Die almagtige God gee antwoord aan die berisper Job

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 40
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOB 40: 1, 2 EN 42: 5, 6

LITURGIE:
L. Job 38 en 39: 34-38
Ps. 65: 4, 5
Ps. 65: 2
Ps. 96: 1, 3, 4
Ps. 131
Ps. 104: 19-21

Broeders en susters,

'n Paar weke terug, toe ons as gemeente skielik in skrik en rou ondergedompel is, het ek na die boek Job gegryp om van daaruit met u na te dink oor God se hand in ons lewe.

Ons het daarby veral op die begin van hierdie Bybelboek gekonsentreer: die ellende wat die satan onder God se toelating oor Job se lewe mog uitstort, die bewonderenswaardige wyse waarop Job sy verdriet verwerk het.

Ek wil nou ook graag die laaste gedeelte van die boek Job met u lees. Want die gelowig berustende Job van die eerste hoofstukke, het in die hoofstukke daarna al hoe onrustiger geword. Ja, sy geloof het in 'n sware krisis beland. Die "waaroms" het by hom bogekom. Dit wat gebeur het, was die hand van die HERE in sy lewe; Job het dit bly glo. Maar waaróm het die HERE dit gedoen??

Daarin was Job 'n mens soos ons.. Dié vrae kan ook ons as gemeente in hierdie weke besighou, nou dat die een verdriet na die ander ons tref. So kort na mekaar twee aangrypende sterfgevalle, en nou vandag weer die onttrekking aan die kerk deur 'n broeder wat 'n paar jaar terug nog as ouderling in die gemeente gedien het. Waarom maak God so met ons? !

Vir Job het dié vraag toenemend 'n obsessie, 'n kwelling geword. En hy wat in die eerste hoofstukke sy God in weerwil van alles nog kon aanbid, het op die ou end sy God begin aanklá.

Die simpele logika van sy vriende weier Job om te aanvaar- asof sy lyding sy verdiende loon sou wees. Nee, Job reken die HERE het sonder oorsaak sy geluk vergal. Hy eis daarom op die ou end selfs dat die HERE rekenskap gee.

Nou maar goed, die HERE sál op Job se eis ingaan. Hy doen dit in die hoofstukke wat ons vanmôre opgeslaan het. Maar hoe!

Ook daarna wil ek met u luister. Want God se antwoord aan Job is tegelyk 'n antwoord vir ons. 'n Antwoord wat ons leer om die HERE as Gód te bly eer.

Ons hoor in ons teks:

DIE ALMAGTIGE GOD GEE ANTWOORD AAN DIE BERISPER JOB

  1. SY ANTWOORD MAAK JOB KLEIN
  2. SY ANTWOORD HOU JOB VAS

1. As daar een ding is wat gou duidelik word uit die spreke van die HERE, broeders en susters, dan is dit dat sy antwoord baie beslis geen verantwoording is nie. God gaan gee vir Job geen rekenskap oor sy doen en late nie. En daar word geen "waarom" weggeneem nie.

Daarvoor het Job wel gevra. Hy het fel begeer dat die HERE Hom sou laat hoor. Dat die HERE maar sou laat weet as daar iets nie reg was in Job se lewe nie.

"Klaag dan maar aan, en ek sal antwoord", het hy die HERE gesmeek in 13: 22. Ja, dit mog van Job ook wel andersom: "of ek sal spreek, en gee U my antwoord".

En in hoofstuk 31, toe Job teenoor sy vriende bly volhou het dat God nie oor 'n spesiale sonde hierdie ellende hom aangedoen het nie, het hy op die ou end hartstogtelik die HERE uitgedaag om dit maar te kom vertel as dit wat hy gesê het, nie reg was nie. Hy het dit na die hemel geroep (vs. 35): "Laat die Almagtige my antwoord", en vir sy skynheilige vriende verseker dat hy as 'n vors na die HERE toe sou aankom.

Job het homself wel teenoor die HERE durf verantwoord, maar kon die HERE Hom ook teenoor Job verantwoord? ! Het Hy Job geen onreg aangedoen nie? "Ek is regverdig", meen Job, " maar God het my my reg ontneem". En hy wou baie graag hoor wat of die HERE daarop te sê het.

Maar wanneer die HERE dan eindelik sy mond oopmaak verloop dit heel anders as wat Job gedink en gesoek het. Pleks van dat hy na God toe kom soos 'n vors, kom die HERE na hom toe in 'n oorweldigende donderstorm. En Job kry nie kans om selfs maar een van al sy vrae vir die HERE te vra nie. Want nie Job gaan vrae vra nie, maar die HERE. En in plaas van dat die HERE Hom teenoor Job verantwoord, moet Job hom teenoor die HERE verantwoord:

"Gord tog jou heupe soos 'n man"- ons sou sê: "Staan jou man", "Ek sal jou ondervra en onderrig jy My".

En dan kom die vrae, aanmekaar.

En Job mag antwoord gee. Maar Hy weet nie een nie. Hy moet op elke vraag die antwoord skuldig bly.

Ons het saam gelees hoe majesteitelik die HERE sy ondervraging in hoofstuk 38 begin het: "Waar was jy, Job, toe Ek die aarde gegrond het? " Dit is tog om dadelik deur die grond te sak as die Almagtige so begin! "Wie het die afmetinge van die aarde bepaal, Job, waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? "

"Het jy al ooit, solank as jy lewe, die môre ontbied, kan jy soggens vyf minute vroeer die dagbreek laat kom? ". "Kan jy dan dalk die sterre bestuur, of die bliksem oor die wêreld uitstuur? "

"Het jy deurgedring tot die skatkamers van die sneeu, of kan jy die hael oor die aarde uitstrooi. Sorg vir 'n reenbuitjie, miskien? ....... "

En Job moet, terwyl die storm rondom hom loei, op elke vraag 'n beskaamde "nee" laat hoor.

Tog gaan God aan met vrae vra. Hy laat in hoofstuk 39 voor Job se oog die dierewêreld verbygaan: "Kan jy prooi jag vir die leeuin, Job? Of die honger van die welpies stil maak? Kan jy 'n perd se nek met maanhare beklee? Of die adelaar bevel gee om hoog op die rotse sy nes te bou.......? "

So het die een vraag na die ander gekom. Net so lank totdat Job besef het dat hy by hierdie Almagtige God, die Skepper van hemel en aarde, in die niet versink.

Wanneer die HERE tenslotte vir Job kans gee om sy vrae vir die HERE te vra: "Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys hierop antwoord!"- dit klink omtrent soos: "Nou maar goed, jy wou mos iets vir My vra, Job. Was daar by jou nie verwyte aan my adres nie? Jy kan maar praat"- weet Job niks anders meer om te sê nie, as: "Kyk, ek is te gering, wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond".

Job het deeglik leer besef hoe klein hy teenoor hierdie groot God is. Hy durf sy mond nie weer oopmaak nie.

Maar -en dit is die opvallende van ons teksverse in die begin van hoofstuk 40, gemeente, nou gaan die HERE nog altyd aan met vrae vra. Ja, dit lyk asof die HERE, alhoewel Job sy kleinheid inmiddels ingesien het, gewoon opnuut begin.

Weereens klink dit: "Gord tog jou heupe soos 'n man -staan jou man, Job-". En dan volg daar weereens 'n hele vraestel wat 'n mens klein maak: "Het jy dalk 'n arm soos God? Kan jy donder met die stem soos Hy? Kan jy diere soos die seekoe maak? Sal jy met 'n krokodil speel soos met 'n voëltjie speel? ".

Ensovoort ensovoort.

Waarom maak die HERE so? Waarom hou Hy nou nog aan met Job klein te maak?

Wel, God kom met die tweede vraestel, omdat Hy met die eerste antwoord van Job nog nie tevrede is nie. Ja, Job besef nou wel sy eie kleinheid, maar hy het tog nog 'n verkeerde siening met betrekking tot God se grootheid.

Want Job het lankal geweet dat God groot, ja Almagtig is. Teenoor Elifaz, Bildad en Sofar het Job meer as een keer self daarvan getuig hoe groot en onnavolgbaar God die HERE is. En toe het Job ook op die Skepping gewys. Byvoorbeeld in hoofstuk 9 (vs. 5 e. v. ): " Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat bevel gee aan die son en hy gaan nie op nie... " Al eerder as die HERE het Job self gewys op die sterrebeelde, die Beer, die Orion en die Sewe-ster, en dit erken: "Hy doen groot, ondeurgrondelike dinge, wonders sonder tal".

Job het self vir sy vriende vertel van God se hand in die dierewêreld (hoofstuk 12: 7 e. v. ), van die visse en die voëls. En Job het ook melding gemaak van God se grootheid in die wolke, die winde en die water: kyk die slot van hoofstuk 26 en die slot van hoofstuk 28.

Wat dit betref het die HERE feitlik dus niks nuuts vir Job vertel nie.

Maar, tot op hierdie oomblik het Job uit God se grootheid steeds 'n verkeerde gevolgtrekking gemaak. Hy het God se grootheid en onnavolgbaarheid verklaar as 'n saak van blote MAG. God het in Job se oë soiets soos 'n tiran geword van wie jy dit tog nooit sal kan wen nie; in wie se willekeur jy maar gelate moet berus omdat jy tog altyd aan die kortste end is.

Baie duidelik klink dit uit Job se mond in 9: 19, waar Job nadat hy op God se grootheid gewys het, sê: "Kom dit aan op die krag van die sterkste- hier is Ek, sê God. En kom dit op reg aan- God sal sê: wie kan My dagvaar? ".

Vir Job het dit gevoel hy was uitgelewer aan 'n grillerige God by wie protesteer by voorbaat sinloos was en aan wie mens jou maar blindelings moes onderwerp.

En dis dié dat God met Job se eerste reaksie op sy openbaring nog nie tevrede is nie. Job se reaksie klink nog teveel soos: "Nee toe maar, ek sal wel swyg. Teenoor U kry ek tog nooit gelyk nie".

Maar só wil God nie gevrees word nie!

Want in dié houding lê nog altyd verskuilde kritiek. Die mens lê dan die maatstawwe m. b. t. wat reg en wat verkeerd is, by homself.

Job bly feitlik die HERE beoordeel volgens sy eie menslike siening oor goed en kwaad, oor dit wat eerlik en dit wat oneerlik is. En in sy hart bly hy dit wat God oor hom laat kom het, afkeur, maar hy swyg net daaroor omdat hy weet dat God tog nie sal luister nie.

Maar God wil hê Job moet so ver kom dat hy besef hy mág nie alleen geen aanmerkings op God maak nie, maar hy kán dit ook glad nie! Job moet leer insien dat Gods verstand en kennis, ongemeet, oortref al wat ons ken en weet. Ons is maar mense en ons kan met ons beperkte mensebegrip hoegenaamd niks teen die Almagtige inbring nie. Ons moet gaan verstaan dat 'n eiewyse mensie wat meen hy kan die Almagtige berispe, sy plek in God se skepping nie meer ken nie, die verhouding tussen God en die mens nie meer raaksien nie.

Kritiek van 'n mens op God kán glad nie. Dit is onbestaanbaar. Want God is so ver bo die mens verhewe dat Hy nie net die MAG het nie, maar nie minder die REG om te maak soos Hy wil sonder om Hom teenoor wie ook al te hoef verantwoord.

God wil dat Job weer heeltemal sy plek ken: slegs 'n skepsel van die Almagtige Skepper. Klei in die hand van die Pottebakker. Job moet so ver kom dat hy sê, nie: "Ek sal wel swyg!" nie, maar: "Wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheidtot in ewigheid!".

So sit God 'n mens op sy plek, broeders en susters, as jy in opstand kom teen God se doen en late in sy lewe. As ons met ons waaroms van die HERE verantwoording begin eis omdat ons hart sê: dit mos nie eerlik wat God nou gedoen het nie.

As iemand meen hy weet dit beter as God, sê God: "Doén dit dan beter as jy kan! Wie is jy, wat kan jy in vergelyking met My? " En so maak Hy ons klein. Hy slaan alle kritiese vrae uit ons hande, leer ons alle betwetery af en leer ons slegs die verhouding weer fyn raaksien: Hy God - ons mens. Hy Skepper - ons skepsel. Hy Pottebakker - ons slegs klei.

2. Maar as God op hierdie wyse Job klein maak, hou Hy hom terselfdertyd vas, gemeente. Want wanneer God Job so hardhandig op sy plek sit is die resultaat tog maar dat Job hom skaam oor sy vroeëre opstelling teenoor God en ootmoedig voor God op sy knieë kom. Hy sien in dat God inderdaad Gód is wat Homself nie teenoor enige mens hoef te verantwoord nie.

En dit is tog welbeskoud 'n wonder! Dat Job nou nog meer die HERE vrees en liefhet. As daar ooit 'n rede vir hom was om sy rug op God te draai, was dit mos nou. Sy geloof het in 'n uiters kritieke fase gekom toe die HERE die woord geneem het. Nou wou Job teks en uitleg hê. Nou het hy van God verlang dat Hy rekenskap sou gee. Hy moes sy beleid verdedig en agteraf as regverdig bewys en anders moes Hy dit dadelik verander. Ek reken dat Job se hart vinniger geklop het toe hy verstaan het dat God tóg van Hom sou laat hoor.

Maar hoe anders het God se antwoord geword! Was dit nie een groot teleurstelling vir Job nie? God het geweier om Hom te verantwoord. Hoe maklik sou dit vir God gewees het om Job nou te vertel wat ons alreeds vanaf die eerste bladsy van hierdie boek geweet het. Dat naamlik die satan die egtheid van Job se geloof bevraagteken het. En dat God daarom Job se geloof aan 'n proef onderwerp het. Om vir satan te bewys dat God se herskeppingswerk die proef kan deurstaan.

Dan sou Job in al sy ellende tenminste geweet het wat aangegaan het. Hy sou dan ongetwyfeld God se beleid goedgekeur het.

Hoe maklik sou dit vir die HERE gewees het om vir Job dié informasie te gee.

Maar God het dit nie gedoen nie. Geen vraagteken het in 'n uitroepteken verander nie. Alle "waaroms" van Job het "waaroms" gebly. Job moet net leer wat sy plek teenoor die Almagtige God is. In plaas dat God Job nou deur die proef heensleep deur vir hom 'n oomblik agter die skerms te laat kyk, maak Hy vir Job die proef en die beproewing nog des te swaarder. Amper spottend ontdek God Job aan sy kleinheid. Hy druk hom met die neus in stof en as.

Watter mens kan dit volhou om so'n God te eer en lief te hê? Sou 'n mens hierdie God nie vervloek en vir altyd jou rug op Hom draai nie?

As die satan dus ooit die kans gehad het om die geding met die HERE oor Job se geloof te wen, dan was dit nou wel. Want dit mag dalk so lyk asof die satan inmiddels lankal van die toneel verdwyn het, en dat die aanvanklike geding tussen die HERE en die satan verskuif het tot 'n geding tussen die HERE en Job. Maar inderwaarheid is die satan nog wel deeglik aanwesig wanneer die HERE op Job se uitdaging ingaan- al bly hy ook agter die skerms. Juis nou word dit baie spannend vir hom. Sal Job nou sy rug op die HERE draai?

Maar Job draai nie sy rug op die HERE nie, Inteendeel, hy buig eerbiedig sy kop en skaam hom oor sy eerdere opstandige taal. Hy erken dat hy eers nou die HERE regtig in al sy majesteit leer ken het - en dus ook homself in al sy kleinheid. Hy herroep sy woorde en het berou in stof en as.

Hy vrees die HERE regtig "verniet"! Sonder enige greintjie van selfsug. Job bly ook in hierdie moeilikste fase van die proef orent.

Ja, want God hoú hom orent. Juis wanneer Hy Job klein maak hou Hy hom vas. Ons het dit mos as die groot tema in hierdie Bybelboek gesien: Job het in alle beproewings nie uit homsélf orent gebly nie, maar God se herskeppende Gees het hom orent gehou.

Maar op watter wonderlike wyse doen God dus so, gemeente! Op watter indrukwekkende manier bring God sy herskeppingswerk in die mens tot stand en ontplooi Hy dit: feitlik doen die HERE nie meer nie as om Homself in al sy verhewenheid aan die mens vertoon en daardie mens aan sy eie neitigheid ontdek. God openbaar Homself feitlik maar net in al sy soewereine majesteit.

En dan blyk dit dat juis daarvan 'n herskeppende krag uitgaan. Dáárdeur kom mense in aanbidding op hul knieë.

So is God herskeppend besig: nie deur mense insae in heel sy beleid te gee nie, nie deur Hom deur die mens te laat nareken nie; maar deur die mens allereers weer die gevoel vir die regte verhouding tussen God en mens aan te leer.

Nie deur hoogmoedige en eiewyse mense medeseggenskap in sy leiding met hul lewe te gee nie, maar deur aan hulle voor te hou hoe klein hulle feitlik is. Dít bewerk herskepping, nuwe eerbied en ontsag vir God: in plaas dat mense hulle daardeur geërg van God afkeer, leer hulle Hom nog des te meer eer.

So werk God in hierdie wêreld, broeders en susters. So bring Hy 'n nuwe volk vir Homself bymekaar, 'n volk dat Hom weer liefhet met 'n suiwere absolute liefde. Die volk van die nuwe paradys.

Dit is dus die boodskap wat ons uit hierdie gedeelte van die boek Job mag leer: God hou aan met sy herskeppingswerk in 'n wêreld wat in sonde geval het, deur sy eie grootheid aan die mens te predik en deur die mens weer klein te maak voor Hom.

So werk God vandag nog altyd aan ons, so dikwels Hy ons met sy Woord in die Bybel aanspreek. Deur daardie Woord, wat sondags gepreek word, wat in die katkisasieklasse verklaar word, wat by u tuisgebring word, wat in siekekamers en op begraafplaase gespreek word, wat ons aan mekaar voorhou- daardeur vertoon die HERE Homself nog aanhoudend in al sy heerlikheid en majesteit aan ons. Hy spreek ons aan in ons moeites, ons pyn, ons verdriet en rou, ons eensaamheid, ons kwelvrae dalk oor sy leiding in ons lewe - en Hy neem die verdriet, die moeite, die pyn nié weg nie, Hy gee selfs geen verklaring vir sy doen en late nie, maar Hy herinner ons slegs indringend daaraan Wie Hy is: God, en geen mens nie.

Maar daarmee stoot Hy ons nie af nie, Hy hou ons daardeur juis vas!!

Want telkens weer blyk dit dat juis daardie majesteitlike Woord van Hom die krag besit om in ons die liefde vir God in stand te hou, ja. selfs te versterk en te verdiep. Juis deur ons klein te hou, hou Hy ons vas.

Ons mag wel sê dat God ons vandag op 'n ander wyse klein maak as Job destyds. Vandag klink God se stem nie meer tot ons uit 'n donderstorm nie. En Hy vertoon Homself ook nie meer net as die Almagtige Skepper nie. Hy het na ons toe gekom in sy Seun. En die Seun het Hom vir ons leer ken as ons genadige Vader wat alles in die lewe van sy geliefde kinders en erfgename laat meewerk ten goede.

Maar daarmee is al ons "waaroms" nog nie uit ons lewe weg nie. Die kwelvrae is dikwels nog lewensgroot. En dan sê God vir ons tog ook nie meer as: "Ek is Vader, jy kind- en dit moet vir jou genoeg wees. As Ek besluit dit is die beste, dan ís dit die beste".

Maar dit blyk vir God se kinders dan ook genoeg te wees. Want op hierdie wyse het God al talle kinders verwek, en verwek Hy nog aanhoudend kinders wat Hom vertrou en eer, in weerwil van alle verdriet en pyn en moeite en vrae, omdat hulle eenvoudig buig voor die feit dat net hierdie God Gód, hul Vader, is.

AMEN.

(Pretoria, 29 Julie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)