die kant van die Koning kies. Dan is geen vyand te sterk nie.

Hierdie wagte wat hulleself doodgeskrik het, wys vir ons die begin van die finale afrekening. Van nou aan kan geen vyand meer voor Christus standhou nie. Dit word nou buig of bars. Die wat nou nie op sy knieë kom nie, moet deur sy knieë.

Want nou kom Psalm 18 ook verder tot vervulling. Nou word al die vyande van die Gesalfde van die HERE ook verpletter (vs. 38): "Ek het my vyande agtervolg en hulle ingehaal, en Ek het nie teruggekom voordat Ek hulle vernietig het nie. Ek het hulle verbrysel, sodat hulle nie kon opstaan nie; hulle het geval onder my voete. U het my teëstanders onder My laat buk".

Van nou aan is aan hierdie Koning alle mag in die hemel en op die aarde gegee. Hy mag sit aan God se regterhand totdat al sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak is.

2. Dit is verstaanbaar dat by soveel Goddelike geweld ook die vroue wat by die graf hul Here kom soek, vrees. Ook hulle voel lus om weg te vlug.

Maar hulle word dadelik van vrees bevry. Daar is vir hulle geen rede om te vrees nie. Eerder 'n rede om bly te wees.

Hulle soek 'n gekruisigde, en dis nie veel saaks nie. Maar so sal hulle Hom nie meer vind nie, want Hy het opgestaan en dit gee nuwe hoop.

Die vólk van hierdie Koning hoef nou tog nie te vrees nie?

Want indien God die Koning eiehandig deur die dood heen gehaal het, open dit mos nuwe perspektiewe ook vir die volk van daardie koning?

So werk dit mos met 'n koning- daardie man behartig nie net sy eie belange nie, maar die saak van sy volk gaan hom ter harte. Dit bring sy amp nou maar eenmaal saam. Daarvoor is hy "kneg van die HERE". Toe Dawid in Psalm 18 vertel het van die bande van die dood wat gedreig het om hom te versmoor, het dit hom nie net om die behoud van sy eie lewentjie gegaan nie. Maar toe het mét hom, die koning, die saak van die hele volk op die spel gestaan. Vir dié saak het hy sorg gedra.

Dit geld nog baie meer van Dawid se groot Seun, God se ewige Koning vir sy volk. Hy het vir sy volk die dood ingegaan. As ons Borg. Om die straf op ons skuld te dra.

En toe het God self Hom uit die dood teruggehaal. Sodat ons deur Hom sou lewe. God het sy offer vir ons skuld dus aanvaar en as Hy ons Koning na twee dae publiek regverdig verklaar, beteken dit vryspraak vir ons, sy onderdane, almal!

Van dat ons Koning as regverdige opgewek is uit die dood kan ons elke dag vorentoe. Noudat Hy leef kan ook ons lewe nooit meer doodloop nie. Want aan sy koningskap kom daar geen einde meer nie- en open dit geen onafsienbare perspektiewe nie?

Want Hy wat gesê het: "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde", het daar dadelik bygevoeg: "En kyk, Ek is met julle, al die dae totaan die voleinding van die wêreld". Geen moeite en verdriet, geen haat of hoon kan meer daartussen kom nie. Die band aan ons Koning bly. En hoeveel vyande ons ook nog sal raakloop, ons is in Christus meer as oorwinnaars. Selfs die mag van dood en graf ruk ons nie meer van Jesus af nie.

Vanaf die Paasmôre kan ons lewe nooit meer doodloop nie.

Ons Koning in eie Persoon staan daarvoor Borg.

AMEN.

(Pretoria 15 April 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)