Die Here soek soos 'n boer die oes uit ons lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Jesaja 28
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JESAJA 28: 23-29

LITURGIE:
L. en T. Jesaja 28: 23-29
Ps. 129: 2, 3
Ps. 130: 4 (eerste beryming)
Ps. 73: 1, 10, 11
Ps. 141: 7, 8
Ps. 27: 6
Ps. 126: 3

Broeders en susters,

Nog 'n paar ure- en dan is die jaar 1989 verby.

'n Jaar waarin daar baie gebeur het: in die wêreld, in ons land, in ons eie lewe.....

'n Jaar waarin die HERE in hierdie wêreld, in ons land, en in ons eie lewe aan sy plan verder gewerk het.

Só sê òns dit mos. So kyk òns terug op die jaar wat verbygegaan het. Vir ons was hierdie jaar weer 'n Annus Domini: 'n jaar van ons Here. 'n Jaar van die HERE wat wonderbaar van raad en groot van beleid is. Hy het in die dae en weke en maande wat agter ons lê weer verder gewerk aan sy doel met hierdie wêreld, met ons land, met ons lewe: die voltooiing van sy kerkvergadering, die dag waarop Hy die volle vrug op sy herskeppingswerk ontvang en Hy die nuwe paradys kan ontsluit.

Ja, so moet ons dit sê, broeders en susters. So moet òns vanaand terugkyk op die jaar van ons HERE 1989.

Maar dit vereis baie geloof om dit so te kán sê! En om so te kan terugkyk.

Want ook vir ons, God se eie volk, is dit nie altyd maklik om te bly raaksien en aanvaar dat die HERE met wys beleid volgens sy wonderbare raad in hierdie wêreld en in ons eie lewe besig was en is nie. Daar was en is mos so veel gebeurtenisse en ontwikkelinge waarvan ons die nut nie kan insien nie; waarvan ons onsself afvra waarom dit só moes gebeur. Daar was so veel ellende, verskrikking, verdriet, spanning en moeite- waarom het die HERE dit laat gebeur??

Alleen in die gelóóf kan ons dan bly sê dat dit tóg goed was, dat die HERE geen fout gemaak het nie, dat Hy ook al daardie ellende ten goede laat meewerk het om sy doel te bereik.

Gemeente, ons het vanaand in 'n erediens bymekaar gekom om ons nog 'n keer deur die HERE in daardie geloof te laat versterk.

En daartoe het ons 'n Skrifgedeelte opgeslaan wat ons wil help om raak te sien waaraan die HERE jaar in jaar uit werk, en hoe dat Hy daaraan werk.

Sodat ons gelowig kan terugkyk op die jaar wat byna verby is, en eweneens gelowig die jaar wat voorlê tegemoet sien.

Ek kan die boodskap van ons teksverse soos volg saamvat:

DIE HERE SOEK SOOS 'N BOER DIE OES UIT ONS LEWE.

MET DIE OOG DAAROP GEE HY ONS

  1. ALMAL 'N DOELMATIGE BEHANDELING
  2. ELKEEN 'N PERSOONLIKE BEHANDELING.

1. Ons teks is tipe van 'n gelykenis, broeders en susters. U ken natuurlik die meeste gelykenisse uit die Nuwe Testament, dié wat ons Here Jesus Christus vertel het. Maar ook in die Ou Testament vind ons 'n hele paar.

Jesaja begin sy gelykenis op dieselfde wyse soos Christus altyd sy gelykenissen begin of afgesluit het. U onthou: Christus het altyd gesê: "Wie 'n oor het om te hoor, laat hom hoor!". 'n Opwekking om mooi te luister. Die ore moet wawyd oop. Want wat nou volg, lyk sommer 'n beeld uit die aldaagse lewe. Maar dit het 'n dieper betekenis. Mens moet oor die beeld 'n slag nadink om tot daardie dieper betekenis deur te dring.

So lei ook Jesaja hier sy gelykenis in: "Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor na my woord".

En dan word ons saamgeneem na 'n boereplaas toe. En ons sien 'n boer uit daardie dae besig met die werk wat nodig is om 'n goeie oes te kan insamel.

Allereers bewerk hy die land met die ploeg. Terwyl 'n paar osse die ploeg trek, stuur hy dit so dat die skerp ploegmesse diep vore in die akker sny. Voor na voor word oopgeskeur.

Daarna word die land geëg. Die eg met sy skerp prikkels sny nog weer die vore uitmekaar en maak die grond verder los om die saad te kan ontvang.

Aan die einde van die gelykenis het die saad al klaar ontkiem en vrug gedra en is die boer en sy knegte besig om alles te dors.

Die knegte bewerk die komyn en die swart komyn ywerig met stokke en dorsvleëls. Hulle slaan in 'n vaste ritme onderwyl hulle 'n versie sing om in die maat te bly.

Die boer self hou hom met die koring besig.

Die met die sikkel afgesnyde koring lê 'n hele paar centimeters dik op die dorsvloer sodat die dorsslee daaroor kan gaan. Daardie hout dorsslee het aan die onderkant almal skerp yster punte. Die boer gaan sit self bo-op die slee om die gewig van die slee swaarder te maak en dan trek 'n os hom oor die koring heen en weer. Op dié wyse val die korrels uit die are en word die halme tot strooi fyngemaak.

Daar is 'n ander tipe graan wat nie met die dorsslee gedors word nie, maar waaroor op die een of ander wyse 'n wawiel gerol word. Die vertaling van die Hebreeuse woorde in vs. 28 is bietjie problematies. In ons vertaling staan dat met die wawiel ook perde oor die graan gedrywe is. Maar daar is verklaarders wat meen dat dié vertaling nie reg is nie. Daar kan nie van perde in hierdie verband sprake wees nie. Perde is in daardie tyd nie by die landbouwerk gebruik nie.

Ons wil vanaand nie te lank by daardie probleem stilstaan nie, broeders en susters. Want ons het op hierdie boereplaas al genoeg gesien om daaruit 'n belangrike les te kan leer.

Die opvallende ding is naamlik, dat Jesaja ons twee aktiwiteite gewys het waarin, as ons dit nou op ons lewe toepas, 'n duidelike element van pyn, seerkry saamkom.

Daardie boer was besig om te ploeg. Die skerp messe het diep gesny. Maar daardie beeld word in die Bybel ook dikwels gebruik om die swaarkry van ons, mense, aan te dui. Ons het daarvan gesing met die woorde van Psalm 129: "Soos met 'n ploeg wat gaan oor akkerland, het hul my rug geploeg met diepe vore". Ons sal nou-nou, na die preek, Psalm 141: 7 sing: "Net soos 'n ploeg langs donker vore, die kluite her- en derwaarts gooi, so lê ons beendere verstrooi, op velde van die dood verlore. "

Toe die profeet Miga, wat ongeveer in dieselfde tyd as Jesaja opgetree het, die oordeel oor Jerusalem moes aankondig, het hy ook hierdie beeld gebruik: "Sion sal om julle ontwil soos 'n land omgeploeg word.... " (3: 12).

Ook die eg wat die boer vervolgens gebruik het, met sy skerp prikkels, is 'n simbool van pyn en moeite.

En wat van die dorswerktuie?

Jesaja het 'n paar hoofstukke eerder, 21: 10, nog gepraat van "My vertrapte en gedorste volk". En 'n paar hoofstukke na ons tekshoofstuk, 41: 15, beloof die HERE dat sy vertrapte en gedorste volk eendag sélf sy vyande mag dors: "Kyk, Ek maak jou tot 'n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge dors en fyn maal, heuwels maak soos kaf".

En, om nog een voorbeeld te noem, ook die profeet Habakuk gebruik die beeld van dors om oordeel, pyn en ellende aan te dui (3: 12). Hy profeteer van die HERE: "In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies".

Dit is dus die bedoeling dat ons daardie beelde uit die gelykenis op ons eie lewe toepas, gemeente.

Jesaja het hierdie gelykenis vertel in die dae wat aan die verwoesting van Jerusalem voorafgegaan het. Dae waarin die oordele van God oor Israel begin losbreek het. Dae waarin ook die gelowige res van God se verbondsvolk baie swaargekry het.

En nou moes hulle leer raaksien dat dit die ploegmes van die HERE was wat besig was om diep wonde te sny, en dat dit die skerp ysterpunte van God se dorsslee was wat hulle danig laat seerkry het.

Só moet ook ons vandag die HERE leer besig sien in ons lewe. En só sal ons moet terugkyk op die jaar wat amper verby is.

Ek weet: daar was onverwagse wonderlike ontwikkelinge. Soos die feit dat byna die hele ystergordyn opgerol is en in Oos-Europa 'n nuwe dag aangebreek het.

Maar God se ploegmesse het ook hierdie jaar ook oor die aarde gegaan en in die lewe van party volke diep gesny: China, Roemenië waar derduisende dooies geval het onder kommunistiese diktatuur. Met sy dorsvleël het die HERE ook hierdie jaar weer orals hard geslaan: aardbewings, orkane, vliegtuigrampe ens. Die mense wat'n onnatuurlike dood gesterf het, was weer ontelbaar. 'n Mens sou moedeloos daarvan word. Kom daaraan dan nooit 'n einde nie?

Ons het die ploegmesse en die dorslee van God hierdie jaar ook as gemeente meermale gevoel. Nee, ek vergeet nie dat daar baie, baie pragtige dinge was nie: talle baba's gebore en gedoop, talle huwelike gesluit, jong mense het tot openbare belydenis van hulle geloof gekom, ons mag selfs in hierdie laaste diens van die jaar 'n geloofsbelydenis meemaak, daar was mense van buite die kerk wat hulle by die gemeente gevoeg het.....

Maar daar was ook verdriet, pyn, seerkry: mense van wie ons hoë verwagtings gekoester het, het onverwags teleurgestel, 'n pad gekies wat niemand van ons kon verstaan nie. Daar was onttrekkings, die tug moes bedien word.... Hoe lang sal dit nog aangaan?

En hoeveel van ons het ook in hulle persoonlike lewe baie verdriet moet verwerk. Ek dink, dis nie nodig om dit vanaand op te som nie. Ons weet dit van mekaar. Ons het daarin met mekaar meegeleef. Partymaal was daar die gevoel dat daar geen end aan die ellende sou kom nie. Die gevoel asof alles tegelyk en bymekaar gekom het en daar nooit meer 'n einde aan die swaarkry sou kom nie.

Maar juis as dié gevoel ons magteloos en moedeloos dreig te maak, opstandig of verbitterd: hou dit dan nooit op nie? Moet ons dat eers stukkend? - juis dan moet ons nog 'n slag na die boer in Jesaja se gelykenis kyk, broeders en susters.

Hoor wat vra die profeet?

"Ploeg die ploeër die hele dag, as hy wil saai? Skeur hy sy akker oop, en eg hy die hele dag? ". Bly so'n man maar aangaan met ploeg, telkens maar weer oor dieselfde stukkie grond, dag in dag uit? Bly hy maar net sny en skeur en verder niks nie??

En wat as hy dors? Bly 'n boer maar aanhou om met die skerp dorsslee oor sy koring te gaan, altyddeur, al word daardeur ook die korreltjies heeltemal verbrysel en fyngestamp? Bly hy maar slaan en slaan en slaan, totdat die komyn heeltemal verpulwer is?

Nee, natuurlik maak hy nie so nie!

'n Boer soek 'n oes!

Daarom ploeg en eg hy die land. Daardie ploeg dien 'n doel: hy wil kan saai. Hy maak maar net die akker ontvanklik vir die saad. Daarna kan hy ophou met ploeg en met eg.

En as hy dors, is daardie gedors ook geen doel in sigself nie. Dit gaan maar net daarom dat koring en kaf geskei word, dat die komynsaad, die spelt en so meer tevoorskyn kom en ingesamel kan word. Die vrug moet ingeoes word. En al daardie ander werk is maar net 'n voorbereiding daarvoor.

Maar so soek die HERE ook die oes uit ons lewe, gemeente. En die hele behandeling wat Hy ons laat ondergaan dien maar net daardie doel. Ja, dan kan Hy sy ploegskaar diep laat sny, maar dit is maar net om die akker van ons hart vir die saad van sy Woord ontvanklik te maak.

Hy kan met sy dorsvleël hard slaan of die dorsslee hardhandig oor ons lewe laat gaan, maar Hy maak so om die volle vrug uit ons lewe los te kry en om alle kaf te verwyder.

Hy is besig met sy oes. Dit is mos 'n beeld wat telkens in die Skrif gebruik word: ons moet vrugbaar wees vir God, vrugte van dankbaarheid dra, vrugte van geloof en bekering voortbring. Wel, maar dan moet ons ook onder die ploegskaar deur. En dan moet die dorsslee oor ons lewe. En dit kan baie seer maak. En tydens die behandeling kan dit eindeloos lyk: kom daaraan dan nooit 'n einde nie? Moet ons dalk verniel word?

Maar glo dan, gemeente, dat die HERE wonderbaar van raad en groot van beleid is. Hy het 'n plan met hierdie wêreld en met ons lewe. Hy werk doelmatig en presies om die grootst moontlike oes uit ons lewe te kan insamel.

So het Hy in die jaar 1989 gewerk. Ter wille van sy doel het sy ploegmesse diep vore getrek en sy dorsslee pynlike wonde gemaak. En dit sal bly gebeur, ook in 1990, solank die groot dag van die oes nog nie aangebreek het nie.

Maar die HERE laat dit nie gebeur om ons te pla nie! Nie om ons daaronder stukkend te maak nie. "Want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie", het die digter van Klaaglied 3 geweet. "En as Hy bedroef hèt, ontferm Hy Hom ook weer na die grootheid van sy goedertierenhede".

Glo dat Hy met wys beleid aan sy plan met u lewe gewerk het, broeders en susters, al het party van u ook baie swaargekry. Hy het geen fout gemaak nie. Dit het geen oomblik misgeloop nie. Die HERE weet presies wat goed vir ons is.

2. Hy weet ook presies wat goed vir elkeen van ons persoonlik is.

Want nie almal het op dieselfde wyse swaargekry nie. Nie in alle huise was daar verdriet en trane in die afgelope jaar nie. God het blykbaar onderskeid gemaak.

Waarom?

Ons het, juis as ons swaarkry, dikwels maar die neiging om onsself met ander te vergelyk. Want ons eie swaarkry voel nou eenmaal maar altyd die swaarste. En dan kry ons die gevoel dat alles op ons hoof neerkom, en dat 'n ander telkens maar die ellende vryspring. "Waarom moet dit my altyd gebeur? !" "Waarom moet juis óns die een moeite na die ander verwerk? "

Dit is nie net 'n gevoél wat party mense soms kan hê nie, gemeente. Dit gebeur ook rêrig, dat sommige mense die een klap na die ander kry. Sodat ons wat hulle so graag wil help en bemoedig, verleë daaronder raak. Hoekom maak die HERE so?

Wel, om ook op die vraag 'n antwoord te kry moet ons opnuut met Jesaja na die boereplaas toe en nogmaals die werk van die boer in oënskou neem. Want daar is 'n tweede element in hierdie gelykenis wat ons spesiale aandag trek. En dit is, dat daardie boer nie net met een gewas werk nie, maar met 'n hele aantal verskillende. En hy gee daardie verskillende gewasse ook 'n verskillende behandeling. Al dadelik wanneer hy dit saai: koring word in rye gesaai, gars in vakke, spelt langs die kant.... As 'n goeie boer weet hy presies watter gedeelte van sy akker vir daardie bepaalde gewas die beste is en hoe dat dit die beste gesaai kan word.

En wanneer hy weke later die grane kan dors, gee hy opnuut elkeen van daardie gewasse sy eie behandeling. Jy kan komyn nie met die dorsslee dors nie, komyn moet uitgeslaan word. Maar selfs dan moet jy nog onderskeid maak tussen komyn en swart komyn: vir swart komyn gebruik jy 'n stok, maar vir komyn die dorsvleël. En by broodkoring kan jy die beste maar die wawiele gebruik om dit te dors.

'n Goeie boer weet baie mooi dat die verskillende gewasse ook 'n verskillende behandeling vereis om die beste resultaat te verkry.

Maar pas dan ook dit maar op die HERE toe, sê Jesaja hier vir ons.

Soos die HERE vir 'n boer leer hoe om elke gewas met sorg sy eie spesiale behandeling te gee, so gee Hy ook self elkeen van sy kinders hulle eie spesiale behandeling.

Hy wat met elkeen van die volkere sy eie weg gaan, en sy gemeentes orals in die wêreld nie almal op dieselfde wyse behandel nie, weet ook wat vir elkeen van ons persoonlik die beste is. En ook nou bly 'n so groot moontlike oes die doel.

As die HERE in die afgelope jaar baie verdriet, teleurstelling en trane in u lewe gebring het, broeders en susters, of dit in die jaar wat voorlê gaan bring- glo en aanvaar dan dat dit vir u die beste is om uit u lewe die meeste vrug vir sy Koninkryksskure op te lewer. God ag dit blykbaar moontlik om nog meer vrug by u bo te haal. En Hy laat rêrig ook u broeders en susters wel swaarkry, maar weer op 'n ander wyse as u.

Die een ontvang baie liggaamlike pyn en moeite, 'n ander meer geestelike spanning en probleme, 'n derde word in rou gedompel terwyl 'n vierde in sy besigheid sy kop nie bo water kan hou nie.

Maar God weet presies wat vir elkeen van ons persoonlik die beste is.

Onderwerp u daarom aan sy spesiale werkswyse met u, al maak sy ploegmesse ook baie seer en voel u gekneus onder die slaë van sy dorsvleël.

Hoe meer moeite nou, des te groter oes net-nou!

Ons is in goeie hande.

Ja, ons was die hele jaar 1989 in goeie hande, gemeente. En ons mag onsself vir die nuwe jaar wat oor 'n paar ure begin, weer aan daardie hande toevertrou.

Ek weet, dit vereis baie geloof om altyd te bly aanvaar dat daardie hande met wys beleid volgens 'n wonderbare raad met ons lewe besig is. Maar God het ons die hele jaar deur telkens weer in hierdie geloof versterk. En ons het meer as een keer saam en persoonlik mag ervaar, dat ons van die moeite nie minder geword het nie. Maar juis ryker, nog meer vrugbaar vir God.

En dus kan ons vol verwagting vorentoe. Na die dag waarop die ploeg, die eg en die dorswerktuie vir altyd weggebêre kan word, die dag waarop (so staan dit in die laaste artikel van die Nederlandse Geloofs Belydenis, art. 37) "ons die vrugte sal ontvang van alle moeite en lyding wat ons gedra het".

Die dag waarop Gód die volle vrug uit ons lewe ingesamel het sodat sy ewige oesfees kan begin.

AMEN.

(Pretoria 31 Desember 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)