God se volk word vermaan om God se dag te verwag

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
1980-01-06
Teks: 
Maleági 4:4-6
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit is vandag die laaste Sondag van Advent. Advent - dit is die afkorting van die latynse uitdrukking 'Adventus Domini'. Dit beteken: die koms van die Here.

Al vanaf die begin van die geskiedenis van die christelike kerk word die laaste vier weke voor die Kersfees die Adventstyd genoem. Die tyd van verwagting van die koms van die Here Christus.

Vanwee die verbinding met die Kersfees het by ons die woord Advent die klank gekry van: Die Kersfees kom. Daar word reeds adventsliedere gesing en adventskranse opgehang. Dit alles as voorvreugde van die Kersfees. Om al 'n bietjie in die regte Kersstemming te kom.

Maar hoe tereg dit ook is, dat Advent in verband gebring word met die Kersfees wat nader kom, die fees van die koms van Christus in die vlees, tog gaan dit om baie meer.

In elk geval om meer as wat ons die Kersatmosfeer noem, met kersies, kersbome, kersetes ens.

Immers Advent is uitsien na die koms van die Here. Adventsverwagting beteken nie dat reeds die inkopies gedoen word om straks 'n lekker Kersfees te kan vier nie.

Maar Adventsverwagting is jou lewe beproef of jy bereid is om die Here Jesus Christus te ontmoet.

Die kerk wat die Advent gedink is die kerk wat daagliks lewe uit die verwagting van die koms van haar Heer Jesus Christus. Viering van sy eerste koms in die Kersfees word eers christelik sinvol in die uitsien na die tweede koms in Christus. Op Sy Dag.

Tot so 'n Adventsverwagting wil die prediking van God se Woord u vanmore opwek.

Tema: GOD SE VOLK WORD VERMAAN OM GOD SE DAG TE VERWAG

Die volk moet hom

  1. deur Moses laat lei
  2. deur Elia laat waarsku
  3. deur Christus laat behou

Vanoggend se teks broeders en susters, is die slotwoord van die Ou Testament. Dit is die laaste spreke van die "Wet en die Profete", soos die Here Jesus verkieslik die Ou Testament aangedui het.

Die wet en die profete, hulle is altwee verteenwoordig in ons teks n. l. in die name van Moses (wet) en Elia (profete), wat saam die volk van God heenwys na die koms van die Christus.

Hierdie laaste woord van die Ou Testament is 'n baie indringende woord tot die volk van God. Die volk word hier n. l. gekonfronteer met die koms van die Dag van die Here. Die prediking van die s. g. dag van die Here is 'n bekende motief uit die Ou Testament. Daardie dag word gepredik as 'n dag van skeiding onder die verbondsvolk. Immers op daardie dag, die dag van die Here sal aan die lig kom, wie werklik uit die Verbond geleef het en wie nie.

Kyk die dag kom, sê Maleagi, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe 'n stoppel wees en die dag wat kom sal hulle aan die brand steek. Van hulle sal geen wortel of tak oorbly nie.

Oei, dink 'n mens dan, dit loop darem sleg af met die goddelose. Ons lees maar gou verder. 'Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan. Julle sal die goddelose vertrap want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op daardie dag. '

Opgelug haal ons weer asem. Dit lyk darem beter. Met ons sal dit goedgaan. Die kwaai gevolge van daardie dag het nie op ons betrekking nie.

Wel, dit was ook die eerste reaksie van die eerste hoorders van Maleagi se prediking. Met ons is alles reg. Ons behoort aan God se volk. Vir ons is alleen geldig die beloftes van God soos in vs 2 en 3 staan. En God se toorn is bestem vir hulle wat buite die Verbond is. Hulle sal verbrand in die oond van vs 1.

So het Israel gereageer. Dit is nou maar opvallend dat dit eintlik altyd so is. Teen oordeelsprofesiee en dreigende woorde skakel ons altyd onmiddellik 'n afweermeganisme in. Die vermanings in God se Woord is vir ander mense. Die beloftes is vir ons. Selektief luister word soiets genoem. Ons hoor slegs wat ons wil hoor en verder is ons doof.

Maar laat ons dit bedink broeders en susters: In hierdie profesie word die verbondsvolk aangespreek. Die vermeteles en goddeloses is nie mense wat buite die Verbond lewe nie maar juis daarbinne!

Die dag van die Here kom! Dit is 'n dag van oordeel! Maar daardie oordeel sal begin by die huis van God.

Die Bybel sê van daardie dag dat hy skeiding sal aanbring. En by daardie skeiding gaan dit nie om 'n skeiding tussen gelowiges en ongelowiges, tussen kerk en wêreld nie. Daar is mos al 'n skeiding. Maar waar dit hier om gaan is dit: die prediking van die dag van die Here sal skeiding maak onder die volk van God! En die maatstaf wat daarby gehanteer word is die wet van God. En daarom begin ons teks met: Dink aan die wet van Moses.

Wel, dit klink vir ons nou baie merkwaardig. Laat ons so sê: dit klink hier vir ons al te gewoon. Na die groot woorde oor die groot dag van die Here kom dit amper soos 'n antiklimaks: Dink aan die wet van Moses.

Dit word hier aangewys as die weg om te ontkom aan die gerig op die Dag van die Here. -Dink aan die wet van Moses-

Wel, het Israel gedink, wat doen ons anders hier in Israel? Ons bring mos die offers, ons onderhou die erediens in die tempel. Ons lewe volgens die gebooie. Ons doen wat van ons gevra word.

Wat wil die Here dan nog?

Wel, die Here wil dit: Dink aan die wet van Moses my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel.

Doen hulle dit in Israel? Leef hulle na daardie wet? Ag nee, Inteendeel.

God het met sy wet 'n omvattende beslag gelê op die lewe van sy volk Israel, hulle moes d. m. v. die wet van Moses volkome toegewy wees aan die diens van die Here. Maar wat het Israel daarvan gemaak? Hulle het die wet omgevorm tot 'n klomp leefreels.

Hulle het hul aan die letter van die wet gehou, sonder om die gees van die wet te verstaan. Hulle het die verpligte offers wel gebring, 'n bees, 'n lam, 'n duif of wat die Here maar gevra het. Maar dit kon mos eweso goed met 'n siek of gebrekkige dier. Daarmee was aan die offerwet tog voldoen?

Die Here het bedoel om met sy wet na die hart van die volk te gryp, maar die volk het die hart uit die wet uitgesny. Hul godsdiens het 'n skynheilige godsdienstigheid geword. Wel, so 'n godsdienstigheid soek die Here nie. En dis hoekom God hulle weer terugroep. Terug na die allereerste begin. Na Horeb. In die woestyn Sinai.

Daar het God mos vir die volk sy liefde betuig en daar het Hy ook van die volk die antwoord van die liefde gevra in die lewe na sy wet.

En so gebeur in ons teks die volgende: met die woorde: dink aan die wet van Moses, roep God heel die sfeer van die Sinai weer in herinnering. Toe het God in Sy majesteit verskyn aan Moses en die volk. In donderslae en bliksemflitse. Toe het die volk gebewe vir die majesteit van die lewende God. Daar by die Sinai sou jy daaroor nie gedink het om slordig met God se gebooie om te gaan nie.

Op Horeb het God sy volk eerbied geleer vir sy heilige Naam.

God laat nie met Hom spot nie.

Maar nou, soveel eeue later leef die volk asof hulle kan spot met die Naam van God. Hulle gaan maar aan en God moet dit maar goedvind.

Dus so is daar by Israel 'n gebrek aan eerbied in die omgang met die Here. Hulle neem sy gebooie nie ernstig nie.

Wel, dit is wat vs 1 noem: vermetelheid en goddeloosheid.

Dit is goddeloosheid om wel die Naam van God in jou mond te neem, maar inmiddels jou van sy gebooie niks aan te trek nie. So 'n vermetelheid word gestraf in die gerig op die dag van die Here.

Daar is niks wat die Here so vertoorn as 'n diens waarby jy maklik sy heilige Naam op die lippe neem. Dit is wat ons vandag ook baie bewus moet wees. Hoe dikwels handel mense so: Ons behoort mos aan die kerk!? Ons is belydende lidmate nogal. Dus het ons slegs te doen met God se beloftes. Dus kan ons maar reken op Sy seen.

Vergeet daarvan. Wie tot die Verbond behoort, het te doen met belofte en dreiging. Altwee. In die kerk mag ons nader tot vlak voor God se troon.

Maar moenie vergeet nie, dit is 'n heilige troon. Dink aan God se verskyning op Horeb. En lewe na die ou wet van Moses. Toets jou lewe aan die 10 Verbondswoorde wat God op Horeb gegee het.

2. DIE VOLK MOET HOM DEUR ELIA LAAT WAARSKU

Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. Dit sal nie lang met die dag van die Here meer duur nie, sê Maleagi. Maar voordat die beslissende skeiding onder God se volk plaasvind gee God by die ou wet van Moses 'n nuwe geskenk.

Die profeet Elia

Hierdie profesie van die koms van Elia het 'n belangrike rol gaan speel in die Joodse verwagting van die dag van die Here. Hulle het 'n werklike terugkeer van die historiese persoon Elia verwag. Soos hy op 'n vurige wa na die hemel gegaan het, so sou Elia terugkom en die koms van die lank verwagte Messias aankondig.

U kan u voorstel dat 'n mens daarom heen 'n pragtige fantasievolle verhaal kan bou. Die Jode was baie trots op hierdie profesie dat Elia weer sou terug kom. Dit is beskou as 'n eerbetoon aan die nageslag van Abraham. Die groot Elia kom na ons toe!

En tog is dit maar die vraag of hulle tereg daarop kan trots was, op hierdie profesie van Elia se koms.

Ek dink, hier is eerder die omgekeerde die geval.

Immers, die optrede van die profeet Elia is verbonde aan 'n tyd van groot afvalligheid van die geloof in Israel. Elia het gekom in die tyd van Agab en Isebel wat die volk voorgegaan het, in die diens van Baal. In die slegte tyd onder Agab het die Here 'n man soos Elia verwek. God het altyd die grootste profete in die slegste tye gestuur. Hoe verder die volk hom van die diens van God verwyder het, hoe groter profeet God gestuur het.

Wel, as die Here dan opnuut 'n man van die formaat van Elia stuur dan sal dit 'n slegte tyd wees. 'n Tyd van groot verval van die geloof. Ek stuur julle die profeet Elia. Dit is as sodanig al 'n aanklag. Julle het 'n man soos Elia nodig.

Die Here deursien hul lee wetsdiens. Hulle is trots op die tempel en hul offers, daardie Israeliete. Maar hulle is feitlik niks verder as in Agab se tyd nie. Daarom sal God vir hulle nog 'n keer 'n man soos Elia stuur. Daardie man (sê die N.T.) het gekom in die persoon van Johannes die Doper.

Hy het voor die Here uitgegaan in die gees en die krag van Elia om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders.

Luk 1: 17. 'n Duidelike verwysing na die profesie van ons teks. So 'n profeet het die volk van God nodig. 'n Man van die formaat van Elia. Hy sal die hart van die vaders terug bring tot die kinders en die hart van die kinders tot hulle vaders.

Blykbaar het vaders en kinders uit mekaar gegroei. Daar is 'n voortdurende misverstaan van mekaar sodat daar verwydering tussen ouers en kinders gekom het.

Dit laat 'n bietjie dink aan wat ons vandag dikwels 'n generasiekloof noem. Kinders verstaan hulle ouers nie en ouers kan hul kinders nie begryp nie. Hulle dink so heeltemaal anders dat daar amper voortdurend 'n konflik is.

Wel, in die situasie waaroor ons teks praat sal daar ook wel soiets bestaan, maar tog is dit nie waarop ons teks doel nie.

Dit gaan hier om 'n ander teestelling. Dit word duidelik as u by die vaders van ons teks dink aan die aartsvaders. Abraham, Isak en Jakob. Dit is die mense waarmee God 'n begin gemaak het. Aan hulle het Hy beloftes gegee oor die heil van die toekoms. In daardie heil sou ook hul nageslag deel. Tot sover die vaders.

En nou die kinders, wel, dit gaan nie net om jong kinders nie. Nee, dit gaan ook om hul ouers en grootouers. Die hele generasie van Israeliete uit Maleagi se tyd word beskou as kinders van die aartsvaders.

Wel, tussen daardie generasie (die kinders) en die aartsvaders (hul vaders) het 'n diep kloof ontstaan.

Abraham en Jakob sou hulle in hul graf omgekeer het as hulle geweet het hoe hul nakomelinge met die diens van die Here omgaan. (Jes. 29: 17 - 24)

Daar is 'n groot teestelling tusse die vaders en die kinders. Wel, die profeet wat sal kom, Elia, hy sal bewerk dat daardie teestelling weer opgehef word. Dat vaders en kinders mekaar weer vind. En dit kan maar op een manier: dan moet die kinders hulle weer bekeer tot die diens van die lewende God.

Dan sal Abraham weer sy hart kan neig tot sy nakomelinge en sal almal saam verbonde wees in die een diens aan die Here.

En as ons dit verstaan het dan hoor ons sommer die prediking van Johannes die Doper. Hy sal die hart van die kinders terug bring na die vaders. Bekeer julle! Die byl lê aan die wortels van die bome. Bring vrugte voort wat aan die bekering beantwoord.

Johannes wys presies aan waar dit verkeerd is met God se Verbondsvolk Israel.

Julle meen, sê hy, julle is kinders van Abraham. En dink julle, dit sal julle red? Julle is trots daarop dat julle tot die nageslag van Abraham behoort? Maar dit sal vir julle nie red op die Dag van die Here nie! God kan mos wel uit klippe vir Abraham kinders verwek. Net julle bloedverbondenheid met Abraham sal julle nie kan red nie. Nee, bekeer julle en bekering is 'n saak van die hart. 'n Saak van geloof; en geloof sal weer sigbaar word in werke.

Wel, waar daardie prediking van Johannes gehoor vind, daar keer die hart van die kinders terug tot die vaders. Daar kom werklik eenheid met die vaders in die Verbond. Abraham het geglo en dit is vir hom as geregtigheid gereken.

Kyk, ek stuur julle die profeet Elia, voordat die groot dag van die Here kom. Laat julle waarsku en kom tot geloof en bekering.

Dit is die laaste woord. Die laaste prediking van die Ou Testament. En dit is tegelyk die eerste woord van die Nuwe Testament wat in die openbaar aan die volk van Israel gepredik word.

Rondom Jesus Christus sal die definitiewe beslissings val. Sy Koms is 'n Dag van die Here wat skeiding sal bring.

Maar eers kom dan nog Johannes die Doper in die gees en die krag van Elia. Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom!

Bring vrugte voort wat by die bekering pas, want elke boom wat geen goeie vrugte dra nie word uitgekap en in die vuur gegooi.

3. DIE VOLK MOET HOM LAAT BEHOU DEUR CHRISTUS

Johannes die Doper het opgetree, onmiddellik voordat Christus self in die publiek gaan predik. Hy was die heraut van die Here Jesus. Hy het voor Hom uitgegaan om te roep: Advent. Advent. Hy is besig om te kom. Berei julle voor op Sy Koms!

Hoekom was dit nodig? Dit was nodig om mense wakker te roep. Want met die Jode uit daardie tyd was dit maar dieselfde as met hulle uit Maleagi se tyd. Hulle was ook daarvan oortuig dat met hulle niks verkeerd kon wees nie. Hulle het die wet van Moses gehou. Hulle was heeltemaal reg. Hulle het maar net vir God gewag wat nog 'n belofte van die Messias moes vervul.

Hulle was kinders van Abraham. Bekering, nee vir hulle was dit nie nodig nie laat die heidene hul maar bekeer.

Wel, iemand wat so dink en so lewe, hy kan Christus nie sien nie. Hy loop sy koms mis. Die Jode het vir hul verlossing nie 'n man soos Jesus Christus gesoek nie. Met hulle was mos alles reg.

En daardeur het hulle die Lam van God verby gekyk. Daardie Jesus het vir hulle 'n ergernis geword. Hulle wou van Hom ontslae raak. Kruisig Hom!

Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en stenig wat tot julle gestuur is. Hulle het Johannes nie erken nie, en daardeur die beloofde Elia misgeloop. Hulle het Jesus verwerp en daardeur die beloofde Messias gemis. En toe het God gekom en die land met die ban getref. Die beloofde land Kanaan, daardie pragtige verbondsgeskenk van die Here vir sy volk; hulle het dit verloor. Van die pragtige tempel het geen steen op die ander gebly nie!

So gaan dit met die volk van God as hulle hul nie deur Moses laat lei nie en hulle deur Elia nie laat waarsku nie. Sonder geloof verloor jy al die verbondsgeskenke.

Laat dit vir ons 'n waarskuwing wees broeders en susters.

Laat ons adventsverwagting lewend bly.

Alle gearriveerdheid, dat jy meen jy is reeds daar, is heeltemal verkeerd vir die volk van God. Want die gevaar is groot, dat jy nes die Jode in Johannes tyd die Christus misken.

Hierdie week is dit weer Kersfees. Dit is pragtig. Laat ons ons verbly oor die koms van die Messias in Betlehem.

Maar laat ons daarby nie bly staan nie. Want daar is meer om te verwag. Christus is besig om te kom.

Maak julle gereed om Hom te ontvang. Bekeer julle van jul sondes. Want Sy koms is 'n dag van oordeel. En God se oordeel sal begin by die huis van God.

Op daardie dag sal daar maar op een manier ontkoming wees:

Roep die enigste Naam aan waardeur ons gered kan word.

Dit is die Naam van Jesus Christus!

Amen.

Liturgie: 

Ps 18: 1, 2
Ps 18: 12
Ps 134: 3, 4
Ps 130: 1 - 4
S.B. 2: 1, 2
S.B. 2: 4, 5
Lees: Mal. 4: 1 - 6 & Matt. 3: 1 - 12
Teks: Mal. 4: 4 - 6