Geen verlossing sonder bekering

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Rigters 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RIGTERS 6: 25, 26

LITURGIE:
L. Rigters 6: 24-32
Ps. 16: 1, 2
Ps. 16: 4
Ps. 81: 9, 10, 11
Ps. 50: 11
Ps. 50: 7

Broeders en susters,

Dadelik van die eerste dag wat Gideon as rigter in Israel begin optree het, het hy 'n bynaam gekry. "Jerub-Baäl" het hulle hom genoem. "Laat Baäl maar veg" beteken dit.

Ons het gelees hoe dat hy hierdie bynaam ontvang het: toe Gideon die altaar van Baäl in sy woonplek Ofra omgegooi het en die verontwaardigde burgers daarom sy dood verlang het as straf op hierdie heiligskennis, het Gideon se pa Joas dit nog net kan keer deur te sê: "Laat Baäl sy eie saak behartig! As hy 'n god is kan hy mos self my seun wel doodmaak. Laat Baäl maar vir homself veg".

Dis diè dat hulle Gideon toe "Jerub-Baäl" begin noem het.

Maar van daardie oomblik was diè naam vir Gideon meer as maar net 'n bynaam, met bietjie 'n spottende klank. Hierdie naam het sy leus geword. Hierdie uitdagende naam: "Laat Baäl maar veg" het sy program as verlosser in Israel gevorm.

U sien dit duidelik in hoofstuk 7: 1. Wanneer Gideon die stryd met die Midianiete en Amelekiete gaan aanbind -die taak waarvoor die Engel van die HERe hom geroep het- noem die Bybel self hom nou ook met nadruk: Jerubbaäl.

Gideon maak hom nou wel klaar om die Midianiete uit die land uit te ja. Maar eintlik gaan die hele stryd nie eers teen die

Midianiete nie. Dit word feitlik 'n stryd teen Baäl. Gideon gaan, as hy die Midianiete verdryf, Baäl beveg.

Die eintlike stryd word nie tussen mense gevoer nie: Israeliete aan die een kant en Midianiete aan die ander kant. Agter diè stryd gaan die eintlike stryd skuil: tussen die HERE en Baäl. Die vraag is nie: wie is baas in die land nie: Israel of Midian? Maar dis die kwessie: wie is God? Wie verlos die lewe: Baäl of die HERE?

Gideon moet, deur die Midianiete verpletterend te verslaan, vir Israel weer leer dat alleen die HERE God is. Vir diè taak allereers is Gideon deur die HERE tot rigter geroep. Laat Baäl hom maar reg maak vir die stryd!

As ons dit eenmaal raakgesien het, broeders en susters, verbaas dit ons ook nie meer nie dat die eerste opdrag wat Gideon as pas benoemde rigter kry, is om die altaar van Baäl in sy woonplek af te breek en 'n altaar vir die HERE daarvoor in die plek te sit. Dit is ons teksverse vir vanmôre. Gideon moet uit die staanspoor uit weet dat hy nie allereers die verlossing van Israel moet bewerk nie, maar die bekering van Israel. As ek dit kortliks saamvat is dit dan ook die boodskap van ons teks:

GEEN VERLOSSING SONDER BEKERING

DAAROM MOET GIDEON DIE VOLK VOORGAAN IN DIE BEKERING TOT

  1. DIE SUIWERE ALTAAR VIR DIE HERE
  2. DIE SUIWERE OFFER VIR DIE HERE

1. Die eerste ding wat Gideon gedoen het nadat die Engel van die HERE hom as bevryder van Israel aangestel het, was om 'n altaar vir die HERE te bou.

Skielik het hy verstaan Wie daar met hom gepraat het, toe die onbekende gesant van God die maaltyd wat Gideon voor Hom neergesit het, in een keer in rook laat opgaan het en self in die vlam verdwyn het. Toe het Gideon skielik besef dat niemand minder as die groot Goddelike Generaal self hom onder die wapens kom roep het.

Hy het 'n oomblik gevrees dat dit sy dood sou word. Wie kan mos die lewende God van aangesig tot aangesig sien in bly lewe? Maar toe die HERE hom gerusgestel het met die woorde: "Vrede vir jou! Jy sal nie sterwe nie", toe het hy dadelik besluit om 'n altaar vir die HERE, met die veelseggende naam "Die HERE is vrede", te bou. Gideon wou met die naam maar sê: Alleen deur die HERE kan die lewe weer opbloei. As ons weer in vrede wil lewe, as ons van die vyande ontslae wil raak en ons rus terugkry- dan moet ons na die HERE terug! En ons kàn terug. Want terwyl ons sy toorn verdien, bied Hy ons nog altyd vrede aan.

Die skrywer van die boek Rigters vertel: daardie altaar staan vandag nog in Ofra. Met ander woorde: dit het daar in Ofra 'n publieke monument geword wat die mense na die HERE en sy diens teruggeroep het.

Gideon het dus met die bou van daardie altaar 'n goeie begin gemaak as rigter.

Maar as ons nou ons teks bekyk, gemeente, lees ons dat Gideon in die daaropvolgende nag die opdrag van die HERE ontvang om meteens nòg 'n altaar te bou. Vir elkeen sigbaar op die hoogste punt van die vestingstadjie Ofra. Terwyl hy die altaar vir Baäl wat daar gestaan het, met die gewyde paal vir Astarte daar langsaan, moet wegbreek.

Dit word die eerste instruksie wat die kersverse offisier kry. Hy mag nou nie dadelik op die komende stryd met die Midianiete konsentreer nie. Hy kry nog nie die geleentheid om 'n hele aantal mans te rekruteer nie; hy kom nog nie daaraan toe om die wapens te kontroleer en die taktiek in te studeer nie.

God stuur hom vereers nie front toe nie. Maar Gideon moet kerk toe. Hy moet allereers daar verder sake regmaak.

Sy eerste taak word nie: die land verlos nie. Maar: die kerk hervorm. Want die stryd waarvoor die Engel van die HERE hom gemobiliseer het, is voluit 'n kerkstryd.

Dis hoekom Gideon hom eers nogmaals met altare moet besig hou. Hy het tereg met die bou van 'n altaar begin. Maar hy moet daar nog mee verder gaan. En nog een vir die HERE bou.

U wonder dalk, hoekom Gideon nou nog 'n altaar vir die HERE moes bou. Daar het dan een in Ofra gestaan? As 'n duidelike monument? Met 'n veelbetekenende naam. Daarvan het dan 'n helder getuienis uitgegaan? Was daardie altaar nie voldoende nie? Hoekom het die HERE nie net vir Gideon opgedra om die altaar vir Baäl om te gooi nie? En die gewyde boomstam langsaan? Hoekom ook nog 'n keer 'n tweede altaar vir die HERE bou?

Nee, broeders en susters, met die bou van daardie eerste altaar - hoe goed bedoeld ook al- het die HERE geen genoeë geneem nie. Want weet u wat die ding was: daardie eerste altaar van Gideon vir die HERE was in die oë van die mense gebou as een van die vele altare wat daar in Kanaän gestaan het. Dit was nou juis die ellende in daardie dae. Toe die Israeliete in Kanaän kom woon het en al hoe meer die oorspronklike Kanaäniete -in stryd met die bevel van die HERE- in die lewe gelaat het en met hulle vermeng het deur huweliksbande, saaklike bande, vriendskapsbande en so meer, het hulle ook die erediens van die outochtone bevolking algaande oorgeneem. Hulle het ook op die altare van die afgod Baäl gaan offers bring, het het ook vir die godin Astarte begin kniel....

Maar moenie dink dat hulle daarmee die diens van die HERE eenkant wou skuif nie. Glad nie, hulle het gedink hulle kan ewe goed die HERE bly dien. Hulle het net hulle aantal gode bietjie uitgebrei. Naas die HERE het hulle ook die Kanaänietiese afgode vereer. En hulle het die erediens wat die HERE in sy wet voorgeskrywe het, laat volloop met allerhande elemente uit die heidense kultus vir Baäl. Baie mense het ook gedink dat hulle nog altyd die HERE vereer het, al het hulle hul ook heeltemal aan die erediens vir Baäl aangepas. Want die Kanaänitiese woord "Baäl" het mos gewoon "Heer" beteken! Feitlik het hulle almal dieselfde god vereer. Die een het dit net bietjie anders as die ander een gedoen. So het hulle gedink. Of jy Hom nou "JAHWE" of "Baäl" noem, dit maak mos nie eintlik saak nie? Dit het elkeen mos om dieselfde groot vrae van lewe en dood, welvaart en toekoms, vrede en geregtigheid gegaan.

Laat dan die een 'n kerkie met 'n altaar vir wat hy Baäl noem, bou, mèt 'n gewyde paal, en die ander een 'n kerkie met 'n altaar vir wat hy JAHWE noem, sònder so'n gewyde paal- kom dit uiteindelik nie op dieselfde neer nie?

Diè gedagtewêreld het ook in Ofra geheers, gemeente. En by diè religieuse klimaat het Gideon van huis uit grootgeword.

Maar dis diè dat die HERE daardie gedagteklimaat radikaal wil wegbreek. God neem geen genoeë met 'n altaar as een van die vele nie. Hy wil geen altaar vir Hom naas een vir Baäl nie. Hy wil nie in 'n religieuse gedagtewêreld wat in feite puur heidens is, opgeneem wees nie.

Gideon mag nie langer met 'n godsdienstige permissiwiteit lewe nie. Hy moet aan God se kant vir die konfrontasie kies. Daarom beveel die HERE hom om die altaar van Baäl wat sedert jaar en dag in Ofra gestaan het, tot die grond toe af te breek en dan nogmaals, pleks van daardie Baälaltaar, publiek 'n altaar vir die HERE te bou, sentraal en vir elkeen op 'n opvallende plek.

Die verskil moes ook meteens te sien wees.

Want so'n Baälaltaar was buiteom met allerlei afbeeldings wat in die heidense denkklimaat 'n rol gespeel het, bewerk. Veral seksuele afbeeldinge, omdat hulle gemeen het dat hulle daardeur die kragte van die vrugbaarheid en die nuwe lewe in beweging kon kry.

Daarteenoor het die HERE in sy wet voorgeskrywe dat sy volk die altaar vir Hom so eenvoudig moontlik moes hou: net van aarde opgebou, en as dit, byvoorbeeld op sandgrond, nie mooi moontlik was nie en tog klippe gebruik moes word, moes hulle in elk geval hoegenaamd geen beitel gebruik nie. Net klippe opmekaar pak soos wat hulle dit gevind het. Om die verskil met 'n heidense altaar des te duideliker sigbaar te maak.

So'n onbewerkte altaar moet Gideon in Ofra opbou in plaas van die afgebreekte en druk versierde Baälsaltaar. As 'n publieke getuienis dat die HERE alleen God is en dat Hy baie noulettend op sy erediens toesien. Dat Hy dit nie verdra dat mens Hom met allerlei heidense afgode verwar nie. Die HERE is in hierdie saak uiters onverdraagsaam!

So werp die HERE Gideon in die stryd, broeders en susters. Maar dit is dus allereers 'n kerkstryd; 'n stryd om reformasie in die kerk. Gideon moet openlik vir die alleenreg van die HERE opkom. Al waag hy daarmee dat hy hom die woede van sy plaasgenote op die hals haal. Hulle wil hom oor hierdie daad wel doodmaak! En al verspeel hy wellig ook by die huis die liewe vrede- die Baälaltaar was mos die eiendom van sy eie pa Joas.

Gideon durf die openlike konfrontasie ongelukkig dan ook nie aan nie, blyk na ons teksverse. Uit vrees vir die reaksies voltrek hy stiekem snags die hervorming, sodat die volgende môre aanvanklik nie eers duidelik is wie die erediens in Ofra so onderstebo durf keer het nie.

Ons sou van diè vrees van Gideon meer kon sê, maar ons los dit vanmôre nou maar. Dit is in elk geval duidelik dat God opdrag gegee het tot 'n publieke hervorming. Gideon moet God se volk allereers voorgaan in die bekering tot die suiwere erediens na die Woord van die HERE alleen.

Dit is nog altyd die begin van egte verlossing: bekering! Erns maak met die suiwere erediens vir die HERE.

Dit moet ons broeders en susters in Mamelodi, wat by 'n vermenging van heidendom en christendom grootgeword het, leer. Dit moet ons, wat gewoond geraak het aan 'n hele aantal gemeenskappe wat hulleself almal "kerk" noem, telkens weer leer.

Nee, ons kry vandag nie meer die opdrag om alle kerkgeboue waarin die erediens nie meer suiwer is nie, af te breek.

Maar die HERE eis ook vandag nog dat ons publiek tot bekering tot die gehoorsame diens aan die HERE bly oproep, slegs volgens sy Woord.

Daar is in ons land heelwat probleme. In die onlangse verkiesingstryd is deur verskeie mense gesê die toekoms van Suid-Afrika staan op die spel.

Maar hoe min mense sien nog raak dat ons toekoms allereers daarvan afhang of ons die diens van die HERE nog suiwer bewaar!

Die meeste kerkmense in ons land leef by die gedagte dat dit nie so veel saak maak by watter kerk 'n mens aangesluit is nie. Ons glo mos almal in dieselfde God en in sy Seun Jesus Christus? Daar word eerder na die getal gekyk dan na die geloof. Aanvanklik is mos in ons land die AGS (die Apostolies Geloofssending) as 'n sekte aangemerk, sodat daar geen eredienste van die groep oor die radio uitgesaai mog word nie. Maar toe die aantal gemeentes van die AGS so toegeneem het dat dit 'n vergelyking met die drie Afrikaanse susterkerke, soos dit genoem word, kon deurstaan, is daar by die SAUK opeens wel ruimte vir hulle kerkdienste gemaak.

Trouens, ook die feit dat die NG-kerk, die NH-kerk en die Gereformeerde Kerke mekaar "susterkerke" noem is veelseggend!

Vir die meeste mense is die politieke verskille heelwat belangriker as die kerklike verskille.

Maar juis in so'n denkklimaat is dit van beslissende betekenis dat ons publiek aandag bly vra vir die kenmerke van die ware kerk. Hoe noodsaaklik is dit ook vandag om die alleenreg van die suiwere erediens vir die HERE ooreenkomstig sy Woord hoog te hou en dwaling, ongehoorsaamheid en afgodery reguit by die naam te noem!

Ons het tog nie bang geword om daardie tipe van woorde in die mond te neem nie: sekte, dwaling, afgodery?

Die opstellers van die Heidelbergse Kategismus het in hulle dae rustig van "afgodery" in die Roomse kerk durf praat. Die mis, hoeveel ooreenkoms daar ook al met die nagmaal mag wees, is in wese niks anders nie as 'n vervloekte afgodery.

En ons Nederlandse Geloofsbelydenis sê frank en vry: die kerk is alleen daar waar die erediens suiwer gehou en enige dwaalleer teëgestaan word. Al die ander groepe, hoe bedrieglik veel dit ook al op die kerk mag lyk, is vals! Al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, eien hulle ten onregte die naam kerk toe.

Diè taal moet ook ons durf praat, broeders en susters. En ons moet ander mense daartoe durf oproep.

Ek weet, nie elkeen sal dit met dank van ons aanneem nie. Dit versteur wreed die rus van die kerklike verdraagsaamheid. Dit kan vir ons, net soos vir Gideon, vyande besorg. Dit kan jou die liewe vrede in jou familie kos.

Maar die wat so voorgaan in bekering tot die suiwere kerkdiens, publiek en ongeag die gevolge, is wel nes Gideon verlossend besig! Diè bewyer hom regtig vir die toekoms van Suid-Afrika.

Wie die goeie vir die ander soek, moet juis nie om die liewe vrede ontwil sy mond hou oor die kerk nie, maar begin om dit sentraal te plaas. Politieke, maatskaplike, sosiale hervorming- dit alles moet in die kerk begin. En as dit daar nie begin nie, is dit gedoem om te misluk. God het dit vir Gideon geleer: verlossing begin met bekering. Bekering tot gehoorsame kerkdiens.

2. En dit is dan die kerkdiens waarin die een offer vir die HERE sentraal bly staan. Dit leer ons vervolgens uit ons teks.

Gideon moet die nuwe altaar vir die HERE meteens ook inwy. In ons Bybelvertaling is dit nie te duidelik nie, maar dit is waarskynlik dat Gideon twee bulle uit die kraal van sy pa moes offer.

Nou is dit op die eerste gesig nie so heel besonder nie. Uiteraard word daar op 'n altaar geoffer. Die Kanaäniete het ook so gemaak. Ook hulle het vir hul afgode offers gebring.

Wat verander daar nou feitlik in Ofra? !

Ja, daar staan nou 'n ander, eenvoudiger altaar. Maar is daar verder wel so veel verskil met eers? Daar word op hierdie altaar tog ook weer gewoon geoffer, net soos vroeër?

Is dit uiteindelik tog nie maar net 'n saak van klein, uiterlike verskilletjies nie? Hulle soek almal dieselfde God, al noem hulle Hom ook verskillend; hulle begeer dieselfde heil, al rig die een sy erediens bietjie anderste in as die ander.

Dit mag dalk op die eerste gesig so lyk, broeders en susters, maar in werklikheid is daar 'n hemelsbreë verskil tussen die offers wat Gideom nou vir die HERE offer en die offers wat daar tot nou toe op die Baälaltaar gebring is. Want inderdaad, ook vir Baäl en Astarte is offers gebring. Maar daardie hele ritueel was bedoel om die afgode te dwing om welvaart, voorspoed, kos, vrugbaarheid, gesondheid en so meer te skenk. Hulle het die offers as die betaalmiddel waardeur die gode min of meer verplig was om hulle goeie kragte voelbaar te maak, beskou.

Daarby het die besef van skuld en sonde maar 'n baie kleine rol gespeel. Skuld was hoogstens nog 'n flater in die relasie met die godheid, 'n kommunikasiesteurnis as gevolg van onbedagsaamheid of oormag of vergeetagtigheid. n so'n geval het jy effens die harmonie met die godheid versteur. Maar deur 'n ekstra offer kon mens daardie flater gou herstel en was die godheid weer verplig om jou weer gunstig gesind te wees.

Daardie offerdiens was dus niks anders nie as 'n kwessie van selfverlossing. Die mens wat sy skuld nie meer besef nie, meen om die godewêreld te vriend te kan hou vir sy eie beswil.

Maar juis wat dit aanbelang het God dit vir sy volk anders geleer. Hy het sy volk op allerlei maniere daarvan wil deurdring dat geen mens nog reg op lewe, laat staan voorspoed het. Aangesien hulle teen die God van die lewe in opstand gekom het. Alle mense het in die eerste mens Adam gesondig en verdien God se vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie.

Enige mens staan teenoor die lewende God soseer skuldig dat hy dit nooit meer deur homself of deur 'n ander mens kan goedmaak nie.

As hy nog mag lewe, kan dit slegs deur GENADE wees.

En dìt, gemeente, was die betekenis van elke offer op die altaar vir die HERE. Dit was geen afkoopmiddel teen klein flaters nie. Maar in die offers was daar aanhoudend 'n herinnering aan die sonde. Die stroom van bloed het die mens onophoudelik daaraan herinner: ek verdien dit om dood te bloei. Alleen uit genade is dit dat ek nog leef.

Terselfdertyd het daardie offers die uitsig op die groot offer wat God vir die skuld van sy volk in die vooruitsig gestel het, oopgehou: die offer van God se eie Seun uit die hemel, die Christus wat die genade vir sy volk moes gaan koop met sy eie bloed.

Sùlke offers moes Gideon weer gaan offer. Die eerste bul as 'n sondeoffer, as 'n skuldbelydenis. Die bloed van daardie dier moes op die altaar gesprinkel word, terwyl die vleis en die hele res buite die poort op die mishoop verbrand moes word. As 'n vooruitwysing na Christus wat self buite die poort gegooi is, maar sy bloed vir ons versoening op God se altaar geoffer het.

Daarna moes Gideon 'n tweede bul as 'n brandoffer offer. Daardie dier moes volledig in rook opgaan op die altaar. As 'n simbool van volkome toewyding aan die HERE uit dankbaarheid. Daarom moes dit in ons teks ook 'n bul van 7 jaar oud wees: want alreeds 7 jaar (sien vers 1 van hierdie hoofstuk) het die Israeliete nie in dankbaarheid vir die HERE geleef nie. Hierdie bul moes daardie 7 jaar vergoed.

Hierdie bul het eweneens na Christus vooruitgewys, wat nie alleen deur sy dood ons skuld by God sou versoen nie, maar ook tydens sy lewe in ons plek in volkome toewyding aan sy Vader sou lewe.

Gideon het dus met daardie offers op die altaar vir die HERE God se volk moet teruglei van hulle heidense manipulasies om die gode te vriend te hou na die wonder van God se genade dat 'n Ander in ons plek die welverdiende dood en vloek sou gaan dra. Israel moes weer leer om uit die geloof in die komende Christus en sy offer as die enigste pad na die verlossing te lewe.

Voordat Gideon die Midianiete mag verja, moet God se volk eers weer sy skuld by God leer besef en van genade wil lewe met God. Daarom moet Gideon eers God se volk voorgaan in die bekering tot die suiwere offer vir die HERE. Want dit is die enigste pad na die verlossing.

Ons vandag, gemeente, hoef geen altare meer te bou om daarop bulle te offer nie. Sulke offers wat na Christus vooruitwys het oorbodig geword van dat God se Seun sy groot offer aan die kruis op Golgotha gebring het.

Vandag bestaan die suiwere erediens uit die prediking, doop- en nagmaalbediening wat na daardie offer op Golgotha as die enigste pad om aan God se ewige toorn te kan ontkom, aanhoudend terùgwys.

Maar ook nou nog is die HERE uiters onverdraagsaam teenoor enige poging om daardie offer van Christus van sy krag te berowe. Hy haat enige poging om die godsdiens tog weer tot 'n religieuse selfverlossing te maak, sodat daar maar min skuldbewusheid en verwondering oor God se genade meer is. Dan moet ons nog altyd, nes Gideon, in 'n openlike konfrontasie die enigste offer van Christus hooghou teenoor alle vroomskynende vervalsing daarvan.

Dis diè, gemeente, dat die opstellers van die Heidelbergse Kategismus die mis in die Roomse kerk 'n afgodery durf noem het: hulle het verstaan dat die mis in wese niks anders nie as 'n verloëning van die enigste offer en lyding van Christus was!

Is daar vandag in Suid-Afrika ook nie baie vroomheid waarin die mens homself met sy vroomheid al hoe meer in die middelpunt plaas en sy erediens beskou as die middel om die verstandhouding met die HERE goed te hou: as jy maar met 'n seker reëlmaat kerk toe kom, as jy maar die nagmaal vier...... Terwyl die lèwe al hoe slordiger en oppervlakkiger word. 'n Erediens sonder vrees en verwondering. 'n Erediens met al hoe minder skuldbesef.

Bedreig so'n houding ook ons nie?

Dan word niemand 'n diens bewys as in 'n gees van permissiwiteit alles maar goedgepraat word.

Dan eis God maar een ding: dat die weg van bekering gewys word. Hardop en publiek.

Ja maar, stoot ons dan nie mense af? vra dalk iemand.

Het Gideon sy pa, sy familie, sy plaasgenote en volksgenote afgestoot toe hy die altaar vir die HERE publiek in ere herstel het?

Natuurlik nie! Al was hulle aanvanklik ook vies vir Gideon, hy was darem 'n middel in God se hand om sy pa, sy familie, sy volk die pad terug te wys. Dit is juis God se ontferming as Hy nog na die enigste pad waarop die lewe nie doodloop nie, laat terugroep.

Die pad van weer kniel vir God se altaar en alleen van genade wil lewe, deur die offer van Christus.

AMEN.

(Pretoria, 24 September 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)