Gideon moet by die verlossing van God se volk die Here die eer gee

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Rigters 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RIGTERS 7: 2, 19-22 EN 8: 1-3

LITURGIE:
L. Rigters 7: 1-8: 3
Ps. 118: 4, 5
Ps. 118: 14
Ps. 83: 1, 3, 4
Ps. 44: 3
Ps. 68: 1, 2

Broeders en susters,

Wanneer Gideon opruk om as offisier van 'n vrywilligerskorps die Mideaniete en Amelekiete uit Israel te verdrywe, noem die Bybel hom aan die begin van hoofstuk 7 met sy opvallende bynaam "Jerubbaal".

U onthou dalk nog: daardie bynaam het Gideon gekry as gevolg van sy eerste aksie as rigter in Israel. Toe hy in opdrag van die HERE die altaar vir Baäl in sy woonplek Ofra afgebreek het en in plaas daarvan 'n altaar vir die HERE opgerig het, wou die stad se mense Gideon weens heiligskennis doodmaak. Maar sy pa het dit nog kon keer deur te sê: Jùlle hoef my seun nie doodmaak nie. Laat Baäl maar sy eie saak behartig. As hy 'n god is en vir my seun hierdie daad verkwalik, kan hy mos self my seun wel dood maak. Laat Baäl maar vir homself veg!

Dis diè dat hulle vir Gideon toe bietjie spottend "Jerubbaäl" begin noem het, wat beteken: "Laat Baäl maar veg".

Maar die Bybel gebruik, in die eerste vers van hoofstuk 7, nou dus ook opsetlik self daardie bynaam vir Gideon. Dit word die naam waarmee Gideon as rigter in Israel naam gaan maak. U kan maar kyk: ook later, in 1 Samuel 12: 11, bly Gideon onder daardie naam in herinnering.

Want daardie naam was meer as maar net 'n bynaam. Dit was tegelyk sy leus as verlosser van Israel: Laat Baäl hom maar reg maak vir die stryd! Want die stryd om Israel van die Midianiete en Amelekiete te bevry word allereers 'n stryd teen Baäl. Gideon moet, deur die verdrukkers verpletterend te verslaan, vir God se verbondsvolk weer leer dat nie Baäl nie, maar die HERE alleen God in Israel is. Die HERE moet weer die eer kry. Met diè opdrag word Gideon, Jerubbaäl, die stryd ingestuur. As almal bid tot Baäl en as gevolg daarvan self die ellende oor hulle lewe oproep, moet Gideon vir Israel weer leer dat daar maar Een is wat die lewe kan verlos en vrymaak: die God van die verbond.

Ons het omtrent die hele verhaal van die stryd gelees. 'n Lank gedeelte.

Maar dit is die duidelike hooflyn deur die in hele geskiedenis: in die wyse waarop die oorwinning op die Midianiete en Amelekiete tot stand kom, eis die HERE van a tot z die eer vir Hom alleen op.

Ek het die boodskap van vanmôre dan ook saamgevat:

GIDEON MOET BY DIE VERLOSSING VAN GOD SE VOLK DIE HERE DIE EER GEE.

ONS SIEN DIT

  1. IN DIE ONTSTAAN VAN SY LEËR
  2. IN DIE VERSLAAN VAN DIE VYAND
  3. IN DIE WEERSTAAN VAN SY BROERS

1. U ken natuurlik vir die uitdrukking: "Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare".

So het die HERE, die Bevelvoerder oor die ontelbare hemelse soldate, eenmaal sy strydmetode omskrywe. Hy oorwin sy teëstanders nie met groot getal en groot geweld nie, maar deur sy Gees, sêmaar: deur die eenvoudige geloof wat die Gees in 'n mens werk.

Ons loop hierdie strydmetode slag op slag raak in die geskiedenis van God se volk. Party Psalms sing triomfantelik daarvan. Soos Psalm 118 wat ons aan die begin van diè diens gesing het:

"Dis beter by ons bidde en wense
dat ons vertrou op God se mag
as dat ons ooit vertrou op mense
of selfs van prinse hulp verwag".

Hierdie strydwyse van die HERE van die leërskare sien ons ook hier by Gideon. Die Engel van die HERE het wel Gideon as offisier aangestel om aan die hoof van 'n troep dappere Israeliete die vyande uit die land te verdrywe, maar as dit daarop aankom is dit die Gees van God wat heel alleen die oorwinning bewerk. Moet maar kyk in hoofstuk 6: 34: "En die Gees van die HERE het Gideon vervul". So begin die stryd. Die Gees van God neem die inisiatief, die Gees van die God voer die stryd, en Gideon is by dit alles maar net 'n middel.

Maar Gideon moet dit nou ook self leer as hy die vyande tegemoet trek.

Nadat hy sy eerste angs oorwin het en van die HERE 'n bemoedigende teken gekry het, trek Gideon ten stryde. Hy het 'n aansienlike leër bymekaar gemaak. Omtrent 32. 000 soldate. Sy aanvanklike twyfel: "Waarmèè sou ek Israel verlos? " is duidelik beskaam. 'n Hele aantal manne is bereid om onder sy bevel die vyand tegemoet te tree.

Maar dan gooi die HERE roet in sy kos: 7: 2. God sê: Daar is veels te veel manne by jou. So kan en wil Ek die vyand nie in jou hand oorgee nie. En die HERE vra van Gideon dat hy die wet van Deuteronomium 20: 8 op sy leër toepas: elkeen wat bewe en bang is, mag omdraai en padgee.

So was altyd al God se strydmetode: Hy wil wel mense gebruik, maar Hy is nie van mense afhanklik nie. En die wat bang is, kan Hy al heeltemal nie gebruik nie.

Maar die gevolg is vir Gideon dat daar nie minder as 22. 000 manne padgee, sodat daar net 'n 10. 000 oorbly. Dit is wel tekenend vir die situasie in daardie dae in Israel! So veel, of liewer: so min geloof was daar nog. U kan verstaan dat Gideon se selfvertroue danig ondermyn word. Veral as u bedink dat hy teen 'n angsaanjaende leër van die Amelekiete en Midianiete van 135. 000 manne te staan kom. 32. 000 is daarteenoor al nie te veel nie. Maar om met net 10. 000 manne 'n vyand van 135. 000 manne te moet verslaan is 'n volstrek ongelyke stryd. Dit maak jou mos by voorbaat kansloos!

Maar die HERE vind selfs 10. 000 soldate nog te veel. Vir Hom is Gideon se leër nog te groot. Daar moet nog 'n sifting plaasvind. Gideon moet die manne wat oorgebly het, saamneem na 'n waterbeek toe en hulle daar laat drink. Die wat op hulle maag gaan lê en soos 'n hond die water uit hulle hand oplek, moet hy skei van die wat op hulle knieë vooroorbuig om te drink. Ons weet nie mooi waarom die HERE hierdie metode gekies het om Gideon se manne te sif nie, broeders en susters. Was die manne wat op hulle maag gaan lê het, minder bang en bekommerd as die ander wat op hulle knieë vanuit hulle ooghoeke die omgewing bly dophou het of daar nie dalk vyande in aantog was nie? Of was die drinkers op hulle maag ongemanierder as die ander, sodat Gideon op die ou end 'n klomp lompe kêrels oorhou?

Ons weet nie. Maar ons weet wel dat Gideon deur hierdie sifting nog maar net 300 manne oorhou! Nou lyk die stryd heeltemal 'n onbegonne werk. Wie kan nou met 300 man 'n teëstander van 135. 000 verslaan?

Dit kan die HERE alleen! Die HERE eis die eer vir die oorwinning by voorbaat vir hom alleen op. Israel kry nie die kans om later teenoor Hom te kan spog en sê: "My eie hand het my verlos" nie.

Hy sal die stryd stry. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur sy Gees. Gideon word heeltemal op sy geloof teruggegooi. Hy moet die vyand tegemoet tree met 'n handjievol mense wat maar net op God kan vertrou. So dwing die HERE sy volk om vir Hom alleen alle eer te gee. Om weer te besef: die HERE alleen is God. Hy alleen is die Almagtige.

God vra net geloof, gemeente. Getal of geweld het Hy nie nodig nie. Dis 'n les wat God se volk altyd weer moet leer. Sit dit ons nie in die bloed nie om dit altyd maar weer van groot getalle en indrukwekkende mense te verwag?

Natuurlik mag ons begeer dat nog baie mense saam met ons in gehoorsaamheid, ook kerklike gehoorsaamheid, die HERE dien. Ons mag bly bid om en werk aan 'n kerklike eenheid met die wat vandag nog geskei van ons leef. Maar die toekoms van die kerk is nie van sy getalle afhanklik nie.

Ons is vandag as Vrye Gereformeerde Kerk baie klein in aantal.

Net drie kerke. Wat se toekoms kan so'n klein kerkverband hê? Watter invloed kan ons feitlik uitoefen? Moet òns die verlossing in die wêreld indra?

Ons voel ons dikwels eenlinge as ons by ons werk, ons kinders in die Hoërskool en die Universiteit, ons seuns in die Weermag, ons dogters in die hospitale, moet stry teen die afgodediens, teen die aantasting van die eer van die HERE, as ons ons beywer vir die suiwere erediens en die handhawing van die kenmerke van die ware kerk. Wie luister na ons? Daar is vir ons maar weinig eer om te behaal.

Dan kan ons entoesiasme verdwyn, ons vrymoedigheid skrompel inmekaar en ons hou maar die liefste ons mond. Of ons probeer om kompromisse te sluit om op so'n wyse darem iets te bereik.

Maar ons moet telkens weer leer om in geloof te bly raaksien dat die HERE ons opsetlik klein in getal en in gewig hou, broeders en susters. Omdat Hy van ons aantal en ons inset glad nie afhanklik is nie. En omdat ons nie die kans moet kry om te roem in onsself nie. Ons stry mos nie vir ons eie eer nie, maar daarvoor dat die HERE weer die eer ontvang waarop Hy reg het.

Ons mag Hom maar net help as Hy ons daartoe roep; as sy Gees ons in besit neem. Dan kan ons middele wees waardeur Hy die duiwel en sy bose geeste terugdryf. Dan kan ons invloed baie groot word. Maar ons is dan ook nie meer as middele nie. Die oorwinning is sy werk. En daarom hou Hy ons opsetlik klein en onaansienlik.

En as ons dit nou maar bly raaksien, gemeente, dan werp ons ons vol oorgawe in die stryd, hoe klein in getal ons ook al is. En hoe ongelyk die kanse ook al lyk. Dan durf ons vrymoedig die vyand in die oë sien.

2. En dan word ons ook nie in ons verwagtings beskaam nie. Want kyk hoe stry die HERE sy stryd in ons teksverhaal!

Gideon hoef amper niks te doen nie!

Ek dink daar was selde 'n leër wat met so'n snaakse bewapening en so'n snaakse strategie sy teëstander tegemoet getree het. Gideon se soldate word uitgerus met elkeen 'n ramshoring, 'n leë erdekruik en 'n fakkel wat hulle daar voorlopig binne-in moet hou sodat die vuurskynsel nie dadelik sigbaar word nie. Maar daarmee het hulle ook soseer die hande vol dat hulle geen swaard meer kan hanteer nie. Hulle kan maar net skreeu. Die swaard van die Gees hanteer. Die naam van die HERE in die mond neem en roep: "Vir die HERE en vir Gideon". En daarby op die ramshoring blaas, die erdekruike met baie lawaai stukkend slaan en vervaarlik met die fakkel swaai.

Maar kyk watter uitwerking kry dit: die Amelekiete en Midianiete was al in diepe rus. Behalwe daardie twee wat as gevolg van 'n droom die gevaar voel aankom. Verder slaap almal. En dan is daar opeens die vreeslike lawaai orals rondom hulle laer. En vuur. Het die leër van die Israeliete hulle klaar ingesluit!? Is die vyande alreeds binne-in die laer? Almal spring slaapdronk orent en gryp na hulle wapens. En in die donker van die nag ontstaan daar 'n groot paniek. Almal hardloop deurmekaar, meen dat hulle orals vyande raakloop. Hulle stamp teen mekaar, steek in die wilde weg met hulle swaarde. Sodat die een die ander doodsteek. En die res van die kamp se mense vlug halsoorkop na alle kante weg.

So stry die HERE, gemeente. So maklik weet Hy om die vyande te verslaan. Sonder dat een van Gideon se manne nog maar 'n swaard uitgesteek het, gaan die vyande aan mekaar te gronde. En God se volk hoef maar net te staan en toekyk.

So verlos die HERE sy volk. Vandag nog.

Nie òns verlos die lewe nie. Ons het juis deur ons verbondsontrou die deur van ons lewe vir die verwoestende geweld van die duiwel en sy bose geeste oopgesluit. Ons stort nog voortdurend ons lewe in die ellende.

Alleen die HERE kan in sy almag die vyand verdrywe en verlossing bewerk. Ons kan die stryd maar aan Hom oorlaat. Ons hoef maar net sy Naam in die mond te neem en Hy sorg vir die res. Dis ook nie òns vyande wat ons met God se hulp moet probeer oorwin nie. Dis sy vyande wat Hom van sy eer beroof en wat Hy self wel sal oorwin as ons dit weer van Hom vra. As ons maar weer tot bekering kom en weer sy eer soek, sal Hy wel die verlossing gee.

Ons het Psalm 83 gesing. 'n Gebed wat Israel in later tyd gebid het toe opnuut vyande die lewe van God se verbondsvolk geteister het: "O God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God. Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig 'n plan. Hulle sê: Kom laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat die naam van Israel nie meer gedink word nie... "

En dan word daar in Psalm 83 'n beroep op die HERE gedoen om weer net so te maak soos in Gideon se dae (vs. 10 e. v. ): "Maak met hulle soos met Midian, Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Salmuna.... ".

Wat maak daardie Psalm so kragtig, broeders en susters? Waarom het die bidders van hierdie gebed met soveel oortuiging 'n beroep op die HERE gedoen? Omdat hulle nie net verlossing vir hulleself soek nie, maar dat hulle begeer dat die hele aarde weer sal besef dat alleen die HERE God is. Die psalm praat van "u haters en u vyande". En sien veral vers 19: "Sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde!". Hulle het gewèèt uit Gideon se oorwinning op die Midianiete hoe indrukwekkend die HERE dan kan verlos, as sy eer op die spel staan.

So dikwels as wat God se volk so'n beroep op die eer van die HERE doen, mag hulle seker wees van die verlossing. Want God sal nooit sy eer blywend deur die slyk laat haal nie.

Ek durf dit nog des te stelliger te sê, gemeente, omdat ons by die profeet Jesaja nogmaals 'n herinnering aan Gideon se stryd teen die Midianiete lees. Dis Jesaja 9. Ook dan is daar vreemde oorheersing, verdrukking en benoudheid by God se verbondvolk. En dit is opnuut hulle eie skuld.

Maar ook Jesaja kondig aan: die HERE sal dit nie blywend aansien nie. Daar kom weer 'n vernietiging van die vyande "soos op die dag van Midian". "Die ywer van die HERE van die leërskare vir sy eer sal dit doen". Maar dan kyk die profeet verder as maar net die verlossing uit die oorheersing van Babel. Hy sien alreeds die dag van Christus. Want, sê hy: "'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy rus op sy skouer. "

Het ons in daardie Kind, God se eie Seun, ons Here Jesus Christus, nie die allerduidelikste gesien hoedat God sy volk kan verlos as sy eer in geding is, broeders en susters? God het Hom, die Engel van die HERE van die Ou Verbond, wat eendag Gideon met sy 300 man die stryd ingestuur het, nou self in die stryd ingestuur. Om ons verlossing te bewerk.

Maar Hy mog daarvoor selfs nie 300 manne saamneem nie. Hy kon oor 12 legioene van engele beskik, maar Hy moes heeltemal alleen die duiwel en sy bose geeste te lyf gegaan. Want Hy moes hulle nou vir eens en vir altyd die vernietigende slag toebring. En so het God in Hom vir sy volk 'n nuwe, indrukwekkende Midiansdag gegee. Hy het alle vyande te sterk geblyk. Hy het die ewige rus in die hemelse Kanaän vir ons terugverdien. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur sy Gees.

Sindsdien mag ons meer as ooit tevore seker wees daarvan dat die HERE al sy en ons vyande eendag vir goed sal uitroei sodat Hy weer alles in almal sal wees. As ons nie bedug is vir die vyand nie, maar bedag is op God se eer, mag ons ons vandag al meer as oorwinnaars voel. Ja, die duiwel loop nog rond op aarde soos 'n brullende leeu, op soek om ons te verslind; die afgode ruk nog orals op en probeer om in ons huise en ons lewens binne te dring; die vyandskap teen die volk van God word al hoe groter......

En as dit van ons moes afhang sou ons beslis verlore wees.

Maar ons mag nog altyd, soos in Psalm 83, 'n beroep op die Naam van die HERE doen, vandag sterker as destyds: met 'n beroep op die oorwinning van ons Here Jesus Christus:: O God, hou U nie stil nie, maak met hulle soos met Midian, maak hulle soos Oreb en Seëb, soos Seba en Salmuna. Maak al u vyande 'n voetbank vir u voete. Sodat elkeen op aarde kan weet dat U, wie se naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.

3. Ek het ook die eerste verse van hoofstuk 8 as teksverse gekies, broeders en susters. Want alhoewel die HERE die hele geveg dus so gelei het dat die eer van die oorwinning Hom alleen toekom, dreig daar 'n nare stryd te ontstaan oor die vraag watter mense nou feitlik met die eer mag gaan pryk.

Wanneer die leërtjie van Gideon deur maar net te skreeu en op die ramshoring te blaas die Midianiete op die vlug geja het, begin die groot agtervolging. Baie baie Midianiete het alreeds mekaar doodgesteek. Maar die wat oorgebly het, moet ook so veel as moontlik doodgemaak word. Die vyand moet 'n verpletterende neerlaag ly.

Maar aangesien Gideon self maar 300 manne by hom het, moet daar nou wel hulptroepe ingeskakel word. Noudat die HERE self die nekslag al gegee het, mag die Israeliete wel met man en mag die oorblywende werk doen. Dus laat Gideon 'n oproep uitgaan na Naftali, Aser en die hele stam Manasse om hom te kom help om die vyande oor die kling te ja. En wanneer hy agterkom dat daar nog heelwat Midianiete deur die deurgange van die Jordaan dreig te ontkom, roep hy ook die stam Efraim, wat oorkant die Jordaan woon, te hulp. Hulle moet die deurgange beset en die vlugtelinge daar opvang en doodmaak.

Op diè wyse word 'n groot oorwinning behaal. Net 15. 000 Midianiete weet om te ontkom, die res, 120. 000, word gedood. En selfs die twee groot leiers van die Midianiete, die vorste Oreb en Seëb, word gevang en onthoof. Die eer val Efraim te beurt.

Maar dan begin die Efraimiete sommer moeilikheid maak. Wanneer hulle by Gideon kom, vaar hulle teen hom uit en sê: "Waarom het jy ons nie opgeroep toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie? ". Hulle bedoel: waarom mog ons nie vanaf die eerste begin in die geveg saamdoen nie? Hoekom het jy ons eers ingeskakel toe die vyand al klaar op die vlug geja was? Waarom mog ons maar net hulpdienste verrig?

Hierdie verwyt lyk uit 'n goeie, positiewe instelling voort te kom. Is hier nie mense met 'n brandende ywer vir die saak van die HERE nie? Hulle wou graag in die hele geveg saamgedoen het. Hulle was klaarblyklik nie soos die stamme vir wie Debora moes verwyt dat hulle in die stryd teen Jabin en Sisera dat hulle by die huis gebly het: Gilead, Dan, Aser...

Maar in werklikheid, broeders en susters, is daar by die Efraimiete nie soseer ywer vir die HERE nie as wel afguns op Gideon. Noudat dit 'n geweldige oorwinning geword het, gun hulle vir Gideon nie die volle eer daarvoor nie. Gideon is afkomstig uit Abiëser, die kleinste geslag in die stam Manasse. En Efraim is die broederstam van Manasse. Hulle saam het mos die erfdeel van Josef ontvang. Hoekom moet daardie Gideon met sy familie net- nou as die groot oorwinnaars gehuldig word? !

Sommer is daar dus 'n klein-menslike stryd oor die eer, gemeente.

En hoe maklik kon daardie twis tot 'n groot rusie uitgegroei het.

Gideon sou van sy kant teen hulle kon uitvaar. Hy kon hulle beskuldig dat hulle lafaards is wat nie daar was toe die eerste gevaarlike slag gelewer moes word nie, maar wat nou skynheilig maak asof hulle nog dapperder as hy is.

Gelukkig reageer Gideon nie so nie. Hy verdedig nie sy eie eer nie. As Gideon sò sou gemaak het, sou die hele stryd vir die verlossing van Israel sommer verlaag word tot 'n bloot menslike aangeleentheid.

Nee, Gideon bly die HERE die eer gee.

Hy sê vir sy skynheilig verontwaardigde broers: Waaroor kla julle nou eintlik? Die hele oorwinning is mos God se werk. Hy het die vyand in ons hande gegee. Ek het niks meer as julle gedoen. Dit was vir ons altwee nie meer as die binnehaal van 'n oes. Ja, daardie beeld gebruik Gideon: van 'n oes. God het alles laat groei. En ons kon maar net oes. En daarby was julle oes ook nog groter as myne. As daar een redes om te kla sou hê, is dit ek. Maar ek gee nie om nie. God het dit nou maar eenmaal so gegee. Kom ons gee Hom die eer!

So weerstaan Gideon sy eersugtige broers.

En so bly hy vir die HERE die eer gee.

Ons moet daarvan leer, broeders en susters.

Hoe dikwels is in die kerk al die saak van die HERE tot 'n persoonlike eresaak verlaag.

Hoe dikwels was daar in die kerk al stryd, kwessies, mense wat hulleself seergemaak of gepasseer gevoel het, mense wat verontwaardig gereageer of hulleself gekrenk orals van teruggetrek het.... Waarby altyd weer die menslike eersug 'n belangrike rol op die agtergrond gespeel het.

Mense wil hoog in aansien wees, invloed hê, saampraat op so'n wyse dat ander mense vol eerbied na hulle luister. En as daar moeilikheid kom, as iemand hulle te na kom, as hulle gesag wankel, voel hulle hul in hul eer getas en reageer dienooreenkomstig. Hulle kom met bittere verwyte, hulle val oor enige onvolkomenheid van die ander asof dit opsetlik sou gedoen wees. Ja, en dan kan dit sommer gebeur dat die ander party ook persoonlik seergemaak begin reageer, hulle eer verdedig....

Daar is maar een uitweg om aan so'n sinlose en sondige menslike stryd te ontkom: as almal die saak weer in die regte perspektief leer sien, dat dit in die kerk naamlik nooit om ons eer gaan nie, maar om God se eer.

Hy het ons geroep om saam sy eer te soek en hoog te hou. En dan gee hy elkeen van ons verskillende posisies, opdragte, take. Verskillende verantwoordelikhede en moontlikhede. Dan kan dit wees dat die een op 'n stadium meer in die kollig is as die ander.

Maar die Here het mos ook vir ons geleer dat eerstes laastes kan word, en laastes eerstes. En dat die wat die minste wil wees, die meeste is in sy Koninkryk.

Die wat op sy eie eer uit is, is besig om die verlossing wat God vir sy volk bewerk, weer te verspeel.

Daarom: ere wie die ere toekom. Sekerlik in die kerk. Ere vir die HERE alleen.

AMEN

(Pretoria, 8 Oktober 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)