Die Here eis eerbiediging van Sy Naam as Verlosser

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
1980-01-06
Teks: 
Maleági 1:10-11
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente!

In verlede week se preek uit Maleagi het ons gehoor hoe die Here hom hier vir die laaste keer tot Israel rig. Na Maleagi sal daar nie meer 'n deur die Here gestuurde profeet na Israel kom nie.

In sy laaste boodskap vir hulle het die Here begin om vir hulle te verseker van sy volhardende liefde. Ek het julle lief! Altyd al en nog steeds!

Uit die verdere boodskap van Maleagi is tegelyk iets anders duidelik. God se liefde word nie opgewek deurdat die volk aan Hom soveel liefde of eer bewys nie. Inteendeel.

Die diens aan die Here het in Isarel steeds meer verval.

Alles gaan verkeerd. Die liefde van hulle kant is ver om te soek.

Hoekom breek God die verhouding nie finaal af nie?

Hoekom sê Hy nie: En nou is dit genoeg! Ek is klaar met julle!

Maar nee, Hy doen dit nie. Nog nie. Hy doen dit nie terwille van Sy Naam.

Sy Naam is hier in geding. Hy het met die volk Israel 'n begin gemaak. Dit was die volk deur wie Hy Sy Seun in die wêreld wou bring. Hierdie volk is die draer van die Messiasbelofte.

En daarom gee die Here die volk nie op nie, maar kom Hy nog een keer na hulle toe.

Terwille van Sy Naam as die Verlossende God.

Hy wil vir Sy Naam eer ontvang. In die eerste plek van die volk wat al soveel goeds van die Naam ondervind het.

Maar Hy is tenslotte vir die eer van Sy Naam ook nie van die volk Israel afhanklik nie. As hulle Hom die eer van sy Naam nie gee nie, dan sal Hy onder ander volke die eer van Sy naam begin opeis.

Die Here eis eerbiediging van Sy Naam as Verlosser

  1. Hoe die Naam deur Israel misken word
  2. Hoe die Naam deur die volke erken sal word

Ag was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit!

Ons teks, brs en srs, is 'n hartekreet van die Here.

Ag, was daar maar iemand wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altare kan aansteeek nie.

Die deure waaroor dit hier gaan is die deure van die tempel. Die toegang tot die offeraltaar.

Dus waar die boodskap van Maleagi op neerkom is feitlik dit: Stop asseblief onmiddellik die tempeldiens!

Dit is darem 'n snaakse prediking hierdie! En nog wel van 'n profeet van die Here!

Immers die Here Self het eendag beveel dat daar so'n tempel moet wees waarin vir Hom offers gebring word.

Hoe kan nou 'n profeet namens dieselfde God sê: Maak toe die tempel! Baie vreemd eintlik.

Sê nou ek as predikant sou vir u so 'n preek versorg:

Gaan maar weer huistoe, brs en srs! sns en dgtrs!

Dit is nie meer nodig om hier te kom nie. Julle kan maar beter wegbly. Koster, jy kan die kerkdeure maar sluit sodat niemand meer kan inkom nie.

'n Snaakse prediking. En tog is dit presies wat hier staan.

U sal verstaan dat daar heel wat gaande moet wees as namens die Here so'n boodskap aan die gemeente bekend gemaak moet word.

Maar dit is dan ook die geval. Daar is baie verkeerd in Jerusalem op daardie oomblik.

Die Here het in die eerste verse van Maleagi sy liefde betuig aan die volk.

Hy het hulle verseker: Ek het julle lief, as volk van Israel.

Hierdie armsalige groepie mense wat daar rond Jerusalem bly. Hulle is sy volk Israel. Die volk van Sy verbond.

Terwille van Sy Naam het Hy hulle steeds weer verlos. Niemand sal kan sê dat die Here wel planne met 'n volk gemaak het, maar dat Hy uiteindelik tog nie in staat was om sy planne te verwesenlik nie.

Nee, Jakob het Ek liefgehad.

En daardie liefde het die Here steeds weer daartoe gebring om voort te gaan met sy volk. Hy het sy liefde steeds weer bewys.

Verlede week het ons gesien dat daardie liefde heeltemal van God uitgaan. Dit beteken egter nie, dat dit vir Hom nie saak maak of sy liefde ook beantwoord word nie.

God soek namelik op sy liefde altyd 'n antwoord. 'n Antwoord van wederliefde!

Maleagi mag aan God se volk sy liefde verkondig, maar met die belofte kom ook 'n eis saam. Want nou verwag die Here dat jy jou hart ook aan Hom oorgee. Jy moet so bly wees met sy liefde dat jy uit jouself graag iets wil gaan doen. Jy wil reageer op die liefdesboodskap van God.

Dit is al wat liefde verwag. Dat met liefde en dankbaarheid gereageer word.

En juis daar het dit heeltemal verkeerd gegaan met die volk Israel na die ballingskap. Na die terugkeer is wel die tempel herbou en die tempeldiens herstel.

Maar nou, 100 jaar verder, is van die liefde en geesdrif van die begin niks meer oor nie.

Die tempel is nog daar. Die tempeldiens word in gang gehou, maar dit is al. Die verpligte offers word wel gebring en die voorgeskrewe gebede uitgespreek.

Maar vir offerdiere word blind, lam en siek diere gebruik.

Met as redenasie: Hulle word in elk geval verbrand, dus dit maak nie saak nie.

Dit is kenmerkend vir heel hul diens aan die Here.

Hulle bring hul offers, maar dit is nie meer offers nie. Dit mag nie geld kos nie!

Dit is nou 'n goedkope godsdienstigheid!

Die Here kry sy offers! Hy moet maar tevrede wees!

Ons gee vir Hom wat Hy vra. Nou moet Hy sy deel maar doen en vir ons die seëninge van die verbond gee.

Ons het nou reg op sy bystand in die lewe.

Wel, teen daardie houding, daardie dinkwyse van sy volk protesteer die Here. Want dit is omkering van alle verhoudings.

So was dit mos glad nie die bedoeling van die Verbond nie!

Die verbond is nie 'n ooreenkoms waarin die Here vir sy dienste betaal word nie!

Asof jy met 'n offer die guns van die Here moet koop!

God se liefde is nooit te koop nie.

Hy sit tog nie en wag op 'n paar offers nie. Hy wag tog nie vir 'n gebraaide stuk vleis en 'n paar liter bloed nie.

Wat dink julle van Hom?

Die feit alleen al dat hulle dink dat hulle deur middel van 'n offer iets aan God kan vergoed is 'n bewys dat hulle van die aard van die Verbond niks verstaan nie.

Immers alles wat God in die Verbond skenk is genade. Hy betoon sy liefde, maar daardie liefde is op geen enkele wyse te koop nie. Hy gee dit maar net gratis vir sy volk. Seker, vir daardie liefde moet wel betaal word, maar nie deur hulle nie, en seker nie deur hul offers nie. Maar slegs deur die offer van God se eie Seun Jesus Christus.

Met die oog daarop is heel die O.T. offerdiens ingestel. Die offers was bedoel om die werk van Jesus Christus af te beeld. Die offers moes die belofte van die koms van die Messias wat die eintlike offer sou bring lewend hou.

Die offers moes wys na die Lam wat God eendag sou gee ter versoening van die sondes, tot verlossing van die volk.

Gesonde, gawe offerdiere moes die werk van die vlekkelose en sondelose Lam predik wat vir die sondes van die volk sou sterwe.

Maar wat het Israel daarvan gemaak?

Die offers is ons betaling vir die voorregte wat ons in die verbond ontvang. Dit is ons bydraes tot ons heil. Ons het nou reg op die seëninge van die verbond.

Wel, met so'n houding slaan hulle juis die basis onder die verbond weg!

Deur dan ook nog met gebreklike diere te kom toon hulle dat hulle die Here nie hoog ag nie.

"Hy het wel gawe diere geëis, maar ag, 'n bietjie minder kan ook wel.
Die Here sal nie agterkom nie.
Daarvan sal Hy niks sê nie. "

Dit is 'n houding wat die Here siedend maak.

Na al sy liefdebetoon so'n reaksie.

Wat maak Ek met so'n volk?

Julle weet glad nie meer dat julle van genade lewe nie.

En waar is die dankbaarheid? Noem julle dit dankbaarheid, siek en lam diere waarmee 'n mens tog verder niks kan aanvang nie, dit is goed genoeg vir die diens aan die Here!?

As julle so offers wil bring, bring dan maar liewers geen offers nie!

Sluit asseblief die tempeldeure!

Maak die altaarvure maar dood.

Beter geen godsdiens as so'n godsdiens.

Gemeente, vandag ken ons baie van hierdie tipe godsdienstig-heid in die wêreld. Mense kom gewoonlik mooi reg sonder God.

Natuurlik moet jy wel jou kinders laat doop. Jy is nie 'n heiden nie. As jy trou, trou jy uit die aard van die saak in die kerk. En die dominee moet maar 'n mooie gebed doen vir die huwelik. Ja, en by 'n begrafnis moet ook gepraat word van beloftes van ewige lewe.

Wel, dit is nou goedkope godsdienstigheid.

Jy vra net na God en sy dienaars as jy Hom nodig het.

Dit is eerder godsdiens uit eie belang.

Meer eiediens as erediens.

Dit is nou miskenning van die Naam van God.

Maar laat ons nou veral nie dink dat sulke godsdienstigheid net in ander kerke of by ander mense voorkom nie.

Jy kan kerktoe gaan en vir die oog saamdoen. Jy voldoen aan 'n aantal religieuse verpligtings, maar jou hart bly leeg en koud vir die Here.

Om te sien is alles reg, en tog is jy nie werklik betrokke nie.

Jy kan praat oor verbond en kerk en oor die verval van die wêreld, en inmiddels oproepe tot bekering aan jou rustig langs jou neerlê.

Dan word jou godsdiens 'n leë dop. Dit het geen inhoud nie. En as daar een of ander storm oor jou lewe kom, word jy sommer omvergeblaas.

Let op u self, brs en srs, leer God ken as die Verlossende God.

Leer Hom ken as die God wie se liefde na jou uitgaan.

'n Liefde waarvoor Hy groot offers gebring het.

En besef dan dat dit genade is dat die verlossing na jou toegekom het.

2. Hoe die Naam van God as Verlosser deur die volke erken word

"Want van die opgang van die son tot aan sy ondergang toe is My Naam groot onder die heidene; in elke plek word tot eer van My Naam reukwerk gebring en 'n rein offer. "

Hierdie teks word soms so verklaar dat reeds op daardie oomblik heidene aan die God van Israel hul offers bring.

Die heidene ken Hom wel nie as die Here nie, hulle offer aan gode wat hulle self ontwerp het, maar tenslotte is elke vorm van diens aan die God van hemel een aarde 'n saak waaroor God Hom verbly.

Op so'n manier word hierdie teks 'n bruikbare woord vir mense wat graag wil beweer dat alle vorme van godsdiens eintlik maar dieselfde is. Elkeen dien God op sy manier maar as die bedoeling reg is dan beskou God dit as waardevol.

Tog kan hierdie uitleg beswaarlik aanvaar word.

As ons bedink hoe skerp afkeurend Maleagi praat oor huwelike met heidense seuns en dogters dan is dit onmoontlik dat hy hier so maklik enige offerdiens deur heidene sommer beskou as erediens aan die Here.

Nee, Maleagi profeteer hier van die toekoms. So sal dit word!

En dit hou hy hier aan Israel voor asof dit reeds so is.

Tot op daardie stadium is Israel nog die enigste volk wat God se Naam as Verlosser van die lewe ken, maar daar sal 'n tyd kom dat al die volke met daardie Naam gekonfronteer sal word.

Die Here Jesus Self sal daarvoor opdrag gee by sy hemelvaart.

Gaan heen, maak al die volke tot my dissipels en doop hulle in die Naam van die Drieënige God.

In elke plek word tot eer van My Naam reukwerk gebring.

In elke plek- dan is dus die tempel van Jerusalem nie meer nodig nie.

Vanaf die Pinksterdag is enige plek goed genoeg om die Naam van die Here aan te roep. Om in 'n gebed die Naam van die Here groot te maak.

Alle volke kan kom tot die Koninkryk van God.

Almal sal Hom as Verlosser erken en eer.

Dit beteken, in hierdie teks mag ons al iets hoor van die ryk toekoms waarin eendag oor heel die aarde die Naam van die Here as Verlosser aangeroep sal word.

'n Wonderlik toekomsperspektief dus.

Maar een ding moet ons nie vergeet nie.

In die konteks van Maleagi het hierdie profesie 'n dreigende klank. Dit is 'n bedreiging vir Israel.

Hulle is die volk van Sy liefde. (sien eerste verse van Maleagi). Maar as daardie liefde nie beantwoord word nie, dan gaan God aan hulle verby. Uitverkore volk of nie.

Maar die Here sal nie altyd met veragting van sy altaar genoeë bly neem nie. Hy sal die veragting van sy Naam nie vir altyd aanvaar nie. Eendag kom aan sy geduld 'n einde.

As julle aan My die eer as Verlossende God bly onthou dan sal Ek op 'n ander plek daardie eer ontvang.

Ek het met julle begin Ek het My eers onder julle 'n Naam verwerf deur die lang geskiedenis wat Ek met julle gegaan het.

Maar Ek het julle nie nodig nie.

God kan uit klippe vir Abraham kinders verwek, sal Johannes die Doper later sê.

God kan uit heidene kinders van Abraham roep en onder hulle 'n Naam maak as die God van Verlossing.

So het dit ook gegaan, gemeente.

Toe Israel die Lam van God verwerp het, het God 'n pad gebaan na die heidene, na die nie-Jode.

En so het Hy ook na julle soos julle hier vandag in die kerk sit, toegekom.

As die nuwe volk van Sy Verbond.

Of: as die volk van sy nuwe verbond.

Nou is julle die voorwerp van sy groot liefde.

Die Here hou nie op om dit vir julle te betuig nie.

Ek is die Here, julle God,

My liefde gaan uit na julle.

Daarom verwag ek die offer van julle hart. Nie meer nie. Nie minder nie.

As 'n offer van dankbaarheid.

Offer uself met u hele hart. Sonder reserwe.

Kom nie aan met 'n halwe offer nie.

'n Halwe offer is jou lewe so 'n bietjie christelike voorkoms gee en verder glo jy dit wel.

Gemeente laat ons onsself vandag weer beproef of ons werklik ons hart aan die Here wil wy.

As julle dit doen dan word dit vanself sigbaar. In die manier waarop jy met jou geloof omgaan. In die manier waarop jy jou broeders en susters benader.

Laat ons dit sigbaar maak in die omgang met mekaar.

Om alleen met 'n paar vriende uit die kerk om te gaan en dink dat jy daarmee jou deel in die gemenskap van die heiliges verrig het, is die offer van 'n blind dier. Dit kos vir jou niks nie.

Om rustig jou lewensstandaard te handhaaf en as daar geld nodig is vir 'n kerklike doel sê jy: Jammer, ons kan ongelukkig nie saamdoen nie. Alles is klaar op. Hier 'n fooitjie. Dit is die offer van 'n siek bees.

'n Slordige kerkgang, om maklik weg te bly van tal van aktiwiteite in die gemeente, kortom al die halfheid in die lewe met die Here, dit is die offer van minderwaardige diere.

Nee, met al die sake wat ek hier opsom, hoef 'n mens werklik nie sy saligheid te verdien nie. Gelukkig nie. Maar dit gaan om die vraag, kan ons nog leef uit dankbaarheid?

Werklike dankbaarheid vir God se groot liefde teenoor ons?

Leef die dankbaarheid by jou? Wel, wys dit dan! En gee aan God die eer!

Want onthou dit: die dreiging van vers 11 van ons teks geld vir ons ook. God het ons tenslotte nie nodig nie. Hy kan sonder ons.

Maar wees bly: Hy wil met ons.

En daarom mag ons ons elke dag weer bekeer tot dankbaarheid.

Die Here roep vir Homself 'n volk wat sy Naam vir ewig wil eer.

Die Naam van die Here is groot.

Gelukkig is jy, as jy mag leef in die lofprysing van Sy Naam!

Amen.

Liturgie: 

Voor diens: Ps 39: 1, 2, 3
Ps 100: 1, 2, 3
Ps 100: 4
Ps 50: 4, 5, 6, 7
Ps 99: 1, 2, 3, 4, 5
Lees: Maleagi 1
Teks: Maleagi 1: 10, 11