Salomo se gebed om wysheid is verhoor

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 3
Preek Inhoud: 

Ps. 122: 1
Ps. 122: 2
Ps. 84: 1, 4, 5, 6
Ps. 133
Ps. 136: 1, 2, 19, 20
Lees: 1 Konings 3
Teks: 1 Konings 3: 9, 10 en 28

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Toe ons vanoggend saam uit die Bybel gelees het, het u dalk by uself gedink: Ai, nou lees dominee darem presies dieselfde Bybelhoofstuk soos verlede week!

En dit is waar. Verlede week het ons ook saam nagedink oor hierdie hoofstuk 3. My oorspronklike plan was om vandag 'n bietjie verderop 'n teks uit hierdie boek te kies, maar toe ek nog 'n keer uit hierdie hoofstuk lees, het ek tog maar besluit om nog ekstra aandag te bestee aan die wonderlike verhaal van Salomo se regspraak.

Hierdie geskiedenis waarin Salomo sy wysheid toon deur uit te vind wie die regmatige moeder van die lewende kind is. Sy opdrag om die lewende kind middeldeur te sny, is 'n skitterrende vonds om die ware moeder te ontdek, en die ander vrou as leuenares te ontmasker.

As 'n mens die verhaal lees, stel jy jouself onwillekeurig in Salomo se posisie, en vra jy jou af of jyself, as jy in Salomo se plek gestaan het, ook dieselfde oplossing sou gevind het.

Wel, ek het by myself gedink: Ek sou nie geweet het wat om te doen of wat om te sê nie. Salomo is slimmer as ek.

Maar deur so jou vrae te vra, ontdek jy ook 'n paar ander dinge.

In die eerste plek dit: Hierdie verhaal is nie bedoel om te wys dat Salomo as regter baie slim is nie, maar dit gaan hier om goddelike wysheid om reg te doen, soos ons teks sê.

En daarmee kom die verhaal op 'n heel ander vlak. Die Here het vir Salomo gewys wat om te doen. En daarby: hierdie wysheid wat Salomo toon, is duidelik 'n verhoring van sy gebed, op Gibeon.

En daar kan ons weer iets leer: wysheid is nie 'n saak van hoë intelligensie nie. Want jy kry intelligente mense wat 'n kolossale gebrek aan wysheid vertoon.

Wysheid is ook nie 'n saak van hoë leeftyd nie. Want daar is mense wat in hoë ouderdom nog baie onwys kan optree.

Maar wysheid is 'n gawe van God, wat Hy wil gee aan hulle wat in geloof daarom bid. Die apostel Jakobus skryf (1: 5) "En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee, sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. "

Ons tema vir die prediking van vanoggend is:

SALOMO SE GEBED OM WYSHEID IS VERHOOR.

  1. Hy ontvang wysheid om te kan luister.
  2. Hy ontvang wysheid om te kan spreek.

Hierdie geskiedenis in 1 Kon. 3 is bedoel as 'n illustrasie hoe God Salomo se gebed om wysheid verhoor het. Om agter te kan kom watter wysheid hier bedoel word, is dit goed om nogmaals te kyk na wat Salomo eintlik van die Here gevra het.

Die eerste ding wat opval is dat Salomo self die woord 'wysheid' nie in sy gebed opneem nie. So sê ons altyd. Maar dit staan nie daar nie.

Wat hy vra is dit: Gee aan u kneg 'n opmerksame hart.

'n Opmerksame hart, dit is 'n pragtige uitdrukking. 'n Opmerksame hart, is 'n hart wat oopstaan vir 'n ander. Daarvoor moet 'n mens kan luister, nie net met sy ore en met sy verstand nie, maar met sy hart.

En dit is 'n gawe wat maar min mense besit. Daar is geen moeiliker ding in die lewe as om werklik te kan luister nie.

U het dalk wel 'n keer meegemaak dat mense met mekaar argumenteer. Hulle hoor mekaar se woorde. Maar daar kom nie werklik kontak nie. Die een hoor na die woorde van die ander met die uitsluitlike doel om daarin 'n swakheid te vind om opnuut sy eie saak met temeer krag te kan stel.

As jy as buitestaander by so 'n gesprek is, ontdek jy: Hulle bereik mekaar glad nie. Daar word nie geproe wat die ander wil sê nie. Dit kom verskriklik baie voor.

In verhoudings tussen mense afsonderlik, tussen eggenote, tussen ouers en kinders, tussen bure, tussen kollegas ens.

Maar dit kom ook voor in die kerk. Dat mense maar net luister om te kan sê, wat is verkeerd.

En dan kan daar baie gou verwydering kom tussen broeders en susters in die gemeente. Dit is lewensgevaarlik in die kerk. Dit kan maar net deurbreek word, as ons gedurig bereid is om na mekaar te luister.

Nie net met ons ore nie, maar veral met ons hart, sodat ons die bedoelings van 'n ander kan verstaan.

Salomo is van die noodsaak om te kan luister baie bewus.

Hy sal van nou af God se volk moet rig.

Regspreek as koning, dit beteken soos ons verlede week gesien het, dat die koning die heil van die volk moet dien. Regdoen as owerheid, en die verdrukte verlos, dit is in die Bybel dieselfde soos ons in Psalm 72 kan lees. Verlede week het ons dit uitvoeriger bespreek, daarom sal ons verder vandag daaraan verby gaan. Nou gaan dit dus daarom, dat om as koning die welsyn van die onderdane te kan dien, daarvoor is 'n luisterende hart nodig.

Net met 'n luisterende hart, kan 'n mens agterkom wat die waarheid is in iemand se woorde of dade. Of sy bedoeling ook werklik ooreenstem met die buitekant wat hy vir 'n ander vertoon.

Salomo het dit goed verstaan. Hy vra daarom 'n luisterende hart. Maar hierdie luister is nie net beperk tot menslike verhoudings nie. 'n Mens moet kan luister na God, anders ontbreek die maatstaf om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

Want dit gaan in allerhande situasies nie daarom wat jy self daarvan dink nie, maar die vraag; hoe die Here oor sake oordeel. Dit is beslissend vir die vraag wat goed en kwaad is.

Dit is trouens nie net nodig vir 'n koning in die Ou-Testament nie. Ook in die Nieu-Testamentiese gemeente moet daar so 'n luisterhouding wees.

Dit geld wel spesiaal vir ampsdraers in die gemeente.

Soos elke mens is hulle ook maar geneig om te vinnig te spreek. 'n Mens praat dikwels al voordat hy werklik geluister het. Met as gevolg dat 'n ander die gevoel het, hy het my glad nie verstaan nie.

Daarom moet Salomo se bede om 'n opmerksame hart, ook ons bede wees, sodat ons na mekaar kan luister en mekaar kan help, maar ook bid ons om 'n opmerksame hart ten opsigte van die Woord van die Here, sodat ons goed en kwaad kan onderskei.

Die vrae van wat is goed en wat is kwaad (met 'n deftige woord noem ons dit: etiese vrae), daarop gee die Bybel nie altyd 'n regstreekse antwoord nie. Daar is nie vir elke situasie 'n bybelteks wat ons kan toepas nie. Juis daarom moet ons 'n opmerksame hart hê ten opsigte van die Woord van God, om te kan verstaan wat Hy wil hê ons moet doen in verskillende situasies.

Dat Salomo om 'n opmerksame hart vra, word deur die Here baie gewaardeer. "Dit was goed in die oë van die Here, dat Salomo dit begeer het", sê ons teks.

Salomo het 'n goeie keuse gemaak.

Hy kon gevra het om 'n lang lewe, om rykdom, om nie deur vyande gepla te word nie, ens.

Dit is nie dat dit alles verkeerd is nie. 'n Lang lewe, rykdom, 'n lewe sonder vyande, dit kan alles 'n seën van die Here wees.

Maar dit gaan hier om wat Salomo bo-aan sy verlanglys stel. Hy vra om reg en geregtigheid te kan doen, tot heil van God se volk. Dit is net soos die Here Jesus dit stel: Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid. Dit moet in ons lewe voorop staan. Dit moet vir ons die sin van die lewe uitmaak. Daarom moet dit gaan in ons lewe.

As ons geld en gesondheid belangriker ag as die doen van geregtigheid, dan is daar iets fundmenteel verkeerd.

Seker, God kan 'n mens rykdom en 'n gesonde lewe gee. Maar dan is dit 'n ekstra seën wat daarby kom.

By Salomo staan alles op die regte plek.

Hy soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid.

En daarmee is Salomo werklik 'n Messias-Koning.

'n Messiaanse Vredevors oor die Messiaanse Vrederyk.

En dit het die goedkeuring van God. Van die Koning van die konings.

En daarom gee God hom baie meer as dit wat hy vra.

So is die Here.

As God in ons lewe die eerste plek inneem, dan ontdek ons in allerhande dinge wat ons het, die seën van die Here.

Op die seën het ons nie regte nie. Ons kan dit ook nie verdien deur 'n lewe in goeie werke nie. Dit bly maar net 'n genade geskenk. En 'n opmerksame gelowige hart, sal die geskenk opmerk en daarvoor dankbaar wees.

Die seën kan ons wel verloor. Laat ons ook dit bedink. As God nie meer die eerste in ons lewe is nie, as ons met Sy woord nie wil reken nie, dan sien ons ook nie meer Sy seën nie. Selfs al sou ons dan nog rykdom en 'n lang lewe kon hou, dan tog is dit nie meer God se seën nie, dit kan selfs tot 'n vloek word.

Ons keer terug na Salomo.

Skielik word hy wakker - en dit was 'n droom! sê vers 15.

Jammer dink ons dan, dit was maar net 'n droom. Moet 'n droom nie te ernstig opneem nie.

Maar Salomo se reaksie is anders. Hy keer met vreugde en dankbaarheid terug na Jerusalem, om die Here daar dankoffers te bring vir Sy wonderlike beloftes. Al die dienaars moet deel in sy feesvreugde.

Die Here het Salomo se onsekerheid hoe hy die volk van God moet regeer weggeneem. Hy vertrou dat die Here Sy beloftes ten volle sal nakom.

En dat die vertroue nie beskaam word nie, bewys die volgende verhaal.

Daaroor is ons tweede punt.

2. Salomo ontvang wysheid om te kan spreek.

Die verhaal oor die twee moeders wat stry voor die koning oor die lewendige kind, het legendaries geword. Daar is selfs 'n bekende uitdrukking aan ontleen: 'n Salomo's oordeel. In my Afrikaanse woordeboek staan by die woord die volgende: dit is 'n wyse uitspraak in 'n moeilike of selfs onoplosbare geskil.

Inderdaad dit lyk na 'n onoplosbare geskil. Hoe sal 'n koning kan bepaal wie die moeder van 'n bepaalde kind is?

Selfs die jong kinders kan die spanning voel van die regsaak.

Seker as hulle die prentjie daarby uit die kinderbybel bekyk, dan lê daar die dooie kind in 'n hoekie, en 'n soldaat hou die lewendige baba aan een been vas, en staan op die punt om die kind middeldeur te hak. Ons kry almal 'n opwelling om te roep: Maak vinnig Salomo! Roep vir die soldaat, hy moet stop! Want as hy te haastig slaan, dan is dit te laat!

Gelukkig het elke keer as my pa vroeër vir my die verhaal voorgelees het, die koning betyds ingegryp en die regte moeder aangewys. Ek hoop as julle pa of ma dit voorlees dit ook so sal wees. Want dit bly darem maar spannend. Ons kan wel huil en lag tegelyk met die egte moeder wat haar eie kind terugkry.

Tog wil ons nog 'n bietjie meer van die verhaal sê. Hoe het Salomo nou agtergekom, wie die regte moeder is? In vers 23 hoor ons hom hardop dink: Die een sê: Dit is my kind en die ander een: Dit is my kind!

Hul woorde is presies dieselfde. Uit die woorde blyk dat daar by altwee 'n begeerte is om die kind te hê. Die begeerte om te hoor is dieselfde, maar tog moet daar 'n verskil in die begeerte wees. Die begeerte van die een is moederlike liefde vir die kind self. En by die ander is dit die begeerte om niks te mis wat 'n ander wel het nie. Die dreiging dat die kind deurgesny gaan word, bring die verskil in gevoel aan die dag, die verskil tussen liefde wat liewers wil gee, en begeerte wat maar net wil hê.

In sy optrede reken Salomo dus op die moederliefde. Selfs by die vroue wat in ontug geleef het is die moederinstink nog nie dood nie. Salomo laat so die moederliefde triomfeer.

Die Here het vir hom die wysheid gegee. Die hele volk is diep beïndruk, want hulle besef dit is wysheid van bo.

Die koning het 'n verlossende woord gespreek in 'n onmoontlike situasie. Dit was werklik 'n verlossende woord. Onthou u nog regspreek of regdoen is in die Bybel dieselfde as: Verlosser wees.

Die woord verlossing beperk ons dikwels maar net tot wat ons noem: die 'geestelike'. Ons praat van 'n verloste sondaar, of van jou persoonlike verlossing, ens.

Maar in die Bybel omvat die verlossing baie meer.

Die verlossing is betrokke op die hele bestaan van die mens.

'n Verlossing van liggaam en siel.

En nou ontdek ons naas die wonderlike wysheid van Salomo se verlossende woord, ook die beperktheid van Sy verlossende woord.

Salomo is die Vredevors, ook in die stryd wat hy hier oplos, maar sy Vrederyk is darem nie die volmaakte nie. Of wel: Salomo is wel 'n verlosser, maar nie die Verlosser (hoofletter) nie

Salomo los die probleem op: wie is die moeder van die lewendige kind?

Maar altwee vroue bly tog maar hoere. Of soos 'n baie ou vertaling dit weergee: hulle is herbergiersters. Maar dit was in die Ou Ooste amper dieselfde. Soos Ragab in Jerigo naas 'n pot bier en 'n goeie maaltyd ook meer te koop gehad het.

Wel, aan die situasie verander Salomo niks nie. En daarom is sy vrederyk onvolmaak. 'n Vrederyk, waar nog prostitusie voorkom, is nog 'n verwronge maatskappy.

Daar is die verlossing nog nie volkome nie.

'Sy is die moeder' dit is die laaste woord van Salomo in ons teks.

Ons sou dalk liewers wou gehad het dat Salomo moes sê: Gaan heen, kry 'n wettige vader vir die kind, en sondig nie meer nie.

Maar laat ons nie kritiseer nie. Dit doen die Bybel ook nie hier nie.

Die Bybel praat net positief oor die besluit van Salomo.

Ons mag nie nie kritiseer nie, tog mag ons wel konstateer: God het Salomo sodanig gelei dat hy rigtend en verlossend besig is. Maar tegelyk sien ons: sy verlossende aktiwiteit is nie volkome nie.

Daar bly nog iets oor om te wens.

Nee, seker daar bly iets oor om te wag, want God het reeds in die Ou-Testament die volkome Verlosser belowe.

Die wyse uitspraak van Salomo is 'n teken van die Vrederyk.

Maar in Jesus Christus kom Hy, wat meer as Salomo is.

Salomo kon 'n lewendige kind aan die regmatige moeder gee. Dit is pragtig. Die Here Jesus gee 'n dooie kind lewendig terug aan haar moeder. Dit is baie groter.

Salomo verlos die hoer van 'n probleem. Sy ontvang haar gesteelde kind terug.

Die Here Jesus verlos hoere van hulle beroep.

Hy bevry publieke vroue van 'n lewe waarin hulle vasgevang was. Christus se tekens van Sy Vrederyk is dus baie groter.

En daarom kan ons met des te groter verlange uitsien na die Dag waarop ons Here Jesus Christus in werklikheid sal verskyn.

Op die dag sal ons volledig verlos word van ons sonde, maar ook ons hele bestaan sal dan verlos wees.

Laat ons daarom bid, voordat die Dag daar is, om wysheid van God in hierdie, deur die sonde gebroke wêreld.

Laat ons bid dat ons 'n luisterende hart sal hê vir die nood van ons broeder en suster, vir die nood van ons naaste.

Laat ons bid dat ons 'n luisterende hart sal hê, vir die Woord van die Here, sodat ons in staat sal wees om goed en kwaad te onderskei.

Laat ons bid om wysheid vir die owerheid dat hulle reg sal doen aan hul onderdane.

Laat ons bid om wysheid vir die ampsdraers in die kerk, dat hulle die kudde wat aan hul sorg toevertrou is, liefdevol sal lei. Laat ons al ons wysheid verwag van die Here, wat na Sy belofte aan almal eenvoudig gee, sonder om te verwyt.

Want met 'n luisterende hart mag ons, op die plek waar God ons stel, nou reeds verlossend en bevrydend besig wees.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)