Gideon word as rigter geroep om die reg van die Here te handhaaf

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Rigters 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RIGTERS 8: 4-21

LITURGIE:
L.Rigters 8: 4-21
Ps. 101: 3, 4
Ps. 101: 2
Ps. 18: 16, 17
Ps. 119: 44, 60
Ps. 11: 3, 4, 5

Broeders en susters in ons Here Jesus Christus,

Ons wil vanmôre nogmaals luister na wat die Bybel ons oor die rigter Gideon vertel.

Ja, die Skrif noem hom "rigter". Saam met baie ander wat in die tyd na Josua leiding gegee het aan God se volk in Kanaän; in daardie donker tyd toe die afval van die HERE en sy verbond die gewoonste saak van die wêreld geword het.

Die woord "rigter" is feitlik 'n taamlik uitsonderlike woord. Dit val wel baie vertroud op ons ore, maar ons sou ook gewoon met "regter" kon vertaal het.

Miskien moet ons tog maar die spesiale woord "rigter" vir daardie geestelike leiers in Israel in die dae na Josua bewaar. Want ons dink by die woord "regter" veral aan iemand wat die reg tussen die mènse in allerlei onderlinge geskille handhaaf. As daar 'n kwessie ontstaan en jy en die ander een kan nie tot ooreenstemming kom nie, dan gaan vra jy vir die regter, in die verwagting dat hy reg sal spreek.

So'n regspraak tussen die mense onder mekaar het inderdaad tot die taak van die rigters in Israel behoort. Ons lees byv. van Deborah (4: 4, 5) dat die kinders van Israel na haar opgegaan het vir regspraak.

Maar die naam "rigter" beteken darem in hierdie Bybelboek meer, gemeente. 'n Rigter is allereers deur God geroep om sy reg in

Israel te handhaaf. Gòd se reg moes in die dae van afval en afgodsdiens weer hooggehou word.

'n Rigter was veral geroep om reformasie te bewerk, terugkeer na die God van die verbond.

En daarby moes hy almal wat daardie reg van die HERE vertrap het, uitroei en God se volk van hulle verlos. Maak nie saak nie of dit vreemde vyande van buite die grense of afvallige broeders binne die grense was- elkeen wat God se regte durf skend het, het God se rigter teenoor hom gekry.

So sien ons ook Gideon besig in die gedeelte wat ons diè keer as teks opgeslaan het. Hy moet as rigter God se regte handhaaf.

Maar dan blyk dit, broeders en susters, dat Gideon aanvanklik, as dit afvallige broeders in die stede Sukkot en Pnuel betref, nog wel kragtig die reg van die HERE hooghou. Maar wanneer hy vervolgens teenoor die moordenaars van sy broers kom te staan, verloor hy die reg van God uit die oog en verskaf hy homself reg.

As ek dit probeer saamvat is dit, kortliks, die inhoud van ons teksverse waaruit ons God se boodskap wil hoor:

GIDEON WORD AS RIGTER GEROEP OM DIE REG VAN DIE HERE TE HANDHAAF

  1. HY BEDIEN AAN SY AFVALLIGE BROEDERS DIE KERKLIKE TUG
  2. HY BETOON OOR SY GESNEUWELDE BROERS PERSOONLIKE WRAAKSUG

1. U onthou nog wel van die vorige preek (en as u vorige week sondagaand nie hier in die kerk was nie, weet u dit natuurlik uit u Bybel): Gideon het met 'n leërtjie van aanvanklik maar net 300 manne 'n ontsagwekkende leër van Midianiete en Amelekiete 'n verpletterende neerlaag laat ly.

Of liewer: nie Gideon nie, maar die HERE het daardie geweldige leër in verwarring gebring en op die vlug gedrywe. Gideon en sy manne het maar net hoef skreeu en lawaai maak. In paniek was die leër uitmekaar gespat en halsoorkop na alle kante weggevlug. Die Israeliete kon direk met die agtervolging begin. Hulle het in alleryl die Efraimiete gealarmeer om die vlugtendes by die rivierdeurgange in die Jordaan op te vang. Sodat Gideon en die ander Israeliete wat van alle kante te hulp gesnel het, die vyand eenvoudig in die fuik kon ja waar die Efraimiete hulle opgevang en doodgemaak het. Resultaat (ons lees dit êrens midde-in ons teksverse, 8: 10): 120. 000 Amelekiete en Midianiete doodgemaak. Net omtrent 15. 000 het ontsnap. Op snelle kamele het hulle dit reggekry om tog oor die Jordaan te kom en in die woestyn, waaruit hulle ook gekom het, terug te vlug.

Dit lyk nou maar die verstandigste dat Gideon die stryd staak en van 'n verdere agtervolging afsien. Die voorsprong van die wat ontkom het is nou al so groot dat mens hulle tog nie meer kan inhaal nie. Maar boonop is Gideon se eie manne so vermoeid en weens honger verswak, dat hulle nie meer ver sal kom nie. Wat maak dit ook saak? Die grootste deel van die vyandelike bendes is mos uitgeroei. En die Midianiete het 'n gevoelige les gekry. Hulle sal dit voorlopig beslis nie weer waag om oor die Jordaan te kom nie.

En die Efraimiete het mos ook die twee belangrike leiers in die hande gekry: Oreb en Seëb. Die neerlaag is vir die Midianiete dan swaar genoeg.

Gideon wil darem ook nou nog die agtervolging deursit. Noudat die HERE sy belofte dat Gideon die hele Midian sou verslaan asof hulle nie meer as een was nie, waargemaak het; en noudat die HERE gewys het dat nie 'n groot aantal manne en nie 'n indrukwekkende hoeveelheid wapens nie, maar eenvoudige geloof voldoende is om die vyand te vernietig, wil Gideon ook tot die uiterste gaan in die stryd vir die HERE en sy volk. Hy wil ook nog oor die Jordaan, die vyand agterna in die woestyn in.

Daarom vra hy hulp aan twee stede wat al 'n endjie anderkant die Jordaan aan die rand van die woestyn lê. Hulle benodig 'n bietjie proviand voordat hulle in die woestyn intrek. Bietjie brood vir die soldate is al genoeg. Dan het hulle darem weer 'n bietjie energie om ook die eindafrekening te kan voltrek.

Eerste vra hy vir die stad Sukkot. En 'n hele end verderop nog 'n keer die inwoners van Pnuel.

Maar tot sy verbasing en verontwaardiging hou albei die stede hulle poorte toe en wys hulle Gideon se versoek spottend af.

Dit was onbegryplik, gemeente! In Sukkot en Pnuel het broeders gewoon! Van die stam Gad. Dus mense wat volop belang daarby gehad het dat die bendes van Midian en Amelek so ver moontlik teruggeslaan sou word. Stel u voor: hierdie stede oorkant die Jordaan het telkens as eerstes las van daardie vyande gehad. As grensstede was hulle eerste die slagoffer. Wanneer dus jou broeders hulle uitsloof om die vyand vernietigend te verslaan, is die gee van 'n aantal brode darem die minste wat jy kan doen?

Maar hulle weier botweg. Hulle draai hul rug op hulle broeders. Hulle sê: Het jy al vir Seba en Salmuna, die konings van Midian wat ontsnap het, gevang dat ons vir jou en jou leër brood moet gee? Probeer eers maar om hulle in die hande te kry. Dàn het jy jou brode eerlik verdien.

Was hulle bang, gemeente? Bang dat Gideon dit nie meer sou regkry om die vyand in te haal; bang dat die vyand dan dalk sou terugkom en as eerste hierdie stede uit wraak oor hulle hulp aan Gideon met die grond gelyk sou maak?

In elk geval meen hulle dat Gideon geen enkele kans om te slaag het nie. Ten spyte van sy oorwinning wat hy alreeds behaal het, lag hulle Gideon nou in sy gesig uit. Jy moet vir hierdie waansinnige onderneming van ons geen hulp verwag nie....

Gideon kook van heilige verontwaardiging.

En hy lees eerste Sukkot en vervolgens ook Pnuel die leviete. Wanneer hy terugkom van sy ekspedisie en die HERE hom ook nou laat slaag, moet Sukkot en Pnuel maar daarop reken dat hulle hul straf nie sal ontgaan nie.

En die HERE laat Gideon slaag.

Die Midianiete wat oorgebly het, het hulle myle-ver in die woestyn teruggetrek. Dis vertroude terrein diè. Hier waan hulle hul veilig. Wie sou hulle hier nog agtervolg? Hulle het by Karkor kamp opgeslaan om weer op asem te kom.

Maar God sorg daarvoor dat Gideon hulle vind, daar diep in die woestyn. Hy oorrompel hulle vir die tweede keer met as gevolg dat ook die res uitmekaar geslaan word en daar nog twee kopstukke, Seba en Salmuna gevange geneem word.

So keer Gideon seëvierend na Israel terug.

Maar hy soek wel eers daardie twee stede, Sukkot en Pnuel, op. Deur middel van 'n seun bekom hy die name van die burgemeesters en raadslede van Sukkot, die verantwoordelike mense vir die weiering om vir kos sorg te dra. Hy vat hulle almal, 77 manne, en sny hulle saam met woestyndorings en distels stukkend. Hy het hulle nie maar net met doringstruike om die ore gegee nie, soos u dalk uit ons vertaling afgelei het en soos party vertalers Gideon se tugoefening ook wil afswak. Nee, hy het hulle tussen doringstruike en woestyndistels doodgemaak. Hy wou vir Sukkot daarmee laat voel: julle het ons bespot toe ons daardie woestynbewoners wou agtervolg. Julle wou geen hand uitsteek om van daardie woestynplaag verlos te word nie. Maar die verlossing het darem wel gekom. Julle sal van daardie woestynbewoners geen las meer hê nie. Maar julle sal daarvan geen voordeel hê nie. Julle sal vir straf die dood vind tussen die woestyndorings.

Na Sukkot kry Pnuel 'n beurt. Hulle het daar 'n toring, 'n bolwerk teen die plunderaars uit die woestyn. Hulle het per slot van rekening 'n grenspos gevorm. Maar Gideon sê: daardie toring is hier nie langer paslik nie. Julle wou mos geen vinger uitsteek om die vyand af te straf nie. Julle het geen verdedigingstoring teen die vyand meer nodig nie. Julle steun die vyand en pleeg verraad teenoor julle eie broeders. Wèg dan ook maar met daardie toring! En hy slaan dit plat.

U het dalk 'n taamlike moeite met Gideon se strafekspedisie, broeders en susters. Dit lyk mos soos 'n wilde wraakaksie van 'n leëraanvoeder wat hom persoonlik beledig voel.

Maar dan sal u moet gaan insien dat Gideon hier nie vir sy eie eer stry nie, maar as rigter in Israel die reg van die HERE handhaaf. Hy bedien kerklike tug aan afvallige broeders, op 'n wyse soos wat dit in daardie dae deur die HERE toegestaan was.

Want hulle het daar in Sukkot en Pnuel nie maar net vir Gideon en sy manne beledig nie. Hulle het die spot gedrywe met die stryd van die rigter Gideon vir die reg van die HERE. Hulle het die gemeenskap van die heiliges opgebreek en smalend hulle rug gedraai op hulle broeders wat wèl die stryd vir die HERE wou stry.

Oor diè afvallige houding het hulle nie anders nie as uitsluiting uit God se Koninkryk verdien. God het die verlossing vir sy volk gegee, maar hulle sal nie daaraan deel kry nie.

Gideon moes wys: so gaan dit as iemand die spot durf drywe met God se verlossingswerk, met sy stryd teen die Bose en sy ryk.

Vandag, in die nuwe verbond, word die tug in die kerk nie meer op so'n wyse soos in ons teks toegepas nie, gemeente. Maar moenie dat u u daarin vergis nie! God se reg het al die eeue deur dieselfde gebly. En daarom verdra die HERE dit nog altyd nie as daar mense in die kerk is wat hulle broeders en susters sommer uitlag en in die steek laat wanneer diè vol oorgawe hulle beywer vir die saak van God se Koninkryk.

Nee, nie elke kerklidmaat sien altyd ewe skerp raak wààr of die stryd gestry moet word nie. Dit is nie die ergste nie. Die stryd speel hom ook op meerdere fronte tegelyk af.

Nie elkeen in die kerk het eweveel geestelike moed om hom saam met die ander in die stryd te werp nie. Daar is altyd mense wat in die agterhoede bly. Ook dit is nie die ergste nie, al mag ons daarin ook nie berus nie. Sulke lidmate is nie tugwaardig nie. Gideon mog ook, voordat die stryd begin het, alle manne wat wel opgekom het maar in hulle hart bang was vir die volstrek ongelyke stryd, huis toe laat gaan.

Daar is ook altyd nog lidmate wat in kleingeloof tywfel aan die kans om te kan slaag. Dit is nie goed nie, want hulle kyk maar net met mènslike berekening na dit wat moontlik of onmoontlik lyk. Maar ook sulke broeders en susters val die direk onder God se oordeel nie. Hulle kan met geduldige onderwysing en bemoediging nog tot meer geloof en oorgawe gebring word.

Maar wie ronduit die spot dryf met die stryd vir God se Koninkryk, sluit homself buiten hierdie Koninkryk.

Dit is die waarskuwing wat uit ons teks vanmôre na ons toe kom.

Die wat in 'n periode van kerkstryd veragtelik praat oor broeders wat hulle kragte in die geveg teen dwaalleer en tirannie in die kerk verteer- die wat smalend praat oor sy broeders en susters wat hulle beywer daarvoor dat die lewe in die verbond met die HERE nie net tot die sondag beperk bly nie, maar ook van maandag tot en met saterdag volgehou word: in die skoolonderwys vir ons kinders, in ons politieke verantwoordelikhede, in die lektuur wat ons lees ens. - die wat spottend hulle rug draai op hulle broeders en susters wat glo dat die verlossing van die lewe begin in die kerk, in die suiwer hou van die kenmerke van die kerk, en dat daarom die aldagse lewe nie van die kerk losgemaak mag word nie- hulle word vandag weliswaar nie meer met woestyndorings stukkend gesny nie, hulle word selfs nie sommer direk as kerklid afgesny nie, maar sulke mense smaad wel in feite reguit die HERE self en hulle pleeg verraad teenoor die saak van sy Koninkryk.

En dink u dat God dit ongestraf laat bly?

So'n mens gaar vir homself toorn van God op vir die groot oordeelsdag waarop God self die tug sal bedien en uit sy Koninkryk sal buitesluit almal wat daaraan verraad gepleeg het.

2. Wanneer Gideon uit die woestyn terugkom by Sukkot en Pnuel het hy die twee vorste wat hy gevange geneem het, by hom: Seba en Salmuna. Hulle vorm die bewys dat die tugoefening verdien is. Sukkot en Pnuel se mense het mos self gespot: moet eers maar probeer om Seba en Salmuna in die hande te kry! Gideon mag nou vir hulle wys: wel, hier is hulle. Julle het gedink 'n verdere agtervolging is waansinnig. Maar God het julle ongeloof heeltemal beskaam.

Maar... nadat Gideon daardie twee Midianietiese vorste vir Pnuel en Sukkot se mense gewys het, laat hy hulle nog langer in die lewe. Hy vat hulle -ons kan dit uit die vervolg aflei- heeltemal saam na sy vaderstad Ofra. Want hy het met hierdie twee manne nog 'n persoonlike appeltjie te skil. Dit word al gou duidelik.

Hierdie vorste het die moord op 'n paar volle broers van Gideon op hul gewete. Ons kry die indruk dat die Midianiete op een van hulle strooptogte 'n aantal vooraanstaande Israeliete gevange geneem en op die berg Tabor vermoor het, waaronder ook Gideon se broers.

Gideon ontdek in elk geval as hy hulle uitvra dat hierdie twee die moordenaars van sy broers is. Seba en Salmuna kom daar trots en openlik voor uit. Dis reg, hulle het, om Israel gevoelig te tref, 'n aantal aansienlike manne 'n kop kleiner gemaak. En nee wat, daar was definitief 'n paar broers van Gideon by.

Nou, gemeente, kook Gideon opnuut van verontwaardiging. Hy sweer onder aanroeping van die naam van die HERE: So seker as die HERE leef, as julle hulle nie vermoor het nie, sou ek julle laat lewe. Maar dat julle my broers vermoor het- dis onvergeeflik! Nou vermoor ek julle.

U kan u Gideon se verontwaardiging natuurlik wel voorstel, broeders en susters. Mens sal maar met die moordenaars van jou familie gekonfronteer word, wat dan ook nog met 'n trotse laggie openlik voor hulle daad uitkom.

En tog- opeens was dit nie langer heilige verontwaardiging wat Gideon vervul het nie. Teen oor Seba en Salmuna verloor Gideon sommer sy amp as rigter uit die oog en maak hy van die kerklike tug wat hy ook aan hierdie twee vorste moes bedien, 'n privaat familie-aangeleentheid.

Nie Gideon nie, maar Gòd het 'n kwessie met hierdie mense. Midian is van ouds, uit die dae wat Israel deur die woestyn getrek het, een van die doodsvyande van God se volk. Hulle het nou vir die soveelste keer 'n aanslag op sy volk gepleeg en daarmee God in sy regte getas. Daarom, en daarom allèèn, verdien hulle dit om gedood te word. Maar Gideon sien nie langer God se eer wat aangetas is nie, hy voel alleen nog maar die eer van die familie wat deur die slyk gehaal is. En die pyn wat in die familie veroorsaak is. En dis hoekom Gideon so ver in sy persoonlike wraaksug gaan dat hy selfs met 'n eed durf te sê: die moord op duisende van my broeders- dit kon ek julle nog vergewe het; maar dat julle 'n paar van my broers vermoor het- dit vergeef ek julle nooit!

En so word die kerklike tugoefening waartoe Gideon ook nou geroep is, tot 'n puur persoonlike wraakoefening verlaag.

Gideon laat nie, soos Josua eendag gedoen het, die oudstes in Israel hulle voet op die nekke van hulle vyande sit nie. Om daarmee te sê: daar lê hulle nou, daardie sterke stryders. Na die mens gesproke het ons teen hulle geen skyn van kans gehad nie. Maar met God se hulp het ons hulle darem oorwin. Nee, Gideon wil hierdie vorste verneder deur sy seun, 'n blote kind, op te dra om hulle dood te maak. Hy was in sy familietrots gekrenk en wou dit hulle betaald sit. Hy wou hulle nou ook in hulle trots krenk. Hy wou hulle laat voel: julle is vir my te minderwaardig om my hande aan julle vuil te maak. My seun, daardie kind, is goed genoeg om julle dood te maak.

Maar dit werk nie mooi uit nie. Gideon se seun Jeter is te bang en op die ou end moet Gideon tog self sy swaard uithaal om Seba en Salmuna dood te steek. En in puur persoonlike wraaksug beneem hy hulle die lewe.

Hier is by die rigter Gideon opeens die styl van God se Koninkryk heeltemal weg, gemeente.

Hoe anders het later die Koning van hierdie Ryk, ons Here Jesus Christus, die reg van God hooggehou, selfs as dit in sy familiebande gesny het. Vir Hom het altyd die bloedband aan die kerklike band ondergeskik gebly. En die eer van die familie ondergeskik aan die reg in die kerk. Hy het sy moeder, broers en susters doodluiters buite laat staan en wag toe hulle Hom van sy roeping wou afhou. Hy het gesê: Elkeen wat die wil van God doen, diè is my broer en my suster en my moeder.

Hy het sy moeder op haar plek teruggesit tydens die bruilof te Kana, toe sy as moeder haar in kerksake wou meng. En toe Hy vir sy volk gesterf het aan die kruis, het Hy alle familiebande met 'n kleine "f" losgemaak, om Homself aan die Familie met 'n hoofletter te kan gee.

Gideon het al sy broeders in die Gees uit die oog verloor toe dit by sy broers na die vlees gekom het.

Maar Christus het juis, waar dit moes wees, sy broers na die vlees losgelaat om sy broeders en susters in die Gees te red. Hy voel Homself allereers met hùlle een. Soseer dat Hy gesê het: Wat julle aan een van die geringstes van hierdie broeders van My gedoen het, het julle aan My gedoen.

En so'n houding vra Christus ook van ons, broeders en susters. Ter wille van die Koninkryk van God moet ons vader en moeder, broers en susters, kinders kan verlaat. Familiebande of vriendskapsbande kan 'n pragtige ding wees. Niemand mag dit verag. Maar daar kom 'n fout so gou as wat daardie bande in die kerk op die eerste plek begin kom.

Dit gebeur darem nog maar al te dikwels. Dit gebeur in enige kerkstryd waarin gekies moet word: altyd is daar mense wat eers kyk wat of die familie of vriende doen en dan daardeur hulle eie keuse laat bepaal.

Hoe dikwels het dit ook al gebeur, nie net hier in Pretoria nie, dat kerkraadslede 'n medeampsdraer die hand bo die hoof gehou het, vanweë die goeie bande wat daar onder mekaar gegroei het, terwyl onderwyl al die broeders en susters aan die dwaalleer of die onreg prysgegee is.

Hoe dikwels gebeur dit ook dat 'n kwessie in die kerk sommer 'n familiesaak word omdat die hele familie hom daarmee gaan bemoei, aangesien die eer van die familie daarmee gemoei is. Ouers, broers en susters, swaers, almal meng hulle in die kwessie. Nie om die reg van die HERE te verdedig teenoor 'n kerkraad wat by sy handhaving van die reg van die HERE moontlik 'n fout maak nie. Maar om die eer van die familie te red.

Broeders en susters, by Gideon het hierdie verkeerde opstelling die begin van 'n verdrietige terugval geword. Al gou herken ons nouliks meer iets van die rigter wat homself geroepe weet om die reg van die HERE te handhaaf. Moet maar kyk in die verse na ons teks. Die styl van God se Koninkryk verdwyn heeltemal by hom. Want God se Koninkryk het uit die oog verdwyn so gou as wat hy die familie in die oog gekry het.

Dit moet ons waarsku. Dit loop mis in die kerk so gou ons die saak van die HERE deur ons familiesake laat ondersneeu. Dan loop in baie meer opsigte die lewe in die verbond met die HERE vas.

Dis nie vir niks nie dat ons Koning Christus gesê het: As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, kan hy my dissipel nie wees nie.

"Haat" het Christus gesê. Dis is 'n baie sterk uitdrukking. Maar Hy bedoel dat die familiebande heeltemal op die agtergrond moet bly as dit by die kerk kom.

En anders kan ons sy dissipels nie wees nie.

Dan kan ons ook onsself miskien tugwaardig maak.

AMEN.

(Pretoria, 15 Oktober 1989)

Liturgie: 

(kyk in preek)