Erken dat die Here God is - u lewe lang

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 100
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 100

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 95: 1, 4
Gebed
L. Psalm 100
T. Psalm 100: 3
Prediking
Ps. 28: 8
Geloofsbelydenis
Ps. 79: 9
Huweliksformulier
Ps. 116: 7
Gebed
Ps. 116: 10
Kollekte
Ps. 100: 1-4

Broeders en susters,

Die Psalm wat ons so pas gelees het, is heel passend op 'n dag soos vandag.

Blykens die opskrif is dit 'n Psalm "by die lofoffer".

Hierdie Psalm het van ouds 'n uitnodiging gevorm om voor die HERE, die God van die ganse aarde, te verskyn in sy heiligdom: "Kom voor sy aangesig met gejubel. Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang". Elkeen moet kom om die HERE te loof en te dank.

God se kinders het mekaar hierdie Psalm toegesing as hulle tempel toe gekom het, om vir die HERE hulle dank te bring oor byvoorbeeld die oorwinning in 'n oorlog, herstel na 'n ernstige siekte, uitredding uit 'n groot gevaar.

En dan het hulle dit nie by woorde alleen gelaat nie. Dan het hulle hul dank onderstreep met 'n offer: die lofoffer.

Psalm 100 kon óók op 'n troudag gesing word. Want ons lees by die profeet Jeremia, in hoofstuk 33: 11, dat die HERE in die tyd van Israel se ballingskap, na die verwoesting van Jerusalem, aankondig: "Daar sal in Jerusalem weer gehoor word die stem van vreugde en van vrolikheid, die stem van bruidegom en bruid (op 'n troudag dus!), die stem van die wat sê (en dan word hierdie Psalm 100 aangehaal): 'Loof die HERE van die leërskare, want die HERE is goed, want sy goedertierenheid is in ewigheid'- van die wat 'n lofoffer bring in die huis van die HERE".

Julle, bruidegom en bruid, het vanmiddag ook voor God se aangesig verskyn om saam met sy gemeente vir Hom in sy huis 'n lofoffer te bring.

Ons lofoffer, in die Nuwe Verbond, is geen diereoffer meer nie, maar is vandag "die vrug van ons lippe wat sy Naam bely", sê die brief aan die Hebreërs (13: 15).

Dit is tog wat u hier in die kerk wil doen: meteens op u eerste huweliksdag God se Naam bely, u huwelik in die Naam van die HERE begin.

En u het, in die lyn van Psalm 100, ook u familie, vriende, broeders en susters opgeroep om saam met u kerk toe te kom: "Kom voor sy aangesig met gejubel, gaan sy poorte in met lof.... ".

En so is ons nou in 'n feestlike erediens by mekaar om die HERE te prys.

Maar ons loflied op die HERE mag geen moment-opname bly nie. Dit mag nie tot net vandag beperk bly nie. Die HERE het al dae reg op ons dank. Ook al ons huweliksdae.

Want die sentrale vers in Psalm 100 is mos vers 3: "Erken dat die HERE God is. Hy het ons gemaak, ons is syne".

En geld dit nie al dae nie? Die God wat ons op hoogtydae eer, het reg op ons erkenning al dae.

Nou dat ons daarom in 'n feestlike erediens byeen is om saam die HERE te loof met die lofoffer van ons lippe, wil ons dit veral aan die bruidegom en bruid van vandag en aan mekaar voorhou: Erken dat die HERE God is- u lewe lang!

Dit is dan ook die sentrale boodskap van hierdie preek, as ek dit kort saamvat:

ERKEN DAT DIE HERE GOD IS - U LEWE LANG

EN DAN SAL EK VIR U WYS HOE DIÉ ERKENNING

  1. VERPLIGTINGS SKEP
  2. VERTROOSTING SKENK.

1. Vers 3 van Psalm 100 is 'n pragtige evangelisasieteks, broeders en susters "Erken dat die HERE God is. Hy het ons gemaak, ons is syne".

Dit is 'n woord wat ons met klem vir die wêreld om ons heen moet voorhou. As die HERE toenemend uit die publieke lewe weggedring word, as die eiewyse mens homself al hoe belangriker begin vind, as hy meen dat hy sélf, asof hy God is, oor lewe en dood kan en mag beskik- kortom: as die mens homself meester oor sy eie moontlikhede beskou en veg vir die regte van die mens, dan het dit meer as ooit noodsaaklik geword dat die kerk vierkant daarteenin die oproep laat klink: Erken dat die HERE God is- jy hoogmoedige mens! Hy het ons gemaak en nie ons self nie. Ons is syne sodat daar geen sprake kan wees van selfbeskikkingsreg nie.

Dien die HERE, o ganse aarde!

Die HERE is nie net die God van die kerk nie. Hy is die God van die ganse aarde. Hy het ook reg op erkenning op die ganse aarde.

Psalm 100 is darem nie net 'n woord vir die wêreld nie, broeders en susters. En vers 3 is nie net 'n evangelisasieteks nie.

Psalm 100 staan allereers in die Bybel sodat ons in die kerk dit telkens weer vir mekáár sou voorhou: Erken dat die HERE God is!

Want die God wat reg het op die erkenning van die ganse aarde, wil tog allereers en allermees deur sy eie volk erken word.

En daaraan ontbreek dit nog maar al te dikwels.

Erken dat die HERE God is- dit is naamlik veel meer as: weet dat die HERE God is, dat Hy bestaan, dat sy troon in die hemel staan en dat Hy die aarde regeer.

Ons weet van God uit die Bybel. Maar 'n mens kan weet dat God de HERE bestaan, aanvaar dat dit wat in die Bybel staan, waar is- en tog nie rêrig erken dat die HERE God is nie.

Die duiwels glo ook dat God bestaan, skryf Jakobus in sy brief, en hulle sidder.

Maar dit is nog nie dieselfde as God erken nie.

Erken- dit is: respekteer, hoogag, liefhê.

Die Bybel gebruik in Psalm 100 in die grondtaal 'n woord wat amper die betekenis van "liefhê" het. Dis die woord wat ook gebruik word vir die liefdesgemeenskap tussen man en vrou in die huwelik: die totale oorgawe van die een aan die ander. In ons Bybelvertaling word dan met beken vertaal.

So wil die HERE deur ons erken word. Hy wil dat ons hele hart na Hom uitgaan, dat al ons sinne tot Hom aangetrek voel, dat ons bereid is tot die volledige oorgawe aan Hom. En dat ons daarom ook in heel ons doen en late met Hom rekening hou.

Sal dit nie nodig wees dat ons nie net vir die wêreld nie, maar ook vir mekaar reëlmatig opwek om so die HERE te erken nie?

In so'n hartlike erkenning van die HERE het God se volk mos die eeue deur maar al te dikwels te kort geskiet.

Moet maar die Ou Testament lees: dit is vol van die weerkerende klag van die HERE dat sy volk Hom nie voluit as hulle God erken het nie. Israel het nie die tempeldeure gesluit nie, nie die altare afgebreek nie. Oënskynlik het dit baie goed gegaan met die diens vir die HERE. Israel het ook nie vergeet dat die HERE God is nie. Maar die HERE was vir Israel nie meer die een en die al nie. Die hart van die volk het terselfdertyd na so veel anders uitgegaan: ander gode, ander skatte. Die HERE het nie meer die allesbeheersende plek by Israel ingeneem nie. Alhoewel hulle Hom as hul God geken het, het hulle Hom nie as sodanig ook érken nie.

Daardie gevaar bedreig ook ons, broeders en susters. Ook by ons bestaan die gevaar dan ons ken van die HERE 'n bloot teoretiese saak bly, sonder dat daarvan baie in ons lewe merkbaar word.

Ook ons kan die HERE ons God noem, reëlmatig kerk toe kom, bid en psalmsing, en tog onderwyl ons eie gang gaan en nie rêrig in alles met die HERE rekening hou nie.

En daarom is die oproep van Psalm 100: 3 allereers aan die adres van onsself nie oorbodig nie.

Want die HERE wil so deur ons erken word dat ons nóóit en in níks meer ons eie gang gaan nie. Hom erken kan nooit 'n vryblywende saak wees nie. Hom erken is: besef: "Hy het ons gemaak; ons is syne". Ons het nie self seggenskap oor ons lewe nie- die HERE is ons Skepper, Hy het in alles die seggenskap. Ons is nie self baas nie- Hy is ons Vader, Hy is baas.

Die HERE erken beteken vandag, in die Nuwe Verbond, dat ons met Sondag 1 H.K. sê: "Ek is met liggaam en siel, in lewe en sterwe, nie die eiendom van myself nie, maar van my getroue Saligmaker Jesus Christus. Want Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos".

Erken dat die HERE God is, skep verpligtings.

As Hy ons gemaak het, as Hy ons van ons sondes vrygekoop het, as Hy ons tot sy eiendom gemaak het sodat ons nou met alles en in alles aan Hom behoort, nou goed, dan moet dit ook in alle dinge van elke dag blyk.

Ons sê dit spesiaal vir julle, Harm en Heleen.

Julle het ons almal, soos ons hier vanmiddag sit, opgewek om met julle op jul troudag voor die aangesig van die HERE te verskyn, om saam aan Hom die dank te bring en om so te erken dat die HERE God is.

Maar nou kom ook tot julle sélf allereers die oproep van Psalm 100: 3: "Erken dat die HERE God is- jul lewe lank. "

Laat dit nou ook in julle hele verdere huwelik uitkom.

Julle mag va vandag volledig aan mekaar toebehoort. Maar julle sal altyd moet bly bedink dat julle elkeen afsonderlik en ook saam as egpaar allereers aan die HERE toebehoort. Hy het julle gemaak, Hy het julle verlos, Hy het julle gekoop- julle is syne.

Julle behoort aan Hom en só mag julle vervolgens ook aan mekaar behoort.

Hoe gou kan mans en vrouens in hulle huwelik kortsigtig en selfgesenteerd raak. Dan gaan hulle hul man, of hul vrou, sodanig as 'n privaatbesit beskou dat die ander nog maar net vir húlle mag lewe. Dan leef hulle as man en vrou nog maar net vir mekaar en vir hulle gesinnetjie.

Maar 'n man en vrou wat erken dat hulle allereers die HERE God toebehoort, wil in hulle huwelik nie net hulleself en mekaar soek nie. Hulle wil met hulle huwelik saam die HERE dien. En sy volk, sy kerk. Hulle weet by voorbaat dat hulle daarmee baie besig kan raak. So besig, dat daar nie altyd eweveel tyd vir mekaar oorbly nie. Die man kan geroep word om as ampsdraer die HERE te dien of om in bestuursfunksies aan die opbou van God se volk diensbaar te wees. Hy mag daarvoor nie wegskram met die verskoning dan hy ook wel 'n keer by sy vrou wil wees nie.

En ook sy vrou mag nie kla dat haar man so dikwels op pad is vir die kerk nie. Want die erkenning dat die HERE ons God is, en dat ons aan Hom behoort, skep nou maar eenmaal hierdie tipe van verpligtings.

Ook die vrou kan geroep word om met haar gawes in allerlei opsigte aan die kerk te bou. En ook dan moet daar by haarself en by haar man die bereidheid wees om haar te gee aan die HERE in sy diens.

Erken dat ons aan die HERE behoort, dat Hy ons gemaak het en dat ons dus syne is, beteken vervolgens ook, bruidspaar, broeders en susters, dat die een die ander hooghou as die eiendom van die HERE waarvoor Christus met sy kosbare bloed betaal het. Man en vrou moet suinig wees op mekaar, omdat hulle nie die besit van mekaar is nie, maar van die HERE. Sowel wat u liggaam as wat u siel aanbetref. Jy kan met die ander maar nie maak soos jy wil nie! Jy kan nie jou gedrag goedpraat met te sê: Maar dis tog seker my vrou! nie.

Nee, jy moet tot in die kleinste besonderhede teenoor die HERE verantwoord hoe of jy met die ander verkeer. Julle is altwee van Hom. En Hy mag daarom rekenskap vra van enige woord wat julle aan die adres van die ander spreek, van alles wat julle die ander aandoen, tot in die slaapkamer toe.

Erken dat die HERE God is en behandel daarom mekaar vol respek. Laat die wetenskap dat die HERE ons gemaak het julle ook geduldig maak in die eienaardighede en minder aantreklike karaktereienskappe by die ander. As die HERE ons al ons sondes en swakhede vergeef, moet ons dan ook nie mekaar vergewe nie?

Erken dat ons aan die HERE behoort het ook gevolge vir ons gesinsvorming. Die HERE het ons gemaak en ons behoort aan Hom, ook met die moontlikheid, altans ons hoop so vir julle, Harm en Heleen, om kinders te verwek en te ontvang. Wie nie die HERE as God erken nie, néém, of maak een of twee kinders- soos dit baie selfversekerd gesê word- en wil dan nie meer hê nie. Maar wie homself met siel èn liggaam die eiendom van die HERE weet, stel homself ook met sy liggaam beskikbaar vir die HERE, om van Hom kinders te ontvang tot uitbreiding van die menslike geslag en tot opbouing van sy kerk.

En as die HERE kinders gee, maak ons hulle nie groot om sélf daarmee te kan spog nie, maar so dat die HERE met hulle kan spog. Ons voed hulle op in die kennis en die diens van die HERE, tot sy eer.

Want ook die kinders wat God ons gee, bly syne. Hy het ook hulle gemaak. Ook hulle behoort aan Hom. En dus erken ons ook die HERe in die keuse van die skoolonderwys vir ons kinders, alreeds vanaf hul kleuterjare. Dat beloof ons mos dadelik by hulle doop?

Ek sou nog op meer sake kan wys, broeders en susters, maar u verstaan nou wel hoedat die erkenning dat die HERE God is, orals in ons lewe, ons huwelikslewe, ons gesinslewe gestalte moet kry.

2. Dit skep heelwat verpligtings.

Maar as ons dié verpligtings raaksien en aanvaar, skenk dit darem ook terselfdertyd 'n ryk vertroosting.

Die HERE vra ongetwyfeld baie van sy volk: die liefde van ons hele hart en lewe. Maar ons kry daarvoor ook baie terug!

Sondag 1 H.K. wat ek so pas al aangehaal het, wys daarop: noudat ek deur Christus gekoop en tot sy eiendom gemaak is, nou "bewaar Hy my ook op so'n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Ja, alles moet nou tot my saligheid dien".

Maar vers 3 van Psalm 100 wys ook daarop. "Ons is syne", sing die Psalm, "sy volk". En in daardie twee woordjies "sy volk" lê opgesluit: die HERE is suinig op ons! Sy volk is ons, en wee dus die mens wat wat ons durf aanraak en kwaad aandoen!

En dit word nog veel sprekender as die Psalm direk daaraan toevoeg: "en die skape van sy weide". Dan duik sommer die beeld op wat in die Bybel si dikwels op die HERE toegepas word: die beeld van die herder wat lééf vir sy skape. Die man wat sy diere met die inset van sy eie lewe verdedig teen roofdiere, wat met sy kudde langs steil rotse, diep raveine en skerp dorings meeneem het om goeie weivelde en drinkplekke te vind. Wat elk van sy skape op hulle name ken het, besondere aandag aan die ou diere, en die lammerooie gee, en wat die dartel lammetjies fyn dophou. So wil die HERE vir sy volk wees.

So mag ons onself aan Hom toevertrou.

Dit beteken nie dat daar vir ons 'n kalme, gelykmatige en sorgelose lewentjie wag nie. Sonder probleme en sorge.

Nee, as die Bybel in 'n ander Psalm, Psalm 23, die HERE besing as die goeie Herder, word reëel rekening gehou daarmee dat ons as skape ook deur dale van doodskaduwee moet gaan. So sal nou-nou die huweliksformulier ook eerlik sê, broeders en susters: "Vanweë die sonde kom daar gewoonlik allerhande teëspoed en kruis oor die getroudes... ".

Daar kan 'n ernstige siekte kom, 'n ongeluk, dalk moet u een van u kinders weer aan die HERE teruggee, spanning en sorg kan 'n skaduwee oor die lewe lê.

Ons kan in 'n situasie van kerkvervolging tereg kom, of van oorlog, of 'n kommunistiese diktatuur sodat u uself bekommerd afvra wat daar met u kinders gaan gebeur.

En die dag kom waarop een van julle, bruidspaar, as weduwee of as wewenaar weer alleen verder moet.

Daar kan in julle huwelik momente kom dat dit lyk asof die weg doodloop en dat alles om u heen donker word.

Maar moet ook dan, juis dan erken dat die HERE God is en dat ons syne is: "sy volk en die skape van sy weide". Glo dan, soos die digter van Psalm 23: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my, u herdersstok en u herdersstaf dié vertroos my".

Volg dan gehoorsaam die Herder langs daardie moeilike pad wat eindeloos kan lyk- aangesien u weet: Hy ken die pad! Hy bring my, hoe dan ook, daaruit.

As u erken: my Herder is die HERE God, Hy is ook die Herder van ons kinders; as u ook u kinders van kleins af leer om die groot Herder te volg - dan mag u uself veilig weet en kan u getroos lewe, wat ook al oor u kom. Hy, die Herder, sal sy volk wel wei, en hulle, langs hoe moeilike paaie ook al, op die ou end bring by die lewende waterfonteine waar Hy alle trane van die oë afvee.

En as ons dit weet, broeders en susters, dan wil ons tog ook niks liewer as om die HERE te erken as ons God, ons lewe lank, en aan Hom te behoort nie?

Dan wil ons tog dat alle mense op aarde met ons saamstem in die loflied op hierdie God:

"Juig voor die HERE, o ganse aarde,
dien die HERE met blydskap;
kom voor sy aangesig met gejubel.
Loof Hom, prys sy Naam!
Want die HERE is goed,
sy goedertierenheid is tot in ewigheid
en sy trou van geslag tot geslag!"

AMEN.

(9 Desember 1989, bevestiging van die huwelik van Harm en Heleen Snijder)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)