Skrifoordenking by begrafnis

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 27
Preek Inhoud: 

SKRIFOORDENKING OOR PSALM 27 BY DIE BEGRAFNIS VAN BR. G. KERKHOFF

LITURGIE:
Ps. 27: 1, 2
Gebed
L.Psalm 27
Ps. 27: 3, 4
Skrifoordenking
Gebed
Ps. 27: 6

Familie Kerkhoff, broeders en susters, u almal wat vandag rond die familie Kerkhoff wil staan,

Nie ek het Psalm 27 as die Skrifgedeelte waardeur ons ons vanmiddag voor die begrafnis van Br. G. Kerkhoff wil laat lei, gekies nie. Hy self het hierdie Psalm al geruime tyd voor sy sterwe aangewys as die bron van oordenking by sy begrafnis.

Hy het dit vir sy familie skriftelik vasgelê.

En daardeur spreek hy nog tot ons nadat hy dood is.

Want hierdie Psalm is wel baie toepaslik.

Psalm 27 is 'n psalm waaruit 'n sterke geloofsvertroue spreek: "Die HERE is my lig en my heil; vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees? "

Geen mens of mag kry die digter van hierdie Psalm meer klein. Selfs vir die vreeslike vyand, die dood, wat ons vlees wegvreet, is hy nie bang nie.

Ja, sy geloofsrus kry amper iets uitdagends: al sou ook die hele wêreld hom teen hom keer: sy hart sal nie vrees nie, nogtans sal hy vertrou. Niks en niemand kry hom onderstebo nie.

Omdat hy self so sterk is?

Omdat hy self enige vyand die baas is?

Nee, maar omdat God so sterk is!

Die HERE is sy lig en sy heil. Die HERE is die toevlug van sy lewe. Want Hy steeek hom weg in sy hut in die dag van onheil. Hy verberg hom in die skuilplek van sy tent. Hy, die HERE, verhef hom op 'n rots. En daarom sal sy hoof wees bo al sy vyande rondom hom.

Die HERE alleen is sy bron van krag. By Hom alleen is hy veilig en onvervaard.

Die diè dat die digter van Psalm 27 ook doelbewus sy toevlug tot die HERE neem. Soos hy in vs. 4 sê: "Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE." Want sonder die HERE is hy niks nie.

Dis diè dat die digter van Psalm 27 ook die HERE aanhoudend vir sy beskerming die dank bring (vs. 6): "Ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE!"

Het so'n geloofssekerheid ook ons br. Kerkhoff nie getipeer nie?

Hy was sterk en onvervaard in sy eenvoudige geloof. En onbevrees toe die dood as 'n vyand sy lewe belaag het. "Hy verhef my op 'n rots", het die digter van Psalm 27 gesing. Wel, so'n rotsvaste geloof was daar ook by hom. Die toekoms was vir hom nie werklik dreigend nie. Want hy het geglo dat hy die goedheid van die HERE mog sien in die land van die lewendes.

In die laaste gesprek wat ek met hom gehad het, op die dag van sy dood, het ek met hom die vraag wat Christus eendag vir Martha, die suster van Lasarus gevra het, gelees: "Ek is die Opstanding en die Lewe. Wie in my geloof sal lewe al het hy ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? " En toe ek daardie vraag van Christus, "Glo jy dit? " ook vir hom gevra het, was sy antwoord nie 'n eenvoudige "Ja" nie. Maar, en dit het hom getipeer, sy reaksie was: "Daarvan is ek oortuig!"

Toe dit vir hom al hoe donkerder geword het, het die HERE sy lig en sy heil gebly: waarvoor sou hy dan vrees??

Dit was ook by hom geen kwessie van eie krag nie. Dit was nie maar net 'n sterk karakter van 'n sterk persoonlikheid nie. Net soos die digter van Psalm 27 het hy sy krag by die HERE gesoek.

In sy woord. In die skuilplek wat Hy vandag in sy kerk aan ons bied. Daar waar Jesus Christus verkondig word as die oorwinnaar op die sonde en die dood.

Dis hoekom hy tot op die allerlaaste sondags kerk toe wou bly gaan. Terwyl sy swakke liggaam dit byna onmoontlik gemaak het, wou hy darem in die kerk wees, om hom deur die Woord van sy God te laat bemoedig en om saam met die gemeente die lofoffers aan sy God te bring, om psalms te sing tot God se eer.

Juis hy wou dit. Want vroëer in sy lewe was daar mos 'n tyd dat hy gemeen het dat Hy die skuilplek wat God ons gee, nie nodig gehad het nie. Toe wou hy op sy eie bene staan, wou hy in eie krag die moeilikhede van die lewe oorwen. Toe het hy nie psalms tot eer van die HERE gesing nie, maar liedere tot eer van die mens.

Maar die HERE het hom laat agterkom dat daar buite Hom geen lewe is nie. En sou hy dan nie die lewe tot op sy sterfbed buite homself, by sy God en Heiland soek nie?

So, familie, broeders en susters, het ons G. Kerkhoff geken.

Psalm 27 is 'n baie paslike keuse om as Skrifgedeelte by sy dood te oordink.

Maar dan moet ons wel verder lees in hierdie Psalm.

Want vanaf vs. 7 klink daar opeens 'n heel andere toon by die digter. Daardie man wat eers so vol vertroue en rus gesing het, klink sommer angstig en onrustig.

"Hoor, HERE, ek roep luid; wees my genadig en antwoord my! Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie. Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil! Gee my nie oor aan die begeerte van my vyande nie.... O, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie........ "

Dit lyk asof alle sekerheid van eers in onsekerheid verander het, asof sy aanvanklike vertroue deur vrees verteer word.

Wat is dit?

Daar is verklaarders wat hierdie skielike verandering in toon so snaaks vind dat hulle aanneem dat hierdie Psalm oorspronklik twee afsonderlike Psalms was wat later deur iemand ondeskundig aanmekaar geplak is.

Ander verklaardes soek 'n siekundige oplossing vir die skielike verandering in toon. Hulle sê: so is nou maar 'n mens. Die een oomblik uitbundig en vol vertroue, die ander oomblik onseker en angstig. Enige mens ken nou maar eenmaal sy ups en downs. Soos die Duitsers so mooi kan sê: himmelhoch jauchzend, zum Tode betrübt.

Moet ons so die skynbare teëstelling tussen die eerste en die tweede helfte van hierdie Psalm verklaar?

Nee, die oplossing lê nie in die karakter van Dawid of in die ondeskundigheid van 'n versamelaar van die Psalms nie.

Ons kan die skielike verandering van toon alleen verstaan as ons 'n oog vir die wonder van die verbond met God bly hou.

Elkeen wat sy toevlug neem tot die God van die verbond, wat in sy huis voor sy aangesig nader en begeer om by Hom te woon en by Hom te skuil, skrompel teenoor die Allerhoogste soos vanself inmekaar tot 'n klein, nietig en skuldbewus mensie.

Elkeen wat in die huis van die HERE "sy lieflikheid aanskou en ondersoek", soos Dawid dit in vs. 4 uitdruk, kom soseer onder die indruk van die grootheid van die HERE dat hy homself al hoe kleiner en sondiger begin voel.

Teenoor die lig van die HERE kom hy eers reg die duisternis van sy eie sondige lewe agter. En besef hy hoeseer hy God se toorn verdien het. Geen mens het reg op 'n skuilplek by die HERE nie!. Geen mens het reg op lewe nie. Geen mens verdien dit om God se goedheid in die land van die lewendes te mag sien nie! Ons verdien God se toorn. Ons verdien dit dat die HERE ons van voor sy aangesig wegstoot, vir ewig uit sy huis verwyder, aan ons vyande prysgee. Die ewige dood verdien ons.

Hierdie Psalm is regtig wel 'n eenheid. Ons sien hier die eenheid van die een lewe in die geloof:

Hoe digter 'n mens by die HERE leef, hoe dieper word sy insig in sy eie sonde.

Hy besef al hoe sterker dat hy van homself niks om hom in te beroem oorhou nie. Hy word heeltemal op sy geloof in God se GENADE teruggegooi. Dat Hy by God mag skuil, dat God hom 'n skuilplek wil gee, dat die HERE sy lewe hom die oorwinning op sy doodsvyande sal gee- dit is GENADE ALLEEN. Onverdiend. Deur Christus alleen verdiend.

En jy kan as mens dit slegs GLO. Dit aanvaar, omdat die HERE dit vir jou beloof het. Jy kan nie meer doen as om AMEN op sy beloftes te sê nie. En selfs so'n geloof moet nog deur God aan jou gegee word: "O, as ek nie sou gelo het...... "

Jy kan alleen maar nog meer jou toevlug tot die God van genade neem: "Wag op die HERE. Wees sterk en laat jou hart sterk wees. Ja, was op die HERE!" (vs. 14)

Familie, broeders en susters, G.Kerkhoff het die hele Psalm 27 gekies vir ons om by sy dood te oordenk. Ook die tweede helfte.

En daarmee het hy aan ons elke moontlikheid om in hom te roem, ontneem. Psalm 27 dwing ons om ook van hom te sê, al was sy geloofsvertroue ook al hoe groot: ook hy was slegs 'n sondaar voor God, 'n swak en nietige mens, wat alleen van Genade kon lewe.

Ook hy moes GLO. Hy het niks goeds of sterks van homself gehad nie. Hy was volslae van God se goedheid afhanklik.

Nie vanweë sy eie sterke geloof of karakter het God Hom oor hom ontferm en in die moeilike jare krag en moed en blydskap gegee nie. Uit vergewende genade alleen.

Deur sy bewuste keuse van Psalm 27 wou hy ook nog na sy dood vir ons 'n getuie van die evangelie van genade alleen bly.

Soos die HERE hom tydens sy lewe, en veral die laaste jare, as 'n indrukwekkende getuie van sy goedheid gebruik het, so gebruik die HERE hom slefs na sy sterwe nog daarvoor. Met Psalm 27 het G.Kerkhoff van homself af weggewys, hy het op God gewys.

God se Woord roep ook ons almal op om die HERE tot die toevlug van ons lewe te maak, om 'n skuilplek te soek in sy huis, om die lewe te soek by Hom in sy kerk, by sy Woord, waar 'n mens aan sy eie skuld en magteloosheid ontdek word en waar God se genade alleen oorbly. Maar diè genade is dan ook genoeg!

God se Woord beloof dit.

Br. Kerkhoff se lewe bewys dit.

As ons dit maar net glo!!

AMEN

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)