Die oorwinning van God se woord op Agab se revolusionêre bouwerk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 16
Preek Inhoud: 

Ps. 138: 1, 2
Ps. 138: 3
Ps. 98
SB. 34: 3
SB. 34: 1, 2
Lees: Josua 6: 1 - 27 & 1 Kon. 16: 29 - 34
Teks: 1 Kon. 16: 34

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

As ons die woord 'revolusie' hoor, verbind ons dit onwillekeurig met gedagtes as verwoesting, afbraak van wat opgebou is, omkering van alles wat deur sekere mense as waardevol beskou word.

In baie opsigte is ons dan reg. By revolusies vloei meestal baie bloed en talle bouwerke word aan die vernietigende vuur prysgegee. Op die puinhope wat die revolusie nagelaat het, hoop 'n mens moet daar iets nuuts verrys.

Tog is ons nie reg as ons revolusie uitsluitlik in verband bring met puinhope nie. Want dit kan ook gebeur dat mense saamstaan om iets op te bou, maar dat die bouwerk wat hulle maak in alle dele die gees van die revolusie weerspieël.

Die mens kan op aarde stede en kulture opbou, uitsluitlik ter verheerliking van homself.

Die mees kenmerkende voorbeeld daarvan in die Bybel, kry ons in die Toringbou in Babel. Daar is die mens wat homself verhef. Hy bou die stad van die mens. Hy het vir God glad nie nodig nie. En met God se Woorde, God se gebooie, daarmee wil hy niks te make hê nie. Geen God, geen meester, so het hulle in Babel gepraat.

Die taal van die revolusie.

Maar in die Bybel kry ons meer van daardie revolusionêre bouwerke. Bouwerke van mense wat met God heeltemal gebreek het. Bouwerke van mense wat met God se Woord niks te doen wil hê nie. So 'n man was koning Agab.

Hy gee opdrag vir Hiël om die stad Jerigo te laat herbou. As 'n bewysstuk van 'n suksesvolle revolusie teen die God van Israel.

Daaroor wil ons vir U vandag God se Woord bedien:

DIE OORWINNING VAN GOD SE WOORD OP AGAB SE REVOLUSIONêRE BOUWERK.

  1. Hoe die Woord uit die verwoeste stad moes bly klink het.
  2. Hoe die Woord uit die herboude stad bly klink het.
  3. Hoe die Woord uit die hemelse stad sal bly klink.

1. Hoe die Woord uit die verwoeste stad moes bly klink het.

Op gesig waarde geneem staan ons teks 'n bietjie los van die verhaal wat ons in hierdie hoofstuk vertel word. Asof dit sommer ingevoeg is. O ja, dit was in daardie tyd dat 'n sekere Hiël die stad Jerigo gebou het. En toe het die vloek oor hom gekom wat Josua eendag uitgespreek het oor die herbouer van die stad.

Solank ons hierdie teks beskou as sommer 'n bekendstelling, sê dit alles vir ons nie te baie nie.

Maar as ons hierdie teks probeer lees in die verband waarin dit staan, dan ontdek ons dat hier baie belangrike sake aan die orde is. Dit gaan hier naamlik oor die vraag of die Woord van die Here ook krag het, teenoor mense wat die Woord welbewus verwerp.

Iemand wat die Woord van die Here bewus verwerp het, was koning Agab van Israel.

Die beskrewe gebeurtenis vind plaas in sy regeringsperiode.

Die oordeel wat die Skrif oor die regering van Agab gee is vernietigend.

Ons lees in vers 30: Agab het gedoen wat kwaad is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers.

Dat hy aangegaan het met Jerobeam se sonde (die goue kalwers in Bet-el en Dan), dit was nog 'n kleinigheid by wat hy verder gedoen het. Dit gaan by hom van kwaad tot erger.

Lees maar saam in vers 31: Minder erg - valse erediens.

Isebel as vrou - gemengde huwelik.

Hy gaan self Baäl dien.

vers 32: Huis vir Baäl - tempel. Volk saamgeneem in Baäldiens. Heilige boomstamme. Maar dit is nog nie alles nie.

vers 33: Agab het nog meer gedoen om die Here te terg as al sy voorgangers.

Ons moet die klimaks sien. Agab groei in steeds ernstiger sondes. Wel die ergste wat hy in die opsig in Israel gedoen het, dit word vir ons vertel in vers 34: In Agab se dae het Hiël van Bet-el, Jerigo opgebou.

Dit was die allergrootste terging van die God van Israel! Hier is die revolusie teen Israel se God voltooi!

Dit is nie daardie Hiël wat die grootste kwaaddoener van ons teks is nie. Hiël is mos nie meer as 'n argitek, as die boumeester wat Agab se planne uitvoer nie.

Dit alles word vir ons duidelik as ons 'n voorstelling probeer maak van die betekenis van die herbou van Jerigo. Soos u weet was Jerigo die grensstad van Kanaän. Jerigo lê op 'n strategiese belangrike plek. Daar is naamlik 'n ondiep gedeelte in die Jordaanrivier. Daar kan 'n mens redelik gemaklik die oorkant bereik. Dus as vyande die land wil in kom, dan kom hulle altyd langs dieselfde pad. Langs die deurgaanbare plek in die Jordaan. Dis hoekom Jerigo ook altyd 'n versterkte vestingstad was. Die stad het die toegang tot die land Kanaän bewaak.

So het ook eendag Josua met die volk Israel langs Jerigo die land kanaän ingetrek. Dit was toe die Here die mure van daardie stad laat instort het. En gedurende 600 jaar het die ruïnes maar net so bly lê.

Wel, in Agab se tyd is die politieke situasie sodanig, dat hy dit nodig ag om Jerigo te herbou as 'n vestingstad. As 'n sterk kasteel om die Jordaandeurgang te kontroleer, en eventuele vyande te keer.

Hy gee opdrag aan boumeester Hiël in Bet-el om die plan uit te voer. Maar dit word noodlottig vir daardie bouer. Hy word getref deur die vloekwoord wat Josua eendag uitgespreek het.

Vanwaar hierdie strenge straf na 600 jaar?

Ons kan hierdie vraag slegs beantwoord as ons eers 'n ander vraag beantwoord het, naamlik: Waarom het daar 'n vervloeking gelê op die herbou van Jerigo?

Waarom mag daar eintlik nie nuwe mure gebou word en nuwe poorte bevestig word nie?

Wel, daarop kan maar een antwoord wees: Die Here wil dat die stem van God se wonders vir altyd bly klink uit Jerigo.

Dit was die geweld van die Here gewees, wat eendag die mure van Jerigo laat instort het. Hierdie ruïne van 'n stad, wat as onneembaar gegeld het, was die bewys van die krag van God.

En daarom moes die puinhope bly lê het.

Ons sou kon sê: die Here het hierdie puinhope in diens geneem om te predik. Hulle verkondig die krag van God, wat Sy volk Israel 'n vrye toegang tot die beloofde land verskaf het.

Die konings van Kanaän het hulle verset teen die Here en Sy volk. Hulle het gedink ons sal die volk Israel keer aan die grense, deur die sterke stad Jerigo. Maar die Here het Hom nie laat teëhou nie. Hy het die mure laat instort. Nie deur 'n krygslis van Josua nie, nie deur die geweld van Israel se leër nie, maar uitsluitlik deur die krag van die geloof. God het vir Sy volk die vesting Jerigo as 'n genade geskenk gegee. Vir daardie geskenk moes hulle niks doen nie, hulle moes maar net in geloof 7 dae rondom die stad trek.

So lees ons dit in die Nuwe Testament. Hebr. 11: 30. Deur die geloof het die mure van Jerigo geval, nadat daar 7 dae lank omheen getrek was. Die puinhoop van Jerigo is vir die volk die blywende bewys, dat God Sy genadegawe gee in die weg van die geloof.

En daarom mag Jerigo nie as vesting herbou word nie.

Uit die verwoeste stad moet die prediking bly klink: Deur God se genade kon ons hierdie land binnegaan.

En deur dieselfde genade is ons hier veilig. God Self sal die vyande wat ons die erfenis, die beloofde land wil ontneem, keer. God hou by Jerigo die mag oor die land. Ons het daar nie 'n versterkte stad nodig nie!

Vandaar hierdie streng verbod tot herbou.

Meer as 6 eeue het die ruïne daar gelê, en is Israel herinner aan God se genade by die intog. Dawid en Salomo het baie vestingstede gebou, maar hulle het Jerigo altyd net so gelos, vanweë die Woord van die Here.

Maar dan kom koning Agab. Hy het die Here geterg met al sy dade, maar die meeste was die laaste daad. Die herbou van Jerigo!

Agab wil nie regeer by die grasie van God nie. Hy wil vir sy beskerming nie van God se genade afhanklik wees nie.

En daarom moet die taal van die ruïnes tot swye gebring word. Agab het God se beskerming nie nodig nie. Hy kan homself beskerm.

Uit Jerigo moet nou 'n ander woord klink. "Hier staan die vestingwerk van Agab, die koning van Israel. Ek sal die volk beskerm teen die vyande".

Verstaan u nou iets van Agab se selfverheffing, gemeente?

Ek kan myself beskerm. Ek het nie vir God nodig nie.

Dit is die taal van die revolusie in die mond van 'n koning.

Let wel, in die mond van 'n koning oor 'n volk wat nog altyd God se volk is. Hy moes as koning die erediens vir die Here beskerm het, sodat die Woord van genade kon bly klink het. Maar hy wil die stem van die genade laat swyg. En dit is die grootste sonde wat 'n koning in Israel kan doen.

Ons wil in punt 2 sien hoe dit verder gaan.

2. Die Woord van God bly klink uit die herboude stad.

Hiël - u moet weet wat is die betekenis van hierdie naam! Hiël - dit is God lewe! God lewe - wel Hiël het agtergekom!

Hiël en Agab wou God se stem tot swye bring. Natuurlik het hulle geweet van die vloek van Josua oor die man wat die stad Jerigo herbou.

Maar dit was al 600 jaar gelede!

Sal die God nog lewe? Ag nee, daardie God is dood, so het Agab en Hiël saam gesê, en hulle het gelag om die ou legende oor Jerigo.

Die wraak van die Verbond, 'n oordeel van God? Ag, dis mos alles fabels uit die ou tyd.

En vrolik het Hiël sy werk begin. Maar hy het skaars begin, of sy seun Abiram verongeluk by die bou. 'n Ongeluk?

Ja, het Hiël gesê. Ja, het ook die mense gesê wat hom gehelp het.

'n Ongeluk? Nee, sê die Here.

Dit is die vloek van Josua. Dit is die straf wat Ek vir jou gee, omdat jy meen jy kan My Woord langs jou neerlê!

As die vestingmuur klaar is en die poortdeur aangebring word, verloor Hiël ook sy jongste seun.

Hier sien ons die Verbondswraak van die Here in werking.

Hiël verloor sy seuns. Eers sy oudste, dan ook sy jongste. Hiël se geslag word afgebreek. Hiël se naam word uitgeroei.

In hierdie straf sien ons hoe die Here Sy Woord handhaaf. Hy toon dat 'n mens nie ongestraf met Sy Woord kan speel nie.

Hy betoon Homself die Lewende God. Jy kan Sy Woord nie ongestraf verbykom nie.

Hiël wou die Woord van God laat swyg het. Die stem van God uit die puinhoop mag nie langer klink nie, maar die omgekeerde gebeur.

Deur die voltrekking van die ou vervloeking, klink God se Woord nog duideliker en indringender.

God handhaaf Sy Verbond. Daar sal geen letter onvervul bly van wat Hy eendag gespreek het nie.

So bly die Woord klink uit die herboude stad.

Hiël wil 'n monument bou. 'n Trotse vesting as 'n bewys. Israel het God se genade woord nie meer nodig nie. Israel kan homself beskerm. Maar reeds by die eerste steenlegging werk die Here ook. Hy eis Abiram se lewe.

Maar as hy sy bouwerk wil klaarbou met die bevestiging van die poortdeure, spreek God nogmaals. En Hiël verloor sy tweede seun.

Nooit kan 'n mens meer die vesting van Jerigo bekyk, sonder om herinner te word aan die dood van die seuns van die argitek nie.

Gaan kyk na die muur en daar klink: God se woorde is vas. Wie hom daarteen verset hy gaan onder. Loop die poort binne en jy dink aan die dood van Segab. Wie hom teen God se Woord verset, sy naam sal uit die land van die Lewendes uitgeroei word.

Bo die puinhoop van Jerigo staan geskryf: Ontvang uit genade, deur die geloof!

Bo die herboude vesting staan: Vervloek is elkeen wat nie uit genade of uit geloof wil lewe nie.

So spreek God deur tot Israel in Agab se tyd. So spreek God deur hierdie geskiedenis nog tot ons.

Want hierdie dinge het gebeur as 'n waarskuwing vir ons. Die Here is baie ernstig oor Sy Woord.

God se genade is groot en in die weg van geloof ontvang jy al Sy rykdomme.

Maar as jy Sy Woord verwerp, ontmoet jy God se oordeel.

Sy vloekwoord verjaar nooit nie.

Hy is mos die Lewende God wat die wag hou by die betroubaarheid van Sy Woord. Dus wees haastig om vir Hom gehoorsaam te wees.

Dink aan Hiël en sy seuns.

Tog is hier ook 'n trooswoord vir gelowiges.

Die verset teen God se Woord word in ons tyd steeds sterker.

Rondom ons sien ons orals die deurwerking van 'n revolusie wat van God en Sy gebooie nie wil weet nie!

Maar daar sal 'n tyd kom dat alle verset teen God en Sy Woord vasloop in die werklikheid van God se oordeel oor elkeen wat Sy Woord verwerp het.

Dit kan gebeur dat jy as kerkmens wat reken op die betroubaarheid van God se Woord, heeltemal alleen te staan kom. Die spot of die haat van die wêreld sal jy ervaar. Maar die laaste Woord is aan die Here Self. In die laaste oordeel sal Hy Sy vloekwoord oor alle ongelowiges vir altyd bevestig.

En Hy sal die lewe gee aan almal wat op Sy genade Woord vertrou het.

Want God lewe!

3. God se Woord sal uit die hemelse stad bly klink.

Ons is nou klaar met die bespreking van die herbou van Jerigo.

Tog is die verlede nog nie heeltemal af nie.

Agab het die stad van die mens herbou. 'n Stad gebou op bloed. Op die bloed van die nageslag van Hiël. Wel ook daardie vesting het inmiddels tot 'n puinhoop vergaan.

Maar in die beskrywing in die geskiedenis het die Here ook gebou. Hy het gebou aan 'n hemelse stad. die nuwe Jerusalem. Die stad word daar gebou waar mense hulle laat onderrig uit die Skrifte.

Ook uit hierdie verhaal klink kragtig deur: God se Woord is betroubaar. Sy Woord verjaar nie. Ook Sy beloftes nie.

Daarom sal daar eendag 'n nuwe Jerusalem kom. 'n Hemelse stad. Ook daardie stad is op bloed gebou. Op die bloed van God se eie Seun. Ook die Seun het onder die vloek van God deurgegaan. Nie omdat Hy soos Hiël die vloek nie ernstig geneem het nie, maar juis omdat Hy geweet het hoe ernstig daardie vloek is.

Hiël het hom verset teen die reg van God en hy het ondergegaan.

Maar Jesus Christus het Hom gebuig onder die reg van God aan die kruis op Golgota.

En daarom het God Hom verhef tot boumeester van die nuwe Jerusalem. Hy is besig om die stad te bou.

En wie in daardie stad wil binnegaan, hy kan dit slegs in geloof doen. Want die stad is gebou op God se genade, met as fondament Jesus Christus. Bo die poorte van die hemelse Kanaän staan vir altyd geskrywe:

Ontvang as 'n genadegawe deur God se welbehae!

Bedink dit goed broeders en susters, seuns en dogters. U mag die hemelse Kanaän binnegaan wat God vir Sy Volk bestem het. Maar ook vir u geld dit: Daar is maar een poort. Die poort van die genade.

Agterdeurtjies wat ons verkies om daar binne te gaan is almal gesluit. Vertrou nie op eie kragte en eie insigte soos eendag Agab of Hiël nie, maar wees klein. Durf afhanklik te wees van genade alleen. Immers hierdie Woord staan vir altyd vas.

"Die gelowige sal slegs deur geloof lewe".

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)