Die Here verhoor die gebed vir gewas en arbeid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Hoséa 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR HOSEA 2: 20, 21

LITURGIE:
L. Hosea 2
T. Hosea 2: 20, 21
Ps. 65: 3, 6
Ps. 65: 2
Ps. 105: 5
Ps. 81: 11, 12, 13, 15, 18
Ps. 4: 3
Ps. 4: 4

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het vanmôre saamgekom om 'n groot hoeveelheid energie te ontwikkel! Die energie van die gebed.

Ons het saamgekom om vir gewas en arbeid te bid. Om die HERE se seën oor die arbeid op die landerye en in die fabrieke af te smeek. En hierdie gebed vorm die onmisbare energie wat nodig is vir die lewensonderhoud van hierdie wêreld.

Dit lyk belaglik om die gebed 'n onmisbare energiebron vir die voedselvoorsiening op aarde te noem. Maar moenie die energie van die gebed onderskat nie, broeders en susters!

Daar is op hierdie aarde geweldig baie energie nodig om elke dag opnuut miljoene monde en mage te kan vul. 'n Belangrike deel van die arbeidsproses is daarvoor ingeskakel. Vanaf die landbou- en tuinboubedryf, waar die land bewerk, die gewasse gesaai, versorg en geoes word, die veeteelt waar die vee gefok, gemelk en vetgemaak word, tot aan die winkels waar ons die voedingsprodukte kant en klaar kan koop, loop 'n lang pad waarop heelwat energie verbruik word.

En dan praat ek nog nie eers oor die invoer en uitvoer, oor al die ondersoek wat gedoen word na beter voedingsmetodes en na die ontwikkeling van nuwe gewasse, oor die ekonomiese probleme wat met die produksieproses gepaard gaan nie.

Wat moet daar 'n energie ontwikkel word om met mekaar hier op die aarde van dag tot dag en van jaar tot jaar te kan bly lewe! Energie van mense, van masjiene, van vragmotors en skepe.....

En hoe sorgwekkend word dit as ons te kampe kry met 'n energietekort! 'n Probleem wat baie lande ken. Intensief soek hulle na nuwe energiebronne as die energievoorade wat hulle tot nou gebruik het dreig om uitgeput te raak.

Tog is die energie wat ons vanmôre sal ontwikkel van meer waarde vir die lewe op aarde as al daardie andere energie by mekaar.

Want al daardie ander energiebronne sou nie daar wees nie as daar nie die energie van die gebed was nie.

Deur die gebed van die kerk, wat daar op aarde altyd gewees het, word naamlik die allergrootste Energiebron wat daar bestaan aangeboor, die Bron waaruit al die ander energiebronne voortgekom het, die Fontein van alles wat goed is, die Lewensbron, God die HERE in die hemel wat aan almal lewe, asem en alles gee.

Die HERE in die hemel is dit alleen wat die lewe hier op aarde moontlik maak.

Maar Hy doen dit op die gebed van sy kerk.

Solank as die kerk die energie van die gebed maar bly gebruik, word daar vanuit die hemel alle energie gegee wat nodig is vir die lewensonderhoud hier op aarde.

Want waar die kerk bid daar verhoor die HERE.

Daarvan vertel ons teks. Ek het die boodskap daarvan so saamgevat:

DIE HERE VERHOOR DIE GEBED VIR GEWAS EN ARBEID

  1. As ons in ons gebed Hom weer as die Verbondsgod erken,
  2. sal Hy Hom op ons gebed weer as die Verbondsgod laat ken.

1. Ons teks, gemeente, vorm die verrassende slot van 'n hoofstuk wat treurig begin het.

As die HERE sê: "En in diè dag sal Ek verhoor.... ", dan beteken hierdie woorde 'n nuwe begin, waarmee 'n droewige verlede afgesluit word.

Daar kon naamlik lange tyd geen sprake wees van "verhoor" nie, aangesien daar ook nie meer "gebid" was nie.

Met diè klag het die HERE in Hosea 2 begin. Sy volk Israël het die gebed en die danksegging vir gewas en arbeid verleer.

Israël het haar voedsel en drank, haar kleding en lewensonderhoud nie langer van die HERE verwag nie; en sy het Hom ook nie meer die dank daarvoor gegee nie. In plaas daarvan het die volk haar aan die Baäldiens verslinger. Die Kanaänietiese afgode van reën en vrugbaarheid het die eer bekom wat alleen aan die HERE toekom. Ons weet uit Israël se geskiedenis hoe hierdie afgodery met die Kanaänietiese Baäls eintlik al vanaf die eerste jare wat die volk in die beloofde land mog woon, vat op die mense gekry het. Die HERE het mee met die oog daarop geëis dat alle oorspronklike bewoners van Kanaän, saam met hul hele afgodediens uitgeroei sou word. Hy het by voorbaat geweet van die gevaarlike verleiding wat daar van die Baäldiens sou uitgaan. Daar sou baie geloof en liefde vir Hom nodig wees om alleen te lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. Baie gemaklik sou die hart hom kan laat wegtrek na die sigbare afgode, waarvan hulle verwag het hulle kon vir reën, kos, kleding en voorspoed sorg, as hulle maar deur allerlei rituele handelinge gunstig gestem sou word.

Maar Israël het, na die intog in Kanaän, diè gebod om die bewoners van Kanaän uit te roei, in die wind geslaan.

Die merendeel van die volk het die Baäls gaan dien. Hulle het hul kos en hul drank by die Baäls gaan haal pleks van by die HERE. En hul dank het ook by die Baäls tereg gekom.

Hoedat die profete ook gedurigdeur hierdie ontrou aan die kaak gestel het- die Baäldiens was nie uit die hart van die volk uit te roei nie.

Daaroor kla die HERE in Hosea 2.

Maar dis nie die klag van 'n leweransier wat sien hoedat 'n goeie klant sommer by 'n mededinger binnestap nie. Die klag sit baie dieper. Israël is vir die HERE sy bruid wat nou ander mans naloop. Israël is 'n owerspelige vrou wat deur haar man oorlade is met liefde en liefdesgeskenke, maar wat so ondankbaar en kortsigtig is dat sy haar liefde aan vreemde minnars weggee.

Van ouds het daar mos die intieme band tussen die HERE en sy uitverkore volk Israël gelê. Geen saaklike band soos tussen 'n leweransier en sy klant nie, maar 'n liefdesband soos tussen bruid en Bruidegom, 'n Man en sy vrou.

So het die HERE met Israël begin, so het Hy haar aangespreek toe Hy haar dwarsdeur die woestyn na die beloofde land toe saamgeneem het: Jy sal my volk wees, my eiedom, my liefste skat. En die bruidskat, die lobola, het al klaargelê: 'n land wat oorgeloop het van melk en heuning, vrugbaar en welvarend. Elke dag sou daar volop wees, as 'n blyk van God se liefde.

Maar Israël het skaars hierdie huweliksgeskenk in ontvangs geneem of sy het aan die HERE die liefde opgesê en haar heil by die Baäls gaan soek. Sy was so dwaas dat sy nota bene gesê het: (sien vers 4) "Ek wil my minnars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee".

En toe was daar natuurlik van gebed tot die HERE geen sprake meer nie.

As die HERE hieroor kla in ons tekshoofstuk, dan laat Hy dit nie net by kla nie. Hy gaan 'n einde maak aan hierdie owerspelige ontrou! Hy sal sy volk aan die verstand bring dat net Hy die reg op haar haar liefde en haar dank het.

Hy sal dit doen deur sy volk juis daar aan te tas waar die Baäls die eer ingeoes het.

As Israël nie besef dat dit haar Verbondsgod is wat aan haar die koring, die mos en die olie gegee het, wat die silwer vir haar vermenigvuldig het, en goud, wat sy vir Baäl gebruik het- dan sal Hy alles weer van haar af wegneem (kyk vs. 7 en 8). Dan raak sy die koring in die oestyd en die mos op die daarvoor bepaalde tyd, die wol en die vlas, ja haar hele welvaart weer kwyt. Dan word die land wat oorgeloop het van melk en heuning 'n dor en kaal woestyn. Dan sal Israël agterkom hoe bedrieglik haar minnaars waaraan sy haar het hart en siel uitgelewer het, was.

Sy sal sover moet kom dat sy sê: "Ek wil heengaan en terugkeer na my eerste Man, want toe het ek dit beter gehad as nou".

Maar voordat dit sover is, moet Israël wel weer in 'n woestynsituasie teruggebring wees. God se owerspelige bruid moet eers kaal uitgetrek word. Eers dan sal sy besef hoe fataal haar minnaars was en hoe volkome sy op haar enigste Man aangewese is.

Dan sal die HERE eindlik weer met sy bruid allèèn wees, terug in die woestyn soos hulle ook begin het na die uittog uit Egypte.

Dan gaan God 'n nuwe begin met sy volk maak. Na alle owerspel maak die HERE nogtans geen einde aan die verhouding met sy volk nie. Hy besluit inteendeel tot 'n nuwe bruilof! Hy gaan opnuut hierdie volk die hof maak, Hy wil opnuut aan haar verloof raak en met haar trou. Daar word 'n nuwe liefdesverbond gesluit, die ring word opnuut aan die vinger geskuif.

En dan kom daardie woord van ons teks, broeders en susters: "En in diè dag sal Ek verhoor, spreek die HERE... ". As daar 'n nuwe bruilof kom, hoef God se bruid nie kaalgat te bly nie. Sy hoef in die woestyn nie te bly nie. God gee nuwe huweliksgeskenke in die vorm van voedsel en drank, kleding en welvaart. Omdat die huwelik weer goed is!

Want dit lê tog in daardie woordjie "verhoor" opgesluit: daardie woordjie veronderstel daar word weer gebid. Waarom kom die geskenke van akker en arbeid nou tog weer los? Omdat daar weer tussen die HERE en Israël gepraat word. Omdat die liefdevolle kommunikasie herstel is. Omdat daar weer die wedersydse erkenning is.

Israël ken en erken die HERE weer as haar troue en liefdevolle Verbondsgod. Sy weet weer aan Wie sy lewe, asem en alles te danke het. Sy laat dit weer blyk ook in haar gebed vir gewas en arbeid. Die name van die Baäls het God vir goed uit haar mond verwyder, hul naam word nie meer genoem nie. Maar Hy ontvang weer die liefde en die dank wat Hom toekom. Sou Hy dan nie verhoor nie?

Die HERE noem sy volk met 'n nuwe naam, gemeente. Hy noem in ons teks sy bruid wat weer geleer het om te bid, nie Israël nie, maar Jisreël. 'n Veelbetekenende naam.

Die naam "Jisreël" herinner naamlik sowel aan Israël se slegte verlede as aan God se nuwe begin. Want Jisreël was vroeër die vrugbare landstreek in Kanaän waar vanaf Agab en Isebel die koningshuis sy residensie gehad het en vanwaaruit die Baäldiens onder die volk gebring is.

Maar in hierdie selfde vlakte van Jisreël waar Baäl die eer gaan inoes het, is vanaf daardie tyd ook baie veldslae gelewer onder die toorn van die HERE oor die ontrou van sy bruid. Veldslae wat Israël almal verloor het. In hierdie vlakte het die Assyriëes Israël vernietigend verslaan, sodat God se bruid sêmaar in die woestyn teruggeslaan is. Maar daar in die woestyn het sy dan ook haar God weergevind.

Jisreël is dus die naam wat herinner aan Israël se verbondsverlating èn aan God se verbondsvernuwing.

En hierdie naam pas nog ekstra goed by God se volk as ons op die betekenis van hierdie naam let. "Jisreël" berteken: "God saai". Met diè betekenisvolle naam wil God met sy volk verder. Hy het weer 'n volk teruggekry wat via 'n moeilike weg moes leer dat net Hy die Saaier is. Dat agter alle werk van saai en oes, agter die hele natuurgebeure die Verbondsgod staan as die groot en enigste Saaier van enige lewe wat ontkiem. Hy het weer 'n volk op aarde wat daar bewys van gee sy het hierdie les geleer. Israël bid weer vir die daaglikse brood, vir gewas en arbeid.

Hierdie volk met die nuwe naam "Jisreël", waarin erken word dat die HERE die Gewer is van alles wat goed is - hierdie volk is ons, gemeente. Ons is die volk van die Nuwe Verbond. In ons Here Jesus Christus het die HERE 'n nuwe begin met ons gemaak en ons vir ewig tot sy bruid gemaak. Deur die Gees van Christus het Hy ons hart weer na Hom toe gelok en weer die gebed aan ons ontlok.

Dis mos hoekom ons hier vir 'n bidstond saamgekom het?

Om van ons Verbondsgod te vra wat niemand anders ons kan gee nie. Ons weet hoe magteloos ons van ons self is. Hoe afhanklik van reën byvoorbeeld; hoedat een haelbui 'n hele oes kan verwoes.... Ons weet van die ekonomiese boikot deur die buiteland, van 'n toenemende inflasie van die Rand, pryse wat al hoe hoër word.... Maar ons soek daarom nog nie ons hulp by die gode van benede wat baie bedrieglik is nie. Ons stel ons verwagting nie net op politieke leiers en groot ekonome nie. Ons organiseer geen staking maar 'n bidstond. En wat ons vanmôre gesamenlik doen, doen ons elk vir sig elke dag: ons vou ons hande en ons sluit ons oë en ons weet en bely: ons hulp is in die Naam van die HERE wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy is die Saaier wat ook vir die oes sorg. Sover het God ons deur sy Seun Jesus Christus weer gekry.

Maar daarom mag ons ook by voorbaat seker wees van die verhoring van ons gebed vir gewas en arbeid.

2. Want as ons die HERE weer as die Verbondsgod erken, sal Hy Hom op ons gebed ook weer as die Verbondsgod laat ken. Dan is ons gebed nie verniet nie. "Ek sal in diè dag verhoor" sê die HERE.

Hy sal nou ook laat sien dat Hy wèl kan wat die Baäls nie kon nie: verhoor.

Hy het al in die tyd van Agab geprobeer om dit sy volk aan die verstand te bring. U weet mos van die geskiedenis van Elia op die berg Karmel. Wat het die Baälpriesters hul uitgesloof om van Baäl 'n antwoord los te kry. Hulle het hulself die vel stukkend gekerf om maar hul afgod aan die praat te kry. Maar daar het geen enkele reaksie gekom nie. Hoe sal iets wat nie bestaan nie ook praat?

Toe mog Elia wys hoe gou en rojaal die HERE antwoord gee op 'n eenvoudige gebed. Sodat die volk wel tot die erkenning moès kom: die HERE is God!

As die HERE die erkenning maar kry dat Hy God is, dan sal Hy Hom ook so laat ken, broeders en susters. Dan kom daar in die verbond vanself kos en drank, kleding en 'n dak bo ons kop en daardie tipe van sake vir ons lewensonderhoud saam.

Natuurlik, daar is 'n hele produksieproses vir nodig voordat ons dit alles in huis het. So het God dit in die natuur gereël. Maar hierdie proses word in die hemel, deur die God van die verbond, aan die gang gesit. Op die gelowige gebed van van sy volk op aarde. Dit gebeur tog nie "vanself", maak die HERE in ons teks duidelik.

Want as daar wat sal groei op aarde, dan moet die hemel op sy tyd reën en sonnewarmte gee. Maar die hemel kan dit uit homself nie gee nie. As God dit nie vir die hemel gee nie, het sy niks te bied nie.

En as daar wat sal groei op aarde, dan moet die aarde vrugbaar wees en voedingstowwe gee. Maar die aarde kan dit alleen as die hemel reën en warmte gee. Kortom, so gou as God in die hemel die produksieproses stilsit gaan die lewe hier op aarde dood! Ons is volkome van Hom afhanklik.

Israël het dit agtergekom. Meer as een keer. Dan het die hemel soos koper geword en die aarde soos yster, en daar het geen sprietjie gras meer gegroei nie.

Maar as God die gebed van benede verhoor, kom alles weer tot lewe. Dan kom daar wat daar vir die noodsaaklike lewensonderhoud moet wees. Daar kan selfs meer as dit kom: oorvloed, welvaart luukse.

Ons produksieproses vandag het nog baie ingewikkelder geword, broeders en susters. Baie-baie ratte gryp op mekaar in in 'n indrukwekkende raderwerk, voordat ons dit wat ons benodig in die winkels kan koop. Maar ons mag nooit vergeet nie: daardie hele raderwerk word aan die gang gesit en draaiend gehou deur die HERE in die Hemel, wat hom daarin laat ken as ons troue Verbondsgod wat ook vir ons noodsaaklike lewensonderhoud sorg. En dit is die verhoring op ons gebed. Alleen op ons gebed, en daarin ons erkenning dat ons op sy liefde aangewese is, hou die HERE die hele produksieproses aan die gang.

So belangrik is die energie van die gebed. Die gebed is diè middel wat God stimuleer om Hom as ons Verbondsgod te laat ken. Dat daar op hierdie aarde nog altyd lewe en welvaart gevind word, het die wêreld uitsluitend aan die biddende kerk van Christus te danke. Was daar nie meer 'n kerk nie- daar so lankal geen wêreld meer wees nie.

Dat God nog elke dag sy son laat opgaan oor goeies èn slegtes- dat hy dit laat reën op regverdiges en onregverdiges, is alleen terwille van sy biddende kerk wat Hom erken as die God van die verbond. Hy wil Hom aan haar nou ook laat ken as die God van die verbond wat sy bruid nie van gebrek laat omkom nie. Omdat Hy sy bruid om Christus ontwil verhoor, daarom skyn die son nog elke dag en val daar nog reën op aarde. Omdat Hy sy bruid verhoor, daarom word daar nog geëet en gedrink op aarde. Die goddeloses mag daarvan mee profiteer, maar as hulle hul nie bekeer nie, is hul vreugde maar van korte duur. Want wie sy kos en drank en welvaart nie in die verbond met God ontvang en gebruik nie, gaan daaraan te gronde.

Ons sal dus nou-nou weer bid, gemeente en ons God met 'n beroep op Christus aan die afspraak van die nuwe verbond herinner. Dan mag ons by voorbaat seker daarvan wees dat Hy van dag tot dag ons sal gee wat ons benodig. Baie of maar min, ons weet nie. Hy gee genoeg- dit weet ons wel.

Hy het mos Self aan ons geleer om te bid:

    Open julle mond,
    eis van My vrymoedig
    op My trouverbond.
    Al wat jul ontbreek
    skenk Ek as jul smeek
    mildlik en oorvloedig.

AMEN.

(Pretoria, 4 Sept. 1988)[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)