Die regte verootmoediging voor God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jesaja 58
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JESAJA 58

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 15: 1-5
Wetslesing
Ps 79: 5, 9
Doopsbediening
Ps 105: 5
Gebed
Skriflesing: Jesaja 58
Ps 112: 4-9
Prediking
Ps 18: 12
Gebed
Kollekte
Ps 50: 8-11
Seën

Broeders en susters in die Here Jesus Christus,

Ons Kerke het, op voorstel van die kerk te Johannesburg/Witwatersrand, besluit om hierdie sondag tot 'n spesiale dag van verootmoediging te maak vanweë "die situasie van toenemende geweld en intoleransie in hierdie spannende tyd voor, tydens en na die verkiesing. "

U sal die belang daarvan seker kan insien.

Die Vrye Gereformeerde Kerke is nie die enigstes wat besluit het ons moet ons vandag verootmoedig nie. Ons kerke was selfs nie die eerstes wat so besluit het nie. Ander kerke het al voor ons die besluit geneem.

Orals in die land word blykbaar die erns van situasie besef. Ook in ander kerke word besef, dat ons met ons nood allereers by die HERE moet uitkom.

Doen ons dus maar net saam met al die ander kerke en christene in ons land vandag? Voeg ons ons ook in in die massale gebedsketting, soos daarvan wel gepraat word?

Dit mag dalk so lyk, maar dit kan tog nie so wees nie.

"Verootmoediging" is nie iets wat jy sommer saam met allerhande mense wat jy nie eers ken, kan doen nie.

Verootmoediging is naamlik méér as bloot 'n vurige gebed of die HERE asseblief die vrede en die rus in ons land wil teruggee.

Weet julle, seuns en dogters, wat die woord "verootmoediging" beteken?

Julle weet wat 'n hoogmoedige mens is, nè?

Ootmoedig is presies die teenoorgestelde van hoogmoedig. En om jou te verootmoedig beteken dus: jy maak jouself klein teenoor die HERE, jy buig beskaamd jou kop voor Hom en soek sy vergewing.

Nou ja, dit kan ons mos nie sommer algemeen en massaal doen met mense wat ons nie eers ken nie.

Verootmoediging moet allereers heel persoonlik gedoen word.

Verootmoediging moet ook konkreet gedoen word.

Want as verootmoediging nie op die regte wyse gedoen word nie, kan ons dit net so wel nalaat.

Dit blyk uit die Skrifgedeelte wat ek vanoggend met u gelees het: Jesaja 58.

Daaruit wil ek daarom, voordat ons ons in gebed voor die HERE verootmoedig, eers met u leer:

DIE REGTE VEROOTMOEDIGING VOOR GOD

Ons kan uit Jesaja 58 in elk geval drie dinge daaroor leer:

  1. DIT IS GEEN MIDDEL OM GOD TE DWING
  2. DIT IS 'N SKULDBESEF WAT MOET BLYK IN DIE PRAKTYK
  3. SLEGS AS ONS ONS BEKEER, VERSKYN DIE LEWENSLIG WEER

1. Hoe belangrik dit vir die HERE is dat ons ons op die regte wyse voor Hom verootmoedig, blyk al dadelik in vs 1 van ons tekshoofstuk.

God se profeet kry die opdrag om luidkeels die aandag van die kerkvolk vir hom op te eis.

Soos 'n basuin moet hy sy geluid laat hoor.

Dalk moes die boodskap van Jesaja 58 wel juis op 'n vasdag, 'n dag van verootmoediging in Israel, oorgedra word. Want dergelike dae is altyd met die geluid van die basuin ingelui. 'n Basuinblaser het die mense herinner aan die spesiale karakter van hierdie dag en na 'n gemeenskaplike gebedsdiens opgeroep.

Dan kry ons in vs 1 van ons tekshoofstuk dus hierdie prentjie:

Terwyl dus 'n priester die volk deur die basuin tot 'n vasdag oproep, moet die profeet sy geluid dwars daarteenin laat hoor.

Want die HERE het ernstige kritiek op die wyse waarop Israel vas.

Die meeste uitleggers, ook Gereformeerdes, aanvaar dat Jesaja 58 en die omliggende hoofstukke in eerste instansie bestem was vir die volk Israel na die Babiloniese ballingskap.

Dit was 'n tyd waarin God se volk op 'n gereelde basis sulke dae van vas eb verootmoediging gehou het.

Want hulle het wel baie gehad om oor te kan bly en dankbaar wees. God het na 70 ellendige jare die juk van Babel van hul nekke afgehaal, die terugkeer na Jerusalem moontlik gemaak en hulle mog onder staatsbeskerming begin met die herbou van stad en tempel.

Nogtans was daar in daardie jare ook baie teëslae en teleurstelling. Min Israel het saamgegaan terug na Jerusalem toe. Die Samaritane het hul restourasie- werksaamhede probeer verhinder, die volk het na 'n entoesiastiese begin moedeloos geraak....

Dis dié dat daar in daardie tyd ekstra dae van verootmoediging ingestel is.

Volgens die wet het hulle slegs een maal 'n jaar hoef vas. Op die Groot Versoendag, die groot dag van verootmoediging en skuldbelydenis voor die HERE.

Die Israeliete het egter ook die dag waarop die stad Jerusalem deur Nebukadnessar se troepe verwoes is, in die vyfde maand, tot 'n vasdag gemaak. En ook die dag in die sewende maand waarop die leier Gedalja, wat van die Babelse bevelvoerder saam met nog 'n klompie Israeliete, waaronder ook die profeet Jeremia, in die land Kanaän mog agterbly, vermoor is, sodat ook die oorgeblewe mense nog verder verstrooid geraak het.

En dalk was daar nog wel meer sulke dae.

Israel het dus nie te kort geskiet in verootmoediging voor die HERE nie.

Inteendeel, die eerste indruk wat 'n mens van die volk in hierdie tyd kry, is nogal goed. Lees vs 2 van ons tekshoofstuk!

Die HERE konstateer Self dat hulle Hom dag vir dag soek; dat die Bybel gereeld oopgemaak en bestudeer word. Hulle kom ook graag kerk toe.

Maar let 'n bietjie op die woordjies "wel" en "soos" in vs 2.

"Wel soek hulle My dag vir dag...... "

"Soos 'n nasie wat geregtigheid doen, vra hulle na My...... "

Die HERE kyk egter verder, dieper as die mooi buitekant. Hy ken die hart.

En Hy weet dat al hierdie uiterlike godsdienstigheid, ook hul ooglopende verootmoediging, nie veel meer as vrome skyn is nie.

Want in vs 3 kom die aap uit die mou. Ja, die volk bestudeer die ou boekrolle, hulle onderhou weer getrou die bepalings van Moses se wette. Hulle het wat dit betref hul les wel geleer in die ballingskap.

Hulle het selfs ekstra dae van verootmoediging ingestel om die HERE te vermurf.

Ja, inderdaad: om die HERE te vermurf.

Want dit is nou presies die probleem wat die HERE met Israel se ekstra vasdae het: hulle beskou dit min of meer as 'n middel om die HERE mee te kan dwing. Hulle reken hulle kan daarmee iets bereik, iets regkry by God.

En u verstaan natuurlik wel, broeders en susters, wat hulle wou regkry: hulle het die verbetering van hul uiterlike omstandighede gesoek. ie herbou van die stad moes bietjie voorspoediger verloop, die getreiter van die vyande moes endkry, misoeste moes nie meer voorkom nie.

Daardie tipe van goed.

Ons ken dit mos. Is ons maar nie dikwels dieselfde nie?

As ons swaarkry, as daar byvoorbeeld 'n ernstige siekte in ons lewe of in ons familiekring kom, as daar ernstige probleme i. v. m. ons besigheid opduik - ja, dan leef ons opeens weer baie meer nougeset, ons bid skielik baie meer as anders en ook baie indringender.

Maar, en dit is die ding: verwag ons dan ook nie min of meer dat die HERE dus ook uitkoms moét gee nie? Hy moét ons, of ons geliefde, nou tog ook gesond maak. Hy moét 'n uitpad uit die probleme gee.

Soos die Israeliete gesê het in vs 3 van ons teks: "Waarom vas ons en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel en U weet dit nie? " Dan wil ons die HERE eintlik dwing met ons gebede.

Die gevaar bestaan dat ons, en baie ander Christene in Suid-Afrika, so ook met vandag se massale verootmoediging ons God wil dwing om verandering in die land se situasie te gee.

'n Dag van verootmoediging kan, ten spyte van die beste bedoelings, baie selfsugtig wees. Noudat almal sug onder die toenemende geweld en politieke onsekerheid in Suid-Afrika, probeer ons vandag massaal die HERE vermurwe om sake te verander. Ons bid vir vrede, vir die terugkeer van veiligheid, vir herstel van ons swak ekonomie. Ons soek weer 'n rustige en welvarende Suid- Afrika.

Egte verootmoediging beteken egter allereers dat ons ons kop buig onder die ellende waaronder ons sug, omdat ons besef dat ons dit self daarna gemaak het. Egte verootmoediging vra nie in die eerste plek om verandering vandie situasie nie, maar om verandering van ons hart en lewe.

Egte verootmoediging verstaan ook dat dit dalk nodig kan wees dat ons eers nog 'n bietjie langer moet swaarkry.

2. As ons maar net iets van die HERE wil afdwing met 'n dag van verootmoediging, sal ons niks by Hom regkry nie.

Die HERE verfoei 'n dergelike "verootmoediging".

Israel het tydens hul dae van verootmoediging gevas.

Dit was 'n sigbare en voelbare vorm van verootmoediging. Hulle het afgesien van die genot van goeie kos en lekker drinkgoed, van die vreugde van die huweliksverkeer, om volkome op die verhouding tot die HERE te kan konsentreer.

Maar as jy jou op die verhouding tot die HERE konsentreer, moet jy ook tot jouself inkeer. Tot die regte verootmoediging behoort 'n eerlike kritiese selfondersoek wat lei tot 'n konkrete skuldbelydenis en 'n bekering van die ontdekte sondes.

Daarvan het egter by Israel in daardie dae nie so veel tereggekom nie.

Hulle het vreeslik skuldbewus gelyk. Kyk vs 5! Hulle het hul kop laat hang soos 'n biesie en met begrafnisgesigte in sak en as op hul beddens gelê.

Maar dit was alles net 'n uiterlike vertoning. Hul hart was nie regtig verslae nie. Want hul lewenspraktyk was glad nie in ooreenstemming met daardie skynbaar skuldbewuste houding nie.

Vs 3: onderwyl hulle oënskynlik volkome op hul verhouding tot die HERE gekonsentreer het, het hulle terselfdertyd hul aandag volop by hul eie sake en besighede gehad.

Húlle het kerk toe gegaan vir 'n bidstond, maar eers nadat hulle hul personeel aangejaag het om dit nie te waag om in die tussentyd te gaan slaplê nie.

Vs 4: Ja, hulle het 'n verpligte rusdag gehou. Maar dit het 'n dag van niksdoen

geword, wat van verveeldheid ontaard het in gerusie en gestry sodat hulle mekaar selfs met die vuis bygekom het.

En in plaas dat hulle gesamentlik hul stem na die hemel verhef het, het hulle hul stemme teen mekaar verhef.

So 'n gedrag vloek die regte verootmoediging wat God soek.

Daarom moet God se profeet namens die HERE gaan aanwys wat regte verootmoediging beteken.

Dis nie allereers om 'n swart pak klere of 'n swart rok te dra, om met sombere gesigte rond te loop en heeldag niks te doen nie.

Maar dit is om, soos ek dit so pas in my samevatting genoem het: 'n skuldbesef wat blyk in die praktyk.

'n Verootmoedigingsdag is bedoel as 'n besinningsdag met as resultaat 'n konkrete bekering oral waar dit nodig is.

Kyk hoe omskryf die profeet dit in Jes 58:

vs. 6: die bande van goddeloosheid moet losgemaak word.

Daar moet 'n einde gemaak word aan onderdrukking en knegting van medemense. Sien ook vs 9.

Vs 7: Hongeriges, armes, dakloses moet met die daad gehelp word. Sien ook vs 10.

Vs 9b: geskinder en hoogmoedige gepraat oor ander mense mag nie meer voorkom nie. Sien ook vs 13 slot.

Vs 13: die sabbat moet as die heilige dag van die HERE hoog gehou word.

Kortom, wie vas hoef nie amper van honger en dors dood te gaan nie. Dié moet juis weer die lewe by die HERE alleen soek en daarom ook vir sy naaste die lewe leefbaar probeer maak. En daarom wegdoen alles wat daardie lewe bedreig.

Ook ons het dus besluit om ons vandag te verootmoedig, broeders en susters. By ons gaan dit nie meer outomaties gepaard met vas nie, alhoewel dit regtig nie verkeerd sou wees om vandag en die komende dae ons inkeer tot onsself te benadruk deur maar 'n keer af te sien van partytjies, oorvloedige maaltye, wyn ensomeer.

Die belangrikste is egter dat ons ons konkreet voor die aangesig van die HERE besin op die oorsake van die huidige ellende in ons land en onsself afvra op watter punte daar by ons konkrete bekering moet kom.

Want dit help niks om ons vandag te verootmoedig en vurig te bid vir vrede vir Suid-Afrika nie, as ons nie konkreet wil word in die nadink oor ons skuld aan die ontstane ellende nie.

Een van die oorsake van die krisis waarin Suid-Afrika tans gedompel is, is ongetwyfeld die onregverdige Apartheidsbeleid in die verlede.

Nee, ek sal die preekstoel nie misbruik vir die veroordeling van 'n politieke ideaal van afsonderlike ontwikkeling vir die verskillende volkere wat ons land bewoon nie.

Maar as ons ons vandag konkreet wil verootmoedig, moet ons wel erken dat die implementering van daardie ideaal jarelank nagestreef is deur 'n beslis onregverdige wetgewing waarby slegs een volk en velkleur, en dan ook nog 'n kleine minderheid, vir al die ander besluit het wat hulle wel en wat hulle nie mog doen nie. Waarby boonop daardie een volk een velkleur homself ver bevoorreg het bo die ander. Die blankes het vir hulleself die beste woongebiede gekies en die swart en bruin mense gedwing om na minder woonbuurte te verhuis.

Gesinne is uitmekaar geskeur omdat vroue en kinders in die tuisland moes woon, maar die man en vader noodgedwonge, om te kan werk en geld verdien, in 'n hostel moes tuisgaan. Daarvan beleef ons deesdae die bitter gevolge!

Die apartheid is selfs so ver deurgevoer dat blank en swart nie saam mog toustaan in winkels, poskantore, banke en dergelike geleenthede.

Ook kerklik is mense, bloot vanweë hul donker velkleur, weggewys.

En hoe dikwels is daar deur blankes met hoogmoedige minagting oor die swartmense gepraat. Die swarte is dom. Die swarte stink. Kaffers is hulle genoem.

Onder die ver-regses vandag kan 'n mens dergelike geluide nog steeds hoor.

Lê hier dus nie 'n duidelike sonde waaroor daar vandag in ons land konkrete verootmoediging nodig is nie?

Ek wil egter ewegoed na die ander kant kyk.

Want die rewolusionêre en gewelddadige wyse waarop op die onregverdige Apartheidswetgewing gereageer is, was 'n ewegroot sonde voor God.

Hoeveel ellende het bomaanslae, plundering en brandstigting, moord op bejaarde plaasmense en so meer deur ANC, SAKP en PAC ondersteuners nie teweeggebring nie! Selfs kerke was die laaste tyd nie meer heilig en veilig nie.

En in die onderhandelinge vir 'n nuwe, regverdiger grondwet, is somtyds meer met dreigemente as met argumente gewerk.

Derdens moet ek noem dat ons regering die laaste jare wel die onregverdige Apartheidsbeleid afgeskaf het, maar terselfdertyd, om aan die opposisie tegemoet te kom, ook belangrike Christelike norme en waardes oorboord gegooi het. Die Sondagsheiliging is al hoe meer afgeswak, die wet op dobbelary is verander, die doodstraf is afgeskaf, moordenaars het vrywaring gekry omdat hul misdade kwansuis as politieke dade beskou moet word, teen aborsie en eutanasie word nie meer kragtig opgetree nie.....

Ook hier sal daar verootmoediging en konkrete bekering moet kom, anders sal dit in ons land nooit regkom nie. Hoeveel daar ook vir vrede gebid word.

Maar, broeders en susters, ek het tot dusver eintlik maar net na ander mense gekyk. Politici, terroriste.....

Ek het ook taamlik algemeen gepraat.

As ons ons egter vandag konkreet wil verootmoedig voor die HERE, sal ons ook onsself moet afvra, waar en in hoeverre ons mede skuldig staan aan dit wat ek so pas opgesom het.

En dus moet elkeen van ons homself maar eerlik afvra: in hoeverre het ek tydens die jare van Apartheid daardie onregverdige en soms ook on christelike wetgewing aanvaar as die gewoonste saak van die wêreld?

In hoeverre het ek met mooie teorie en pragtige politieke ideale tog eintlik maar net selfsugtig my eie voordeel en welvaart gesoek ten koste van my anderskleurige medemense?

Hoe dikwels het ek op 'n verkeerde toon gepraat oor swartmense en ok die woord kaffer in die mond geneem?

In hoeverre het ek konkreet betrokke gevoel by en my ingespan vir ons Sendingwerk? Offer daarvoor gebring? Die gevraagde Sendingbydrae gegee?

Het ook ek in die verlede dalk smalend gepraat oor ons sendelinge wanneer hulle konkreet op misstande gewys en op verandering daarvan aangedring het? Het ook ek my dan maklik van hul Skriftuurlike vermaan afgemaak deur maar net te sê: "Wat weet daardie Hollander regtig van die situasie hier af? "

En vandag: is ek regtig bereid om my brood te deel met die wat in hierdie land jarelank al in armoede leef, al kan dit ook beteken dat ek 'n deel van my huidige welvaartspeil sal verloor?

Hoe praat ek deesdae oor die wettige regering? Uiter ek dalk wel my verontwaardiging en kommer oor die rewolusiegees by die ANC, SAKP en PAC, maar ondersteun ek terselfdertyd in my hart die rewolusionêre dade en uitsprake van die verregses?

Maar die wat altyd al besware teen die verkeerde elemente van die Apartheidsbeleid gehad het en daarteen geprotesteer het, en nou dus bly is dat dit afgeskaf is, moet hulleself ewegoed afvra: het ek altyd op die regte wyse teen my broeders en susters wat afsonderlike ontwikkeling verdedig het, gestry? Het ek altyd op die regte wyse oor hulle gepraat en met hulle gepraat? Of het ek hulle, kyk vs 9 van ons teks, met die vinger nagewys?

En noudat daar 'n nuwe bedeling daargestel word, kontroleer ek nou nog wel Skriftuurlik-krities of alle veranderings wel regtig verbeterings is? Of maak ek deesdae meer pragmaties as prinsipieel my keuses? Aanvaar ek maar gelate dat in hierdie nuwe tyd die verval van Christelike norme en waardes seker maar onvermydelik is?

Soek ek ewegoed nou maar net weer 'n situasie waarin ek vir myself en my gesin die rus kry wat ek begeer, en 'n bietjie welvaart?

Wat het ek gedoen om waarlik Christelike politiek, ja, Gereformeerde politiek in hierdie land te bevorder?

Dit, my broeder en suster, is die regte vorm van verootmoediging: konkreet jou eie hart en lewe onder die loep neem en toets volgens die norme van God se Woord. En dan ook die resultaat daarvan laat blyk in die praktyk.

3. As ons dit doen, vandag en vorentoe (want u sal verstaan dat 'n dag van verootmoediging op hierdie wyse maar net die begin is van 'n hele pad van bekering), dan kom daar weer uitsig, dan is daar in elk geval weer 'n pad vorentoe.

Dan verskyn die lewenslig weer, mag die profeet in ons tekshoofstuk namens God Self belowe.

Vs 8: "Dan sal jou lig deurbreek soos die daeraad, en jou genesing skielik uitspruit. " Sien ook vs 10 slot.

Dan bid ons 'n gebed vir vrede en beëindiging van die geweldsituasie ook nie tevergeefs nie.

Vs 9: "Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skree, en Hy sal sê: Hier is Ek!".

Nee, dan is nie sommer handomkeer die situasie in die hele Suid-Afrika weer soos ons dit graag sou wou sien nie. Dan is ons land nie van die een dag op die ander weer 'n voluit Christelike land nie.

Maar dan begin by ons, God se volk, God se kerk, wel die herstel wat ook kan deurwerk in ons hele land, in die politiek, in die hele samelewing.

Jou lig sal deurbreek, jou genesing sal kom, sê die profeet.

Daar is (vs 10) nog duisternis, maar daarin sal jou lig opgaan. Daar is nog dor plekke (vs 11), maar die HERE sal jou versadig. Dit begin daar waar jy jou tot Hom bekeer. Maar sodoende kan jy jou lig weer versprei na ander toe. Jy kan (vs 11 slot) soos 'n fontein van waters word wat nooit teleurstel nie.

Ja, dan spring ons met die daad aan die werk om die puinhope weer op te bou, om die land weer bewoonbaar en die lewe weer leefbaar te maak.

En kyk dan nog 'n oomblik met my na vs 8, broeders en susters:

daar staan die belofte: "En jou geregtigheid sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die HERE sal jou agterhoede wees. "

Jou geregtigheid - daarmee word hier ons lewe bedoel wat ons weer na God se duidelike gebooie bekeer het.

Die profeet sê hier dus eintlik: as jy jou weer gedra soos die HERE dit van jou vra, wys dit jou vanself die pad vorentoe, ja, daarmee baan jy self die pad vorentoe, die pad na die herstel! Dan sal die HERE ook weer met jou saam gaan en jou rugdekking gee. Dit hang van jou eie gedrag af, of dit weer regkom of nie.

Die woorde klink byna ongereformeerd in ons ore. Ons baan mos nie self die pad na die herstel nie? ! Dis mos God wat dit doen? In Christus. En ons kan Hom maar net volg.

Dis reg. Dit staan ook wel duidelik in die beloftes in vs 11 en vs 13.

Maar God sit ons in hierdie hoofstuk juis ook op die spoor van Christus. Hy alleen kon dit moontlik maak dat daar nog 'n toekoms is vir hierdie aarde en vir sondige mense op hierdie aarde. Hy moes dit moontlik maak deur die ergste ellende en dood heen, deur die diepste duisternis heen.

Maar wie nou agter Hom aangaan, of miskien moet ek liewer sê: met Hom saamgaan, en daarom, gelei deur sy Heilige Gees, soos Christus sy lewe weer inrig soos God dit wil hê, mag daarvan seker wees dat dit die sleutel is na die lewensherstel.

God daag ons met hierdie woorde as 't ware uit om dit maar te probeer.

Ons moenie in ons verootmoediging bly hang nie. Ons moet ook nie moedeloos ons kop laat hang nie. Ons moet, na konkrete belydenis van skuld, opstaan in 'n nuwe lewe. En dan géé die HERE ook lewe!

Probeer dit, en jy sal dit agterkom, sê die HERE. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)