Miga's gerigsaankondiging oor die volk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Miga 1
Preek Inhoud: 

Lees: Miga 1
Teks: Miga 1: 6, 8.

Geliefde gemeente,

Ons het ons 'n redelike lang tyd besiggehou met die N.T. Daarom wil ons nou weer eens 'n slag aandag gee aan die O.T.Ons keuse het daarby geval op een van die sg. klein profete. Die profeet Miga.

Daardie keuse is betreklik willekeurig. Afgesien van 'n Nagmaals oordenking het ek nooit uit Miga gepreek nie, dus ook vir my is dit 'n eerste, wat intensiewere kennismaking met die profeet Miga.

Van die man self weet ons so goed soos niks nie. In die opskrif stel hy homself voor as Miga die Morastiet. Dit beteken dat hy afkomstig is uit die dorp Moreshet, iewers in die uiterste Suide van Juda

In sy lewe het hy drie konings van Juda meegemaak. Jotam, Agas en Hiskia. Op grond van die inhoud van sy boek mag ons veronderstel dat Miga veral in die tyd van koning Hiskia opgetree het. Ongelukkig beskik ek hier nie oor 'n bord waarop ek jaartalle kan skryf nie, maar dan moet u somaar 'n bietjie onthou. Hiskia is koning in Jerusalem van 727-698 v. Chr. Hy het geregeer oor die twee stamme Juda en Benjamin.

Die ander tien stamme is geregeer vanuit Samaria.

Soos U weet het die tien stamme o. l. v. koning Jerobeam hulle al hoe meer verwyder van die diens van die Here. Die Here stuur talle profete om die volk te waarsku dat Hy met 'n oordeel sal kom as daar geen bekering kom nie. Een van die laaste profete is Miga. Hy tree op enkele jare voordat Samaria deur die koning van Assyrie ingeneem word en na Assyriese gewoonte met die grond gelyk gemaak word. Dit gebeur in die jaar 721 v. Chr. Dus ons kan die optrede van Miga stel so rond 725. In die tyd is Hiskia nog maar kort koning van Jerusalem. Die eerste hoofstuk van Miga's boek is 'n aankondiging van God se naderende oordeel. 'n Laatste waarskuwing aan Samaria, maar ook 'n waarskuwing aan Jerusalem dat hulle nie moet reken dat hulle so'n oordeel sal ontkom nie. Ek bedien U vandag die Woord van die Here soos volg:

Miga's gerigsaankondiging oor die volk van God

  1. sy profetiese oordeel
  2. sy profetiese betrokkenheid

Die woord van die Here wat tot Miga gekom het. Hiermee staan die woorde van Miga onmiddellik op die vlak van 'n Godswoord. Wat hy nou gaan se dit is nie woorde van Miga self nie, maar die woorde het hy op een of ander manier van die Here ontvang. Hy is 'n deur die Gees van God geinspireerde profeet.

Wanneer die Here 'n profeet roep laat hy so iemand nie sommer in die ruimte praat nie maar laat Hy hom altyd 'n boodskap gee vir 'n konkrete situasie. Die situasie in ons teks is dat daar 'n ernstige dreiging is dat vyandelike volke een van die hoofstede van Israel sal verower en vernietig. In hierdie geval is die stad Samaria onder onmiddellike bedreiging. Daaroor gaan Miga 1. Maar dit beteken nie dat so'n O.T.-profesie dus vandag niks vir ons te se het nie, omdat dit mos oor 'hullé gaan. Nee, die Woord van die Here is altyd aktueel.

Aktueel. Dit beteken nie dat ons allerhande O.T.-profesiee sonder meer op ons tyd mag toepas nie, maar wel dat ons met inagneming van die verskil in omstandighede ook in 'n O.T.-woord die Here onse God hoor praat. Hy spreek gedurig sy volk aan en ons kan daaruit altyd leer.

O, volke luister almal saam! o, aarde en sy volheid, let op!Sodat die Here getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis.

Hierdie woorde uit vers 2 is min of meer bekende profetiese frases. Baie profete het op hierdie manier 'n profesie teen die heidense volke aangekondig. 'n Profesie teen volke wat die Here nie ken nie en dus in sy wee nie wandel nie. In die boek Jesaja tref ons baie van hierdie type preke of profesiee teen die heidene b. v. teen Edom, of Assur, of Moab, of Babel, of Filistea en noem maar op.

Miga maak in hierdie profesie dus gebruik van bekende inleidende bewoordinge van profesiee teen die heidene. Israel het nogal van hierdie type prediking gehou. Die bedoeling van sulke oordeelsaankondiginge oor die heidene was dat die volk van Israel daardeur dankbaarheid sou leer teenoor die Here wat hulle tot 'n uitsondering gemaak het onder die volke. Hulle mog mos die Here leer ken het. Met hulle alleen het God 'n verbond gemaak. Dit was die rykdom van Israel.

Maar gaandeweg het die oordeelsaankondiginge oor die heidene en die heilsprofesie vir Israel vir hulle tot 'n vanself-sprekendheid geword. Soos dit maar gaan. In die kerk gebeur dit ook so gemaklik. Daar kan soveel gepreek word teen ongelowiges buite die kerk of teen dwalings of sondes in ander kerke, dat mense dit begin geniet om dit te hoor. Hulle kan nie genoeg daarvan kry om te hoor hoe sleg dit by ander gaan nie. En dan nie meer as 'n waarskuwing vir hulleself nie, maar as 'n veilige vasstelling. Buite is alles sleg en verkeerd... dus: Binne is alles reg.

Nou kan ons voorstel wat gebeur as Miga begin preek: Hoor julle volke almal! Dan gaan die Israeliete terugsit, Aha, daar gaan die heidene weer 'n slag aangespreek word met die oordeel van God. Ons is nuuskierig hoe Miga hulle 'n geestelike pak slae sal gee!

Maar wat gebeur dan? Die profesie wat as profesie teen die heidene begin het, blyk skielik 'n profesie teen Isreal self te wees !Hulle, die volk van God word hier aangespreek. Hulle, wat die Here leer ken het, wat met Hom 'n verbond het. Hulle word sommer asof hulle heidene is aangespreek deur 'n profeet!

Met hierdie aanpak bewerk Miga 'n geweldige skokeffek.

Oor die presiese aard van hul sonde sal ons later meer hoor, in die hoofstukke 2-5 sal Miga nog uitvoerig ingaan op wat presiies verkeerd gaan met die volk van God.

Hier in die eerste hoofstuk verwys hy veral na die afgodediens waaraan Samaria hom skuldig gemaak het. Daarby kan ons dink aan 'n direkte religieuse verering van afgode en 'n saamdoen met heidense rituele in afgodstempels, maar ook moet ons dink aan die destydse vorm van sekularisasie. Uit die geskiedenis weet ons dat ook die volk Israel in hul lewensstyl en in hul politieke sienings volstrek soos die wereld rondom hulle opgetree het. Israels konings het hul hulp nie meer van die Here verwag nie maar hulle het gemeen deur versterking van hul leers die veiligheid van die land te kan verseker. Verder het hulle in sosiaal-ekonomiese opsig gemaak asof daar nie 'n God is wat verlang dat hulle reg doen en geregtigheid betrag nie.

Die volk van die Here het hulle maar net soos die heidene begin gedra.

En so het die onderskeid tussen die volk van God en die heidene begin vervaag. Ook die konings van Israel was in hul optrede geensins onderskeidbaar vanhul heidense kollegaas.

En daarom word hulle deur Miga net soos die heidene aangespreek.

Die kern van hul sonde was, en dit maak vir ons die sonde heel herkenbaar, dat hulle die grondslag van hul bestaan gesoek het in die dinge van hierdie lewe. Wat vir hulle die sin uitgemaak het van die lewe was hul huise, hul wyngaarde, hul materiele voorregte. In daardie dinge het hulle die eintlike waarde van die lewe gesoek. En vervolgens het daardie sake vir hulle 'n min of nmeer afgodiese waarde gekry. Hulle kan beslis nie sonder nie. Hulle soek steeds meer daarvan. En of hulle by die soeke daarna die gebooie van die Here oortree dit kan hulle nie regtig pla nie.

Dit het in die land Kanaan nog 'n ekstra nadruk gekry omdat al die gawes van die natuur deur die Kanaaniete in verband gebring is met hul eie gode. Hul gode (afgode) was die verskaffers van al die materiele gawes soos vrugbaarheid, seksualiteit, welvaart, mag, ensomeer.

En met dit alles het hulle die regte van God die Skepper misken. Hulle het Hom nie meer gedank vir sy gawes nie. En deur vir die politiek te vertrou op aardse magsmiddele, het hulle ook God nie meer erken as die Heer van die geskiedenis nie.

Nou moet ons nie meen dat 'n mens op aarde dus nie 'n sekere welvaart mag nastrewe nie, of dat 'n posisie van mag per definisie verkeerd is nie, of dat 'n land wat die naam het christelik te wees dus geen vorm van weermag kan aanhou nie, of dat seksualiteit iets is wat in sigself verkeerd is en daarom soveel as moontlik uit die lewe uitgeban moet word nie. Nee, al die hier genoemde sake van natuur en kultuur is geskenke van skeppende God aan 'n geskape mensheid, en mag daarom hul plek in die lewe van 'n mens he. Maar die groot fout is, die sonde is dat mense dit begin losmaak van God. Dat hulle daarin die werk van God en die hand van God nie meer herken nie.

Dit is mos ook die groot sonde van ons tyd. Die mense wil hul eie vrede maak. Hulle wil los van God hul lewe inrig soos hulle meen dat dit vir hulle aangenaam is. Hulle wil nie meer deur die Bybel voorgeskrewe morele waardes erken nie. Hulle wil God nie meer as die regter ook oor hulle lewe aanvaar nie.

En dit het verwoestende maatskaplike en politieke gevolge. Die samelewing word opgebreek deurdat mense nie meer die heerskappy van 'n God oor hul lewe erken nie. Jy sien mense rondom jou wat van hul lewe 'n al hoe groter puinhoop maak eenvoudig omdat hulle nie bereid is enige wet van God in hul lewe te erken nie. Die puinhoop wat volg na 'n bewuste ontkenning van morele waardes is nie alleen maar die gevolg van 'n innerlike wetmatigheid nie, maar daarin moet jy 'n oordelende God sien werk. Hy voer 'n gerig uit as die Regeerder van die geskiedenis.

Dit is die beangstigende van die huidige verwereldliking van die massa. Daaroor kom 'n oordeel!Mense kan nie ongestraf die wette van God verlaat en meen dat ons dan self wel 'n samelewing van vrede kan opbou nie. Die bankrotskap van die kommunistiese maatskappy in Rusland toon dit duidelik aan. As oor enige tyd iets bekend gaan word van die skrikbewind wat maghebbers daar oor die jare gevoer het dan sal ons nog leer huiwer oor wat mense mekaar kan aandoen as daar nie 'n wet van God is waaraan die lewe onderworpe is nie.

Terug na Miga. Miga is nie 'n waarsegger nie Hy tree nie op as 'n toekomsvoorspeller wat op een of ander magiese wyse insig in toekomstige gebeurlikhede het nie. Nee Miga is geleer deur die Here. Hy ken die woord van God. God se beloftes en God se bedreigings by ongehoorsaamheid. En daarom weet Miga dat die oordeel oor Samaria naby is. Binne drie jaar na sy profesie sal Samarie val onder die leers van die koning van Assur.

Miga weet, wie van die Here afval moet een of ander tyd tot 'n val kom. Dit kan nie anders nie. Dit kan korter of langer tyd duur, maar dit kom. Dit is seker.

As tugroede van die Here sal die keer die Assyriers optree, maar weereens dit is 'n oordeel van die Here self. Ek sal Samarián puinhoop maak op die veld. Ek sal haar klippe in die dal laat afrol. Ek sal haar fondamente blootle.

Daar is maar een manier om van hierdie oordele gered te word, en dit is 'n radikale reformasie. 'n Hartlike terugkeer na die Here. 'n Nuwe gehoorsaamheid. Dan mag jy seen verwag.

Maar as jy aangaan op die pad van ongehoorsaamheid, dan kan dit moontlik vir die oog 'n tydlank goedgaan, maar dan sal jy eendag die oordeel van die Here ervaar. Hy het sy wette vir sy skepping gegee en dit kan jy nie ongestraf oortree nie.

En daarom het ons as gelowiges ook 'n profetiese taak in die samelewing. Ons moet daar onvermoeibaar oproep om te luister na die woord van die Here. Ook vir die politiek. Die Here roep ons op om daarin eerlikheid en reg te betrag. En as dit gaan oor die ekonomie, oor 'n herverdeling van die beskikbare welvaart, dan het ons juis as christene daarin 'n taak om op te kom vir geregtigheid en billikheid. Dit beteken werklik nie dat ons op pad moet gaan na 'n sosialistiese samelewing, soos sommige meen nie. 'n Samelewing waarin elke burger presies dieselfde as 'n ander verdien hoef ons nie na te strewe nie. Immers soiets sou volkome in stryd wees met die eis van geregtigheid en billikheid wat ek sopas genoem het. Maar dit beteken wel dat ons mense nie mag oorlaat aan bikkelharde magte soos die wet van vraag en aanbod nie. Ons moet ons altyd bly afvra: Hoe sou die Here wil he dat ons met hierdie sake moet omgaan. Solank ons daardie houding het mag daar nog steeds dinge verkeerd gaan, maar bly ons tewens altyd aanspreekbaar op fundamentele christelike waardes.

2. Miga's profetiese betrokkenheid

Ons kom nou by vers 8. Miga se eie reaksie op die oordeel wat hy moet aankondig. Ek wil rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop...

Miga self is afkomstig uit die stam Juda, dus die oordeel oor Samaria gaan hom nie direk aan nie. Tog voel hy baie betrokke by wat met Samarie gaan gebeur. Hulle is tog maar 'n broedervolk, daar in Noordelike Israel. En daarby, Miga besef terdee dat die situasie in Jerusalem nie baie beter is nie. Daar leef maar dieselfde sondes onder die volk en die konings. Daarom gaan Miga al van te vore in die rou. Hy begin rouklaag. Hy kan wel huil as hy sien wat sal gebeur. Hy kan jank soos 'n jakkals as hy hom voorstel watter bloedbad die soldate van Assur in Samaria sal aanrig. Immers die onheil sal kom tot aan die poorte van Jerusalem, vertel vers 9. Dit beteken die tyd is vir Jerusalem ook nie ver of hulle sal deur dieselfde lot getref word nie.

As ons die woorde van Miga op ons laat inwerk besef ons die geweldige betrokkenheid van die profeet by sy voorseggings. Hy staan nie koel op 'n afstand en vertel wat gaan gebeur nie. Nee hy voel self heeltemel deel van die volk van God en daarom kan hy nie ophou huil oor wat hy sien wat gaan gebeur nie.

As profeet van die Here is hy werklik hartstogtelik betrokke by die heil van God se volk en daarom kan hy nie met droe oe oor die komende gerig profeteer nie.

Die toekoms vam die beloofde land staan mos op die spel. Die geestelike heil van sy volksgenote. En wat van die ellende wat sal kom oor die mense, die vroue, die klein kinders?

Hoe kan 'n profeet, 'n man wat glo in die liefdevolle bedoelings van God onder soiets koud bly?

Jy kry vandag onder sekere christene soms 'n houding van: "Laat die oordeel van God maar oor die wereld kom. Dit is mos voorse dat aan die einde van die tye daar oorloe sal wees en aardbewings en ander verskrikkings. Dit staan so in die Bybel dus laat ons ons nie drukmaak vir bevordering van die vrede in die land nie. Of die vrede onder die nasies, wat maak dit saak? Die Bybel se mos, 'n oordeel sal kom, dus hoekom sal ons bid vir beeindiging van oorloe? Moontlik bid ons dan selfs teen God se bedoeling in, want die oorloe moet mos kom? "

Ongetwyfeld het U wel eens mense so hoor praat.

Maar dit is 'n groot misverstand, 'n onchristelike misverstand selfs. Want wie so redeneer gee daarmee 'n onmiskenbare bewys dat hy self nog glad nie weet wat dit is om van genade te lewe nie. Alleen iemand wat self geen besef van sy eie doemwaardigheid vir God kan so praat. Alleen wie homself nie werklik as 'n sondaar voor God wil sien nie, kan so koud oor die nood van die wereld praat. Maar 'n Christen wat werklik glo in die Here, wat werklik God as sy Skepper liefhet, kan nie anders as om te huil met Miga as hy sien hoe dat die wereld hom steeds meer van God afwend. Hy kannie anders as rouklaag oor die bederf van God se pragtige skepping nie. Hy kan huil oor elke skepsel van God wat ten slagoffer val aan oorlogsgeweld of onder tirannieke verdrukking van watter soort ook al.

Wat het God die wereld nie wonderlik gemaak? En wat is die mens as mens nie 'n pragtige kroon op die skepping? Man en vrou het God die mens gemaak, twee persone wat saam 'n wonderlike eenheid mag ervaar. Maar wat het ons daarvan gemaak? Die huwelik word opgemors, deur mense wat dit nie kan hanteer nie, deur mense wat nie wil luister na wat God daarmee bedoel het en vervolgens haal hulle 'n namelose ellende oor hulleself, hulle kinders, hul familie en almal wat in hul omgewing is. Wie sou nie huil nie?

Of is daar nog mense wat se, ha eie skuld? Dit sou eers regtig hoogmoedigheid wees. Laat ons daarvan ver bly.

Die natuur word opgemors aan die inhaligheid van die kortsigtige mens. Wie sou nie rouklaag nie? Dis mos God se Skepping bedoel deur Hom om Hom daarin te verlustig? Kyk hoe lyk ons strate of ons strande?

Daar is probleme in die wereld teveel om op te som. En om hulle op te los lyk al heeltemal onmoontlik.

Maar se as christen nooit: Die probleme van die wereld bekommer my niks nie want die wereld gaan tog verlore. Bly betrokke. Juis as kind van God. Jy leef in God se wereld. In die hemel word getreur oor elke sondaar wat hom nie bekeer nie. In die hemel word geweeklaag oor elke mens wat op aarde geleef het sonder dat die evangelie by hom uitgekom het. Maar in die hemel word ook gejuig oor elke sondaar wat hom bekeer. Oor elke mens wat in sy lewe leer om van genade te lewe.

En so is Die profeet Miga 'n ware boeteprediker. Hy bly nie koud en onaangedaan onder die woord wat hy moet bring nie, maar hy le sy hele hart daarin. En daarom het sy boodskap tot vandag toe krag.

Hy is werklik 'n getroue getuie van die Here. Want onse God is nog altyd 'n God van genade wat geen behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe!

En daarom is die boodskap van Miga vandag vir ons: Bly nie koud onder die nood van die wereld nie. Kyk rond in die kring van jou kollegas en sien hul nood raak. Laat weet dat God

'n God van genade is ook vir hulle. Laat hoor dat daar net in die gehoorsaamheid aan sy woord werklik geluk en lewe is.

Verhef jou stem soos Miga en dra jou naaste op in jou gebed tot God. Dan sal jy by geleentheid ook woorde vind om vir hom te se.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)