Nagmaalsoordenking

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 51
Preek Inhoud: 

Nagmaaloordenking Ps 51: 5

Brs en srs!

"Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my" Oor hierdie psalmwoord, 'n woord van Dawid, wil ons vanoggend graag iets sê.

Want ek ken my oortredinge.

Uit die aard van die saak is dit 'n baie toepaslike woord om by die Nagmaal te oordink. Staan daar nie in die formulier dat ons ons vanweë ons sondes moet mishaag nie?

Om jou te mishaag oor jou sondes sal jy darem tenminste jou sondes moet ken. Dan sal jy jou van jou oortredinge bewus moet wees. Dan weet jy ook hoekom jy die Nagmaal nodig het.

Maar laat ons nie te vinnig sê: ek ken my oortredinge, nie.

Ons sal byvoorbeeld moet bedink, dat daar 'n hele paar dinge moes gebeur voordat Dawid sover was om die woorde van ons teks te kan sê.

Ons onthou Psalm 51 waarskynlik as die psalm wat Dawid gedig het na sy sonde met Batseba.

Maar kyk goed na die psalm self. Daar staan: 'n psalm van Dawid, toe die profeet Natan na hom gekom het (nadat hy by Batseba ingegaan het).

As ons die agterliggende verhaal in 2 Sam 11 lees, verstaan ons dat tussen Dawid se sonde met Batseba en sy skuldbelydenis daaroor in hierdie psalm, minstens 'n hele jaar verloop het.

Dawid self het gedink, die saak is afgehandel toe hy Batseba amptelik as sy vrou geneem het. Maar 2 Sam 11 sluit af met die dreigende opmerking: Dit wat Dawid gedoen het, was nie reg in die oë van die Here nie.

Ek ken my oortredinge, sê Dawid in Psalm 51.

Seker, maar dan moet ons besef dat Dawid deur die Here gedwing moes word om tot hierdie erkenning te kom. Hy moes deur die profeet Natan eers aan sy sonde ontdek word.

Aanvanklik het Dawid sy sonde bedek. Hy het dit vir homself goedgepraat, soos ons gewoonlik maar doen as mense. As ons teen een van die gebooie van God gesondig het, kan ons altyd wel een of ander redenering bedink, dat dit in ons geval tog nie net as sonde gekwalifiseer moet word nie, maar dat dit eintlik oor iets anders gegaan het.

Dan sê ons byvoorbeeld: in hierdie geval was dit nie owerspel nie, maar dit was nou waarlik liefde.

So het mos Dawid gevoel. Ons weet Batseba was 'n baie begerenswaardige vrou. Daarby was Dawid die koning. Hy het reg daarop dat van sy onderdane alles in beginsel vir hom beskikbaar is.

As Batseba daarna swanger blyk te wees, probeer Dawid Uria betrek om vir hom die indruk te gee dat hy self die kind verwek het. Maar daarvoor is Uria te getrou aan die koning en sy land.

Vervolgens laat Dawid eintlik Uria net so vermoor. En dan was hy sy hande in onskuld. Ja, dit gebeur nou maar in 'n oorlog.

Dit is werklik ongelooflik wat 'n mens in so'n situasie kan presteer en boonop nog goedpraat.

Tenslotte trou hy met die weduwee van Uria. Alles lyk vir die oog reg.

Dawid leef gewoon verder asof niks gebeur het nie. Hy neem sy koninklike take waar. Hy sing sy liedere. Hy spreek getrou sy gebede tot die Here. Al die mense rondom hom beskou hom nog steeds as die vroom koning Dawid.

Maar inmiddels het die Here anders na hom gekyk. Die ding wat Dawid gedoen het, was nie reg in die oë van die Here nie.

En dan stuur die Here die profeet Natan.

Laat ons om te begin besef, gemeente: Dit is genade van die Here dat Hy so in Dawid se lewe ingryp. Want Dawid het eintlik al van die hele saak vergeet. Hy het sy gewete so toegedek dat hy nie eers meer oor sy dade as sonde nagedink het nie.

Dit gebeur sommer maklik gemeente. Jy kan jou sondes so wegredeneer, dat jy nooit meer daaraan dink nie.

Maar deur God se genade word Dawid wakker geskud.

Die profeet Natan vertel vir Dawid 'n verhaal. 'n Storie eintlik. 'n Storie wat by Dawid groot emosies losmaak.

Hy vertel van die ryk man wat baie kleinvee gehad het, maar toe hy skielik 'n gas wou ontvang, gryp hy die enigste besit van sy kneg en slag die lammetjie wat in die gesin soveel vreugde gee.

So waar die Here leef, roep Dawid heeltemal verontwaardig: Die man wat soiets doen moet sterwe. Hy is nie werd dat hy lewe nie!

Met hierdie woord onderteken Dawid in feite sy eie doodvonnis.

Hy erken sy skuld, dat hy die dood verdien.

Dit is heel opvallend dat Dawid nou eers sy sonde raaksien. Letwel, eers na verloop van 'n vol jaar waarin hy maar net sy sonde toegedek het.

Nou eers, noudat hy a. h. w deur die oë van 'n ander na sy eie optrede gekyk het, nou sien hy skielik wat verkeerd is.

Voor die tyd kon hy sy eie optrede nie suiwer raaksien nie.

Sy blik was te vertroebel omdat hy by voorbaat sy sonde verontskuldig het.

Die Here self laat hom sy sonde ontdek. En dit bring Dawid se lewe in 'n geweldige krisis. Hy skrik vreeslik dat hy so blind was al daardie tyd. Hy raak totaal ontredder.

Maar hy moet deur hierdie krisis gaan om werklik weer te kan bid.

Ag Here, wees my sondaar genadig!

Nou ken ek my oortredinge. My sonde is altyddeur voor my.

Dawid besef nou eers hoe dringend hy afwassing van sondes nodig het.

Brs en srs, die heilige Nagmaal is 'n nuwe kans wat die Here vir ons gee.

Soos die lewe aangaan is ons almal maar geneig om oppervlakkig met ons sondes om te gaan. Ons het ons verontskuldigings, meer as genoeg.

Juis daardeur verloor ons so maklik kontak met die Here.

Die besef dat ons van sy genade afhanklik is sterf sommer gou af.

En daarom moet ons nou en dan met die oë van 'n ander na ons eie optrede kyk.

Probeer kyk met die oë van jou naaste na jou eie lewe en besef dat daar aan jou liefde tot die naaste baie tekortkomings is.

Kyk ook met die oë van die Here na jou lewe as gelowige, ofwel stel jouself werklik 'n slag onder die eis van sy wet.

Hoor dat Hy jou volkome liefde vra. Dan skrik jy.

Maar dit kan 'n heilsame skrik wees. Soos dit vir Dawid die geval was.

Dawid het skielik besef dat dit nie beslissend is hoe hyself oor sy eie optrede dink nie.

Selfs is dit nie belsissend hoe 'n ander jou dade beoordeel nie.

Dit gaan om een ding: Wat dink die Here daarvan?

Hoe oordeel Hy?

Gemeente, dit gaan dus hierom dat ons weer oog moet kry vir die erns van ons lewe voor die aangesig van God.

In die opsig is juis die Heilige Nagmaal 'n geleentheid.

As jy daar kom sit, gaan sit jy heel nadruklik vor die aangesig van God.

As jy dit besef dan kan jy inderdaad alleen maar verslae wees oor jou sondes.

Maar tegelykertyd met 'n hart vol hoop en dankbaarheid.

Want die Here belowe jou om jou sondes van jou af weg te doen.

Ons wil terwyl ons vanoggend saam aan die Nagmaalstafel sit saam met Dawid in skuldbewustheid erken: "Ek ken my oortredinge en my sonde is altyddeur voor my. "

Maar in een en dieselfde asem mag ons toevoeg: Ek weet ook van u genade.

Die werk van U Middelaar is altyddeur voor my.

En daarom vind ek tog vrymoedigheid om hier te kom sit.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)