'n Les in lewensgeluk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Spreuke 3
Preek Inhoud: 

Ps 96: 1, 2
Ps 96: 5, 7
Gebed
Lees: Spreuke 3: 1-18
Teks: Spreuke 3: 6
Ps 98: 1, 2, 3
Ps 134: 1, 2
Ps 134: 3, 4

Bruid en bruidegom, familie en vriende, brs en srs!

As ons 'n bruidspaar sien dan is daar altyd een woord wat ons in elk geval nodig het om hul stemming te beskryf. Dit is die woord 'gelukkig'.

Die bruidegom is gelukkig met sy bruid en die bruid is gelukkig met haar bruidegom.

Gelukkig maar, want as 'n mens op sy troudag nie gelukkig is nie, wanneer sal 'n mens dan ooit gelukkig wees?

Dus dit het 'n sekere vanselfsprekendheid dat die bruidspaar gelukkig is op hul troudag.

Maar of dit altyd so sal bly, dit is natuurlik 'n ander ding.

Dit moet ons afwag. En daarom wens ons vir die bruidspaar geluk.

Ons wens dat hulle altyd gelukkig sal bly.

Baie geluk, bruidegom!

Baie geluk, bruidjie!

Maar nou het ons vanmiddag 'n vraag.

Is daardie geluk iets wat per toeval wel of nie jou deel word nie, in die sin van: geluk is ook maar geluk!?

Of kan 'n mens self ook nog iets aan sy geluk doen in positiewe of in negatiewe sin?

Kan jy jou geluk bevorder of kan jy dit bederf?

Wel, die antwoord wat die bybelgedeelte wat ons gelees het gee is 'n reguit "Ja!".

Geluk of gelukkig word is nie iets wat 'n mens slegs per toeval oorkom nie, maar 'n mens kan daaraan self baie doen.

Lees maar die laaste vers van ons skriflesing van vanmiddag uit Spreuke 3:

Dit is 'n lewensbron vir wie dit aangryp en elkeen wat dit vashou is gelukkig!

Wie die vermanings van Spreuke 3 ter harte neem, hy sal gelukkig word, dit is die deurgaande les van hierdie hoofstuk.

Op 'n troudag stel ons uit die aard van die saak besonder belang in die vraag: Hoe kan ons in die geluk van die bruilofsdag volhard?

Wat kan ons in die opsig doen?

Daaroor gaan dit in die preek van vanmiddag.

Ons tema is:

'n Les in lewensgeluk

  1. Raadpleeg die Here op jou lewenspad
  2. Vertrou die Here op jou lewenspad

Ons kan van vanmiddag se teks nie sê dat dit spesiaal met die oog op die huwelik geskryf is nie. Dit bevat eerder 'n algemene wysheid wat vir elkeen in elke situasie geldig is: Ken Hom, dit is, ken die Here in al jou wëe.

In hierdie spreuk is iemand aan die woord wat al baie van die lewe gesien het. Die wysheid wat hy so langs die pad van die lewe opgetel het, wil hy deurgee aan mense wat nog maar aan die begin van die lewenspad staan.

Hy wys op allerhande gevare wat die onervare mens bedreig. Voortdurend spoor hy hom aan om na die gebooie van die Here te lewe. Want slegs dan sal jy die ware geluk kan vind.

Maar hoewel ons teks 'n algemene onderwysing in lewensgeluk bevat, dit kan ons nie verhinder om spesiaal te vra na die betekenis van hierdie Skrifwoord vir die huwelik.

Want juis op hul troudag staan bruid en bruidegom aan die begin van 'n nuwe periode in hul lewe. Hulle betree 'n gebied waarin hull altwee heeltemal onervare is. Dan voel 'n mens maar bra onseker. In so'n situasie is 'n bietjie onderwys van iemand met meer lewenservaring en lewenswysheid heeltemal welkom.

So wil ons vanmiddag saam luister na die les van die Spreuke digter oor lewensgeluk.

Sy les is kort saamgevat dit: Ken die Here in al jou wëe.

Die Here in iets ken, dit beteken soveel as: jy maak jou planne aan die Here bekend en vra van Hom of Hy jou op die regte weg wil lei.

Ken die Here in al jou weë.

Ons kan dit ook so sê: Raadpleeg die Here in alles wat jy doen.

Nou dat ons vanmiddag 'n bruidspaar in ons midde het, verstaan ons sommer dadelik dat dit 'n belangrike advies is i. v. m. die huwelik.

Op die huwelikspad sal 'n mens vir baie dinge te staan kom en dan is dit ongelooflik belangrik dat by al die dinge die Here betrek word.

Want laat ons eerlik wees: die huwelik is 'n enorme waagstuk. Die risiko's dat dinge verkeerd kan uitpak is eindeloos.

Miskien moet 'n mens eers so 'n jaar of tien getroud wees om te besef dat hy menslikerwys 'n groot kans gevat het, toe hy 10 jaar gelede beloftes vir die res van sy lewe gedoen het.

Dit sê ek nie om die bruidspaar te ontmoedig nie, verstaan my goed, maar ek sê dit om te waarsku dat dit in 'n huwelik seker nie vanselfsprekend goed gaan nie.

Dit is glad nie vanselfsprekend dat op 'n gelukkige troudag ook 'n gelukkige huwelik volg nie.

Immers in die huwelik sal julle agterkom dat julle tog nie 'n ideale man of vrou getroud het nie.

Julle sal dalk ontdek dat julle tog nie so volmaak by mekaar pas as wat julle eendag gedink het nie.

Die swakhede van mekaar wat julle vroeër dalk interessant gevind het, blyk by nader insien irritant te wees.

En dan word dit moeiliker.

Dit kan selfs so gaan dat 'n mens hom na jare vertwyfeld afvra: Wat het ek ooit in hom of haar aantreklik gevind?

En juis met die oog daarop is die les van Spr 3 lewensbelangrik:

Ken die Here in al jou weë.

Nou moet ons nog 'n stappie terugdoen. Die les dat ons die Here moet raadpleeg in al ons weë is nie slegs geldig met ingang van die troudag nie.

Dit begin al baie eerder, namelik by die keuse van 'n huweliksmaat.

Daar moet jy al begin om die Here te raadpleeg: Here, watter vrou moet ek soek of watter man is geskik vir my?

As ons dit nie vra nie of daarin die Here nie wil ken nie, dan volg ons sommer eie insigte. Dan gebruik 'n mens slegs redes van vlees en bloed om te besluit: Hierdie vrou wil ek hê.

Of: hierdie man beval my!

Wel, wie oor redes van vlees en bloed 'n sekere man of vrou uitkies sal ewe maklik om dieselfde rede van vlees en bloed sy man of vrou weer verlaat.

Dus daarom, om gelukkig te word in die huwelik is dit noodsaaklik dat jy voor die tyd die Here raadpleeg.

Dat jy die Hewre bid om die geskikte man of vrou te mag vind.

En as die Here jou dan een laat vind het, het jy klaar 'n heel ander begin. Dan het jy die noodsaaklike basis vir huweliksgeluk.

Immers dan ervaar jy mekaar as 'n geskenk van die Here. Dan erken jy met die huweliksformulier dat dit die Here is wat man en vrou as met sy hand na mekaar gelei het.

Waar dit die geval is, daar kan ons vol vertroue en met vreugde 'n bruilof vier.

In die geloof dat die Here nie sal loslaat wat sy hand begin het nie.

Want as julle glo dat Hy julle vir mekaar gegee het dan moet julle ook sy aanwysings vir 'n goeie huwelik opvolg.

God gee nou ook die opdrag om mekaar lief te hê.

Dit word vanaf vandag 'n verpligting vir bruid en bruidegom.

Om nou elke dag jul liefde aan mekaar te bewys.

Ook daarvan moet ons sê: Ken die Here in al jou weë.

Ook in die pad op weg na mekaar. As julle daarin nie die Here ken nie, sal julle mekaar nooit vind nie. Dan sal julle dalk op groter of minder groot afstand langs mekaar loop, maar sal julle nooit een pad kan gaan nie.

Ken die Here ook op die pad van die liefde en trou jeens mekaar.

Hoe sal sondige mense nou weet wat liefde en trou beteken?

Wel, daarvoor mag ons wys op Jesus Christus.

Let op Hom soos Hy Hom vir sy bruid die gemeente oorgegee het.

Hy het toe dit nodig was selfs vir sy bruid die dood ingegaan.

Alles het Hy vir haar gegee

Dit is nou ware liefde.

Sy eie lewe het Hy prysgegee vir haar. Dit is nou ware trou.

Leer daarvan bruid en bruidegom.

Leer van die offerbereidheid van die bruidegom Christus vir sy bruid, die gemeente.

Dan sal julle weet wat in die huweliksomgang gevra word.

Ken die Here in al jou weë. Ons het al genoem dat dit beteken dat julle in alles die Here moet raadpleeg.

Dit doen jy deur met Hom te praat in julle gebede. Deur van Hom leiding te vra.

Maar dit beteken ook dat julle dan steeds sal moet luister.

Luister na die antwoorde wat Hy gee. Luister na sy raadgewings.

Of wel lees saam die Bybel.

En luister.

Luister -dit is met 'n oplettende oor hoor wat die Here in sy Woord sê.

Moenie dink, dit gaan vanself nie.

'n Mens is altyd maar geneig om self antwoorde op sy vrae te bedink of hom net deur eie insigte te laat lei.

As julle dit gaan doen, dat elkeen sy eie insigte navolg, dan sal julle agterkom hoe vinnig julle uit mekaar groei.

Want dan dink die een so en die ander voel heeltemal anders.

En wie se sin gaan julle dan doen?

Maar probeer saam luister na die Woord van die Here en bid of Hy vir julle steeds die wysheid sal gee om die regte ding te doen.

As julle jul saam onderwerp aan die Woord van die Here, dan sal julle steeds meer na mekaar toegroei.

2. Vertrou op die Here op jul lewenspad

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.

Aan die vermaning om in alles die Here te ken, is ook 'n belofte verbonde namelik dat die Here dan julle paaie gelyk sal maak.

Hierdie belofte wat aan 'n vermaning verbind word is heel kenmerkend vir die onderwys uit die Spreukeboek. Die vermaning van vers 1: 'vergeet my onderwysing nie, bewaar my gebooie', word gevolg deur 'n belofte: dit sal jou 'n lank lewe gee.

Die vermaning in vers 3: 'Laat liefde en trou jou nie verlaat nie' word ook gevolg deur 'n belofte: 'jy sal genade vind by God en mense. '

So ook in ons teks: Ken Hom in al jou weë, vind 'n beloning in 'die Here sal jou paaie gelykmaak'.

By die gelykmaak van paaie moet ons dink aan 'n moeilik begaanbare pad, vol met klippe en slaggate, waar 'n mens voortdurend moet oplet waar hy sy voete sit, anders stamp hy hom aan 'n klip of val in 'n kuil.

As so'n pad nou gelykgemaak word, dan beteken dit dit word 'n gerieflike pad om op voort te beweeg.

Wel, dit is dan die belofte vir die lewenspad van hulle wat die Here in al hul weë ken.

Hul paaie sal gelykgenmaak word.

Hul lewensreis sal voorspoedig wees, sonder groot ongelukke.

'n Kostelike belofte.

Maar nou kom daar wel 'n vraag by ons op.

Is dit nou altyd waar?

Gebeur dit eg dat as 'n mens maar trou is aan God se gebooie dat hy dan altyd gelukkig sal wees en dat die Here hom vir alle rampe sal bewaar?

Maar daar is tog ook uitsonderings moontlik? God kan dit tog anders laat gaan in 'n mens se lewe?

Ja, dit is waar.

Maar laat ons hier wel bedink, ons het hier te doen met 'n spreuk. Hier word 'n algemene waarheid onder woorde gebring, sonder al die uitsondering te betrek.

Dit is eintlik 'n algemene onderwysreël dat jy vir leerlinge eers die reël moet verduidelik. Dat op elke reël ook wel uitsonderings is daaroor moet later gepraat word. Maar eers moet die reël vasstaan.

En die reël wat die Spreukeboek ons keer op keer voorhou is: Wie hom hou aan die gebooie van God in sy lewe, met hom gaan dit goed. Hy het die minste ellende in sy lewe.

En omgekeerd as jy die gebooie van God verwerp, kan jy maar 'n klomp probleme verwag.

Laat ons 'n voorbeeld noem wat goed pas by die huwelikssluiting vandag. Een van die gebooie wat seker in die huwelik 'n rol moet speel is die sewende gebod. Jy mag nie egbreek nie.

Maar 'n mens kan soms in 'n situasie kom waarin dit vir jou baie aanbtreklik lyk om jou aan hierdie gebod nie te steur nie.

Maar as jy dit doen moet jy maar groot moeilikheid verwag. Lees maar na wat Spreuke hoofstuk 5 daarvan te sê het: Jy verloor alles. Jy gooi nie net jou huweliksgeluk weg nie, maar ook die geluk van jou kinders, jy verloor jou besit, jou gesondheid en tenslotte selfs jou lewe.

Dus luister goed na die onderwys van die Spreukedigter.

Alles wat die Skrif sê oor goed en kwaad, oor werk en rus, oor liefde en trou- dit gaan alles om ons welsyn.

Alles wat die Here vir ons leer is goed vir ons.

Ek kan dit maar vir u almal sê vanmiddag. Die aanwysings van die Here genees die lewe, dit verbly die harte, dit bring werklik geluk in 'n menselewe.

En alles wat die Satan ons hart influister bring die omgekeerde. Hy kan vir jou slegs 'n skyngeluk bied.

Hy laat jou lewe in 'n skynwêreld, wat enige tyd sommer kan instort. En dan staan jy met leë hande.

Daarom: Ken die Here in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Dit beteken werklik nie dat dan skielik die hemel op aarde neerdaal nie. Selfs nie in 'n huwelik nie.

Dit is ook nie 'n waarborg dat daar nooit probleme sal kom nie.

En tog word die beste weg vir elke mens aangewys.

Ken die Here in al jul weë.

Ken Hom as jul Skepper.

Ken Hom ook as jul Verlosser.

As die Vader van Jesus Christus wat Homself vir ons oorgegee het om ons te red.

Dan sal jul lewenspad 'n reguitpad wees na die uiteindelike totale verlossing deur Christus.

Vir ons kan die pad wat God met ons gaan dilwels maar 'n krom pad toeskyn, met baie draaie en lusse.

Ons sal nie altyd kan verstaan hoekom God so 'n pad met ons gaan nie.

Maar wat vir ons 'n krom pad toeskyn, kan vir die Here nog wel 'n reguitpad wees. 'n Pad wat Hy maak na die doel wat Hy met ons lewe het.

Op daardie pad moet julle met Hom saamgaan.

Julle moet Hom vertrou op die pad vorentoe.

As dit dalk 'n moeilike pad is, kan 'n mens twee dinge doen. Jy kan of opstandig raak en begin kla en mopper, selfs verbitterd raak. As jy daarvoor kies is daarmee jou lewensgeluk definitief daarmee heen.

Of jy kies die ander moontlikheid: jy bly vertrou dat al wat die Here doen, goed is. En dan kan jy ondanks moeilike ervarings op die pad van die lewe tog gelukkig wees.

Ek kan vandag vir die bruidspaar nie sê of daar 'n voorspoedige of 'n moeilike pad vorentoe lê nie.

Ek weet nie of hulle baie 'geluk' sal hê in die sin waarop die wêreld van geluk praat nie.

Maar wel weet ek dit, as julle bly vertrou op die Here, dan word julle pad 'n reguit pad.

Bly vertrou dat Hy julle paaie lei, dan sal julle waarlik gelukkig kan wees.

Dan word julle namelik dankbare mense wat steeds besef dat die leiding oor hul lewe in vertroude hande is.

By 'n Vader vol van liefde vir sy kinders.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)