Alleen God se koninkryk maak ryk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATT.6: 33

LITURGIE:
L. Matt. 6: 19-34
Ps. 145: 1, 8, 9
Ps. 145: 11
SB. 17: 1-4
SB. 17: 5
SB. 17: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons wil in diè diens dus weer spesiaal bid vir gewas en arbeid, soos ons dit noem. Dit beteken dat ons wil bid vir sake wat ons almal daagliks besighou: ons boere wat weer wil saai en oes, wat hoop op reën en sonwarmte in 'n ewewigtige afwisseling; maar ook ons bouers, die wat in fabrieke en bedrywe werk, die wat ondersoekswerk by die WWNR verrig, wat in 'n bank op in 'n kantoor werk; en veral die wat vanweë hul leeftyd of gesondheid nie meer kan werk of nog nie kan werk nie.

Ons almal benodig mos geld, kos, klere, huise en so meer?

Dit is ons eerste lewensmiddele.

Dit is sake wat daarom ook 'n baie belangrike rol speel in die politieke stryd wat hierdie weke gevoer is met die oog op die verkiesing van verlede Woensdag. U het dit op die verkiesingsplakkate en in die verkiesingspamflette van die diverse partye natuurlik wel gelees: almal het hulle op die een of ander wyse beloof dat hulle die welvaart in Suid-Afrika sal waarborg of weerbring. Almal het hulle hul voorgeneem om daarvoor te sorg dat u genoeg kos, klere, geld, goeie huise, 'n onbesorgde lewensaand gaan kry.

Die wat van ons daartoe geregtig was het seker maar woensdag hulle kruisie getrek. Met die oog op ons toekoms.

En ons gaan vanmôre ook saam bid. Eweseer met die oog op ons toekoms.

Dit kàn saamgaan. Jou lewensonderhoud aan die HERE voorlê en 'n nuwe regering kies wat homself voor jou lewensonderhoud moet inspan, hoef mekaar nie uit te sluit nie. Die HERE werk mos deur middele en mense. Hy gebruik ook owerhede om ons deur sy raad en voorsienigheid te onderhou en te regeer.

Maar die ding is wel: hoe bid ons? En: hoe stem ons?

Wat soek u met u gebed van vanmôre? En wat het u met u keuse van Woensdag gesoek?

Nie alleen ons stem as burger van die Republiek Suid-Afrika nie, maar ook ons gebed as burger van die Koninkryk van die hemele kan verkeerd gerig wees. Omdat ons die verkeerde ding soek. Omdat ons ons daaglikse lewensonderhoud nie in die verband waarin die HERE dit van ouds geplaas het, sien en laat staan nie.

Daarom sal dit goed wees dat ons vanmôre weereens luister na die onderwys van die Koning van die Koninkryk van die hemele. Hy leer vir ons wat ons allereers in ons lewe moet soek.

Ek verkondig u in sy naam:

ALLEEN GOD SE KONINKRYK MAAK RYK

DAARIN

  1. MOET ONS DIE LEWENSHERSTEL SOEK
  2. SAL ONS DIE LEWENSONDERHOUD VIND

1. Mens kry by eerste lesing van ons teksgedeelte uit Matt. 6 die indruk, gemeente, asof die Here Jesus ons so'n sorgelose lewenswyse wil aanleer dat ons ons glad nie meer hoef te bekommer oor wat ons sal eet of drink, watter klere ons sal aantrek en so meer nie: "Moenie julle kwel oor jul lewe- wat julle sal eet en wat julle sal drink nie, of oor jul liggaam- wat julle sal aantrek nie".

Maar hoe kan Hy so sê? !

Mens moet tog eet en drink om te kan lewe? Moet 'n ma nie daarvoor sorg dat haar kinder netjies aangetrek is nie?

Ja, ons weet: ons hemelse Vader weet dat ons al hierdie dinge nodig het. En ons mag ons lewensonderhoud uit sy sorgende Vaderhande verwag.

Maar dit help mos nie om maar net te bid en wag nie? Hy laat tog vandag die kos nie meer soos die manna uit die hemel sneeu nie! En die klere kom tog nie sommer met die wind aangewaai nie? Ons het tog geleer ons moet bid èn werk?

Die Here Jesus sê in ons teksvers: "Soek eers God se Koninkryk", broeders en susters. Die ding is naamlik: Wat staan in ons lewe voorop? Wat is ons eerste kommernis?

Ons sit dikwels in ons lewe diè twee sake langs mekaar: ons sorge vir die ewige lewe èn ons sorge vir die huidige lewe. Ons is bekommerd vir ons toekomstige welvaart in die hemel èn ons maak ons druk oor ons welvaart nou al hier op aarde. Ons begeer 'n skat in die hemel, maar ons soek tog ook skatte hier op aarde. Ons is godsdienstige mense, maar ons ontkom tog ook nie aan die Mammondiens nie.

En dààrteen rig Christus Hom in hierdie hele gedeelte van die Bergpredikasie. Vanaf vs. 19.

Ons dink soos vanself ons moet diè twee sake in ons lewe wel kombineer: natuurlik gaan ons sondags kerk toe. Maar op die weeksdae moet ons wel werk toe gaan. Sondags ontvang ons geestelike voedsel, maar op Maandag moet ons weer werk vir ons liggaamlike voedsel. Ons kan dit selfs nog wel ook op weeksdae kombineer: dan hou ons ons bedags met die materiële sake besig terwyl ons ons saans op die geestelike sake konsentreer: kerkraad, huisbesoek, vereniging....

Maar Christus sê vir ons: dis nie twee sake van ewegroot belang wat jy op die een of ander manier in jou lewe moet probeer kombineer nie. Jy sal tussen daardie twee radikaal moet kies. Soos 'n mens nie twee base tegelyk kan dien nie, kan jy ook nie Godsdiens en Mammondiens in jou lewe gelyke regte gee nie. As ons altwee terselfdertyd wil dien, gaan ons tog op die ou end kies, maar dan kies ons definitief verkeerd.

Want dan kies ons kortsigtig. Ons kyk net na wat vlak voor ons oë is.

Christus het in vs. 22 gesê: ons oog is soos 'n lamp. "Die lamp van die liggaam is die oog". Dis 'n verrassende uitspraak. Vir ons gevoel is ons oog 'n orgaan om lig op te vang, en nie om lig uit te straal nie. Oë moet lig kry, hulle kan dit tog nie gee nie? ! Maar die Here Jesus vergelyk ons oog met 'n looplamp. Ons oog wys ons liggaam die weg. Waar ons oë kyk, volg die voete. Die voorligting van ons oë bepaal die rigting van ons hart. So kan jou jou oog jou na die ewige duisternis lei, dit kan jou ook in die ewige lig binnelei. Dit hang maar daarvan af hoe dat ons kyk!

As ons God en Mammon terselfdertyd in die oog wil hou, raak ons definitief kortsigtig en staar ons ons al gou blind op Mammon. Want Mammon is sigbaar en naby. En God is onsigbaar en lyk ver weg. Mammon -u weet waarskynlik wel dat hierdie naam van dieselfde Hebreeuse werkwoord as ons woordjie "Amen: dit sal vas en seker wees" afgelei is- Mammon, die geldgod, gee jou dadelik vastigheid en sekerheid, maar die HERE gee jou voorlopig maar net onsekere beloftes, woorde waarvan jy die werklikheid maar moet afwag.

As ons terselfdertyd ons oë op die skatte in die hemel èn op die skatte hier op aarde rig, sal ons hart vanself al hoe meer volraak van die aardse skatte en raak die skat in die hemel algaande op die agtergrond. Want die lamp van ons kortsigtige oog eis ons aandag op vir dit wat sigbaar en tasbaar by die hand is. En ons vergeet dat juis aardse skatte baie onseker en onbestendig is: mot en roes verniel dit, inflasie veroorsaak devaluasie en diewe bedreig aanhoudend ons kosbare besit. Terwyl 'n skat in die hemel bo enige vorm van slytasie en dwaluasie verhewe is en in 'n vir enige dief onbereikbare kluis gebêre is.

Christus wil daarom dat ons hart slegs van die skat in die hemel vol sal wees. Sodat ons oog hom alleen daarop rig en dit ons lewe daarnatoe trek. Ons moet God alleen dien.

En dus vat Hy dit in ons teksvers nog 'n keer saam: "Soek allereers die Koninkryk van God". Laat God alleen julle Koning wees en laat Hy alles in julle almal wees. Moet julle nie kwel en sê: Wat sal ons eet en wat sal ons drink en wat sal ons aantrek nie? As al daardie sake julle in beslag neem is julle net soos die heidene en word julle op die ou end ook heidene. Soek julle eers die Koninkryk van God. Rig julle op die opbouing van sy Ryk, beywer julle daarvoor dat julleself en ander mense na die wette van diè Ryk lewe, soek die eer van die Koning van daardie Ryk.

Maar, broeders en susters, impliseer dit dan tog nie dat ons glad nie meer hoef om te gee hoe ons en ons kinders aan onderdak, kos, klere, medisyne, skoolboeke, en so meer kom nie? Moet ons dan voortaan maar net die hele dag in die kerk sit?? Kan ons maar ophou met werk om voortaan maar net te bid?

Moet ons boere maar ophou met saai en oes en voortaan die land braak laat lê? Is dit nie meer nodig om te bou en te onderhou nie en kan ons fabrieke en kantore maar sluit?

Moet 'n huisvrou maar liewerste die hele dag Bybellees, christelike boeke bestudeer pleks van inkopies doen, klere naai en verstel en so meer?

Nee, glad nie!

Wanneer Christus sê: "Soek eers die Koninkryk van God" voeg Hy dadelik toe: "en sy geregtigheid". Hierdie woord kàn beteken: die vryspraak van jou skuld teenoor God danksy die versoening van jou sondes. Maar die meeste, ook die Gereformeerde, verklaarders is van mening dat met die woordjie "geregtigheid" hier nie bedoel is die "geregtigheid" wat God gee nie, maar die "geregtigheid" wat God vra: die gehoorsaamheid aan die grondwet van sy Koninkryk, naamlik dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en met al ons kragte; en dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Die HERE roep ons in sy Koninkryk na sy oorspronklike bedoeling met ons lewe, soos dit in die Paradys was, terug. Ons moet weer Paradysmense word.

Maar in die Paradys het die mens geen vakansie gehad nie! God het hom nie geskape om die hele dag in die son te lê en psalmsing nie. "Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak", lees ons in Genesis 2. Adam moes die aarde bewerk en ontwikkel, al die skatte wat God daarin nog weggesteek het ontdek en benut. Hy moes ploeg, saai, oes, hy moes reken en bereken, navorsing doen en produktief maak. Die mens was boer, bouer, ingenieur, instrumentmaker, ekonoom, navorser, ja, alles tegelyk. Hy sou die hande vol kry.

Maar nie om daardeur baie geld te verdien nie.

Maar om daarmee sy God te dien!

Dit was die "geregtigheid" wat God van hom gevra het: 'n lewe waarin die mens van harte gewillig en bereid, nie vir homself nie, maar vir God sou besig wees. Besig wees om God se skepping al hoe meer te ontwikkel sodat daar al hoe meer rede sou wees om die HERE as die Almagtige te loof en te prys.

En na die lewensdoel roep God se Seun ons terug as Hy sê: "Soek eers God se Koninkryk en sy geregtigheid". Dan adviseer Christus ons nie om maar met die hande in die skoot te gaan sit nie. Ons moet wel deeglik ons hand uit die mou steek. Maar die doel moet nie wees dat ons daardeur kry waarsonder ons nie kan lewe nie. Die doel moet wees dat God kry waarsonder Hy nie wìl lewe nie: die eer en die aanbidding uit ons lewe èn werk.

Ons mag, ja ons moet selfs ploeg en saai en oes, bou en onderhou, studeer en investeer; moeders moet inkopies doen, kos klaarmaak, klere regmaak. Dit bly ons taak in die Koninkryk van God.

Maar ons moet in dièwerk nie krampagtig ons toekoms probeer veilig stel nie. Maar ons moet begerig wees om sy toekoms mee voor te berei: 'n voltooide skepping en die totale verheerliking van sy Naam. As ons werk moet ons nie op eie eer en roem hier op aarde uit wees nie. Maar ons moet op die eer en roem van sy koningskap in hemel en op aarde uit wees. Nie net ons eie belang mag voorop staan nie, maar ek moet ook die belange van my naaste waar ek kan en mag, bevorder. Nie ons welvaart nie, maar dit waaraan ons hemelse Koning 'n welgevalle het, moet ons daaglikse strewe beheers.

Kortom, ons moet die lewensherstel in God se Koninkryk soek.

En as dit ons eenmaal in beslag neem, hou ons geen tyd vir die sorge van morge meer oor nie. Maar dis ook nie nodig nie. "Môre sal vir homself sorg", sê Christus in vs. 34. Die vertaling in ons Bybels: "Môre sal hom oor sy eie dinge kwel" is veels te negatief. "Môre sal vir homself sorg", sê die Here. As ons ons heeltemal op ons lewensroeping as kinders van God se Koninkryk konsentreer, hoef ons oor die dag van môre nie bekommerd te wees nie. God sal wel sorg dat alles reg kom. Ons kan môre en oormôre maar aan Hom oorlaat.

Ons het alreeds die hande vol aan die dag van vandag. Want: "Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad", sê Christus tenslotte. En daarmee bedoel Hy nie, soos ons hierdie uitdrukking meestal verstaan, dat elke dag genoeg aan sy eie sorge het nie. Christus bedoel dat elke dag genoeg aan sy eie sondes het. "Kwaad" is hier: boosheid, slegtheid, verdorwenheid.

God se Koninkryk en sy geregtigheid soek- vir mense soos ons wat sedert die sondeval onbekwaam tot enigiets goeds en geneig tot alle kwaad is, van nature geneig om God en die naaste nie lief te hê nie, maar te haat, is dit elke dag weer 'n swaar opgawe. Ons moet by onsself, deur die werking van die Heilige Gees, heelwat weerstand oorwen om ons weer in alles te beywer vir die eer en die Koninkryk van God alleen en vir die heil van ons naaste.

Maar daarop moet ons dan ook maar konsentreer. Daaroor mag ons ons kwel! Want daarvan hang ons ewige lewe af.

Sal u dit voor oë hou as ons net-nou gaan bid vir gewas en arbeid, gemeente? Ons wil die daaglikse lewensbehoeftes aan die HERE voorlê om teenoor Hom te bely dat ons Hom as die enigste Bron van alles wat goed is, erken en dat ons weet dat al ons sorg en arbeid en ook sy gawes sonder sy seën ons nie kan baat nie.

Maar wat soek u met u gebed? Soek u kos, klere, geld en derglike om des te beter vir u hemelse Koning te kan lewe en werk? Of soek u lewe en werk om des te meer geld, kos, klere en derglike vir u self te kan verdien? Wil ons ons eie koninkrykie opbou of begeer ons om aan God se Koninkryk te mag saambou?

Het u oor die vrae ook nagedink voordat u Woensdag a. s. u kruisie getrek het, broeders en susters? Ek het al in die begin van my preek gesê dat feitlik al die bestaande politieke partye in ons land hulle wil beywer vir die welvaart wat die bugers van die Republiek Suid-Afrika soek. Maar ek het maar min gelees en gehoor oor ywer vir die geregtigheid wat die Koning van die Ryk van die hemele begeer. En tog gee dit alleen regtig welvaart vir ons in Suid-Afrika. maak. U sal by ons politieke keuses dan ook terdeë moet nagaan watter party die meeste ruimte sal bied en ook self daarin wil voorgaan om as burgers van God se Koninkryk ooreenkomstig die wette van diè ryk te lewe in ons republiek. Want alleen God se Koninkryk maak ryk.

2. Wie so die volkome lewensherstel vir homself soek, hoef homself dan ook nie bekommer oor sy lewensonderhoud nie.

Dit sal vir hom dan wel bygevoeg word, beloof Christus in ons teks.

Sal u nie aan daardie opvallende woordjie "bygevoeg" verby lees nie, gemeente? Kos, klere, 'n woning, geld.... dit alles kry ons ekstra wanneer ons allereers die Koninkryk van God en sy geregtigheid soek. Ekstra, want die eerste ding wat ons dan ontvang is mos die herstel van ons lewe, die verlossing van sonde, eiewysheid en selfgesentreerd wees. Ons word bevry van krampagtigheid en kommernis, gierigheid en afguns, ons word dankbaar en vol vertroue, rojaal en vrygewig. En dit is die meeste! Die Paradys kom in ons lewe terug. En die die ewige vreugde van die nuwe Paradys kom alreeds na ons toe.

Maar dan mag ons boonop nog daarop reken dat die HERE ook die aldaagse dinge wat vir ons lewensonderhoud nodig is, vir ons sal gee. Want ons Vader in die hemel weet dat ons al daardie dinge nodig het. Ons is nou maar eenmaal mense met 'n liggaam wat onderdak en onderhoud benodig. 'n Dak bo ons kop en kos in ons maag. Klere aan ons lyf.

Maar as ons met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en met al ons kragte ons beywer vir die glorie van sy Koninkryk, sal Hy wel daarvoor sorg dat ons in die eerste lewensbehoeftes nie kortkom nie.

"Kyk na die voëls van die hemel", sê Christus: hulle kwel hulleself nie oor kos en geld en so meer nie, maar vlieg en fluit vrolik tot eer van hul hemelse Skepper. Ons sien hulle hierdie weke druk in die weer met nessies bou en kleintjies grootmaak En ook sonder fabrieke, masjiene, winkels vind hulle sommer hul nesmateriaal en hul kos. Is ons nie baie meer werd as hulle nie? En wat van die blomme en bome? Hulle swoeg nie en is nie aanhoudend met klere besig nie en kyk hoe lyk hulle! In hierdie weke na die winter groei en bloei hulle in die wonderlikste kleureprag om die grootheid van hul Skepper te vertoon en die HERE Self sorg dan ook daarvoor dat hulle kàn groei en bloei. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en mòre gesny word, so beklee, hoeveel te meer vir ons, broeders en susters?

U dink ek kan dit maklik so sê, ek kry mos my lewensonderhoud wel van die kerk, maar u wat die harde werklikheid ken, weet van beter? Werk dit in die aldaagse praktyk nie so nie? U moet mos wel deeglik swoeg en suinig wees om u huisrente te kan betaal en u gesin bietjie ordentelik te kan laat lewe?

Maar die Here Jesus vra geloof, gemeente. En geloof is tog dat ons vertrou op iets wat ons nog nie dadelik kan sien nie?

"Kleingelowiges" noem die Here in vs. 30 sy dissipels. Of, beter vertaal: "julle wat maar weinig glo". Ons glo meestal maar so weinig, ons verwag dikwels so min van God se beloftes. Ons glo soms dat God eers na hierdie lewe alles vir ons reg sal maak. Maar Hy het tog beloof, alreeds by u doop (ons het dit vanmôre nog weer gehoor) dat Hy ons as sy geliefde kinders en erfgename van sy Koninkryk vandag al met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of ons ten beste wil keer! Hoekom glo ons dit nie?

Ons is vir Hom baie meer werd as die voëls en die blomme. En as Hy selfs sy Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons oorgegee het om sy Koninkryk te red en om ons as burgers van daardie Ryk terug te kry- as Hy self deur sy Heilige Gees die lewensherstel in ons bewerk, sal Hy dan geen lewensonderhoud vir ons gee nie?

Nee, Hy het ons nie oorvloed en 'n uitbundige materiële welvaart toegesê nie. Hy het ons daarop voorberei dat daar periodes van skaarste en armoede kan kom. Maar ook dan sorg Hy vir u! En Hy het u in die kerk nie net opgedra om op die lewensonderhoud van die leraar ag te gee nie, maar eweseer op die moeites in die daaglikse lewe van mekaar. Hy het selfs spesiale ampsdraers in die kerk laat aanstel om die onderlinge hulp in die daaglikse lewensonderhoud te reël en te stimuleer: die diakens.

Ons moet nie weinig-gelowers wees nie.

As ons sy Koninkryk en sy geregtigheid soek, ontvang ons baie beslis alles wat ons as lewensonderhoud nodig het.

Wie die heiliging van God se Naam, en die koms van sy Koninkryk en die gehoorsaamheid aan sy wil in sy gebed voorop plaas, mag maar daarby vra: "... en gee ons vandag ons daaglikse brood". En dan mag hy glo dat hy dit van God sal ontvang.

Wie in die trek van sy kruisie vir 'n nuwe regering God se Koninkryk en sy geregtigheid gesoek het omdat hy weet dat dit die eerste nood in Suid-Afrika is en bly, hoef hom geen dag oor môre te kwel nie.

Want dan sal môre wel vir homself sorg.

Nee, ons hemelse Vader sal ook môre wel sorg.

En daarmee kan ons vandag al ryk wees.

AMEN.

(Pretoria, 3 September 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)