Die Here beloof die heerlike voltooiing van Sy heilige huis

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Sagaría 4
Preek Inhoud: 

PREEK VAN DS T DEKKER

Sagaria 4

Aanvangslied: Ps. 84: 1, 2
Na Wet: Ps. 84: 3
Skriflesing: Sagaria 3, Openbaring 11: 1-6
Na Skriflesing: Ps. 42: 1, 3, 5
Teks: Sagaria 4
Na preek: SB 24: 1, 4, 5
Slotsang: SB 24: 6, 7

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Ons noem die gemeente van Christus ook wel ‘n kandelaar.

As die kerk se lidmate min word en die selfstandige voortbestaan van die gemeente moeilik word, gaan ons tog nie so maklik tot opheffing oor nie.

Want dis ‘n slegte saak as "die kandelaar uit ‘n bepaalde plek weggeneem word".

Hierdie beeldspraak kom uit Openbaring 1. Die Here Christus het in sy heerlikheid aan Johannes op Patmos verskyn. Rondom Christus staan sewe goue kandelaars.

Tussen die kandelaars beweeg Hy rond van die een na die ander. Met liefde en aandag gaan sy oë daaroor.

Hierdie kandelaars is die sewe gemeentes. Hulle dra die lig van God se Evangelie soos ligbakens in die duisternis. Hulle straal met ‘n suiwer gloed tot eer van God.

In hierdie nagtelike visioen van Sagaria sien ons nou ‘n kandelaar van goud. Hier is die kandelaar die beeld van ‘n tempel, ‘n huis vir die Here.

En van dié huis sê die HERE in vers 9: "Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; .."

Dit gaan oor die heropbou van die tempel in Jerusalem, na die ballingskap.

Hierdie geskiedenis, broeders en susters, is nie net bedoel vir die kerk van die Ou Testament nie.

Dit is ook opgeteken vir die kandelaars van die Nuwe Testament, die gemeentes van Christus in die wêreld. Ook vir ons gemeente van vandag.

Alles wat vroeër oor die tempel gesê is: ‘God se woning; die plek waar die lig van God op die kandelaar skyn; die plek waar die versoening van God aan sy volk bedien word - dit alles geld nou ook van elke gemeente.

Julle, sê Paulus, is die huis van die lewende God. Julle word saam gebou tot ‘n tempel, heilig in die HERE, ‘n woonplek van God in die Gees.

En Petrus noem ons lewende stene, vir die bou van ‘n geestelike huis; ‘n priesterskap wat geestelike offers aan die Here moet bring.

As die Here hier vir Sagaria aantoon dat sy tempel weer in Jerusalem sal verrys, en nog wel as ‘n volmaakte kandelaar, dan is daarin ook vir ons ‘n belofte.

Want ons mag ook kandelaar wees. Maar voordat dit volmaak is, voordat Gods werk gereed is, moet daar nog ontsaglik veel aan ons gebou word.

So kom ons by die tema van die preek:

Die Here beloof die heerlike voltooiing van sy heilige huis.

  1. Hy bemoedig die swak tempelbouer;
  2. Hy roep op tot blydskap by die werk;
  3. Hy wys op die onuitputlike kragbron.

1. Broeders en susters,

Die profeet Sagaria het in sy vorige visioen gesien hoe die hoëpriester Josua met vuil klere voor die Engel van die HERE staan, terwyl die satan hom aankla.

Maar die HERE het Josua se ongeregtigheid weggeneem. Die vuil klere is van hom weggeneem en hy is met rein klere, feesklere, beklee.

Die diens van die versoening, wat deur die satan bedreig word, sal nie ophou nie, maar dit bly voortgaan; en die groot versoeningswerk van Christus begin sigbaar word.

Daarmee is die basis gelê vir dit wat noú volg.

As die sondes van God se volk versoen word, is ‘n lewe in die lig van God se genade weer moontlik.

Dan word God se volk gelei deur die lig wat nou verskyn het, ‘om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes’. (Lukas 1: 77)

Dan word hulle geheilig tot ‘n wandel in die lig; ligtende sterre in ‘n donker wêreld.

Die goue kandelaar van die Here Jesus Christus.

Maar ook in hierdie nuwe visioen van Sagaria gaan dinge nie sommer vanself nie. Nadat die Here eers die hoëpriester moes reinig, moet Hy nou aan die tempelbouer aandag gee. Dit was Serubbábel, die ander leier van die teruggekeerde volk. Ons moet hom maar ‘leier’ noem, want hy is nie die koning nie.

Serubbábel is wel die direkte afstammeling van die koningshuis van Dawid. Sy naam kom voor in die geslagsregister van Christus in Matthéüs 1. Hy het dus wel regte op die troon. Jerusalem is egter nog onder die gesag van die koning van Babel. En daar is geen kans om die gesag af te werp en die koninkryk vir Israel weer op te rig nie.

God se volk is gedesimeer, verarm en verswak.

Net ‘n oorblyfsel in feite, ‘n skamele res. ‘n Brandhout wat uit die vuur geruk is.

Serubbábel mag landvoog wees oor die oorblyfsel van Juda. Dit is sy taak om te doen wat Salomo vroeër gedoen het. Hy moet nl., net soos Salomo, ‘n tempel bou.

Maar die omstandighede is wel heeltemal anders as in Salomo se tyd.

Salomo was ‘n magtige koning wat tot ver oor die grense van die ou Israel geheers het. Die kosbaarste boumateriaal was vir hom beskikbaar: sederhout van die Libanon, goud uit Ofir, silwer van Tarsis; marmer uit die berge, koper uit sy eie myne.

Konings en stadhouers van die omringende lande het vir hom belasting betaal tot so ver as Arabië. Behalwe sy eie vakmense het tienduisende buitelanders as lasdraers en klipkappers vir hom gewerk.

Salomo se tempelbou het daarom ook voorspoedig verloop en die resultaat was indrukwekkend.

Maar wat van Serubbábel? Van al die mag en die moontlikhede in Salomo se tyd is niks oor nie. Nou moet daar met die mees eenvoudige materiaal gebou word.

Diegene wat die tempel van Salomo nog geken het sê nou: ‘dit lyk na niks nie’.

Selfs om te mág bou is Serubbábel van gunste van ander mense afhanklik. Elke keer weer is daar teenwerking en vyandighede van die mense in die omgewing. Die werk het jarelank stil gelê omdat die plaaslike bevolking wantroue by die koning gesaai het.

Ook nou is daar weer slegte briewe na koning Darius gestuur.

Tempelbou, in hierdie omstandighede, lyk na ‘n onmoontlike taak.

Maar dan wys die Here vir Sagaria in ‘n visioen ‘n pragtige toneel. Iets wat vol bemoediging is vir Serubbábel en sy volk: ‘n Skitterende kandelaar van suiwer goud, ‘n volmaakte kandelaar wat volop in bedryf is.

Sewe lampe straal die lig na alle kante. En as een van die nuutste verklarings reg is, is dit selfs sewe maal sewe flonkerende ligte.

Dit is trouens nie so eenvoudig om te bepaal hoe die kandelaar presies gelyk het nie. Wat Sagaria beskryf is moeilik om na te teken. Dit lyk na ‘n ingewikkelde konstruksie met allerlei verbindingspype tussen die lampe en die oliehouer. En dan is daar ook nog pype vanuit olyfbome na die kandelaar toe.

Die feit dat die hele konstruksie nogal ingewikkeld lyk kan ook die gevolg wees van die vertaling van hierdie gedeelte. Hier word terme gebruik wat maar min voorkom en waarvan die betekenis moeilik is om te verstaan..

Maar daarmee sal ons onsself in hierdie preek nie besig hou nie.

Een van die mooiste verklarings lui dat die kandelaar bestaan uit ‘n hoë staander wat aan die bokant oorgaan in ‘n ronde goue skaal. Op die rand van die goue skaal staan sewe olielampe. Volgens dié verklaring loop daar nou nie sewe pype na elke lamp nie, maar het elke lamp sewe brandende pitte. Dus 49 ligte in sewe groepe van sewe ligte.

Ons weet egter nie of die verklaring reg is nie en dit is ook nie so belangrik nie.

Maar daar is iets wat wel belangrik is. Dit is die manier waarop die lig gevoed word. Dít is wat Sagaria nie verstaan nie en telkens weer vra hy na die betekenis daarvan aan die engel wat met hom spreek.

Hy verstaan nie wat die betekenis van die twee olyfbome aan weerskante van die kandelaar is nie. Uit die olyfbome vloei die olie direk na die skaal en die lampe.

Ons weet almal wel dat die Israeliete olywe vir olieproduksie gebruik het. Olie vir allerlei gebruike, ook vir vertligting.

In Exodus 27 staan dat die volk suiwere olyfolie na die tabernakel moes bring, om die lamp van die Here onophoudelik te laat brand; die kandelaar in die heilige.

Aäron en sy seuns moes sorg dat die kandelaar elke aand gevul is, sodat dit die hele nag kon bly brand.

So het Israel ook in die nag die lig van die Here gehad. Altyddeur moes die lig bly skyn, selfs as die laer in die donker van die nag gehul was.

En die lig het vir Israel geleer dat hulle deur God gelei is. Deur ‘n lig wat álle duisternis sou verdryf. ‘n Lig waarby hulle die Here kon dien sonder om te verdwaal, ja, waarby hulle die Here moes dien sonder om dit deur eie versinsels te verduister.

Met ander woorde: die lig op die kandelaar het alles te doen met die lewe van God se volk. Met sy voortgang op die weg van genade; met sy vreugde in God en met sy heilige diens.

Waar lig is, is lewe, sê die kommentare; en by die Here is daar altyd lig.

Hierdie lig sien Sagaria nou weer op die kandelaar en hy verstaan wel dat dit in sy algemeenheid wil sê dat die lig van die Here, sy genadige openbaring, weer te midde van sy volk sal skyn. Ryk en vol sal dit uitstraal vanuit die nuwe tempel. Profetewoorde van vroeër gaan in vervulling.

Jesaje het vir ‘n gehawende Jerusalem gesê: " staan op, word verlig, want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Nasies sal na jou lig trek en konings na jou stralende opgang. Die Messias sal kom, lig tot openbaring selfs vir die heidene, en heerlikheid vir God se volk Israel."

En daar staan nou die kandelaar. Blinkend in die nag en dit beteken: dit kóm. Serubbábel sal nou die tempel weer bou en voltooi. Die lamp van God sal weer skyn in Israel.

Die beeld het ook betekenis vir die toekoms: Gods gemeente sal kom, uit al die volke van die wêreld. Ons sien hier die gemeente se begin en sy voortgang en sy volmaking: die suiwer glans van die goue kandelaar.

Dit beteken ook vir óns as gemeente van Christus ‘n belofte, broeders en susters.

Dat ook hier ‘n égte kandelaar mag staan. Dat ook hier ‘n lewende tempel mag groei, ‘n huis vir die lewende God.

‘n Gemeente waarin ons verlig word en waaruit ons die lig mag uitstraal. Deurdat ons bly en tevrede is met die lig van die genade, wat vir ons in Christus geopenbaar is.

Sodat ons steeds meer sal wandel in die lig; steeds meer en meer loskom van die sonde en van die sonde se verduistering.

Sodat ons steeds meer ons aan die Here sal oorgee, om Hom te vrees, Hom lief te hê en Hom te dien volgens sy Woord: om werklik ligtende sterre te wees.

En tenslotte, sodat ons eenmaal sal mag woon in ‘n nuwe Jerusalem, waar geen son en maan meer nodig is nie, want die heerlikheid van God self het hom verlig, en die Lam is sy lamp (Openb. 21: 23).

Maar ons sien ‘n enorme weerstand en moeite. In die eerste plek in onsself. Want ons is geneig om nie daarmee tevrede te wees om uit genade te lewe nie. En ons sukkel om onsself werklik in blydskap en dankbaarheid in God se diens te gee.

Ons kom agter hoe sterk ons deur die wêreld, met haar namaakligte, beïnvloed word. Deur die hoogmoedige wetenskap; die massahipnose in die media; die skreeuende ligreklames vir ‘n selfgesentreerde lewe, wat in werklikheid ‘n leë lewe is.

En dan sug ons: hoe sal ons ooit ligtende sterre kan wees?

Dieselfde moeite het Serubbábel met sy tempelbou gehad.

Maar Sagaria mag nou vir hom die betekenis van die olie gaan verklaar; van die oliestroom wat aanhoudend vloei en waarby geen mensehand betrokke is nie.

Dít is die Woord van die Here vir Serubbábel, sê die engel. En die woord is vervat in die beeld van die kandelaar. Dit is ‘n beeld wat spreek, dit bevat ‘n boodskap van God en dit sê: "Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare."

Dít is die bemoedigende betekenis van die kandelaar, gemeente. Ons het die swakheid en magteloosheid van die tempelbouer Serubbábel gesien. Sy eie gebrek aan krag en mag. Die gebrek aan entousiasme by sy eie volk en die dreigende vyandskap van die buurvolke. Die beklemmende mag van die wêreldryk.

‘n Berg van moeilikhede, waarby ‘n mens net nie verby kan kom nie.

Maar die Here sê: niks sal die werk keer nie, en niks sal dit laat misluk nie. Nee, dit sal voorspoedig voortgaan en gelukkig voltooi word.

Krag en mag, soos in die geval van Salomo het jy nie, Serubbábel, maar jy het dit ook nie nodig nie. My Gees, dit is die energiebron en deur Hom sal dit geluk.

Daarom kan daar ook so uitdagend geroep word: "Wie is jy, groot berg?" Wie is jy, mag van die wêreld, en van die geweld van die vyand? Ja, wie is jy, sondige weerstand in die hart van God se volk?

Voor Serubbábel word die berg weggevee, tot ‘n gelykte word dit gemaak.

Vir die Gees van God is dit nie te moeilik nie. En die dag kom dat Serubbábel die huis sal voltooi. Hy sal die sluitsteen opneem en op sy plek invoeg, onder die gejuig van Gods volk: "Genade, genade oor hom."

Dit is ook aan Serubbábel vervul, broeders en susters. Hy het dit ondervind.

Op ‘n wyse wat hy nooit voorsien het nie, is die pad vir hom oopgemaak.

In antwoord op die briewe van hulle wat die werk wou verhinder, het koning Darius geskrywe dat die bou van die huis onder geen voorwaarde gehinder mag word nie. En terseldertyd gee hy opdrag om die tempelskatte, wat vroeër geroof is, aan die volk terug te gee.

Ja, selfs die ryksbelasting sal gebruik word om die noodsaaklike middele beskikbaar te stel vir die vervulling van die diens in die huis.

Aardse middele, seker, maar hulle kom beskikbaar dank sy die Gees van God, wat die harte van konings neig soos waterbeke.

Ja, die Here het sy almag op ‘n indrukwekkende wyse vertoon. Maar die belofte was daarmee nog nie uitgeput nie. Onkeerbaar en magtig het die Gees verder gewerk. Die Lig van die wêreld het opgegaan. In die donker velde van Efrata is daarvan gesing. Dit het Kersfees geword, en daarna Paasfees en Pinkster.

En die opdrag tot tempelbou het weer gekom. Weer na swak mense. Apostels is uitgestuur, sonder swaard en sonder beurs. Evangeliste het gevolg, en herders en leraars; profete en oudstes.

Christene en christinne is ingeskakel om te bou aan die huis van die HERE, sy uiteindelike woonplek, die gemeente.

Nie een van hulle het mag of krag in hom- of haarself nie. Berge van moeilikhede is daar genoeg. Ja, selfs te veel.

Ongeloof en spot van die wêreld. Magsvertoon en intimidasie, vervolging en verdrukking.

Maar ook die taai krag van die ou mens, die geweld van die sondige vlees in onsself.

Maar ons mag onsself meer as Serubbábel bemoedig weet. Want die ware Seun van Dawid het gekom: God se Seun in die vlees. En Hy het die lewendmakende Géés vir ons verwerf. Die Gees, wat onoorwinlik is en wat die wêreld oortuig van sonde, van geregtigheid en van oordeel. Die Gees wat die geloof werk en die wedergeboorte.

Ja, Hy is die tempelbouer in die Naam van Christus. Hy is die goud van die kandelaar en die olie vir die lig. Voor Hom word berge vlak en seë droog. En deur al hierdie dinge kom die werk klaar: God se woonplek in die Gees.

Daarom is die visioen van Sagaria ook nou nog vol bemoediging. Vir ampsdraers in die gemeente, wat soms moedeloos word. Nie net vanweë al die moeites nie, maar ook as gevolg van eie swakheid.

Ook vir die gemeente self, want almal is medewerkers, sê die Skrif, almal konings en priesters. Maar ons mis almal die krag om te wees wat ons mág wees. Ons is nie in staat om onsself en ons kinders as lewende stene in die huis van God in te voeg nie. Ons is nie in staat om met mekaar ‘n kandelaar te wees, wat die lig van die openbaring laat uitstraal tot eer van God en tot heil van ons naaste nie.

Maar ons het hierdie belofte - en die belofte is in die bloed van Christus verseël -:

" Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Géés".

En daarom kan ons tog altyd weer verder, en ons kan altyd weer laat ingeskakel word, en ons begin vrugte van die geloof voort te bring. Ja, ons, julle en ek. Want die belofte van die Gees, en dit moet julle goed besef, broeders en susters, die belofte skakel ons nie uit nie. Dit is juis vir ons gegee om ons in te skakel in die werk van die Here.

En ons sal met blydskap in hierdie werk ons plek innneem.

Dit is die boodskap van ons tweede punt.

2. Die Here roep op tot blydskap by die werk.

In vers 8 kom die Woord van die HERE opnuut na Sagaria. Dit bevestig wat eintlik al gesê is: "Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het."

Let op die hande van Serubbábel. Dis werksame hande, en hy skaam hom nie om hulle te gebruik nie.

Wat doen die hande eintlik?

Hou hulle ‘n koninklike septer vas? Is hulle bevélend uitgestrek?

Niks daarvan nie. Hulle doen nederige werk. Hulle dra die boustene aan, en hulle hou ‘n skietlood vas.

Die koningsseun doen die werk van ‘n messelaar en ‘n timmerman. Die mense vind dit maar ‘n vernederende besigheid: ‘n prins met ‘n skietlood in sy hande. En hulle kan ook afkeurend neerkyk op dit wat met die skietlood gedoen word. Want wat beteken die patetiese bousel nou eintlik. Moet dit God se heerlike tempel word? Samaritane spot daarmee, en eie volksgenote staan treurig en kyk - hulle is nog daar, die manne wat die eerste tempel geken het. Wat hier gebou word is soos niks in hulle oë.

Maar die HERE sê: " .. wie verag die dag van klein dinge?" Is daar onder julle dalk mense, wat die klein begin te mín vind? Wat daarin geen vertroue het nie? En wat daarom ook geen hand uitsteek nie, en net meewarig hulle hoofde skud?

Laat hulle dan weet hoe die HÉRE daaroor dink.

Dit lees ons in vers 10: "Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe - die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop - met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?"

Sewe oë word hulle genoem, God se oë, omdat hulle volmaak en volledig sien. Hulle sien alles wat op die hele aarde aangaan. God se blikveld is nie tot Jerusalem beperk nie. Hy sien die koninkryke van die aarde met hulle heerlikheid. Hy kan die klein en die groot dinge met mekaar vergelyk. Die skamele bouwerk van Serubbábel met die tempels van magtige koninkryke. Die skietlood in die hand van sy dienaar hier, met ryk versierde septers in die hand van wêreldheersers.

En dit is dié oë van God, wat met blydskap op die hande van Serubbábel rus. Want hierdie eenvoudige werk, wat deur die swak hande verrig word, gebeur deur die krag van die Gees. En wat tot stand kom, mag soos ‘n skuur lyk in vergelyking met die paleise en burgte van die grotes van die aarde, maar dit is God se huis en Hy gaan dit met heerlikheid vervul.

Hy laat sy Naam daar woon en Hy laat sy diens daar vervul.

Hierdie erediens vir Hom is tegelykertyd bediening van genade aan sy kinders, op weg na die groot toekoms: die koms van Christus, die voortgang van sy werk deur lyding na die ewige heerlikheid.

Dan word dit een en al lig, op die nuwe aarde, wanneer God se heilige woning voltooi is.

Daarom mag Jerusalem nie die dag van die klein dinge verag nie, maar hulle moet daarmee bly wees, en met blydskap aan die werk gaan.

Dit geld ook vir ons as gemeente. Want elkeen word hier opgeroep, nie om te staan en kyk nie, maar om mee te werk.

Dan is dit oënskynlik klein dingetjies, seker teenoor die prestasies waarmee die wêreld indruk maak.

‘n Kind word gedoop en sy ouers vertel die kind van die Here Jesus. ‘n Paar mense kom bymekaar om ‘n gedeelte van die Bybel te bespreek. Die jeug moet ‘n deel van die Kategismus bestudeer.

Daar word ‘n eenvoudige kerkdiens, sonder opsmuk of vertoon, gehou.

Gereformeerdes het hul klein aktiwiteite, en die wêreld sien dit glad nie raak nie of spot daarmee.

En ook is daar van ons eie mense wat nie die nut van die aktiwiteite kan insien nie.

Maar wie verag die dag van die klein dinge? Wie is wyser in sy oordeel as die HERE, wie se oë die hele aarde deurloop?

Sy oë rus met blydskap op die klein dinge wat in opdrag van Hom gedoen word. En sy blydskap het betrekking op al die dinge wat tot die bou van sy huis bydra.

Daarvoor het Hy immers sy Gees gegee.

En deur al die werk word sy tempel gebou. En die heiliges word toegerus tot diensbetoon, tot opbou van die liggaam van Christus.

Mense word gevorm, wat deur Christus die lig van die wêreld, en die sout van die aarde, genoem word, en waavan Hy sê: "Hier blyk die volharding van die heiliges, wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.

Daarom: wees bly met die dag van die klein dinge, want u God verbly Hom in hande wat die klein werkies doen, en sy Gees verseker dat dit tot groot gevolge lei.

3. Die Here wys op die onuitputlike kragbron by die bou van sy huis.

Daar is nou nog een vraag oor. Sagaria het gehoor van die Gees, wat bouheer is en kragte gee. Die Gees wat berge vlak maak, en wat in die klein dinge ‘n groot doel bereik.

Dit is vir hom duidelik wat in die beeld van die kandelaar bedoel word met die olie: die energie vir die lig, die werking van die Gees.

Maar hoe pas die twee olyfbome in die prentjie in? Hy wou dit al in die begin geweet het, en aan die einde vra hy weer uitdruklik daarna: Wat beteken die twee olyfbome wat die goud-geel olie laat uitstroom?

Hy weet: die olie is die Gees. Maar, hoe kóm die Gees? Dit is eintlik sy vraag na aanleiding van die twee olyfbome.

En dan lees ons: "Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan"

Ampsdraers dus, want hulle staan voor die HERE, in sy diens.

In die meeste verklarings word dit toegepas op Josua en Serubbábel. Josua, die hoëpriester en Serubbábel, die ... nou ja, nie die koning nie, maar tog wel die seun van Dawid en boonop die landvoog.

Dit sou dus beteken dat die twee, deur hulle ampswerk, die energie lewer vir die bou van die tempel.

Maar dit klop nie met die prentjie van die twee manne soos dit in die visioene geskilder word nie. Want dit is juis hulle wat swak is en gesterk moet word, en hulle moet self glo dat die HERE vir hulle sy Gees sal gee om met die werk te kan voortgaan.

Wat die olyfbome beteken bly daarom nog steeds ‘n raaisel.

Maar Sagaria moet die raaisel self oplos en ons moet dit ook self doen. En dan moet ons mooi kyk na die eienaardige gedrag van die engel, wat met Sagaria praat. Elke keer as die profeet ‘n vraag oor die olyfbome stel kry hy nie ‘n direkte antwoord nie, maar reageer die engel met ‘n teenvraag: "Weet jy dan nie wat dit beteken nie, Sagaria?"

Ons noem dit ‘n vertragende styl. ‘n Styl wat wel gebruik word om die spanning op te voer.

Maar in hierdie geval moet ons dit liewer lees soos wat dit daar staan: weet jy dit dan nie? Maar jy kan dit tog weet? Juis jy, Sagaria. Dit is so voor die hand liggend.

Twee gesalfdes. Letterlik staan daar: twee seuns van olie. En eintlik moet ons daarvoor nie die woord ‘gesalfdes’ as vertaling gebruik nie, want in die Bybel word oorals ‘n ander term daarvoor gebruik.

Die engel gee tog wel ‘n soort raaisel op. Die olyfbome? O, dit is die seuns van olie. Of anders gesê: hulle wat by die olie behoort, by die werking van die Gees.

Maar Sagaria, kom nou. Watter amp, watter diens behoort nou direk by die werking van die Gees? Waarin gee Hy sy bystand en sy bemoediging aan konings en priesters en aan die hele volk?

Sagaria het seker die raaisel wel opgelos. En vir ons staan die oplossing in Openbaring 11.

Daar sien ons hulle terug: die twee olyfbome en die twee kandelare wat voor die God van dier aarde staan.

En daar hoor ons ook meer oor hulle. "Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie". En ons herken Elia, die bidder van die Ou Testament, op wie se gebed die HERE die hemel toegesluit het, sodat dit op die land nie gereën het nie.

Dis hulle "wat mag het oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil."

Dit verwys na Moses en die wonders en plae, wat God deur hom in Egipte gedoen het.

En die amp van Moses en Elia? Dit was mos die profete-amp! Deur hulle mond het die Here sy openbaringswoord gespreek.

Verstaan julle nou waarom die engel die vraag van Sagaria elke keer na hom terugspeel?

Die olyfbome stel sy eie amp voor, die profetiese amp. En hy is inderdaad nie die enigste profeet nie, daar is twee profete in Jerusalem werksaam.

In die boek Esra lees ons dat die profete Haggaï en Sagaria die bouliede bygestaan het. Hulle het sowel Josua as Serubbábel bemoedig en ook die oorblyfsel van die volk.

Deur hulle woord het die werking van die Gees gekom.

En daarom is dit die slotsom, broeders en susters.

Wil julle priesters en konings wees en wil julle in hierdie tyd besig wees met die klein dinge wat groot is by God?

Soek dan voortdurend die diens, waarin die Gees van Christus sy werking aan julle wil gee: die diens van die profetiese woord.

Daar is julle by die bronne, wat nooit uitgeput raak nie. En daar word julle self ook tot bronne gemaak. Bronne van lewende water, sê Christus in Johannes 7, deur die Heilige Gees. Bronne van lig ook, deur dieselfde Gees.

Dan skyn julle soos ligtende sterre.

En die kandelaar gee sy lig, ook deur julle blye diens.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)