God dra ons deur die lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 68
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 68: 20

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 139: 2, 6, 8
Gebed
L. Psalm 68 & Efese 4: 7-12
Prediking
Ps. 68: 9
Geloofsbelydenis
Ps. 68: 15
Huweliksformulier
Ps. 91: 1 voor die gebed
Ps. 91: 6 na die gebed
Kollekte
Ps. 90: 1

Broeders en susters,

Daar is 'n bekende gedig -ek het dit sommer in drie tale raakgeloop- waarin iemand vertel van 'n droom.

Hy het in sy droom aan die strand van die see geloop, by lae ty. Maar hy was nie alleen nie, want die Heer was aan sy sy.

Saam het hulle deur die lewe gegaan, twee rye voetspore het agter hulle in die sand gestaan.

Wanneer daardie man na 'n hele ruk stilstaan en agterom kyk, sien hy sy hele lewensloop wat agter hom lê. Tye van geluk en blydskap, maar ook tye van hartseer en swaarkry.

Maar dan kom hy agter dat daar op sy lewensbaan juis in die moeilikste hartseer tye net een ry spore staan.

Dit pla hom en hy vra vir die Here: "U het dan belowe om my nooit te begewe en my nooit te verlaat nie. Ek verstaan dit nie: ek het u partymaal baie nodig gehad. Hoekom staan dáár dan juis net een ry spore op my pad? "

Die antwoord van die HERE is beskamend: "Moet jy dit regtig vir My vra? Die swaarste ruk- toe het Ek jou gedra!"

In dié gedig is dit 'n droom. Maar volgens God se Woord is dit die werklikheid. God dra ons regtig deur die lewe. Hy dra ons nie eens net die swaarste gedeeltes nie. Nee, van dag tot dag en van oomblik tot oomblik dat Hy ons.

Moet maar kyk: die digter van Psalm 68 sing daarvan in ons teksvers vir dié diens.

Ek mag vanmiddag vir julle, Jan en Anja, maar ook vir u almal wat met hulle saamgekom het om 'n seën oor hul huwelik van die HERE te vra, die hande van die HERE aanwys, waardeur Hy ons deur die lewe dra.

My boodskap is:

GOD DRA ONS DEUR DIE LEWE

  1. DIE GESKIEDENIS VAN SY VOLK BEWYS DIT
  2. DIE GEES VAN SY SEUN WAARBORG DIT

1. Psalm 68 is 'n psalm vol vrolike vertroue, broeders en susters.

Die sanger van hierdie Psalm staan midde-in die werklikheid van hierdie lewe op aarde. Hy ken die ellende van die lewe: hy weet daar 's vyande wat God se volk bedreig, die dood maak sy slagoffers, wese en weduwees bly eensaam agter..

Nogtans sing hy 'n uitbundige loflied. En hy roep ons op om saam te sing.

Want die sanger van hierdie Psalm ken die HERE! Hy ken God as 'n God van verlossinge en Hy het geleer dat die Here HERE uitkomste het selfs teen die dood.

So het die HERE Homself mos léér ken. In die geskiedenis waarin Hy sy volk saamgeneem het.

Die Psalm gee dan ook 'n hele oorsig van die pad wat God met sy volk saamgegaan het, vanaf die uittog uit Egipte tot by die Sinai. En vanaf die Sinai na Sion toe. Dis die verse 8 e. v.

Die pad het aanvanklik deur 'n dorre wildernis gevoer: die woestyn. Maar God het die hemele laat drup. Die manna het uit die hemel gereën, daar het water uit die rotse gestroom.

Toe mog hulle in die beloofde land Kanaän ingaan. En alhoewel die volkere van daardie land veel sterker as God se volk was, het die Almagtige hulle magtige konings verstrooi, sodat die vrouens die buit kon verdeel.

En op die ou end het die HERE triomfantelik sy intrek geneem in Jerusalem op Sion en hierdie berg as sy residensie gekies om daar voortaan onder sy volk te woon en sy gawes seënend uit te deel.

Mag mens dan nie vol vertroue vorentoe kyk nie? Hierdie Almagtige God sal dan die pad vorentoe altyd weer oopmaak. Daar is geen verdriet of vyand te sterk nie.

Al noem die digter dit in Psalm 68 ook nie met soveel woorde nie, hy het by sy opsomming van die geskiedenis waarin die HERE met sy volk saamgegaan het, spesiaal die Ark van die verbond voor oë gehad. Die ark, daardie goue kis met die versoendeksel en die twee gerubs daarbo, was mos as 't ware God se draagstoel. Dit was vir almal die sigbare teken dat God met sy volk saamgegaan het. Waar die ark was, daar was God self by sy volk.

Dat die digter van Psalm 68 aan die verbondsark gedink het, blyk al dadelik uit die eerste vers. Die woorde: "God staan op, sy vyande raak vertrooid, sy haters vlug voor sy aangesig weg", herinner regstreeks aan die woorde wat Moses altyd gesê het as die ark uit Israel se laer uit weggetrek het. Ons lees in Num. 10: 35: "En as die ark wegtrek, het Moses gesê: Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug. "

Daardie ark was vir volk en vyand die sigbare, die tasbare bewys van God se magtige teenwoordigheid.

Die ark het voorop gegaan tydens die hele woestynreis, veertig jaar lank. Die ark het die pad deur die woeste Jordaanwater gebaan, sodat God se volk die beloofde land kon binnegaan. Die ark het die val van Jerigo bewerk. En ons lees nog is die dae van koning Saul dat die ark saamgeneem is in die gevegte teen die Filistyne. In die ark het die HERE op die ou end ook sy intrek op die Sionsberg geneem.

U verstaan: daardie ark was 'n sigbare bemoediging vir God se volk, broeders en susters. Hulle mog die HERE as 't ware altyd met hulle saamdra.

Maar nou is dit so pragtig in die belydenis van ons teksvers uit Psalm 68: die sanger besef baie mooi dat Israel nie telkens die HERE saamgedra het nie, maar dat die HERE al die eeue self sy volk gedra het. Die goue ark wat deur die priesters altyd saamgedra moes word, was maar net die teken dat Gód altyd sy vólk wou dra.

So het die HERE dit self alreeds aan sy volk duidelik gemaak in die lied wat Moses vir die Israeliete moes leer: Deuteronomium 32. Tydens die hele woestyntyd het die HERE sy volk gedra soos 'n arend sy kleintjies uit die nes uitgooi, oor hul sweef en hul dophou, sy vlerke uitsprei, hulle opneem en dra op sy vleuels.

Moses het in Deut. 33 daaraan nogmaals herinner in sy seëning van Israel se twaalf stamme, toe hy gesê het (vs. 27): "Onder julle is ewige arms".

So mag God se volk die HERE ken. So mag ook ons die loflied op die HERE die digter van Psalm 68 saamsing. "Geloofd sy die HERE!". Ons dra nie God nie. Hy dra ons.

Van dag tot dag.

Ons gesamentlik as sy volk. Maar ook elkeen van ons afsonderlik.

Die hele kerkgeskiedenis tot op vandag bewys dit. Maar ook ons eie lewensgeskiedenis is die ene bewys daarvan.

Hy het ons in die baarmoeder geweef. Van moeder se skoot af was daar Vader se hande. Toe my moeder met my in haar liggaam omgestap het, het Vader se hande my alreeds gedra.

En toe by die bevalling die hande van die dokter my opgevang het, het God se sterk hande daaronder gelê.

Van toe af het God se hande ons deur die lewe gedra, dag na dag.

Hy dra ons kinders as hulle skool toe gaan, op hul fietsie dwarsdeur die drukke verkeer op die pad. Hy hou hulle aan sy hand en op sy arm as hulle speel.

Hy is by die seuns en dogters wat na die volwassenheid groei, wanneer hulle in dié periode beland waarin alles in die lewe skielik so onseker maak, waarin hulle geen vaste grond onder hul voete meer voel nie. Dan is die HERE daar en Hy slaan sy sterk arms ekstra styf om hulle heen.

God dra sy kinders as hulle in hul lewe verantwoordelikhede kry om te dra: in 'n huwelik en 'n gesin, in die maatskappy, in die kerk. Hoe kan daardie verantwoordelikhede swaar op jou druk. As jou kinders groot word en probleme gee; as jy 'n hele besigheid op jou skouers dra, as jy as ampsdraer die sorge van die gemeente moet saamdra.

Maar dan laat die HERE ons nie aan onsself, nie aan ons wysheid, vasberadenheid, saaklikheid of wat ook al oor nie. Hy dra ons van dag tot dag met al daardie verantwoordelikhede deur die lewe.

En sy hande bly daar tot in die ouderdom.

Hy verander nie. Al die jare maak Hom nie ouer nie. Hy is nog ewe sterk soos altyd.

Mense verander. Mense kan nie altyd dra nie. Mense kan jou laat val. Soms letterlik, omdat ons te swaar en hulle te swak is. Maar dikwels ook figuurlik: omdat ons op hulle nie kan staatmaak nie.

Maar God laat nooit val nie! Ook nie as die lewe vir ons 'n swaar las geword het nie.

Ook 'n swaar las, ja, die swaarste las in u lewe wil Hy saamdra.

En daar kom oomblikke in elkeen se lewe waarin ons baie, baie swaarkry. Ons weet egter dat die HERE self dit is wat in so'n geval daardie las ons oplê. Ook sorge en siekte, 'n invaliditeit sodat mens 'n rolstoel benodig, verdriet, gemis, eensaamheid kom uit sy hande. Dit word ons nie deur mense aangedoen nie.

Maar ons kan daaronder wel so swaarkry dat dit partykeer haas ondraaglik voel.

Hoeveel kinders van die HERE het in sulke omstandighede egter ook ervaar dat dieselfde God wat daardie sware las bo op ons lê, terselfdertyd onder ons sy greep verstewig om ons nog vaster beet te hou.

As nie hierdie arms daar was nie, ja, dan was die las ondraaglik. Dan sou ons daaronder beswyk. Maar nou kan ons, hoe moeilik dit ook kan wees, verder. Want God dra ons verder deur die lewe solank Hy dit nodig vind vir ons beswil.

Hy sal ons dra tot die dood toe. Of nee, deur die dood héén bly Hy ons dra en vashou. Sy arms laat ons nog nie los as alle mense om ons heen ons wel moet loslaat omdat die lewe aan hulle ontglip. Hulle kan dan nog een keer ons liggaam dra, leweloos wegdra na 'n graf toe. Maar onderwyl het die HERE ons al in sy arms in die ewige lewe ingedra.

Ons is by die HERE dus in veilige hande. Ons beveel julle graag vandag in God se hande aan, Jan en Anja. Julle het self met 'n spesiale agtergrond hierdie teks gekies as jul trouteks. Julle wil graag jul lewe, ook jul huwelikslewe lank die lied vol vrolike vertroue met die digter van Psalm 68 saamsing. Gee julle dan ook aan God se veilige hande oor, juis as julle swaarkry. Maar moet julle nie minder nie van sy hande bewus bly as dit in jul lewe baie voorspoedig gaan en julle die gevoel het asof julle self die hele wêreld sou kon dra. Bly dit besef: ons kan van onsself geen stap vorentoe doen nie. As die HERE ons nie van dan tot dag dra nie, val ons te pletter.

2. Die HERE gaan vandag nie meer met sy volk in 'n goue kis saam nie. Die ark van die verbond bestaan nie meer nie. Daardie sigbare waarborg van God se draende aanwesigheid is weg.

Nogtans is ons nie armer as Israel nie.

Ons is juis ryker. God het nog veel meer naby ons gekom as in die ark by Israel wat darem meestentyds onsigbaar in die heiligdom agter die voorhangsel moes bly.

Dit word vir ons duidelik as ons Efesiërs 4 lees. Daar haal die apostel Paulus 'n gedeelte van Psalm 68 aan om te wys hoedat God vandag met óns saamgaan.

Paulus wys met name op die vers voor ons teks: vs. 19. In dié vers herinner die Psalmdigter daaraan hoedat die HERE op die ou end in Jerusalem in die tyd van koning Dawid sy woon- en rusplek gevind het.

Maar hy herinner ook met 'n enkel woord daaraan hoedat dié feestelike intog van God se verbondsark in Jerusalem deur 'n skynbaar smadelike aftog voorafgegaan is. U ken mos daardie geskiedenis: In die tyd waarin die hoëpriester Eli se seuns priester in Silo was, het God se volk hom nie meer deur die HERE laat dra nie. Hulle het op hul eie gang aangegaan en die God van die verbond eenkant gelaat.

Maar toe daar 'n oorlog met die Filistyne uitgebreek het, en Israel in die geveg die nederlaag gely het, het hulle skielik die verbondsark uit Silo gaan haal. Hulle het gereken: as ons die ark van die HERE maar saamdra in die stryd, sal ons die oorlog kan wen.

Maar dit het nie gewerk nie. Want as jy jou nie regtig deur die HERE laat dra nie, help dit ook nie om sy ark saam te dra nie.

Niemand kan Hom in daardie gou kis opsluit en na sy eie beliewe oor Hom beskik nie.

Die Filistyne het die ark buitgemaak en triomfantelik saamgeneem na die tempel van hulle afgod Dagon. Hulle het die God van Israel gevange geneem!

Maar dan moet ook die Filistyne agterkom dat jy die God van Israel nie kan opsluit nie. Die HERE het sy tronkbewaarders na een dag alreeds sodanig in sy benouende greep, dat hulle doodsbang word. Hul eie afgod Dagon val vooroor voor die troon van die HERE, nog 'n dag later breek sy kop en sy hande af. En die land van die Filistyne word geteister deur 'n muiseplaag en 'n swereplaag.

Daar staan in Psalm 68: 19 dat die HERE gevangenes weggevoer het. Dis beter om te vertaal, u vind dit by verskeie verklaarders, dat die HERE die gevangenis gevange geneem het! So was dit mos feitlik in die land van die Filistyne.

Die end van die saak was dan ook dat die ark van God belade met geskenke -goue voorwerpe- uit die tronk vrygelaat word om weer by sy volk te woon. God het vanweë die sondes van sy volk Homself tronk toe laat lei. Maar Hy het ryker as tevore daaruit teruggekeer. Die Filistyne wou hulle tempel versier met die goud van die verbondsark. Maar die HERE het hulle goud saamgeneem om sy tempel daarmee te versier. So het die digter van Psalm 68 God na Sion sien opklim, broeders en susters. 'n Feestelike optog na daardie smadelike aftog.

En dit pas die apostel Paulus in Efese 4 nou op die hemelvaart van ons Here Jesus Christus toe.

Dis glad nie 'n snaakse toepassing nie.

In die teken van die ark het God mos by sy volk gewoon, met sy volk saamgegaan. Op die ark het die versoendeksel gelê waarop jaarliks die bloed van versoening gesprinkel is om die skuld van God se volk weg te doen. Slegs danksy dié versoening kon God by sy volk woon.

Ons mag dus sê: daardie goue ark was 'n heenwysing na ons Here Jesus Christus.

Nou maar goed, Hy, ons Heiland het ook 'n smadelike aftog beleef voordat Hy sy feestelike intog in die hemel mog maak. Paulus skryf in Efs. 4: "Hy het opgevaar- wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? "

Daar het aan Christus se hemelvaart 'n hellevaart voorafgegaan. Ook Hy moes, weens die sondes van sy volk, Homself in gevangenskap laat lei. Hy het Homself in die tronk van die hel laat opsluit.

Maar ook by Christus het hierdie vernederende pad op 'n triomftog uitgeloop. Ook Hy het die gevangenis gevange geneem. Hy het die satan van die troon gestoot en hom vervolgens uit die hemel laat gooi. Hy het aan die dood sy verwoestende krag ontneem en die lewe vir sy volk weer oopgesluit. En so het Hy vervolgens weer by sy volk kom woon.

Ja, Hy het self hemel toe gegaan. Maar Hy kon voor sy hemelvaart darem sê: "Kyk, Ek is met julle, al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld". Want in sy Heilige Gees het Hy vir goed sy intrek onder ons geneem. In sy Heilige Gees gaan Hy voortaan met ons saam. Deur sy Heilige Gees dra Hy ons dag na dag deur die lewe. En so is Hy ons meer naby as wat Hy ooit naby Israel was in die verbondark: Hy woon nie net meer onder ons nie, Hy woon nou in ons!

En dan maak Paulus dit in Efes. 4 nog konkreter vir ons. Want hy sê: soos die ark by sy terugkeer uit die tronk van die Filistyne geskenke saamgeneem het waarmee God vervolgens sy eie tempel gaan versier het, so het ons Here Jesus Christus ook met geskenke teruggekeer na sy volk, na sy neerdaling in die hel, om sy tempel mooier te maak.

Watter geskenke?

"Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus", die Nieu-Testamentiese tempel.

Christus het by sy hemelvaart ampsdraers aan sy volk op aarde gegee. Knegte wat sy volk by Hom moet bewaar, wat God se volk moet saamneem deur hierdie lewe, moet beskerm teen allerhande vyande, moet vertroos en bemoedig in verdriet en eensaamheid.

Daardie ampsdraers maak die aanwesigheid van God deur die Heilige Gees sigbaar, hoorbaar, merkbaar.

Ek mag dus vandag sê, broeders en susters: in die werk van die ampsdraers voel ons die hande van God wat ons deur die lewe dra. In die werk van die ampsdraers sien ons dat die Vader van ons Here Jesus Christus dag na dag met ons saamgaan. In die preke sondags, in die huisbesoeke, in troos- en vermaanbesoek: daarin bewys God aanhoudend dat sy ewige arms ander ons lê.

En dus sê ek vir julle, Jan en Anja, maar ook vir u almal, broeders en susters: as u die Psalm vol vrolike vertroue in ons Verbondsgod wat ons dag na dag deur die lewe dra, wil bly saamsing- ignoreer dan nie die ampsdraers wat Hy vir u gegee het nie. Verwaarloos nie die sondagse eredienste nie, stel u oop vir die ouderlinge wat u kom besoek. Werk in u huwelik ook saam aan die instandhouding van die kerk.

Daarin lê mos die Gees van Christus sy sterk arms onder ons lewe.

Daardeur sorg die HERE dat die lewe nooit ondraaglik word nie.

U sien: die draende hande van die HERE is geen droom nie. Dis konkrete werklikheid.

AMEN.

(Pretoria, bruidspaar Pouwels-Kremer)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)