Heidene bring die eerste huldebetoon aan die Lig van die wêreld

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 2
Preek Inhoud: 

Ps. 72: 1, 2, 6, 7
Ps. 72: 8, 9, 10, 11
SB. 2
ERE AAN GOD.
Lees: Matteus 2: 1 - 12
Teks: Matteus 2: 2, 5, 11

Broeders en susters, geliefdes in die Here Jesus Christus,

Vandag mag ons saam die Kersfees vier. Dit is elke jaar weer rede tot groot vreugde. En daarom maak ons elke jaar iets daarvan. Ons hou 'n feestelike sang- en musiekaand. Ons bring hier en daar 'n Kersversiering aan. Ons hou 'n ekstra feestelike maaltyd. Ons gee 'n kerspresent vir 'n ander ens. Dit is alles maniere om almal feestelik te laat voel. Want ons het darem iets om te vier. Nie minder as die geboortedag van die Here Jesus nie. Dit is een van die grootste heilsfeite uit die geskiedenis van die hemel en die aarde, dat God Sy Seun na hierdie wêreld gebring het. Duisende jare is na Sy geboorte uitgesien. Vanaf Eva se eerste bevalling was daar die spanning: Sal hierdie dalk die Seun van die Belofte wees?

Die belofte van die koms van die Verlosser het die volk Israel in die swartste tye in lewe gehou. Die profesieë oor die koms van die Messias is deur die Jode steeds weer uitgespel. In hul daaglikse gebede is die beloofde Seun van Dawid steeds genoem.

Daarom kan ons ons voorstel, dat die berig dat die Messias gebore is, groot opskudding verwek het. Jerusalem is die stad van die Skrifgeleerdes, die stad waar die godsdienstige sentrum van die Jode is.

Maar nou kom die groot teleurstelling van ons verhaal.

Jerusalem word eerste op hoogte gestel van die geboorte van die Messias. Hulle het al die kennis in huis om presies te kan bepaal wat hulle nou moet doen, maar hulle doen niks nie. Die gevestigde kerk weier om hulde te betoon aan die gebore Messias. Hulle weier in elk geval om 'n berig uit die mond van heidene ernstig te neem.

Die Messias is eintlik al deur die Jode verwerp as Hy nog maar skaars gebore is.

Maar God wil dat Sy gebore Seun hulde gebring moet word. As Israel hulde betoon weier, dan roep Hy heidene om die gebore Kind gepaste eer te betoon. Want Hy het wel gekom in nederigheid, maar Hy is die lig van die wêreld.

Ons tema vir die evangelie verkondiging is:

HEIDENE BRING DIE EERSTE HULDEBETOON AAN DIE LIG VAN DIE WÊRELD.

  1. God trek hulle in Sy liefde.
  2. God lei hulle deur Sy Woord.
  3. God bring hulle by Sy Seun.

Hoe het heidense wyse manne op die gedagte gekom om so 'n ver reis te onderneem? Die antwoord is nogal duidelik. Hulle gee dit self: Die Koning van die Jode is gebore. Want ons het Sy ster in die Ooste gesien. Ons het gekom om Hom hulde te bewys.

Gemeente, as ons dit lees is ons geneig om onmiddellik allerhande kritiese vrae te vra. Hoe kan dit nou? Hoe kan jy uit die opkom van 'n ster nou so 'n gevolgtrekking maak: Die Koning van die Jode is gebore!?

Die Bybel is mos 'n groot teenstander van raadpleging van sterre, om daaruit toekomsvoorspellings te doen? Astrologie - sterrewiggelary is mos vir kinders van God, streng verbode gebied?

Maar kom ons laat ons kritiese vrae nog 'n bietjie rus.

Laat ons vasstel dat ons in hierdie manne te doen het met astroloë wat heilig in hul eie wetenskap glo. Hulle het onlangs 'n nuwe ster sien opkom. Dit is ongetwyfeld 'n feit.

En van daardie feit gee hulle 'n eie interpretasie. Objektief gesien, 'n dwase interpretasie natuurlik. Dit is 'n groot dwaasheid van hierdie heidense wyses om uit die stand van die sterre, allerhande konklusies te trek, ten aansien van die geskiedenis van mense op aarde. Maar hulle glo daarin: Dit is die feit waarmee ons te doen het.

Hulle bring op een of ander manier 'n nuwe sterverskyning in verband met 'n koning wat by die Jode gebore moet wees. Vermoedelik het hulle as wyse manne wel iets gehoor van 'n sekere Messiasverwagting onder die Joodse volk, maar verder het hulle maar min geweet van die presiese situasie in Jerusalem. As hulle geweet het van die daartyds reeds bekende gevoeligheid van koning Herodes, (hy het toe al 'n hele paar van sy seuns laat doodmaak, uit angs dat hulle hom moontlik van sy troon sou stoot), as hulle daarvan geweet het, sou hulle nie so argeloos na die nuwe koning van die Jode gevra het nie.

Maar goed, op een of ander manier het hulle die vir hulle bekende gegewens gekombineer, en besluit: hierdie ster is die aankondiging van 'n nuutgebore koning van die Jode, en wel so 'n belangrike een, dat ons soontoe wil gaan. Of hulle maar net presente wou kom bring, of moontlik nog baie groter presente terugverwag het, weet ons nie. Dit laaste klink taamlik waarskynlik. Wie as eerste hulde bewys van 'n nuutgebore koning, mag van sy ouers 'n groot prys verwag. So lewer hulle wetenskap nou en dan iets op. Ook 'n man van wetenskap moet darem leef.

In elk geval, waarvandaan hulle ook presies kom, en watter dwase heidense gedagtes hierdie manne ook koester, die Here wil dit gebruik. Hy antwoord hulle na hul dwaasheid (Spreuke 26: 5).

Hy lok hulle met 'n teken, waaraan hulle waarde toeken, na Betlehem. Want Hy wil hierdie heidene as huldebringers by die krip in die stal bring.

Hulle mag die Kind Jesus, die Lig van die Wêreld sien, en aanbid. Dit is nou liefde van God, gemeente. Hy trek hulle met die enigste, waarmee hulle hul laat verlei. Met 'n ster. Hierdie manne, hul enigste belangstelling is die sterrehemel. Elke nag sit hulle daar en tuur. Wat sê die sterre? Hoe lyk die toekoms? As God vir hulle 'n prediker gestuur het, wat kom sê het: In die land Israel is 'n Kind gebore! Hy is die lig van die wêreld!... dan sou hierdie manne nie op reis gegaan het nie. Hulle sou mooi in die Ooste gebly het.

Maar nou word hulle gelok deur die Here. Hy soek hulle, heidene, by die krip in Betlehem.

Sover wil die Here gaan in Sy liefde, dat Hy enige middel kan gebruik, om mense na Hom toe te trek. In hierdie geval selfs die dwase geloof van hierdie wyses, aan die taal van die sterre.

So begin die Here altyd. Hy lok mense na die kerk. Die meeste van ons het seker maar eers met pa en ma saam na die kerk gekom. Nie omdat ons so graag 'n preek wou hoor nie, nee, ons moes maar net saamkom. En dan, langsamerhand, begin jy dit geniet, om jou vriendjies te sien, om te sing, om na die orrel te luister. Voordat jy werklik besef die Here praat met jou in die prediking, gaan jare verby.

Ander mense is vir die eerste keer saamgebring deur 'n vriend of 'n vriendin. Weer ander mense word vir die eerste keer bereik met 'n evangelisasie projek, waar dinge gedoen word waarvan jy hou. Op een of ander manier gryp die Here, en sit jou aan die begin van 'n pad. Let wel: die begin. Nou moet jy ook verder kom. As iemand na 3 jaar verkering met iemand van die kerk, nog steeds net terwille van die verkering saamgaan na die kerk, is daar groot fout. Dan het jy aan die begin van die pad bly staan.

Met mense wat aan die begin van die pad staan, moet ons baie geduld hê as gemeente. Die Here het dit mos ook, en ons glo in Sy leiding. Maar tegelykertyd mag niemand aan die begin van die pad vassteek nie. Want dis die Here wat jou verder wil lei. Soos Hy ook die wyse manne verder gelei het: van die sterverskyning na die Woordopenbaring.

En daarmee is ons aan punt 2.

2. God lei hulle deur Sy Woord.

En toe Jesus te Betlehem gebore is, het wyse manne in Jerusalem aangekom. U moet hier oplet hoe Matteus die name van die stede so nadruklik vermeld. Vir ons klink dit nie so snaaks nie. Betlehem het vir ons, seker op die Kersfees, 'n aangename positiewe klank. Maar in daardie tyd was Betlehem 'n onbetekendende agteraf dorpie.

Die vermelding Betlehem is hier 'n pynlike onderstreping van die neergang van die huis van Dawid. Israel se Koningshuis. Hulle is weer terug by 'Af'. Hulle beteken niks meer nie.

Dit word nog beklemtoon as Matteus in dieselfde vers vermeld: die wyse manne uit die Ooste kom aan in Jerusalem.

Jerusalem is nog steeds die Koningstad, maar koning Herodes op die troon is 'n Edomiet, wat deur onderhandeling met die ware maghebbers, die Romeine, die troon in hande gekry het.

Maar kom ons kyk weer na die belewenisse van die wyse manne. Vol verwagting kom hulle aan in Jerusalem.

Ons wil graag die eerstes wees om Hom hulde te bewys.

Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is?

Maar dan wag vir hulle 'n bitter teleurstelling.

Jerusalem weet van niks nie! 'n Koning gebore? Nie waarvan ons weet nie. Jammer manne, as julle daarvoor gekom het, kan julle maar beter weer huis-toe gaan. Hier is nie 'n Koning gebore nie!

Ons kan ons die groot teleurstelling van die manne voorstel. Moontlik was hulle al 'n hele paar weke op pad. Het hulle hul dan vergis?

Maar dan hoor koning Herodes van hulle koms, en hulle vraag na die Koning van die Jode. Wel, die koning van die Jode is hyself natuurlik. Maar wag 'n bietjie, het die koms van die wyse manne dalk iets te doen met die Messias verwagting van die Jode?

Sien u dat in vers 4, Herodes diegene is wat die titel Koning van die Jode, in verband bring met die naam Christus?

Dis hoekom hy ontsteld raak, want nou kan moeilikheid verwag word. En as Herodes ontsteld raak, dan raak Jerusalem ook ontsteld. Nie oor die feit dat moontlik die Messias gebore is nie, maar eerder oor die feit, dat Herodes weer 'n nuwe verdenking koester. Wat sal hier weer uit voortkom, van die kant van Herodes, sug die Jerusalemmers?

Herodes reël onmiddellik 'n vergadering van Owerpriesters en Skrifgeleerdes, en vra hulle uit oor waar die Christus gebore sou word.

Wel, daaroor hoef die skrifgeleerdes nie lank te dink nie: In Betlehem, in Juda, want so is deur die profeet geskrywe. Hulle kan die teks somaar aanwys: Miga 5: 1.

Die vergadering word gesluit, en die Skrifgeleerdes vertrek weer.

Hulle het hul plig gedoen. Waarnatoe gaan hulle. Val hulle onmiddellik in die pad na Betlehem? O nee, hulle gaan huis-toe.

Hier sien ons reeds, gemeente, hoe die heil aan die ou Israel, die volk van die ou Verbond, sal verbygaan. Die heil wat eerste vir hulle bestem was, gaan oor na die heidene.

Hulle het alles geweet wat 'n mens oor die Messias kon weet. Hulle het die Bybel uit hul kop geken. En tog het hulle die Messias nie werklik verwag nie. Alles weet, en nie verwag nie.

Dit kan blykbaar gebeur met mense. En dan gaan die heil vir jou verby.

By hierdie heidense manne was dit presies die omgekeerde.

Hulle het groot verwagtings gehad, maar hulle het niks geweet nie. Ja, nou weet hulle iets. Een teks uit die boek van die Jode, met die naam van 'n dorp. Dit is al wat hulle het.

Die evangelie van Miga is vir hulle bekendgemaak, maar nie juis deur entoesiastiese predikers nie. Kennelik glo die verkondigers nie die Woord wat hulle vir hulle voorgelees het nie.

Wat sal hulle nou doen? Sal hulle teleurgesteld weer teruggaan?

Na die mens gesproke is dit die enigste moontlikheid. Dat hulle die ster gesien het, is al 'n hele paar weke gelede. En hierdie een teks deur sulke predikers aangehaal, is ook nie juis oortuigend nie.

En tog, hulle keer nie om nie. Hulle gaan. Op pad na Betlehem. Laat ons ons opnuut verwonder oor die liefde van God wat hulle eers so wonderlik getrek het, en hulle nou verder lei deur Sy Woord. Deur die woord van die profesie.

Laat ons verbaas wees oor God se reddende mag, dat Hy kans sien om mense vas te hou, en te laat vasbyt met so beperkte middele. En so sien ons dat die manne hul reisgoed weer oppak, nadat iemand vir hulle die rigting van Betlehem beduie het.

En kyk, wat sien hulle, die ster wat hulle eerder gesien het, is weer daar. Al die tyd dat hulle op pad was na Jerusalem, het hulle daardie ster nie gesien nie. Daarom is hulle nou ook so bly, want na so 'n lang tyd begin 'n mens twyfel. Maar nou is daar dan ook baie groot blydskap.

Maar nou is die sterverskyning 'n onderstreping van die Skrifwoord uit Miga, wat hulle in Jerusalem gehoor het.

Omdat hulle die Woord uit die profesie in geloof aangeneem het, bevestig die Here hulle nou in die waarheid daarvan.

Hulle kyk nou na die ster deur die bril van die Woord. die Here lei hulle nou deur Sy Woord.

'n Koning verwag jy in Jerusalem. Maar as die Woord sê: in Betlehem, dan gaan jy na Betlehem. Wat 'n afgang eintlik. Van die groot stad, na die nietige dorpie. Van die koninklike paleis, na 'n krip in 'n stal. 'n Pad van vernedering.

Ook vir ons gemeente. Al 2000 jaar glo ons dat in Betlehem, die Lig van die Wêreld gebore is. Dat die Koning van die hemel en die aarde daar die lewenslig gesien het. Maar wat sien 'n mens daar vandag van?

Laat ons maar saamgaan met hierdie manne uit die Ooste, broeders en susters, seuns en dogters. As mense sal ons dan ook ons teleurstellings hê. Wie Christus volg staan nie meteen in pragtige paleise nie.

Ons wil dikwels so graag groot en indrukwekkende dinge in die kerk sien. Maar al wat ons het, is die belofte van die Skrifte. Die ou Woord van profete.

Maar as ons na daardie Woord luister, dan sal vir ons die lig opgaan. Die ster van Jakob. Die son van heil.

3. God bring hulle by Sy Seun.

Hoe verder die wyse manne gekom het, hoe dwaser dit vir hulle gevoel het. Die ster in sy opkoms, dit kon hulle verstaan. Maar toe die Woord wat so dwaas geklink het: Nie in Jerusalem nie, maar in Betlehem. Nou word dit nog dwaser: geen pragtige kraamkamer, geen opgewonde mense nie. Net 'n vader en moeder in 'n stal. Met 'n kind. Maar tog die wyse manne aarsel nie vir 'n ooblik nie.

Hier is hulle by die doel van hulle reis.

Hulle kniel in aanbidding neer.

Weer 'n wonder van God, gemeente! Hier lê die lig van die wêreld. Maar vir die oog van mense, straal daarvan op die oomblik niks uit nie. En tog bring God die wyse manne hier op hul knieë. Hulle erken agter hierdie armoedige vertoning, agter die dwaasheid van 'n moeder met kind, wysheid van God.

Wysheid van 'n totaal ander karakter as waaraan hulle gedink het. Hier is die Woord van God, wat vleesgeword het.

Dit is altyd weer die groot en onbegryplike wonder van die Kersfees, dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy Sy Eniggebore Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die Ewige Lewe kan hê.

Hier is nou geloof by hierdie wyse manne.

Hulle moet hul ster vergeet om hierdie wonder te aanbid.

Hulle moet neerkniel by 'n pasgebore Kind. Watter dwaasheid vir wyse manne! Maar tog, God laat in die duisternis van hul heidense harte 'n lig opgaan, sodat hulle neerkniel vir die Lig van die Wêreld. Die lig van alle volkere uit die Ooste en uit die Weste, uit die Noorde en die Suide, ja die Lig van alle volkere, tot aan die eindes van die aarde.

Daarom gaan ons in geloof saam met hierdie dwase wyses.

Hulle wysheid blyk dwaasheid te wees.

Maar in hierdie dwaasheid ontdek hulle wysheid.

'n Pasgebore kind is die Seun van die Lewende God. Dwaser kan dit nie! Wyser is nie moontlik nie!

Ons is verder as hulle. Ons moet dan ook vandag nie bly stilstaan by die romantiek van 'n kind in 'n krip nie. Ons aanbid die Here Jesus nie in 'n stal nie. Ons aanbid Hom daar waar Hy is. In die troon van God.

In nederigheid het Hy gekom om groot glorie te verwerf.

Immers, Hy sal weer kom in groot heerlikheid.

Nooit meer sal God mense laat raai na die betekenis van 'n sterverskyning nie. Nee, as Hy kom dan kom Hy vir almal sigbaar, as die Ewige Vredevors.

En ons mag nou reeds ons lof en aanbidding afstem op die lofsang van Sagaria.

Nou wys 'n ligglans aan die donker boog,
nou sal die Heer op hart en oog
die lewenslig laat neerstraal van omhoog
dit sal ons wankle voetstap rig
op paaie waar dit vrede is.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)