God besorg die geboorteberig van Dawid se Seun in die stad van Dawid se troon

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTH.2: 1-12

LITURGIE:
L. Miga 3: 9-12 & 5: 1- 3 & Lukas 13: 22-30
Ps. 98: 1, 2, 3
Ps. 98: 4
SB.45: 1, 3, 10
Ps. 89: 6, 7
Ps. 2: 6

Broeders en susters,

Ken ons nie van jongsaf die geskiedenis van die wyse manne uit die Ooste as 'n mooie verhaal nie? Dis vir ons gevoel een van die mees indrukwekkende verhale rondom die koms van ons Here Jesus Christus in hierdie wêreld.

Ons sien in ons verbeelding hulle gaan: daardie besondere oosterse verskynings wat, met 'n ster as gids, hulle pad na Betlehem soek om daar vir 'n baba neer te kniel en hulle skatte te ontsluit.

As vir die kinders die kersevangelie vertel word, wil hulle veral ook hierdie verhaal hoor.

Dis 'n verhaal waarby ons ons fantasie die vrye loop kan laat neem. Die tradisie het in die loop van die eeue dan ook al heelparty verhale om die bybelse verhaal van die wyse manne geweef: hulle is tot drie konings gemaak: twee blankes en een swarte; daar is name vir hulle bedink: Kaspar, Melchior en Balthasar. En as hulle afgebeeld word, sien ons hulle steeds op groot kamele ry, belaai met skatte.

Maar al hierdie fantasie het dit vir ons maar moeilik gemaak, gemeente, om die geskiedenis van die wyse manne in die Skrif mooi te verstaan.

Wie Mattheüs 2 nugter lees, moet erken daar staan feitlik maar baie min oor die wyse manne in die Bybel. Mattheüs bly baie sober en vaag met sy gegewens oor hierdie mense. Hy vertel nie presies waarvandaan hulle gekom het nie. Watter tipe van ster hulle waargeneem het en hoe daardie sterverskynsel hulle heeltemal op die pad Jerusalem toe, en later Betlehem toe, kon lei- Mattheüs verklaar dit nie. Hy noem nie eers hulle aantal nie.

Hulle duik in Matth. 2 skielik op uit die newel en hulle beeld word eers skerp in die strate van Jerusalem, waar hulle na die koning van die Jode wat gebore is, informeer.

En na hulle besoek aan Betlehem duik hulle weer in die newels terug en onttrek hulle vir goed aan ons oog. Ons hoor of sien nooit meer iets van hulle nie. Of hulle christene geword het? - ons weet nie. Of ons hulle eendag in die nuwe Jerusalem weer sal raakloop? - selfs dit weet ons nie.

As ons goed lees, blyk die wyse manne in hierdie geskiedenis glad nie die hoofpersone wat ons in die tradisie daarvan gemaak het, te wees nie. Hulle is nie veel meer as figurante nie. Die hoofskynwerpers is in hierdie geskiedenis op Jerusalem, die koningsstad, gerig.

God stuur baie uitsonderlike boodskappers na die stad waar die troon van Dawid gestaan het, om daar die skokkende berig te bring dat die Seun van Dawid, die groot Koning van die Jode, gebore is.

En as ons sò hierdie verhaal lees, blyk dit skielik glad nie 'n mooie verhaal te wees nie. Dis eintlik maar 'n trieste geskiedenis. Want ons vind aan die slot wèl die wyse manne op hul knieë voor Christus, maar Jerusalem het tuisgebly. Hulle wat daar as eerste moes gewees het, is nie daar nie. Jerusalem het die melding dat die groot Seun van Dawid gebore is, onverskillig aan hulle laat verby gaan. Die kontoere van die kruis word alreeds sigbaar!

Kom ons luister saam na hierdie geskiedenis. Ek het die boodskap soos volg saamgevat:

GOD BESORG DIE GEBOORTEBERIG VAN DAWID SE SEUN IN DIE STAD VAN DAWID SE TROON.

Ons sien hoe:

  1. MAGIËRS DIÈ GEBOORTEBERIG PROKLAMEER
  2. MIGA OOR DIÈ GEBOORTEBERIG HET GEPROFETEER
  3. JERUSALEM OP DIÈ GEBOORTEBERIG REAGEER.

1. Ons moet ons die opskudding probeer voorstel, broeders en susters, wat die wyse manne uit die OOste met hulle verskyning in Jerusalem veroorsaak het.

Sommer plotseling duik daar in die strate van Jerusalem 'n klompie opvallende vreemdelinge op, Oosterlinge, wat orals informeer waar hulle die nuwe koning van die Jode wat onlangs gebore moet wees, kan vind. Hulle het sy ster sien opkom en dit het vir hulle so veelbelowend gelyk dat hulle gekom het om aan Hom hulde te bewys.

Hulle laat hul deur gesigte vol verbasing en bevreemding nie afskrik nie. En ook nie deur die versigtige vraag of daar dalk van 'n vergissing sprake kan wees nie.

Hulle is seker van hul saak. Daar moet 'n nuwe Jodekoning gebore wees. Hulle het dit in die sterre gelees.

Ons noem hierdie mense altyd "wyse manne", broeders en susters. In navolging van ons Bybelvertaling. Maar moenie dat u u 'n alte westerse voorstelling van hierdie wyse manne uit die Ooste maak nie.

Dit was mense wat hulle met die sterre besig gehou het en gedink het hulle kan die taal van die sterre verstaan- dis seker.

Maar hulle was hoegenaamd nie studeerkamer-geleerdes wat met allerhande verkykers en teleskope die sterrehemel afgesoek het om vervolgens allerlei ingewikkelde berekenings aan die hand van die sterre te maak nie.

Ons kan die woord wat Mattheüs vir hulle in die Grieks gebruik, beter met "magiër" vertaal: mense wat hulle met magie, sterrewiggelary en heidense toorkunste besiggehou het.

Hulle was bepaaldelik nie onskuldige, 'n bietje verstrooide geleerdes nie. En ook nie konings soos die tradisie hulle skilder nie. Al was hulle in daardie Oosterse wêrel toentertyd wel maghebbers. Maar dan religieuse maghebbers. Geen goëlaars, maar afgodsdienaars wat beweer het hulle onderhou die direkte kontak met die gode en hulle kon uit die stand van die sterre of ook uit die binnegoed van diere die wil van die gode aflees.

Hulle was in die tyd van die apostels die taaiste teëstanders van die evangelie, mense wat 'n hoë dunk van hulleself gehad het en vir hulleself 'n religieuse verering opgeëis het.

Ons lees oor hierdie soort mense nog partymaal in die boek Handelinge. Petrus en Johannes kry in Samaria met 'n sekere Simon te make. 'n Towenaar, sê ons vertaling, maar daar staan dieselfde woord soos in Matth. 2: 'n magiër wat die stad met sy magie verbyster het. En Paulus en Barnabas kom op die eiland Cyprus met die magiër Elimas in aanraking.

Ons kan hulle dalk die beste vergelyk met die toordokters waarmee ook vandag nog ons sendelinge partykeer baie moeite het, gevaarlike vyande van die Evangelie.

Hierdie tipe van heidende towenaars het dus in Jerusalem kom en rondbasuin dat die lank al verwagte Koning gebore moes wees.

Daar kom hier dus nie vorste van ver 'n staatsbesoek bring nie, maar hier verskyn ontsagwekkende uitheemse figure wat gewoonlik die mense vir hulle laat kniel, met die berig dat daar nou iemand gebore moet wees vir Wie hulle so'n ontsag het dat hulle 'n lank reis daarvoor oorgehad het om Hom op hul knieë hulde te bewys.

Moet probeer om u in te dink, broeders en susters, wat hierdie verskyning in Jerusalem se strate teweeggebring het. Daar moet 'n golf van beroering deur die stad gegaan het.

Wat ìs dit?? Wat gaan aan?? Waarvan praat daardie snaakse mense in vredesnaam? Is daar 'n Verlosser-koning in Jerusalem gebore? Maar hulle weet mos nog niks daarvan nie? !

So het God die stad van Dawid se troon in rep en roer gebring deur hierdie opvallende figure met hulle geboorteberig wat groot vrae opgeroep het.

Dit is in die eerste plekdie betekenis van die skielike verskyning van hierdie magiërs. God wil deur middel van hulle die kerkstad wakker skud.

As dit maar net daarom sou gegaan het dat ook heidense groothede vir die pasgebore Christus kom en kniel, kon God hierdie magiërs ook wel reëlreg Betlehem toe gelei het. Maar die pad via Jerusalem is geen ompad nie. God stuur hulle opsetlik in Jerusalem in om dààr die geboorteberig van die groot Dawidsseun te proklameer. Die stad van Dawid se troon moet in beweging kom.

Dring dit tot hulle brein deur dat hier wel 'n buitengewone ding aan die gang moet wees? Mense wat jy sy grootste mededingers sou kan noem, kom en soek nota bene hulle Verlosser, die Christus. Om hulle aan Hom gewonne te gee. Om Hom as hulle Meerdere te erken.

Sou nou dan eindelik die beloofde heil van hul HERE aangebreek het?

Ja, gemeente, die HERE het sy kerkstad dadelik oortuigend gewys: die groot Dawidsseun is by voorbaat alle teëstanders die baas. Hy kry hulle almal op die knieë. Wat 'n voorreg is dit om volk van hierdie Koning te mag wees!

2. Maar, broeders en susters, hoe groot die verwarring ook al mag gewees het in Jerusalem, en hoe baie gerugte dalk ook die ronde gedoen het- die betekenis van hierdie verskyning dring nie werklik tot die brein van God se volk deur nie. Hoeseer hulle ook al na die koms van die Messias uitgesien het.

Die eerste een wat op die geboorteberig van die magiërs aksie onderneem, is dan ook nie een van die Joodse leiers nie, nie die raad van die skrifgeleerdes nie, maar die kerkvyand Herodes.

Dit is die eerste teleurstelling in hierdie verhaal.

Nie die voorgangers van God se volk nie, maar die vyand vat die voortou om uit te vind waaroor die Oosterse magiërs nou eintlik praat.

Hierdie koning Herodes is 'n vreemde, wat nie eintlik in Jerusalem tuishoort nie, gemeente. En wat sekerlik nie op die troon van Dawid tuishoort nie. Hy is uit die geslag van die Idumeërs, en dit wil sê: van Edom afkomstig. En as u weet dat Edom die volk van Esau is, verstaan u wel hoeseer sake onderstebo is in Jerusalem as ons Here Jesus Christus sy intree in hierdie wêreld doen. Jakob se saad word geregeer deur Esau se nasaat. Dawid se troon word beman deur die aartsvyand van God se volk. "Die oudste -Esau- sal die jongste -Jakob- dien", het die HERE vir moeder Rebekka gesê. Maar die rolle het omgedraai. Jakob sug onder die juk van Esau.

En nou is dit nota bene hierdie Edomiet Herodes wat die meeste van die geboorteberig wat die magiërs in die stad kom proklameer het, verstaan. Hy twyfel nie daaraan nie dat hierdie berig maar een ding kan beteken: die Christus, dit is: die Messias moet gebore wees! Herodes het altyd wel geweet dat daar beloftes van God gelê het dat Dawid se troon eendag weer 'n Seun van Dawid sou dra. Soveel weet hy wel van die Skrifte.

Maar dan word sy posisie nou ernstig bedreig! En dus moèt hy maatreëls tref voordat dit te laat is.

In alleryl roep hy alle owerpriesters en skrifgeleerdes in 'n spesiale vergadering bymekaar, om vanuit die Skrif meer lig oor hierdie kwessie te kry. Wat sê God se Woord? Waar sou die Christus gebore word? Hier in Jerusalem weet hulle nog van niks nie, so dis nie aanneemlik dat dit hier moet wees nie. Maar waar dan? Waar moet ons diè koningskind soek?

En so kom dus eers op inisitief van Herodes Jerusalem se Skrifkenners sover dat hulle hul met die geboorteberig wat die magiërs gebring het, meer diepgaand moet besighou.

Eers gedwing deur die vyand gaan buig hulle hul oor hierdie eienaardige berig dat hul Verlosser gebore moet wees.

Maar hulle is daarmee gou klaar! Dis vir hulle nie so'n probleem om vir Herodes te vertel wat die geboorteplek van die Christus moet wees nie: Betlehem in Judea. Kyk Miga 5.

Hulle het waarskynlik nie eers hulle boekrolle daarop nageslaan nie. As ons die aanhaling deur die Skrifgeleerdes van Miga 5: 1 in Matth. 2 naamlik vergelyk met die oorspronklike teks, gemeente, kry ons die stellige indruk dat hulle uit hulle kop sommer die antwoordteks opgenoem het: in hul aanhaling skuif in elk geval al vs. 1 en vs. 3 (waar gesê word dat die leidsman wat uit Betlehem sal voortkom, God se volk sal wei) in mekaar.

Herodes kry dus dadelik antwoord op sy vraag. En die spesiale Sanhedrinvergadering kan al gou weer ontbind word.

Al te gou!

Want die skrifgeleerdes moes wèl hul boekrolle gevat het. En wel Miga se profesie nog maar 'n keer noukeurig gelees het. En hulle regtig in hierdie geval verdiep het.

Want nou haal hulle op die klank een teks uit Miga 5 aan sonder om die taal daarvan regtig te verstaan. Die betekenis van die profesie van Miga 5 wat hulle aanhaal, gaan volslae aan hulle verby.

Op die eerste gehoor is dit naamlik 'n baie mooi teks. Maar in werklikheid is dit tegelyk 'n baie ernstige teks wat van oordeel en vernedering praat.

Toe Miga hierdie woorde gespreek het, het daar nog seuns van Dawid in Jerusalem geregeer. In daardie dae was Betlehem lankal vergeet. Dawid was daar wel gebòre, vroeër. Maar hy het daar nie gebly nie. Hy het Jerusalem tot Dawidstad, tot koningsstad gemaak. En vanaf daardie tyd was die naam van Dawid en sy troon met Jerusalem verbonde. Dit was die stad van die toekoms vir God se volk. Daar sou Dawid se troon vir ewig staan.

Wie dink dan nou nog aan Betlehem?

Maar dan moet Miga profeteer in 'n tyd waarin Israël met die seuns van Dawid al hoe verder van die HERE afdwaal. En Miga moet vir Jerusalem die oordeel aansê: God gee die stad aan vyande oor wat dit sal te gronde rig. Ons het dit gelees (3: 12): "Sion sal soos 'n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante".

Is dit God se laaste woord? Nee, gelukkig nie. As die HERE so die straf laat kom het, sal daar tog ook weer herstel kom. Want dan kom die groot Seun van Dawid.

Maar God moet Hom wel as die ware uit niks tevoorskyn bring! Want as hierdie Koning kom, is alle glorie weg. Dan het Dawid se huis verval tot die nederige staat van die dorpie Betlehem. Dawid se huis is teruggewerp op die kale vertrekpunt. Die geweldige boom van Dawid is omgekap en wat oorgebly het is nog slegs 'n kale stomp.

So, broeders en susters, klink daardie teks uit Miga 5, wat die Skrifgeleerdes gou-gou uit hulle kop aanhaal: "En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israël sal wees". Dit het dieselfde klank as diè bekende teks uit Jesaja 11: "Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai.... " Dis heel eerste 'n beskamende teks wat alle trots en eiedunk wegbreek en leer om uit te sien na 'n nederige, onaansienlike Koning van die Jode, wat deur God uit die diepte bogehaal moet word as almal weens hulle sondes verneder is.

Betlehem is 'n plaasnaam om jou oor te skaam.

Maar die skrifgeleerdes is daardie klank van hierdie plaasnaam klaarblykelik kwyt. Het u gesien hoedat hulle die vernederende betekenis van Miga 5: 1 in hulle slordige aanhaling presies in sy teendeel verander? Miga het gesê: "Betlehem, jy is maar klein onder die geslagte van Juda....... ". Maar hulle maak nou daarvan: "Jy, Betlehem is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie....... ".

Die erns van die naam Betlehem dring glad nie meer tot hulle deur nie. Hulle het hierdie skrifwoord uit Miga se profesie ingelys: Betlehem is die stede waar dit geskied, voorwaar! Maar hulle sê nie dadelik daarby nie: Kyrië Eleïson, Ontferm U, Heer, wees ons, sondaars, genadig.

Hulle verlang na die koms van die Messias, baie beslis. Hulle het groot fantasië oor Dawid se troon wat in ere herstel sal word. Maar hulle begryp nie dat hulle dan eerste na Isai se stomp sal moet teruggaan nie. Die Verlosser wat God gee, word geen Koning om mee te kan spog nie, maar Een wat Homself vir hulle sal verneder.

Jerusalem sit en wag op 'n Seun van Dawid wat glorieus kom en maak sy intog in die stad. Maar hulle sal in boeteklere uit die stad moet uitgaan en soek hulle Koning in vernedering.

Hier lê alreeds die wortels van die konflik van Christus met Jerusalem, gemeente. Jerusalem wens nie 'n nederige Koning wat die sondes kom aanwys en uitdelg nie.

3. En daarom is die afloop van hierdie verhaal ook droewig.

Herodes ontwerp moordplanne en die vreemde magiërs verdwyn stilletjies weer van die toneel in die kerkstad. Die HERE bring hulle opnuut deur die wonderlike sterverskynsel, waarvan ons nog altyd nie presies verstaan hoe dit gewees het nie, op die plek waar hulle moet wees_ by hul Meerdere, die klein Koning van die Jode. Vir hulle is al daardie eenvoud in Betlehem nie te min om neer te kniel en hulle geskenke aan te bied nie.

Maar Jerusalem het tuisgebly. Al het God hulle ook deur die proklamasie van die magiërs en deur die profesie van Miga op die goeie spoor gesit- daar kom by hulle geen verdere reaksie nie. Na die kort Sanhedrinvergadering toon die Skrifgeleerdes nie verder belangstelling nie en ook by die ander mense verstom die gerugte al gou weer.

En so sien ons in Betlehem alleen nog maar die figurante terwyl die hoofrolspelers hulle voortydig teruggetrek het.

Eerstes het laastes geword. Aangesien hulle nie die Skrifte wou verstaan nie.

Jerusalem kry nie 'n ster nie. Jerusalem het die Skrif en dis mèèr vir wie maar daarna wil luister.

Die magiërs mag ook nie na Jerusalem terugkeer nie- nie weens Herodes nie, maar ook nie om Jerusalem asnog Betlehem toe te kry nie. Hulle het hul werk gedoen. Hulle rol is klaargespeel. Die HERE laat hulle in stilte weer in die newels verdwyn.

Ja, hierdie vir ons gevoel altyd nog 'n mooie verhaal is dus glad nie so mooi nie, gemeente. "Hy het na sy eiedom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie"- dit word al dadelik by Christus se geboorte merkbaar, wys Mattheüs vir ons.

Ek het in my inleiding gesê in hierdie geskiedenis word die kontoere van die kruis al sigbaar. Want Jerusalem het hierdie nederige Koning nooit as Verlosser wil aanvaar nie. As Hy later Homself onontwykbaar aan hulle opdring, skreeu hulle op die ou end om sy kruisiging. Maar dan hou God nog nie daarmee op om Jerusalem te laat weet Wie hulle verwerp nie. Dan kom daar 'n bordjie bo aan die kruis met die veelbelowende woorde: Jesus van Nasareth (watter onbetekende afkom!!) maar nogtans: Koning van die Jode. En al probeer die Joodse leiers ook dadelik om hierdie opskrif te laat verander, Pilatus laat dit staan. Want God wil dit so. Want hierdie nederige Koning, wat in 'n krip gebore is en aan 'n kruis gesterf het, is die Koning en Verlosser van God se volk.

Hierdie droewige verhaal van die wyse manne uit die Ooste bevat vir ons 'n waarskuwing, broeders en susters. 'n Waarskuwing wat ons ter harte sal moet neem as ons hierdie dae regtig Kersfees, Christusfees wil vier.

Ook ons kan so gewoond raak aan bekende bybeltekste dat ons hulle na die klank sommer herken terwyl ons tog die inhoud daarvan nie meer verstaan nie. Dit kan ook by ons gebeur dat belangrike Skrifgedeeltes so vertroud vir ons geword het dat ons nie meer koud of heet daarvan word nie.

Ons kan vandag en môre kersliedere sing, en die seuns en dogters sal môre 'n hele aantal tekste uit die Skrif opsê- maar dit kan so wees dat dit ons hart nie meer raak nie.

Omdat ons so gewoond geraak het aan die lewe in die kerk en aan die woorde van die Skrif dat ons onsself nie meer werklik as sondaars voor God ken nie, as mense wat alleen nog van gergewing uit genade kan lewe.

Ook ons kan 'n selfversekerde kerkvolk word, wat baie mooi kan aanwys hoedat dit in die goddelose wêreld en in ander kerkgemeenskappe verkeerd is, terwyl ons onderwyl self inslaap by 'n dooie ortodoksie en nouweliks meer op die sinjale van God reageer nie.

Laat u deur hierdie verhaal van die wyse manne wys maak, broeders en susters: wys tot saligheid. Moenie vergeet wat ons uit Luk. 13 gelees het nie: "En hulle sal kom van oos en wes en van noord en suid en aansit in die koninkryk van God". Of ook die magiërs van Matt. 2 daarby sal wees- ek weet nie. Maar ek weet wel dat daar eerstes is wat laastes sal wees en laastes wat eerstes sal wees. En dit hang mee daarvan af of ons nog weet wat dit beteken dat ons Koning in Betlehem gebore moes word.

AMEN

(Pretoria 25 Des. 1988) (Johannesburg 25 Des. 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)