Die Here bring die vuurkrag van Sy Woord in stelling

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Eségiël 3
Preek Inhoud: 

ESEGIEL 3 : 10-11

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 18 : 1, 2, 3
Wetslesing
Sing: Ps. 18 : 5 [Sinaï, Christus se koms]
Skriflesing: Esegiël 2:1 - 3:15
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 38 : 1, 2, 3
Tekslesing: Esegiël 3:10-11
Bediening van die Woord
Sing: Ps. 19 : 5, 7
Dankgebed
Sing: SB. 50 : 5, 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

vandag wil ons saam die sendingweek begin. Dis dié week wat voorlê en wat tot 'n hoogtepunt mag kom op die Sondag, waarop die drie sendelinge bevestig word. Ons heet iewers nou: 'n sending-gemeente. Ons is direk verantwoordelik vir die werk van manne wat buite die grense van die gemeente onder die swart bevolkingsgroepe werk. Volgende Sondag sal die sendingwerk, veral van die werk van die sendelinge in die middelpunt staan. Kyk ons nou eers na onsself: watter gemeente is die Vrye Gereformeerde Kerk, watter mense is ons dat ons die sendingswerk op ons geneem het?

Ons kyk vorentoe: sal ons deur die jare wat kom hierdie werk in dankbaarheid en ontsag vir die Here kan doen? Watter krag het ons om dit te kán doen? Die hele wêreld kyk na wat die supermagte in die Midde-Ooste maak. Ons het sedert Donderdagmôre gesien wat moderne leërs kan doen: met so ontsaglik baie wapens, vliegtuie, manne, tenks. Dis baie mannekrag, slaankrag, vuurkrag. Bevele is uitgevaardig en onmiddelik het die aanval begin. Magsvertoon soos hierdie kan 'n mens angstig maak én diep beïndruk. Nee, ons sal nie vra: "watter krag het ons?" nie. Ons vra: watter krag het ons Opperbevelhebber?! Want in die visioen, waarmee die boek Esegiël begin het, in die verskyning van God se heerlikheid was ook vuur en krag, onmiddelike gehoorsaamheid en beweging!

Ek bring u vandag God se Woord:

DIE HERE BRING DIE VUURKRAG VAN SY WOORD IN STELLING

Dis

  1. in 'n gewone mens gelê (vs. 10)
  2. vir 'n harde volk bestem (vs. 11a)
  3. op 'n eerste doel gerig (vs. 11b).

1. DIE VUURKRAG VAN DIE WOORD: IN 'N GEWONE MENS GELÊ (vs. 10)

'n Profeet is in 'n mate 'n "sendeling". Die HERE send, die HERE stuur hom. Maar moenie dink dat profete en sendelinge (wat ons iewers altyd op 'n afstand sien) tog 'n bietjie ander mense is nie. Dit kom baie mooi in die woord uit waarmee God Esegiël kom aanspreek: "Mensekind". Hierdie woord lyk amper soos 'n titel. Presies so spreek sy God hom aan; 93 keer in die hele boek. Uit die eerste verse van die boek weet ons: Esegiël was 'n priester. As hy in Jerusalem mog bly het, sou hy lankal priester in die mooi tempel geword het. Die priesters is deur Nebukadnessar as invloedryke persone beskou. Dis hoekom ook hulle almal in ballingskap gevoer is. Die mense wat vir die gewone volk waarde het, is almal gedeporteer. Maar nou sê die HERE nie: "kyk, Ek het daar 'n priester, 'n man met gevoel vir roeping van kop tot tone. Laat Ek hom roep en hom op sy talente aanspreek". Nee, God sê: mensekind.

Hierdie woord beteken net: jy, mens. Net een van die mense. Niks meer nie. Party mense dink dis 'n woord met gevoel. Die HERE praat vol ontferming oor sy "kinders" wat Hy soos swak mense ken. Maar daardie betekenis (God se kind) lê nie in hierdie woord nie. Ja, die Hebreeus sê letterlik: kind van 'n mens. Maar dis 'n gewone uitdrukking om één van 'n soort aan te dui. God sê: Esegiel, jy is vir my net 'n mens. Dit lyk dalk nie baie nie, maar vir My is dit genoeg. God soek gewone mense. Ook as God getuies van sy grootheid soek, is mense genoeg. Solank as hulle maar besef dat hulle net mense is. Dienaars van die HERE moet weet hoe om afhanklik te bly. Spesiale en gewone dienaars, hulle en jy: vir God in die eerste plek mense.

Hierdie twee hoofstukke begin nádat die HERE in sy volle heerlikheid aan Esegiël verskyn het. God Drieënig ontplooi sy hele mag: van hemel en aarde, engele en skepsele. Met vuur en glans, spoed en storm kom Hy om 'n nuwe profeet te roep. En Esegiël ... het plat op sy gesig geval. Hy het nie met 'n halleluja opgespring en die HERE bly aanbid nie. Nee, hy het regtig geval. Hy het nie die krag gehad om homself staande te hou nie. God het Homself as die Magtige gewys ... en Esegiël het homself nog nooit so swak gevoel. God het Homself as die Skepper van hemel en aarde gewys ... en die profeet was net 'n mensekind.

Maar toe het die Gees gekom. Saam met die Woord wat die HERE spreek, kóm die Gees in Esegiël, sodat hy weer regop op sy voete gesit word. "Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek" (vs.1). Die Koning praat net as sy dienaar staan, gereed staan om te luister én om op pad te gaan. Ons teks sê: "Mensekind, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op". Hoe kan, hoe moet 'n gewone mens met wat hy van God hoor, werk? Hoe moet hy dit vérwerk? Die antwoord is 'n bevel: "neem dit in jou op!". Hierdie woorde verwys na die gebeure met die boekrol (2:8-3:3). U onthou nog: dit het alles in 'n visioen gebeur. Esegiël is iewers opgeneem in die gesig van die heerlikheid van die HERE. Hy het 4 wesens gesien wat ook hande het. Hy het deel van die wonderbaarlike gebeurtenis geword. 'n Hand is uitgesteek en het 'n boekrol aangegee. Dis vir sy oë oopgerol: dit was heeltemal volgeskryf. Toe moes Esegiël die hele rol ook opeet! Nee, nie werklik nie, want u onthou dis 'n visioen. Dinge gebeur, maar dis nie die vorme, die sigbare dinge wat die doel is nie. Die doel is die betekenis, God se magtige werklikheid wat indringend gewys word. Die betekenis van die eet van die boekrol is: die Woord van God moet heeltemaal deur die mense opgeneem word. So heeltemaal soos wat jy voedsel opneem. "Laat jou buik eet en vul jou ingewande met hierdie rol". Die visioen gaan sover dat dit vir Esegiël werkelik gelyk het. Dit was selfs "soet soos heuning". Soos ons dit in die Psalm 19 sal sing: "geen heuning is so goed, geen heuningdrup so soet - daar 's niks wat daarby haal nie".

So het God gewys: my Woord is nie net 'n krag wat oorweldigend groot buite jou is nie. Dis 'n krag wat soos voedsel 'n deel van jou kan word! Hierdie krag van God, so sterk soos die donderweer, kom in 'n mens. Dit kan vir hom vleis en bloed word, soos sy daaglikse voedsel. Ja, God se krag vir 'n gewone mens! Die HERE gebruik die ete as voorbeeld: so menslik. "Esegiël, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op". 'n Mooi Engelse uitdrukking is: get it into your system! Soos ons musiek kan hoor en die rimte in ons liggaam voel. As God met sy spesiale Woord kom, het dit krag, soos vuurkrag. Om 'n ding te bereik. God kan dit ook in gewone mense doen.

Ja, maar waar lê nou die toepassing? Is dit net vir spesiale dienaars? Nee! Want tussen die spesiale dienaars van die Ou verbond, die profete én die van die Nuwe verbond lê tog Christus se kerk. Die Woord van God en van die Here Jesus, die profetiese Woord, het die Heilige Gees aan die kerk gegee. Dit is vir christene, vir julle eers. Sáám met julle dienaars mag jy weet: die Heilige Gees lê vandag hierdie Woord in my hart. Dieselfde taal praat ons Here Jesus: Ek is die brood van die lewe! Dis hierdie taal wat die Nagmaal praat: jy mag met jou sintuie voel! Englo: God se krag is werklik. As ek luister. Jy mag dit met jou ore hoor en in jou opneem. Soos brood in jou liggaam opgeneem word en dit sy krag gee. Maar onthou net: God se Woord het krag. En Hy het 'n doel. Die krag mag nooit in jou liggaam wegvloei en vinnig verdwyn nie. Luister daarom ook na die skerp vervolg:

2. DIE VUURKRAG VAN DIE WOORD: VIR 'N HARDE VOLK BESTEM (vs. 11a)

Die HERE sê ook vir Esegiël vir watter mense hy 'n profeet moet word. Hy sal nie 'n tipe sendeling wees nie. Nee, "kom, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk". Kinders beteken hier opnuut: die lede van jou volk, jou volksgenote. Ja, hulle is ballinge. In die vorige preek het ek gesê: die ballingskap is 'n tyd van hartseer, beproewing en verlies. Lê daar nou medelye in God se plan: Esegiël, Ek stuur jou na my arme volk wat in ballingskap sug? Nee, eers nie. Onthou u wat ons gelees het (2:3-4)? "Ek stuur jou na die kinders van Israel, na die opstandige nasies wat teen My opgestaan het; hulle én hul vaders het teen My oortree, tot vandag. En die kinders? Hulle is hard van aangesig en verstok van hart". Medelye met ballinge? God noem hulle met woorde asof hulle glad nie medelye verdien het nie. Opstandig: dis revolusionêr. Hard, sowel innerlik as uiterlik. Hulle gedrag bewys hoe hulle dink. Die HERE sê: die vadere én hulle, die kinders. Almal. So was julle, so is julle nog steeds.

Die HERE kies ook 'n meervoud: "die nasies". Daarmee bedoel Hy nie die ánder volke nie. Nee, die HERE bedoel net die volk van Juda, net die twee stamme wat nog oor is. Die deel wat nog in die laaste deel van die beloofde land is én die deel wat in Babilonië, in ballingskap is. Dit was 'n groot beproewing, en ook 'n straf. Maar dit het hul geloof nie gesuiwer en nie gesterk nie. Dit lyk asof die HERE verniet geprobeer het. Selfs die profeet is nie 'n beter mens nie. Die HERE moet ook met hom begin om hom te leer hoe om te gehoorsaam. Hy moet in die visioen daardie boekrol eet om sy gewilligheid te wys. Hy is 'n mensekind, sy volksgenote is sy soortgenote.

In 3:5-6 sê die HERE dit alles nog skerper. "Esegiël, jy is nie gestuur na 'n volk wat 'n onverstaanbare, moeilike taal praat sodat jy nie kan verstaan wat hulle praat nie". Die profeet is nie 'n sendeling wat 'n vreemde taal moet leer nie. Maar, sê die HERE, as dit so sou wees, "hulle sou na jou geluister het"! Nee, maar Ek stuur jou na My volk. Maar sal hulle luister, hulle wat my Woord in jou eie taal hoor? Nee, God bring die vuurkrag van sy Woord teen Sy harde volk in stelling. Dis vir 'n volk wat ook hard is soos ons die Irakese "hard" noem, hardnekkig om van siening te verander. Juda is hard soos 'n volk wat geen ander moontlikheid oop laat as om hom te breek nie. Asof geen ander oplossing gekies kan word as vuurkrag nie.

Mag ek hierdie adres van God se Woord ook op u toepas? Is u ook harde, opstandige mense teenoor die HERE? Ons noem mekaar tog kinders van God en christene met Jesus? Ja, maar ons is in die eerste plek mense. Mense wat dikwels neerbuigend praat oor ander mense. Oor mense wat lid is van 'n ander kerk en maar nie wil verstaan wat prediking en tug is nie. Ons praat oor mense wat so 'n ander kultuur het dat hulle geloof nog baie swak moet wees en nog glad nie die gereformeerde diepte het nie. Luister hoe die HERE praat oor mense met 'n lang geskiedenis, oor mense wat sy verbond mooi ken! Wie luister eerder: 'n mens wat in sy daaglikse taal nog nooit die krag van God se Woord gehoor het of 'n kerkgemeenskap wat gewoond geraak het aan daardie krag? Ons én hulle is mense, laat die HERE ons vandag sê. Hy doen dit nooit sonder krag nie: sodat ons uit ons stellinge uitkom en na mense, na mekaar toe beweeg om die Woord vir hulle te vertolk. Die Gees van ons Here Jesus het Europese en Afrikaanse volke, die blank en swart Afrikaner dieselfde Woord gegee. Dis ook dieselfde waarskuwing vir jou en die ander: God het in Christus verskyn! Die krag is nog groter, omdat daar nou versoening en vernuwing is wat nie verwerp mag word nie. As die Gees ryk uitgestort is, mag u die Gees nooit meer bedroef nie.

As die HERE sy profeet gereedmaak, as Hy met sy Woord kom, sien ek: dan kom altyd ook die krag, die vuurkrag van sy Woord in stelling. Soos teen 'n harde volk wat net hierdie taal verstaan!

3. DIE VUURKRAG VAN DIE WOORD: OP 'N EERSTE DOEL GERIG (vs. 11b)

Maar waar bly dan die troos? Is daar glad nie 'n blye boodskap nie? Die samevatting van die opdrag vir die profeet is: "Sê: so spreek die HERE - of hulle al luister of nie". Die doel van die verkondiging lyk nie bekering te wees nie. Dit lyk asof God nie meer omgee nie! Selfs 'n ballingskap het nie gehelp nie. Nee, die HERE gee altyd om hoe sy Woord gehoor word. Maar hier stel Hy sy eerste doel. Net soos die eerste doel in die aanval van die Verenigde Volke was om die militêre mag van Irak te breek. Ja, dis erg. Maar die einddoel, die hoofdoel is die bevryding van Koeweit. Dit sal mooi wees! So noem die HERE hier nou net sy eerste doel: omdat eers oor die hardheid van sy volk gepraat moes word. Ons mag nadink. Want God het tog in Christus se lewe en in sy offer Homself as 'n genadige Heer gewys? Ja! Dis hoekom dit nog belangriker is om die krág van God se Woord te ken. Die Openbaring aan Johannes teken ons Here Jesus in 'n visioen met "oë soos 'n vuurvlam". Die genade is ook sterk: dis al genade as God praat! Daar moet ons begin om te verstaan. Om te gehoorsaam. As God praat, maak dit eers nog nie saak wat Hy vir jou sê nie. Maar luister net. Dit beteken: Hy gee om dat sy Woord gehoor word.

Ja, maar wat dan van die woorde: "of hulle al luister of nie"? God is nie agteloos oor die einddoel nie. Maar dit beteken: dis eers genoeg as my Woord deurvertel word. Hoe die mense reageer is die volgende stap. Eers moet Ek dit bereik dat my Woord, my Stem in die wêreld gehoor word! Dis hoekom, en dis hoe Ek deur harde mense wil heen breek. Het jy ook al opgemerk dat die HERE aan Esegiël nog glad nie sê watter boodskap hy vir sy volk moet gaan sê nie? Daar is nog glad nie 'n inhoudelike opdrag nie. Dit sal in hoofstuk 4 begin. Nou sê die HERE net: "Spreek: so sê die HERE"! Dis die HERE wat praat! Daardie paar woorde sal die gesag wees vir die profeet om te kan praat. Dis vir eerste genoeg. "Of hulle al luister of nie". My Woord moet eers klink! Soos die HERE in 2:5 sê: "Maar of hulle al luister of nie, hulle sal moet erken dat daar 'n profeet van My in hulle midde was". Dit is 'n profeet of 'n kerk of christene wat namens God gepraat het: dis is al 'n hele oorwinning as niemand dit kan ontken nie.

God se eerste doel is gerig op die bevryding van die onderdrukker. Die onderdrukker: dis ook die bose geeste wat die werk van die heilige Gees in ons onderdruk. Dis die bose gedagtes wat die Woord van God wegdruk uit my gedagtes. U mag hoor en opnuut besef dat dit 'n groot genade is dat God na 'n lang geskiedenis nog met 'n gemeenskap van mense wil praat. Na baie sondes. Na beproewings wat maar so kort regtig 'n verandering bring. U mag hoor, sodat dit u vleis en bloed word, wat 'n wonderlike ding dit is as God se Woord nog gebring mag word in hierdie land en hierdie stad. Of dit so vinnig as wat u dit wens bekering bring? Begin maar om bly te wees as God sy eerste doel bereik: dat die kerk en die christene Sy Woord nog mag bring. Want jy weet: dan bring die HERE die vuurkrag van sy Woord in stelling.

Jy mag die verskyning van God se heerlikheid in die Seun van God, die mens Jesus Christus ken. Jy mag weet - dis eerste vir jouself, dan vir die ander naas jou in die stad - dat sy ernstige Woord van liefde 'n groot krag kan wees. As jy begin om te hoor. As jy opnuut vervul word deur die Gees: wat die Woord in gewone mense, in 'n harde volk bring. Die krag kan teen my as mens, teen ons as kerk gerig wees. Maar ook deur my, deur ons werk. Beide kere is dit: vuurkrag.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)