Alleen reformasie kan jou red van die gerig

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
1988-12-18
Teks: 
Maleági 4
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die profeet Maleagi kyk in die laaste gedeelte van sy boek met ons vorentoe. In hierdie laaste boek van die Ou Testament word duidelik na die Nuwe Testament vooruit gewys. Dit is adventsprofesie: God sal die Engel van die Verbond na Wie so lank al uitgesien is, stuur. Skielik sal Hy tot sy tempel kom. En met sy koms breek die dag van die groot verlossing aan. Diè dag wat tegelyk die dag van die groot gerig sal word. "Want kyk, die dag kom en dit sal brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe soos 'n stoppel wees en die dag wat kom sal hulle aan die brand steek.... "

Maar terwyl die HERE deur Maleagi ons op daardie toekoms voorberei, neem hy ons mee terug na twee name uit die verlede.

Moses en Elia. Hierdie groot manne uit die verlede is van betekenis vir daardie groot toekoms.

Want die toekoms wat God vir sy volk sal bewerk, word geen breuk met die verlede nie. Inteendeel, die dag van die Messias lê heeltemal in die verlengde van die dae van Moses en Elia. Die werk van die Messias word die vervulling van die werk van Moses en Elia.

Wie daarom onbevrees die toekoms tegemoet wil gaan, moet die band met die verlede vashou. Of moet die band met die verlede weer terugsoek as hy dit inmiddels verloor het, soos dit in Maleagi se dae die geval was.

Want alleen deur Moses en Elia kan mens die dag van Christus, wat sal brand soos 'n oond, tegemoet gaan sonder om verbrand te word.

As ek die boodskap van die HERE in ons teks probeer saamvat, kan ek dit so verwoord:

ALLEEN REFORMASIE KAN JOU RED VAN DIE GERIG

  1. DAAROM ROEP DIE HERE OP TOT 'N REFORMASIE NA MOSES
  2. DAAROM BELOOF DIE HERE 'N REFORMATOR SOOS ELIA

1. Die profesië van Maleagi eindig baie ernstig, broeders en susters. Die HERE dreig om te kom en die land met die banvloek te tref. Dieselfde God wat begin het met te sê: "Ek het julle liefgehad" (1: 2) bedreig nou sy volk met die vloek. Soos Hy vroeër die Kanaäniete almal uitgeroei het, ja, die ewige oordeel aan hulle voltrek het en vervolgens sy volk Israël in hulle plek in die land laat woon het, so dreig Hy nou om ook sy eie volk uit die land uit te roei en met sy oordeel te tref.

In hoofstuk 1 het God nog dit vir sy volk opgeneem teenoor die aartsvyand Edom, die volk uit Esau. Hy het sy banvloek oor Edom uitgespreek: "Grondgebied van goddeloosheid" sal Edom genoem word, "Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid".

Maar die lot van Edom bedreig die volk van Israël nou eweseer!

Hoekom? Wat het gebeur dat God sy volk so ernstig waarsku?

Ons kan dit uit Maleagi se profesië maklik agterkom. Hierdie boekie is mos een deurlopende klag van die HERE oor die verbondsontrou van sy volk. Nuwe ontrou ten spyte van die onlangse straf van die ballingskap. Hulle het blykbaar van die ballingskap niks geleer nie. Want al die ou sondes uit die tyd voor die ballingskap het teruggekeer: 'n erediens in die tempel wat nie meer as 'n uiterlike aangeleentheid is nie, 'n vrome skyn. O ja, daar word daagliks netjies offers by die nuwe tempel gebring. Maar die hart van die volk is nie daarin nie. Dit blyk byvoorbeeld hierin dat hulle gereëld onwaardige diere bring om te offer, lam of siek.

Die priesters wat teen hierdie slegte praktyke moes walgooi, loop weer voorop in die sonde. Pleks dat hulle die eer van die HERE onder die volk hooghou, aanvaar hulle diè ondeugdelike offerdiere. En so maak hulle die diens van die HERE veragtelik en gering by die hele volk.

Hulle moet ook die wetsonderrig vir die mense versorg. Maar die HERE verwyt hulle in 2: 8: "Julle het van die weg afgewyk, julle het baie deur julle onderrig laat struikel". Leringe van mense begin al hoe meer die plek van God se gebooie in te neem.

Die mense beroof die HERE deur aan Hom die tiendes te onthou.

By die regspraak word partydig gehandel, rykes word die hand bo die hoof gehou, vriende word bevoordeel.

En dan is daar die groot kwaad van huwelike met meisies uit die heidenvolke en egskeidings deur mans wat ter wille van so'n meisie die vrou van sy jeug ontrou word en wegstuur.

Die Kanaänitiese bygeloof van towery en waarseggery het teruggekeer, daar is sosiale en maatskaplike sondes: base wat hulle personeel onderbetaal, mense wat weduwee en wees verdruk, mense wat die vreemdeling wat nie tot eie volk en ras behoort nie, wegstoot.....

Kortom, die HERE word nie meer regtig gevrees nie. Daardie woord gebruik die HERE telkens in die laaste 2 hoofstukke van Maleagi: Hom "vrees". Daar is by die meeste mense geen eerbied en ontsag meer vir Hom nie.

Daar is selfs mense wat dink die HERE gee glad nie om al daardie brutale goddeloosheid nie. Hulle meen jy kan maar aangaan, want God merk nie eers wat alles daar op aarde gebeur nie.

Maar dan sal u nou ook verstaan hoekom die boek Maleagi so ernstig en indringend eindig. Want die HERE gee wèl om!! En Hy merk wel op en hoor wel deeglik wat daar onder sy verbondsvolk almal gedoen word. Daar lê 'n gedenkboek voor sy aangesig waarin noukeurig aantekening gehou word.

En nou-nou kom die dag waarop Hy Homself aan almal as die God van die reg sal openbaar. Dan sal Hy tot sy volk nader om strafgerig te hou. Dan bars die vuur van die gerig los en sal alle goddeloses soos stoppels verteer word. Daar kom nog 'n laaste louteringskans, as die Engel van die Verbond, die Christus tot sy tempel sal kom om die pad vir die HERE skoon te vee en die huis van die HERE skoon te maak. Maar wie ook dan nog nie met die goddeloosheid wil breek nie, sal as 'n goddelose met sy goddeloosheid in die vuur van die gerig verteer word.

Teen hierdie dreigende agtergrond moet ons ons teks lees, gemeente. Die HERE dring aan op bekering, soos Hy dit ook al eerder, in 3: 7, gedoen het: "Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer".

As hulle nie in die vuur van die gerig wil omkom nie, sal daar noù reformasie moet kom.

In ons teks sê die HERE baie konkreet: Julle moet terug na die Wet van Moses. Julle moet terug na die begin, na die verbondsluiting in die Sinaï-woestijn, bij die berg Horeb, waar Ek my wet vir alle geslagte deur die diens van Moses aan julle bekend gemaak het. Daardie wet moet deur julle weer in ere gehou word, daardie wet moet julle lewe weer beheers. Daardie wet kan julle red.

Waaraan dink die HERE? Aan die wet van die Tien Gebooie? Ongetwyfeld. Maar waarskynlyk ook aan al die wette en bepalings wat Hy daarby gegee het, "insettinge en verordeninge" soos Hy dit in ons teks noem: reëlings vir die erediens, voorskrifte vir die offers, bepalings met betrekking tot reiniging en so meer. Daardie wet moet hulle lewe weer regeer.

As die HERE sy volk in Maleagi se dae na daardie wet terugroep, broeders en susters, roep Hy hulle nie terug na die slawerny onder 'n diktatuur nie. Sekerlik, daar is baie voorskrifte is Moeses se wet. Maar nogtans het daardie wet die lewe nooit geknel en lamgelê nie. Inteendeel: sy verbond was, soos die HERE dit self sê in 2: 5: "Lewe en vrede".

God se verbondswet het juis vir die lewe weer ruimte en toekoms gegee, dit het die lewe juis leefbaar en gelukkig gemaak. Ja, deur hierdie wet moes God se volk leer om die HERE te vrees, lees ons in 2: 5. Daar gebruik die HERE weereens diè woordjie "vrees", broeders en susters. Hy bedoel daarmee nie angs, bangigheid soos van slawe teenoor 'n wrede tiran nie. Maar God soek die liefde en die ontsag wat "bevrees" is om die ander seer te maak, om die ander kwaad te maak. Soos 'n kind wat lief is vir sy pa bevrees is vir die verdrietige, verwytende blik van pa as hy ongehoorsaam was. Soos 'n vrou wat baie van haar man hou, bang is om hom verdriet te doen.

Want God se verbond met sy volk was mos vanaf die begin 'n liefdesverbond. 'n Wonder van onverdiende liefde! Israël het nie in liefde vir God gekies nie. Glad nie. Maar God het in sy genadige verkiesing vir Israël gekies. Hy het hulle ten spyte van baie ongehoorsaamheid tot sy kinders aangeneem. Al was sy ook nog so mopperig en ontevrede- Hy het haar tot sy bruid gemaak.

En die wet van Moses was nie anders nie as die middel om Israël by die liefde vir God te bewaar. Die wet was 'n voortdurende herinnering aan God se groot liefde en 'n aanhoudende oproep tot wederliefde. Die wet was soos 'n venster wat die uitsig op die HERE in die hemel en sy liefde vir sy volk oop gehou het. En terselfdertyd was die wet soos 'n spieël waardeur die mens homself en sy tekort aan liefde teenoor God leer raaksien het.

Was dit mos nie die samevatting van die wet nie: "Jy moet die HERE, jou God, liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou kragte; en jy moet jou naaste liefhê soos jouself"? Maar watter sondige mens kan God sò liefhê? Die verbondswet het God se volk klein, oormoedig, skuldbewus gemaak. En nog meer verwonderd oor God se liefde. Want die wet het hulle nog des te meer geleer dat hulle verbond met God alleen aan God se geduld en genade te danke is. Die wet het hulle gedwing om die lewe buite hulleself te soek, alleen by die God van die verbond. Die wet het hulle geleer dat lewe en vrede in God se hande lê en ook alleen uit sy hand na ons toekom. As 'n onverdiende geskenk. Ja, as 'n geskenk wat eendag 'n groot Hoëpriester en Offerlam vir almal moes gaan verdien.

Ons sê vandag: die wet van Moses was 'n tugmeester na Christus toe.

En dis hoekom die HERE dus aan die einde van die Ou Testament sy volk na die wet van Moses terugroep. Want die Christus is in aantog. Die Engel van die Verbond kan nou-nou daar wees. Maar wie sy koms begeer, kan Moses nie ignoreer nie. Want die Engel van die verbond kan alleen uit die wet van die verbond verklaar word. En kan alleen deur 'n volk wat leef uit die verbond aanvaar word. Wie dus Moses verwerp, sal deur die Christus nie aangeneem word nie.

Ons kan vandag weet, gemeente, hoe noodsaaklik die oproep in ons teks tot reformasie na die wet van Moses was. Want was dit nie die groot belemmering vir die meeste Jode om in Jesus van Nasareth die Christus te sien nie: hulle het Moses nie meer geken nie. O ja, hulle het gemeen hulle is dissipels van Moses, hulle skrifgeleerdes het gedink hulle sit in die stoel van Moses. Maar ons Here Jesus Christus sê vir hulle (u lees dit aan die einde van Joh. 5): "As julle eendag in die oordeel kom, sal Moses, op wie julle gehoop het, julle aanklaer wees. Want as julle regtig Moses sou geglo het, sou julle ook My glo, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy skrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo? "

Selfs Christus se eie dissipels het moeite om Hom te verstaan en te aanvaar, selfs nog na sy opstanding. Maar eers as Hy hulle die wet van Moses, die profete en die psalms leer verstaan, gaan hulle oë en harte oop vir Hom as die Engel, die Redder van die Verbond.

Die nuwe verbond in Christus se bloed bly onbegryplik sonder die ou verbond van Moses se wet.

Sal u dit ook vandag bly vashou, broeders en susters, en julle ook jong mense? Ons loop vandag orals die veragting van die Ou Testament raak. Daar word Bybels gedruk met maar net die Nuwe Testament en uit die Ou Testament alleen die Psalms. Ons seuns en dogters op die Hoërskool kry les van 'n onderwyser wat vir hulle wil leer dat vir 'n christen die wet van Moses geen betekenis meer het nie.

Maar ons sal daaraan moet vashou dat die evangelie van Christus sonder die wet van Moses 'n onverstaanbare boek bly. En dat die verbond met God in Christus nie die breuk met die verbond van Moses beteken nie, maar slegs die vervulling daarvan.

2. Die volk Israël in Maleagi se dae het so ver van die wet van Moses verwyder geraak, dat die HERE met 'n oproep tot reformasie nie kan volstaan nie. Daar sal ook 'n kragtige reformator moet kom. Die HERE beloof daarom vervolgens in ons teks: "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag aanbreek".

Ons weet inmiddels dat die HERE nie bedoel het dat Hy Elia self uit die hemel weer aarde toe sou stuur nie -Hy het aan Johannes die Doper gedink- maar daar kom iemand soos Elia. Die engel Gabriël sal later vir Johannes se pa Sagaria sê: Johannes sal optree "in die gees en die krag van Elia" (Luk. 1: 17).

Diè naam "Elia" is hier veelseggend, broeders en susters. Dit onderstreep hoe groot die afval van die wet van Moses in die oë van die HERE wel is. Israël dink self hulle leef mos in die verbond met die HERE, hulle bring tog hul offers, hulle onderhou tog sy gebooie. Maar God sê met die naam Elia: julle is vir my weer soos in die dae van Agab en Isebel, een van die dieptepunte in die geskiedenis van God met sy volk. Die tyd toe daar nie meer as 7000 in Israël oorgebly het wat nie hulle knieë vir Baäl gebuig het nie. Ondanks die straf van die ballingskap, ondanks die feit dat daar van die Tien-stammeryk omtrent niemand uit die verstrooiing weergekeer het nie, het die oorblyfsel van God se volk -feitlik maar net die stam Juda en Benjamin en 'n klompie Leviete- weer tot al die ou sondes teruggekeer.

'n Man soos Elia is nodig om te voorkom dat die hele volk op die a. s. groot en vreeslike dag van die HERE sal omkom. Hy sal die hart van die vaders moet terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders.

Hierdie uitdrukking klink 'n bietjie moeilik, broeders en susters. Ook die engel Gabriël haal hierdie woorde aan as hy die geboorte van Johannes die Doper aankondig en vir Sagaria vertel wat sy taak sal word.

Moet daar 'n reformasie in die gesinne kom? Moet die nuwe Elia die generasiegaping tussen ouers en kinders oorbrug? Nee, die HERE kyk na die generasiegaping in sy ene kerkgesin. Die "kinders", die huidige generasie, het soseer vervreemd geraak van die "vaders" uit die dae van die verbondssluiting (kyk ook hoofstuk 3: 7!), dat daardie "vaders" hierdie goddelose nakomelinge nie meer van harte as hul kinders kan erken nie. Terwyl die kinders hooghartig op die bekrompe lewe van hulle voorvaders neersien.

Maar die reformator Elia sal so'n bekering bewerk dat die vaders in hul bekeerde nageslag weer hul kinders herken; en die kinders hulle weer van harte een weet met hul voorgeslag.

Ja, gemeente, ons kan hierdie verse uit Maleagi nie meer lees sonder om aan die werk van Johannes die Doper te dink nie. Hy was die Elia wat sou kom, vertel die Nuwe Testament op verskeie plekke. Hy was die reformator wat die groot en vreeslike dag van die HERE aangekondig het ("die koninkryk van die hemele het naby gekom"). Hy het die kinders teruggeroep na 'n lewe in die verbond soos by die vaders. Hy het hulle valse gerustheid ontmasker en hulle gewaarsku dat dit nie genoeg is om die bloed van Abraham in jou te hê nie- daar moet die geloof en die gehoorsaamheid van Abraham in jou wees. Jy kan eers kind van Abraham wees as jy net soos Hy die HERE vrees.

Johannes het teruggeroep na die hart van die Wet van Moses: liefde vir die HERE met jou hele hart en siel en verstand. Liefde vir jou naaste eweseer. En Johannes en met sy doop in die Jordaan die mense teruggevoer na die reinigingsseremonieë van die Wet van Moses om hulle weer skuldbewus te maak: hulle moet van top tot toon skoongewas word.

En hy het laat weet dat dit by God nou of nooit geword het. Want die dag wat die HERE deur Maleagi al aangekondig het, die dag wat brand soos 'n oond, die dag wat die goddeloses soos stoppels aan die brand sal steek, diè dag het nou aangebreek: "Hy wat na my kom, kom met vuur", het Johannes laat weet. "En Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand".

Verstaan u, gemeente, hoe groot God se geduld met sy volk was? Hulle was vir Hom weer soos in die dae van Agab en Isebel, en nogtans het Hy 'n nuwe Elia gegee. Nogtans het Hy 'n reformasie bewerk om nie sy hele volk in die vuur van die gerig te verloor nie. Johannes se optrede in Israël as die wegbereider van Christus was die bewys van God se barmhartigheid.

Hierdie barmhartigheid duur vandag nog voort, gemeente. Want Johannes se oproep tot bekering duur nog voort, al het Johannes self ook gesterf. Christus, die Engel van die Verbond, het Johannes se reformasiewerk oorgeneem en begin preek: "Bekeer julle want die koninkryk van die hemele het naby gekom. "

Ja, die egte Moses en die egte Elia het aan Christus verskyn iewers op 'n berg in Kanaän en hulle het voor die oë van drie van Christus se dissipels hul werk aan Hom oorgedra. Wat hulle nie kon regkry nie, moes Hy gaan bewerk: 'n verbond van God met die mense waarin alle sonde en ongehoorsaamheid heeltemal oorwen sou wees.

En Hy hèt dit bewerk! Deur sy eie offer vir ons sondes.

Daarin het God se barmhartigheid en genade op sy allermooiste geblyk. Pleks van dat God na Johannes se prediking dadelik met die vuur van die gerig sy volk verteer het, het Hy sy eie Seun deur hierdie vuur verteer. Tot ons redding. In Christus het God se verbondsliefde duideliker as ooit tevore sigbaar geword.

Maar nou mag Christus ook meer as ooit tevore wederliefde eis! Liefde nie net met woorde nie, maar liefde met die hele hart en siel en verstand en kragte- liefde met die daad. 'n Lewe met God in die verbond ooreenkomstig die hart van die ou verbondswet van die begin, uit die dae van Moses.

Meer as ooit tevore mag Christus nou by ons daarop aandring dat ons God se gebooie bewaar en dat ons ons daagliks bekeer. U kan maar kyk: hierdie uitdrukkings "gebooie bewaar" en "bekering" bly ons tot in die laatse bybelboek lees.

Christus bly met sy Woord en Gees sy kerk oproep om die HERE te vrees. Hy bly, so dikwels dit nodig is, sy kerk deur nuwe reformasie terugroep om die HERE te vrees.

Want alleen so'n deurgaande reformasie kan ons van die komende gerig red.

Vandag klink daar nog hierdie oproep.

En daarom is elke preek, elke huisbesoek, elke katkisasieklas, elke broederlike vermaan onder vier oë waarin op bekering aangedring word, 'n blyk van God se liefde en geduld met ons.

Maar hoe gevaarlik is dit daarom ook om hierdie geduld te onderskat. Want sinds Christus se koms het wel die dag wat brand soos 'n oond aangebreek. En in elke oproep tot bekering brand alreeds daardie vuur. Maar as dit ook nou nog nie bekeer nie, sal dit verteer!

AMEN.

 

Liturgie: 

L. Maleagi 3: 7-4: 6
SB.26: 1-4
SB.26: 10, 11
Ps. 81: 1, 4, 9, 11, 15
Ps. 19: 4
Ps. 78: 3, 4