Die hulp van die God van Jakob is 'n gelukwensing werd

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 146
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 146: 5, 6

LITURGIE:
Votum en Seëngroet
Ps. 146: 1, 4
Gebed
L. Psalm 146
T. Psalm 146: 5, 6
Prediking
Ps. 104: 20, 21
Geloofsbelydenis
Ps. 146: 8
Huweliksformulier
Ps. 121: 1 voor die gebed
Gebed
Ps. 121: 4 na die gebed
Kollekte
Ps. 146: 3
Seën

Broeders en susters,

Die bruidspaar van vandag het vanmiddag al 'n hele aantal gelukwensings in ontvangs geneem. Van hul ouers, ouma, broers en susters, vriende en vriendinne. En daar sal na diè diens, tydens die onthaal, nog wel heelwat bykom.

Ek mag vanaand daar nog 'n gelukwensing byvoeg.

Ek mag die mooiste gelukwensing wat ons vir mekaar kan gee, uitdeel!

Die gelukwensing van ons teks uit Psalm 146.

Daar staan mos 'n gelukwensing: "Welgeluksalig is hy (en sy) wat die God van Jakob het as sy hulp". "Welgeluksalig"- ons kan daardie plegtige woord eenvoudig met "baie geluk!" vertaal: "Baie geluk as jy die God van Jakob as jou hulp het!".

Met die gelukwensing mag ek die bruidspaar van vandag, maar ook u almal, hoop ek, gelukwens. In die naam van die HERE.

En ik verkondig vir u almal wat hier vanaand aanwesig is:

DIE HULP VAN DIE GOD VAN JAKOB IS 'N GELUKWENSING WERD

WANT HY IS DIE GOD VAN

  1. DIE SKEPPING
  2. DIE HERSKEPPING
  3. DIE VERKIESING

1. Enige mens is hulpbehoewend, broeders en susters. Hy of sy sal dit nie altyd besef, of wil erken nie, maar ons is, as dit daarop aankom, almal van hulp afhanklik.

Te syner tyd moet elkeen dit agterkom.

Mense rondom jou kan 'n belangrike hulp vir jou beteken. Jy is 'n gelukkige mens as jy sulke hulpkragte om jou heen het. As jy op mense aan wie jy jou kan optrek, kan terugval.

Jy is ryk as jy ouers het wat in alle opsigte 'n stimulerende steun vir jou is en wat jou as jy na die volwassenheid groei, met hulle liefde en begrip omring.

Jy mag dankbaar wees as jy broers en susters het wat nie net lief nie, maar ook leed met jou deel.

Dis 'n voorreg as jy in jou ouerdom kinders het wat vader of moeder nie vergeet nie, maar met die invloed en insig wat hulle inmiddels verwerf het, jou met raad en daad tersyde wil staan.

En wat voel mens hom dankbaar as daar in moeilike tye vriende en bure is wat agter jou staan.

Hoe kan 'n ouderling of 'n predikant in dae van siekte, verdriet en eensaamheid 'n steun vir jou wees wat jou telkens maar weer bemoedig.

Julle, Bert en Wieke, hoop om voortaan vir mekaar ook 'n belangrike hulp en steun te wees. As man en vrou, wat beloof het om lewenslang mekaar by te staan.

Maar, mensehulp is, hoe mooi ook al, altyd beperk en op die ou end teleurstellend. 'n Medemens is soos 'n kierie waarop jy vandag met jou volle gewig kan steun, maar wat môre sommer kan breek.

Selfs die hulp van die allerbelangrikste mense, mense met baie invloed en mag en moontlikhede, kan jy nooit ten volle vertrou nie. Omdat daardie hulp dit nie ewig sal uithou nie.

"Vertrou nie op prinse, op die mensekind by wie geen heil is nie", waarsku Psalm 146. En dan word nie bedoel dat mense, selfs die mees aansienlikstes, onbetroubaar is nie. Die digter dink nog nie eens daaraan dat mense maklik hulle mooie beloftes ontrou kan word en jou op die beslissende oomblik in die steek laat, jou eenvoudig vergèèt nie.

Maar 'n medemens is nou maar eenmaal 'n verganklike wese. Hy is 'n sterweling wat die lewensasem uitblaas voor jy daarop bedag is. Soos 'n blom van die veld is hy. Vandag bloei hy, môre knak 'n windvlaag sy steel; hy 's weg- sy staanplek ken hom selfs nie meer. En al het diè mens ook groot planne gehad, baie beloftes aan jou gedoen, sy belangrike hulp aan jou toegesê- op sy sterfdag gaan sy gees uit; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.

Ons kan sommer aan 'n graf van iemand op wie ons volkome gesteun het, kom te staan, broeders en susters. Skielik val ons steun weg. Meer as een van u het dit al moet meemaak.

Ouers wat baie vir jou beteken het, kan jy nie jou lewe lank by jou hou nie. Op sy tyd sny God hulle lewensasem af.

'n Broer, of suster, 'n vriend of vriendin by wie jy jou hart kon uitpraat, is plotseling nie meer daar nie. Nooit meer. Die predikant of wykouderling wat jou met hulle reëlmatige besoek telkens 'n bietjie troos gebring het, kan jou voorgaan in die dood.

Is julle bewus daarvan, Bert en Wieke, dat die dood ook aan julle huwelik sommer, eerder as wat julle lief is, weer 'n einde kan maak? Julle beloof mekaar vandag trou. Lewenslange trou. En dit kan baie lank wees. Maar dit kan ook baie kort word. Want vroeg of laat bring die dood weer skeiding en bly een van julle as 'n wewenaar of 'n weduwee agter. Dan is daar van die een dag op die ander 'n graf en die liggaam van 'n sterk hulp keer terug na sy aarde toe. 'n Man aan wie jy jou volkome kon toevertrou, wat met sy sterk persoonlikheid vir jou altyd 'n gevoel van veiligheid en geborgenheid kon gee; 'n vrou wat jy met jou hele wese liefgehad het aangesien sy met haar wysheid en steun altyd naas en agter jou gestaan het- weg is diè mens. Daar het net 'n foto en 'n grafsteen oorgebly.

Hoe kan dan 'n gevoel van eensaamheid en hulpeloosheid ons oorval, broeders en susters! Jy moet weer alleen verder.

Alleen?

Psalm 146 sê vir ons: jy hoef baie beslis nie alleen verder nie.

Diè dag wat almal jou kondoleer met die verlies van daardie sterk hulp, kan hulle jou darem felisiteer as die God van Jakob as 'n nog veel sterker hulp vir jou oorgebly het. Met Hom kan jy verder. Ewig ver. Man en vrou beloof mekaar hulp totdat die dood hulle sal skei. Maar die HERE bly trou tot in ewigheid. Hy, die Skepper van die hemel en die aarde, van die see en alles wat daarin is, was alreeds daar voordat ons by ons moeder begin groei het. En Hy sal daar nog wees as ek ook self my laaste asem uitblaas. Hy was alreeds daar voordat die eerste mens begin asemhaal het, ja voordat hierdie aarde in die heelal om die son begin draai het. En Hy sal daar nog wees as hierdie aarde in die geweld van die laaste oordeel ondergaan om heeltemal vernuwe en gelouterd daaruit tevoorskyn te kom.

Dus baie geluk as jy diè God as jou hulp het!

Ja, Psalm 146 wys vir ons die beste hulp wat 'n mens maar vir homself kan wens, broeders en susters: die Skepper van hemel, see en aarde. Hoe magtig en oneindig sy hulp is blyk mos uit die hele wêreld rondom ons. Kyk om u heen: hoe ver u ook maar kan kyk- die HERE het dit alles gemaak, tot lewe geroep. Met een magswoord het Hy alles tevoorskyn geroep. Die totale aardoppervlakte met sy hoë berge en diep klowe, met sy uitgestrekte bosse en woeste, droë vlaktes- dit is God se maaksel. Die wye heelal waarvan nog geen mens die grense het kan vind nie, met sy tallose planete waarvan ons deur middel van ruimtetuig soos die Voyager sal hoe meer begin omtdek- die HERE se hand het dit gemaak en onderhou dit met die grootste noukeurigheid. Die diep en onafsienbare see, met sy bruisende branders, dag na dag, jaar na jaar, eeu na eeu aanstormend, die wondermooie krioelende lewe daarin- dis God se Skepping. Die bome en plante met hul veelkleurige blommeprag, die voëls en diere.... ja, wat is daar nie van Hom nie? Die hele wêreld rondom ons getuig van sy almag en majesteit.

Menseplanne verwaai in die dood.

God se skeppingsplan het die eeue getrotseer en ons kan dit nog daagliks aanskou. Ons maak self deel daarvan uit. Ons eie lewe is die bewys dat God nog elke dag sy skepping onderhou en regeer.

En diè Almagtige God en Skepper wil u hulp wees, broeders en susters. Hy het dit aan die begin van u lewe alreeds beloof. Hy wil u deur die lewe dra, as die lewenslas vir u amper ondraaglik voel. Ons kan ons aan sy hulp maar volkome toevertrou.

En dus, Bert, Wieke, julle mag vanaf vandag in alles mekaar tot hulp wees. En dit kan jul lewe baie ryk en gelukkig maak. Maar julle bly saam en elkeen afsonderlik allereers van die HERE se hulp afhanklik. Alleen met Hom kan julle saam, maar eendag ook weer alleen vorentoe. Ewig ver. Eers as julle Hom as julle hulp het kan ek regtig vir julle sê: baie geluk!

2. Dit mag wees dat iemand nou by homself dink: as God die allerbeste hulp is wat ons vir ons hier op aarde kan wens, hoekom is daar dan si baie verskrikking, verwoesting en verdriet in ons lewe? As die God van Jakob dan so almagtig is, hoekom voorkom Hy dan nie dat ons lewe in ellende ondergedompel word nie?

Siekte en dood breek die lewe af. Mense wat gelukkig getroud was, bly as 'n eensame weduwee of wewenaar agter. Stremmings ontneem aan die lewe sy glans. Kinderloosheid, werkloosheid, botsende karakters, kinders wat toenemend onverskillig raak ten aansien van die verbond met die HERE- dit alles gee spanning en verdriet. En dan praat ek nog nie eens van die ellende op grotere skaal wat deur natuurrampe, hongersnood, oorlog en rewolusie veroorsaak word nie.

God mag dan die Skepper wees, maar het Hy vandag nie heeltemal die beheer oor sy skepping verloor nie?

Die wat so vra vergeet dat nie die Skepper die skuld daarvan dra dat hierdie wêreld 'n gebroke wêreld geword het nie. Ons, sy skepsele, dra die skuld daarvan. Die mens het self die aarde tot 'n jammerdal gemaak toe hy hom brutaal van sy God en Skepper afgekeer en die waarheid vir die leuen verruil het. Toe het God as straf die hele skepping aan die vloek onderwerp. Ons voel vandag die gevolge van ons eie hoogmoed. Ons het nie anders as die ewige ellende van die hel verdien.

Maar God het darem nie die beheer oor sy skepping verloor of prysgegee nie, broeders en susters! God het Hom nie by die situasie neergelê nie. Ten spyte van ons skuld laat Hy dit nie bly soos wat dit nou is nie. Sy planne is anders. Hy het alreeds aan die wederopbouing van sy skepping begin. Die Skepper het Herskepper geword wat werk aan 'n plan om 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde te kry.

Hy, die God wat die hemel en die aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is, is ook die God -sê Psalm 146- "wat aan die verdruktes reg doen, wat die hongeriges brood gee, wat die gevangenes losmaak, die oë van die blindes oopmaak. Hy rig die wat geboë is op, Hy behoed die vreemdelinge, die wat eensaam is, Hy rig wees en weduwee weer op....... "

En in daardie klanke kom vir ons vandag sommer God se Eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus na ons toe, wat al hierdie herskeppingswerk met die daad gedoen het. God het Hom in die wêreld gestuur as die beste bewys dat dit Hom erns is met sy wil om alle ellende weer uit die wêreld te verwyder. Deur sy Seun het God alreeds gewys hoedat die lewe sy oorspronklike glans sal terugkry.

En sindsdien ontvang ons in die gemeente van die Here Jesus Christus alreeds 'n voorproef op daardie nuwe, herskape lewe. In die kerk, die huis van die God van Jakob, gee die HERE in die gemeenskap van die heiliges wat deur diakens aanhoudend gestimuleer word, regtig aan hongeriges brood, daar rig Hy die wat onder die las van die lewe geboë is, op, daar versorg en vertroos Hy wees, weduwee en wewenaar, daar ontvang vreemdelinge en eensames 'n tuiste. Daar hou Hy deur die aanhoudende verkondiging van sy Woord en die bediening van die sakramente die hoop op 'n nuwe aarde in ons lewendig en leer Hy ons om uit te sien na die dag waarop daar geen dood en rou, geen moeite en verdriet meer sal wees nie, maar waarop alle trane van die oë afgevee sal word.

In die kerk maak die HERE sy hulp as Herskepper konkreet sigbaar en voelbaar.

Hy neem daar allereers die oorsaak van al ons moeite en verdriet weg, naamlik die sonde, ons hoogmoed en eiewysheid. Want daarmee begin alle herskepping, daarmee begin die verlossing van ons lewe, broeders en susters: met die afbraak van ons goddeloosheid. Daarvoor het God allereers sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur, om ons sondes te versoen en om die lewendmakende Heilige Gees vir ons te verdien. Die eerste hulp wat ons almal benodig, is die vergewing van ons sondes. En eers op diè fondament ontvang ons al hoe meer die genesing van ons ellende. Daar is vir sondaars vir ewig geen plek meer op die nuwe aarde nie. Want die sonde het destyds die skepping verwoes.

Daarom is dit ook herskeppingswerk as die HERE, soos in Psalm 146 gesing word (vs. 9) "die weg van die goddeloses krom maak", of, m. a. w.: heeltemal laat vasloop en tot 'n doodloopstraat maak.

Geen goddelose kan God se herskeppingswerk keer nie. Alles wòrd nuut, die hemel en die aarde.

En omdat dus die Skepper ook die Herskepper van ons lewe geword het, sê ek nog des te meer, broeders en susters, en julle, bruidspaar: soek allereers julle hulp by die HERE, die God van Jakob. Alleen met Hom kan ons altyd vorentoe en word ons lewe nooit 'n doodloopstraat nie. Alleen Hy kan in die ergste verdriet en eensaamheid uithelp. Alleen Hy is sterker as die dood en magtiger as die duiwel.

Baie geluk as jy Hom as jou hulp het!

3. En nou is daar nog een ding in ons teksverse waarop ek wil wys. Ons praat, in navolging van Psalm 146, maar steeds van "die God van Jakob". Maar dis feitlik 'n snaakse aanduiding van God.

Hoekom word Hy hier so genoem?

Hoekom word die naam van 'n mens so opvallend aan die Naam van die HERE verbind?

En dan ook nog die naam "Jakob". Die naam wat deur die HERE self verander is in "Israel". Hoekom word die HERE nie "die God van Israel" genoem nie?

Die naam "Jakob" neem ons mee terug tot die heel eerste begin van God se volk, broeders en susters. Toe "Israel" nog "Jakob" was en die volk van God nog moes ontstaan.

Die naam "Jakob" wil ons aan God se genadige verkiesing herinner!

In Jakob se lewe het die HERE ons mos vir eens en vir altyd geleer dat geen mens règ op sy hulp het nie. Maar dat Hy sy hulp gee aan wie Hy wil en wanner Hy wil. God het Jakob liefgehad en Esau gehaat. Omdat Jakob beter, vromer, aantrekliker of wat ook al was? Nee, glad nie. God het Jakob al voor sy geboorte bo Esau verkies. In sy vrye welbehae. En dat Jakob voortaan op God se hulp mog reken, dat "Jakob" tot "Israel" mog uitgroei het hy alleen daaraan te danke gehad.

Die naam "Jakob" herinner ons boonop aan die tyd toe daar nog maar net beloftes van God was, woorde, waarvan die werklikheid nog maar afgewag moes word. 12 Seuns, 12 stamme, 'n volk ontelbaar soos die sterre in menigte en soos die sand aan die strand, die verlossing uit hierdie volk vir al die volke van die aarde- dit alles was nog onsigbaar en daar was baie geloof, hoop, nodig om jou aan die God van Jakob uit te lewer.

Maar as God verkies en sy hulp toesê maak Hy sy woorde ook waar! Dan wòrd sy beloftes vervul. Ook dit sê die naam "Jakob" vir ons. God het in Jakob se lewe bewys dat ons met Hom nie beskaamd uitkom nie.

Nou maar goed dan, broeders en susters, die God van Jakob wil ook u God wees. Hy het in sy ontfermende verkiesing ook na u toe gekom -U doop is die bewys daarvan- om ook u hulp te wees. Om sy beloftes ook in u lewe werklikheid te maak.

Waarom?

Uit genade alleen!

Sal ons mekaar dan nie verwonderd gelukwens met die mooiste gelukwensing wat mense vir mekaar kan gee nie? Baie geluk dat jy die God van Jakob as jou hulp het!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)