Salomo, die voorlopige vredevors

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
I Konings 3
Preek Inhoud: 

Ps. 135: 1, 2
Ps. 135: 8
Ps. 45: 1 - 6
Ps. 72: 1, 7
Ps. 72: 9, 10
Teks: 1 Kon. 3: 1 - 9
Lees: 1 Kon. 2: 47 - 3: 28

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

'En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo. ' Daar het ons vanmôre ons Skriflesing begin. Mens kan daaroor stry of hierdie woorde 'n gevolgtrekking is uit die gebeurtenisse wat vertel word in hoofstuk 2, of dat dit ook geld as 'n opskrif bo die derde hoofstuk.

In elk geval kan ons sê, wat Salomo in hoofstuk 2 doen as koning, is eintlik maar net uitvoering van die laaste bevele van sy vader Dawid. Maar in die derde hoofstuk val die kollig vir die eerste keer volledig op Salomo se eie dade as koning.

En ons kan rustig vasstel, die oordeel van die Bybel oor Salomo se eerste optrede is baie positief. Die hele volk is diep beïndruk deur sy dade: hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.

In die sin kan ons ook 1 Kon 2: 47 verstaan: die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.

Sy regeringsoptrede verwerf steun onder die hele volk. En dit is 'n baie goeie basis om 'n ryk van vrede en geregtigheid te hê. Want daarom gaan dit tog in hierdie gedeelte van Israel se geskiedenis. God vestig daar 'n Vrederyk onder leiding van 'n aardse Vredevors wat hom deur God laat lei.

God seën vors en volk. So 'n Vrederyk op hierdie aarde is al 'n seldsaamheid. Hier is 'n voorskot op die toekoms wat God met Sy volk voor oë het.

'n Voorskot op God se toekoms, noem ons dit. Want so moet ons as Nieu-Testamentiese gemeente hierdie geskiedenis van die aardse Vrederyk tog altyd verstaan. 'n Voorskot - dit beteken - hier gebeur werklik iets wat God bewerk het op hierdie aarde. Daar is 'n koning wat as 'n Vredevors regeer. Daar is werklik vrede en geregtigheid soos God dit bedoel. Maar dit bly tog ook slegs 'n voorskot. Salomo se Vrederyk het iets voorlopigs. Sy Koninkryk sal nie vir ewig kan standhou nie, want ook hierdie koning is 'n sondige mens. Sy Koningskap kan nie die volmaakte Vrederyk waarop die volk van God wag, bring nie. Daarvoor sal nog 'n ander koning moet kom. 'n Koning wat die Here volmaak sal dien, en daarom ook die volmaakte heil vir Sy volk kan bring.

Hierdie gedagte wil ons verder uitwerk in die prediking van God se Woord onder die tema:

SALOMO, DIE VOORLOPIGE VREDEVORS.

  1. Hy wys sy liefde vir God.
  2. Hy soek die heil van sy volk.

Ons teks begin met die vermelding dat Salomo hom verswaer met Farao, die koning van Egipte. Hy neem naamlik Farao se dogter as sy vrou. Dit is 'n duidelike bewys dat Salomo se koningskap bevestig is. Dit vind selfs 'n internasionale erkenning! Dit word nog onderstreep deur die manier waarop dit hier vermeld is. Daar is nie net die koning van Egipte wat in sy goedgunstigheid besluit om aan Salomo sy dogter as 'n vrou te gee nie, maar die aksie gaan duidelik van Salomo uit. Salomo verswaer hom. Ongetwyfeld het hierdie huwelik 'n politieke doel. Farao stel belang in 'n goeie verhouding met die koning van Israel, want die belangrikste handelsroete van daardie tyd, naamlik tussen Mesopotamie en Egipte het dwarsdeur die gebied van Israel gegaan. Dus wanneer Farao sy dogter vir Salomo gee, is dit 'n erkenning dat Salomo die man gaan wees, wat in Israel die mag het.

Ongetwyfeld was die huwelik ook vir die ekonomiese en politieke ontwikkeling van die Ryk van Salomo baie voordelig.

Maar tog daar is ook 'n ander kant aan hierdie saak. Salomo neem met hierdie huwelik 'n geweldige risiko. Die huwelik bring in die Vrederyk 'n gevaarlike hoeveelheid plofstof binne.

Immers die Egiptiese prinses neem ongetwyfeld haar gode en haar godsdiens saam na Israel. En dit vorm 'n bedreiging vir Salomo se Vrederyk.

Dit was nie verniet dat die Here aan Israel streng verbied het om huwelike met die inwoners van die land Kanaän aan te gaan nie. Want die onontkombare gevolg daarvan sou wees dat hulle ook die afgodsdiens van die volk sou oorneem.

Nou is dit wel waar dat in die verbod van die Here op hierdie punt net die inwoners van Kanaän genoem word. Die verbod geld nie sonder meer vir 'n huwelik met 'n buitestaander, 'n Egiptiese of 'n Filistynse of 'n Moabitiese nie.

Maar in elk geval het ook so 'n huwelik 'n groot risiko ingehou. Al kan dit seker ook gaan soos byvoorbeeld in die geval van Rut, die Moabitiese of Ragab, die hoer uit Jerigo.

Nogtans, ons teks oefen nie kritiek op die huwelik nie. In elk geval nie nou nie. Al weet ons dat later onder andere hierdie huwelik een van die oorsake is dat Salomo se Vrederyk instort.

Maar in ons teksverse val die aandag veral daarop dat Salomo, as jong koning, die Here liefgehad het, soos vers 3 sê: hy wandel in die insettinge van sy vader Dawid. (As u nog onthou uit die vorige preek uit Konings: Dawid se politieke testament vir Salomo is: wandel in die weë van die Here, dan sal jou koningskap bevestig word (2: 2, 3)

Dus Salomo se huwelik met die Egiptiese prinses, is nie in stryd met God se wet nie, en dit doen ook nie af aan sy liefde vir die Here nie. Sy Vrederyk is nog heeltemal ongeskonde.

Maar tog reeds hier kan ons 'n klein krakie opmerk. 'n Ander krakie hoor ons in die versigtige kritiek wat geoefen word op die plek waar die volk Israel sy offers vir die Here bring. Hulle doen dit op die hoogtes. Die hoogtes is die ou offerplekke van die Kanaäniete, waar hulle die Baäl en Astartes vereer het.

Nou het die Here lankal gebied dat die hoogtes verwoes moes word. Dit was vir Hom 'n gruwel. Hy wil nie hê dat Sy diens op enige wyse, selfs maar in verband gebring kan word met die Kanaänitiese afgodediens nie.

En daarom moet al die heidense hoogtes afgebreek word.

Die volk mag die Here maar net dien op die plek wat Hy vir hulle sal wys. Dit is wat die Here gesê het.

Volgens vers 2 het die volk ewewel tog van die ou-heidense offerhoogtes gebruik gemaak. En ook Salomo doen dit. Liewers, hy wandel in alles na die insettinge van sy vader Dawid, alleenlik, hy het net op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan. Hy het selfs Gibeon tot die vernaamste hoogte gemaak.

Dit alles was nie reg nie. Dit was in stryd met God se bevele op hierdie punt!

En ons hoor in vers 2 en 3 dan ook duidelik 'n kritiese toon teenoor hierdie offerpraktyk. Maar tog wel dit: die kritiek is baie mild.

Want, staan hier: Salomo het die Here liefgehad. Ondanks die fout in die offerdiens bly die Bybel positief in sy oordeel, om Salomo se optrede.

En dit is ook vir ons vertroostend. Dat die Here so mild is in Sy oordeel oor Sy kinders.

Ons kan soms 'n voorstelling van die Here hê waarin Hy soos 'n roofvoël bo ons lewe swewe, en alles van ons sien, en by die geringste verkeerde beweging wat ons maak, duik hy neer om ons te vermorsel. Een ding verkeerd, dan alles verkeerd!

So oordeel onsself ook dikwels oor ander mense, byvoorbeeld oor broeders of susters binne of buite die kerk. Is daar een ding verkeerd, dan is daar niks goeds meer nie. Een verkeerde handeling, ons breek vir altyd met hom. Maar die Here oordeel anders. Hy sien nie net na wat iemand doen nie, maar Hy vra na die hart. Iemand kan 'n wonderlike ding doen, byvoorbeeld 'n groot bydrae gee vir 'n goeie doel as daar geld nodig is, maar as sy hart daarin nie by die Here is nie, maar hy eintlik net sy eie eer soek, dan beteken dit vir die Here niks nie. Die Here sien eers na die hart.

En dit is troosvol vir ons. Ons lewe met die Here verloor so 'n stuk van sy spanning. Die liefde van Christus waarin ons opgeneem is, kan ons bevry van enige vorm van krampagtigheid. Die Here vra eers: Is daar liefde vir My? En dan pas praat Hy verder.

Salomo het die Here liefgehad. So oordeel die Skrif.

Hy offer selfs duisend brandoffers.

Daar wil ons nog iets sê. 'n Brandoffer is in sekere sin 'n spesiale offer. Van 'n gewone offer naamlik, het die offeraar die meeste terug ontvang. Die vleis van die offerdier kon geëet word. Maar met 'n brandoffer is dit anders. So 'n offer is geheel verbrand. Met die vleis daarby. En daarmee is dit meer as 'n dankoffer.

Met 'n brandoffer wil die offeraar sê: Alles wat ek het is vir die Here. Met my hele lewe wil ek die Here dien.

Salomo gee daarvan selfs 'n koninklike hoeveelheid. Duisend brandoffers! Ook daarin wys hy dat hy die Vredevors is. Die eerste eis vir 'n koning van die Vrederyk is dat Hy God dien met sy hele hart.

Sy taak kan maar net vervul word as hy bewus is dat sy hele lewe diens aan die Here is. Sonder liefde vir God kan daar nie 'n Vredevors wees nie. En nou moet ons dink aan die Vredevors, Jesus Christus, wat van Homself gesê het: Meer as Salomo is hier!

Salomo bring duisend brandoffers as sy liefdegawe!

Jesus Christus bring EEN kruisoffer as Sy liefdegawe.

En die laaste is meer as die eerste. Meer as Salomo is hier!

Duisend brandoffers, hulle is simbole van 'n voorlopige vrede. Maar EEN kruisoffer was genoeg om die definitiewe vrede te gee, aan almal wat in die Vredevors glo!

Die liefde tot God is kenmerkend vir die Vrederyk.

Dus ook kenmerkend vir die burgers van die Ryk. Waar liefde woon, daar word die Koninkryk van God sigbaar!

2. Die Vredevors soek die heil van sy volk.

Eendag verskyn die Here aan Salomo, naamlik toe hy die groot offerande op die hoogte van Gibeon gebring het.

As ons dit lees, lyk dit vir ons, in die eerste instansie, nie baie konsekwent van die Here nie. Hy wil nie hê dat op die hoogtes geoffer word nie, maar as Salomo dit tog doen, verskyn die Here daar aan hom. Is dit dan tog nie so ernstig om God se gebooie te oortree nie?

Ons moet hier goed onderskei. Dit is nie Salomo se plan om die hoogtes te handhaaf nie. Die plan is om 'n tempel vir die Here te bou, die plek daarvan het die Here reeds aangewys.

Dus Salomo se offer op die hoogte het die karakter van 'n tydelike noodoplossing. Salomo is beslis nie van plan om die Here gelyk te stel met die afgode nie.

Wel, die droom wat Salomo daar het is 'n openbaring van God. 'n Droom van die Heilige Gees, sou ons ook kon sê

In die droom word vir Salomo 'n vraag gevra. As die Here vrae vra, dan is dit baie belangrik. Van so 'n vraag kan 'n mens nooit wegskram nie.

Mense hou dikwels nie van so 'n regstreekse vraag nie, byvoorbeeld as 'n ouderling op 'n huisbesoek 'n reguit vraag vra, sien jy dikwels dat mense 'n duidelike antwoord probeer ontgaan. Daar kom 'n heel rookgordyn van woorde, omdat jy jou hart vir 'n ander eintlik nie wil blootgee nie. Maar by die Here sal so 'n rookgordyn nie help nie.

Sy vrae dring daar dwarsdeur, vir Hom kan jy niks verberg nie.

Adam, waar is jy? Dan weet Adam, sy verbergingspoging is sinloos.

Kaïn, waar is jou broer Abel? Dan moet Kaïn antwoord gee.

'n Mens kan God nie bedrieg nie.

So vra die Here vir Salomo: Wat moet ek jou jou gee, Salomo? Jy kan maar sê.

Hierdie vraag is 'n indringende vraag. Wat moet ek vir jou gee. Daarmee moet aan die lig kom wat in 'n mens se hart lewe.

Dit sal 'n goeie ding wees as ons onsself die vraag sou vra: Wat sou ons sê as die Here ons so 'n vraag sou vra. Wat moet ek vir jou gee. Probeer maar 'n slag as u saam oor die preek napraat, om die vraag te stel: Wat begeer ons dat die Here ons moet gee?

Ek kan vir u die gereformeerde antwoord al wel gee: Ons moet begeer dat ons met blydskap die Here mag dien, en ons plek in Sy Koninkryk sal volstaan.

Maar moenie net met die antwoord tevrede wees nie. Toets veral of daardie antwoord ook in u hart is, en nie net in u mond nie.

Kom ons kyk nou na Salomo se antwoord.

Hy herinner die Here aan sy trou teenoor Dawid. God het Sy verbond met Dawid gehou.

En ook in Dawid getuig Salomo dat hy trou was in die Verbond met die Here: Dawid het gewandel in trou, in geregtigheid en in opregtheid van hart.

Dit klink baie positief. Ons is geneig om te dink: Nou ja! Dawid was tog ook 'n groot sondaar. Seker hy was. Daarvan is voorbeelde genoeg.

Maar nogtans, die Skrif kan van sondige mense sê dat hulle in trou, geregtigheid God gedien het.

Hulle het gelewe in die Verbond. Hulle het hulle soos goeie verbondspartners gedra.

Dit kan dus volgens die Bybel. Dat sondige mense met elke dag die bloed van Christus nodig het vir die vergewing van hulle sondes, tog gekenmerk word as mense wat in opregtheid teenoor God gewandel het.

Salomo sien God se trou veral hierin, dat God die belofte uitgevoer het, deur Dawid se seun op die troon te laat sit.

So het Salomo koning geword. Hy het nie self die mag gegryp, soos Absalom en Adonia dit probeer het nie, maar God Self het hom geroep tot sy amp!

Die roeping deur God is 'n belangrike wete vir 'n koning, en vir enige ampsdraer in die kerk.

Wie homself indring in so 'n posisie, Hy soek eer en mag vir homself. So iemand sal nooit 'n goeie ampsdraer kan wees nie. Hy het die verkeerde instelling. Dan word hy 'n heerser oor die volk of oor die kudde van Christus.

Maar as God vir jou so 'n taak gee, dan staan die Here agter jou. Dan is jy 'n instrument van God, en die voortdurende bewustheid daarvan, kan jou daarvoor bewaar om jou posisie te misbruik.

Salomo weet, hy is geroep deur God.

En daarom weet hy hom ook geoepe om God en die volk te dien.

En vanuit die bewustheid weet hy ook wat hy moet vra: Gee my 'n opmerksame hart om reg te spreek oor U volk!

Hy vra nie om eer of mag of rykdom nie.

Maar om wysheid om reg te kan spreek en reg te kan doen.

En daarmee sluit Salomo heeltemal aan by die pragtige Psalm 72. Dit is die koningspsalm. Die psalm laat sien watter taak die owerheid het.

Die koning moet oordeel met geregtigheid, en die ellendiges reg doen. Uit die psalm blyk dat die geregtigheid wat die owerheid moet oefen, veral hierin bestaan, dat aan die ellendiges van die volk reg verskaf moet word, dat die kinders van die behoeftiges verlos moet word, en die verdrukker verbrysel moet word.

U moet by die huis die hele Psalm 72 nog maar 'n keer lees.

Salomo vra die Here om reg te kan doen onder die volk.

Dit is veelseggend dat Salomo hierdie woord gebruk. Reg doen, geregtigheid oefen.

Die woord staan in regstreekse verband met bevryding van verdrukking, met verlossing uit allerhande nood.

Verlossing en bevryding. Daarin sien Salomo sy taak as koning. En daarmee is hy werklik 'n Messias-Koning.

Verlosser wees - dit is mos kenmerkend vir die Messias.

Die Vredevors soek die heil van Sy volk. By Salomo is dit nog maar net 'n begin van heil. 'n Begin van verlossing. Vir die ideaal soos hy dit self omskryf in Psalm 72, het nog nie alles reggekom nie.

Maar nou hy so sy Koningskap begin, mag ons daarvan baie verwag. En dit gebeur ook in Salomo se tyd. Die volk vind rus en vrede. Die volgende hoofstukke benadruk dit gedurig weer.

Dit alles is 'n geskenk van God.

Hy wys hoe dit kan as Hy Sy Koninkryk vestig.

Waar die koning God liefhet, en die wil van die volk soek, daar kom baie seën. In so 'n Koninkryk is die lewe wonderlik. Maar tegelyk bly staan: Salomo, die Vredevors kan nie die ware vrede bring nie. In sy Ryk bly alles nog onvolmaak en onvolkome.

Die volle heil, ook vir die volk van God, is eers daar waar die Vredevors Christus kom.

Sy liefde tot God is volmaak. Sy soeke van die heil van Sy volk is volkome.

En daarom gee eers Sy Ryk die voltooide vrede.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)