God gee lewensmoontlikhede vir Sy kerk wat in homself geen lewe het nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 46
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 46: 5

LITURGIE:
Ps. 84: 1
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps. 84: 3
Kort Nagmaalsformulier
Ps. 63: 1 as die tafel klaargemaak word
Danksegging
Ps. 63: 3 by die afsluiting van die tafel
Dankgebed
Kollekte
Ps. 46: 1-3
(L.) Psalm 46
(T.) Psalm 46: 5 preek
Ps. 87: 1, 5
Dankgebed
Ps. 46: 6

Broeders en susters,

Ek het vir die prediking op hierdie nagmaalsondag nogmaals, na Psalm 48, 87 en 79, 'n Sionspsalm gekies. 'n Psalm oor die Godstad, soos dit in vs. 5 genoem word, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. "God is daar binne-in".

In die Ou Testament was dit Jerusalem met op die Sionsberg die tempel van God waar die diens van die versoening verrig is.

Maar ons mag vandag, na Golgotha, sê: Sion is die Kerk van God, die gemeente van die Here Jesus Christus, waar Hy deur die Heilige Gees by sy volk woon. Sionspsalms is kerkpsalms.

Die Psalm wat ons vanaand opgelsaan het, is 'n triomfantlike psalm.

Daar klink 'n toon van vrolike rus en vertroue, 'n toon van rotsvaste sekerheid in hierdie psalm: waar God, die Here van die leërskare, die Here van die ontelbare engelemagte, by sy volk hier op aarde intrek geneem het, is dit veilig en vertroud. Daar kry geen mens of mag die kerk meer onderstebo nie. Dis die refrein in die verse 8 en 12, en miskien het dit oorspronklik ook na vs. 4 gestaan: "Die HERE van die leërskare is met ons, die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons". Watter vyande hulle ook al verhef, hulle kry die ketrk nie klein nie. God se aanwesigheid waarborg die lewe. En in Sion is die begin van die ewige vreugde alreeds voelbaar. word die voorsmaak op die ewige vreugde geniet.

Om dit met die woorde van ons Here Jesus Christus te sê: "Die poorte van die doderyk kan die kerk selfs nie oorweldig nie".

So mag ons vandag oor die kerk sing: Die HEER is daar, Hy hou die wag, Hy red ons in die oorlogsdag. God sal sy stad, die mens ten spyt, bevestig tot in ewigheid.

Ons konsentreer ons aandag vanaand op die 5de vers, broeders en susters: "Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly". Die digter van Psalm 46 sien 'n groot rivier, met verskeie sytakke dwarsdeur die kerkstad stroom. 'n Heldere waterstroom met heerlike drinkwater, waarvan die inwoners van Sion dankbaar profiteer.

Dit klink vir u dalk glad nie opvallend nie; daar is mos baie stede wat aan 'n rivier gebou is. Mense het bewus so'n plek waar water was as woonplek gekies. Ons het hier in Pretoria ook ons Apiesrivier.

Maar mense wat alreeds 'n keer in Jerusalem was, sal weet dat daar deur Jerusalem glad nie 'n rivier loop nie. Jerusalem was altyd 'n water-arme stad. Jerusalem was op 'n berg gebou en haar natuurlike ligging was vir die toevoer van water baie ongunstig.

Daar wàs wel water, maar geen groot rivier nie. Die kleine Gihon- bron, effens buite die stad, het water gegee wat vir die bevloeiing van die koninklike tuine gebruik is en wat vervolgens langs die Kedrondal langsaam na die Siloa-vywer afgevloei het. In Jesaja 8 word van die waters van Siloa "wat saggies vloei en deur die volk verag is", gepraat. En dit wys wel dat dit dus geen geweldige stroom gewees het nie, maar maar net 'n klein, traag- stromende spruit.

Daardie bietjie water was van lewensbelang vir Jerusalem. Sonder daardie water kon die stad nie lewe nie. Sonder daardie water sou alle lewe in die stad van dors verkommer. Daagliks moes die vrouens van Jerusalem met kruike die water buite die stad of uit die Siloavywer aan die rand van die stad gaan haal.

Die lewe was dus feitlik baie kwesbaar in die Godstad: as vyande die stad kom beleër het, kon hulle die watertoevoer sommer afsny en daardeur die stad tot spoedige oorgawe dwing. Sonder water was Jerusalem reddeloos verlore!

Dis diè dat in later tyd koning Hiskia dwars deur die rotse 'n watertonnel laat grawe het om die water van die Gihon-bron langs 'n veiliger weg in die stad te kry. Hierdie tonnel kan mens vandag nog sien in Jerusalem.

Maar nou lees ons dus in Psalm 46 dat die digter van hierdie Psalm 'n breë rivier, met verskeie systroompies, dwarsdeur die Godstad sien loop het. Almal water! Lewende drinkwater. Volop vir almal en vir altyd. Elkeen kan maar drink, almal kan hulleself bad, hulle kan hul tuine sproei. Niemand hoef meer suinig te wees nie, beperkende maatreëls van die munisipaliteit is niet nodig nie...

En wat die belangrikste is: die vyande kan nou maar kom!

Hulle kan die stad maar beleër. Laat hulle maar probeer om die lewe in die stad af te sny. Hulle sal dit nooit regkry nie! Want die lewensstròòm kan geen mens meer afsny nie.

En diè feit maak die rus en die sekerheid in die Godstad nog groter. Dit maak die toon van hierdie Psalm nog triomfantliker: Al dreig die vyand met die dood, al storm sy leërbendes aan; God gee ons water in die nood; 'n stroom wat nooit bly staan.

U sal verstaan: Psalm 46 gebruik 'n beeld. Maar wel 'n veelseggende beeld: God sorg vir water in 'n water-arme stad. Met ander woorde: God gee lewensmoontlikhede vir sy kerk wat in homself geen lewe het nie. Ons loop diè beeld voortdurend raak in die Skrif. Ons het vanoggend 'n aantal van sulke Skrifgedeeltes gelees. Jesaja: Waar die lewe deur die sonde 'n woestyn geword het, maak God riviere in die wildernis, om sy volk, sy uitverkorene, te laat drink. En Esegiël: waar die volk van Sion self die dood oor die Godstad gehaal het, weens sy ergerlike verbondsontrou, laat God 'n stroom van lewende water, lèwenswater (!), uit sy tempel ontspring om die lewe weer te laat opbloei. Selfs so, dat die Dooie See daardeur weer tot lewe kom!

Dit kom sommer aangestroom. Deur 'n wonder van God.

God gee die Paradys op aarde terug!

Want daardie waterstroom, daardie rivier met sy syarme in Psalm 46, herinner ons aan die Paradys: "En daar het 'n rivier uit Eden uitgegaan", lees ons in Genesis 2, "om die tuin nat te maak, en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword".

So het destyds die Paradys tot lewe gekom en vir die mens die lewe moontlik gemaak. Die lushof is deur daardie rivier tot lewe gewek.

Ons het die ou Paradys inmiddels lankal verloor. Ons het van die lushof 'n wildernis gemaak.

Maar God sal die lewe opnuut, asof deur 'n wonder, laat opbloei.

Daar kom eendag 'n nuwe Paradys, waarin weer 'n suiwer rivier van lewenswater, helder soos kristal, die lewe weer leefbaar sal maak. Ook daarvan het ons vanmôre gelees. Johannes het in sy visioene op Patmos die Nuwe Jerusalem gesien en vir ons beskrywe. Dwars deur die stad het die lewensrivier gestroom, met aan weerskante daarvan die geboomte van die lewe, wat daar ook in die ou Paradys was, wat die lewe op aarde sal genees.

Maar die begin van diè lewensherstel in die Nuwe Jerusalem het die digter van Psalm 46 dus alreeds in die Ou Jerusalem sien kom. Daar waar God weer by die mense op aarde woon, kom die Paradys terug. As God weer met ons is, wyk die wildernis en word die lewe weer leefbaar.

En wie dus die lewe soek, moet in Sion wees! Daar stroom die rivier van die lewende water. Ja, daar ontspring die fontein van die lewende water. In die hart van Jerusalem, in die heiligdom, God residensie. Esegiël het dit gesien in sy visioen van hoofstuk 47. Daar waar God self die versoening van ons sondes moontlik maak, daar maak Hy ook die lewe vir ons weer moontlik.

En dan sê ons vandag, broeders en susters: die lewensbron ontspring daar waar God meer as ooit tevore God-met-ons geword het, Immanuel: in ons Here Jesus Christus.

Het Johannes op Patmos die lewensrivier nie "uit die troon van God èn van die Lam" sien ontspring nie?

Die Lam wat ons sondes op Hom geneem het, die Lam wat vir ons die ewige dood gesterf het, Hy het vir ons die lewe terugverdien. Hy waarborg vir ewig die lewe vir ons. Sy Heilige Gees sorg vir nuwe lewensenergie. Hy het Homself dan ook "Die bron van lewende water" genoem.

Deur Hom maak God die lewe weer moontlik op aarde, vandag al. Deur Hom gee God die lewe en die lewensvreugde terug.

Onaantasbare lewe wat geen vyand, geen duiwel of doderyk ons meer kan afneem nie. Want diè sekerheid klink mos veral in Psalm 46: in die kerk, God se woonplek op aarde, waar Hy die lewe met Homself versoen, waarborg God die lewe teenoor die gevaarlikste vyand. En al is die kerk van homself ook al hoe kwesbaar, al probeer allerlei vyande ook om die watertoevoer af te sny, om die kerk van sy lewensmoontlikhede te beroof- God die Allerhoogste hou dit in stand.

Gemeente, ons was vandag in Sion.

Ons mog vandag drink uit die rivier van lewende water toe ons aan die nagmaalstafel die volkome versoening van al ons sondes ontvang het en die Lam die lewensenergie van sy lewendmakende Gees aan ons uitgedeel het.

Ons lèèf elke dag in Sion, gemeente. Solank ons die lewe buite onsself, in die Lewensbron Jesus Christus bly soek. Solank as van die wonder wil lewe en erken dat ons in onsself geen lewe het nie.

En nou kan ons dus maar veilig en vrolik vorentoe. Want waar ons deur Jesus Christus alreeds die voorsmaak van die ewige lewe mag geniet, kan niks of niemand ons die vreugde meer vergal nie. 'n Oormag van vyande sal nog probeer om die lewensstroom van die kerk af te sny, maar ons sal nie vrees nie. Al kry ons ook die hele wêreld teen ons- die Here van die leërskare is met ons, Hy sal ons help as diè dag aanbreek.

Ja, al vergaan ook die wêreld, al breek ook die geweld van die laaste plae van God oor die aarde los, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see, al raak alle lewensbronne van hier benede ook verstop en word alle lewenskanse hier op aarde ons ontneem- ons kan onbevrees vorentoe. Want ons weet van Immanuel, God-met-ons in Christus Jesus. En die stroom van lewende water wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam, raak nooit verstop nie.

Ja, gemeente, ons kan vrolik singend vorentoe: "Ons heilsfontein stroom neer uit Sions walle".

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)