God se laaste appel op Israel die volk van Sy liefde

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Maleági 1
Preek Inhoud: 

Geloofsbelydenis Clara v d Vinne

Ps 80: 1-4
Ps 73: 1, 2, 6
Ps 148: 2, 4, 5 (in beurtsang srs, brs, almal)
Lees: Maleagi 1
Teks: Maleagi 1: 1-5

Geliefde gemeente,

Ons het vanoggend\vanmiddag 'n teks uit die boek Maleagi. Uit die laaste boek van die O.T.

Dit is nie toevallig dat hierdie boek as laaste afgedruk staan nie. In die geskiedenis van die profesie in Israel is Maleagi ook die laaste profeet wat optree onder die volk.

Hy leef ongeveer 400 jaar voor die geboorte van Jesus Christus.

Na hom sal geen profeet in Israel meer sy mond oopmaak nie. Die tyd van direkte godsopenbarings deur middel van profete kom tot 'n einde met Maleagi.

Die volgende direkte openbaring vanuit die hemel kom eers vierhonderd jaar later. Dit is wanneer die engel Gabriel vir Sagarias die a. s. vader van Johannes die Doper 'n boodskap het.

Die Here het gedurende talle eeue die volk Israel met die profetiese woord begelei. Maar na die optrede van die profeet Maleagi sal dit 'n hele paar eeue stilbly.

In die stilte wat kom sal die woorde van Maleagi nog lank moet bly naklink. Vir die laaste keer moet Maleagi die volk herinner aan die Verbond.

Nog een keer moet hy God se verbondsbeloftes en sy verbondseise aan die volk voorhou.

Want aan die volk moet vir oulaas duidelik gemaak word hoe die Here slegs in die weg van gehoorsaamheid al sy beloftes waarmaak.

Met name die grootste belofte van die Verbond, die belofte waarom alles altyd gegaan het, die koms van die Messias. Die Messias kan slegs dan kom waar 'n volk biddend uitsien na sy koms.

Om die volk ryp te maak vir die Messiasverwagting soos God dit wil sien, moet Maleagi sy prediking begin daar waar elke verbondsprediking moet begin.

By die evangelie van die verlossing!

Maleagi sal die volk aanspreek oor 'n hele paar konkrete sondes, maar voordat hy dit doen verkondig hy eers die blye boodskap van God se liefde vir 'n volk wat in sonde ontvange en gebore is.

Ons tema vir die preek van vanoggend is:

God se laaste appel op Israel die volk van sy liefde

  1. Hy betuig sy liefde
  2. Die volk betwyfel sy liefde
  3. Hy bewys nogmaals sy liefde

Gemeente, wat is die geheim van 'n goeie preek?

Met 'n goeie preek bedoek ek 'n preek waaraan 'n mens werklik iets het. Wat jou lewe beinvloed ten goede.

Is dit dat die preek 'n heldere, interessante Skrifverklaring moet bied? Dit is wel belangrik, maar 'n goeie verklaring van 'n bybelgedeelte is nog 'n goeie preek nie.

Is dit dat die preek 'n deurlopende kommentaar moet gee op die koerantberigte van die verbye week?

Nee, die geheim van 'n goeie preek lê in iets anders. 'n Goeie preek is 'n preek waarmee 'n mens in die situasie waarin hy is iets kan doen.

Nadat jy die preek gehoor het, het jy 'n ander kyk op sake gekry. Met name op jou eie lewe en die probleme daarin.

Kort gestel: 'n goeie preek is 'n preek wat 'n mens aanspreek in sy konkrete situasie.

Omdat 'n prediker 'n hele groep verskillende mense aanspreek, moet die preek ook meerdere elemente bevat. Jy moet die groep as groep aanspreek, maar dan tegelyk so dat elkeen persoonlik daarmee ook iets kan doen.

Daarom is elemente van vermaning, vertroosting en bemoediging nodig in elke preek.

Elkeen kan dan in sy eie situasie die preek spesifiek toepas.

Kom ons luister na Maleagi. Hy lewer 'n soort preek.

'n Heel konkrete preek.

Maar as ons wil verstaan wat hy presies bedoel moet ons 'n bietjie weet van die mense tot wie hy praat.

Ons het al genoem, Maleagi tree op ongeveer 400 jaar voor die geboorte van Jesus Christus.

Die volk Israel bevind hom dan in die volgende situasie.

So'n 200 jaar eerder is die hele volk uit die land verwyder. Die ballingskap. (ongeveer 600 voor Christus)

Al die bewoners van Israel is toe onder dwang na Babel weggevoer. Daar moes hulle maar 'n nuwe bestaan begin.

Nou weet ons ook dat 70 jaar na die begin van die ballingskap 'n klein groepie Israeliete van koning Kores toestemming gekry het om na Jerusalem terug te keer en daar weer die tempel te herbou. Later het druppel -druppel nog meer gekom.

Maar in die tyd van Maleagi is dit laaste ook al weer honderd jaar gelede.

Inmiddels het van die hele herbouery van die tempel nie soveel tereggekom nie. Die tempeldiens wat eenmaal vol dankbaarheid herstel is, het steeds meer agteruit gegaan. Die priesters wat aangestel is het blykbaar nie 'n hoog ampsopvatting gehad nie.

Hulle maak 'n gemors van die offerdiens.

Blykbaar is daar ook geen punt meer van gemaak dat seuns en dogters 'n huweliksmaat kies wat heidense afgode dien. En daarmee lyk die prentjie maar bitter somber vir die diens van die Here.

Die mense wat nou daar in Jerusalem leef het persoonlik nie die wonderlike ervaring van die terugkeer uit Babel meegemaak nie.

Hulle het nog wel die godsdiens van hulle ouers oorgeneem maar dit is meer uit respek vir die tradisie dan dat dit 'n lewende geloofsoortuiging is.

In die tradisionele godsdiensuitoefening het hulle dit vir hulle self so gerieflik as moontlik gemaak. Hul ywer vir die diens van die Here is bitter klein. Hulle offer nog wel, maar ag, dit werk net so goed met 'n gebreklike dier. Hy moet mos tog geslag word.

Die priesters doen nog wel diens in die tempel maar maak nie meer 'n punt van onderwysing van die mense in die wet van die Here nie.

Dit is die situasie wat betref hul diens aan die Here.

Hulle weet nog wel van beloftes van God, maar ag, wat sien hulle nou van seën van die Here. Alles gaan nou maar verkeerd. Daar is misoeste en sprinkaanplae. Vyande bedreig hul besittings wat hulle met soveel moeite verwerf het.

Onder dit alles het hulle moedeloos geraak.

Die diens van die Here lewer in elk geval niks vir hulle op nie. Al hul gebede en offers het ook al niks gehelp nie, met as gevolg dat hulle hul in die opsig nog minder inspan.

Die lewe met die Here versand in alle opsigte.

Wel, brs en srs, in die uitsiglose situasie van moedelose mense stuur die Here Maleagi.

En let dan op die eerste woord: 'n Godspraak.

Lees daaraan asseblief nie verby nie. 'n Godspraak. Dit is: Die Here spreek weer!

Na al die jare kom Hy weer na hulle toe. Hy stuur Maleagi. Daardie naam beteken: My boodskapper!

God is nie dood nie. God is nie ver nie. Maar Hy spreek. Hy roep 'n dienskneg om sy boodskap vir hierdie moedelose mense oor te bring.

Die woord van die Here aan Israel!

Weer so'n inhoudryke uitdrukking waaraan ons sommer maklik verbylees.

Aan Israel!

Beluister hierdie woord in die situasie waaroor ek vir u vertel het.

Daar bly so 'n klein groepie Jode in die ou stad Jerusalem. Laat ons sê so ongeveer 10000 mense. In elk geval 'n bitter klein restant van wat eenmaal die volk Israel was.

'n Laaste res. 'n Oorblyfsel.

En seker nie 'n vitale oorblyfsel nie. Ons het al gehoor hoe min die diens van die Here nog vir hulle beteken.

Maar hoor nou: Die Here spreek juis hulle aan as Israel.

'n Erenaam.

'n Naam waaraan van oudsher groot beloftes verbonde is.

Israel, dit is die volk van die verbond.

Israel, dit is die draer van die Messiasbelofte.

Hy het 'n woord vir sy volk. Ons raak nuuskierig watter woord.

Ek het julle liefgehad! sê die Here.

In die Nuwe Vertaling: Ek het julle lief.

Dit is nie minder as 'n liefdesverklaring nie.

'n Onvoorwaardelike liefdesverklaring.

Aan ons liefdesverklarings is dikwels 'n voorwaarde verbonde. Ek hou van jou as jy ook van my hou. Of: Ek hou van jou as jy dit of dat vir my doen.

Ek hou baie van jou, as jy die opwas vir my doen. Of soiets.

Dan is jou liefdesverklaring dus iets voorwaardeliks die ander moet dit deur 'n daad in vervulling laat gaan.

Maar so doen die Here nie.

Hy sê onvoorwaardelik: Ek is lief vir julle.

Ek hou van julle.

So was dit altyd al en so is dit nog steeds.

Dit was liefde van God wat Hom daartoe gebring het om die volk Israel te verkies. Dit was liefde van Hom om met hulle 'n verbond aan te gaan.

Hierdie liefde het niks met die aantreklikheid van Israel of Israeliete te doen nie. Nee hier die liefde kom heeltemal voort uit God self. Dit was 'n uitgaande liefde van sy hart.

Hy het dit verkies om hierdie volk lief te hê.

Net omdat Hyself dit so wou gehad het.

Ons sal nou nou sien dat volk geneig is om teenoor God te kla. Maar die Here sny eintlik al van te vore hul klaagsang af met hierdie liefdesverklaring.

Ek het julle lief.

Dit was altyd al so en dit is nog so.

Gemeente, die mense tot wie dit gesê word, het hierdie woord nodig.

Hulle ken wel die verhale van uittog en intog. Hulle weet van die ingrype van die Here vir sy volk. Maar hulle het daarmee self geen ervaring nie.

Hulle sal sê: Ja vroeër, toe het u liefde steeds geblyk. Toe het u steeds reddend ingegryp.

Maar wat van ons?

En daarmee is ons aan ons tweede punt:

2. Sy liefde word deur die volk betwyfel

Ek het julle lief sê die Here.

En dan volg daar van die kant van die volk 'n teëwerping:

O ja? Het u vir ons lief? En waaruit blyk dit dan?

Waarin het u ons liefgehad?

In die verlede van Israel, ja. Hulle ken die roemryke geskiedenis van die land en volk. Toe het die liefde van Gd vir sy volk keer op keer geblyk.

Maar doen die Here dit ook vir ons? Hoe het u ons dan lief?

Waarin het u ons liefgehad? In hierdie vraag hoor u die teleurstelling van daardie mense.

Na die ballingskap sou 'n nuwe lewe begin. Hulle het groot verwagtings gehad van die toekoms van Israel. Daar was mos nog altyd beloftes van die Here.

Maar tot nou toe is daarvan niks te sien nie.

Hulle hoor wel dat Maleagi vir hulle 'n blye boodskap probeer verkondig: Die Here se liefde gaan uit na julle!

Maar dit klink vir hulle as 'n sinlose kreet.

Evangelie? Vir ons? Wat help dit? Die harde werklikheid is mos heeltemal anders. Ons sien van God se liefde nie so baie nie.

So'n boodskap is moontlik wel mooi, maar dit help nie juis in ons situasie nie.

Gemeente, is dit nie ook 'n springlewende en kwellende vraag van ons tyd nie?

In die wêreld is daar 'n vreeslike nood in tal van opsigte.

Dit is ongelooflik wat mense mekaar kan aandoen.

Wat help dit om in so'n wêreld te verkondig dat God liefde is?

Is daar nie teveel gaande in die wêreld wat die waarheid van so'n boodskap juis ontken nie?

Waar is God as mense mekaar vermoor?

Waar is God as mense in Afrika by die honderdduisende doodgaan van honger? Wat van sy liefde?

Dit is nie eenvoudige vrae nie, brs en srs. In elk geval geen vrae waarop 'n mens in staat is om regte antwoorde te gee nie.

Ons het saam met Job agtergekom dat God se majesteit ver uitgaan bo ons begripsvermoë.

God is liefde. Seker so sê die Bybel dit. Maar vergeet nie dat die Bybel ook praat van toorn van God wat nou reeds openbaar is, oor sonde en ongeregtigheid van mense. God se dag sal kom dwarsdeur allerhande gerigte heen. En ons moet ons daaronder maar liewers verootmoedig.

Trouens ons hoef nie net vrae te vra oor die liefde van God as ons kyk na die wêreld nie.

Ook in eie lewe of in die lewe van ons broers en susters kan dinge gebeur waardeur ons skielik begin worstel met die vraag, wat van God se beloofde liefde vir ons?

Dan kan ons elke sondag hoor: God het jou lief! Maar terwyl dit gesê word, spring onmiddellik die vraag in ons hart op: Ja maar, wat sien ons daarvan in ons lewe?

As God my werklik liefhet, hoe kan Hy my dit aandoen?

Het Hy my eintlik wel lief?

Hoekom maak Hy dan so?

Ja hoekom?

Verstaan u dit is dieselfde as wat die volk in Maleagi se dae gevra het. Wat help ons die versekering van God se liefde as ons dit in die praktyk van die lewe nie merk nie?

Maar ook dan word ons terugverwys na hierdie versekering van God.

Ek het jou lief.

Jy is my kind. Ek het met jou 'n verbond gemaak. En ek sal daarin nie verander nie.

Dit is nou regtig pastorale prediking van Maleagi.

Teenoor die twyfelende en moedelose Israeliete sê hy namens die Here: Ek het julle lief.

Die boodskap mag aan die volk van God teen alle feite van die dag en teen alle lewenservaringe in steeds weer verkondig word.

Ek het julle lief. Ook vandag word dit vir u namens die Here self verkondig: Ek het julle lief! Glo dit. Hou dit vas!

3 God bewys nogmaals sy liefde.

Die volk het die Here met hul klagte seergemaak. Maar vol liefde gaan Hy in op die klagte.

Op die twyfelvraag, waarin sien ons dan die liefde van God gee Hy die volgende antwoord: Is Esau nie die broer van Jakob nie?

Gemeente, alleen al in hierdie vraag gaan daar 'n wêreld oop.

Jakob en Esau. Twee seuns van Isak. Was Jakob die stamvader van Israel beter as Esau?

Het Jakob meer reg gehad op God se liefde as Esau?

Ag nee, eerder die omgekeerde.

Esau was wel nie 'n vrome een nie, maar hy was darem tenminste eerlik. Dit kan jy van Jakob nie sê nie.

Het Jakob 'n beter lot verdien as Esau? Nee glad nie.

En tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau gehaat.

Jakob was my uitverkorene. Hy het die groot seën van die Verbond ontvang. Op hom het die belofte oorgegaan dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sal word.

Maar Esau het Ek gehaat. Esau val buite die seën van die verbond.

Origens ook deur eie skuld. Die Here het vir Esau gesê dat hy hom moes onderwerp aan Jakob, dan sou ook sy nageslag in die seën deel. Maar dit het Esau geweier.

Hy of sy nakomelinge hulle onderwerp aan Jakob? Nooit.

En so kies Esau. Hulle was 'n broedervolk van Israel, maar hulle word een van die grootste vyande.

As God die nakomelinge van Jakob van Egipte na Kanaan wil bring doen die kinders van Esau, die Edomiete 'n poging om dit te keer.

As later God die volk Israel in ballingskap voer dan staan die Edomiete langs die pad en lag.

Juis daaroor het die toorn van die Here gekom. God het toe Edoms gebergte tot 'n wildernis gemaak. Sy erfdeel is aan die jakkalse van die woestyn prysgegee.

Op die oomblik dat Maleagi die volk aanspreek lê Edom nog steeds heeltemal verwoes. Israel kan dit sommer vasstel.

God het sy haat oor Esau duidelik gewys.

Nou vra ons ons af, wat wil die Here daarmee sê?

Die antwoord is dit: God sê, kyk tog 'n slag na Esau en sy nakomelinge. Ek het tog vir julle gesê, Esau haat Ek, Esau het Ek nie verkies nie!

Maar Ek het julle verkies.

Israel kan op hierie oomblik vergelyk word met 'n kind wat ontevrede is oor sy behandeling deur sy ouers. En dan neem die vader sy kind 'n slag saam en sê: Kyk nou net 'n slag buitekant.

Sien jy Edom se puinhope? Dit is die gevolg van My toorn oor hulle sondes.

Maar so het Ek met julle nie gedoen nie!

Kyk tog hoe bevoorrreg julle is! Besef 'n slag dat dit my liefde is wat julle tot hiertoe gebring het.

'n Mens kan dit nodig hê om weer eens 'n slag op die werklike stand van sake gewys te word. 'n Mens raak gou bederf deur voorrregte wat hy geniet. Hy begin sommer maklik kla oor allerhande dinge. Tot hy weer eens gekonfronteer word met nood by 'n ander of by homself. En dan skielik besef hy hoe min dankbaar hy was vir goeie dinge wat hy ontvang het.

So praat die Here hier teen Israel.

As julle jul oë eers oopmaak vir wat Ek in my toorn aan Esau aangedoen het, dan sal julle besef dat ek julle liefgehad het.

Dan sal julle weer die seën sien wat Ek aan julle bewys het.

My toorn het eendag ook oor Jerusalem gegaan. Toe moes Israel in ballingskap gaan. Maar in my liefde het ek julle die puinhope weer laat opbou. Die stad is herstel!

Die tempel is vernuwe!

En daarin het julle 'n onbetwisbare feit dat my beloftes aan Israel nog staan.

Ek wil eendag my Verlosser uit Israel gebore laat word.

Sien dit tog en prys my Naam!

Sê my na: Die Here is groot! Oor Israel, ja oor die hele wêreld blyk dit.

Groot is God se genade dat Hy sy verbondseën en beloftes gehandhaaf het oor sy volk.

En so gemeente, kom hierdie woord van Maleagi ook na ons toe.

Ek het julle werklik lief, sê die Here.

En as julle daaraan ooit twyfel, kyk dan tog wat Ek in hierdie wêreld gedoen het en doen.

Koninkryke kom op en gaan onder.

Heersers staan op en word weer afgevoer.

Maar in dit alles gaan Ek voort met My Koninkryk. Ek vergader my volk.

Israel is uit Egipte verlos. Want Jakob het Ek liefgehad!

Die belofte van die Messias is vervul. Want Jakob het Ek liefgehad!

Christus vergader sy kerk tot vandag toe. Daar was probleme en afval van die geloof, maar daar was ook weer reformasie en oplewing. Want Jakob het Ek liefgehad.

En so gaan God verder met sy volk.

Daar is nog een belofte wat vervul moet word.

Die wederkoms van Jesus Christus.

Sal ons nou aan sy koms begin wanhoop?

Nee, want Jakob het Ek liefgehad!

Mag ons dan net bly kla oor wat ontbreek aan ons geluk?

Nee, laat ons sien op God se werk in die geskiedenis en in ons eie lewe en laat ons dan erken, God laat nie los wat Sy hand begin het nie.

Laat ons elke verkondiging van die evangelie en elke prediking van sy belofte maar weer beaam met 'n lofprysing.

Groot is die Here oor Israel!

Groot is die Here oor die volk van sy liefde.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)