Job vervloek sy geboortedag

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Job 3
Preek Inhoud: 

Voor diens: Psalm 3: 1, 2
Ps 92: 1, 2
Ps 92: 3, 5
Ps 22: 1, 2, 4, 5
Skb14: 1, 2 Doop
Skb 24: 5, 6, 7
Lees: Job 2: 11-3: 26 Nuwe Vertaling!
Teks: Job 3: 1

Brs en srs,

Die Here het gegee die Here het geneem. Die Naam van die Here moet geprys word!

So het ons Job hoor sê toe van hom sy gesin en al sy besittings afgevat is. 'n Grootse geloofsbelydenis.

Die belydenis het hy selfs volgehou toe sy eie lewe aangetas is.

"Sou ons die goeie uit die hand van God ontvang en nie ook die slegte nie? " Dit het Job vir sy vrou gesê toe sy nie langer kans gesien het om dit alles wat oor hulle gekom het te aanvaar nie.

Met dit alles het Job met geen woord gesondig nie, getuig die Bybel in hoofstuk 2 van die verhaal van Job.

Ons het die eerste twee hoofstukke gelees met verwondering oor die geloofskrag van Job. Ons het tot ons vertroosting daaragter gesien die krag van die genade van God. Want dit is nie slegs Job se eie geloof wat hom staande hou nie, maar dit is die krag van God. Hy laat sy kneg Job nie los nie.

Dit is tenslotte Sy werk wat Hy in Job begin het, wat op die proef gestel gestel word. God sal teenoor die Satan bewys dat Hy terdeë mense tot geloof kan bring. Tot 'n geloof wat ook bly volhard in situasies waarin dit bitter swaar raak om jou geloof vol te hou.

Dit was nou pragtig en troosvol wat ons totnoutoe van Job gesien en gehoor het.

Maar in die derde hoofstuk hoor ons skielik 'n heel ander Job praat. Hy vervloek die dag dat hy gebore is.

God het vir hom die lewe wel gegee maar met betrekking tot Job kon Hy maar beter die lewe gehou het. Was ek maar nooit gebore nie, kerm Job.

Hulle my maar liewers onmiddellik na my geboorte weggegooi het. Dan was ek nou klaar dood gewees. Dan het ek nie geweet wat dit was om te lewe nie. Dan was ek beter af gewees as nou.

Wat nou met die vrome Job?

Wat het van sy geloof geword?

En waar het sy lofprysing gebly?

Ons wil dit nader besien in die preek onder die tema:

Job vervloek sy geboortedag

Ons sien

  1. sy protes teen sy lot
  2. sy volharding by sy God

Die dae gaan verby. Dae word weke. Weke word maande. (hfs 7: 3) Maar aan Job se ellende verander niks nie.

Hy voel hom siek en van almal verlate.

Maar eendag kom drie van sy vriende by hom. Hulle het gehoor van die rampe wat Job se lewe getref het. As goeie vriende wil hulle nou by hom kom om hom te troos oor sy verdriet.

Elkeen het seker maar van tevore nagedink oor wat hy vir Job gaan sê om hom te bemoedig. Met mekaar spreek hulle af dat hulle saam sal gaan.

Maar as hulle aangekom het en met die werklikheid van Job se groot lyde gekonfronteer word, hou hulle hul sorgvuldig voorbereide woorde voor hulle.

Dat dit so erg was het hulle nie kon dink nie.

Dat hulle hul ou vriend Job daar so sien sit in sy ellende.

Skielik besef hulle die leegheid van hul woorde.

Elke woord wat hulle nou sou spreek sou teveel wees.

Hulle kan daar maar net by hom kom sit. Hulle probeer deel in die radeloosheid van hul vriend. Hulle gee ook uiting daaraan deur hul eie klere op te skeur en hul hoofde te bedek met stof en as. Saam met hul; vriend Job treur hulle.

Sewe dae lank sit hulle daar by hom. In die nagte slaap hulle langs hom. Hulle hoor sy sugte en sy klagte.

Maar niemand spreek 'n woord nie.

Want, vertel die Bybel ons, hulle sien dat sy smart baie groot is.

Tereg gemeente, swyg hulle. Want wat kan hulle sê?

Elke woord wat 'n buitestaander in so'n situasie spreek kan alleen nog maar seerder maak. En so betoon hulle hul vriendskap en meegevoel deur daar net by hom te wees. Deur niks te sê nie. Sewe dae en nagte lank.

Job hoor hul swye. Hy sien hul roubetoon.

En tog... is hul swye ook nie 'n soort van aanklag nie?

'n Aanklag teen hom, teen Job?

Was daar nie eerder rede om te protesteer nie?

Job wou nie sy mond oopmaak nie. Hy wil nie protes aanteken teen die ramp wat in sy lewe gekom het nie.

Hy wil nie sy God aankla oor wat met hom gebeur het nie.

Maar kon dan nie tenminste 'n ander vir hom in die bres getree het nie?

Is daar dan niemand wat sy saak wil verdedig nie?

Kon selfs sy vriende dan nie vir hom kom sê: Maar Job ons weet, ons is oortuig daarvan, hierdie ramp het jy nie verdien nie.

Ons ken vir jou vroomheid. Ons is bewus van jou oorgawe aan die Here. Van jou bereidheid om die Here elke dag dankoffers te bring vir sy gawes.

Ons weet van jou dat jy jou altyd ver hou van die kwaad.

Hoe kon dit dan met jou gebeur?

Want dit is die vrae wat Job besig hou.

Maar hulle sê niks nie. En elke dag dat hulle langer bly swyg voel Job meer bedruk. Hy voel wat hulle dink.

Namelik iets soos: Maar Job, dit het ons van jou nie verwag nie.

Was jy dan eintlik wel so vroom as wat ons gedink het?

Dit gebeur tog nie sommer toevallig nie?

Iewers in jou lewe moet daar iets grondig verkeerds gewees het.

Want dit wat jou getref het is 'n so groot ramp.

Hier moet die hand van God in wees. Die slaande hand van God. Hy het jou vermoedelik vir een of ander verborge sonde gestraf.

Ons sal maar niks sê nie. Jy sal self wel weet.

En so voel Job deur die swye van sy vriende veroordeel.

Omdat hulle sy saak nie verdedig nie, voel hy in hul swye 'n stilswygende veroordeling.

En dit maak vir Job sy lyde nog swaarder.

Hy weet, hy is onskuldig. Hy weet, hy is opreg in sy diens van die Here. Maar sy vriende veroordeel hom. Hulle vermoed een of ander verborge misdaad by hom.

En daarmee voel Job onregverdig veroordeel!

Job voel ook sy dae is getel. Hoe lank sal hy nog leef?

Lees maar in vers 24 hoe hy hom liggaamlik voel:

Ek kan nie eet van die pyn nie, ek kan nie ophou kreun nie.

Straks is hy dood. En dan sal selfs sy vriende hom onthou as iemand wat in die geheim sondes gekoester het.

As hy sterf sal almal sê: Kyk daar het jy die bewys! Job was nie so vroom soos dit gelyk het nie. Kyk hoe het God hom gestraf! God is nie onregverdig nie!

Maar Job self weet, dit is nie waar nie!

Wat hulle van hom dink is nie reg nie!

Daar is in sy lewe nie verborge sondes nie!

Maar as hy nou sterf sal sy naam tot in lengte van dae besoedel bly.

Wel dit alles raak skielik teveel vir Job.

En daarom begin hy praat. As sy vriende dit nie vir hom opneem nie, dan sal hy sy sê sê.

Was ek maar nooit gebore nie! Dan sou niemand van my geweet het nie. Dan kon ook niemand my naam sleg gemaak het nie.

Dan het ek tenminste rus gehad.

Mag mens so praat brs en srs?

Kan jy dit sê, was ek maar nooit gebore nie?

Ons wil Job nie hard val nie. Ons verstaan iets van sy nood.

En ons woorde word dan al heel gou goedkoop.

Ons mag Job nie veroordeel oor wat hy hier sê nie.

Maar as ons sy woorde moet beoordeel, sal ons moet sê: so mag 'n mens nie praat nie.

Job praat hier oor die dood as die plek waar dit vir almal dieselfde is. Konings sit daar langs knegte. Here langs slawe.

Goddeloses kan daar nie meer kwaad doen nie. Almal geniet dieselfde rus.

Maar is dit waar? Mag mens so oor die dood praat?

Is die dood die plek waar dit vir alle mense wat ooit geleef het dieselfde is?

Maar het Job nooit gehoor van die belofte van God dat Hy elkeen sal vergeld na sy werke nie?

Het Job nie geweet van die belofte van heil wat Hy toesê aan sy gunsgenote ook oor die grens van die dood heen?

Ons lees van Abraham dat Abraham daarvan oortuig was dat God selfs by magte is om dooies op te wek.

Dus ons mag rustig sê: Hier struikel Job.

In die vervloeking van sy geboortedag vergeet hy daarvan dat die Here met elke lewe van 'n mens 'n bedoeling het. Dit kan iemand se taak wees om met sy lewe en met die leed daarin te bewys dat God in staat is om selfs dan iemand staande te hou.

Job sal dan ook op 'n later stadium sy woorde wat hy hier spreek onder berou terugtrek.

Maar tog is die gevoelens wat Job onder woorde bring vir ons van groot waarde.

Want hieruit blyk dt Job nie bo sy lyde staan nie.

Dit gaan hom nie verby nie. Dit ruk hom tot in die grond van sy bestaan. Hy kan dit nie hanteer nie.

En daarmee is duidelik dat Job nie 'n lewensvreemde figuur is nie.

'n Mens wat alleen maar geestelik lewe.

'n Mens wat aan die eintlike lewe verbygaan.

Jy kry soms van die spesiale mense wat alleen maar vir God leef en verder teenoor die gevoelens wat ons ken en die angste wat ons voel totaal vreemd staan.

Maar so is Job nie.

Job is 'n egte mens.

'n Mens soos u en ek. Met ons twyfels, met ons verdriet, met ons wanhoop soms.

Job kan nie sonder stryd en sonde sy verlies aanvaar nie.

Niemand van ons kan.

Maar ons hoef dit ook nie. God sien ons stryd. Hy bly met ons. Hy ondersteun ons, al voel ons net so soos Job.

Want Job struikel hier wel, maar tog kom hy nie tot 'n val nie. God in sy genadekrag maak Job tog weer gehoorsaam. Hy hou hom tog staande in sy stryd.

Want Hy is die God van alle genade wat nooit laat vaar die werk van Sy hande nie.

2. Job se vertroue in sy God

Ons het die protes van Job gehoor. Hy vervloek sy geboortedag.

Was ek maar nooit gebore nie!

En tog moet ons hier een ding goed oplet. Ons hoor Job vloek. Seker! Maar, hy vloek nie sy God nie!

Satan het voorspel: Job sal u in u aangesig seën!

Hy sal sy God afsweer met 'n vloek.

Maar nee. Job is wel in opstand, hy sien nie kans vir hierdie lyde nie, maar hy sê nie vir God vaarwel nie.

Hy hou sy tong in toom.

Want hy wil nie kwaad spreek van die Here nie.

En dit is nou die oorwinning van God in Job!

Hier praat die nuwe mens in Job.

Hier praat die Heilige Gees in Hom.

Job sê wel: Hierdie taak wat ek gekry het is te swaar!

Ek protesteer. Ek sien nie kans nie.

Maar hy sê nie: 'n God wat soiets aan my doen wil ek nie langer erken nie.

Job bly buig onder die majesteit van God.

Job het sy vrae. Groot vrae. Hy beswyk amper onder die vrae.

Hoor maar vers 20:

Waarom moes God dan die lewemslig gee aan 'n man wat net swaar kry?

Waarom moes Hy lewe gee aan 'n man wat so bitter ly?

Liewer geen lewe as so'n lewe!

Hoor u die waaroms?

Herken u die waaroms?

Gemeente op die waarom is nie 'n antwoord nie. Prinsipieel nie.

Probeer nooit 'n antwoord te gee nie. Want jou antwoord is definitief verkeerd.

In elk geval mag jy nooit vir 'n ander die waaromvraag probeer beantwoord nie. Want jy maak 'n fout. Ook al klink jou antwoord nog so vroom.

Die vriende sal straks ook antwoorde probeer gee.

Hulle probeer hom troos met hul antwoorde.

Maar hulle bring Job maar net tot wanhoop met hul woorde.

Daar is nie antwoorde nie.

Job het sy groot vrae.

Ons lees nog 'n slag vers 23: Waarom die lewenslig gee aan 'n man wat vir hom geen pad vorentoe sien nie, 'n man vir wie God van alles afgesny het?

Vir wie God van alles afgesny het!

Dit is hoe Job voel!

Hy voel hom deur God van alles afgesny. Selfs van God se genade!

Hy sien niks meer van God se liefde nie.

Hy voel nie meer die Here se guns nie.

En daarmee het sy lewe vir hom totaal sinloos geword. Wat sal hy nog verder lewe, as die guns van God nie meer na hom uitgestrek is nie?

Toe Job se besit hom ontval, kon hy God nog prys.

Toe hy sy kinders verloor, kon hy die Here se naam nog loof.

Toe sy vrou hom alleen laat in sy geloof, kon hy nog met die Here verder.

Maar noudat hy selfs die genade van die Here nie meer ervaar nie, het die lewe vir hom totaal sinloos geword.

Nie alleen die lewe vorentoe nie, maar ook die lewe sinds sy geboorte.

As God 'n mens so kan verlaat nadat hy eers by hom was, dan kan jy maar beter nie gebore wees nie.

Dan het jy in elk geval nie geweet wat dit is om onder die genade van die Here te lewe nie.

As God my verlaat dan het ek niks oor nie.

Dan kan ek nie verder nie. Dan is ek reddeloos verlore.

Gemeente, hoor u hoe Job se klag 'n roep tot die Here is?

'n Roep om ingrype van die Here?

My God, my God waarom verlaat u my?

My God, my God! so het ook eendag die Here Jesus geroep.

Geheel onskuldig is Hy veroordeel.

Alles is van Hom afgeneem. Sy besit, sy vriende, sy lewe.

Dit alles kon Hy verdra.

Maar toe God hom teruggetrek het en hom alleen die swaarste van sy lyde laat deurworstel het, toe was dit hel.

In die mees letterlike sin. Ons sal nooit kan verstaan wat dit vir die seun van God beteken het nie. Ons kan maar net 'n heel klein bietjie daarvan vermoed.

Maar hy het die lyde sonder klagte deurstaan.

Slegs in die geloof dat hy hierdie weg moes gaan.

Jesus Christus moes alleen, geheel op eie kragte van geloof die hel deurworstel.

Job nie. Job is bygestaan deur die Here self.

Hy het van God verlate gevoel. Maar was dit nie.

God was by hom daar.

Job het wel geprotesteer in sy lyde. Hy het ook tot sondige proteswoorde gekom daarin.

Maar Job het sy vertroue in sy God nie opgesê nie.

Gelukkig is Job nie ons middelaar nie. Want hy sou 'n werklike godverlating nie gemaak het nie.

Job is wel 'n mens wat deur God tot die uiterste beproef is.

Maar God het in hom getoon dat Hy in staat is om in die bitterste lyde 'n mens vas te hou.

Ook al voel jy van God verlate.

Ook al voel jy heelte mal alleen in jou lyde.

Ook al voel jy dit is alles sonder enige sin.

Onthou net God laat jou nie los nie. Nooit.

En seker nie nadat Jesus Christus vir jou die hel deurgeggan het nie.

Daarin het jy vir altyd 'n onwrikbare sekerheid dat God jou nooit sal verlaat nie.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)