God ontferm hom oor Sion

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Sagaría 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SAGARIA 1: 12-17

LITURGIE:
L. Sagaria 1: 1-17
Ps. 80: 3, 4
Ps. 80: 10
Ps. 79: 1-5
SB. 2: 2
Ps. 98: 2

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

U ken natuurlik almal die Lofsang van Sagaria. U weet: daardie lied het uit die mond van die ou priester losgebreek nadat daardie man omtrent 9 maande geen woord kon praat nie. Die tong van Sagaria was met stomheid geslaan omdat hierdie man sy eie naam nie meer geglo het nie!

Ja, want Sagaria beteken: "die HERE, JAHWE, gedenk, die HERE is gedagtig". Met ander woorde: Hy vergeet nie wat hy eendag beloof het nie.

Maar toe die engel Gabriël vir hom kom vertel het dat die HERE inderdaad aan sy beloftes gedagtig was en op die gebed van die priester en die volk nou die wegbereider van die Messias sou laat gebore word -uit die huwelik van Sagaria self!-, toe kon die ou Sagaria dit nie glo nie. Dit kon nie wees nie!

Kyk, dààrom was aan hom die swye opgelê tot op die dag dat hy sou sién dat die HERE regtig sy beloftes gedenk en die woord van die engel sou uitkom. Hy mog geen teëprater wees nie, maar moes voorsanger word in die loflied op die barmhartigheid van die God van Israel.

En sò het die lofsang toe losgekom, waaruit meer as duidelik word dat Sagaria die les geleer het:

"Die HEER hou sy verbond in stand,
om aan ons vaders te gedenk
en hul barmhartigheid te skenk.
Aan sy verbond gedagtig,
kan nooit sy eed Hom immermeer berou,
maar sal Hy, aan sy Woord getrou,
al sy beloftes hou. "

Nou wis Sagaria dat sy eie naam waarheid was: die HERE is gedagtig! Want nou het sy oë die begin van die vervulling van God se beloftes gesien. Die begin van die mooiste bewys van God se barmhartigheid.

Voor ons lê vanmôre 'n teks oop, broeders en susters, uit die visioene van die naamgenoot van die Nieu-Testamentiese priester Sagaria: die Ou-Testamentiese profeet Sagaria, eweneens uit 'n priestergeslag afkomstig.

En uit sy visioene blyk weereens hoe duidelik die HERE inderdaad onder die Ou Verbond sy barmhartigheid (in ons teks word met "ontferming" vertaal, maar in die grondteks word dieselfde woord gebruik) aan die vaders in die vooruitsig gestel het.

Wel, wie God se ontferming in die héde wil raaksien, moet mooi aandag gee aan die beloftes van diè ontferming in die verlede- dit het ons nou wel van die priester Sagaria geleer.

Daarom gaan ons vanmôre luister na die aankondiging van God se ontferming soos Hy dit in die dae van die profeet Sagaria gedoen het. Sodat ook ons kan saamsing in die loflied op die nog altyd voortdurende ontferming van ons God in ons Here Jesus Christus.

Ons hoor in ons teks:

GOD ONTFERM HOM OOR SION

Ons konsentreer daarby op twee elemente:

  1. HOE DAT DIE ENGEL VAN DIE HERE DIÈ ONTFERMING BEGEER
  2. HOE DAT DIE GOD VAN DIE VERBOND IN ONTFERMING WEERKEER

1. God se volk het in die dae van Sagaria wel behoefte aan 'n boodskap oor God se ontferming gehad, broeders en susters.

Dit is die dae na die terugkeer uit die Babiloniese gevangenskap waarin al gou 'n gees van neerslagtigheid en moedeloosheid die volk in die greep gekry het.

O ja, hulle was uit Babel na Judea teruggekeer. En daar was aanvanklik ook groot dankbaarheid dat hulle weer huis toe mog kom en die stad van God en die volk van God weer mog opbou.

Maar die moed het in hulle skoene gesink toe hulle in Jerusalem aangekom het. Jerusalem was Jerusalem nie meer nie. Dit was 'n afgebrande stad met swartgeblakerde restante van mure, inmekaargestorte geboue, opgebreekte strate en 'n stadsmuur vol bresse. Net dit het oorgebly van wat eendag die mooiste stad op die hele aarde was.

En diè wat terugekeer het, was ook maar 'n klein klompie mense, swaar geslaan en verneder onder God se oordele. Ook van dit wat eendag 'n magtige volk in die Midde-Ooste was, en waarvoor die volkere rondom gesidder het, het maar min oorgebly.

Het dit nog sin gehad om die stad weer op te bou? !

Hulle het wel begin met die herbou van die tempel. Die fondament is herstel, die altaar is weer opgerig..... Maar daarna het die werk ook sommer weer platgeval.

Want wat het dit teëgeval!

Die materiale wat destyds soveel luister aan die tempel verleen het, was nou nie meer beskikbaar nie. Die nuwe tempel moes wel 'n armoedige geboutjie word in vergelyking met die bouwerk van destyds. En diè wat die eerste tempel nog geken het, het hardop aan die huil gegaan.

In daardie situasie, gemeente, skakel die HERE die profeet Sagaria in om die klein, veelsins moedelose klompie mense wat darem Gòd se volk weer mog wees, te troos met sy bemoedigende beloftes.

Sagaria mag gaan vertel dat God Hom oor Sion sal ontferm.

Sy profesieè is noukeurig gedateer en daaruit blyk dat Sagaria sy optrede begin het vlak na Haggia, wanneer dus die tempelbou pas weer begin het. Sagaria sluit ook duidelik by dit wat Haggai alreeds geprofeteer het aan.

Een nag het Sagaria 'n visioen gekry, 'n gesig.

Daarin is ongelukkig 'n hele aantal sake wat vir ons nie mooi duidelik word nie. Byvoorbeeld die betekenis van die kleure van die perde wat Sagaria sien: bruin, vos en wit. 'n Vergelyking met die 4 perde uit Openbaring 6 gee nie die antwoord nie, want eerstens is die kleure nie dieselfde nie en tweedens word in Openbaring 6 van 4 perde gepraat, terwyl Sagaria nie noem hoeveel perde daar was nie. Daar mag 'n hele aantal ruiters op perde gewees het.

En -om nog 'n ding te noem- waarom word daar vertel dat die ruiters op die perde "tussen die mirtebome gestaan het"? Het dit 'n simboliese betekenis, of was dit 'n plek wat enige inwoner van Jerusalem destyds sommer kon uitken?

Maar as ons probeer om voor ons te stel wat Sagaria gesien het, moet dit ongeveer soos volg gewees het: Sagaria is in hierdie gesig vergesel van 'n engel wat vir hom die gesig moet uitlê. Dan sien hy tussen mirtebome in 'n laagte, en ek neem aan dat dit 'n bekende plek by Jerusalem was, 'n Man op 'n bruin perd met agter hom 'n hele groep perderuiters wat so pas teruggekeer het van 'n tog oor die wêreld en nou aan hulle leier, hul Generaal, die Man op die bruin perd, verslag kom uitbring.

En ons ken vir daardie Generaal, broeders en susters. Want dit blyk in vs. 11 die Engel van die HERE te wees. U onthou natuurlik uit die preke uit die boek Rigters: dit is niemand minder as die Seun van God, ons Here Jesus Christus voordat Hy as 'n mens uit Maria gebore was. God die Seun wat alreeds tydens die Ou verbond voortdurend sy volk bygestaan het. As die goddelike Generaal het Hy sy volk telkens voorgegaan in die stryd teen die sonde, die duiwel en sy ryk; en op kritieke oomblikke was Hy telkens daar om vir hulle die pad vorentoe weer oop te maak. Hy was daar alreeds in Abraham se dae, Hy was daar in Moses se dae, Hy het sy volk in Kanaän ingebring, Hy was daar in Gideon se dae. En Hy is dus nou weer daar. Of liewer: Hy is nog altyd daar! En agter die skerme is Hy alweer druk besig vir sy volk. Hy het 'n verkenningspatrollie oor die hele aarde uitgestuur om agter te kom of daar in die wêreld al iets aan die gang is.

U sal die betekenis van daardie verkenningspatrollie eers mooi kan verstaan, gemeente, as u 'n slag kyk na Haggai 2: 6 en 7. As ons die daterings vergelyk blyk dit omtrent 2 maande gelede te wees dat die HERE deur die diens van Haggai aangekondig het: "'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde, die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis (die tempel wat nog nie vir die helfte weer herbou is nie) met heerlikheid vervul".

God sal Hom weer ten volle oor sy Sion ontferm. Die tempel kry sy heerlikheid terug. En die vyande sal vernietig word.

"'n Rukkie nog", het die HERE gesê, "'n kort tydjie". Dis hoekom die Engel van die HERE, wat nie net die Generaal van God se verbondsvolk is nie, maar ook die beskikking het oor die hele engeleleër, alreeds sy verkenners oor die wêreld uitgestuur het om te sien of daar al 'n begin van die groot beweging wat God aangekondig het, begin kom. Want Hy begeer nie minder as sy volk nie dat Jerusalem weer 'n lof op aarde word!

Maar die rapport van die verkenningspatrollie is teleurstellend: hulle moet meld dat die ganse aarde nog stil en rustig is. Daar heers 'n "status quo": daar het nog niks verander nie.

En dan raak die Engel van die HERE bewoë. Hy kan Hom nie langer bedwing nie. Hartstogtlik vra Hy regstreeks aan God: "HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda? ".

Dis hierdie woorde wat Sagaria se naggesig so indrukwekkend en ontroerend maak, gemeente. Want hòòr wat sê die goddelike Generaal: "HERE, hoe lank nog? ".

Hoe lank nog? - dit is bekende woorde vir God se geslae volkie in daardie dae. Die Psalms wat in daardie tyd ontstaan het, is vol daarvan. "Hoe lank nog? " - ons het dit gesing in Psalm 80: "Hoe lank, o God der leërmagte, verwerp U ons gebed en klagte? Hoe lank verlaat U ons in nood? U spysig ons met tranebrood".

En Psalm 79: "Hoe lank sal nog u toorngloed oor ons duur? U ywer, HEER, nog oor ons brand soos vuur? " U kan ook maar kyk in Psalm 74: "Hoe lank, og God, sal nog die teenparty ons smaad en tart? Sal dan in ewighede u Naam beskimp word in hul lasterrede? Wat toef U nog en trek u hand tersy? ". En Psalm 89: "Hoe lank nog? HEER, hoe brand die vlam wat U gewek het!".

Jare en jare het God se volk hierdie klag na die hemel opgesend toe hulle onder die vuur van God se toorn moes deurgaan.

Maar nou plaas die Engel van die HERE Hom dus aan die kant van die volk en neem Hy hul versugting oor: "HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming? " God se verbondsvolk kry 'n magtige Voorbidder: Christus al voor sy geboorte in Betlehem, gaan pleit nou vir die volk. Sy priesterhart vol medelye kom in beweging en ook Hy smeek nou om ontferming oor Jerusalem en die stede van Juda.

Ja, Hy weet van God se regmatige toorn. Hy doen daar niks aan af nie. Israel hèt hul ongeregtigheid volgemaak. En dus het hulle ook die volle toorn van God verdien. Maar die goddelike Advokaat weet ook van God se eie begrensing van die straf: nie langer as 70 jaar sou dit duur nie. Nou maar goed, daardie 70 jaar is nou mos lank al verby! En dus hou die Engel van die HERE sy hemelse Vader aan sy eie beloftewoord: "HERE, hoe lank nog? " Daar moét nou tog ontferming kom?

Voel u die krag van ons teks, gemeente? Alreeds voor sy koms as mens van vlees en bloed in die wêreld het die Christus met sy volk saamgeworstel om God se ontferming oor Sion, sy kerk. Hy het aan ons kant gaan staan, ten spyte van al ons sondes. En saam met sy volk het Hy geroep om die koms van die Nuwe en beter Verbond waarin die toorn van God definitief gestil sou wees. Toe alreeds was ons saak ook sy saak!

Daarom was dit so kortsigtig en dom van die ou priester Sagaria om die aankondiging van God se ontferming deur die engel Gabriël teen te spreek. Hy kon lankal geweet het dat God Hom wel moés ontferm oor sy volk. Hoe kan God mos hierdie Voorbidder afwys?

Daarom moet u ook nooit twyfel aan die toekoms van die kerk nie, broeders en susters. Vandag al heeltemal nie meer nie. Die nuwe Jerusalem sàl eendag uit die hemel daal en God sàl alle trane van die oë afvee. Die Seun van God self staan daar Borg voor. En vandag het Hy nog baie meer reg van spreke as destyds in die dae na die ballingskap. Hy het inmiddels mos self die toorn van God gestil. Die 70 jare van die ballingskap was nie naasteby voldoende om die skuld van die volk vir altyd te versoen nie. Maar die 33 jaar van sy lewe en sterwe as mens op aarde was dit wél! Vandag mag ons Voorbidder pleit op sy eie offer vir ons sondes.

Ja, daar is nog altyd beloftes vir Sion uitstaande. Alle trane is nog nie van die oë afgevee nie. En as ons die wêreldgebeure dophou, lyk dit dikwels nog asof daar niks ten gunste van die kerk verander nie. Inteendeel. Nog is daar rede om te roep: "HERE, hoe lang nog? ". Maar dit mag en hoef nooit meer 'n wanhopige en vertwyfelde roep te wees nie. Want bo in die hemel is daar wel deeglik ontwikkeling en aktiwiteit ten gunste van die kerk. Ons Hoëpriester en Voorbidder het nou self alle mag in die hemel en op die aarde en Hy werk volywerig daaraan dat ons sy en ons vyande 'n voetbank vir sy voete word. Hy weet vandag presies hoelank nog! En Sion is danksy Hom nooit meer sonder ontferming nie.

2. Diè vertroosting het God in ons teks, daardie visioen van die profeet Sagaria, alreeds in die vooruitsig gestel, gemeente.

Wanneer die Engel van die HERE Homself as Pleitbesorger vir God se volk opgewerp het, klink daar as reaksie goeie, troosvolle woorde uit God se mond. Nie aan die adres van die Engel van die HERE nie, maar via die engel wat die gesig moes uitlê, regstreeks aan die adres van Sagaria. Vir die volk. Die Engel van die HERE het mos nie sy eie belange by die HERE bepleit nie, maar die saak van God se volk. Daarom mag Sagaria nou aan die volk deurgee: "So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met 'n groot ywer".

Die mense kan maar hulle moedelose hoofde ophef. Dit mag dalk so lyk dat alles nog steeds stil en rustig is en dat daar niks gebeur nie. Maar in God se binneste gebeur lankal iets! Daar laai alreeds die groot vuur van sy liefdesywer.

Die woord wat die HERE self hier gebruik, broeders en susters: "ywer", is inderdaad 'n woord wat in 'n liéfdesverhouding pas. Ons sou ook kon vertaal met "naywer" of "jaloersie" (die woord wat u ken uit die Tweede Gebod van God se verbondswet). Sy volk, sy bruid, sy vrou is van Hom alleen. Hy eis al haar liefde vir Hom alleen op. En Hy verdra dit ook nie as iemand anders sy alleenreg op hierdie volk aantas. Dan word sy liefde soos 'n uitslaande vlam wat verseng en verteer.

Dit het Israel self moet ondervind toe hulle die rug op hulle Verbondsgod gedraai het en ander gode begin dien het.

Maar dit sal nou ook die volkere ondervind wat in die afgelope jare en tot op vandag sy volk vertrap en verag en getreiter het. Hulle moes die instrumente wees in die hand van die HERE om Israel oor sy verbondsontrou te straf. Maar, sê die HERE, terwyl Ek maar 'n weinig vertoord was -en hoe wonderlik klink dit uit sy mond na soveel ongehoorsaamheid en liefdeloosheid van Israel se kant af; hoe groot blyk hier die liefde van God vir sy volk te wees!- terwyl Ek maar 'n weinig vertoornd was het daardie volkere die kans aangegryp om my volk amper te vermorsel. Maar dan sal nou sy toorn hom teen hùlle keer in alle hewigheid. Hy sal in laaiende liefdesywer daardie volkere uitmekaar slaan en sy volk, sy stad, weer in die ruimte stel.

En dan hoor Sagaria die direkte antwoord op die vraag van die Engel van die HERE om ontferming: "So sê die HERE: Ek wend My met ontferming tot Jerusalem".

God keer weer na sy kerkstad! Hy ontferm Hom in liefde oor afvallige kerkkinders. Hy kan dit nie aansien dat Sion 'n bouval bly nie. Hy wil weer in Jerusalem woon, en daar moet weer 'n volk van Hom woon. Daarom lê die restourasieplanne vir die nuwe Jerusalem alreeds klaar: 'n meetsnoer sal oor Jerusalem gespan word en die bouers kan maar aan die herbou begin.

Want nie net God die Seun nie, ook God die Vader soek 'n nuwe Jerusalem waar die skuld uitgedelg is en Hy weer by sy volk kan woon. Sy onweerstaanbare liefdesywer dring Hom daartoe.

Ons weet vandag, broeders en susters, dat God meer gesoek het as maar net die herbou van die stad Jerusalem, en meer as alleen die herstel van 'n tempelgebou van steen.

Sy liefdesywer het Hom laat bou aan 'n beter Sion, aan 'n tempel van lewende stene. Sy volk self moes 'n tempel word, die woning vir sy Gees. Hy het daarom op sy tyd die fondament daarvoor gelê deur die offer van sy Eniggebore Seun.

Hier in die kerk vandag sien u die vervulling van die vertroostende woord wat die profeet Sagaria in sy naggesig uit God se mond mog hoor. Hier vind u die Nieu-Testamentiese Sion. Hier mag u staan in die voorportaal van die hemelse Jerusalem. Hier woon God nou by ons deur sy Heilige Gees.

Hier mag u lewe van sy daaglikse ontferming en uitsien na die dag waarop Hy nog eenmaal die hemel en die aarde sal laat bewe om die laaste restante van die sonde en die vyandskap teen Hom te verwyder en alles vir altyd nuut te maak.

As ek dit so vir u sê, klink dit vir u nie nuut meer nie, gemeente.

Maar ons teksverse leer vir ons dat dit 'n wonder is! Sien die laaste woorde, vs. 17, waar die HEREs sê: "die HERE sal Sion weer vertroos en Hy sal Jerusalem weer verkies". Die woordjies "weer", wat hier "opnuut" beteken, wys vir ons die wonder van God se ontferming. Dit is enkel genade dat God nog vir Sion omgee! Hy moes dit mos al verwerp. Die sondes was so groot, dat Hy sy verkiesing ongedaan moes maak. En ons vandag is regtig nie beter as Israel destyds nie, broeders en susters. Maar God se liefde was te sterk, sy ywer onbedwingbaar. En dus het Hy, eerder as om die sonde ongestraf te laat bly, op die ou end sy geliefde Seun daarvoor gestraf met die bittere en smadelike kruisdood.

Nie omdat ons Hom so liefgehad het nie. Maar omdat Hy ons so oneindig liefgehad het dat Hy Hom wel oor ons moés ontferm.

Ons leef in die kerk aanhoudend van die wonder van God se ontferming, gemeente.

Laat ons dus die lofsang wat die priester Sagaria ons voorgesing het, maar verwonderd nasing.

AMEN.

(Pretoria, 19 November 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)