Job gee hom oor aan Sy Losser

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 19
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 84: 1, 2, 3
Ps 55: 1, 3
Ps 55: 7, 8
Skb 22: 1, 2, 5, 9, 10, 11
Ps 73: 9. 10. 11. 12
Lees: Job 19 Nuwe vertaling
Teks: Job 19: 25-27 Ou vertaling

Brs en srs, gemeente van ons Here Jesus Christus!

Met vandag se teks het ons al weer 'n hele ent verder geblaai in die boek Job.

Job is nog steeds in gesprek met sy vriende. Elkeen het op eie wyse en met eie woorde sy siening gegee op die situasie waarin Job gekom het. Maar hoe verskillend die vriende ook gepraat het, oor een ding moet hulle tog saamstem. Daar moet iets verskriklik fout wees in Job se lewe, want God kan dit wat Job oorkom het nie sommer aan 'n mens aandoen nie.

Ons het gehoor hoe Job teen hierdie siening protesteer. Hy pleit onskuldig. Sy ellende kan nie uit sy persoonlike sondes verklaar word nie.

Maar Job se liggaamskragte is besig om af te neem. Hy voel hoe hy op pad is na die dood. Hy word sieker en sieker.

Wat Job die meeste daarin pla is dat vir sy vriende sy dood alleen maar 'n bevestiging van hul gelyk kan wees.

As Job ook nog sterf dan is dit 'n definitiewe bewys van sy skuld.

Job kan nou nog praat. Hy kan nou nog sy saak verdedig. Maar straks, as hy dood is, dan is daar niemand meer wat sy saak bepleit nie. Dan gaan hy die geskiedenis in as die man wat gestraf is vir sy sondes maar wat nooit sy sondes wou erken nie.

Eintlik wil Job nog steeds bly praat en sy onskuld bly verdedig as hy dood is.

So kom hy dan in vers 23, 24 tot die versugting: Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word- met 'n ystergriffel en lood- vir altyd in 'n rots ingekap!

Hy soek 'n blywende getuienis van sy onskuld!

In ons teks van vanoggend kom Job skielik tot 'n veel dieper insig. Nie dooie letters in steen ingegraveer sal sy onskuld blywend bevestig nie. Nee, hy het 'n lewende getuie.

Hy het 'n Losser. Iemand wat vir hom intree om sy saak te verdedig.

Ons tema vir die preek is:

Job gee hom oor aan sy Losser

Hy betuig

  1. sy geloof in sy losser
  2. sy hoop op sy losser
  3. sy liefde vir sy losser

Die vorige keer het ons gehoor hoe Bildad die visie van die vriende van Job onder woorde bring. Hulle kan nie anders as vasstel: iewers agter Job se vrome uiterlik skuil 'n groot sonde. Dit moet so wees! Dit kan nie anders nie!

Toe Job bly volhou dat hy nie skuldig is nie, het Bildad vir hom gesê, Job as jy so daarvan oortuig is dan het jy 'n saak met God. Dan het God iewers in sy leiding 'n fout gemaak. Dan moet jy jou reg by Hom gaan opeis. Dan moet Hy jou weer in jou reg herstel.

Maar om God voor sy regbank te daag, dit het Job beslis afgewys. As Job God as teëstander moet ontmoet in 'n regsaak dan is Job nêrens. Immers dan gaan God ook van sy regte praat. As Job se regte teenoor God se reg gehandhaaf moet word dan weet Job dat hy weggevaag sal word. Nee, hy kan as hy voor God se aangesig moet staan slegs as 'n smekeling kom. Meer nie.

Immers Job is terdeë 'n sondaar. Job weet dit. Voor God se heiligheid kan hy nie bestaan nie.

Dat Job tog steeds onskuldig pleit is dan ook nie oor sy menslike sondigheid nie, maar dit gaan oor welbewuste oortredings van God se wet. Dit is ook wat die vriende van Job bedoel. Job moet heimelik in sonde geleef het. 'n Heimelike sonde van egbreuk. Of 'n heimelike sonde van diefstal of wat ook maar. Hy het iewers tog in sonde geleef. Sy vroomheid was ongelukkig net iets van die buitekant. Anders sou dit nie met hom gebeur het nie.

Wel, daarteen protesteer Job.

Hy soek herstel van die eer van sy naam.

Hy soek met 'n moeilike woord: rehabilitasie.

Dat sy naam gesuiwer word van die blaam wat daarop gekom het.

Job begin al hoe meer besef dat dit nie meer tydens sy lewe sal gebeur nie. Dit word al hoe minder waarskynlik. Daarom moet Job klaarkom met die gedagte dat hy as 'n eerlose man sal sterf. Dit maak vir hom die dood des te angsaanjaender. Daaronder voel hy miserabel.

In die situasie hoor ons hom skielik sê: Maar ek, ek weet: My losser lewe!

Aan die einde van sy lewe, moeggepraat en moeggedink en moeggestry, weet Job nie veel meer nie. Maar dit weet hy skielik, en hy weet dit baie seker: Maar My Losser lewe!

En daarmee klim Job uit bo die vlak van eerherstel in sy aardse lewe. Hy kan maar doodgaan, maar daarmee is sy saak nie definitief verlore nie.

Immers my Losser is lewende. Hy is die lewende! Hy is... Godself!

Ons moet nou iets sê van die woord Losser. Die woord kom meerdere kere in die bybel voor. Die bekendste plek is in die boek Rut, waar Boas as die losser van die familie Elimeleg optree.

'n Losser is iemand wat die saak behartig van iemand wat nie self in staat is om dit te doen nie. Dit kan 'n weduwee of wees wees, wat nie self in staat is om hul regte op te eis nie. Dan tree 'n losser vir hulle in.

God self tree ook soms as losser op. As mense hul pligte ten aansien van die sosiaal swakkere soos b. v 'n weduwee of wees nie nakom nie, dan tree Hy in as Losser en eis hul regte op.

In so'n situasie is ook Job. Hy is self nie sterk genoeg om sy reg te haal nie. Hy voel verontreg. Deur sy vriende, maar ook deur God. Maar hy is nie sterk genoeg om sy reg by God op te eis nie. God is vir hom te sterk.

En daarom soek hy na iemand wat hom kan bystaan. Hy soek na iemand wat vir hom kan intree by God.

Hy soek en soek, totdat hy tenslotte vind. Hy vind sy losser.

Wie kan namens hom by God pleit?

Wie kan sy reg by God gaan opeis?

Wie kan vir Job eerherstel gee as Job self nie meer kan praat nie?

Dit kan alleen Godself!

Net God is in staat om vir Job by te staan. Net God is die lewende wat lewe het in Homself. Net God kan Job se saak behartig.

En so spreek Job sy geloof uit in sy lewende Losser.

Ons met ons kennis van die nuwe Testamnet mag weet hoe reg Job hier in die kol is.

Hierdie Losser is Jesus Christus!

Seker. Alleen ons moet hier natuurlik versigtig wees om by Job reeds kennis van die Christus te veronderstel.

Job het vanselfsprekend nie geweet wat ons weet nie.

En tog praat hy van die Christus. Hy praat hier van die Middelaar wat God sal gee vir al sy kinders.

Job het nie geweet nie.

Maar God het wel geweet.

Ons sou dit so kon sê: Hier praat Job as 'n profeet.

God Self voorsien Job hier van 'n profetiese gees waardeur hy dit so kan sê.

En ook so kan ervaar. Want Job sê dit hier wel tot sy eie vertroosting, maar inmiddels is dit die Gees van God wat hom dit gegee het.

Hier bied Godself aan Job 'n geweldige troos.

Die Here gee hier aan iemand onder die Ou Testament 'n insig wat Hy eers veel later aan ander mense sal openbaar.

My Losser is die lewende!

Hy sal as laaste oor die stof opstaan., lees ons hier verder.

Dit is nie so'n maklik verstaanbare uitdrukking nie.

In die Nuwe Vertaling word dit weergeegee met: Hy sal uiteindelik triomfeer.

Dit is wel ongeveer waaroor dit gaan.

Ek vir my sou liewer die woord stof hier handhaaf as 'n herinnering aan die stoflikheid van die mens.

Stof is hy en tot stof sal hy terugkeer. Job voel op die oomblik sy vergankelikheid. Hy sal tot stof vergaan, maar sy Losser is die Lewende.

Die Losser staan bo die verganklikheid.

Soos die Here Jesus trouwens nadruklik op die Paasdag bewys het.

En dit maak hom tot 'n sterk Losser. Want sy opstanding is nie slegs 'n bewys dat Hy die Lewende is nie, dit is ook die bewys dat Hy vir die sondes van sy volk betaal het.

Hy kan wel na God gaan en as Losser intree.

Geen mens kan in die gerig met God bestaan nie, maar Christus kan wel.

En na Golgota hoef Christus nie meer as smekeling te kom nie. Hy kan sy reg opeis.

Hy kan daarby ook regte opeis vir sy kinders. Namens hulle tree Hy op en tree Hy in.

In hom is ons lewe veilig.

Ons kan soos Job soms amper verdrink in ons vrae oor God se leiding in ons lewe. Oor probleme wat ons na ons gevoel nie verdien het nie. Maar ons hoef nie self by God ons reg te haal nie. Daar is iemand wat dit vir ons doen. Die Iemand is Jesus Christus. Hy pleit voortdurend by God vir sy volk.

Hy doen dit nie as 'n smekeling nie, maar as een wat sy regte kan laat geld. Hy kan sê: Vader, hierdie mens is myne. Ek het vir sy lewe betaal. Bewaar sy lewe. Hou hom so vas dat hy nie sy geloof in my verloor nie.

2. Job getuig van sy hoop op die Losser

Na Job se geloof wil ons nou let op Job se hoop. Geloof gaan immers saam met hoop.

'n Gelowige sonder hoop is nie 'n gelowige nie.

Hoop, sê die Bybel, is sekerheid oor wat jy nie sien nie.

Hoop is 'n stellige verwagting op grong van God se belofte.

Job glo en het bely: my Losser leef!

Maar daaraan is vir hom tegelykertyd ook verbonde: maar dan sal ek ook leef.

As my Losser die lewende is en vir my intree dan sal Hy my ook die goeie laat sien.

Job sien met verlange uit na die dag waarop God openlik sal verklaar dit is nie 'n verborge sonde van Job wat die oorsaak van sy ongeluk was nie. Dit is nie my oordeel oor sy lewe wat Ek tot in 'n ewige verwerping sal vashou nie.

Nee Job glo: God sal eendag verklaar: Dit was my besluit. Dit was My welbehae. Ek het dit so gewil.

Nie om Job te veroordeel nie. Nie om hom te straf nie. Ek het My eie redes gehad.

Daarop hoop Job. Dit verwag Job.

Wat hy op die oomblik voel is dat die Here sy aangesig vir hom verberg.

Hy het soveel vrae oor God en oor die leiding van God in sy lewe, dat hy nou nie werklik met Hom kan kommunikeer nie.

Maar Job vertrou dat die dag gaan kom dat dit verby is. Hy sal God se aangesig weer sien.

Hy sal God se guns weer ervaar. Daarvan is Job seker.

God slaan hom tans. As was God 'n vyand van hom.

Maar hy sal God weer ten goede aanskou.

Sy lewe hier is gebreek.

Job het daarvan niks meer te verwagte nie.

Maar hy hou die hoop vas.

Die hoop van 'n kind van God. Ook al verstaan hy niks van wat tans met hom gebeur nie, hy bly hoop op herstel. Herstel van die lewe.

Die lewe, want dit is tog die kern van hierdie belydenis van Job. Hy het die lewe van God ontvang en hy sal die lewe weer ontvang.

Ek sal lewe, sê Job met die Nuwe Vertaling. Ek sal lewe en God sien!

God sien. Daar gaan die hoop oor in aanskouing.

God sien. In daardie uitdrukking bring Job die hoogste wat 'n mens kan beleef onder woorde. Dat hy God mag sien.

Dat hy God se vriendlik aangesig vir altyd mag aanskou.

Waar hier op aarde ons sig op God deur allerhande oorsake voortdurend beneem word, mag ons daar God sien.

Sig op God kan jou beneem word deur jou eie sonde.

As jy in die geheim aan 'n sonde vashou moet jy nie reken dat jy in jou gebed 'n oop verhouding met God kan bou nie.

Die sig op God kan jou ook beneem word deur allerhande probleme in die lewe.

Maar die grootste hoop van die opregte gelowige is dat hy eendag God mag sien. Dat sy hoop oorgaan in aanskoue. Dit laat hom volhou in 'n moeilike lewe op aarde. Dit laat hom volhard in 'n situasie waarin sy vrae hom nou enn dan amper onderkry.

Waar lewe is, is hoop, sê die spreekwoord.

Ek sou dit met Job liewer so sê: Waar hoop is, is lewe.

Want christelike hoop is die grond van die bestaan.

'n Christen wat sy hoop verloor verloor alles.

3. Job betuig sy liefde vir die Losser

My niere versmag van verlange, is die laaste woorde van ons teks.

Dit is nie dat Job vanweë sy siekte nierprobleme opgetel het dat hy so praat nie. Nee, om oor jou niere te praat, is die Israelietiese manier om 'n sterk emosie onder woorde te bring.

Ons sou eerder sê, (ook sonder aan hartprobleme te dink) my hart breek of my hart spring.

Job verlang na die ontmoeting met God.

Nog afgesien van die feit dat dit vir hom regsherstel beteken, sien hy baie uit na herstel van die gemeenskap met God.

Die gemeenskap van Job met God het deur Job se ongelukstoestand 'n geweldige duik gekry.

Hy het die goeie hand van God gedurende 'n lang tyd glad nie ervaar nie. Hy het gevoel asof die Here net in woede Sy aangesig van hom afgewend hou.

En tog bly hy uitsien na die gemeenskap met God. Job het sy liefde vir God nie verloor nie.

Sien u hoe hier die nederlaag van die Satan kompleet is?

God het Job hard geslaan. Job is gebreek. Maar Job het God nie vaarwel gesê nie.

Inteendeel, ons hoor hier hoe Job sy liefde vir God betuig.

U is die God van my lewe!

Ons kan hier dink aan die Here Jesus Christus.

Hoe het hy gesug op Golgota. Hoe is hy gebreek onder die ontsaglike toorn van God.

Maar selfs op die dieptepunt van sy lyde het hy God nie losgelaat nie.

As die duisternis swaar hang oor Golgota hoor ons hom roep:

My God! My God! Waarom verlaat u my?

Sal u u toorn vir altyd behou? My God, My God! Keer terug.

Dit is mos nou volbring.

Jesus het nie weggevlug van onder God se toorn nie.

Nee Hy het Hom gebuig onder die slaande hand van God. En tegelykertyd het hy die hand bly vashou as sy lewenslyn

Selfs toe Hy tenslotte sterf, sê Hy: Vader, in u hande beveel Ek my gees.

Hy het in die liefde van die Vader bly glo selfs toe daarvan niks meer te sien was nie.

Hy het self die liefde tot die Vader volgehou ook al het daardie liefde vir die oomblik skynbaar niks vir Hom opgelewer nie.

En daarvan kan ons leer, gemeente.

Daarmee kan ons verder.

Want elke mens kan in 'n situasie soos Job kom. Of in elk geval in 'n situasie kom, waarin hy van God se nabyheid en God se sorg niks meer ervaar nie.

Job het die hand van die Here vasgehou deur alles heen. Hy het selfs sy liefde vir God nie verloën toe die hand van God skynbaar teen hom gekeer was nie.

Ons het al eerder gesien dit was God se eie hand wat Job staande gehou het. Dit was Sy genade wat hom laat volhard het.

Ons as N.T.-gelowiges mag nog veel meer weet as Job.

Ons mag weet van ons Here Jesus Christus. Christus het vir ons in die allerswaarste lyde die hand van God vasgehou.

En daarom sal Hy ons ook in staat stel om die hand vas te hou. Ook al raak die lewe bitter swaar.

Hou goeie moed, gemeente!

Jesus Christus is oorwinnaar.

Hy sal sy skape deur alles heen vashou.

Bly in die geloof.

Hou vas aan die hoop.

En leef in die liefde. Amen.

(15 November 92 oggend)

Liturgie: 

(kyk in preek)