Job weier om sy God te vervloek

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 7
Preek Inhoud: 

Voor diens: Psalm 112: 1-7
Ps 66: 1, 2, 7
Ps 66: 8, 9
Ps 91: 5, 6, 7, 8
Ps 68: 9, 13, 16
Lees: Job 4: 1-11; 5: 17-27 (Elifas) Job 6: 24-30 (Job)
Teks: Job 7: 20a

Brs en srs, gemeente van Jesus Christus!

Daar is niks so moeilik as om mense te vertroos wat werklik verdrietig is.

Wat jy ook al sê, dit word verkeerd verstaan.

Of wat gewoonlik gebeur, jy dink jy het 'n goeie woord, maar jy maak die verdrietige maar net nog meer seer.

Jy sê b. v. " Ek verstaan wat jy voel". Maar die persoon wat die onheil getref het, dink: Onmoontlik, jy kan nie verstaan wat ek voel nie. En hy is vermoedelik reg.

Jy wil hom troos met te wys op die sorg van die Here. Niks gebeur by toeval nie, sê jy. Maar dit los die waarom-gevoel van die persoon met wie dit gebeur het nie op nie.

Jy probeer sê: Later sal dit weer beter gaan met jou. Dit sal waar wees, maar die ongelukkige sien glad nie uit na later nie. Vir hom het die lewe sy sin en doel verloor. Hy lan nie eens aan later dink nie.

Gewoonlik bied die mense die meeste ondersteuning wat nie te veel sê nie. Wat maar net daar is, en meeleef.

Vrome redenerings is die laaste waaraan 'n mens behoefte het in 'n situasie van wanhoop.

In die opsig het die vriende van Job nie sleg gedoen nie, deur net by hom te kom en daar te wees. Sewe dae en nagte lank.

Hulle het nie 'n woord gesê nie.

Totdat dit vir Job teveel geraak het. Want tenslotte het hy in hul swye 'n stille veroordeling gevoel.

Omdat hulle nie 'n woord van protes teen Job se lyde laat hoor het nie, het Job begin voel: hulle dink my lyde is 'n straf van God. Hulle voel, ek het dit op een of ander wyse self verdien.

En daarmee voel Job ten onregte veroordeel deur sy vriende.

In sy magteloosheid om sy onskuld te bewys vervloek Job dan sy geboortedag. Was ek maar nooit gebore nie!

Dan het niemand van my geweet nie! Niemand sou my dan ook van kwaad verdink het nie.

Op die vervloeking van sy geboortedag word deur Job se vriende weer gereageer. Elifas is die eerste wat praat.

En in sy woorde kom inderdaad uit wat Job gevoel het in hul swye.

Hulle dink daar moet 'n rede wees vir Job se ongeluk.

God is 'n regverdige God. Hy sal nie sommer iemand in die ongeluk stort nie.

In hul woorde is 'n nuwe verleiding vir Job om die God wat hom dit aandoen te vervloek. Maar in ons teks van vanoggend hoor ons hoe Job opnuut staande bly:

Job weier om sy God te vervloek

  1. Hy bely God se onaantasbaarheid
  2. Hy erken God se ondeurgrondelikheid

As ek gesondig het wat kan ek teen U uitrig, U wat die mens gedurigdeur oppas?

Om hierdie woorde van Job te begryp, moet ons hulle hoor teen die agtergrond van die spreke van Job se eerste vriend, Elifas. Elifas het lank gepraat.

In sy spreke het ons veel voortreflike dinge gehoor oor God.

Tal van opmerkings wat hy gemaak het, is beslis waar en die moeite werd om oor na te dink.

En tog as ons die hele toespraak van Elifas 'n paar keer lees, ontdek ons dat daar een sentrale gedagte is wat sy hele spreke beheers.

Die gedagte kom hierop neer:

God seën die mens wat vroom is. God straf die oortreder van sy gebooie.

Of nog iets botter omskryf: Dit gaan goed met die goeies, maar dit gaan sleg met die slegtes.

Elifas bring in sy woorde hier en daar enige nuanse aan b. v. hierdie: Soms gaan dit met 'n slegte mens 'n tydjie voorspoedig. Maar tog, dit kan net skyn wees. God gryp in en dan skielik gaan alles verkeerd. Sy kinders raak bitter ongelukkig (5: 3-6).

Hierdie gedagte is vir die vriende van Job 'n sleutel wat op elke probleem moet pas. Met die vrome gaan dit goed, maar die slegte mens kom in probleme.

Wel, as ons dan kyk na jou situasie Job, dan hoef ons seker nie meer soveel te sê nie.

God is nie onregverdig nie (4: 7-Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom en waar is opregtes verdelg? ).

Dus Job, die saak is in beginsel duidelik. Die fout moet iewers by jouself lê.

Wat jy ook al gedoen het: Bely liewers jou skuld. Dan kan jy weer seën van die Here verwag.

Hoor u gemeente, die redenering van Elifas is volstrek duidelik. Hy het eintlik ook nie 'n probleem met die lyde van Job nie. Goed, dit is sy vriend. Om 'n vriend so te sien ly, maak seer. Hy het vir Job iets anders gegun.

Maar vir Elifas pla nie die waarom-vraag nie. Elifas sien hier nie wat ons soms as die groot lewensraaisel voel dat dit met sommige mense sonder dat daarvoor enige rede aanwysbaar is, sleg gaan nie. En dat ander mense, alweer sonder enige verklaring, voorspoedig is.

Vir Elifas is die lewe volstrek oorsigtelik. Alles wat gebeur het 'n verklaring.

As dit goed gaan met iemand, dan verdien hy dit.

As dit sleg gaan met iemand, dan verdien hy dit ook.

So 'n kyk op die lewe beantwoord natuurlik heel goed aan ons menslike gevoel van regverdigheid. Ons kan daarby selfs pragtig God inpas. Want God is dan altyd heeltemal reg. Ons kan Hom teen enige protes van mense verdedig. Soos Elifas dan ook doen.

En daarmee verkondig Elifas hier die evangelie van die begryplike God.

Jy verstaan as Hy slaan. Jy verstaan as Hy weer reghelp.

"Kyk dit het ons nagespeur, so is dit; hoor dit en neem jy dit ter harte" so sluit Elifas sy woorde af(5: 27).

Weet u brs en srs, waarop die verhaal van Elifas eintlik neerkom?

Het ons dit ook nie eerder gehoor nie?

Dit gaan goed met die vrome... God seën hom van alle kante...

Dit is die Satan wat so beweer het!

En Satan het daaraan die gevolgtrekking vasgeknoop: Die mens, enige mens dien God omwille van die voorspoed wat dit vir hom oplewer. Ook Job. Dit is nie verniet dat Hy God dien nie. Kyk, hoe ryk het U hom self gemaak!

Elke mens het 'n soort van kontrak met God.

Dien God, dit is jou kant. Hy moet jou seën. Dit is Sy kant.

Dit is die boodskap wat die vriende aan Job oordra.

Sê nou, gemeente, dat Job hierdie gedagte oorneem.

Weet u wat die gevolg sou wees?

Dan kon Job nou summier God vervloek!

Immers Job is seker, van sy kant is daar niks waarin God aan hom kontrakbreuk kan verwyt nie. Job het nie in die verborgene teen die Here gesondig nie.

Maar dan moet die ramp van sy lewe 'n saak van kontrakbreuk van God se kant wees!

Dan het God hom nie aan die afsprake gehou nie.

Dan het God aan Job onreg gedoen.

En aan 'n God wat onreg doen het Job geen boodskap meer nie. So'n onregverdige God kan jy beter vandag nog vaarwel sê.

Tog is dit nie wat Job doen nie.

Hy gee 'n antwoord aan Elifas. Daarin gaan hy in op die saak soos hulle dit sien.

Hy sê: My beste vriende, sê nou, julle is reg daar.

Ek doen 'n sonde. En onmiddellik staan die Here klaar en straf my.

Ek pleeg 'n oortreding. Daar hardloop die Here om my 'n pak slae te gee.

Ek hoop brs en srs, dat u Job se argument kan volg. Hy sê vir sy vriende: As julle reg is met julle gedagte van onmiddellike straf na elke sonde, dan sou ek dus eintlik 'n sekere mag oor God oefen.

Dan sou ek God kon laat hardloop om my te straf.

En andersom, sou ek God kon verplig om my te seën.

Maar dit wil ek van God nie glo nie.

Wat is die mens dat hy soiets sou kon bewerk by God?

In die verband moet ons nou die woorde van ons teks verstaan:

As ek gesondig het, wat doen ek U aan?

Kan 'n daad van my, God so raak dat Hy my moet straf?

My sonde kan tog nooit 'n verklaring wees vir die slaande hand van God nie. God is mos te groot daarvoor om agter elke mens aan te hardloop met straffe en met seëninge.

Niemand het die reg om die lyde van 'n mens te verklaar as direkte oordeel van God oor sy lewe nie.

Ewemin as ons uit die sukses van sekere mense in die wêreld die konklusie mag trek dat God blykbaar in hul lewe 'n welgevalle het.

God is onaantasbaar. Die raaisel van die lewe is nie vanuit die mens verklaarbaar nie.

Ook nie die raaisel van die lyde nie.

Selfs die lyde van Jesus Christus is nie verklaarbaar vanuit die mens nie.

Seker, Jesus moes ly en sterf vanweë ons sondes.

Maar dink nie dat dit 'n noodsaaklikheid was vanuit die sondigheid van die wêreld nie.

Onthou hoe die Here Jesus in die hof van Getsemane gestaan het. Skielik het Hy hom heeltemal gerealiseer wat die lyde gaan beteken.

Was daar enige noodsaaklikheid, enige noodwendigheid dat dit deur moes gaan? Was dit so dat God sy toorn wel op iemand moes ontlaai?

Nee, daar was nie so'n noodwendigheid nie.

God kon die sonde laat vir wat dit was. Hy kon dit onversoend laat.

Jesus Christus op sy beurt kon hom terugtrek uit die voorliggende lyde.

God is onaantasbaar. Hy hoef sondes nie te straf nie.

Hy kan mense maar netso in die ellende laat waarin hulle hulself stort.

As Hy Hom ondanks dit tog met mense bemoei dan is dit nooit verklaarbaar uit die mens self nie. Ook nie uit die sondes van die mens nie. Daarvoor is God te hoog verhewe. Hy is onaantasbaar in sy heiligheid. En tog bemoei God Hom met mense, hoe en waarom sien ons in punt 2.

2. Job erken God se ondeurgrondelikheid.

God is dus onaantasbaar. Al doen 'n mens die vreeslikste sonde, jy kan God daarmee nie skade doen nie. Dit het Job erken.

Maar dit is nie die enigste wat ons van God kan sê nie.

Let op hoe noem Job God. "Mensebewaker". " U wat die mens gedurig oppas".

God hou Hom dus nie sover van die mens dat Hy Hom met niks bemoei nie. Inteendeel. Hy bemoei Hom terdeë met die mens.

Alleen nie op die manier soos Elifas-hulle gedink het nie.

Goeie daad: seën. Sonde: afstraffing.

Wat is die mens dat u na hom omsien? vra die digter van Psalm 8.

Daarin lê die erkenning van die kleinheid van die mens (wat is die mens? ) en tewens die vasstelling dat God dan tog maar na die mens omsien.

Wel, dit is nou die wonder van die Verbond!

Let wel die wonder!

Want dit is 'n wonder dat daar so'n verbond is.

Die bestaan van die Verbond is vanuit die mens nooit verklaarbaar nie. Jy kan net met verwondering vasstel, die Verbond is daar. En God kom daarin met beloftes van seën en dreiging van vloek.

Alleen met betrekking tot seën en vloek is dit nie so eenvoudig om te sê: Voorspoed- dit is seën van God. Teëspoed- dit is 'n straf van God.

Nee, daar kan 'n seën wees in welvaart. Maar dit kan ook 'n vloek wees.

Daar kan 'n seën wees in swaarkry. Maar daarin kan ook 'n oordeel oor jou kom.

Maar dit is deur ons nie na te reken nie.

Want ons kan God nooit nareken nie. Al wil ons nog so graag.

Ons mag nie eers nie. Want dit sou selfverheffing beteken as jy dink dat jy God se doen en late as mens kan naredeneer.

Sondag 1 leer vir ons dat alles wat ons in hierdie lewe kan oorkom moet meewerk tot ons heil.

Dit is ongetwyfeld waar want dit staan so in die Bybel.

Maar dit beteken nie dat ons dit self dan ook kan insien of nareken nie.

Ons wil almal so graag God se doen en late verstaan. Ons kan redeneer soos Elifas.

Ons praat van eie skuld dat iemand iets ergs oorkom. Dit kan soms waar wees. Maar dikwels ook nie.

Ons praat van 'n tugtiging dien tot heil van die mens. Daar word hy beter van. Maar daar is ook tugtigings waaraan ons met die beste wil van die wêreld geen sin of doel aan kan ontdek nie.

Ons sê, later sal jy begryp. Ek weet nie. Ek dink nie dat 'n mens ooit God se weë sal kan deurgrond nie.

Laat ons maar liewers vergeet van al ons redenerings.

Sê net: ons leef van genade. Alles is genade.

Die grootste genade is die feit dat God na ons wil omsien. Dat Hy Hom na ons neerbuig in sy liefde. Dat Hy vir ons sy seën belowe. Hoe die seën dan ook konkreet mag lyk.

Laat ons ons daaroor maar steeds verwonder.

In die Verbond gaan Sy liefde na ons uit.

Daardie liefde van God vir ons is van ons uit volstrek onverklaarbaar. Dit is ondeurgrondelik. Niemand van ons kan daarop vanuit homself ook maar enige aanspraak maak nie.

God word deur liefde bewoë.

Uit liefde tot ons het Hy Sy Seun oorgegee om die las van ons sondes te dra en te versoen. Sodat ons in Sy gemeenskap kan terugkeer.

Hoe dit alles presies kan. Ek weet nie.

God sê: so het Ek dit dit gedoen. Glo net. Aanvaar My genade. Dit is vir jou genoeg.

Job het in sy lyde sy God nie vervloek nie.

Hy kan God nie verstaan nie.

Maar hy hou wel aan God vas as die Mensebewaker.

As die goeie Herder wat omsien na die skape van sy kudde.

Wat ook al gebeur in sy lewe, God sal Job bly oppas.

Vir 'n mens bly Gods se weë ondeurgrondelik en onnavolgbaar. Maar een ding staan vas.

God se liefde gaan na ons uit.

En daarom moet sy Naam geprys word.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)