In Christus kry God eindelik sy kind uit Egipte

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 2: 13-15

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 81: 1
Voor die Wet: Ps. 81: 9, 11
Na die Wet Ps. 81: 13, 14, 15
L. Hosea 9: 1-7a & Hosea 11: 1-11
Gebed
Kollekte
Ps. 106: 3, 10, 11, 18, 19
Prediking
Ps. 85: 3
Gebed
Ps. 107: 1, 21

Gemeente van ons Here Jesus,

Elke Sondagoggend wanneer die HERE se verbondswet aan u voorhou word, laat die dominee die HERE vir u sê: "Ek is die HERE, jou God, wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het".

Is dit nie eintlik snaaks nie?

Want wie van u was al ooit in Egipte?

En as u daar al 'n keer was, was dit in elk geval nie as 'n slaaf nie. Waarskynlik was dit vir 'n vakansie, of 'n besoek in verband met u werk.

Daardie eerste woorde van die Wet, daardie inleiding, het gegeld vir die volk Israel in die Ou verbond. Maar so kan ons tog eintlik die Nieu-Testamentiese volk van God nie meer aanspreek nie? Waarom maak ons dan tog elke Sondagoggend nog so?

Hoekom laat die dominee die HERE vandag nie sê: "Ek is die HERE jou God wat jou in Christus uit die slawerny van die duíwel en die sónde verlos het" nie?

God het mos die verlossing uit die slawerny van Egipte overtref deur die verlossing uit die slawerny van die sonde in Christus?

Wanneer daar nogtans nog elke Sondagoggend in ons eredienste gepraat word van die bevryding uit die slawehuis Egipte, is dit omdat ons verlossing deur Christus heei direk in verband staan met die uittog uit Egipte.

In so'n direkte verband dat ons Here Jesus Christus, om ons uit die slawehuis van die sonde te kan uithaal, self heel letterlik na die slawehuis Egipte toe moes teruggaan.

Dit lees ons mos in die teks uit Mattheüs wat ons vanoggend opgeslaan het.

Kom ons luister na wat God ons in hierdie Skrifgedeelte leer.

Ek het die boodskap soos volg saamgevat:

IN CHRISTUS KRY GOD EINDELIK SY KIND UIT EGIPTE

  1. ISRAEL HET DIE UITREDDING UIT DIE SLAWEHUIS VERSPEEL
  2. DAAROM HET GOD DIE VERNEDERING VAN SY SEUN IN DIE SLAWEHUIS BEVEEL
  3. SODAT ONS IN CHRISTUS SE OORWINNING OP DIE SLAWEHUIS SOU KON DEEL.

1. 'n Paar weke terug is ons teks uit Matth 2 met sy aanhaling uit Hosea 11 in die bekende radioprogram "Wat sê die Bybel? " bespreek.

Soms gee die professore wat in hierdie program vrae van luisteraars mbt die Bybel beantwoord, interessante en leersame toeligting by allerhande Skrifgedeeltes.

Maar hoe gevaarlik hierdie program ook kan wees het daardie keer geblyk toe Matth 2 bespreek is. Onder aanvoering van Prof Fika van Rensburg het die professore naamlik beweer dat ons teks in Matth 2 'n duidelike voorbeeld is hoe die skrywers van die Nuwe Testament meestal op 'n baie vrye manier gedeeltes uit die Ou Testament aangehaal en in hulle betoog ingepas het. Dikwels is 'n woord uit die Ou Testament maar net op die klank af aangehaal.

Kyk maar na Matt 2: 13-15, sê hulle.

Mattheüs verwys daar na Hosea 11 as hy besig om te vertel hoedat God se Seun, ons Here Jesus Christus na Egipte moes gaan en later deur God uit Egipte teruggeroep is. Daar staan mos in Hosea 11: "Uit Egipte het Ek my seun geroep".

Ja, maar as ons Hosea 11: 1 opslaan, blyk dit dat Hosea daar glad nie van die toekomstige Christus praat nie, maar van God se verbondsvolk Israel. God noem daardie volk sy seun, sy kind. Soos Hy dit reeds in Moses se dae gedoen het. Toe moes Moses mos reeds vir die farao van Egipte sê: "Israel is my eersgebore seun".

Terwyl dit in Hosea 11 dus oor Israel gaan, en in Matth 2 oor die Here Jesus, maak Mattheüs nogtans vrymoedig gebruik van Hosea 11: 1. Dit wys jou hoe vry die Nieu-Testamentiese skrywers met die Ou Testament omgespring het! 'n Mens sou daarom sommer twee keer oor daardie woorde "Uit Egipte het Ek my Seun geroep" kon preek, het die professore in hul radioprogram gesê: eers uit Hosea 11 en vervolgens uit Matth 2. En dan sou dit twee totaal verskillende preke, met 'n totaal verskillende boodskap oplewer!

U sal seker verstaan hoekom ek van 'n gevaarlike radioprogram gepraat het, broeders en susters. Want as dit wat hierdie professore beweer het, waar sou wees, is daar nie eintlik meer sprake van 'n vervulling van die Ou Testament in die Nuwe Testament nie. Dan verloor die aanduiding wat Mattheüs telkens in sy Evangelie gee dat 'n Skrifwoord deur Christus tot vervulling gekom of begin kom het, eintlik sy betekenis. Dan word die direkte band tussen die Nuwe en die Ou Testament deurgesny.

Maar hoe kon Mattheüs Hosea 11: 1 dan sommer op ons Here Jesus Christus toepas?

Hoe kon hy sê dat 'n teks wat oor God se seun Israel gaan, deur God se Seun Jesus tot vervulling kon kom?

Laat ons Hosea 11 maar 'n slag rustig saam lees. Nie net die eerste vers nie, maar die hele verband waarin hierdie vers staan. Want as in die Nuwe Testament 'n teks uit die Ou Testament aangehaal word, word met daardie een vers altyd die hele konteks in herinnering geroep.

Die HERE praat in Hosea 1: 1 inderdaad oor sy verbondsvolk Israel. Die volkie wat Hy soos 'n oudste seun liefgehad het. Wat 'n spesiale plekkie in sy hart ingeneem het.

Die HERE herinner in Hosea 11 daaraan hoedat Hy hierdie Kind van Hom eendag uit Egipteland, uit die slawehuis geroep het. Maar hierdie herinnering is hier nie 'n saaklike mededeling nie. Hierdie woorde klink in die verband waarin hulle staan as 'n bittere klag!

Hier kla 'n Vader sy nood omdat Hy sy liefste kind sy rug op Hom sien draai het.

God het Israel eendag uit Egipte uit weggehaal om hierdie volk soos 'n kind vir Hom alleen te kan hê. Om self alle liefde van hierdie kind te kan geniet. Die farao van Egipte het lank genoeg God se eersgebore seun die wet voorgeskryf, uitgebuit en verneder. Voortaan sal Israel weer van God se liefde mag lewe.

Vol liefde en geduld het die HERE sy klein en nog afhanklike seuntjie aan sy hand saamgeneem uit Egipte uit, na die beloofde land toe.

Vs 3: "Ek self het Efraim leer loop". En as hulle moeg geword het, het Hy hulle op sy sterk vaderarms getel en gedra. God het alles gedoen om sy volk by Hom gelukkig te laat voel. Vs 4: "Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek........ Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee".

Maar ten spyte van soveel liefde aan God se kant was daar geen wederliefde by Israel nie. Dit is die groot en smartelike klag wat uit die mond van die HERE in Hosea 11 opklink.

Alle pogings om die liefde van hierdie seun te win, was tevergeefs. Israel het hom as 'n selfsugtige en kortsigtige kind ontpop. Israel het God se sorg en liefde verag en sy plesiertjies in die wêreld buite God gaan soek. En alle pogings van God om sy seun te waarsku en na Hom toe terug te roep, het niks gehelp nie.

Maar die HERE is nie 'n Vader wat die liefdelose gedrag van sy kind slegs gelate moet aansien nie. Inteendeel, sy geduld het 'n grens en sy liefde kan in 'n gevaarlike toorn omslaan.

Kyk maar die vervolg van Hosea 11: in vs 5 laat die HERE weet dat sy hardkoppige en liefdelose seun na Egipte sal terugkeer. Ons vertaling, sowel die Ou as die Nuwe Afrikaanse Vertaling lees vs 5 so dat die HERE sê dat Israel nie na Egipte sal terugkeer nie. Maar daardie vertaling kan nie reg wees nie. Ons moet vs 5 as 'n retoriese vraag lees: "Sal hy nie na Egipte toe terugkeer nie? Ja, Assur- die sal sy koning wees, omdat hulle geweier het om hulle te bekeer".

Die dreiging dat Israel vir straf na Egipte sal moet terugkeer het die HERE naamlik al meermale in hierdie hoofstukke laat hoor: Kyk 8: 13 slot: "Hulle sal teruggaan na Egipte". En 9: 3, ons het dit al gelees: "Hulle sal nie in die land van die HERE bly nie; maar Efraim sal na Egipte teruggaan en in Assur sal hulle eet wat onrein is". En weereens 9: 6: "Want kyk, hulle gaan heen..... Egipte sal hulle versamel".

Noudat Israel eeuelank geweier het om in liefde met die HERE te lewe, gaan God sy volk verstrooi. Assur sal 'n deel van die volk kom wegvoer. Maar daar sal ook 'n deel in Egipte teregkom. God maak die uittog uit Egipte weer ongedaan. Hulle keer terug na die slawehuis. Hulle kry waarvoor hulle self gevra het.

Israel het mos self Egipte weer begin opsoek deur politieke bondgenootskappe met daardie land en met Assur te sluit pleks van op die HERE se hulp te vertrou.

Moet maar kyk Hosea 7: 11: "So het Efraim dan geword soos onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur". U lees dit ook in 12: 2: "hulle sluit 'n verbond met Assur terwyl olie (as 'n relasiegeskenk) na Egipte gevoer word".

As dit dan so is dat God se volk self sy uitredding uit Egipte weer verspeel en ongedaan maak, sal dit ook hulle straf word. Die lande waarvan die HERE hulle vroeër verlos het maar waarmee hulle nou vriendskapsbande wil aanknoop, sal kom, hulle oorweldig en in ballingskap voer. En dan sal God se seun in Egipte terugwees.

Die beginwoorde van Hosea 11: "Uit Egipte het Ek my seun geroep" klink dus as 'n klag, 'n aanklag wat uitloop op die aankondiging van die ballingskap.

2. Wanneer Mattheüs in die tweede hoofstuk van sy Evangeliebeskrywing vertel hoe Christus deur koning Herodes se moordplanne gedwing word om Egipte toe te vlug, het daardie ballingskap inmiddels gekom, broeders en susters. En dit duur steeds voort, eeue lank al.

Ja, daar woon weer Jode in Kanaän. 'n Res het na die beloofde land mog terugkeer danksy koning Kores se toestemming om die tempel te herbou.

Maar die meeste Israeliete woon steeds in die verstrooiing. Veral in Egipte is daar groot Joodse kolonies. Terug by die vleispotte van Egipte. Maar ook terug in die slawehuis. God se kind het weer slaaf geword.

Maar dit kon vir die HERE nie die einde van die saak wees nie. Hy moes vir straf sy seun wat Hy eendag uit Egipte geroep het, na Egipte terugstuur. Maar Hy kon hierdie kind wat Hy nog steeds liefhet, nie vir goed uit sy hart verban nie. Hy is bereid om tot die uiterste te gaan om sy kind opnuut uit Egipte uit te kry en tot 'n nuwe liefde vir Hom te beweeg.

Ook dit lees ons al in Hosea se profesieë. In dieselfde hoofstuk 11. Vs 8: "Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adama, jou gelykstel met Seboïm? (die stede wat saam met Sodom en Gomorra onderstebo gekeer en vir ewig verwoes is) My hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelye opgewek. Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie. Want Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie. "

En dan vs 11: "Hulle sal sidderende aankom soos 'n voëltjie uit Egipte en soos 'n duif uit die land Assur. En Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE".

God se liefde is te sterk. Sy volk kan nie 'n slaaf in Egipte bly nie. Sy volk moet weer kind by Hom wees. Al moet God daarvoor ook alles opoffer.

Ja, al moes God daarvoor ook sy egte, Eniggebore Seun opoffer.

Want nou gaan ons iets daarvan verstaan hoekom Mattheüs na Hosea 11 verwys wanneer Hy ons vertel hoedat 'n engel van God Josef en Maria met die kleine Jesus Egipte toe stuur.

Christus is skaars gebore of Hy word óók deur God na die slawehuis gestuur. In die ballingskap in. Hy moet dieselfde weg gaan as wat God se volk vir straf moes gaan.

Want Jesus se reis na Egipte was nie 'n plesierreis nie. Dit was 'n smadelike vlug om aan die moordsugtige Herodes te ontkom. En Josef mog nie eers self kies waarheen hy wou vlug nie. Daar was 'n vlugland vlakby: die Nabatese ryk oorkant die Jordaan. Die pad na Egipte toe was baie langer en moeisamer. Nogtans dryf die engel van God die kleine Jesus met sy moeder onder die hoede van Josef daardie weg op: Egipte toe.

Dis ook hoekom God se engel eers kom nadat die Oosterse magiërs wat Jesus in Betlehem kom aanbid het, weer huistoe gereis het. As dit kom by die beste vlugmoontlikheid, sou ons dink: die engel het net te laat gekom. Daardie magiërs kom Josef en maria en hul baba mooi saamgeneem en 'n ruk by hulle gehou het. Dan was hulle in elk geval in goeie hande.

Maar die HERE wou dit nie so nie. Hul geskenke wou Hy gebruik. Die goud, wierook en mirre was vir Josef 'n welkome hulpmiddel om die reis en die verblyf in Egipte te kan bekostig. Maar dit was ook die enigste hulp wat die magiërs mog bied.

Jesus mag nie met hulle saam na die Ooste nie. Hy moet na die Suid-Weste, die pad deur die woestyn, terug na die slawehuis. En daar moet Hy deel in die vernedering van God se volk wat al so lank duur.

In apokriefe boeke lees ons allerhande fantastiese verhale oor Jesus se jeugjare in Egipte. Met beelde van wuiwende palme en vrolike speletjies skep hulle die indruk dat die verblyf in Egipte een lank en heerlike vakansie was.

Inderwaarheid was dit egter die begin van 'n weg van vernedering wat op die kruisdood sou uitloop.

Want dié weg het die HERE gevind om sy kind uit Egipte te kry, om sy volk vir altyd by Hom terug te kry: sy Seun Jesus sal in die plek van sy volk die straf op die sonde dra. Hy sal die ellende wat God se volk hom deur eie skuld op die hals gehaal het, op sy skouers laai. Hy sal die hele pad van vernedering in almal se plek loop, die pad van God af vandaan tot in die godverlatenheid van die hel. Maar ook die pad wat deur die diepte heen na God toe teruglei.

Met daardie doel is Christus reeds as baba deur sy Vader in die hemel na die slawehuis Egipte gestuur, heel letterlik, om vir ons almal die weg uit die slawehuis na God terug te baan. God het as 't ware weer van heel vooraf begin: in Egipte. Met sy seun in die vernedering van slawerny. Maar hierdie keer sou dit nie weer 'n fiasko word nie. Want hierdie keer sou die een Seun vir al God se ander kinders God alle liefde gee wat Hy soek. So'n liefde dat Hy ook alle liefdeloosheid uit die verlede in een keer versoen. En hierdie spesiale Seun sou die mag van die sonde in die lewe van al God se ander kinders breek, hulle uit die slawehuis van die sonde uithaal en by God terugbring.

En so kry God in Christus eindelik regtig sy kind uit Egipte. Terug by Hom in 'n lewe vol liefde vir Hom.

Verstaan u nou waarom Mattheüs in vs 15 na daardie opvallende klag van Hosea 11 verwys, gemeente?

Op die eerste gesig lyk dit dalk asof Mattheüs effens te vroeg met sy aanhaling kom. Moet hierdie woorde nie eers na vs 20 kom nie? Eers dan roep God sy Seun Jesus, en in Hom sy hele volk, tog uit Egipte?

Mattheüs het egter opsetlik al na Hosea 11 verwys by Christus se vertrek na Egipte om duidelik te maak dat daardie smadelik aftog na Egipte deur Christus nodig was om 'n nuwe uittog uit die slawehuis vir God se hele volk moontlik te maak.

Hierdie aanhaling is glad nie lukraak en op die klank af nie. Maar gelei deur die Gees van God mag Mattheüs trefseker aanwys hoe die weg van verlossing wat God in die Ou Testament deur sy profeet al in kaart gebring is, deur God se eie Seun Christus gegaan en gebaan word.

3. Christus het daardie verlossingsweg uit die slawehuis uit gebaan vir u en vir my, broeders en susters. Dit is die Evangelie wat in ons teksverse opklink.

Toe Hy eers na Egipte toe, maar vervolgens ook weer uit Egipte uit en toe deur Getsemané en oor Golgota heen vir God se volk die slawerny aan die sonde vir goed gebreek het, het Hy aan u en aan my en aan almal wat in Hom glo die vryheid teruggegee om weer as kind van God te mag lewe. Ons mag met Christus die slawehuis vir goed agter ons laat en ons weer koester in Vader se liefde.

Maar weer-kind-van-Vader-wees, dit is nou ook alleen moontlik deur Christus. As ons in alles Hom vashou. As ons vol skaamte erken dat ons in onsself steeds geneig bly om selfsugtig en kortsigtig Vader se hand los te laat en ons eie koers te kies.

Los van Christus is ons sommer terug in die slawehuis. Eers as sy Gees ons lei, leer ons hoe goed die lewe met God is en hoe dodelik die lewe buite Hom. Eers as Christus se Gees ons lei, leer ons hoe groot God se liefde vir ons was: so groot dat Hy niemand minder as sy eie Eniggebore Seun uit die hemel in ons plek die slawehuis ingestuur het om ons daaruit weg te haal.

Of u regtig nou in alles Christus vashou en deur sy Heilige Gees weer as 'n kind van ons hemelse Vader wil lewe, kan uself en kan almal sommer in u lewe agterkom, broeders en susters. Immers, met watter doel wou God ons terug hê uit die slawehuis in 'n lewe met Hom? Moses moes dit destyds al vir die Egiptiese farao sê: "Laat my seun gaan sodat Hy My kan dien".

God het deurentyd die liefde en die gehoorsaamheid en die toewyding van ons lewe aan Hom gesoek. Vir dié doel het Hy sy Seun Christus gestuur om ons na Hom toe terug te bring. Aan dié doel werk Christus nog aanhoudend in u en my lewe.

En as dit by u besig is om weer te groei: die liefde en gehoorsaamheid en toewyding van u lewe aan Vader in die hemel, is dit dus die beste bewyse dat die mag van die sonde in u lewe regtig gebreek is. Dat u nie langer 'n slaaf is nie, maar weer Vader se kind.

Maar andersom: as u nog steeds liewer u eie kop volg pleks van u deur God se gebooie te laat lei, as u nog altyd meer vir uself lewe as vir u Vader in die hemel, as u hart, as julle hart, jongmense, meer na die bedrieglike vryheid van die wêreld buite God trek as na die egte vryheid van die lewe by God, besef dan op watter gevaarlike pad u u bevind: die pad terug na die slawehuis.

En daardie pad is 'n doodloopstraat. Want die wat Hom nie deur Christus by die Vader wil laat weerbring nie, vind die Vader nooit meer nie. En buiten Vader se liefde heers slegs die dood.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)