Christus het as Verlosser gekom in 'n vasgelope geskiedenis

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR MATTHEUS 1: 1 EN 17

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 2: 1
Wet
SB. 2: 3 (eerste 7 reëls) en 4 (laaste drie reëls)
Gebed
Doopsformulier
SB. 2: 2 na die doopsbediening
Kollekte
Ps. 89: 1, 2, 15
L. Matth. 1: 1-17
Prediking
Ps. 72: 1, 4, 10
Gebed
Ps. 132: 6, 7, 8
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die wêreld word verlos deur Iemand wat van bo af, uit die hemel gekom het. Dit gedenk ons hierdie dae rondom Kersfees. En so sing ons van God se Eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus:

"Ons loof U, Jesus, hoogste Heer,
uit die hemel kom U neer".

"Redder van ons lewe, Jesus, troue Heer,
uit liefde vir die mense kom daal U neer. "

Dit is die groot wonder van Kersfees: dat God aan mense wat dit verdien het om in die hel neer te daal 'n Verlosser uit die hemel gegee het. So lief het God sy wêreld gehad dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het.

'n Ander verlosser sou ons ook nie meer kon help nie. Ons ellende as gevolg van die sonde was so groot dat alleen God Self nog uit die hemel die vasgelope mensegeskiedenis kon red.

Dus vier ons elke jaar verwonderd die wonder dat ons 'n Verlosser van bo af ontvang het.

Maar al het ons Verlosser uit die hemel neergedaal, het Hy nie uit die lug kom val nie. Sy koms na die aarde is eeue tevore reeds aangekondig en geslagte lank het mense na sy koms uitgesien. 'n Geskiedenis lank het dit ook al hoe duideliker geword dat alleen Hy nog die lewe op aarde sou kon red.

Dit, broeders en susters, wil Mattheüs ons duidelik maak in die eerste verse van sy Evangelieverhaal.

Dit lyk 'n snaakse begin. 'n Lank en droë opsomming van name. 'n Stamboom van af Abraham totaan Josef, Maria se ondertroude man, wat deur God gekies is om Jesus se aardse vader te wees. En 'n verdeling in 3 periodes wat bereken is in telkens 14 generasies.

Wat wil Mattheüs met hierdie namelys en berekening duidelik maak?

In hierdie eerste verse van hoofstuk 1 teken Mattheüs vir ons die agtergrond waarteen ons Here Jesus Christus in die wêreld gekom het. Mattheüs laat ons eers nog 'n slag terugkyk. Want juis deur eers eerlik terug te kyk leer 'n mens om omhoog te kyk en te besef dat die Verlosser wel van bo af moés kom.

Eers dan besef ons regtig Wie en wat die Christus is.

Ek het Mattheüs se boodskap in ons teksverse so probeer saamvat:

CHRISTUS HET AS VERLOSSER GEKOM IN 'N VASGELOPE GESKIEDENIS

IN HOM HET GOD 'N NUWE BEGIN GEMAAK

  1. MET SY WÊRELD
  2. MET SY VOLK

1. Volgens ons Bybelvertaling, sowel in die Ou as in die Nuwe vertaling, lui die eerste woorde van Matt 1: "Die geslagregister van Jesus Christus... "

Dié woorde wek die indruk dat hulle net as 'n opskrif bo die verse 2-17 bedoel is. Daar volg mos 'n lys met name van Jesus se voorouers na die vlees gereken.

'n Geslagslys.

Die eerste woord wat Mattheüs volgens die Griekse teks gekies het, is egter glad nie die gebruiklike woord wat vir so'n beperkte namelys gebruik word nie.

Daarvoor ken die Grieks 'n ander woord wat ons in ons taal nog steeds ken omdat ons dit regstreeks uit die Grieks oorgeneem het: genealogie.

Maar Mattheüs praat, as ons letterlik vertaal, van 'n "Boek: Boek van die Genesis van Jesus Christus... ".

Die eerste vers van hoofstuk 1 vorm nie net die opskrif bo die namelys wat in die verse 2-17 volg nie, maar is bedoel as die opskrif bo die hele boek. In hierdie boek word beskryf die "Genesis" van Jesus Christus.

U weet waarskynlik uit die Ou Testament: Genesis beteken: wording, ontstaan.

So lui die naam van die eerste Bybelboek van die Ou Testament: Genesis: die boek waarin ons lees oor die wording van die hemel en die aarde en die wording van die mens op aarde.

Met daardie naam begin ook die eerste boek van die Nuwe Testament: Mattheüs wil vir ons die wording, die ontwikkelingsgeskiedenis van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham vertel.

Tog moet ons nog 'n bietjie noukeuriger na die opskrif bo Mattheüs se Evangelie kyk. Want Mattheüs se woordkeuse het vir sy destydse lesers baie opvallend geklink. Boek van die Genesis- daardie kombinasie van twee woorde was in die normale spraakgebruik so ongebruiklik en uitsonderlik dat die eerste lesers van hierdie boek -Jode!- hier wel 'n opsetlike verwysing na 2 gedeeltes in die Ou Testament in moés hoor.

Daar is net twee tekste in die Ou Testament, in die boek Genesis, waar, in die Griekse vertaling, ook gepraat word van Boek van die Genesis.

Dis Genesis 2: 4 en 5: 1. In ons Bybelvertaling kan ons dit glad nie meer herken nie. In Gen 2: 4 is vertaal: "Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde". Maar letterlik vertaal sou ons dus moet lees: "Dit is die boek/verslag van die wording van die hemel en die aarde".

In Gen 5: 1 praat ons vertaling van "die stamboom" van Adam, die mens. Maar ons moet dus, as ons letterlik vertaal, lees: "Dit is die boek/verslag van die wording van die mens".

In die Hebreeuse teks word in Genesis telkens die woord "Toledot" gebruik. Dalk het u daardie woord wel 'n keer gehoor in 'n preek of gelees in 'n boek.

Tien keer word daardie uitdrukking gebruik in die boek Genesis. Ons Bybelvertalings het dit nie telkens met dieselfde Afrikaanse woord vertaal nie. Ons het al gesien in Gen 2 en Gen 5 dat die een keer met geskiedenis vertaal is en die ander keer met stamboom. Ons kan die Hebreeuse woord eintlik ook nie met een Afrikaanse woord weergee nie. Ons sal dit moet omskrywe. Die woord dui 'n knooppunt in die geskiedenis aan. Daar word 'n nuwe begin gemaak. Maar die woord Toledot gee te kenne dat op die bladsye wat nou volg die resultaat van daardie nuwe lyn beskrywe sal word. Hierdie nuwe begin- wat het dit opgelewer? waartoe het dit gelei?

Dis dié dat die Griekse vertaling van die Ou Testament gekies het vir die woord Genesis- wording. Miskien kan ons, ás ons die woord Toledot met een Afrikaanse woord wil weergee, die beste praat van Ontwikkelingsgang.

Nou maar goed, vir die eerste, Joodse, lesers van sy Evangelie het Mattheüs in die opskrif bo sy boek dus opvallend aangesluit by veral twee gedeeltes in die Ou Testament: die ontwikkelingsgang van hemel en aarde soos vanaf Gen 2: 4 vertel word; en die ontwikkelingsgang van die mens, Adam, wat vanaf Gen 5: 1 vertel word.

In aansluiting aan wat daar vertel is oor eerste die ontwikkelingsgang van hemel en aarde en vervolgens die ontwikkelingsgang van die mens, mag Mattheüs ons van 'n nuwe fase in die geskiedenis van die hemel en die aarde en van die mens vertel. 'n Nuwe knooppunt wat God begin het in Jesus Christus. Sy koms in die wêreld, waartoe het dít gelei? Wat het dít opgelewer?

Hierdie nadruklike aansluiting by juis daardie twee gedeeltes uit die begin van die boek Genesis is al dadelik veelseggend vir die betekenis van Christus se koms in die wêreld, broeders en susters. Want as ons nog 'n slag kyk na daardie twee gedeeltes aan die begin van die Bybel, word dit al gou duidelik dat Christus in 'n vasgelope geskiedenis gekom het. Sy koms in die wêreld beteken 'n nuwe begin van God met sy wêreld.

Immers: Vanaf Gen 2: 4 word ons die ontwikkelingsgang van die hemel en die aarde vertel. Die vertrekpunt is veelbelowend! God het 'n hemel en 'n aarde geskep tot sy eer. 'n Paradys, 'n lushof waarin alles, die sterre aan die firmament en die goggatjies onder die sand, die branders van die see en die klip- springertjies in die berge van God se grootheid getuig het.

'n Wêreld vol skatte -kyk maar hoe Gen 2 vertel van goud en edelstene- waarin die mens vir sy Skepper en Vader aan die werk mog spring om dit elke dag tot 'n nog groter lusoord te maak.

Maar wat het gebeur: eers kom daar opstand in die hemel. 'n Engel word 'n satan. En hy sleep talle knegte van God saam in sy rebellie. Daarna word ook die mens op aarde tot opstand teen sy God verlei. En al in hoofstuk 3 lees ons dat God se mooie aarde as gevolg van die mens se ongehoorsaamheid vervloek word. Die lusoord word 'n oord vol dorings en distels. Pragtige plante dra voortaan dodelik vergif. Vreedsame diere word roofdiere.

En nog 'n hoofstuk verder lees ons dat die een mens selfs die ander mens doodslaan.

Vanaf hoofstuk 5: 1 maak die skrywer van die Bybel 'n nuwe beginpunt. Hy gaan vertel nou die ontwikkelingsgang van die mens. Die mens wat na God se gelykenis geskep is. Hierdie mens het die dood verdien, maar God het nog uitsig op nuwe lewe gegee. In hierdie nuwe lyn volg die Bybelskrywer ook die lyn via Adam se seun Set. Abel is dood. Kain en sy geslag het vir die lewe sonder God gekies. Maar Adam se nuwe seun en die se seun, Enos, het duidelik vir 'n lewe met die HERE gekies. Moet maar kyk die laaste vers van hoofstuk 4: "Toe het hulle (Set, Enos) die Naam van die HERE begin aanroep".

Hoofstuk 5 vertel dus opnuut van 'n veelbelowende begin. Sondige mense soek weer die HERE.

Maar waartoe het hierdie nuwe begin gelei?

Kyk net een hoofstuk verder: dan het die sonde en goddeloosheid al weer so toegeneem op aarde, ook in die geslag van Set en Enos, dat God besluit om die hele mensegeslag deur 'n sondvloed te verdelg!

Baie van wat in daardie eerste hoofstukke beskryf word, herken ons vandag nog steeds, broeders en susters. So het die wêreld geword na die sondeval.

Deur ons skuld.

Ja, deur ook óns skuld! Ons beskou onsself dikwels as slagoffers van hierdie gevloekte wêreld. Ons kry onsself jammer en sien vol verlange uit na die dag wat God ons hier kom wegroep of, soos Hy beloof het, alles kom nuut maak.

Maar ons is nie slagoffers nie. Ons is die skuldiges aan al die ellende waarvan die wêreld vandag vol is. Ons het dit self veroorsaak en veroorsaak dit nog steeds deur 'n lewe waarin die HERE nie die absolute middelpunt is nie.

Maar in hierdie vasgelope geskiedenis het God 'n nuwe begin gemaak deur sy Seun Jesus Christus na die aarde te stuur! Die blye boodskap mag Mattheüs vertel. En hy kan 'n hele boek daarvan volskryf waarop hierdie nuwe begin van God met sy wêreld uitgeloop het: die bose geeste, die trawante van die satan, word uitgedryf, die Bose self word teruggedryf. Hy bring in 'n gevloekte wêreld God se seën terug: siekte en stremmings word deur Hom weggeneem, stormwind en woedende waters word deur Hom weer aan die mens ondergeskik gemaak, Hy kan maak dat die mens weer volop deur die aarde gevoed word, selfs so dat 5 broodjies en 2 visse genoeg is vir derduisende mense.

Mattheüs kan op die laaste bladsy van sy boek oor die ontwikkelingsgang van Jesus Christus vertel dat hierdie Jesus nou "alle mag in die hemel en op die aarde" het. Dus het die ontwikkelingsgang van die hemel en die aarde waarvan vanaf Gen 2 vertel was, deur Hom tog nie regtig vasgeloop nie!

En ook die ontwikkelingsgang van die mens, Adam, waarvan Gen 5 en 6 so'n treurige verhaal moes vertaal, het in Jesus Christus nuwe perspektiewe gekry, mag Mattheüs in sy boek aanwys. Hy het self as die nuwe Adam in volmaakte gehoorsaamheid aan God geleef. Hy het ook 'n kring van dissipels, 'n nuwe mensheid, om Hom versamel vir wie Hy geleer het om weer die wil van die Vader te doen, ja, volmaak te wees soos die Vader volmaak is.

En toe Hy self sy werk hier op aarde klaar gedoen het en na die hemel kon teruggaan, het Hy daardie dissipels in die wêreld uitgestuur om al die nasies, die hele wêreld, tot sy dissipels te maak en deur die doop aan die Drieënige God te verbind en vir hulle te leer om alles te onderhou wat Hy hulle beveel het. Ook dit lees ons op die laaste bladsy van Mattheüs se boek. Daarom sluit Mattheüs heel bewus af met hierdie woorde uit Jesus Christus se mond dat ons deur Hom die "voleinding van die wêreld" mag verwag.

In die boek Genesis is daar tien keer sprake van 'n nuwe Toledot, gemeente.

Telkens word 'n bepaalde periode afgesluit en begin daar 'n nuwe fase in die geskiedenis.

Maar Mattheüs se boek van die Toledot van Jesus Christus word aan die einde van hierdie boek nie afgesluit nie. Mattheüs eindig met 'n oop einde. Die boek word wel afgesluit. Maar die Christus is nog nie klaar nie. Hy werk verder aan die voleinding van die wêreld. Ons leef vandag steeds in die ontwikkelingsgang wat Hy met sy geboorte aan die gang gesit het. Maar alhoewel ons dus nog midde-in daardie ontwikkelingsgang verkeer, is in hierdie geval die uitkoms al by voorbaat duidelik. En dus kan elkeen wat leef uit sy doop en 'n dissipel van Jesus Christus wil wees, elke dag weer met nuwe moed en vol verwagting vorentoe. Ons is weer 'n Paradys te wagte!

2. Ek het in my inleiding op hierdie preek al gesê, gemeente: Christus het nie uit die lug kom val nie. Sy koms en sy verlossingswerk was lank tevore al deur God aangekondig en voorberei. Daar was een volk op aarde wat eeuelank al na hierdie Verlosser uitgesien het: God se volk Israel, die nageslag van Abraham, die volk van die koningshuis van Dawid.

Mattheüs kan die Christus selfs "die seun van Dawid en die seun van Abraham" noem.

Vanaf Abraham het God al heel konkreet aan die geboorte van sy Eniggebore Seun as die Redder van die wêreld begin werk. So konkreet dat Christus Self later kon sê dat Abraham reeds "sy dag gesien het".

En toe uit Abraham se nageslag koning Dawid gebore is, het die beloftes nog konkreter geword. Dawid het beloftes gekry dat God 'n seun uit sy nageslag vir ewig op sy troon sou laat sit en dat hierdie seun alle vyande tot 'n voetbank vir sy voete sou maak en die volle vrede op aarde sou bewerk.

Van daardie beloftes aan God se volk Israel is Jesus Christus die volkome vervulling.

Tog wil Mattheüs nie net aanwys hoedat Christus die vervullings van die beloftes aan Abraham en aan Dawid geword het nie. Wanneer hy vanaf vs. 2 in 'n hele lys van name aanwys hoedat God van Abraham tot die geboorte van die Christus gekom het, wil hy daarmee eerder die verwagtings wat by God se volk lankal geleef het, korrigeer as wat hy daardie verwagtings wil bevredig.

Want hoe het God se volk al hoe meer na die Messias uitgesien? U weet dit: hulle mog hulleself as die volk van Abraham God se uitverkore volk noem. Maar hulle het as gevolg daarvan hulself toenemend ook baie beter as al die ander volke begin beskou. Hulle was die spesiale ras wat as enigste op die liefde van God in die hemel kon aanspraak maak.

Daar het al hoe meer 'n hoogmoed onder God se volk gegroei waardeur hulle die sonde en slegtigheid alleen nog by ander volke en mense raakgesien het, maar nie by hulle self nie.

Gevolglik het hulle die Christus as koning uit die geslag van Dawid verwag as 'n bevestiging van daardie menslike hoogmoed. Die groot Dawidseun moes die kroon op Israel se volksbestaan word. Hy moes die onderstreping beteken van Israel se uitsonderingsposisie temidde van alle volkere omdat Israel duidelik 'n beter volk as al daardie ander volkere was.

Daardie hoogmoedige Messiasverwagting by God se eie volk kom Mattheüs direk aan die begin van sy Evangelie deurkruis.

In 'n eenvoudige oorsig van die geskiedenis vanaf Abraham tot Christus maak hy duidelik dat God se volk hoegenaamd nie hoër of beter as enige ander volk is nie. En dat daarom Christus se koms in die wêreld ook nie die hoogtepunt van God se geskiedenis met hierdie volk is nie, maar 'n nuwe, noodsaaklike begin omdat die volk self eweseer as die hele wêreld in sy geskiedenis totaal vasgeloop het.

In vs 17 vat Mattheüs Israel se geskiedenis saam in 3 keer 14 geslagte.

Daardie getalle is dikwels simbolies opgevat. 3 is die getal van God Drieënig, 14 is twee keer 7, die getal van die volheid, boonop is die getal 7 weer saamgestel uit 3+4, die getal van God plus die getal van die wêreld met sy 4 windstreke. Ook meen baie verklaarders dat die getal 14 deur Mattheüs opsetlik genoem word omdat die hebreeuse letters van die alfabet terselfdertyd 'n getalswaarde het. As 'n mens die letters van naam DAWID optel, is die uitkoms presies 14.

Ons kan aan sulke simboliek allerhande mooi toepassings verbind, maar ek wonder, gemeente, of Mattheüs hier regtig simboliese getalle bedoel het.

As u 'n oomblik met my saamkyk sal u sien dat hy in vs 17 wel praat van 3 keer 14 geslagte, maar dat hy inderwaarheid nie presies 3x14 name noem nie.

Van Abraham tot Dawid is daar inderdaad presies 14 name. Maar vanaf Dawid tot Jegonja (vs 11) in die tyd van die ballingskap tel ons 15 name. Ons kan daarvan 14 maak as ons Dawid nie opnuut saamtel nie. Maar as ons so maak moet ons natuurlik ook in die laaste periode die naam van Jegonja nie opnuut saamtel nie. En moet maar kyk: dan bly daar in die laaste periode net 13 name oor.

Sommige uitleggers het die probleem wil oplos deur te aanvaar dat latere kopieerders van Mattheüs se boek êrens 'n naam verkeerd geskryf of uitgelos het, maar sulke oplossings is veels te gekunsteld.

Dis naamlik opvallend dat Mattheüs 'n klomp name noem en vervolgens in sy samevatting in vs 17 van geslagte, generasies praat. As ons aanvaar dat Mattheüs 'n geslag, 'n generasie volgens die berekening van daardie tyd op omtrent 42 jare gestel het, blyk dit dat hy glad nie simboliese getalle nie, maar werklike tydperke in sy geskiedenisoorsig noem. 'n Mens kan Israel se geskiedenis vanaf Abraham globaal opdeel in 3 periodes van telkens 14 generasies, met ander woorde 14x42, dit is: 588 jare. Daardie berekening kom in 'n hoë mate ooreen, gemeente, met die nuutste berekening van Israel se geskiedenis.

Pleks van 'n klomp getallesimboliek gee Mattheüs dan in vs 17 'n treurige gevolgtrekking uit Israel se geskiedenis:

'n Mens kan dit in drie periodes indeel. Die eerste een gaan dit in 'n mate nog in 'n stygende lyn. Die eindpunt is mos Dawid die koning. Maar na Dawid gaan dit dadelik weer bergafwaarts en die tweede periode eindig in die verstrooiing van die volk in die ballingskap. En lees dan mooi in vs 12, broeders en susters: ons is geneig om daar te lees: "En na die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap..... ". Maar daar word van 'n terugkeer nie gepraat nie.

Want daar het net 'n klein klompie ballinge teruggekeer uit Babel na Jerusalem toe, maar die meeste Israeliete het in die verstrooiing bly leef. Mattheüs begin sy laaste periode dan ook nie vanaf die terugkeer na Jerusalem met die toestemming van koning Kores nie, maar by daardie koning Jegonja wat in die ballingskap sy seun Sealtiël verwek en vervolgens in die ballingskap sterf.

Met ander woorde: die geskiedenis van God se volk vertoon nie 'n stygende lyn met as hoogtepunt die koms van die Messias nie. Dis juis 'n neergaande lyn wat na die wegvoering na Babel in die diepte bly hang het.

Vanweë die sondes selfs by God se eie volk.

Is God se volk hoër en verhewener as die ander volk op aarde?

Israel se geskiedenis bewys eerder die teendeel.

Ook in 'n aantal opvallende details in die namelys onderstreep Mattheüs dit:

Vs 3 herinner aan Juda se sondige weg. God moes in sy genade 'n Kanaänitiese vrou en 'n beskamende manier gebruik om Juda op die regte spoor terug te kry.

Ragab die prostituut van Jerigo en Rut uit Moab word met name in die namelys genoem. Twee heidense vroue wat meer onder die indruk van die God van Israel was en 'n groter geloof getoon het as God se volk self.

Mattheüs vermeld nadruklik dat Dawid Salomo by die vrou van Uria verwek het. Dis opvallend: toe Salomo verwek en gebore is, het Dawid lankal sy sonde bely en van God vergewing ontvang. Die seun wat in owerspel verwek was, het gesterf. Inmiddels leef Dawid weer van God se genade. Nogtans bly die skandvlek van owerspel en moord aan Dawid se naam kleef. Ook hierdie groot koning kon diep val.

En dan is daar tenslotte sommer drie koning agter mekaar weggelaat in die tweede periode vs 8: na Joram makeer Ahasia, Joas en Amasia. Hoekom?

In die boek Kronieke lees ons van aldrie hierdie konings dat hulle nie 'n natuurlike dood gesterf het nie, maar as gevolg van God se toorn oor hul lewe deur hul eie mense vermoor is. Hier word die kontoere van die vernietiging van koningshuis en volk al sigbaar.

Kortom, broeders en susters, Israel se geskiedenis roep nie om 'n bekroning nie. Dit roep om 'n Verlosser. 'n Verlosser wat nie net die wêreld nie, maar ook God se eie volk sal red van hul sondes!

En dié Verlosser mag Mattheüs in sy boek aanwys. Jesus, Hy wat van sondes red.

Maar dié Verlosser kon nie sommer as die soveelse seun van Dawid en seun van Abraham voortkom uit Israel se geslagte nie. Om God se volk volkome van hul sondes te verlos moes hy van bo af kom en in Israel se geslagte neerdaal. Daarop sinspeel Mattheüs reeds as hy in vs 16 sy formulering skielik wysig. Josef word nie meer die vader van Jesus wat Christus genoem is genoem nie. Nou staan daar slegs dat Josef "die man was van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word".

God self gee hierdie Verlosser aan sy volk en aan die wêreld. In die volgende verse sal Mattheüs dit meer duidelik maak. Maar hierdie beknopte geskiedenis- oorsig het al baie duidelik gemaak dat die wat eerlik terugkyk na die geskiedenis van God se volk, alleen nog maar boontoe kan kyk om 'n Verlosser te verwag. Vanwaar sal my hulp kom? My hulp is van die HERE alleen.

Dié beskamende les uit Matt 1 is vandag steeds van krag, gemeente. Ons verdien nie die verlossing nie. Ons bewerk nog minder self die verlossing. Ons geskiedenis is ook na Christus se eerste koms na die wêreld en sy versoeningswerk 'n beskamende geskiedenis van sonde en ongehoorsaamheid, ontrou en afval, hoogmoed en selfingenomenheid.

Daarom moet ook ons vandag steeds boontoe kyk. Ons verlossing word bewerk in en vanuit die hemel. Daar versoen Christus vandag ons sondes by die Vader. Vandaaruit berei Hy, en nie ons, die voleinding van die wêreld voor.

Maar as u beskaam en skuldbewus leer om boontoe te kyk en daarvandaan u Verlosser te verwag wat sal weerkom in heerlikheid, kan u ook vol vertroue en verwagting vorentoe kyk. Deur hierdie Verlosser wat God self uit die hemel gegee het, kan ons geskiedenis mos nooit meer vasloop nie!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)