Jakob se volk word verlos om weer die Here te dien

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jeremia 30
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JEREMIA 30: 8, 9

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB. 2: 1
Wetslesing
SB. 2: 3 (eerste 7 reëls) en 4 (laaste 3 reëls)
Doopsformulier
SB. 2: 2
Gebed
Kollekte
Ps. 89: 2, 8, 11
L. Jeremia 30
Prediking
SB.18: 5, 8
Gebed
Ps. 72: 1, 7
Seën

Broeders en susters,

Het dit u opgeval toe ons Jeremia 30 gelees het, dat die HERE sy volk in hierdie hoofstuk telkens as "Jakob" aanspreek?

Sien byvoorbeeld in die versie voor ons teks: Jakob sal uit 'n tyd van benoudheid verlos word. En na ons teksverse lees ons: "Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob....... Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak".

Ons kyk ook nog gou na vs. 18 waar die HERE sê: "Kyk, Ek verander die lot van die tente van Jakob... ".

Telkens daardie naam Jakob vir God se volk.

Ons loop dit origens nie net hier by die profeet Jeremia raak nie. U kry dit ook by Jesaja: "Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob... ". En dit keer selfs terug in die aankondiging van die geboorte van die Here Jesus Christus aan Maria, as die engel sê dat Maria se Seun as Koning sal heers oor die huis van Jakob tot in ewigheid.

Waarom word daardie ou naam na bo gehaal?

Waarom telkens hierdie naam in die omgewing van ons teks?

Wel, gemeente, die naam Jakob roep ons terug na die begin, toe God se volk nog niks was nie en nog alles moes word.

Ná Jakob, die laaste van die aartsvaders, het die groei gekom: 12 seuns en 12 stamme. Toe het die volk begin groei tot 'n groot volk wat God se volk mog wees en waaroor die ander volke al gou met ontsag sou praat.

Maar met Jakob moes dit alles nog kom.

Jakob het alleen nog maar belóftes gehad en origens het Jakob se tente in die wêreld van daardie dae nog nie veel voorgestel nie.

Wanneer nou in die profesieë nadruklik die naam Jakob gebruik word vir God se volk, lei die HERE daarmee ons gedagtes opsetlik dus terug na daardie nietige en niksseggende begin, toe sy onbeduidende volkie nog nie meer as net beloftes gehad het nie en aan God se welbehae was uitgelewer.

Met dié bedoeling is ook in Jeremia 30 een- en andermaal die naam Jakob gebruik vir God se volk.

Daarvoor was ook wel redes!

Want wanneer hierdie profesie van hoofstuk 30 na God se volk toe kom, is Israel weer terug by sy niksseggende uitgangspunt. God se volk is weer ewe nietig en onbeduidend as in die dae van Jakob.

Jeremia het by die puinhope van die Ou Verbond gestaan. Die volk is verstrooi in die ballingskap, Jerusalem, die eendag so glorieryke koningstad het in 'n ruïne verander, God se tempel is platgebrand.

Jeremia het heel letterlik by die puinhope gestaan. En sy hart het geskrei, veral omdat God se volk self 'n puinhoop daarvan gemáák het.

Maar God laat dit nie so bly nie. Jeremia mag die blye boodskap verkondig dat God die lot van sy volk gaan verander. God begin op die puinheuwel aan die herbou.

God kán sy volk nie vir altyd aan die verwoesting prysgee nie. Hy ontsien Homself nie om heel van voor af, van die grond af opnuut te begin nie; maar nou so dat dit nie weer 'n puinhoop sal word nie.

U verstaan: in dié verband is dit veelbetekenend wanneer die HERE sy volk met daardie ou naam Jakob noem. Daardie naam kry nou 'n beskamende, maar veral 'n veelbelowende klank. God begin van voor af, en dan sál dit reg kom. Soos Hy dit eendag reggekry het om 'n groot volk as 't ware uit die niet tevoorskyn te roep en saam omhoog te neem na 'n geweldige toekoms toe, so sal Hy dit ook nou regkry om sy volk uit die puinhope weer te laat opstaan en tot 'n nuwe, ongekende hoogte op te stoot.

Teen dié agtergrond moet ons ons teks van vanoggend lees, broeders en susters. Ons teks laat ons iets daarvan sien hoe dat dit sal word, daardie nuwe begin met sy volk.

Ek het die boodskap van ons teks soos volg saamgevat:

JAKOB SE VOLK WORD VERLOS OM WEER DIE HERE TE DIEN

DAARVOOR:

  1. VERBREEK DIE HERE 'N VREEMDE JUK
  2. VERWEK HY 'N VERTROUDE KONING

1. Die profeet Jeremia het 'n hele ruk in Jerusalem moet rondloop met 'n juk op sy nek.

Dit was 'n aanskoulike onderwys vir die koning en die volk wat al heeltemal afgestomp was vir die Wóórd van die HERE. Toe hulle hul ore toegemaak het, is hul oë gekonfronteer met die snaakse verskyning van 'n profeet wat in die stad rondgewandel het soos 'n os wat 'n ploeg of 'n wa moet trek: twee jukskeie wat aan weerskante van sy nek wat met 'n strop om sy hals vasgemaak was.

U lees dit in hoofstuk 27 en 28.

Daardie juk wat Jeremia moes dra, was 'n sprekende simbool van die harde juk wat die HERE op die nek van sy volk sou lê wanneer Hy hulle in die mag van Neabukadnessar, die koning van Babel sou oorgee.

Jeremia se juk het die naderende ballingskap voorsê. God sou sy volk in die hande van sy vyande oorgee. Hy sou hulle sommer aan vreemdes van die hand sit.

Hoe kon God so maak?

Hoe kon die HERE van die leërskare wat eendag met 'n sterk hand en 'n uitgestrekte hand sy volk uit die land Egipte, uit die slawehuis, uitgelei het, wég uit die greep van 'n vreemde oorheerser - hoe kon God, wat ook daarna nog male sonder tal sy volk weggehaal het uit die mag van sy vyande - hoe kon daardie God dan nou sy volk sommer prysgee aan die juk en die stroppe van die koning van Babel?

Sou God sy gená vergeet het?

Nee, God het niks vergeet nie. Maar die volk het vergeet. Hulle het van die verbónd vergeet, hulle wou van trou nie weet.

Weet u waarom die HERE sy volk aan die vreemde juk van Babel sou gaan prysgee, gemeente?

Omdat Israel die juk van die HERE afgewerp en sy stroppe verbreek het.

Dit lees ons alreeds in Jeremia 2. Kom ons kyk gou saam, vs. 20. Die HERE moet sy volk verwyt: "Van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: ek sal nie dien nie".

Die HERE herhaal daardie klag nog 'n keer in hoofstuk 5: 5: nie net die gewone volk, die skare wat die wet nie ken nie, het hulle nie aan God se verbond gesteur nie, maar ook die aansienlikes, die priesters en wetgeleerdes van wie 'n mens tog mog verwag dat hulle wél die weg en die reg van hul God sou ken "het almal saam die juk verbreek, die stroppe stukkend geruk".

Israel is nie sommer Babel toe gestuur nie. Hulle het self daarom gevrá!

Die eerste hoofstukke van Jeremia se profesieë is een lange klag en aanklag dat God se volk die rug vir sy God gedraai het, ja, sy God verruil het vir dit wat geen gode is nie.

"Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat die waarheid soek... ".

Israel het hom self 'n vreemde juk op die hals gehaal. Hulle moet nie verbaas wees dat nou die ballingskap kom nie. God het dit alreeds deur Moses in die boek Deuteronmium voorsê dat dit die straf sal wees (28: 48): As jy God se gebooie minag en vertrap "sal jou vyand sy ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het". Hulle sal net-nou met die digter van Klaaglied 1 moet bely: "Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, dit is saamgevleg, dit het op my nek gekom en my krag laat struikel".

Dit gebeur, broeders en susters, met die wat die juk van die HERE wat sag is, verbreek en sy las wat lig is, afwerp.

Die wat onder die sagte juk van die HERE nie wil lewe nie, haal hom onvermydelik 'n ander, 'n baie swaarder juk op die hals. Dit is vandag presies dieselfde. Wie nie die HERE wil dien nie, word 'n slaaf van 'n ander mag, al kom jy dit miskien ook nie dadelik agter nie. Die wat hom ontworstel aan God se juk, voel hom dalk aanvanklik vry - al daardie reëltjies en verpligtings van die kerk pla jou nou gelukkig nie meer nie! - maar daardie vrye gevoel duur meesal nie so lank nie. God gee direk 'n slawejuk in die plek daarvan. Jy word 'n slaaf van van jou eie hartsogte en begeertes: Jy moét daaraan gehoorsaam, hulle regeer jou lewe.

Jy is 'n slaaf van allerhande afgode aan wie jy jou lewe verloor het: alkohol, popmusiek, geld, sport...

Jy is 'n slaaf van die wêreld waarin jy leef: jy moet saamgaan met die groot menigte, jy moet aanpas aan hulle gewoontes en modes. En moet maar 'n slag daarop let: die wêreld ken sy harde groepskodes en as jy uit die toon val, laat almal jou val. Daar word 'n harde juk op jou lewe gelê.

En die einde van jou skynbare vryheid is die ewige tronkstraf in die hel. Eendag sug jy vir ewig onder die ondraaglike juk van die duiwel.

Israel het dit op die ou end ook wel agtergekom. In die ballingskap het hulle begin besef dat hulle nou eers reg onder 'n juk moes buk en dat hulle nou eers reg deur knellende stroppe gepla is.

Maar dan kom daar in ons teks daardie onverdiende, onbegrypelike belofte van God dat Hy tog nog 'n nuwe begin met sy volk wil maak. Hy wil die lot van sy volk tog nog verander. Hy kán nie vir altyd gedane saak maak met hierdie volk nie en Hy wil hulle nie uitlewer aan die mag van die sonde nie. Sy goedheid ken geen maat of perke. Daarom háál Hy sy volk na Hom toe terug.

Daar kom 'n dag waarop die HERE die vreemde juk van hulle nek sal afhaal en hul stroppe stukkend sal ruk. Die HERE van die leërskare, die God met onbeperkte mag en moontlikhede, gee vir sy volk 'n nuwe exodus uit die slawehuis uit en voortaan sal die mense nie meer sê: So waar as die HERE leef wat ons uit Egipte uitgelei het nie, maar: So waar die HERE leef wat ons uit Babel, uit die slawehuis uitgelei het.

Maar kyk dan wel mooi in ons teks, broeders en susters, met watter doel die HERE sy volk opnuut gaan verlos.

Is dit, soos ek in 'n kommentaar gelees het, omdat God altyd kant kies vir die wat verneder en vertrap word? Kom God op vir die regte van onderdrukte minderhede? Wil Hy vir Israel weer 'n menswaardige bestaan skenk?

Daarvan lees ons hier niks nie.

Waarom verbreek die HERE die vreemde juk en hoef Israel nie langer aan vreemdes diensbaar te wees nie?

Die HERE wil hê hulle moet Hom, hulle God, weer dien!

God wil sy volk terug hê onder sy juk. Israel moet weer met en vir Hom lewe volgens die verbond wat Hy eendag met hulle gesluit het. Die HERE haal hulle weg uit die slawediens uit, terug na die erediens vir Hom.

Daarom het Hy indertyd Israel tog ook uit Egipte uitgehaal? Moses en Aäron moes steeds hierdie een boodskap aan die adres van die Farao herhaal: "Laat my volk trek, sodat hulle My kan dien". En na die uittog is die erediens ook direk gereël by die berg Horeb in die Sinaiwoestyn.

Want dit is die ware vryheid: weer met die God van die hemel en die aarde lewe as sy kinders. Eers dan word die lewe weer leefbaar en menswaardig.

So'n lewe wou God na die puinhoop van die Ou Verbond nou vir eens en vir altyd gaan bewerk in 'n Nuwe en beter Verbond. Dit mag nie weer net word soos dit was nie. God soek iets beters. Hy wil die hele hart van sy volk moet voortaan vol wees van Hom. Hulle moet die lewe met Hom nie as 'n lastige juk ervaar nie; dit moet 'n fees wees.

Dit het die HERE nie deur die terugkeer uit die ballingskap van Babel bereik nie. Daarvoor moes daar meer gebeur.

Maar as ons verder lees in hierdie hoofstukke by Jeremia, gaan ons al hoe meer verstaan dat ons teks nie net praat van 'n terugkeer uit Babel nie. Hier word alreeds vooruit gewys na die tyd van die Nuwe Testament. God sal soos dit tot nou toe was, oortref en nuwe kragte inskakel om sy doel te bereik. Hy wil uitkom by die tyd waarvan Hy in Jeremia 31: 33 e. v. praat: "Maar dit is die verbond wat Ek na hierdie dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hul hart. So sal Ek vir hulle God wees, en hulle sal my volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle.... ".

Dié tyd het eers die ou priester Sagaria sien aanbreek in sy dae en hy het uitgebreek in 'n uitbundige lofsang.

    "Loof nou die God van Israel,
    wat na sy vaste bondsbestel
    vir ons verlossing wil bewerk. "

Maar hoor maar by daardie ou Sagarias: ook hy het baie mooi geweet met watter doel God verlossing vir sy volk wou bewerk:

    "Hy maak na sy beloftenis,
    dat ons -verlos van bande en vrees,
    verlos van wie ons vyand is-
    sy knegte immermeer sal wees;
    om, tot 'n hoër diens bereid,
    Hom reg te dien in heiligheid
    in al ons lewensdae".

Vir dié doel het God op die ou end tot die uiterste gegaan en sy eie Seun aarde toe gestuur. God die Seun het in die wêreld gekom om Hom die juk van ons ongeregtighede op die hals te haal en dit vir altyd te verbreek. Hy het gekom om ons te kan vervul met die Heilige Gees van God wat ons weer leer om gewillig en met vreugde onder God se juk te buk.

2. Dat God die verlossingswerk van sy Seun hier alreeds op die oog gehad het, blyk ook wel uit die vervolg van ons teks, gemeente. As die vreemde juk verbreek word, verwek God 'n vertroude koning: Dawid. Hy word die koning wat God gaan inskakel om sy volk weer in die erediens vir Hom terug te kry.

Dit kan natuurlik nie ou koning Dawid wees nie. Hy is lank al dood. Maar daar kom 'n nuwe Dawid, 'n nuwe koning soos hy.

Opsetlik kies die HERE daardie vertroude naam as Hy in ons teks sy volk op 'n nuwe toekoms voorberei. Dit moet vir Israel 'n veelseggende naam wees.

Dawid was mos die eerste koning, maar ook die enigste wat dit reggekry het om God se volk bo alle narigheid en sonde uit te lig en in egte vrede te laat lewe.

Elke vreemde juk was onder koning Dawid afgewerp. Maar die betekenis van koning Dawid was veral dat hy sy volk geleer het, ja, self daarin voorgegaan het om die HERE te vrees. Koning en volk het eendragtig hulle nek gebuig onder die juk van die God van die verbond. Geen koning was daarom later soseer die man na sy hart as Dawid nie. U weet, al die latere konings is gemeet aan die weë wat Dawid bewandel het, maar amper niemand kon die vergelyking met hom deurstaan nie.

Nou maar goed, so'n Koning sal God opnuut aan sy volk skenk, beloof ons teks. So mag Jeremia dit vertel aan 'n ontluisterde Israel. Hy het Dawid se huis sien ondergaan in die korrupte hofstyl. Hy het met sy eie oë aanskou hoedat vrywel al die konings uit die nadae van Dawid God se toorn oor die volk losgemaak het omdat hulle in hul regering niks meer van die styl van hul vader Dawid vertoon het nie. Maar hy mag nou hierdie belofte aan die vergane volkie van Jakob bring. God kry weer 'n koning soos Dawid en onder sy heerskappy sal die lewe weer word soos dit moet wees: 'n fees.

God kon nie 'n mooier naam gekies het nie. Dis mos 'n naam vol herinnering en verwagting.

Hierdie Dawid sal selfs sy voorvader oortref. Want kyk maar in die vervolg van ons tekshoofstuk, vs. 21: "Hy sal sy lewe daaraan waag om nader te kom na God toe", lees ons. Dit wil sê: Hy sal dit waag om namens die hele volk voor God se oë te verskyn om vir altyd versoening oor die sondes te bewerk.

Hy sal nie net koning wees nie, maar ook priester wat as borg vir sy hele volk by God sal optree.

So sal Hy waarborg dat die lewe van God se volk nooit meer 'n puinhoop word nie. Maar op die puinhope van die ou Jerusalem bou Hy vir sy volk die nuwe Jerusalem waarin die HERE vir ewig die God van sy volk sal wees, en ons die volk van hierdie God.

Ons ken hierdie Dawid, gemeente. Dis ons Here Jesus Christus. God se belofte van ons teks het tot vervulling gekom in die Kersfees wat ons hierdie maand weer saam sal vier. Ons bely Jesus Christus as die Seun van Dawid en as die koning oor die huis van Jakob.

Ons ken Hom as die Verlosser van ons lewe. Hy maak ons lewe vry.

Maar: ons lewe word eers regtig vry as ons Hom wil dien; as ons saam met Hom ons Verbondgod weer dien; as ons gewillig ons nek buig onder sy juk.

Dít is die boodskap wat ons vanoggend almal mooi moet verstaan: ons kom nie onder die juk uit nie. As ons die een juk afgooi, kom daar dadelik 'n ander een in die plek daarvan.

Maar daar is 'n hemelsbreë verskil tussen die een juk en die ander.

Die meeste jukke maak van jou 'n beklaenswaardige slaaf.

Jesus Christus se juk maak van jou 'n vrye kind van God.

Hy roep u vandag: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele. Want my juk is sag en my las is lig".

U kan dus nou maar kies watter juk u wil dra. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)