God wys vir Sy volk die glorie van Sy ryk in die besoek van die koningin van Skeba

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 10
Preek Inhoud: 

Ps. 21: 1, 2
Ps. 21: 9
Ps. 45: 6, 7, 14, 15, 16
Ps. 72: 5, 6
Ps. 72: 10. 11
Lees: 1 Kon. 10
Teks: 1 Kon. 10: 1 - 10

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Ongetwyfeld het ons in vanmôre se teks 'n pragtige verhaal uit die Bybel. Die hele hoofstuk skitter van goud en edelstene. 'n Mens kan amper die geur van die heerlike speserye ruik. Koning Salomo het 'n ongelooflike welvaartspeil bereik.

Terwyl ons ons vandag reeds ryk voel as ons ons gaste 'n stukkie tert kan laat eet met 'n silwer vurkie, by koning Salomo kom maar net skale, borde, messe en vurke van suiwer goud op tafel. Daarvoor was silwer nie goed genoeg nie. Silwer kan jy slegs as 'n ruilmiddel gebruik.

En elke jaar het die skatte maar net gegroei. Talle mense het gekom om die wysheid van Salomo te hoor, en elkeen het weer nuwe presente saamgebring.

Een van die besoekers is die koningin van Skeba. Ook sy het geskenke saamgebring, onder meer 120 talente goud. Dit is ontrent 5000 kilogram goud.

As 'n mens dit alles in hierdie hoofstuk lees, vra jy jou af wat moet 'n mens met soveel weelde? Wat is die sin van die versamel van so baie goud in 'n koninklike paleis?

As ons oor daardie vrae nadink, sien ons sommer twee kante aan daardie weelde. Laat ons sê: 'n Positiewe en 'n negatiewe kant.

Die positiewe kant is dit: die Bybel bedoel hier te wys dat die belofte van die Here waargemaak is. Onthou, toe die Here vir Salomo gevra het: Begeer wat ek vir jou moet gee, vra Salomo om wysheid om die volk van God te kan regeer. Omdat hierdie vraag die goedkeuring van die Here gehad het, het God hom as 'n toegif nog belowe dat Hy Salomo rykdom sal gee.

Wel, of die belofte ook waargemaak is, hoef ons na hierdie hoofstuk nie meer te vra nie.

Maar daar is tog ook 'n negatiewe kant aan hierdie rykdom. Hier is duidelik 'n oordaad wat maar net skadelik kan wees. Om die binnekant van jou huis te versier met tweehonderd groot skilde van geslae goud, en dan nog driehonderd kleiner skilde van suiwer goud, dit is nie meer 'n sinvolle muurversiering nie. Dit is maar net op 'n ongesonde manier spog met jou rykdom. Hierdie goud kan baie beter bestee word. Dieselfde geld vir die met goud oordekte ivoortroon. Salomo moes 6 treë beklim voor hy op sy stoel kon gaan sit het. Hier voel ons al dat dit verkeerd gaan afloop met die Vredevors van Jerusalem.

Maar vandag wil ons konsentreer op die eerste helfte van hoofstuk 10, waar die welvaart van Salomo nog baie positief beskou word, naamlik as seën van die Here oor die Ou-Testamentiese Vredevors.

Ons tema vir die prediking is:

GOD WYS VIR SY VOLK DIE GLORIE VAN SY RYK IN DIE BESOEK VAN DIE KONINGIN VAN SKEBA.

Ons let:

  1. op haar koms
  2. op haar vrae
  3. op haar spreke.

As gelowiges bely ons dat die Bybel die Woord van God is. Sowel die Nuwe-Testament asook die Ou-Testament.

Maar so 'n belydenis is nie sonder probleme nie. Veral met betrekking tot die Ou-Testament. Daarin kry ons naamlik 'n groot aantal verhale wat geskiedenis is. En wel geskiedenis van die ou volk Israel. Ongetwyfeld interessant om kennis van te neem.

Maar die vraag is tog. Wat maak ons daar nou mee? Of wat wil die Here vir ons daarmee sê? Watter boodskap kan daar nou byvoorbeeld vir ons wees in die verslag van 'n besoek van 'n heidense koningin aan Jerusalem, amper 3000 jaar gelede? Die antwoord op die vraag is nie so maklik nie.

Maar kom ons gaan dit nader bekyk.

Moontlik gaan ons 'n antwoord kry, as ons die vraag vra: wat wil die skrywer, of liewers, wat wil die Here vir die eerste lesers van hierdie boek sê.

U sal verstaan dat die boek Konings eers sy definitiewe vorm ontvang het, enkele eeue nadat Salomo geleef het, naamlik as al die konings wie se regeer periodes in die boek beskryf is, dood is.

Die laaste koning in Jerusalem is koning Jojagim. In die slot van die tweede boek Konings lees ons hoe hy in ballingskap na Babel gevoer is. Immers is die trotse stad Jerusalem 'n puinhoop. Die pragtige paleis van Salomo is 'n ruïne. Die tempel is met die grond gelyk gemaak.

Dit is die situasie as die skrywer sy pen opneem om die geskiedenis van Israel se koninskap te beskryf. Hy staan aan die einde van Israel se koningsgeskiedenis en kyk dan terug.

U verstaan dat hierdie situasie met groot klem die vraag oproep: Hoe kon dit alles gebeur het? Waarom het dit so verskriklik verkeerd gegaan in die koningshuis en met die volk.

Die beskrywing van die verlede maak die hede des te pynliker. As 'n mens weet van die glorietyd onder Salomo, die goue eeu in Israel se geskiedenis, dan pas besef jy hoe groot die neergang is wat daarna gevolg het.

Hoekom dit gebeur het? Dit is op die vraag dat die boek Konings 'n antwoord wil gee.

En daarom is die boek baie meer as 'n objektiewe geskiedskrywing. Dit is nie net 'n nugtere saaklike verslag van: dit en dat het gebeur nie, maar die boek het 'n praktiese bedoeling.

Dit is duidelik 'n aanklag teen die koningshuis en teen die volk. 'n Vermanende onderwysing waarvan ons die boodskap so kan saamvat: Sien tog wat gebeur as jy die Here verlaat!

Die Here het wonderlike beloftes gegge aan die koningshuis van Dawid. Daar sal altyd 'n seun van Dawid op die troon sit. Ek sal vir u welvaart en vrede gee.

Maar die keersy van die belofte is dit: Pas op, as julle ongehoorsaam is, dan neem Ek alles terug. Ek sal vyande stuur om die vrede te vernietig. Ek sal julle laat berowe van jul welvaart.

Wel, dat die Here Hom aan die afsprake gehou het is oorduidelik. Sowel in die geskenk van die welvaart, asook in die terugneem daarvan, in Israel is God trou aan Sy Verbond.

Onthou hoe die Here vir Salomo gevra het: Begeer wat ek vir jou moet gee.

Toe het Salomo geantwoord: Here gee vir my 'n opmerksame hart, sodat ek U volk goed kan regeer. Sodat ek as koning reg en geregtigheid kan doen. In die woorde blyk dat Salomo ook is wat hy moet wees.

'n Teokratiese vors. Salomo soek nie eie eer of eie welvaart nie, maar dit gaan hom om die bloei van God se Koninkryk.

Onthou wat ons in die preek daaroor gesê het: Hier spreek Salomo heeltemal in ooreenstemming met die woord van die Here Jesus uit die bergrede: Soek eers die Koninkryk van God, dan sal al die ander dinge (soos voedsel, kleding ens. ) vir julle bygevoeg word.

So gaan dit mos toe in die Koninkryk van God: Wie daardie Koninkryk eerste soek, hy sal verder van die nodige voorsien word.

So het die Here dit ook vir Salomo gesê: Nou jy dit gevra het, sal Ek vir jou gee, eer, mag en rykdom.

Wel, die koms van die koningin van Skeba na Jerusalem in ons teks, is die lewende bewys, die Here hou Hom aan Sy Woord. Sy vereer Salomo met 'n besoek. Sy bring groot geskenke saam.

Haar koms is 'n bewysstuk wat die Here aan Sy Volk voorhou.

Kyk, dit gebeur as koning en volk My gehoorsaam dien.

Dan sal Jerusalem se koning geëer word deur die volke.

Selfs die verste heidene sal kom om vir U hulde te bring.

En daarom is tegelykertyd hierdie koms van die heidense koningin 'n aanklag teen al die latere geslagte. Want hierdie gebeurtenis was slegs eenmalig! Dat volk en koning op hierdie hoë geestelike vlak gelewe het, was maar van korte duur.

Dit blyk uit die verdere boek Konings. Na die koms van die koningin van Skeba kom daar nog baie ander vorste na Jerusalem. Maar hulle het die omgekeerde doel. Hulle bring nie eer en rykdom na Jerusalem nie, maar hulle kom om die stad te berowe van haar rykdom.

'n Aantal male kan Jerusalem nog die besetting van die stad keer, deur so 'n buitelandse vors 'n groot hoeveelheid goud te betaal.

Hulle teer dan feitlik nog op die 'geestelike erfenis', wat die materiële welvaart gebring het, van 'n paar eeue gelede.

Maar die skatte van die skatkamer van die koninklike paleis is vinnig uitgeput. Dan volg die skatte van die tempel. En dan die goud van die messe van die tempel. En dan die heilige voorwerpe.

Op die ou end word die ontluisterde tempel met die grond gelyk gemaak.

Die ondergang van Jerusalem en sy tempel is maar nie 'n gevolg van veranderde politieke omstandighede nie. Die ondergang moet ons 'geestelik' takseer.

Dit is nou die gevolg van die ongehoorsaamheid van God se volk.

Die bedoeling was dat heidene eer na Jerusalem moet bring.

En dit is wat gebeur in ons teks. As Salomo optree soos die Here dit wil hê, dan ontwikkel daar 'n koningskap met 'n volstrek eie styl.

Salomo se roem is dan ook duidelik verbonde met die Naam van God.

Ons teks wys die verband onmiskenbaar aan, in vers 1. Die koningin van Skeba hoor die gerug van Salomo in verband met die Naam van die Here.

As Salomo die Naam hooghou, skenk die Here vir Hom eer en rykdom, terwille van Sy Naam.

As die volk van God heeltemal vir die Here lewe en heeltemal anders is as die heidenvolke, dan gaan daar 'n lig op uit Jerusalem. Dit word 'n stad op die berg. 'n Sentrum van kultuur.

Dit moet in die wêreld opval. Mense en gemeentes waarin God en Christus werklik sentraal staan, hulle val op in die wêreld. Hulle straal lig uit na buite toe. Hoe sterker en helderder die lig, hoe verder dit sigbaar is.

Dit is wat gebeur het met Salomo en Jerusalem. Dit word wyd en syd bekend. Tot in Skeba toe.

Ongetwyfeld word dan ook gevra: waarvandaan kom die heerlikheid van Salomo? Ook die antwoord daarop is bekend: Dit is JAHWE, die God van Israel wat vors en volk geseën het.

Dus daar word nie net gesê: Salomo is so baie ryk en wys, hy is werklik 'n groot koning nie. Nee, dit word ook in verband gebring met die Here se Naam. So behoort dit ook te wees.

Nie net Salomo se naam nie, maar God se Naam moet eer ontvang uit die woorde en uit die optrede van Sy kinders.

So kom die heidense koningin af op die lig wat Dawid se Seun versprei. Opmerklik is dus die ware Seun van Dawid, die groot Vredevors hom op dieselfde vlak beweeg.

As die Here Jesus gebore is dan sien ons ook weer heidene kom. Hierdie keer nie uit die Suide nie, maar uit die Ooste. Hulle bring vir Hom geskenke saam. Goud, wierook en mirre. (Matteus 2)

Dit is opvallend. Dit is dieselfde geskenke as waarmee die Koningin van Skeba, Salomo vereer het. Goud en kosbare speserye. Goud, wierook en mirre. Dit is die eerbewyse van die heidene vir Dawid se Seun.

Sy het gekom en gesien die eie styl van die koning en sy volk.

En sy het geweet: dit alles het te doen met die Naam van die God van Israel. So ontvang God Sy eer, selfs uit die mond van 'n heidense, wat met eie oë gesien het wat die Here doen met 'n koning en 'n volk wat trou is in Sy diens.

2. Ons let op haar vrae.

Gelok deur die roem van Salomo het sy na Jerusalem gekom. Waarvandaan sy presies gekom het, weet ons nie, maar die mees waarskynlike is tog, sy het gekom uit die uiterste Suide van Arabië. Die gebied wat ons vandag Jemen noem.

Daar het sy, seker maar van handelsreisigers gehoor van die groot rykdom, en die besondere wysheid van Salomo, die koning van Jerusalem.

Nou wil sy dit met eie oë sien. Sy kom volgens ons teks, spesiaal om hom met raaisels op die proef te stel.

By daardie raaisels moet ons nie teveel dink aan 'n vorm van pussels soos ons dit ook wel ken nie. By ons is raaisels iets soos flink-dink. Daarby word 'n beroep gedoen op jou geheue en jou dinkvermoë.

Dit was hier ook wel 'n onderdeel van die raaisels, maar die belangrikste was tog meer, ons sou dit verkieslik lewenswysheid kon noem.

Ons sou ook kon sê, mensekennis.

Mensekennis is nie iets wat 'n mens uit 'n boekie kan leer nie. Dit is ook nie dieselfde as intelligensie nie. Dit is vir 'n deel 'n saak van aanleg en vir 'n ander deel 'n saak van lewenservaring, opmerkingsgawe, liefde vir en insig in die dinge wat rondom jou gebeur.

Wel, hierdie vorm van wysheid het in die ou Ooste 'n besondere waardering geniet. Oënskynlik het die koningin van Skeba daarin ook baie belanggestel. Die wysheid is dikwels bewaar in allerhande spreukversamelings, in gelykenisse en diepsinnige verhale.

Wel, nou kom sy met al haar heidense wysheid wat sy met haar saam neem na Jerusalem, om Salomo se wysheid te toets.

U voel wel aan gemente. Dit is 'n spannende oomblik.

Nou sal al die wysheid van die heidene, wat hulle in eeue van dink-arbeid versamel het, met die wysheid van Israel se koning, gekonfronteer word. Of as ons bedink dat dit God was wat Salomo sy wysheid gegee het, moet ons liewers sê: Hier word die wysheid van die heidene gekonfronteer met die wysheid van die God van Jerusalem.

Die groot vraag is dan dit: Wie het nader aan die oplossing van die raaisel van die wêreldgeskiedenis gekom? Wie kan meer sê oor die herkoms van die Skepping en die plek van die mens daarin? Wie het meer insig in die doel van die menslike lewe, in die vrae van lewe en dood: Die heidene wat die God van hemel en aarde nie ken nie? Of: die volk van God wat deur die Here in Sy Woord onderwys is in al hierdie vrae.

Daarom gaan dit hier ten diepste!

En dan blyk dat Salomo op geen van haar vrae, die antwoord skuldig moet bly nie. Geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie.

In Jerusalem gaan die lewe nie toe nie, maar dan blyk metterdaad dat die vrees van die Here die begin van alle wysheid is!

Salomo het nie 'n godsdiens bely wat hom losgemaak het van die aardse werklikheid nie. Inteendeel. Hy weet God het die mens op die aarde 'n plek gegee. En Sy Woord is voldoende om in hierdie lewe jou plek te vind.

Die gebooie van God sny ons nie af van die lewe nie, maak die lewe nie tot 'n ondraaglike las nie, maar hulle maak die lewe werklik vry.

God se Evangelie bevry van die las van die sonde.

En dan gaan die lewe oop!

Dan kry 'n mens ook insig in die betekenis en die doel van die Skepping. Op die vraag na die waarom en die waartoe van die bestaan van die mens, van die lewe van plant en dier, moet elke heidense filosofie uiteindelik die antwoord skuldig bly.

Maar in die Kerk mag ons weet van die doel van die Skepping. Die is daar tot verheerliking van God se Naam. Ons mag ook weet van die herstel van die geskonde Skepping. Van die nuwe wêreld wat voorlê

Waar Salomo in sy tyd 'n lig in die wêreld was, ons ken die groot Seun van Salomo, Jesus Christus. Hy is die deur God gestuurde Middelaar wat eendag mens en dier en plant weer heeltemal aan God se bedoeling sal laat beantwoord.

Wie Hom navolg, hy sal nie in duisternis wandel nie. Hy ken vandag sy plek in die wêreld. Hy weet ook, waarnatoe ons vandag op pad is. 'n Bietjie van die glans van God se Koninkryk is reeds gedemonstreer deur koning Salomo.

Maar ook Sy Ryk was nog bevlek met talle sondes en gebreke. Maar eendag kom Salomo se groot Seun, Jesus Christus. By die glorie van Sy Ryk sal Salomo se vorstelikheid nog maar 'n klein ding wees.

3. Die spreke van die koningin van Skeba.

As die koningin Salomo se wysheid getoets het met haar raaisels, en Salomo al die vrae opgelos het, is dit tyd vir 'n feestelike maaltyd. Vers 5 wys daarop dat die koningin die gang van sake by hierdie maaltyd aandagtig gadegeslaan het. Daarna mag sy die paleis en die tempel sien. Sy ontvang 'n rondleiding deur die troonsaal, die wynkelder en die tempelvoorhof.

Nadat sy alles gesien het, was daar in haar geen gees meer nie, staan hier. Dit klink 'n bietjie merkwaardig. Bedoel is, sy is buite asem. Nie omdat sy so vinnig gehardloop het nie, maar meer soos ons dit sou sê: sy is beïndruk deur die asemrowende skoonheid van die geheel.

En dan gebeur daar iets baie opvallends: Sy spreek naamlik 'n gelukwensing uit aan al die hofdienaars en verdere bediendes in die paleis. Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars wat gedurig in u diens staan.

Watter vors wat op besoek is, kom ooit op die gedagte om die knegte in die paleis geluk te wens?

Maar sy doen dit. Sy spreek uit: dit is 'n voorreg om onder 'n vors te mag dien, wat so deur God geseën is.

Hierdie gelukwensing van 'n heidense vorstin moet u ook hoor teen die agtergrond van die res van die boek Konings. Binne 'n paar jaar sal 'n groot deel van die knegte van die koning afvallig word van Dawid se huis. Hulle wil dan niks meer met Jerusalem en sy koning te doen hê nie. Slegs twee stamme bly trou aan Dawid se huis.

Dit sal gebeur as Salomo die diens van die Here verlaat.

Gelukkig is hulle wat Salomo mag dien! sê die heidense koningin.

En nou moet u baie eeue verder dink. Aan die koms van die laaste seun uit Dawid se huis. Aan Jesus Christus wat van Homself kan sê: Meer as Salomo is hier. 'n Groter Vredevors as hy, is Ek!

In daardie situasie blyk dat die volk Israel glad nie belangstel om so 'n koning te dien nie. Hulle wil sy knegte nie wees nie!

Sien u die punt?

'n Heidense koningin stel vas by Salomo: Gelukkig is jou volk om so 'n koning te kan hê. Maar as nog 'n groter koning kom as Salomo, word Hy deur dieselfde volk verwerp en gekruisig.

Die koningin prys ook die Here vanweë Sy liefde vir Sy volk.

Ons weet nie in hoeverre die koningin bewus daarvan was nie, maar hier bring sy die lewensgeheim van die volk Israel onder woorde.

Die volk mag lewe, danksy die welbehae van God. In sy welbehae het Hy hierdie volk as sy eiendom gekies.

In die liefde gee Hy vir hulle 'n koning wat die volk voorgaan in die diens van die Here.

Met hierdie gelukwensing is die koningin van Skeba 'n getuie teen die ondankbaarheid en die blindheid van Israel, wat sy eie voorreg nie raaksien nie.

Dit is eintlik nie 'n wonder dat die Here Jesus aan hierdie koningin gedink het toe die Jode Hom as Koning verwerp het. (Matteus 12: 42)

Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan, saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af, om die wysheid van Salomo te hoor en te sien, meer as Salomo is hier!

Die koningin het 'n bietjie van die lig opgevang wat Salomo versprei het. En onmiddellik het sy van ver gekom om die Here te prys!

Maar toe in Israel die groot Lig van die wêreld optree, wat meer is as Salomo, toe het hulle wat naby was, Hom verwerp.

En daarom sê die Here Jesus, sal in die dag van die oordeel die koningin van Skeba 'n laaste diens verrig. Sy sal getuig teen julle!

Teen julle as volk van God, wat so naby die lig van God gestaan het, maar die voorreg verwerp, en geloop het.

Dit kan seker maar gebeur broeders en susters, dat 'n mens deur die Here in die onmiddellike nabyheid van die lig gestel word, en dat jy tog jou rykdom nie sien nie. Of nie wil sien nie.

Dat jy die Here Jesus mag ken en tog weer van Hom afstand neem.

Laat dit vir julle nie vergaan soos die volk van Israel wat sy eie rykdom en geluk nie meer gesien het nie.

Dan sal die heidene teen julle getuig. Dan sal hulle julle voorgaan. Laat u oë steeds weer oopmaak vir die heerlikheid van Christus se Koninkryk, waarin u mag lewe.

Dit is 'n gelukwensing werd as jy in sy ryk 'n kneg mag wees.

'n Mens kan gelukgewens word as jy tot Sy gemeente mag behoort.

Die koningin van Skeba het dit gesien en gesê.

Werp u rykdom nie weg deur u lidwees van die Kerk te verag, of die diens in die Koninkryk te weier nie.

Wie homself gee in daardie diens word mos maar net ryker.

Want met die koningin van Skeba wil ek vir u sê:

Gelukkig is die volk wat onder Koning Christus mag dien!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)