Die verwerping van God se beloftes deur Ragel se rouklag

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 2: 17, 18

LITURGIE:
L. Gen. 35: 16-19 & Jer. 31: 1-17
Ps. 77: 4, 6
Ps. 77: 7
Ps. 30: 3, 4, 7, 8
Ps. 145: 10
Ps. 27: 4, 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

God se kinders hoef nooit sonder troos te wees nie. Die lewe hoef nooit troosteloos en hopeloos te wees nie- selfs nie in die mees ellendige omstandighede nie.

Hulle is tog kinders van die "God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking". In die grootste smarte bly nogtans hul harte op die HEER vertrou.

Hy het mos vir hulle gesê: "Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos".

Ja, ons ken in die kerk die enigste troos in lewe en in sterwe, broeders en susters, die enigste troos wat regtig teen alles bestand is, wat ons lewe lank uithou en nog in ons sterwe van krag bly. Ons mag onsself troos met 'n troos wat verder as dood en graf reik en wat ons leer uitsien na 'n nuwe wêreld waar alle trane van die oë afgevee sal word.

Maar, gemeente, hierdie troos is heeltemal 'n kwessie van geloof. 'n Kortsigtige mensenoog kry aan hierdie troos geen houvas nie. Want hierdie troos word uit God se beloftes geput. Beloftes oor wat nog geen oog gesien en geen oor gehoor het nie en wat in die hart van 'n mens ook nie kon opkom nie. Slegs die wat hom gelowig aan diè beloftes oorgee, ontvang 'n onuitspreeklike troos.

Dis ook hoekom nie elkeen vir hierdie troos ontvanklik is nie.

Dit is vir maar al te veel mense 'n troos wat te maer is, waarmee hulle nie vetroos wil wees nie.

Die troos van die God van alle vertroosting is vir hulle te ongrypbaar, gee vir hulle gevoel te min houvas. En so het deurentyd derduisende mense hierdie troos geweier- ook mense wat in die kerk gebore was.

Hierdie weiering is haas so oud as wat God se beloftes oud is. Altyd was daar teëstand teen God se troos.

Maar hierdie weiering het in die loop van God se geskiedenis wel steeds nuwe erns gekry. Die troos weiering het in die loop van die eeue na 'n hoogtepunt toe gegroei en het die mense toenemend troosteloser gemaak.

Ons kan dit so sê, mee op grond van ons teks uit Matt. 2. Hierdie Skrifwoord maak duidelik dat daar 'n groei in die weiering van God se beloftes was.

Want Matteüs gryp in ons teks terug op Jeremia se dae, maar in die teks wat Matteüs uit Jeremia se profesie aanhaal, gryp die HERE nog weer verder terug, op Jakob se dae. Vanaf Jakob se dae was daar 'n groei in die verwerping van die troos van die HERE. 'n Groei wat in Jesus se dae tot 'n vervulling gekom het.

Hierdie gevaarlike groei in die loop van die geskiedenis word vir ons in die Skrif tot ons waarskuwing aangewys. Om ons daartoe te dwing dat ons ons nog maar meer oorgee aan die enigste troos wat daar is in lewe en in sterwe, naamlik dat ons die eiendom van ons Saligmaker Jesus Christus mag wees.

Ek verkondig u daarom God se Woord vanmôre oor:

DIE VERWERPING VAN GOD SE BELOFTES DEUR RAGEL SE ROUKLAG

HIERDIE ROUKLAG IS

  1. IN JAKOB SE DAE GEUIT
  2. IN JEREMIA SE DAE HERHAAL
  3. IN JESUS SE DAE VERVUL

1. Daar klink in ons teks skielik 'n ou naam, gemeente: "Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie".

As Matteüs terugdink aan die troostelose gejammer in Betlehem nadat koning Herodes alle seuntjies van twee jaar of jonger laat doodmaak het, as hy weer die verbystering en verbittering van die ouers voor hom sien, kom via 'n herinnering aan 'n teks in Jeremia se profesië die persoon van die ou Ragel hom voor die gees.

En as ons dus die betekenis van ons teks mooi wil verstaan, sal ons eerste na Jakob se dae moet teruggaan. Ons sal moet nagaan wat die Bybel ons oor Ragel en haar destydse verdriet vertel, om te kan verstaan wat Matteüs ons oor die latere verdriet van daardie ouers in Betlehem wil duidelik maak.

As ons dit maar net menslik besien, was Ragel 'n tragiese vrou wat van die een teleurstelling in die ander geval het en op die ou end 'n triestige dood gesterf het.

Jakob se liefde vir haar was so diep dat Hy sewe jaar se werk daarvoor oorgehad het om haar as vrou te kry.

Maar toe die troudag gekom het, het vader Laban 'n gemene speletjie gespeel en Ragel se ouere suster Lea in Jakob se niksvermoedende arms geskuif. En vanaf daardie moment moes Ragel veg om die eerste plek in Jakob se lewe terug te wen. Ja, ook sy mog Jakob se vrou word, en sy was liggaamlik wel aantrekliker vir hom, hy het haar ook meer liefgehad as Lea... Maar Lea was vrugbaar en het seuns vir Jakob gebaar, terwyl sy kinderloos gebly het. En so het sy tog nog Lea se mindere gebly.

Dit duur baie lank voordat ook sy 'n seun ontvang. Maar daardie ene is vir haar natuurlik te min teenoor die grote aantal van Lea, sodat sy sê: "Mag die HERE vir my 'n ander seun daarby voeg!".

Maar wanneer daar dan die tweede seun kom, word dit Ragel se dood. Wanneer sy eindelik heeltemal aan haar mededinger gelykwaardig kan word, ontglip die lewe haar. Haar kraambed word haar sterfbed. En dan is Ragel nie meer te troos nie. Die troos van die vroedvrou: "Moenie bekommerd wees nie, want dit word 'n tweede seun vir jou" maak vir haar nie saak nie. Nee, verbitterd noem sy die kind wat haar dood word: "Ben-oni", wat "Ongelukskind" beteken. En sy sterf met 'n vloek op die lippe.

As die Bybel hierdie triestige lewensloop vertel, gemeente, word van ons geen medelye grvra nie. Ons sal juis moet insien dat Ragel in haar troostelose sterwe, wat sy nog ekstra benadruk het deur daardie verbitterde naamgewing "Ongelukskind", haar hele lèwenshouding vasgelê het en tot in haar dood deurgevoer.

Soos Ragel gesterf het so was haar lewe. In haar verbitterde sterwe het sy definitief tot uitdrukking gebring hoedat gedurende haar hele lewe in Jakob se tente haar houding was: egosentries en kortsigtig. Sy het net haar self gesoek. Sy het nooit verder gekyk as wat haar eie lewentjie lank was nie. God se troosvolle beloftes het binne haar horison nooit in sig gekom nie.

Haar huwelik het haar binne God se verbond gebring en mede- erfgenaam van God se beloftes gemaak. As Jakob se vrou mog sy moeder van God se volk word, saambou aan die toekoms van die kerk en God se seën in die wêreld indra!

Maar die weg van God se verbond is 'n weg van geloof- so was dit vanaf die eerste begin. Jy kan op hierdie weg alleen gaan as jy jou aan God se beloftes oorgee. God sny alle verwagting van menselike ywer en inspanning telkens weer weg en dwing jou om alles enkel en alleen van Hom te verwag. En dan kan Hy jou baie klein maak en op die proef stel. Hy wil jou gebruik, maar op sy tyd en op sy wyse. Dit het ouma Sara moet leer. En skoonma Rebekka daarna eweseer. As onvrugbare vrouwe het hulle aanvanklik heeltemal onbruikbare instrumente gelyk om aan die vervulling van God se beloftes saam te werk. En wat het die HERE hulle lank laat wag! Maar God het bewys dat Hy by magte is om op sy tyd dit wat dood is, lewend te maak. As Hy maar op sy Woord geglo word.

En so'n geloof ontdek ons nou juis nie in Ragel se lewe nie. Nie God se beloftes het Ragel se lewe vervul nie, maar maar net die begeerte om self te kan glorieer. Nie die verwondering oor wat sy in haar huwelik met Jakob ontvang het nie, maar die afguns oor wat sy in vergelyking met Lea gemis het, het haar heeltemal in beslag geneem.

Is dit nie die saak in diè onverkwiklike verhaal van die wedywer tussen Ragel en Lea om kinders te kry nie? U ken daardie geskiedenis. Daar is wel geprobeer, ook wel deur Gereformeerde teoloë, om tog iets verhewens aan hierdie stryd te gee: hulle het mos altwee kerkkinders gesoek in hulle hartstog na die moederskap. Het hulle nie hartstogtelik begeer om aan die toekoms van die kerk te mag saambou?

Maar soos die Bybel dit vir ons beskryf, met alle kleine besonderhede, sien ons geen geestelike stryd nie, maar net 'n louter vleeslike gebakly om die eerste in Jakob se lewe te kan wees. Ragel het vir haar eie plek gestry en wou nie op God se welbehae wag nie. Sy wou nie klein wees in die diens aan die HERE nie, maar groot wees in Jakob se lewe. Sy het kinders begeer om Lea te kan oortroef.

En juis daarom het sy hulle nie gekry nie! Sy het nie die vervulling van God se heilsplan gesoek nie, maar sy was maar net met haar eie lewensplan besig.

En sy sien dit dan ook misluk by die geboorte van "Ben-oni". Die vroedvrou sê: weer 'n seun!- en wat 'n groot troos beteken dit. Met hierdie seuntjie het die twaalftal van Jakob se seuns vol geword en het Ragel nog 'n belangrike bydrae aan die voortgang van God se werk mag lewer. Maar pleks dat daar by Ragel vreugde is oor die voortgang van God se werk, is daar maar net verdriet oor die afgang van haar eie lewe. Sy wil nie vertroos word nie. God se beloftes bly buite haar gesigsveld. Ragel sien nog slegs die dood. En bitter huil sy haar laaste trane.

2. En nou blaai ons in ons Bybel verder na Jeremia 31. Want hierdie Ragel word deur die HERE in die herinnering teruggeroep in Jeremia se dae. Dis die dae waarin die Babiloniese gevangenskap begin. Israël het in daardie dae weer soos in Jakos se sae geword: onbeduidend en onaansienlik in die destydse wêreld. Jerusalem, wat wyd en syd bekend gestaan het as die mooiste stad op aarde, het in 'n swartgebrande ruïne verander, 'n groot puinhoop. Die grootste gedeelte van die 10 stamme is jare gelede al in gevangenskap deur Assyrie weggevoer- en nou gaan die res daar agteraan, Babel toe, 'n beklaenswaardige klompie mense, uitgeput deur 'n langdurige beleëring.

Maar Israël se houding het ook weer geword soos in Jakob se dae: dit is die ongeloofshouding van Ragel, wat nie vertroos wou word nie en geen oog vir God se beloftes gehad het nie.

Die HERE hoor hulle kla te Rama, rouklag en bitter geween. Jeremia 40: 1 leer vir ons dat die troepe uit Babel by die dorpie Rama, op die vroeëre grens tussen die ryk van die 10 stamme en die ryk van die 2 stamme, 'n tydelike konsentrasiekamp ingerig het. Vandaaruit sou die ballinge Babel toe gebring word.

Die mense wat daar by mekaar gedrywe is, is troosteloos. Vir hulle gevoel is dit klaar met hulle. Israël, Juda, Jerusalem- alles weggevee van die kaart. Die eertyds roemrugte ryk van koning Dawid tot die laaste steen toe afgebreek, die volk van Jakob weldra in 'n vreemde land deur 'n vreemde volk opgesluk.

Nou verdwyn nie Ràgel nie, maar ook al Ragel se kìnders in die graf! Die ellende is nog baie groter as toe Ragel gesterf het. Nou bly daar selfs van haar kinders niks meer oor nie.

Dis een en al wanhoop, daar in die kamp Rama.

Maar die ergste is dat hulle nie vir mekaar sê nie: "Wat klaag ons feitlik? Laat elkeen kla oor sy sondes!" Daar geen mens wat daaroor kla en huil dat hy maar net homself gesoek het pleks van die HERE en sy verbond nie. Hulle is daar in Rama nog so besig met hulleself en met hulle afgang, dat hulle nie 'n oor het vir die beloftes van die voortgang van God se werk, ook dwars deur die gevangenskap wat voorlê heen.

Dit is vir God nie die einde nie. Hy kom en vertel sy volk: "Daar kom dae dat Ek die lot van my volk Israël en Juda sal verander. En Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het. Hoor die Woord van die HERE: Hy wat Israël verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos 'n herder sy kudde".

Hierdie hoofstukke by Jeremia is mos een lange reeks van trooswoorde vir God se ellendige volkie, beloftes oor 'n nuwe, betere toekoms. "Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane", sê die HERE. "Daar is mos verwagting vir jou nakomelinge; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied".

Maar Israël is doof vir daardie woorde. Die ballinge sien agter die horison geen nuwe toekoms meer blink nie.

En dis hoekom Israël vir die HERE presies soos die sterwende Ragel van destyds is. Ontoeganklik vir troos. Hulle is maar net egosentries en kortsigtig met hulleself en hulle verdriet besig. En daar is nie 'n mens wat boontoe kyk nie. Terwyl daar sulke wonderlike beloftes van God lê.....

Verstaan u, broeders en susters, dat die naam Ragel waarmee die HERE sy volk in Jeremia se dae benoem, 'n verwyt, ja, 'n veroordeling inhou? 'n Verwyt oor kleingeloof en ongeloof noudat hulle blind bly vir sy troos.

Maar die ongeloof in Jeremia se dae was nog erger as dit van Ragel self in Jakob se dae. Want God het inmiddels in die verbond met Jakob se nageslag al 'n lank pad geloop. 'n Weg waarop die krag van sy beloftes op 'n indrukwekkende wyse sigbaar geword het. God het bewys wat Hy en sy Woord werd is!. Jakob het, ooreenkomstig die beloftes, tot 'n groot volk uitgegroei. So groot, dat Jerusalem internasionaal aantrekkingskrag gehad het. Hulle het ervaar dat die wat op God vertrou nie beskaamd word nie.

En dit was enkel en alleen aan hulle eie ontrou en eiewysheid te danke dat dit so'n puinhoop geword het. Maar selfs daarin het die krag van God se Woord nog geblyk. Want ook dit het God mos vantevore gesê: as hulle in hul ontrou en ligsinnigheid sou volhard sou Hy self 'n puinhoop van Jerusalem maak.

Hulle kon nou uit ondervinding die waarde van God se Woord weet.

Dit moes dus wel 'n baie hardnekkige ongeloof wees, dat hulle nou nog altyd bly weier het om God se Woord tot hulle troos te aanvaar.

3. Die HERE het Hom deur daardie ongeloof in Jeremia se dae nie daarvan laat weerhou nie, broeders en susters, om tog aan sy beloftes van te hou. God laat homself nie deur troostelose mense ontmoedig nie.

Inteendeel, Hy lees hulle die les: "Bedweing jou stem van geween en jou oë van trane!". Want daar is troos, al wil jy dit ook nie glo nie. God gaan tog aan met sy werk. Sy beloftes word heerlik vervul.

Hulle is heerlik vervul, al daardie mooie beloftes uit Jeremia se profesieë. God het sy volk uit die gevangenskap in Babel laat terugkeer. En Hy het vir hulle daarna selfs 'n nuwe Dawid gegee (Kyk hoofstuk 30: 9), 'n Koning wat sy eie lewe sal opoffer om die skuld van sy volk te vereffen en die ewige vreugde vir sy volk te verdien.

Van sy koms mag die evangelis Matteüs vertel. Hy het die nuwe troosvolle toekoms vir Israël sien aanbreek. Want in Betlehem, die stad van Dawid, is 'n nuwe seun van Dawid gebore, wat 'n Herder vir sy volk sal wees. Deur Hom sal God eindelik regtig die lot van sy volk verander, want hierdie Koning sal sy volk van hulle sòndes verlos.

God se eie Seun het in die wêreld ingekom as 'n seun van Dawid om die hoop vir die toekoms vir altyd te waarborg en die trane van God se volk definitief van die oë af te vee.

Matteüs het al God se beloftes werklikheid sien word in die kind wat in Betlehem gebore is. Dit was reg wat God al deur middel van Jeremia gesê het: "Bedwing jou oë van trane want daar is verwagting".

Maar dis hoekom Matteüs ook verstaan het dat daar geen enkele troos meer oorbly nie as daar nou nog altyd mense is wat nie deur God vertroos wil word nie. Noudat God se beloftes tot volheid gekom het in die koms van Jesus Christus, kom ook die weiering om jou te laat vertroos tot volheid.

Matteus moet ons die verskriklike verhaal vertel van die moord deur koning Herodes se soldate van 'n hele aantal klein seuntjies, babas nog, in Betlehem. Om die nuwe Dawidsseun, sy mededinger, te vermoor, het Herodes geen risiko geneem nie. Alle seuntjies van twee jaar en daaronder moes omgebring word. Vreeslik!

Maar Matteüs moet vir ons vertel dat hierdie wrede en sinlose moord nog nie eers die vresslikste was nie. Want hy vertel direk na sy sobere mededeling van die kindermoord in Betlehem: "Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is te Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie".

Blykbaar is daar in Betlehem wanhopig gehuil om die verlies van al daardie klein kindertjies - en wie van ons sou dit nie kan verstaan nie? Dit is mos vreeslik as jy op so'n wyse jou kind moet verloor!

Maar... hulle verdriet was weer net soos by Ragel en by die Israëliete wat Babel toe moes gaan: kortsigtig en opstandig, ja, verbitterd. Hulle het hulle oë en hulle ore toegesluit vir die troos wat daar terselfdertyd ook vir hulle was. Die verdriet oor die verlies in hulle eie gesinne het hulle ontoeganklik gemaak vir die vreugde oor die wins vir God se hele volk. En juis hulle in Betlehem kon van diè wins weet! Het daar nie 'n leër van engele by Betlehem gesing nie? Het daar nie herders in Betlehem rondgebasuin dat nou die Saligmaker gebore is wat Christus, die Here is nie? Sodat daar 'n groot blydskap vir die hele volk sou wees nie? En wat van die magiërs uit die Ooste, wat deur 'n eienaardige sterverskynsel gelei na Betlehem toe gekom het om daar die Koning van die Jode te soek? En hulle het Hom daar ook gevind! Die inwoners van Betlehem het dit alles geweet, broeders en susters. Dit alles het nie aan hulle verby gegaan nie.

Maar as die moordenaarshand in hul rustige stadjie toeslaan, hou hulle nog maar net 'n oog vir hulle self en vir hulle smart. Hulle kan daardie Koningskind, daardie Jesus van Josef en Maria, nog slegs verwens. Want dis mos alles sy skuld! As Hy nie in Betlehem gebore was nie- Herodes sou weggebly het. Hulle seuntjies sou nog geleef het.

Ek weet, broeders en susters, dit moet baie moeilik vir Betlehem se bevolking gewees het. So veel grafte van nog so kleine kinders.

Dit wàs nie maklik om te verstaan nie. Dalk het hulle eers ook wel hulle verheug op die geboorte van die Christus in hul stad. En dan het hulle natuurlik hoë verwagtings gehad: nou kom die verlossing! Nou kom daar vrede op aarde, soos die engele gesing het.

Maar dan kom daar pleks van vrede en verlossing die moordende swaard van die vyand......

Maar Betlehem se inwoners kon en moes geweet het dat die verlossing en die vrede deur hul nuwe Koning in 'n sware stryd verower moes word. Want niemand minder as die duiwel en sy ryk moet verja word. Omdat ons mense self die duiwel in hierdie wêreld binnegehaal het en ons vrywillig aan hom oorgegee het.

Dit is ons eie skuld dat die vrede nie vanself kom nie. Ons Verlosser sal moet veg vir ons vryheid. Want die Bose gee nie sommer dadelik pad nie.

En ja, daar waar die bevrydingsoffensief ingesit word, val nou maar eenmaal die eerste en dikwels ook die meeste slagoffers.

Die Verlosser sal Homself in hierdie stryd moet offer om die oorwinning te behaal.

Kyk, dit moes die bewoners van Betlehem geweet het. Hulle kon dit geweet het, uit God se beloftes wat sedert Jeremia se dae toenemend duideliker geword het.

Maar hulle het nie verder as hulle eie verdriet gekyk nie. Hulle het by die ondergang van hulle geluk gestaan en van die voortgang van God se werk niks verstaan nie.

En daarin herken Matteüs die ou sonde wat daar by Ragel al was.

Maar hy besef terselfdertyd, en hy skryf dit vir ons as 'n waarskuwing, dat daardie ou sonde met nuwe krag terugkeer. Die weiering om jou te laat troos word nou vervul, skryf Matteüs.

Hy bedoel: die ongeloofshouding daar in Betlehem is baie erger as Ragel se kortsigtige verdriet destyds; en ook erger as die kortsigtige moedeloosheid van die ballinge wat Babel toe moes gaan.

In Betlehem is nie meer die beloftes van troos afgewys nie. Maar die Trooster in eie Persoon is in ongeloof geweier. En die wat nou weier, weier alles! En hy weier vir goed!

Want God het na die geskenk van sy Seun geen nuwe troos meer nie. Wie nou nog nie vertroos wil word nie, ontvang in ewigheid geen troos meer.

Diè waarskuwing betref dus ook ons vandag, gemeente.

Die God van alle vertroosting het maar een troos: Jesus Christus, sy Seun. Wat inmiddels sy stryd gestry het en die oorwinning behaal. Die vrede verdien.

Nee, vir ons is die stryd nog nie verby nie. Ons moet as die fronttroepe van sy Koninkryk daaraan saamhelp dat ook die laaste verset van die duiwel gebreek word. Dit vra vandag nog offers. En daar val nog slagoffers. Ons moet nog grafte delf. En daar vloei nog trane.

Maar daar is terselfdertyd 'n groot troos. Die enigste troos in lewe en in sterwe. Die verlossing word eendag 'n feit, danksy die kind van Betlehem.

Sonder Hom is die lewe sonder uitsig, troosteloos. Die wat nie verder as totaan die horison van sy eie lewentjie kan kyk nie, is die beklaenswaardigste van alle mense. Diè raak sy trane in ewigheid nie meer kwyt nie, die hou op die ou end enkel nog geween en gekners van tande oor.

Maar wie in Jesus Christus God se bevrydingsoffensief gesien het, kan selfs in die grootste ellende die hoof gehewe hou en vol verwagting uitsien na die dag waarop ook God se belofte van vrede vervul word en Hy self die trane van die oë afvee.

AMEN

(Pretoria, 8 Januarie 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)