God se kinders ken die verbond as pleitgrond

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Psalms 22
Preek Inhoud: 

PREEK OOR PSALM 22: 11

LITURGIE
Ps. 42: 6, 7
Ps. 42: 5
Ps. 22: 4 na die doop
Ps. 71: 4, 5, 9
Ps. 56: 3
Ps. 139: 7, 8
L. Psalm 22

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

'n Kerkdiens soos vanmôre, met daarin die bediening van die heilige doop aan twee klein babatjies, kan vir ons die gevoel gee ons is vir 'n oomblik uitgetel bo die dikwels beangstigende werklikheid van die wêreld waarin ons lewe en waarin ons kinders gebore word en opgroei. So'n kerkdiens het iets van 'n eiland van rus in 'n woelige wêreld.

Môre, maar dalk vanaand al, is ons terug in die realiteit- 'n realiteit wat ons af en toe regtigwaar met vrees kan vervul. Vrees vir wat ons bo die hoof hang. Angs oor die toekoms van ons kinders, wat nou nog so onbekommerd in hul wiegies lê of vrolik pret maak of saam baklei. Hoe sal die wêreld lyk as hulle groot is? Ja, sàl hulle nog wel groot word?

Daar is mos baie spanning in hierdie wêreld. Ook in en rondom ons eie land. Stryd aan die grens, motorbomme en kleefmyne ontplof aanhoudend, die gees van die revolusie word gedurigdeur sterker.. Daar is ook baie goddeloosheid in hierdie wêreld en die gees van die normloosheid word ook in Suid-Afrika al hoe sterker.

As mens daaraan dink, en jy sien hoe dat die wêreld orals in beroering is, ja, hoe dat hierdie wêreld self eintlik een groot kernbom geword het maar nie minder 'n bom met dodelik geweld van geestelike aard nie, dan kan 'n gevoel van benouende onsekerheid jou bekruip. 'n Gevoel van angstige spanning.

Dan kan ook die vertwyfelde vra bo kom: waarom laat die HERE God dit met hierdie wêreld sover kom? Waarom laat Hy dit alles oor ons en ons kinders kom? Is God nog wel hier, of het Hy sy hande van ons afgetrek?

"My God, my God, U het my tog nie verlaat nie? "

Maar wie hierdie vertwyfling so nou en dan ken, broeders en susters, moet gaan verstaan dat 'n kerkdiens soos vanmôre juis alles te make het met hierdie kolkende wêreld. Hierdie twee staan nie los van mekaar nie. Maar ons God het hulle juis aan mekaar verbind. Want ons ontvang van die HERE sy Woord en die waarborg van die Doop daarby om dit vervolgens te leer gebruik in hierdie wêreld waarin ons lewe. In hierdie wêreld sal ons die God van ons Doop moet ken. As alle sekerheid rondom ons wegval, moet God se kinders hierdie een sekerheid oorhou dat hulle die water van die Doop op hul voorhoof ontvang het, waarmee ons hemelse Vader onderstreep het Hy het met ons 'n ewige verbond van genade gesluit, ons as sy kinders en erfgename aangeneem en daarom wil Hy ons met alle goeie dinge versorg en alle kwaad van ons afweer of ons ten beste keer. As God in 'n bruisende wêreld ver weg lyk, bly daar God se verbond as 'n vaste pleitgrond. Ons sal op daardie verbond by God appèl mag maak. Daarop mag ons ons God bly aanspreek. Soos Dawid dit in Psalm 22 gedoen het, die Psalm waaruit ons vir vanmôre ons teks gekies het. Ek het die boodskap van ons teks so saamgevat:

GOD SE KINDERS KEN DIE VERBOND AS PLEITGROND

  1. Hulle erken God se verkiesing
  2. Hulle verwag God se verlossing.

1. Waarom het Dawid "waarom" geroep, gemeente?

Wat was dit dat die man na God se hart sover gekom het dat hy dit uitgeskreeu het: "My God, my God, waarom het U my verlaat? Waarom verberg U Uself met u verlossing. Waarom laat U my bedags en snags roep en brul sonder om te antwoord? "

Ons weet nie wanneer, en dus: in watter omstandighede Dawid hierdie Psalm gemaak het nie. Was dit die periode waarin hy voortdurend moes vlug vir koning Saul? Toe hy soos 'n opgejaagde hond van skuilplek na skuilplek geswerf het?

Of was dit toe hy self koning geword het en toe hy deur sy eie seun Absalom uit sy residensie verdrywe is? Toe 'n deel van die volk aan die kant van Absalom hulle teen hom gekeer het en hom selfs klippe en modder, saam met vloekwoorde, nagegooi is?

Ons weet dit eenvoudig nie. Dit word uit die Psalm self nie mooi duidelik nie.

Maar dit maak nie so baie saak nie. Want die situasie waarin Dawid op die ou end sy "waarom? " hemel toe geroep het, is wel duidelik: Dawid het Gòd nie meer in sy lewe kan weervind nie. Hy het so baie swaar gekry, dat dit vir hom amper ondraaglik geword het. Hy het 'n speelbal vir Jan en alleman geword, 'n wurm wat mens sommer kan doodtrap. 'n Voorwerp van spot en veragting. As stiere en verskeurende leeus het hulle hom omsingel.

Maar dit moes wel beteken dat God nie meer met hom was nie! Waarom het die HERE dit anders sover met hom laat kom?

Dit alles het vir Dawid te veel geword. Hy het geen weerwoord op alle spot meer gehad nie. Alle feite het mos teen hom gepleit. God maak normaalweg tog nie so nie? Dawid het geweet hoe dat dit normaal was: "Op U het ons vaders vertrou- hulle het vertrou en U het hulle uitgered. Hulle het U aangeroep, hulle het op u vertrou en nie beskaamd gestaan nie" (vs 5, 6, ). Maar Dawid het tevergeefs op hulp gewag. Hy het die gevoel gekry asof sy God Hom van hom teruggetrek het.

In diè situasie het toe op die ou end daardie "waarom? " hom uit sy keel gewring: "My God, my God, waarom het U my verlaat? ".

Wat was dit nou eintlik, broeders en susters, hierdie "waarom? "

'n Opstandige klag? Roep Dawid die HERE ter verantwoording? Wil hy sy God moet nou maar eers teks en uitleg gee waarom Hy Dawid so aan sy lot oorgelaat het? Vra Dawid inlichting en toelichting omdat hy sy God nie meer kan volg nie? Ja, is Dawid besig om sy vertroue in die HERE op te sê?

Nee, so moet ons hierdie Psalm nie lees nie. Die toon van hierdie "waarom? " is anderste. Dawid sê die vertroue in God nie op nie, maar hy doen juis 'n klemmende beroep op sy God. Die woord kom uit die grond van sy hart. Hy wil sê: o God, dit kan so nie bly aangaan nie! U kan my in hierdie ellende toch nie laat bly nie? U moet nou verandering in die situasie bring, want ek hou dit nie langer uit nie.

As Dawid sy klag na die hemnel opsend, is hy nie besig om die HERE los te laat nie. Inteendeel, dan klamp hy hom juis des te sterker aab sy God vas. Hy bly op God se beloftes vertrou.

Op diè beloftes spreek hy die HERE aan. God sou tog met hom wees? So was dit tog belowe? God sou sy God wees en hy: die man na God se hart, God se gesalfde.

"Dawid het gedurigdeur groter geword, want die HERE van die leërskare was met hom" lees ons in die Bijbel (1 Kron. 11: 9), en dìt was normaal. So sou dit wees.

En juis daardie beloftes dryf Dawid tot sy "waarom? " "My God", sê hy, en daarmee herinner hy die HERE aan die hegte band tussen hulletwee. Hierdie band staan op die spel. Daarmee word selfs al die spot gedrywe. Wàt sê die spotters: (vs. 9) "Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!".

Dit is die feite war Dawid aan die HERE voorlê en u voel dat in Dawid se klag om verandering geroep word. Dit klop tog nie met mekaar nie: sulke mooie beloftes en dan hierdie feite! Dit kan tog nie die einde wees nie? U het dit anders belowe. U kan nie dit hierby laat nie.

In hierdie verband moet u nou ons tekswoorde gaan verstaan, gemeente. Wanneer Dawid so by sy God in beroep gaan en daarby die HERE herinner aan die band wat daar wel deeglik waar tussen hultwee lê, al steek ook spotters die draak daarmee, dan gryp Dawid terug na die begin van hierdie band.

Die band tussen die HERE en Dawid dateer nie eers van vandag of gister nie. Hierdie band is nie eers gelê toe Dawid koning geword het en die ark van die HERE Jerusalem toe gehaal het nie. Hierdie band het selfs nie eers ontstaan toe Samuel Dawid tot koning gesalf het nie.

Dawid gryp terug na sy eerste lewensbegin. "Van die skoot van my moeder af is u my God!". Dawid was nooit sonder God nie. Sonder God sou hy daar nie gewees het nie.

In Psalm 139 het hy onder woorde gebring hoe die HERE vanaf die allereerste begin by sy lewe betrokke was: "Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie".

Soseer ken Dawid die HERE as sy God.

En daaraan herinner hy ook hier, in ons teks. God was in die kraamkamer. God het die kind ter wêreld gehelp. Dit was Vader in die hemel, wat die kind aan moeder se bors gelê het (vs. 10).

Maar tegelyk het moeder die kind ook weer in Vader se arms teruggelê (vs. 11), aangesien sy geweet het dat haar kind net van God se sorg kon lewe. Vanaf moeder se skoot was daar Vader se sorg. Toe alreeds was God sy God.

Toe was daar mos die verbond wat God met Abraham, sy vrind, begin het en wat Hy sindsdien van kind tot kind bevestig. Dawid weet homself in daardie verbond vanaf die moederskoot opgeneem. Die teken van daardie verbond dra hy in sy besnede vleis.

Te midde van alle ellende bly Dawid aan hierdie verbond vashou. Want hy het God se verkiesing in sy lewe gesien. Watter mens kan mos sy eie geboorte reël en sy eie ouers kies? Dit is God wat kies, in sy welbehae. God skryf van te vore die lewensboek en Hy slaan die eerste bladsy op wanneer Hy dit wil.

Dawid het dit erken. Maar juis daarom herinner hy die HERE aan daardie begin van sy lewe, waarin God se verkiesing sigbaar geword het. Dawid het dit nie aan homself te danke dat God sy God wou wees nie. God wou dit tog self so?

Dawid weet dat hy dit nooit werd was om God se kind te wees nie. Al nie vanaf die moederskoot nie. Want vanaf die moederskoot was daar nie alleen die HERE nie. Daar was ook iets anders. Dwaid het dit in Psalm 51 bely: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, in sonde het my moeder my ontvang". Die sonde was ook meteen daar.

Dawid het vanaf die moederskoot al nie anders as God se toorn verdien. Maar toe het God nogtans sy hande uitgestrek met die belofte: die verbond met Abrham, my vrind, bevestig Ek ook in hierdie kind. In sy verkiesende liefde het God, wat so baie mense in sy welbehae verbygaan en in hulle sondes laat lê, Dawid gebore laat word in die volk van sy keuse. Heeltemal onverdiend was daar meteen by die geboorte God se reddende hand. En Dawid is saamgeneem op die weg van die verbond, die weg waarop die verkiesende God sy kinders saamneem na die nuwe Jerusalem toe, terwyl Hy alle ander mense die weg hel toe laat afloop.

Dawid het die reddende hand van die verkiesende God aan die begin van sy lewe gesien. Maar sou hierdie hand van die HERE dan nou uit sy lewe weg wees? Dit kan tog nie so wees nie!

'n Kragtiger pleitgrond kan God se kinders teenoor die HERE nie aanvoer nie, gemeente.

Waaraan kan ons die HERE beter herinner as aan sy eie verkiesing? Want verkiesing- dit is geen noodlot bo jou lewe nie. Verkiesing beteken nie: jy is uitgelewer aan God se willekeur omdat elke bladsy van ons lewensboek tog alreeds volgeskrywe is nie. Maar God se verkiesing is in ons lewe die genadige, reddende hand van Vader wat ons vol liefde al beetgekry het toe ons nog nie die minste benul daarvan gehad het nie, en wat ons op die weg na die heerlikheid toe geset het. Heeltemal onverdiend.

Hierdie hand moet ons nooit uit die oog verloor nie, broeders en susters. Dit was daar toe die HERE ook u tot sy verbond geroep het, by u geboorte uit gelowige ouers, of toe later die roepstem van die evangelie in u lewe gekom het. Daardie kiesende, reddende hand het in u doop tasbaar geword, toe God belowe het dat Hy ewig u genadige Vader wil wees wat u u sondes nooit meer sal toereken nie en wat ons as sy geliefde kinders en erfgename met alle dinge vir liggaam en siel versorg. In sy vrye keuse het God self die band tussen Hom en u gelê. Daaraan mag ons ons nou vasklamp as in hierdie wêreld alle sekerhede wegval en die vonk in die kruitvat spring. Ons sing tog gereëld as die Doop bedien word: "Die HEER wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie". Hierdie sekerheid mag ons oorhou: die onwankelbaarheid van God se verbond, waaragter die wonder van sy vrye keuse skuilgaan.

As dan die wrede werklikheid ook ons tref, as ook een van ons geliefdes by 'n bomontploffing sou sterf of beseer raak, as die vredesbesprekings m. b. t Angola tog misluk en 'n kommunistiese invasie ons land oorspoel, as 'n revolusie deur die A.N.C. slaag en daar in Suid-Afrika net 'n een party-diktatuur oorbly, as ons kinders daeliks teen 'n gees van revolusie en normloosheid oploop, as ook ons en ons kinders eendag dalk in skippies die see op moet vlug of in heropvoedingskampe teregkom, of gemartel word vanweë die belydenis van Christus se Naam- sal u dan aan die hand van u God bly dink, wat daar al was aan die begin van u lewe? Die hanmd, wat God na sy eie keuse na ons uitgesteek het. Dink u dat God sy kinders wat Hy eers met soveel liefde in die moederskoot geweef het, sommer weer sou loslaat? Dat Hy hulle uit die oog sou verloor?

Daar staan heelwat bladsye in sy boek van ons lewe wat vir ons nie gemaklik is nie. U kan almal daaroor meepraat. En daar kan nog veel moeiliker bladsye volg. Maar ons moet nooit vergeet dit was 'n Vàderhand wat in liefde elke bladsy van te vore vol geskrywe het, en wat nou met bewöenheid elke nuwe bladsy opslaan nie.

As dit dreig dat die ellende u oor die hoof groei, moet u u dìt altyd bly herinner. Dan moet u ook u God daaraan maar bly herinner.

2. Dit het Dawid mos ook gedoen. Die erkenning van God se verkiesing vanaf sy eerste lewensbegin het Dawid nie tot 'n gelate berusting in sy lot gebring nie. Hy het nie maar alle ellende lydsaam oor hom laat kom nie. Het het in hoër beroep gegaan!

Daardie verbond, die band wat God self alreeds vanaf die moederskoot kiesend gelê het, daardie verbond word die pleitgrond waarop Dawid om verandering gaan roep. Die wetenskap dat God al in die kraamkamer was, dryf Dawid tot sy "waarom? ". My God- U kan my tog nie heeltemal verlaat nie? Ek weet nie anders nie of U was daar altyd in my lewe. Hoekom is U dan nou so ver weg?

"Van die moederskoot af is U my God- so: wees nie ver van my af nie want die nood is naby en daar is geen helper nie" (vs. 12).

Dit kan so nie altyd bly nie, so, dat ek die gevoel het U het Uself van my teruggetrek. Dat U u hande van my afgetrek het. U het nog nooit in die bekommernis verag, verfoei hom wat ellendig is. Hulle mag tog nie met die band wat daar tog rêrig tussen U en my lê, bly spot nie? U liefde vir my mag tog nie in twyfel getrek word nie? U kan my nie vir goed loslaat nie!

So, gemeente, mag 'n verbondskind by God in hoër beroep gaan en op die verbond pleit, aan die Doop herinner. Ons mag dit vir die HERE sê dat dit nie vir ewig kan bly soos dit vandag met ons is nie. Daar is immers anders aan ons belowe!

Herinner die HERE maar aan sy beloftes van werklike wêreldvrede, van die koms van die ryk van sy Seun. Sê dit maar vir u God dat Hy belowe het om alle trane van die oë te sal afvee en om alles nuut te sal maak. Wys Hom maar daarop dat daar ooreenkomstig sy beloftes eendag geen dood en geen rouw meer sal wees die en dat die duiwel en al sy bose geeste in die poel van vuur en swawel gewerp sal word.

Ons is dan nie oneerbiedig en brutaal nie, maar dan pleit ons op die verbond wat God Self met ons gesluit het. Daardie verbond leer ons tog om die verlossing te verwag!

So as die wêreldbrand sou uitbreek, moenie die vertroue in die God van u Doop verloor nie. Maar bid maar des te vuriger: Laat u koninkryk kom- dit moet kom, HERE, want U kan dit nie so laat soos dit nou is nie. Ons Doop leer ons dit mos anderste!

God kan so'n gebed nie ignoreer nie, broeders en susters.

Hy kon dit al nie by Dawid nie.

Maar Hy kan dit nou heeltemal nie meer nie.

Want die roep van Psalm 22: "My God, my God, waarom het u my verlaat? " het nog 'n keer van die aarde na die hemel geklink en u weet: toe het dit uit die mond van Dawid se Seun wat tegelyk God se Seun was, gekom.

Maar toe Hy dit geroep het, het daar drie bange ure van werklike godverlatenheid aan vooraf gegaan. God se hand het Dawid nooit heeltemal losgelaat nie, al het dit ook so gevoel. Maar God se hand het hom wel heeltemal van Christus teruggetrek en Hy is deur God verlaat, so totaal dat Hy drie ure vol ewige toorn moes dra en moes neerdaal tot op die bodem van die hel.

Maar toe Hy dan ook na daardie drie donkere ure sy roep om verandering hemel toe geroep het, het God verandering gebring, nie net vir hierdie een Seun van Hom nie, maar vir al sy kinders. Toe Christus dit uitgeskreeu het: "My God, My God, waarom het U My verlaat? " is ons deur God aangeneem om nou ook nimmermeer deur Hom verlaat te word nie. Christus het ons God vir altyd na ons toe teruggeroep. En sindsdien was God nooit meer onvindbaar nie.

Sindsdien klop geen verbondskind meer tevergeefs by God aan nie. Ons verwagtings kan nooit meer smoor in die roue feite nie. Ons kan met die God van ons geboorte altyd verder. Nooit kom die dag waarop ons geen weerwoord meer het nie. Nooit kan moeites of mense ons ons verwagtings uit die hande slaan nie.

Want wat ook al mag gebeur, wat ons en ons kinders in hierdie wêreld ook al te wagte staan- God trek Hom nooit meer van ons terug nie, maar bring ons met vaste hand dwarsdeur alles heen na die beloofde verlossing toe.

AMEN.

(Pretoria 31 Julie 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)