Die Here handhaaf Sy verbond in Sy vonnis oor koning Salomo

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 11
Preek Inhoud: 

Ps. 93: 1, 2, 3
Ps. 93: 4
Ps. 110: 1 - 6
Ps. 48: 1, 2
Ps. 48: 4, 5
Lees: 1 Kon. 11: 1 - 13
Teks: 1 Kon. 11: 11 - 13

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die woord 'Verbond' is een van die bekendste woorde uit die Bybel. Die woord praat van die verhouding wat die Here tussen Hom en Sy volk gemaak het. Hy het met ons, met die gelowiges en hul kinders 'n verbond aangegaan.

In die sin het die woord 'verbond' vir ons 'n positiewe klank. Ons dink dan onmiddellik aan God se beloftes, aan Sy liefde en Sy trou.

God laat nie los wat Hy begin het nie.

Dit gee troos en vastheid in die lewe van die gelowiges.

Maar daar is ook 'n ander kant aan die Verbond. Dit is naamlik moontlik dat 'n mens eers in die Verbond geleef het, die gawes van die Verbond ontvang het, en dan later sy rug op die Here draai.

Maar moenie dink dat die Here jou dan sommer so laat gaan nie.

Daar is mos 'n Verbond.

Die Here wil nie sondermeer 'n verbreking van die Verbond van ons kant aanvaar nie. Hy sal jou altyd aanspreeklik vir die Verbond hou; oftewel: as jy Sy Verbond verlaat, dan sal die Verbond teen jou getuig. Die seën wat jy in die Verbond ervaar het, neem die Here dan terug.

En dan kom Hy met Sy straf.

So gaan dit in 'n Verbond. En dit is wat koning Salomo in sy lewe ervaar het.

Hy het baie seëninge in die Verbond ontvang. Maar met die gawes wat hy geniet het, het hy 'n verkeerde kant uitgegaan. Hy het die gawes losgemaak van die Gewer van daardie gawes.

En so het hy die grond waarop hy gestaan het self ondergrawe.

Toe hy geweier het om 'n onderkoning onder sy God te wees, toe verloor hy ook sy koningskap oor die volk van God.

Die roeping van die Seuns van Dawid was, hulle moet die glorie van God se Koningskap oor Sy volk wys.

Maar as hulle die roeping, die amp nie meer verstaan nie, watter sin het dan nog hul koningskap? Sal die Here dan nog die eer van die koningshuis handhaaf? Nee, dan trek die Here Hom terug, of sterker nog, dan gryp die Here, die Gewer van dieselfde Verbond in, om die

eer, die rykdom en die vrede van die Koningshuis weg te neem. Verbeurde verbondgawes, word deur die Here van Sy bondgenote afgevat.

Ons bedien u vanoggend God se Woord soos volg:

DIE HERE HANDHAAF SY VERBOND IN SY VONNIS OOR KONING SALOMO.

Ons hoor in die vonnis:

  1. hoe die Here alle glorie aan Dawid se huis ontneem
  2. hoe die Here Sy plan met Dawid se huis deursit.

In hoofstuk 11 het ons met 'n dramatiese dekorwisseling te doen, in vergelyking met hoofstuk 10 van die boek Konings. In ons vorige preek uit hierdie boek, toe dit gegaan het oor die koms van die koningin van Skeba het ons die glorie van Dawid se koningskap op sy hoogtepunt gesien. Eerbewyse en groot geskenke het na Jerusalem en sy koning toegevloei. Dit alles omwille van die Naam van die Here, die God van Israel. Goud, wierook en mirre is na die koning van die Jode toegedra.

Met 'n woord van die Here Jesus: In hoofstuk 10 sien ons koning Salomo in al sy heerlikheid. Maar vandag sien ons dieselfde koning Salomo in sy ontluistering.

Die jong Salomo wat deur die hele wêreld geprys is, vanweë sy wysheid, hy het 'n ou dwaas geword.

Die vervolg van die geskiedenis is uit politieke opsig beskou eintlik 'n groot raaisel. Hoe is dit moontlik, dat 'n koning met soveel mag en aansien in die wêreld, nie in staat is om sy ryk aan een van sy seuns oor te dra nie. Binnekort sal naamlik blyk dat deur die optrede van een opstandeling (Jereobeam) die hele volk van Israel hom onttrek aan die gesag van Dawid se huis. Dit is eintlik onvoorstelbaar, na so 'n goue tyd (ook vir die volk!) onder koning Salomo. Wat het verkeerd gegaan?

Wel gemeente, dit is op daardie vraag, dat ons teks 'n antwoord gee. Ons kan die oorsaak in een woord saamvat: Verbondsverlating!

Salomo het God se verbond nie gehou nie, en daarom neem die Here die koningskap van hom af weg.

Wat het gebeur?

Salomo het, soos dit in die Ou Ooste onder konings gebruiklik was, 'n enorme harem opgebou. In ons hoofstuk is sprake van selfs 700 vorstinne, en daarby nog 300 byvroue. Wat maak 'n man met soveel vroue?

So 'n harem was in daardie tyd, wat ons vandag 'n statussimbool sou noem.

Elke volk, of elke volksstam wat hom aan die koning al of nie vrywillig onderwerp het, moes 'n prinses gelewer het, wat dan opgeneem is in die koninklike harem. Dikwels is ook 'n prinses aangebied deur konings wat gehoop het om daarna Salomo in 'n gunstige stemming te bring vir 'n handelstransaksie. Dit was in die Ooste maar 'n vorm, van wat ons vandag 'n relasiegeskenk sou noem. Soos ons vandag 'n veelbelowende klant 'n ete in 'n restaurant of 'n goue vulpen aanbied, so is toe 'n mooi vrou aangebied vir die koning se harem.

Hoe die vroue self daaroor gedink het, moet ons maar nie vra nie. In elk geval is dit vir hulle toe nie gevra.

Wel, by sodanige gebruike sal dit duidelik wees, dat die getal vroue wat jy in jou harem versamel, 'n weerspieëling is van die mag en die rykdom van die koning.

Ook in die opsig wil Salomo kompeteer met sy kollega-konings, en hy het hulle almal oortref.

Maar tegelyk moet ons ook konstateer dat dit heeltemal verkeerd gaan met Salomo. Hy spog met 'n oordaad aan goud en vroue. Hy kan sy rykdom nie aan nie. Ons moet ook maar nie vra wat hierdie stokperdjie vir Salomo gekos het nie. Elk van die 700 vorstinne het vorstelike eise gestel, en daarby met mekaar gewedywer.

Ons is hier wel baie ver verwyder van die wonderlike eenvoud van die Paradys, waar die Here man en vrou aan mekaar gee om saam een vlees te word, en sodoende in die eenheid van die huwelik die Here te dien.

Terug na ons tekshoofstuk.

Afgesien van die volkome verdraaiing van God se bedoeling met die huwelik, gebeur hier nog iets wat baie erger is. Immers saam met daardie vroue, importeer Salomo ook 'n stuk heidense kultuur en heidense relige in Jerusalem. Hierdie vroue het vanselfsprekend hul eie afgode saamgebring. Om hulle in Jerusalem tuis te laat voel, sal Salomo ook 'n bietjie ruimte moet gee vir hul eie godsdiens, waaraan hulle gewoond is.

Aanvanklik het dit natuurlik 'n bietjie op die agtergrond gebeur. In die vroue vertrekke het elk van die prinsesse haar eie afgodsbeeldjies opgestel. Salomo het seker maar gemeen: Nou ja, solank hulle daarmee gelukkig voel, is dit nie so erg nie. Dit is nou maar hulle kultuur.

Maar 'n tydjie later is daar in die paleistuin klein altaartjies opgerig.

En so het dit van kwaad tot erger gegaan. Toe Salomo dit uit die staanspoor nie verbied het nie, kon hy later nie meer terug nie.

En op die ou end staan daar altare vir Kamos en Molog en baie ander afgode. Lees maar vers 7 en 8.

En dit nog wel op 'n openbare plek. Op die berg oos van Jerusalem!

Let wel: sigbaar vanuit die tempel van die Here!

Natuurlik, Salomo het self nie daar gaan offer nie. Hy gaan na die tempel. Hy offer slegs vir die Here sy God.

Maar daarmee is Salomo nie klaar nie!

Met die situasie wil die Here geen genoeë neem nie. Hy wil Sy eer nie met ander gode deel nie.

Die Here weier om een van die gode te wees wat in Jerusalem gedien word.

Let wel, die eerste gebod wat die Here vir Sy volk gegee het: Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie. Die gebod word hier met voete getree. En dit nog wel onder verantwoordelikheid van Israel se koning!

Boonop nog in die land waar die volk Israel die Kanaäniete moes uitroei vanweë hul afgoderye.

Op 'n manier het Salomo se optrede wel waardering verwerf by die konings van rondom. Koning Salomo is nie 'n bekrompe mens nie. Hy het ruim opvattings.

Maar by die Here daal die waardering vir Salomo tot 'n laagtepunt.

Die Here eis mos van die gelowiges 'n onverdeelde hart. Hy wil dat Sy volk net Hom alleen dien. Hy kan dit nie verdra dat mense naas Hom ook aan ander gode eer bewys nie.

Daarom word die Here baie boos vir Salomo.

Die erns van sy optrede word die duidelikste, as ons besef wat Salomo hier eintlik doen. Die posisie, die rykdom en die mag wat Salomo het; Hy het dit alles van die Here ontvang.

Dit alles is sy Verbondsgawes, wat hy misbruik vir afgodediens.

Dit is die ergste wat 'n mens kan doen.

Daarby het Salomo die bestemming van Dawid se huis uit die oog verloor. Die Here het mos die seuns van Dawid die troon gegee, sodat hulle hul volk kan voorgaan in die eksklusiewe diens aan die Here. As hulle trou is in die diens, dan sal Jerusalem 'n stad op 'n berg wees. 'n Ligtoring, waarna alle volke van die wêreld kyk.

Wet en geregtigheid sal uitgaan van Sion. Dit is die hoë bestemming van Jerusalem.

Israel moet 'n volk van priesters vir die Here wees, onder leiding van die Priester-koning uit Dawid se huis.

Die Koning Self sal 'n afbeelding wees van die Priester-koning wat God vir heel Sy volk bestem het. Jesus Christus!

God se bedoeling is: Jerusalem moet 'n heilige stad wees waarnatoe al die volke kom. En as die heidene dan kom, dan moet hulle so beïndruk word deur die stad en die tempel en die heerlikheid van Israel se koning, dat hulle hul eie gode wegwerp en sal vra na die God van Israel!

Wie is die God wat Sy volk en hulle koning soveel weldade bewys?

Maar nou, nou gebeur die omgekeerde!

Die volke kom nog steeds na Jerusalem. Maar wat vind hulle daar? Hul eie afgode. Die altare van Kamos, Molog en andere, hulle rook bo Jerusalem!

Sien u hoe groot Salomo se skuld is?

Van sy rykdom het geen prediking meer uitgegaan nie!

Sy koningskap was bestem om die glorie van God se Koninkryk te demonstreer. Maar deur die ruimte wat Salomo gee aan die afgode, kom daar van die bestemming niks meer tereg nie!

Dit is vandag nie anders nie, broeders en susters! As in die kerk die eer van Christus en Sy Ryk nie meer sentraal staan nie, dan gaan daar van die kerk niks meer uit nie. Dan het jy nie meer 'n boodskap vir die wêreld nie.

As die prediking in die kerk nie verder kom as slegs 'n politieke boodskap oor bevryding van verdruktes, van armes of van die vrou, dan sal die wêreld dit waardeer. Maar dan het jy niks nuuts gebring nie, want dit het hulle self ook lankal geweet.

As die kerk nie meer 'n eie lewenstyl vertoon nie, maar hom in alles net so aanpas by die wêreld, dan gaan daar van die kerk geen krag meer uit nie.

Die kerk het mos 'n eie boodskap en 'n eie doel. Naamlik dat ons mag lewe in die Koninkryk van God, dat ons die eer van Sy Naam hoog hou, en dat ons as 'n heilige volk van God 'n plek het op die aarde.

In die opsig het Salomo sy taak verwaarloos.

Hy was nie meer 'n lig in die wêreld wat die heidene getrek het, sodat hulle kon kennismaak met die Naam van Israel se God nie.

So het hy die Verbond van God verbreek.

En daaroor kom nou 'n oordeel.

'Ek sal verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee'. Die koningskap word van hom afgeskeur. Salomo van wie ons mag aanvaar dat hy die geskiedenis ken, sal ongetwyfeld hierdie woord 'afskeur' herken het.

Hierdie is naamlik presies dieselfde vonnis wat eendag die profeet Samuel aan koning Saul verkondig het. Saul was die eer nie werd nie!

God skeur die koningskap van hom af, en gee dit vir Dawid.

Dit is 'n baie pynlike vonnis vir die eerste seun van Dawid, wat hom opvolg.

Ondanks al sy eer en mag, kom hy nie verder as Saul nie.

Vir Saul het die Here nog laat sê: Ek gee die koningskap vir iemand wat beter is as jy! (1 Sam. 15)

Om jou amp af te staan aan iemand wat beter is as jy, dit is pynlik, maar nog aanvaarbaar. Maar hierdie ontluistering gaan dieper.

Die Here sê naamlik: Ek gee dit vir jou dienaar.

Vir iemand wat minder is as jy!

En so is die Here feitlik nog nie een stap verder met Sy volk as onder Saul nie. Want ook Dawid se huis, wat so onvoorstelbaar baie geseën is, die huis wat so baie van God se gunsbewyse in die Verbond ervaar het, selfs hulle is nie in staat om vorm te gee aan die koningskap soos die Here dit vir Sy volk bedoel het nie.

Die koningskap in Israel word een groot mislukking. Vanaf hierdie oomnblik gaan dit ook reguit na die ondergang toe.

Die koningskap in Israel is 'n afgang. Van 'n hoogtepunt na dieptepunt.

En dit terwyl dit God se bedoeling was om deur middel van die konings van Israel Sy Ryk op aarde steeds heerliker te laat word, totdat Jesus Christus kom, die Koning van die Konings, die Seun van Dawid, wat vir ewig sal heers.

Uit die trieste mislukking van Salomo se Vrederyk, blyk dat die pad onbegaanbaar is.

Die Ryk van God is, as dit in mensehande gegee word, te kwesbaar. As Sy Koninkryk deur toedoen van mense daar moet kom, sal die Ryk nooit kan kom nie!

2. God sit Sy plan met Dawid se huis deur.

Die vonnis wat God uitspreek oor koning Salomo, beteken die einde van die koningskap van Dawid se huis oor die volk Israel.

Ons moet goed besef dat dit 'n baie ingrypende gebeurtenis is.

Die ware betekenis van hierdie skeuring oorsien ons dikwels, omdat ons gewoond is om die koningslyn van Salomo deur te trek via die konings van Juda, almal seuns van Dawid.

Dawid se huis bly tog maar regeer in Jerusalem, sê ons dan.

Dit is waar, maar ons moet nie vergeet, die gebied wat Dawid en Salomo geregeer het, gereik het ver buite die grense van Israel. 'n Wêreldryk van internasionale betekenis.

Maar wat bly oor. 'n Baie klein gebied. As ons dit in kilometers uitdruk, 'n gebied van ongeveer 30 by 40 kilometer. 'n Miniatuurstaat, wat politiek glad niks meer beteken nie.

Daar is 10 stamme wat selfstandig word onder 'n eie koning.

Let op die getal 10. Die getal is 'n getal van volheid.

Die tien stamme van Israel, dit beteken gewoon: Israel as geheel word ontrou aan Dawid se huis. Vanaf daardie oomblik sal Israel deur ander konings geregeer word. Die Noorde behou ook die oorspronklike naam Israel.

Dit is die oordeel wat God vel oor Salomo se ontrou aan die Verbond. Net 1 stam word vir hom gegee. Juda.

Nou weet ons dat later 'n tweede stam hom daarby voeg. Benjamin. Maar in ons teks lê nadruk op die getal 1.

Of wel: die kleinste moontlike minderheid bly oor. 10 teen 1.

Maar tog, daar bly iets oor.

En daarom gaan dit nou.

Deur God se oordeel word alle eer en glorie van Dawid se huis af weggeneem. Eers val die buitelandse gebiede weg tydens Salomo se regering. Maar dan neem die Here ook heel Israel weg. Of liewers moet ons sê: Israel as 'n geheel word van hom weggeneem.

Dit is die oordeel!

Maar tegelyk: God se genade roem teen die oordeel!

Daar is 1 stam wat bly.

'n Res van Israel bly behoue vir Dawid se huis.

Die boom van Dawid se koningshuis word omgekap, maar die stomp bly daar.

En uit die afgekapte stomp sal eendag 'n takkie uitspruit.

'n Loot uit sy wortels sal vrugte dra.

Dit is die klein, klein ligpuntjie wat bly.

Die Here kan soos dit nou gaan, met hierdie koningshuis nie verder nie.

Maar die huis van Dawid moet bly. God laat die plan wat Hy met hierdie huis het, nie misluk nie.

Daar bly 'n nakomeling uit Dawid se huis op die troon van Jerusalem. Daar bly 'n Priester-Koning in Israel.

En dit is 'n teken van hoop.

Die skeuring van die ryk sal nie tydens Salomo se lewe plaasvind nie. Dit is nie omdat die Here Salomo nog 'n bietjie wil spaar nie, maar wat die Here wil spaar is die naam van Dawid.

Immers vir hom het die Here belowe: Die ryk van jou seun sal bevestig word.

Al die beloftes oor die komende Messias is gekoppel aan die titel: die Seun van Dawid.

En wanneer nou die allereerste Seun van Dawid die troon verspeel, dan verloor die titel: 'Seun van Dawid' iets van sy mooiste klank.

Verstaan u: As Salomo tydens sy lewe alles verloor, dan bly daar altyd iets van: Dawid was 'n goeie koning. Maar die Seun van Dawid was 'n mislukking. Hy kon die troon nie handhaaf nie.

En dit is wat die Here nie wil hê nie: Hy wil dat die titel 'Seun van Dawid' in Israel 'n mooi klank moet hou.

'n Mens sal in die Seun van Dawid nooit kan sê: Hy het Sy Ryk verloor nie!

Daarom ook moet Jerusalem die stad van Dawid bly.

Maar die res moet alles weg.

Alle uiterlike mag, alle aansien van Dawid se huis in die wêreld, alle rykdom, sal verdwyn, sodat dit na menslike maatstawe, definitief

onmoontlik word, dat ooit weer 'n Seun van Dawid 'n faktor van betekenis kan wees in die wêreld.

Die mense het dit alles volledig laat misluk. Onherstelbaar.

Maar tog. Nie hopeloos nie!

Juis om die feit dat 1 stam bly, daaruit blyk dat God se verkiesing van Jerusalem, en die belofte wat God aan Dawid gedoen, tog sterker is as die mag van die sonde.

Deur sondes van mense laat God Sy Plan nie misluk nie. Hy sit Sy Plan deur. En daarin handhaaf Hy ook Sy Verbond. Hy sal die onmoontlike moontlik maak. Hy sal eendag weer 'n Seun van Dawid op die troon bring. En Sy troon sal vir ewig bevestig word.

Naamlik die troon van Dawid se Groot Seun. Jesus Christus.

Sy Ryk hou ewig stand. En dit, broeders en susters, is ons troos vandag. Deur hierdie geskiedenis leer ons besef hoe swak mense is. Hoe diep mense kan val deur ontrou. As dit van mense afhang kom daar nooit 'n Ryk van God nie.

Maar God sit tog Sy planne deur.

Sy Ryk kom! Sy Ryk is reeds daar! Jesus Christus sit op die troon.

Meer as Salomo is Hy. Hy sal Sy troon nie verspeel nie. Hy is ons Koning. God sal nooit die Koningstap van Hom afskeur nie.

En ons sal as volk nie uit teleurstelling of vanweë harde juk by Hom wegloop nie. Hy lê nie die laste op wat Salomo vir sy volk opgelê het nie. Hy verryk Homself nie ten koste van Sy volk nie.

Maar Hy het al Sy rykdom prysgegee om Sy volk te kan win.

Op Sy geregtigheid en trou ten opsigte van Sy volk kan ons staatmaak.

Aan Sy Mag hoef ons nie te twyfel nie.

Hy sal Sy Koninkryk tot volle heerlikheid bring.

En al Sy onderdane, al die gelowiges mag in Sy glorie deel, vir altyd.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)