Die Here soek die vrug uit ons lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Hooglied 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR HOOGLIED 8: 11, 12

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 92: 6, 7
Gebed
(L.) Hooglied l: 5-14 & 2: 15 & 6: 8-9 & 7: 1-13
(T.) Hooglied 8: 11, 12
Prediking
Ps. 128: 1, 2
Geloofsbelydenis
Ps. 128: 4
Huweliksformulier
Ps. 61: 3
Gebed
Ps. 61: 4
Kollekte
Ps. 119: 12, 14
Slotseën

Broeders en susters, bruidspaar,

In ons teks spog 'n onbekende man met sy wingerd. Hy vergelyk homself met koning Salomo, die rykste koning wat ons uit die Bybel ken. Salomo het ook 'n wingerd, 'n groot enetjie wat hom baie geld oplewer. Maar hierdie man wil darem nie ruil nie. Salomo kan sy wingerd maar hou.

Wat moet ons met so'n spogger in 'n preek op 'n troudag? Wat het sy wingerd met die huwelik van vandag te make?

Wel, hierdie man wat so ryk met sy eie wingerd is, sing saam in 'n liefdeslied wat die naam "Hooglied" dra. In hierdie lied sing 'n seun en dogter wat besig is om man en vrou, getroude man en vrou te raak, die hoogste lied. Hulle besing hul liefde vir mekaar, hul verlange na mekaar, ook hul liggaamlike aantrekkingskrag op mekaar. Maar wel op so'n wyse dat die verwondering oor dit wat Gód geskape het, ook die liggaamlike skoonheid wat God geskep het, die botoon bly voer. Daar word in hierdie liefdeslied baie reguit oor die seksualiteit gepraat. Want die geheimsinnige en boeiende aantrekkingskrag tussen 'n man en 'n vrou is as sodanig geen sonde nie. Dit is 'n wonderlike geskenk van God wat Hy alreeds by die skepping van die mens in ons gelê het. 'n Seun en 'n dogter mag hulleself daardeur laat lei, daardeur vuur en vlam raak, en op die ou end die volle vreugde daarvan in die huwelik geniet.

As dit maar op die regte wyse gebruik word.

Want dit is wel belangrik: hoe word die seksualiteit, die aantrekkingskrag op mekaar gebruik? Die apostel Paulus het in sy eerste brief aan Timotheüs geskrywe dat alles wat deur God geskape is, goed is, en dat niks daarvan verwerplik is nie- maar dan moet dit wel "geheilig word deur God se Woord en die gebed". As God se skeppingsgawes, ook die gawe van die seksualiteit, nie in die ontdekkende lig van God se Woord en onder aanhoudend gebed gebruik word nie, word die liefdesvuur 'n gevaarlike brand met verwoestende gevolge.

Daarom is hierdie klein Bybelboekie, die Hooglied, in die Bybel opgeneem. Dit wil ons help om op die regte wyse, in geloof, as kinders van die HERE met die geskenk van ons man-wees en vrou- wees om te gaan.

In ons Bybelvertaling word hierdie liefdeslied "Die Hooglied van Salomo" genoem. Maar die verklaarders het al hoe meer daarvan oortuig geraak dat Salomo nie self die skrywer van hierdie lied is nie. Inteendeel, hy word wel 'n aantal kere in die lied genoem, maar dan vervul hy nie so'n mooie rol nie. Die seun in hierdie liefdeslied vergelyk juis homself met koning Salomo en kom tot die gevolgtrekking dat hy, ten spyte van al Salomo se heerlikheid, baie beslis nie met hom wil ruil nie.

Dit is dan ook beter om die opskrif bo hierdie Bybelboek so te vertaal: "Die hooglied; oor Salomo".

Hierdie liefdeslied is naamlik tegelyk 'n proteslied oor dit wat koning Salomo, wat as ampsdraer die voorbeeld vir God se volk moes wees, met die huwelik en die seksualiteit gemaak het.

En nou gaan ons ons teksverse al bietjie beter verstaan. Die seun, een van die twee hoofrolspelers in hierdie liefdeslied, vergelyk homself met Salomo.

Dit lyk asof hy maar net van wingerde praat: Salomo se groot en kosbare wingerd, en sy eie.

Maar in hierdie lied word baie beeldspraak gebruik. Die sangers werk met allerlei metafore. En dalk het u dit al agtergekom toe ons so pas 'n aantal gedeeltes uit die Hooglied gelees het: 'n aantal kere word die vróu, die méisie met 'n wingerd vergelyk.

In 1: 6 vertel sy dat sy as boeredogter moes saamhelp op die plaas van haar pa. Sy moes die wingerde oppas. Maar, vertel sy, "my eie wingerd het ek nie opgepas nie". En sy bedoel natuurlik: vanweë die harde werk wat sy daagliks moes verrig, in die brandende son waardeur haar vel heeltemal bruinerig verbrand het, het sy min tyd gehad om haarself, haar meisiesliggaam te kultiveer nie. Daar was nie tyd om ure voor die spieël met haar hare, met grimering en so meer besig te wees nie.

Ons het ook hoofstuk 7 gelees. Daar vergelyk die seun sy verloofde met 'n wingerd. Haar aantreklike gestalte maak hom heeltemal liries. Haar borste lyk vir hom soos trosse van die wingerdstok en hy is lus om hulle te gaan pluk.

As gevolg van hierdie metafoor word in die Hooglied ook die húwelik waarin die vrou-wees ten volle beleef mag word, met 'n wingerd vergelyk. Ons het in 2: 15 die oproep gelees om "die jakkalse te vang, die klein jakkalse wat die wingerde verniel". En ons sal daarby moet dink aan allerhande onplesierige sake wat die vreugde van die huwelikslewe, die liefdeslewe kan bederf. Soos onderlinge rusies, gevaarlike inmenging van buitestaanders in 'n huwelik........ Vang daardie jakkalse, sodat die huwelik gaaf bly.

Ons moet hierdie beeld van 'n wingerd 'n oomblik op ons in laat werk, broeders en susters. Daarin lê die eerste belangrike les wat ons vanaand uit die Woord van die HERE moet saamneem.

Die vrou, en ook die liefdeslewe, moet dus soos 'n wingerd wees.

'n Vrou kan bloei en kostlike vrugte voortbring waarvan haar man mag geniet. En dan mag ons ook gerus aan haar liggaam dink. Sy kan in haar oorgawe aan hom hom met haar liggaam bedwelm, dronk maak. En sy mag die ekstase beleef van sy verrukking oor haar.

Maar dit is nie al nie.

In die Woord van God gebruik die HERE self dikwels die beeld van 'n wingerd vir sy kinders. Hy soek die vrug uit ons lewe! Hy soek ons liefde. Hy wil Hom oor ons oorgawe aan Hom verheug.

'n Vrou moet dus nie net 'n wingerd vir haar mán wil wees nie, maar allereers 'n vrugbare wingerd vir haar Gód. Sy moet nie allereers man wil behaag nie, maar haar God. Sy moet heel haar vroulikheid in diens wil stel van haar God, om vir Hom vrugbaar te wees, te groei en te bloei.

Dit kan bv. deur die wonderlike vrugte voort te bring waarvoor juis die vroueliggaam geskep is: kinders wat tot nuwe wingerde vir die HERE grootgemaak kan word.

Maar ook as 'n vrou nie trou nie, of in haar huwelik geen kinders kan voortbring nie, selfs as sy die vuur van die liefdesspel nooit sal ervaar nie, kan sy vir haar Gód 'n vrugbare wingerd wees. Solank sy nie net vir haarself ontplooiing soek nie, maar haar lewe in diens van die HERE wil stel.

Linda, wil jy dit? Allereers vir jou Gód 'n vrugbare wingerd wees. Saam met Hanno vir Hóm groei en bloei in goeie werke? Al jou vroulike gawes ontplooi in die volledige oorgawe aan jou hemelse Bruidegom? Selfs in jou liefdesverkeer met jou man saam met hom vir jou God vrugbaar wees?

Alleen so sal jy die hoogste lied in jou huwelik kan bly sing!

En jy, Hanno, soek jy dieselfde? Soek jy in Linda nie net die vrugte en die vreugde vir jouself nie, maar begeer jy dat sy mee deur haar huwelik met jou nog meer die HERE met haar vrugte vreugde sal verskaf?

Jy kan self baie daaraan bydra. Juis deur die liefde en sorg, deur die toewyding en leiding van haar man kan 'n vrou tot al hoe groter bloei kom. En hoemeer st vir die HERE bloei, des re groter vreugde sal dit vir haar man gee.

In ons teks vergelyk die seun in die Hooglied sy wingerd, sy a. s. vrou, dus met koning Salomo se wingerd.

Dalk het Salomo regtig daardie wingerd gehad. Kroongrond. Baie geld werd. Met oppassers wat derduisende sikkels silwer vir die vrugte moes inbring. Self mog hulle 20% daarvan hou, 200 sikkels vir elke oppasser.

En dan sê die a. s. bruidegom in ons Hooglied dus: maar ek is darem ryker met my een vrou! Ek wil vir g'n geld van die wêreld met die koning ruil nie. Ek voel my met my eie vrou beslis nie armer as die koning nie.

Maar ons kry die indruk dat die man wat hier so ryk met sy eie vrou is, nie net aan die koning se wingerd gedink het nie, maar eintlik aan sy harem. Salomo het mos baie vrouens gehad. Op die ou end meer as duisend. Pragtige vrouens, dure vrouens waarvoor 'n hoë bruidskat betaal moes word. Soveel, dat hy harem-oppassers nodig gehad het om al daardie dametjies te versorg.

Die plek wat in ons teks genoem word, waar Salomo se wingerd sou gestaan het: "Baäl-Hamon", het tot nou toe in Palestina onvindbaar gebly. Dalk is dit in hierdie lied ook maar net 'n simboliese naam wat dui op al die vrouens wat Salomo gehad het.

Baäl-Hamon beteken naamlik: "Heer oor 'n hele menigte".

En dan verstaan ons die seun in die Hooglied nog beter: die koning het veel meer vrouens as wat hy self het, mooier vrouens dalk ook, met 'n deftige afkoms ens. Maar ons seun is glad nie afgunstig nie. Hy is met sy eie bruid die koning te ryk.

Salomo kan sy indrukwekkende en kosbare harem maar hou. En die harempersoneel mag daardie mooi vrouens gerus bly oppas. Hy het geen behoefte om te ruil nie.

Want die bruidegom in die Hooglied het die armoede van so'n harem leer raaksien. Hoe sou 'n mens met so'n harem regtig ryk kán wees? ! In die eerste plek bly daar mos altyd 'n groot afstand tussen jou en jou vrouens. Jy sien elkeen van hulle miskien nie eens een keer in 'n jaar nie! En ander mans moet jou vrouens oppas.

Maar boonop: water vrugte lewer so'n liefdeslewe op? !

Hoe kan 'n vrou op hierdie wyse nog 'n vrugbare wingerd vir haar God wees? En hoe kan jy as man aan 'n groter bloei van jou vrouens bydra?

So'n indrukwekkende versameling vrouens mag vir die ménse dalk 'n bewys van jou rykdom wees, maar teenoor die HERE staan jy met leë hande! Die enigste vrug wat soiets kan oplewer, is sonde. Vrugte vir die duiwel.

Soos ons inmiddels ook in Salomo se lewe gesien het: sy vrouens het mos sy ondergang geword.

Dit is dus die tweede les wat ons uit hier gedeelte van God se Woord moet leer, broeders en susters, bruidspaar.

In ons beskaafde Westerse samelewing ken ons geen harems meer nie, en poligamie is by die wet verbied. Maar daar is nog altyd mans wat die een na die ander pragtige meisie in hul huis en in hul bed haal, en meisies wat bereid is om met telkens ander mans saam te gaan.

Ons moet maar nie verkyk aan daardie verleidelike wêreld rondom ons met uitdagende prikkelpoppies en verblindende mans nie.

Daardie wêreld het sy gevaarlike aantrekkingskrag, soos Salomo se harem ongetwyfeld tot die verbeelding van baie mans in daardie dae gespreek het.

Ons kan diep in ons hart partymaal afgunstig raak op sulke mense.

Dit lyk asof hulle darem die volle vrug van die seksualiteit geniet!

Maar dan wil God se Woord in die Hooglied ons help om nie kortsigtig te wees nie. Want hoe arm is so'n liefdeslewe! Dit is nie eens liefde nie: dit is net selfgesentreerde bevrediging van jou hartstogte. Die ander is maar net 'n gebruiksvoorwerp wat jy eenkant gooi as jy 'n beter een kan kry.

Dit maak die lewe onvrugbaar. Dit bring net vrugte vir die dood voort.

Hoe ryk is dan die man met sy een vrou, die vrou van sy jeug aan wie hy lewenslange trou beloof het. Sy vrou wat dalk nie so pragtig lyk soos die dametjies in allerhande blaaie en op die t. v. nie; sy vrou aan wie jy kan sien dat sy al 'n aantal swangerskappe agter die rug het; sy vrou wat heel eenvoudig haar werk in die kombuis of agter die naaimasjien doen, wat by die huis is as die kinders uit die skool uit kom. Maar 'n vrou wat al hoe meer saam met hom, en ook alléén met hom, groei en bloei in 'n vrugbaar lewe vir die HERE.

En hoe ryk is die vrou wat 'n man van die HERE ontvang het wat haar nie net vanweë haar liggaamlike bates gekies het nie, maar wat haar gekies het omdat hy saam met haar sy lewe lank vir die HERE vrugte wil dra.

Ja, jy kan nog beter ongetroud bly en sonder enige seksuele ervaring in 'n vrugbaar lewe vir God, as om in telkens ander los verhoudings maar net vrugte vir die duiwel op te lewer.

En nou nog een ding: hoe kan 'n sondige mens, hoe kan twee sondige mense in hul huwelik vrugbaar wees vir God?

Ons lees in Johannes 15, waar die Here Jesus Christus ook ons lewe met lote in 'n wingerd vergelyk, dat Hy sê:

"Sonder My kan julle niks doen nie!". Ons is van onsself dooie onvrugbare lote. Daar is net een manier om weer vrugbaar te kan word: Jesus sê: "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in Hom, hy dra veel vrug".

Eers as ons by die Seun van God ingelyf word deur in Hom te glo, kan ons lewe dus weer vrugbaar raak vir sy Vader.

Hanno, Linda, ja u almal wat hier vanaand aanwesig is, soek die geluk in u lewe buite u self, in Jesus Christus. Laat sy Woord u lewe regeer. Laat sy Heilige Gees u lewe vrugbaar maak.

Dan is u, getroud of ongetroud, die koning te ryk. En dan sing ons saam die hoogste lied.

AMEN.

(Pretoria, 11 Mei 1990, bevestiging van die huwelik van bruidspaar Kampman-Putter)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)