Die huwelik is 'n geskenk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Spreuke 18
Preek Inhoud: 

Ps 67: 1, 2, 3
Ps125: 1, 2, 3, 7
Ps128: 1, 2
Ps134: 1, 2 /3, 4
Lees: Gen 2: 4-25
Teks: Spr 18: 22

Bruidspaar, familie en verdere aanwesiges,

Voordat iemand in die kerk kan trou word altyd eers 'n paar weke van tevore 'n afkondiging aan die gemeente gedoen.

In ons kerk gebruik ons gewoonlik daarvoor die formule: die en die het die kerklike bevestiging van hul huwelik aangevra omdat hulle begeer hierdie heilige staat in die Naam van God te begin en salig tot Sy lof te voleindig.

In daardie formulering staan 'n hele paar opmerklike sake.

In die eerste plek dit: die huwelik is 'n heilige staat.

Die huwelik is nie sommer 'n manier van samewone van twee persone onder een dak nie, maar dit is 'n lewensstaat wat nie sonder rede heilig genoem word nie.

Ons sal daarop later nog terugkom.

Verder word daar gese julle begeer om die huwelik in die Naam van God te begin. Daarvoor is ons dus vanoggend by mekaar om in die Naam van die Here in aanwesigheid van familie, vriende en gemeente amptelik julle huwelik in te lei.

Tenslotte is daar mededeling gedoen dat julle hoop om jul huwelik ook tot lof van God te voleindig. Die eer van die Here is in geding as by so 'n gewigtige oomblik in 'n mens se lewe as 'n huweliksluiting, Sy Naam genoem word.

Maar sy eer is ook in geding by die voortsetting van die huwelik sodat ook die einde van jul huwelik 'n saak sal wees waarin die Here lof ontvang.

Want die eer van die Here is nie gedien as mense wel in sy Naam 'n huwelik begin maar wanneer hulle dit teen die uitdruklike bevel van die Here in, dit in 'n egskeiding laat eindig.

En so is sowel die begin van die huwelik as die einde daarvan onder die Naam van God gestel.

Dit wil ons verder uitwerk in die preek onder die tema:

Die huwelik is 'n geskenk van God

  1. Dit gee vrymoedigheid om 'n huwelik te begin
  2. Dit gee goeie moed om 'n huwelik vol te hou

"Wie 'n vrou vind, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die Here verkry. "

Van Maarten Luther, die bekende kerkhervormer, is bekend dat sekere tekste uit die Bybel 'n besondere groot rol in sy lewe gespeel het. Van die tekste het sy insigte en daarmee ook sy lewe dramaties verander.

Die mees bekende van daardie tekste is die woord uit die Romeinebrief: die regverdige sal deur die geloof lewe. Luther se later self van hierdie teks: Dit was vir my 'n poort na die hemel.

Met 'n variasie daarop sou ons vanoggend se teks Luther se poort na die huwelik kon noem. Want hierdie teks uit Spreuke 18: "Wie 'n vrou gevind het het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die Here verkry", het Luther se siening op die huwelik totaal verander.

In Luther se tyd, dit was aan die einde van die Middeleeue is daar nl baie negatief oor die huwelik gedink.

Die huweliksbeloftes is dikwels vergelyk met die klooster-geloftes en in die vergelyking is 'n huweliksbelofte van baie minder waarde geag.

Die kern van 'n kloostergelofte was dat jy jou gedurende heel jou lewe sal onthou van seksuele omgang. Dit is beskou as een van die hoogste dinge wat 'n mens kon bereik in die aardse lewe. Monnike en nonne kon hulself in hul lewe heeltemal wy aan geestelike sake en op die manier die Here dien.

In vergelyking daarmee staan iemand wat trou op 'n baie laer vlak. Hy sal hom besig moet hou met sake wat slegs op die vlak van die natuurlike lewe le. En dit was eintlik iets minderwaardigs.

In hierdie dinkwereld het ook Maarten Luther grootgeword. En daarom was dit vir hom as 'n ernstige gelowige 'n uitgemaakte saak om nie in die huwelik te tree nie maar vir homself 'n lewe as monnik te verkies.

Maar na sy ontdekking van die Bybel as die enigste bron van openbaring van God begin hy ook met betrekking tot die huwelik die Bybel heeltemal opnuut lees.

En dan ontdek hy tot sy verbasing dat daar reeds op die eerste bladsye van die Bybel aandag vir die huwelik is. En nog wel in baie positiewe sin.

Luther lees tot sy verwondering dat die Here oordeel dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie.

Daarom maak God 'n hulp wat by die man pas. Hy maak hulle man en vrou en bring hulle by mekaar, sodat hulle saam in 'n vaste verhouding, in 'n huwelik sal saamlewe. In so'n huwelik ontstaan so'n sterk eenheid dat dit gekarakteriseer word as: hulle word een vlees.

In daardie totstandkoming van die eerste huwelik tussen mense is dit heel duidelik dat die Here God daarby die leiding het. Dis Hy wat vir Adam 'n vrou gee.

Dis Hy wat besluit dat hulle een vlees moet wees.

En daarmee is vanuit die staanspoor duidelik dat die huwelik in die oe van die Here geensins 'n minderwaardige saak is nie. En so het Luther teen die algemene gevoel van sy tyd in 'n sterk verdediger van die huwelik as 'n skeppingsgeskenk van God geword.

Luther kan nie ophou om die Here te prys om wat Hy in hierdie geskenk vir die mens gegee het nie.

In die verband het ons teks van vanoggend 'n groot rol gespeel.

"Wie 'n vrou gevind het het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die Here verkry"

Ons wil 'n bietjie nadruk le op die woorde 'vind'.

'n Vrou is blykbaar iets wat jy moet vind, en as jy haar gevind het dan kan jy praat van die welgevalle van die Here.

Hier staan amper dieselfde as wat ons straks sal lees in die huweliksformulier: Dit is God wat elkeen se man of vrou na mekaar toelei.

Met die woorde van ons teks: Dit is die Here self wat man en vrou mekaar laat vind.

God is op pad na jou toe met jou man of jou vrou, en eendag vind jy hom of haar.

Dit is as ons daaroor nadink eintlik 'n ongelooflike belydenis. Want in die praktyk voel ons gewoonlik so heel anders.

'n Seun en 'n dogter ontmoet mekaar, hulle stel belang in mekaar, raak verlief, verloof ens.

Dit is 'n so vanselfsprekende en al so'n ou bekende gewoonte dat ons maar bra verwonderd opkyk as daar staan: "Die Here lei elkeen se man of se vrou na mekaar toe. "

En tog is dit 'n saak van geloof dat dit inderdaad die geval is. Dat God met gebruikmaking van daardie hele gewone middele van ontwakende gevoelens vir mekaar, besig is om man en vrou na mekaar toe te lei.

Maar dan moet die soek van mekaar ook wel 'n saak van geloof en gebed wees.

Want 'n mens kan ook 'n vrou neem, sonder dat hy daarvoor gebid het;sonder dat hy daarvoor die Here gevra het.

As op daardie wyse 'n huwelik tot stand kom kan jy moeilik se: Die Here het my 'n vrou laat vind. Want dit kan wees dat jy slegs volgens eie begeerte 'n man of vrou gevat het.

Maar as jy in geloof en onder gebed gesoek het dan mag jy met vrymoedigheid se: dit is die Here wat my 'n vrou laat vind het. Hy het my iets goeds laat vind. Dit is 'n geskenk van die Here.

In hierdie selfde Spreukeboek, in hoofstuk 31, word die portret geteken van so'n vrou wat 'n geskenk van die Here is. As jy lees wat oor daardie vrou gese word, dan besef jy, inderdaad, so'n vrou kan jy nie erf nie, dit kan jou pa of jou ma nie vir jou reel nie, dit kan jy self nie uitsoek nie, so'n vrou kan jy maar net as 'n geskenk van God ontvang en waardeer.

Of soos ons teks dit se: jy het 'n welgevalle van die Here verkry.

Dit beteken die vrou wat jy so waardeer is vir jou 'n bewys van God se genade vir jou.

Gelukkig is die man wat so'n vrou mag vind.

Ek besef terdee bruid, dat ons teks hom spesiaal tot die man rig. Dit gaan veral daaroor dat hy gelukkig geprys kan word as hy 'n vrou gevind het.

Dit beteken natuurlik nie dat die Bybel uitsluitlik in die belange van die man geinteresseer is nie.

Dit is die vrou wat in ons teks aangedui word as iets goeds. Sy vorm die pragtige geskenk wat die Here vandag wil gee.

Dit is mos die vrou wat die atmosfeer in die huis bepaal.

Dit is die vrou wat die huis van haar man kan laat floreer of dit kan ruineer.

Daarom kan ons sowel die vrou as die man 'n geskenk van die Here noem. Julle mag vandag mekaar as geskenke uit die hand van die Here ontvang.

Want julle het mekaar nie gevat nie maar het mekaar gevind.

En daarom is ons vandag hier so bly met mekaar. Julle sal vandag vermoedelik 'n hele paar presente ontvang.

Maar die grootste present is die geskenk van die Here.

Hy het vir Bouwe 'n kostelike geskenk. Debbie.

Hy het vir Debbie ook 'n wonderlike geskenk. Bouwe.

En omdat die geskenk uit sy hande kom kan julle dit ook met groot vrymoedigheid aanvaar.

Gebruik die geskenk maar met veel vreugde en doen dit tot eer van die Naam van die Gewer.

2. Omdat die huwelik 'n geskenk van God is het ons goeie moed om die huwelik te voltooi.

Ons het nou wel verstaan dat ons met vrymoedigheid 'n huwelik kan begin omdat God die Skenker van die huwelik is.

Julle bely dat God julle by mekaar gebring het, dan mag julle dus die huwelik begin in die Naam van die Here.

Maar vir 'n sondige mens is dit miskien nog moontlik om sy huwelik in die Naam van God te begin, maar die probleem kom eers daar waar ons ook begeer om die huwelik salig tot Sy lof te voleindig. Onthou die formulering by die afkondiging van jul voorgenome huwelik.

Maar laat ons hier goed vashou: die begin is bepalend vir die vervolg, en ook vir die einde.

Daarom is die woord van ons teks nie net 'n woord vir die troudag nie, maar is dit 'n woord om saam te neem jul huwelik in.

"Wie 'n vrou vind het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die Here verkry"

Immers as die jare voortgaan en julle mekaar al hoe beter leer ken gaan julle ook mekaar se swakhede beter sien. Sekere eienskappe of gewoontes waaroor jy nou kan lag kan later 'n bron van ergernis en frustrasie vorm.

Jy kan nie voorkom dat jy nou en dan in mekaar teleurgesteld sal wees nie.

Daar kan allerhande sorge kom, sorge om kinders of geldsorge of ander probleme. Dit veroorsaak spanning in 'n huweliksverhouding. En dan hang alles daarvan af hoe jy daarmee omgaan.

As jy van die teleurstellings verwyte gaan maak in die rigting van die ander dan ontstaan daar sommer vanself steeds meer verwydering.

Maar as jy jou teleurstellings in die ander kan relativeer omdat jy self besef dat die ander ook gereeld in jou teleurgesteld moet wees, dan is daar ruimte om mekaar te help en aan te vul.

Daar om is dit so verskriklik belangrik dat julle die huwelik in die Naam van God begin het, dat julle mekaar ook ontvang as geskenk van God, want dit gee goeie moed om vol te hou.

Dit gee uitsig om die huwelik ook tot lof van God te voleindig. So kom Hy aan Sy eer.

As Hy twee sondige mense deur sy genade by mekaar gebring het, en daardie twee mense sien kans om mekaar as 'n godsgeskenk vas te hou en te waardeer, dan geniet die Here sy eer.

Besef dat hierdie manier van dink, om mekaar as godsgeskenk te ontvang, ja om die lewe as 'n geskenk te geniet vandag sekerlik nie algemeen is nie. Ons leef in 'n tyd waarin elkeen neem wat hom goeddunk. 'n Man neem 'n vrou en as sy hom nie langer beval nie dan sorg hy dat hy van haar ontslae raak.

Mense neem kinders in plaas van hulle as geskenk te ontvang.

Jy neem jou deel van die lewe, maar sien nie meer die hele lewe as 'n geskenk van God nie.

Julle verstaan, as dit die atmosfeer word in die wereld dan offer manne hul vroue op aan hul eie begeertes en vroue offer hul manne op aan hul eie behoeftes en saam offer hulle hul kinders op aan hul eiebelang.

Dan raak dit duister in die wereld.

En daarom bruidspaar, hou dit elke dag goed vas: Julle het mekaar ontvang as 'n geskenk van die Here.

Gaan daarmee om as 'n ongelooflike kosbare geskenk, waarvoor julle elke dag die Here dank.

Dan sal julle ontdek dat die huwelik ook in moeilike tye sy glans bly behou.

Want dan is julle nie net saam nie, maar julle lewe in gemeenskap met God die Vader, wat die Skepper is ook van die huwelik.

Wat ook die Skenker is van hierdie huwelik.

In die begin van die preek het ons van die huwelik gepraat as 'n heilige staat.

Heilig, dit beteken dat dit afgesonder is vir die diens van die Here. Ook 'n huwelik is nie iets slegs ten voordele van die man of die vrou nie maar God wil die huwelik heilig noem. Dit beteken Hy neem die huwelik, ook julle huwelik in Sy diens.

Ofwel die geskenk wat julle vandag ontvang, daarvoor wil die Here iets terugsien nl dat julle die geskenk gebruik in sy diens. Van nou af mag julle saam die Here dien, mag julle mekaar ondersteun in die diens aan die Here. Ook jul huwelik word nou 'n onderdeel van die deur God gevraagde lewensheiliging.

Dus reken maar dat die Here steeds noulettend sal bly toesien hoe julle met daardie geskenk van Hom omgaan.

Solank julle julle dit bewus bly, sal julle steeds meer rykdom ontdek aan die geskenk wat vandag vir julle toevertrou word. Dan sal julle na lange jare van omgaan met hierdie geskenk uit ervaring kan praat en met steeds harteliker instemming vir mekaar hierdie trouteks herhaal: "Wie 'n vrou gevind het het iets goeds gevind, en 'n welgevalle van die Here verkry"

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)