Elia se inskakeling om God se stryd om die koms van die koninkryk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 17
Preek Inhoud: 

Ps. 122: 1
Ps. 122: 2
Ps. 108
Ps. 79: 1, 4, 5
Ps. 79: 8, 9
Lees: Jak. 5: 12 - 20 & Openb. 11: 1 - 12
Teks: 1 Kon. 17: 1

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis kan ons twee keer 'n naam van 'n koning van Israel raakloop. Die eerste een, wat taamlik vanselfsprekend is, is koning Dawid se naam. In verband met die Here Jesus se geboorte meld die belydenis, hy is die Seun van Dawid.

Die naam van die ander koning is Agab. Ons kry sy naam in artikel 27. Dit is die artikel waarin ons belydenis doen van die katolieke of algemene kerk. In die verband word koning Agab se naam genoem. Maar hy word nie met eer vermeld nie.

In die artikel 27 gaan dit daarom, dat Christus vir Hom 'n kerk vergader vanaf die begin van die wêreld. Hierdie kerk sal bly tot aan die einde toe. Ek sal aanhaal: "En hierdie heilige Kerk word deur God bewaar of in stand gehou teen die woede van die hele wêreld; alhoewel dit somtyds 'n tyd lank baie klein is, en in die oë van die mense skynbaar tot niet geraak het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab 7000 bewaar het wat hulle knieë voor Baäl nie gebuig het nie".

Die gevaarlike tyd onder Agab.

Dit is die kenmerking van Agab se regering. 'n Gevaarlike tyd vir die kerk. Die kerk het in daardie tyd oënskynlik heeltemal verdwyn. Net 7000 mense het oorgebly.

God het klein begin met sy kerk op aarde. Adam, Eva, Set, Enos, Noag-hulle, Abraham en sy huis. Almal enkelinge.

Maar Abraham het uitgegroei tot 'n groot volk. Die volk Israel het in die beloofde land so 'n paar honderdduisend mense getel.

Dit is die Ou-Testamentiese kerk.

Maar die breë rivier van hulle wat hul tot die kerk laat vergader, versmal vinnig as baie Israeliete Kanaän se gode gaan dien.

Op die ou end is daar nog maar net 'n smal stroompie wat in Agab se tyd amper heeltemal opdroog. Dit wil voorkom dat God se kerk in Israel volledig vasloop.

Maar sover sal die Here dit nie laat kom nie. As Agab met baie geweld die kerk in Israel probeer dooddruk, kom die Here van Sy kant ook met baie geweld.

Hy hou Sy kerk staande. Ook al is dit slegs 'n res van Israel.

'n Oorblyfsel van God se volk. Net 7000 mense.

Want së die belydenis in artikel 27: Christus is 'n koning wat nie sonder onderdane kan wees nie. Sy Koninkryk sal sekerlik kom.

Hy sal nie toelaat dat Agab die diens aan die Here uitroei nie. En daarom werp die Here Sy Woord in die stryd deur middel van Sy kneg Elia.

Ons verkondig u God se Woord vandag soos volg:

ELIA SE INSKAKELING OM GOD SE STRYD OM DIE KOMS VAN DIE KONINKRYK.

  1. Die krag van die profetiese belydenis in die stryd.
  2. Die krag van die gelowige gebed in die stryd.

1. Die krag van die profetiese belydenis in die stryd.

Met vandag se teks broeders en susters, begin in die boek Konings 'n verhale bundel wat deurgaan tot 2 Konings 9. Ons noem die geheel dikwels die Elia - Elisa-geskiedenis.

Dit is eintlik baie opvallend dat die Bybel so baie aandag gee aan die regeringsperiode van Agab en sy seuns. Omtrent 15 hoofstukke oor 'n periode van slegs 30 jaar.

Wat kan daarvoor die rede wees? Die antwoord wat die meeste verklaarders hierop gee is, dat die skrywer baie verhale oor Elia en Elisa beskikbaar gehad het, en omdat die latere volk baie lief was vir hierdie verhale, is hulle almal in die Bybel opgeneem.

Maar die verklaring is tog minder bevredigend. Ons moet eerder dit së: In daardie tyd was daar 'n ekstra werksaamheid van die Heilige Gees. Dit was naamlik 'n baie kritieke tyd. (Vergelyk die tipering van die Nederlandse Geloofsbelydenis 'die gevaarlike tyd onder Agab').

Die tyd was hierom so gevaarlik, omdat onder Agab die amptelike godsdiens van Israel besig is om te verander.

Vroeër was dit vir elkeen duidelik: JAHWE is die God van Israel.

Maar onder Agab is daar 'n ander god wat die alleenreg as god oor Israel wil verwerf, naamlik Baäl.

Seker daar was al eerder baie afval en ongehoorsaamheid in Israel. Dink byvoorbeeld aan Jerobeam met sy goue kalwers. Maar hoe verkeerd Jerobeam ook is, hy probeer nog altyd die Here te dien. Sy sonde is 'n sonde teen die tweede gebod. 'n Beeld van die Here maak en Hom daardeur dien.

Maar Agab doen iets wat prinsipiëel anders is. Hy voer 'n andere God in. Baäl! En daarmee oortree hy die eerste gebod.

Hy verbreek die band van die Here met Israel. Wel, met mense wat dit doen, kan God nie verder nie.

Maar God wil nie heel Sy volk verloor nie. En daarom gee Hy in hierdie tyd ekstra Woordopenbaring. Hy stuur Elia en later Elisa. Deur hul woorde en ook deur die wonders wat hulle moet doen, laat die Here sien, Hy is oneindig baie meer as Baäl! Sy mag is 'n werklikheid, terwyl die mag wat aan Baäl toegeskryf word, maar net 'n versinsel van mense is.

Dus in heel die geskiedenis van Elia en Elisa, moet ons raaksien dat die Here hier stry om die beleid van Sy volk. God se Koninkryk sal kom via die volk Israel. Uit die volk wil God eendag die Messias voortbring. Dus ons kan maar sê: Hier is volop die Adventsstryd.

Die begin van daardie stryd vind ons in ons teks: En Elia die Tisbiet het vir Agab gesê.

Met die woordjie 'En' waarmee ons teks begin, word sonder meer die verhaal uit die vorige hoofstuk voortgesit. U onthou hoop ek die verhaal wat daar vertel is oor die herbou van Jerigo. In die preek daaroor het ons gesien hoe daardie herbou van Jerigo die toppunt was van Agab se krenking van die Here.

Die Here het verbied om Jerigo opnuut as 'n vestingstad op te bou. Dit was God se genade waardeur Israel die beloofde land kon binnegaan het. As 'n herinnering aan daardie genade, en as 'n bewys dat God Self die land sal beskerm, moes die ruïnes van Jerigo bly lê het.

Maar Agab het daardie beskerming nie nodig nie.

En ons weet hoe dit met die bouer van Jerigo gegaan het. Maar Agab het daarvan niks geleer nie. Hy gaan maar net aan om die diens van die Here te vervang deur die Baälsdiens.

Wel, in ons teks laat die Here opnuut van Hom hoor.

En Elia, die Tisbiet het vir Agab gesê.

Na die taal van God se Woord in die dood van Hiël se seuns, het Agab nie geluister nie.

Maar hier staan die Woord van God in 'n lewende persoon voor Agab.

Elia kondig vir hom die oordeel aan van die Here. Daar sal geen dou of reën in hierdie jaar wees nie, behalwe op my woord. Dus daar sal 'n periode van groot droogte kom, wat eers sal eindig nadat Elia gespreek het.

Dit is 'n oordeel van God. Nou 'n vraag. Waarom hierdie oordeel? Waarom nie siekte, oorlog of 'n ander ramp nie? Waarom spesifiek 'n droogte?

Wel, daarvoor is 'n duidelike rede. Dan moet ons naamlik dink aan die ander god wat Israel ingevoer het. Baäl.

Hierdie Baäl is vereer as die god van onweer en reë. U sal verstaan, reën is in die land Kanaän 'n lewensvoorwaarde. Hulle is heeltemal afhanklik van 'n betreklik kort reënperiode in die voorjaar. As die reën val, dan sal daar seker geoes kan word, maar as dit dan nie reën nie, dan is dit vir die res van die jaar klaar.

Dus die Kanaäniete het elke jaar uitgesien, offers gebring, geroep na die vroeë reën, en as daardie reën val, dan word die god Baäl gedank.

Maar die volk Israel het geleer om sy seën van die Here te verwag.

Die Here het hulle in die beloofde land gebring. Hy het vir hulle ook belowe: Ek sal vir julle op tyd reën gee. Ek sal die land vrugbaar maak. En so het die volk Israel die Here leer danksê vir reën en vrugbaarheid.

Maar nou gaan Agab die diens van Baäl weer invoer in Israel. Die reëngod van die Kanaäniete. Met 'n aantreklike erediens vir die volk Israel.

En die volk doen saam met Agab. Hulle gee hul eer aan Baäldiens.

Let wel, God se eie volk wat geleer het om van genade le lewe. Dieselfde volk wat van Dawid leer sing het tot eer van die Here. Hulle sing nou op Baäl. Loof Baäl want Hy is goed! Ons het geoffer vir hom en hy het reën gegee! Deur Baäl se seën is daar vir ons voedsel en vrugbaarheid!

So het Agab, meer as enige koning in Israel, die Here geterg.

En dan verskyn daar Elia in Agab se paleis: In die Naam van JAHWE, Israel se God, verseker ek u, dit is klaar met die reën in Israel.

Geen druppel sal val nie, daar sal selfs geen dou wees nie.

Jy kan maar roep tot Baäl, maar solank die Here geen toestemming gee nie, sal daar geen druppel val nie.

Hier, broeders en susters, demonstreer Elia die magteloosheid van die afgod Baäl. Reën en droogte is in die hand van die Here. Daar het Baäl hoegenaamd niks oor te sê nie.

Tot nou toe was reën in Israel altyd 'n bewys van God se liefde en trou jeens Sy volk. Maar as die volk die stem van God in die reën nie meer wil hoor nie, sal God op 'n ander wyse met hulle praat. Dan spreek Hy in die droogte.

Die droogte word daarom ook spesiaal van tevore aangekondig in Agab se paleis. Sodat niemand kan sê: dit is nou toevallig maar droeë somers wat mekaar opvolg nie.

Agab het die dood van Hiël se seuns verklaar as 'n ongelukkige toeval. Maar dit is nou onmoontlik!

Elia bekragtig sy woord met 'n eed. So waar as die Here leef! So seker is dit. Dit is nie my woord nie. Maar die woord van die Here, die God van Israel. Let op die woord: die God van Israel. Gewoonlik is daar gesweer met die woorde: Sowaar die Here leef.

Maar Elia voeg by: die God van Israel. Dit is om duidelik te sê: Hy is die God van Israel. Nie die Baäl is God van Israel nie, maar die Here, JAHWE. Hy is die Enigste wat reg het op die diens van Sy volk.

Hier hoor ons eintlik al die eerste tone van die geding wat later op die berg Karmel gehou sal word.

Wie is die God van Israel? Is dit Baäl, of is dit die Here!

Die volk moet kies. Hulle kan nie twee here dien nie.

Jy verwag alles van die Here, of jy verwag dit van 'n ander. As jy vir die laaste kies, dan sal jy jou daarmee maar moet red.

En wat Elia aangaan. Hy het sy keuse reeds gemaak.

My God is JAHWE. Dit is die betekenis van sy naam. Eli-ja. Die naam is tewens sy belydenis. Met hierdie belydenis waag hy homself in die hol van die leeu. In Agab se paleis.

My God is JAHWE.

Elia is nie skaam om die Here sy God te noem nie. Selfs nie in 'n tyd en op 'n plek waar so 'n belydenis nie welkom is nie.

In die inleiding het ons gesê: hier is 'n gedeelte van die stryd om die koms van God se Koninkryk. In daardie stryd het God altyd mense ingeskakel. Hy doen dit nog.

Die Here stel u op die front. Met geen ander belydenis as hierdie: Die Here is my God.

As daar sorge is oor die toekoms, as ekonomiese probleme steeds toeneem, as ons probleme ondervind om ons daaglikse brood te verwerf. Dan mag ons, ja dan moet ons bly sê: Maar die Here is ons God.

So 'n belydenis het altyd 'n profetiese krag.

Teen enige vorm van afgodery of ideologie, moet ons die belydenis verhef: Die Here is My God.

Op Hom steun ek.

Van Hom verwag ek alles.

2. Die krag van die gelowige gebed.

Een van die mees opvallende dinge by die optrede van die profeet Elia is, dat ons nêrens lees dat Elia as 'n profeet geroep is nie. Selfs die aanduiding wat ons by alle profete aantref: Toe kom die Woord van Here tot hom, of iets soos dit, ontbreek hier.

Na die berig oor die herbouing van Jerigo in hoofstuk 16: 34, volg sonder enige oorgang: En Elia het vir Agab gesê.

Eers in vers 2 staan: Toe kom die woord van die Here tot hom.

Dit wil voorkom dat die situasie so is: Eers praat Elia tot Agab, en daarna kom die Woord van die Here tot hom.

As gevolg hiervan kan ons veronderstel dat Elia nie deur 'n onmiddellike openbaring van God geroep is nie. Dus dit was nie die Here wat regstreeks aan Elia gesê het: luister Elia, Ek sal 'n droogte periode oor die land bring, en jy moet vir Agab sê: So sê die Here die God van Israel. Ek sal geen dou of reën meer gee nie. So het dit skynbaar nie gegaan nie.

As ons vanuit die gedagte nogmaals na ons teks kyk, val dit temeer op dat Elia nie sê: So sê die Here! nie, maar: So waar die Here leef ens.

Ek hoop u voel die verskil. Maar nou kom daar 'n groot vraag: Met watter reg voorspel Elia hierdie droogte? Hoe weet hy dit sal nie reën nie, as die Here dit nie Self vir hom geopenbaar het nie?

Wel, die antwoord daarop gee die Skrif self, naamlik in die Nuwe Testament. Jakobus 5: 17. Ons sou kon sê: die Heilige Gees gee Self asnog 'n nadere toeligting by ons teks.

En die antwoord wat ons op ons vrae kry is dit: Elia het self om die droogte gebid. Ons lees daar naamlik dit: Elia was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.

Elia was 'n mens net soos ons. Ons verstaan nou wat dit beteken. Dit wil sê: Die gebed het hy gedoen nog voor hy as 'n profeet geroep is. Hy het in sy gebed geworstel met die Here. Hy het gesê: Ag Here, laat tog sien dat die sogenaamde reëngod Baäl 'n god van niks is nie. U is dit mos Self wat reën gee! Here my God, hou die reën terug, sodat die onmag van Baäl sigbaar word. Sodat U volk nie langer verlei word om Baäl te

dien nie, maar terugkeer tot U.

Eintlik gebeur dit: Elia het gebid om 'n tugmaatreël van die Here, met die doel dat die volk bekeer word.

En terwyl hy gebid het, het hy sekerheid ontvang, God het die gebed verhoor. En toe het hy na Agab gegaan!

Nogmaals die vraag: Met watter reg doen Elia dit? En kan hy dit wel met 'n eed aan Agab bekend maak?

Wel, ook daarvan kan ons iets sê: Elia se gebed is naamlik volledig in ooreenstemming met die woorde van God se Verbond.

Elia het naamlik terdeë verstaan wat aangaan in sy tyd. In watter situasie die volk Israel onder leiding van Agab gekom het.

Want toe die volk die beloofde land binne getrek het, toe het die Here belowe: Dit sal die land aan dou of reën nie ontbreek nie. Die land sal sy opbrings gee. Daartoe wil Ek My verbind.

Maar die keersy daarvan is dit: As julle ongehoorsaam is, kom Ek met My wraak. As julle ander gode gaan dien in plaas van My, dan sal My vloek julle tref. Ek sal die reën terughou. Die hemel sal word soos koper. En die aarde soos yster. (Deut. 28)

Wel, Elia het gesien hoe Agab 'n ander godsdiens amptelik in Israel ingevoer het. Hy het gesien die herbou van Jerigo en ook die betekenis daarvan verstaan: Die volk wil nie meer van God se genade lewe nie.

Wel, daarmee is al die voorwaardes vir die koms van die oordeel verval. En daarom bid Elia: Here staan op. Kom nou met die wraak van U verbond! soos U gesê het. Wys dat U die Lewende God is, dat die mens nie ongestraf kan spot nie.

Dit is Elia se geloof, wat hom die situasie laat verstaan het! En toe het hy gebid. Nogmaals, uit Jakobus se woorde: Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag!

Elia se gelowige gebed, het die kragte van die Here losgemaak.

Die hemel word drie jaar en ses maande op die gebed van Elia, gesluit. En nou wil ons tenslotte nog let op Openbaring 11. In die gedeelte gaan dit oor die twee getuies van God in die laaste van die dae. Met die twee getuies word die troue kerk van Jesus Christus bedoel. Die Nieu-Testamentiese gemeente.

Wel, van die twee getuies word gesê in vers 6: Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hul profesie geen reën val nie (herken u vir Elia by Agab) en hulle het mag oor die waters om dit in bloed te verander (herken u Moses by Farao).

Moses en Elia. Getuies van God, teenoor konings van die aarde. Moses en Elia, die twee groot ampsdraers van die Ou-Testament.

Hulle funksioneer in Openbaring 11 om die krag van die Nieu-Testamentiese gemeente te wys. God is besig om op hierdie wêreld Sy Koninkryk te vestig.

Een van die sterkste faktore daarby is die gelowige gebed.

Die Kerk mag in navolging van Moses en Elia bid om die openbaring van God se Koninkryk 'hoe lank nog Here sal U wag met die Koms van U Ryk?' Here wys tog, U is die God van die Verbond. Here hoe lank sal U die sondes van die wêreld verdra? Here, laat sien, dat U dit is wat die wêreld regeer.

Dit is in beginsel presies dieselfde gebed as wat Elia gebid het. Ons bid die jongste dag na ons toe.

Dit is 'n dag van triomf vir die gelowiges. Maar 'n dag van oordeel oor hulle wat Hom nie wil ken nie. Wat Hom Sy eer nie wil gee nie. Ons kan verbaas wees oor die groot krag van Elia se gebed.

Maar dit is eintlik 'n ongelowige verbasing.

Elia was mos slegs 'n mens soos ons. 'n Mens soos ons. Soos u en ek. Maar hy het die Skrifte geken, en die tekens van die tyd verstaan.

En toe het hy geweet, dit is die tyd van die oordeel.

Dus ons moet ons nie verwonder oor die wondermag van die besondere profeet Elia nie, maar ons moet ons skaam teenoor hierdie mens soos ons, wat in geloof tot God gebid het, en verhoring ontvang het.

Laat ons ons bekeer en ons gebede intensiveer om die Koms van Christus se Ryk. Aan so 'n gebed word krag verleen.

Dit is 'n sterk wapen wat God aan Sy gemeente gee. Laat ons ook almal op hoogte wees van wat aangaan in die wêreld, sodat ons die tekens van die tye mag verstaan, en daaraan ons gebede aanpas.

Want so kom Christus se Ryk. Deur die gebede van hulle wat Hom verwag.

Die gebede sal eendag verhoor word, sowaar as die Here ons God lewe.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)