God se volk moet sing van Sion, die kerkstad

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 48
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 48: 13-15

LITURGIE:
L. Psalm 48
Ps. 68: 6, 13
Ps. 68: 16
Ps. 48: 1, 2, 4, 5
Ps. 132: 9
Ps. 135: 8, 11

Broeders en susters,

Wie gevoel 'n neiging om te gaan sing so dikwels as wat hy aan die kerk dink? Wie leer dit ook al vroeg aan sy kinders om die loflied op die kerk saam te sing?

Daar is baie mense wat glad nie behoefte gevoel om te gaan sing as dit by dit kerk kom nie. Want hoe stel dit jou in die kerk mos dikwels teleur! Daar waar alles so mooi en suiwer moes wees, is dit so dikwels juis vol menslike kleinsielighede en sondes. Vol gebaklei, gekrakeel en liefdeloosheid. Mens kry daar te make met mense wat hulleself graag wil laat geld, wat graag by ander mense in die gevlei wil kom. Wat hulleself graag hoor praat en ander na hulle pype wil laat dans. Men tref daar ook soveel slapheid en oppervlakkigheid. Ondankbaarheid en ontevredenheid.

Oor die kerk sing!? Daar is baie wat dit om van te huil vind.

Dus is dit ook geen wonder nie dat veral jong mense partykeer boordevol kritiek oor die kerk is. Met hulle hoë ideale vind hulle in die kerk nie altyd dit wat hulle soek nie. En hulle braak hul gal uit. Of hulle breek met die kerk om hulle in die wêreld te stort. Daar is dit ook nie so geweldig nie, maar daar hou hulle tenminste ook nie die skyn op nie.....

Oor die kerk sing? Kan dit?

Jou kinders oor die kerk leer sing- is dit moontlik?

Dis nie alleen moontlik nie, broeders en susters, dit moet. Die gedagte aan die kerk moet 'n loflied op ons lippe bring.

Daar is verskeie Psalms wat ons tot so'n loflied op die kerk uitnooi. Psalms wat ons dikwels sing sonder om altyd bewus daarvan te wees wat ons sing.

Psalm 48 is so'n Psalm wat ons en ons kinders oor die kerk aan die sing wil kry. Wat ons ook leer hoedat ons altyd van die klerk kan sing: die wat maar net na mense kyk, ja, by hom moet die Psalms wel in die keel bly steek. Maar Psalm 48 wys vir ons: die kerk is nie maar net 'n mensesaak nie. Die kerk is die kerk van God. Die kerk is, ten spyte van alle sondes en onhebbelikhede van mense, sy Sion waar Hy wil woon en troon en waar Hy die lewe uitdeel.

'n Loflied op die kerk is daarom 'n loflied op God, die God van die kerk. En dis hoekom daar altyd oor die kerk gesing kan word.

Dis hoekom daar altyd oor die kerk gesing moet word.

So bedien ek vanmôre God se Woord aan u uit Psalm 48 onder hierdie tema:

GOD SE VOLK MOET SING VAN SION, DIE KERKSTAD

  1. HOEDAT DIE LOFLIED GELEER WORD
  2. HOEDAT DIE LOFLIED GEKONINUEER MOET WORD

1. Die digter van Psalm 48 neem ons na Jerusalem saam, gemeente. Ons gaan bewonder met hom die stad op die Sionsberg. Hy wys vir ons daardie stad, die Godstad hier benede, soos dit eendag onder die Ou Verbond daar in die Midde-Ooste gelê het: hoog en indrukwekkend op die berg. Skitterend in die helle sonlig. 'n Onneembare vesting.

"Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, die stad van die groot Koning. "

Met as hoogste punt aan die noordflank die tempelberg waarop die tempelkompleks nog bo die stad uitsteek. En ons word opgewek om 'n wandeling rondom Sion te maak:

"Trek daaromheen, tel sy torings, let op sy skanse, wandel deur sy paleise.... ".

Dalk was party van u al wel 'n keer in die land Israel en het hulle met eie oë die huidige Jerusalem kan aanskou. Dan kan u uself bietjie voorstel wat die digter van Psalm 48 by sy hoorders wou oproep.

Maar as dit die digter net om Jerusalem se uiterlike skoonheid gegaan het, sou hierdie Psalm nooit in die Bybel gestaan het nie. Want die uiterlike skoonheid het Jerusalem nog nie tot die mooiste stad op aarde gemaak nie. Daar was en is mos wel meer stede waarvan die aanblik indrukwekkend is en in party gevalle is daarvan ook wel gesing. In die land waar ek grootgeword het sing hulle: Geef mij maar Amsterdam!

Nee, dit gaan in Psalm 48 om Jerusalem as kerkstad. Dis diè dat daar ook telkens oor Sion gepraat word.

Want Sion- dit is meer as 'n aardrykskundige benaming vir Jerusalem. Die naam Sion herinner daaraan dat die HERE Dawid van agter die skaapskrale gevat het om hom koning oor sy volk te maak. En toe het God Dawid in die Jebusieteburg op die Sionsberg laat woon. Jerusalem, op Sion, het die residensie geword. Maar toe Dawid daar goed en wel gewoon het, het God daar ook kom woon. Want Dawid het al gou gevoel: ek is hier niks sonder die HERE nie. Die verbondsark van die HERE moet langs my paleis staan. Ek wil hier geen huis hê nie as nie ook die HERE hier sy huis het nie. Ek regeer mos slegs by die grasie Gods.

Toe het die ark van die verbond Sion toe gekom. God self het sy intrek op Sion geneem. Soos ons uity Psalm 68 gesing het:

"God self het hierdie berg begeer,
om daar in lig, in glans en eer
vir ewig by sy volk te woon
en voor hul oog te skitter"

En van daardie dag was God en Sion onverbreeklik aan mekaar verbonde. Nou het God daar in sy genade gewoon.

Eerst in 'n eenvoudige tent. Maar in Salomo se dae het dit 'n skitterende tempel geword. En waar het duideliker die wònder van God se woon op Sion geblyk as daar in die tempel?

Die tempel het die geheim van die kerkstad gevorm. Daar het die hart van Sion geklop. Want daar het nou die troon van God gestaan, in die Allerheiligste, heel agter in die tempel. Maar dan wel onsigbaar, in die duisternis, agter 'n swaar gordyn. En onbereikbaar vir vrywel alle mense.

Want eintlik kon God heeltemal nie by die mense woon nie. Die volk in die stad was dit rêrig nie werd nie. Inteendeel, 'n sondige en hardkoppige slag mense het die Godstad bewoon. Niemnd verdien dit meer dat die heilige God gemeenskap met hom soek nie. Alle mense verdien mos die dood. En as dit aan hulle sou gelê het, sou die HERE lankal die Sion weer verlaat het. God het dit later trouens ook gedoen!

Maar die troon van God daar in die duisternis, die verbondsark, het 'n versoendeksel gehad. En in die tempel het daagliks die bloed van versoening gevloei, wat die Hoëpriester eenmaal 'n jaar op daardie deksel van die ark kom sprenkel het, om die sondes van die volk by God te versoen.

Daarom alleen het God op Sion bly woon. Daardie versoenende bloed het Sion uiteindelik tot Godstad gemaak. Daarom alleen kon God hierdie stad as sy stad bly beskou en hierdie volk as sy volk.

Wel, van hierdie Sion sing Psalm 48, gemeente. Van die stad wat nie net uiterlik indruk maak nie. Maar van die stad wat innerlik indrukwekkend is. Gòd woon daar onder die mense in sy genade.

Ja, hierdie lofsang op Sion is eintlik een groot loflied op die God van Sion.

Dit blyk al dadelik in vs. 1: die lof op die HERE kom eerste: "Die HERE is groot en baie lofwaardig" en eers dan volg daar: "in die stad van onse God, sy heilige berg". En so klink dit weereens in ons teksverse, vs. 13 e. v.: "Gaan rondom Sion, trek daaromheen... " bekyk dit maar mooi. Maar die gevolgtrekking moet wees, nie: hoe mooi is die stad nie, maar: "Hierdie God is onse God!"

Tog mag ons dit nou ook omdraai, broeders en susters. Die een behoort nou gewoon by die ander. Jy kan van Sion alleen sing omdat die HERE daar woon. Maar dit is andersom nou ook so: wie die HERE loof, moet ook van Sion sing, die stad van God, die plek waar Hy Hom laat vind. Wie van God wil sing, kan van Sion nie swyg nie.

Tereg het daarom die skrywers van die Kanttekeninge by die ou Hollandse Statenvertaling gekonkludeer dat Psalm 48 'die heerlikheid en geluksalikheid van die kerk besing onder die beeld van die stad Jerusalem. Met 'n vermaning aan de gelowiges dat hulle die skoonheid en vastigheid van die kerk tot 'n ewige gedagtenis naarstiglik sal gedenk'.

Psalm 48 wil ook ons oor Sion aan die sing kry. Maar dan nie oor die huidige Jerusalem in Israel, soos baie christene ten onregte wel dink en soos ons dit deur verskeie sektes en chiliastiese stromings aangepraat word nie. Daardie stad het sedert Christus se opstanding en hemelvaart sy besondere posisie op aarde verloor. Die Nieutestamentiese Sion is: die gemeente van die Here Jesus Christus, die plek op aarde waar God deur sy Heilige Gees kom woon het en waar vandag die versoening bewerk word.

En soos die digter van Psalm 48 in die Ou Verbond van Sion kon sing, kan ons vandag van die kerk sing. Nie vanweë die mense wat daar woon nie. Maar vanweë die God van genade wat hier sy intrek geneem het.

Dit is dan ook die enigste rede waarom daar gesing kan word. So alleen kan ons die lied op die kerk ook maar leer en dit ons kinders aanleer.

'n Loflied op die kerk is 'n loflied op die God wat in die kerk by die mense wil woon. Die kerk is geen sakie van mense nie, maar die plek waar God, die groot Koning op die aarde wil woon en Hom in sy genade en gerigte laat ken. Daar kom Hy nou na ons toe met die evangelie van die bloed van versoening wat sy eie Seun vir ons op Golgota gestort het. Daar onderstreep Hy sy wil tot versoening in doop en nagmaal. Daar is alles vol van die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees.

In die kerk laat God Homself op aarde vind en maak Hy die lewe oop vir elkeen wat in die reddende bloed van sy Seun glo. Lewe tot in ewigheid. Daar kan niks of niemand ons die lewe ooit nog ontroof nie. Want as God met ons is, wie sal daar teen ons wees? ! Wie sou ons nog nog die baas kan word?

Waar God by die mense woon, daar moet die magtigste teëstander kopgee. Die digter van Psalm 48 het al daarvan geweet. Kyk vs. 4 e. v.: "God het Hom in Sion se paleise bekend gemaak as 'n rotsvesting". Hy het geweet hoedat magtige konings bymekaar gekom het en as een groot leër opgetrek om Sion te verower. Hulle het hul saam sterk gewaan. Maar wat was hulle in vergelyking met die groot Koning van Sion? Skaars het Hy Hom verhef of hulle het in angs weggevlug. Waar God woon daar spring Hy ook in die bres voor sy volk. In die kerk mag jy jou ewig veilig weet. Sy engele omring jou daar en dra jou op die hande. God is onse God vir ewig en altyd. Hy sal ons lei tot die dood toe. Ja, dwars deur die dood heen, in die ewige lewe in sal Hy ons dra. Want deur die offer van ons Here Jesus Christus is selfs die gevaarlikste teëstander, die wat mag oor dood en verderf gehad het, die Satan, van die troon gestoot. Die poorte van die doderyk sal daarom die gemeente van God nie kan oorweldig nie. Die Satan bly dit nog wel probeer- hy loop rond in groot grimmigheid en soek wie hy kan verslind- maar die kerkgeskiedenis is een lank bewys daarvan dat selfs hy die kerk van God nie meer kapot kan kry nie.

Baie aanvalle het hy al probeer: dwaalleer, vaak baie geraffineer, maar die belydenis van die kerk was 'n onneembare vestingwal. Hiërargie, dominokrasie, independentisme- maar die kerkorde het 'n sterk skans geblyk.

Dit het wel stryd gekos en daar was ongelukkig ook mense wat gedros het, maar die kerk is deur alles heen bewaar.

Want God, die God van leërskare
is met ons, red ons uit gevare.
'n vaste burg is vir die kerk
die HERE God, elkeen te sterk.

So kan ons vandag van Sion sing, gemeente. Wie so die kerk leer ken het, gaan soos vanself sing.

Maar ons moet ook so van die kerk sing, leer Psalm 48 vir ons. As jy van die HERE wil sing, mag jy Sion, sy kerk, daar nie buite laat nie. Daar is baie mense wat so maak, vandag: swyg oor Sion. Hulle praat wel oor die HERE, en oor sy werk in die heilsgeskiedenis en in hul eie lewe, hulle praat oor die lewe in sy diens, hulle wil teenoor elkeen van Hom getuig en ander mense vir Hom bekeer- maar hulle swyg oor sy kerk. Sion kom nie binne die gesigsveld nie. "As jy maar die HERE dien", word dan gesê, "dan maak die kerk waartoe jy behoort nie so baie saak nie. Die kerk is mos maar mensewerk. Die een kies vir hierdie kerk, die ander vir daardie een, maar dit maak nie eintlik saak nie. "

Maar, broeders en susters, die wat so praat, haal uitmekaar wat onverbreeklik bymekaar behoort. God se Woord, ook in Psalm 48, leer ons om aan die lied op die HERE altyd die lied op sy kerk te verbind. Want wat God saamgevoeg het, mag die mens nie skei nie. Wie van die HERE wil sing, kan van Sion nie swyg nie. Want dààr woon God, nou deur die Heilige Gees van Christus. Dààr werk God deur die diens van die versoening. Daar alleen is Hy op aarde te vinde!

2. Daar moet ook die geslagte wat aan kom is Hom dus leer vind.

Eindig die Psalm nie so nie: "Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings...... sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd".

Wie Sion soek, sal God, die God van Sion daar vind, beteken dit. Die krag van die kerkstad spreek mos van die krag van die HERE, sy God.

Maar hoe belangrik is dan die woorde van vs. 14: "..... sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel".

Die loflied op Sion moet aan nuwe geslagte deurgegee word. Dit moet bly klink, ook in die komende generasies. Dit moet gekontinueer word. Ononderbroke.

Van vader op seun, van moeder op dogter oorgedra word. Van ouere op jongere.

Daardie belangrike opdrag het die oueres in die kerk ontvang: daarvoor sorg dat ook die jeug van die HERE èn van sy kerk leer sing. Leer om met blydskap na die huis van die HERE te gaan.

Maar diè taak kan oueres alleen volbring wanneer hulle eerste selfonder die indruk gekom het van dit wat Sion is. Eers dan kan jy ook die volgende geslag daarvan vertel en hulle daarvoor warm maak.

Daarom klink in ons teks die oproep: "Gaan rondom Sion... " nie in die eerste plek aan die adres van die jongeres nie. Dit word vir die oueres gesê.

Waarvandaan sou dit mos kom dat die kerkjeug nie meer tot die loflied op Sion, die kerk, beweeg kan word nie? Waar kom die onverskilligheid en ongeinteresseerdheid by gedoopte seuns en dogters vandaag? Sou dit nie hiervandaan kom nie, dat die oueres (in die eerste plek natuurlik hulle ouers, maar diè nie alleen nie) hulle onvoldoende ingespan het om die lied op die kerk as die stad van God voor te sing en oor te dra?

As die oueres geen moeite meer doen om met warmte en bewoënheid van God se werke in die kerkgeskiedenis te vertel nie, maar aand in aand uit die televisie aan die woord laat of nooit by die huis is nie - as hulle nie met vreugde die sondagse kerkgang voorlewe maar die teësin om kerk toe te gaan sigbaar en voelbaar is - as hulle nie met intense aandag en blydskap die bediening van God se Woord aanhoor nie, maar altyd met kritiek en betwetery uit die kerk by die huis kom - as hulle die seuns en dogters nie meer leer hoe ryk dit is om gedoop te mag wees en watter vreugde dit beteken om die heilige nagmaal te mag vier - as hulle nie meer uitlê nie hoedat die Gereformeerde belydenisskrifte die eeue deur soos verdedigingswalle, skanse vir die kerk gefungeer het en daarom vandag nòg geken moet word - as hulle die belang van die Gereformeerde Kerkorde as 'n verdedigingstoring teen hiërargie, diktatuur vcan dominees en teen magsaanmatiging van gemeentelede nie weet om duidelik te maak nie, maar pleks daarvan altyd kritiek het op die leraar, die ouderlinge, die kerkraad, op allerlei broeders en susters, op die vele werk wat daar ook van hulle verwag word in die diens van die HERE, op die stryd wat daar gestry moet word om as kerk kèrk te bly - ja, dan verstom die lied en word die gelamenteer al hoe luider.

As ouers die kerk al nie hooghou nie en hul kinders nie van kleins af leer dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God moet onderskei watter kerk die ware kerk is nie- dan is dit geen wonder dat die opgroeiende jeug onbekommerd 'n verhouding met 'n nôientjie van 'n ander kerkgemeenskap begin en nie eintlik raaksien dat daar veskille tussen die kerke is nie.

Die opwekking van Psalm 48 is dringend aktueel, gemeente.

Leer dit die volgende geslag sien: dìt is die kerk, God se woning hier op aarde.

Leer vir hulle God se bewarende werk in die kerkgeskiedenis ken, want ten spyte van die geswoeg op ons Gereformeerde laerskool weet die meeste katkisante na hulle 'n aantal jare in die hoërskool was, bitter min nog daarvan.

Want as hulle die lied op die kerk nie leer sing nie, sal hulle op die ou end ook van die God van die kerk nie meer sing nie. En die lied op Sion, dit is: op die God van Sion, mag nie verstom nie. Inteendeel, dit moet op die groot loflied aanstonds uitloop, wanneer die nuwe Jerusalem uit die hemel daal en God alles in almal sal wees.

Wie met daardie groot loflied eendag wil instem, sal dit vandàg alreeds moet leer.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)