Die woord van onse goeie God is altyd betroubaar, al klink dit ook uit die mond van 'n mens

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 17
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KONINGS 17: 17-24

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 146: 1, 3, 8
Gebed
L. 1 Konings 17: 17-24
Ps. 146: 4, 5, 7
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 119: 52, 53
Seën

'n Bybelverhaal soos hierdie kan 'n mens irriteer, broeders en susters.

Dis natuurlik 'n pragtige, ja, indrukwekkende ding wat in hierdie geskiedenis gebeur: 'n kind wat al oorlede was, word uit die dood weergebring en aan sy ingelukkige ma teruggegee.

Maar vandag gebeur derglike dinge nie meer nie. Vandag kan die dominee of die wyksouderling nie sommer deur vurig te bid die lewensgeeste in 'n oorlede geliefde van ons terugbring nie.

Vandag kom daar nie meer 'n ampsdraer om die kis weer oop te maak nie.

Vandag maak die ampsdraer maar net sy mond oop en wys ons op die beloftes van die HERE. Die kis bly dig en die graf moet dig en slegs die Bybel gaan oop waarin ons tot geloof opgeroep word.

En dan kan so 'n verhaal soos in ons teks van vanaand ons des te verdrietiger en opstandiger maak.

Maar dan lees ons hierdie geskiedenis tog nie reg nie, gemeente. Immers: daardie wonderbaarlike terugkeer uit die dood van daardie seuntjie was, hoe werklik ook al, nie meer nie as net 'n teken. 'n Tydelike teken wat later weer verdwyn het.

Want daardie kind het later weer siek geword en gesterf. En toe was daar nie 'n profeet wat hom nogmaals in hierdie lewe weergebring het nie. Trouens, ook sy ma, en die profeet Elia self het gesterf.

Daarom was daardie wonderbaarlike opwekking uit die dood slegs 'n tydelike hulpmiddel wat ook toé al eintlik maar net opgeroep het tot geloof.

Die kind wat uit die dood weergekeer het, was maar net 'n onderstreping dat die Woord van die HERE altyd betroubaar is, en dat 'n mens dus dáárop moet staatmaak, juis ook as dit lyk asof die lewe in 'n doodloopstraat gekom het.

Slegs daarom het daardie ma haar kind nog vir 'n rukkie uit die dood weergekry.

En daarom is hierdie geskiedenis ook vir ons vandag opgeskrywe: sodat ons ons aan die HERE se Woord totaal en al gewonne sou gee, juis ook in dae as ons nie meer weet hoe om vorentoe nie.

Kom ek verkondig u uit ons teks:

DIE WOORD VAN ONSE GOEIE GOD IS ALTYD BETROUBAAR, AL KLINK DIT OOK UIT DIE MOND VAN 'N MENS

ONS TEKS VERTEL HOE DIE HERE DIé BETROUBAAREHEID

  1. PLOTSELING ONSEKER GEMAAK, EN
  2. DAARNA INDRUKWEKKEND BEVESTIG HET

1. U moet probeer om u die skok en ontreddering by die weduwee van Sarfat voor te stel, dié oomblik toe sy haar enigste seuntjie dood in haar arms hou.

As daar iemand sterf, heers daar altyd verslaenheid. Veral as dit skielik kom, deur 'n ongeluk of 'n plotselinge hartversaking.

En nog des te meer as dit 'n kind betref wat na die mens gesproke nog 'n lewe voor hom gehad het. Dan vra ons almal geskok: Hoe kon so iets sommer gebeur? !

Daardie vraag is natuurlik nie tereg nie. Ons weet almal dat so iets enige tyd kan gebeur. Ou mense moet sterwe, jong mense kan sterwe. Ons behoort daarop voorberei te wees. Nietig is ons bestaan, die dood wink ieder uur.

Maar as die dood by ons nogtans elke keer weer 'n skok teweegbring, hoe groot moet dat die skok gewees het vir daardie weduvrou by wie die profeet Elia vir 'n rukkie sy intrek geneem het!

Want sy het níe elke dag geleef met die wete dat die dood daagliks om die draai lê nie. Sy was nie daarop voorberei dat sy self of haar kind enige tyd kon sterwe nie.

Nie méér nie!

Vandat sy Elia ontmoet en hom in haar huis opgeneem het, het sy die gedagte aan die dood van haar afgeskud.

Te vore was sy net so bang vir die dood soos alle mense. Toe het ook in haar gesinnetjie die dood ieder uur gewink, ja, selfs al hoe dreigend nader gekom. Want sy het net soos alle ander mense gely onder die verskriklike gevolge van die aanhoudende droogte en gepaardgaande hongersnood. Dié oomblik wat sy Elia ontmoet het, het sy haarself en haar kind eintlik al aan die dood oorgegee. Kyk maar vs 12 bo ons teksverse.

Maar toe het die kneg van die HERE, die God van Israel, vir haar en haar kind die léwe belowe in die Naam van sy God: "So sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. "

Daardie eienaardige beloftewoord het sy geglo. Sy het haarself daaraan gewonne gegee. Wat moes sy anders maak? Sy sou in elk geval van die honger omgekom het.

Van toe af het sy geleef op daardie wonderlike woord van die HERE se profeet.

En daardie woord was waar! Die meel in die pot hét nie opgeraak nie, en die olie in haar kruik het nie minder geword nie, alhoewel sy daagliks daarvan geneem het om kos vir haarself, haar kind en die profeet te maak.

Terwyl om haar heen verskeie mense gesukkel het om die pot aan die kook te hou en hier en daar selfs al mense 'n aaklige hongerdood gesterf het, mog sy en haar kind lewe, elke dag opnuut. Danksy die kneg van die HERE.

Maar nou het haar seuntjie skielik siek geword. Kwaai siek. Die kind is doodsbenoud. En wat sy ook al probeer om hom te verlig, niks wil help nie. Sy moet magteloos aansien hoe die lewe geleidelik uit hom weggly.

Die teks vertel nie hoe lank die kind siek was nie. Een dag? Of 'n paar dae? Maar uit die woordkeuse word wel duidelik dat die spanning opgebou het en op die ou end ondraaglik geword het toe die kind in sy benoudheid gesterf het.

Versuf en verslae sit die ma met haar dooie kind op haar skoot.

U verstaan natuurlik wel dat hierdie plotselinge dodelike siekte nie sommer gekom het nie.

Die HERE Self het hierdie skielike skok in die lewe van die weduwee van Sarfat veroorsaak en die spanning na 'n hoogtepunt opgevoer.

Hy het 'n groot raaisel in haar lewe gebring. Want die vraag wat óns nie hoef te vra nie, mog sy in daardie situasie wél vra: hoekom laat die HERE dit met my gebeur??

Die HERE se profeet het mos die léwe aan haar en haar kind belowe so lank as wat in haar huis sy wees? Sy het daardie belofte geglo, miskien aanvanklik nog met aarseling, maar algaande met al hoe meer oortuiging.

En nou sit sy skielik met die dood in haar arms!

Die plotselinge sterwe van haar seun het veral haar vertroue geskok. In Elia en in die God van Elia.

Ek het gevra: probeer om u die skok en ontreddering van hierdie vrou voor te stel.

Sy was van oorsprong 'n heidense vrou wat by die afgodediens grootgeword het.

Nou ja, u weet hoe dit is in die heidendom; dis vandag nog presies dieselfde:

daar is profete, priesters en toordokters wel magtige manne. Hulle kan vir jou bemiddel by die hoëre magte. Terselfdertyd egter bly ook hulle mag maar baie beperk. Jy kan nie altyd op hul woorde en beloftes staatmaak nie. Nee, dit hoef nie te beteken dat hulle jou dikwels opsetlik maar iets wysmaak nie. Maar hulle is ook maar bemiddelaars wat slegs hul bes probeer om vir jou iets reg te kry by die gode. Hulle kan jou egter niks waarborg nie.

Die gode is mos maar grillige wesens wat sommer anders kan besluit as wat jy graag wou gehad het.

In die heidendom is die mense ewig en altyd bang vir die gode, broeders en susters. Niemand kan vir jou voorspel wat hulle sal doen nie. Skielik kan die noodlot in jou lewe toeslaan.

Is die God van Israel net so 'n god soos al daardie ander? Dié groot vraag het die HERE Self plotseling in die lewe van die weduvrou van Sarfat opgeroep.

Immers, wat moes sy nou van Hom dink?

Elia het mooie beloftes gemaak. En vir 'n rukkie het hulle ook uitgekom. Maar nou?

Werk dit by Elia net soos by al die ander godsmanne? Is 'n woord uit sy mond eweveel werd as 'n toesegging uit die mond van die eerste die beste heidense toordokter?

Maar die vraag wat hier agter lê is natuurlik, broeders en susters: is Elia se Gód dan ook maar net soos al die ander gode? Onbetroubaar, grillig, gevaarlik? 'n God wat jou oor die minste of geringste flater in die ongeluk stort?

As dit so is, moes Elia liewer nooit in haar huis gekom het nie!

"Het jy na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring? ", gooi sy Elia voor die voete. As gevolg van haar daaglikse verkeer met hierdie godsman is die aandag van sy God natuurlik ekstra op haar gevestig. En sy het lankal agtergekom hoe 'n strenge en strawwende god die God van Israel is: die uitputtende droogte om haar heen bewys dit daagliks. En nou word sy ook gestraf oor een of ander verkeerde ding wat sy blykbaar gedoen het.

As hierdie vrou teenoor Elia van haar ongeregtigheid praat, gemeente, hoef dit nog nie te beteken, soos sommige verklaarders dink, dat sy deur haar omgang en gesprekke met Elia die hartelike en suiwere skuldbesef ontwikkel het wat die HERE so graag by 'n mens sien nie.

Sy dink nog tipies heidens: 'n mens moet gedurigdeur die gode probeer tevrede stel, want enige fout wat jy maak, al gebeur dit ook glad nie opsetlik nie, ja, al het jy nie eers 'n vermoede daarvan nie, word direk genadeloos afgestraf.

En sy dink: so is dit blykbaar ook by Elia se God. Ten spyte van alle vroeëre mooie beloftes sit sy nou met 'n dooie kind in haar skoot.

So dink heidene, gemeente. Maar ek loop derglike gedagtes ook maar alte dikwels nog onder christene raak. Ons is almal baie ontvanklik vir hierdie manier van denke. Ook ons kan 'n ernstige siekte, 'n ongeluk, die skielike sterwe van 'n geliefde direk met straf verbind: Waarom maak die HERE so met my? ! Waaraan het ek dit verdien? Wat het ons verkeerd gedoen dat dit met ons gebeur?

En dan groei ons aanvanklike verslaentheid geleidelik uit tot 'n opstandigheid. Ons raak kwaad op God. Wat Hy nou gedoen het is nie eerlik nie!

Dis is tog so: derglike gedagtes kan ook by ons wel ontstaan.

Gedagtes waaruit blyk dat ons Hom nog altyd nie mooi ken nie; dat ons nog altyd nie goed na sy Woord geluister het nie.

2. U kan maar aanneem dat die profeet Elia ook geskok was toe hy teenoor die verslae vrou met haar dooie seun gestaan en die verwytende blik in haar oë gelees het.

En u kan ook maar aanneem dat ook die profeet die vraag na die "waarom? " gevra het: hoekom het die HERE dit gedoen? Hoekom het Hy die belofte van léwe vir hierdie huis skielik deurkruis deur die dood?

Hierdie vraag was vir Elia nog 'n groter vraag as vir daardie vrou. Want Elia het die HERE beter geken as sy.

Hy het geweet dat die HERE nie soos die afgode van die heidene is nie. Hy het geweet dat die HERE, ookal is Hy die heilige God wat die sonde nie verdra nie, nie sommer enige sonde genadeloos afstraf nie.

Elia het geweet dat God nie 'n behae in die dood van die sondaar het nie, maar juis wil hê dat hy hom bekeer en leef.

Elia het die HERE geken as die genadige en barmhartige God, wat lankmoedig en groot van goedertierenheid is. Hy handel nie met ons na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtigheid nie; maar so hoog as die hemel bo die aarde is, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.

Elia het ook geweet dat die HERE nooit die kinders straf oor die sondes van die ouers nie. Die mens wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die moeder help dra nie.

Maar hoekom het die HERE dan hierdie kind laat sterf? !

Dat God oplaas Israel onder koning Agab gestraf het, dit kan hy heeltemal verstaan. Hy het self daarvoor gevra. Israel het niks anders verdien na so veel vergeefse waarskuwings nie.

Maar dat die HERE selfs oor hierdie weduwee 'n onheil gebring het- dis ook vir die profeet 'n groot raaisel.

En so laat God nie net daardie weduvrou nie, maar ook sy eie kneg worstel met die betroubaarheid van sy Woord. En dus: met die betroubaarheid van Homself, Israel se God.

Maar Elia worstel anders as daardie ma.

Elia doen die enigste regte ding wat 'n mens in so 'n situasie kan doen: hy klem homself nog des te meer vas aan die woord wat Hy namens die HERE Self eerder aan hierdie vrou mog gee. Hy gee homself nie aan die twyfel oor nie. Hy maak sy God geen verwyte nie. Hy appeleer maar net op God se goedheid en betroubaarheid. Hy mog namens die HERE die lewe aan hierdie vrou en haar kind belowe, dan mag Hy die HERE nou ook hou aan sy eie woord.

Eerder het hy die HERE aan sy eie woord gehou toe hy om droogte oor Israel gebid het. Hy het besef dat hy toe baie gevra het, 'n ontreëling van die hele natuur. Maar hy het dit durf doen, want hy kon die HERE herinner aan sy eie woord.

Vandag durf hy nog verder gaan en iets vra wat nog nooit in die geskiedenis voorgekom het nie: dat God die lewe uit die dood teruggee. Maar Elia weet hy vra nie te veel nie. Hy beroep hom mos maar net op wat die HERE beloof het!

Ja, ons sien in ons teks die profeet worstel om die betroubaarheid van sy God se beloftes, gemeente.

Elia bid én werk. Onderwyl hy bid strek hy hom telkens oor die kind uit. Ek vermoed: om die lewenswarmte in die kind te laat weerkeer. In daardie gebaar onderstreep Elia sy geloof. Hy glo dat hy nie tevergeefs bid nie. God sál die siel van hierdie kind in sy liggaam laat weerkeer.

God verhoor sy gebed nie direk nie. Hy stel die geloof van sy kneg danig op die proef. Drie keer moet Elia vra, en opnuut op die seuntjie gaan lê. Maar hy hou vol, in die vaste oortuiging dat God sy gebed sal verhoor.

So mag kinders van die HERE bid, broeders en susters. U ken natuurlik almal daardie Bybeltekste soos: "Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word"; en: "Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry", ja, "elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see - en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur - hy sal verkry net wat hy sê. "

Derglike tekste kan ons opstandig maak, ons kan ons daaroor vererg, as ons daaruit aflei dat die HERE 'n soort outomaat is waarin ons ons gebed maar hoef te gooi en ons kry wat ons soek.

Dis egter nie wat daardie tekste sê nie. Ons mag nie enige ding maar van die HERE vra nie.

Maar as ons, soos Elia in ons teksverhaal, die HERE herinner aan sy belóftes, as ons by Hom daarop aandring dat Hy die betroubaarheid van sy eie woorde sal bewys, as ons vra of hy alle hindernisse wat mense kan belemmer om Hom op sy Woord te glo, wil wegneem - dan bid ons nooit tevergeefs nie.

Die geskiedenis van ons teks is daarvan 'n oortuigende voorbeeld. Want die kind hét onder Elia se aanhoudende gebed in die lewe weergekeer.

En 'n opgelugte profeet mag 'n lewende kind aan sy diep beïndrukte ma teruggee: "Kyk, jou seun lewe. " Onse goeie God hou wel deeglik sy beloftes. Hy kan ons soms op die proef stel deur te maak asof Hy op sy woorde terugkom, maar juis dan moet 'n mens nie wanhoop of opstandig raak nie. Juis dan moet ons ons des te meer beroep op wat Hy Self gesê het.

Dít wou die HERE met die skielike skok van haar seuntjie se dood aan daardie weduwee duidelik maak, broeders en susters. Hy wou haar geloof in Hom en in sy

Woord deur die mond van Elia nog sterker maak.

En hierdie skokbehandeling was nie tevergeefs nie. Hoor maar:

"Nou weet ek dit dat u 'n man van God is!", sê sy vir Elia. Met ander woorde: Jy is anders as al die ander bemiddelaars by die gode. As jy praat is dit regstreeks woorde van jou God.

Maar hierdie vrou het ook méér verstaan: naamlik dat die woord van die HERE betroubaar is, al klink dit ook uit die mond van 'n mens. Want sy het Elia se Gód nou ook des te beter leer ken. Hy maak altyd soos Hy sê. "Moenie vrees nie", het Elia eendag gesê. Sy weet nou dat sy vir hierdie God inderdaad nie bevrees hoef te wees nie. Elia se God soek nie die dood van mense nie, maar gee selfs die lewe uit die dood terug! Hierdie God verdruk of bedroef nie van harte die mensekinders nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom ook weer na die grootheid van sy goedertierenhede.

Die lewende kind op haar skoot is daarvan die lewende bewys.

Moet ons ons vererg oor hierdie geskiedenis omdat sulke dinge vandag nie meer gebeur nie, gemeente?

Nee, ons mag ons hierdeur laat aanspoor om ook vandag nog te leef van God se betroubare beloftewoord.

Ons ken inmiddels die HERE baie beter as daardie Sidoniese weduwee. Ons ken die rykdom van sy beloftes baie beter. Ons het nie net beloftes vir hierdie lewe ontvang nie. Ons het die belofte van lewe selfs deur die dood heen.

En dat dit die HERE erns is met daardie belofte, het Hy indrukwekkender as ooit te vore gewys toe Hy in ons plek sy eie Seun laat sterf en weer uit die dood opgewek het, sodat ons nou kan lewe deur Hom.

Elkeen wat nou in Hom glo sal lewe, al het hy ook gesterwe. Ja, elkeen wat lewe en in Hom glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Die dood is maar net die poort na die heerlikheid van die hemel en die nuwe aarde.

Ons het ook die belofte dat die HERE vandag in hierdie moeitevolle lewe alles vir ons laat meewerk ten goede.

Aan al dié beloftes moet ons ons net so vasklem soos Elia gedoen het en soos daardie weduvrou leer doen het.

Die HERE vra nog steeds geloof. Hy kom allereers met woorde, beloftes na ons toe. Hy stuur gewone manne na u toe wat sy hemelse woorde in eenvoudige mensetaal aan u mag voorhou. Dit is nou maar eenmaal God se werkwyse. Daardie manne lyk dikwels glad nie indrukwekkend nie, en hul optrede is nog minder indrukwekkend: hulle probeer nie met allerhande rituele en manipulasies 'n guns van die HERE afdwing nie. Hulle sê eenvoudig: "So spreek die HERE... "

En hulle roep maar net op tot, geloof, tot gehoorsaamheid, tot bekering.

Maar hulle woord het krag tot oor die grens van dood en graf! Hul woorde word vervul tot in die ewige lewe vir elkeen wat glo.

Daarom roep ek u vanaand weer op om u nie blind te staar op die teken in ons teks nie, broeders en susters, maar om u, aangespoor deur daardie teken, gelowig gewonne te gee aan die betroubare beloftes van u goeie God.

U het sy Woord, en dit behoort genoeg te wees.

As u nie daarna wil luister nie, sal u ook nie oortuig word al sou iemand ook uit die dood opstaan nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)