Israel se aanvoerder dreig om die leiding neer te lê

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1989-09-10
Teks: 
Rigters 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR RIGTERS 2: 1-5

LITURGIE:
L. Rigters 2: 6-23
Ps. 81: 9, 10, 13
Ps. 81: 15
Ps. 106: 3, 15, 17
Ps. 106: 18
Ps. 80: 10

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die boek oor die Rigters is nie die mooiste boek in die Bybel nie. Ons lees daarin wel heelwat boeiende, sterk verhale wat veral op die kinders baie indruk maak. En wat ook ons, volwassenes, nog altyd graag lees: Gideon, Simson, Barak en Debora......

Maar ten spyte van diè boeiende verhale is dit 'n boek om te huil.

Want die refrein in die geskiedenisse wat in die boek van die Rigters vertel word, is darem: "Maar die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE". Hulle het ongehoorsaamheid op ongehoorsaamheid gestapel.

Die afgodediens gryp om hom heen in die tyd van die Rigters. Die Baäls en Astartes ontvang die eer wat alleen die HERE toekom. En dit gaan daardeur van kwaad na erger.

Sodat verderop in hierdie boek God se een volk selfs teen homself verdeeld raak en hulle mekaar begin uitmoor! Die stam Benjamin word aan die slot van die boek amper heeltemaal uitgeroei.

Die tyd al tamelik gou na die intog in die beloofde land Kanaän vorm een van die donkerste periodes uit die geskiedenis van God se volk.

Dit is regtig om te huil.

Maar daarom het die HERE sy volk in daardie dae ook al gou aan die huil gebring, broeders en susters. Hy het Israel so aan die huil gemaak dat nog jare, wellig eeue daarna die naam van 'n dorpie in Israel daaraan bly herinner het. Nog heel lank het hulle in Israel die plek met die veelseggende naam "Wenen" geken, in Hebreeus: "Bogim". Net soos in ons land in Natal 'n dorp die naam "Weenen" gekry het as herinnering aan die geween na die nagetlike moordaanvalle deur die Zoeloeimpis van Dingaan op die Voortrekkerlaers.

Van die ontstaan van die dorp "Wenen", "Bogim" in Israel lees ons in ons teks.

Die HERE het van meetaf sy volk onder die oog gebring dat dit om te huil was. Hy het ook van meetaf laat weet wat die gevolge sou wees as hulle op so'n wyse op hulle eie gang wou bly aangaan.

As ek die boodskap van ons teks probeer saamvat, kom ek tot hierdie formulering:

ISRAEL SE AANVOERDER DREIG OM DIE LEIDING NEER TE LÊ

  1. HY VERWYT SY VOLK ONGEHOORSAAMHEID
  2. HY VOORSÊ SY VOLK SY AFWESIGHEID
  3. HY LEER SY VOLK HULLE AFHANKLIKHEID

1. Daar is in ons teks sprake van "die Engel van die HERE" wat God se volk in Bogim die les kom lees.

Dit is nie sommer 'n engel nie. Nie een van die vele dienende geeste wat die HERE voortdurend uitstuur om sy volk op aarde te dien nie.

Hierdie Engel neem in die Ou Testament 'n besondere plek in. Hy verskyn keer op keer op kritieke momente in die geskiedenis van God se volk om, as dit lyk dat 'n pad sal doodloop, dit weer oop te breek.

Hierdie Engel het by die Horeb vanuit 'n brandende doringbos Moses kom roep om God se volk uit Egipte te gaan weghaal, toe dit bykans onder die slawerny daar beswyk het.

Hierdie Engel het, so lees ons in Ex. 14: 19, voor die laer van Israel uitgetrek nadat Farao hulle eindelik laat vertrek het. Maar Hy het vervolgens ook die agterhoede gevorm toe Farao met sy hele leër darem nog 'n woeste poging om die Israeliete terug te haal onderneem het.

Aangaande hierdie Engel het God by die verbondsluiting in die Sinaiwoestyn gesê (Ex. 23: 20): "Kyk, Ek stuur my Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie. Want my Naam is in Hom. As jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders. Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete. En Ek sal hulle vernietig".

God gee hierdie Engel dus as 'n Aanvoerder saam vir sy volk, op die pad na die beloofde land. Die Engel van die HERE is die Generaal wat vir hulle die oorwinning sal bewerk.

Ons sien hierdie Engel dan ook in die boek Josua terug, hfst. 5: 13 e. v., as 'n soldaat met 'n ontblote swaard in sy hand. En as Josua nie dadelik begryp of dit 'n vriend of 'n vyand is nie, antwoord die militêr: "Ek is die Leërowerste van die HERE. Ek het nou gekom".

Ook na ons teks in die boek van die Rigters loop ons hierdie Leërowerste van God nog 'n hele aantal kere raak. Sien byvoorbeeld Rigt. 5: 23, waar ons lees: "Vervloek Meros, sê die Engel van die HERE, ja, vervloek sy inwoners omdat hulle die HERE nie tot hulp gekom het nie". Daar vervloek dus die Generaal die inwoners van Meros omdat hulle in die stryd gedros het.

Hierdie Engel van die HERE is nie sommer 'n Engel nie. En selfs geen aartsengel, soos byvoorbeeld die leëraanvoeder van die engele Migael van wie ons in Openb. 12 lees. In hierdie Engel begelei die HERE Self regstreeks sy volk. Dit is 'n verskyningsvorm van die God van die Verbond self. Het God nie in Ex. 23: 20 gesê nie: "My Naam is in Hom"? En as net-nou in die boek Rigters die ouers van Simson vir hierdie Engel vra wat sy naam is, antwoord Hy: "Waarom vra julle na my naam? Dit is WONDERBAAR". En vervolgens vaar hy wonderbaarlik in die vlam van 'n offer na die hemel op.

Ons weet uit die Nuwe Testament, gemeente, waar ons Here Jesus Christus in Matth. 11: 10 met 'n verwysing na die teks uit Ex. 23: 20 Homself die Engel van die Verbond noem, dat ons in hierdie Engel-Generaal met God die Seun te make het. Ons Heiland, wat toe nog uit Maria gebore moes word, het as die Engel van die HERE alreeds onder die Ou Testament sy volk voortdurend as Voorvegter te hulp gekom, om voor sy volk die stryd ter verlossing te stry.

So, as Aanvoeder in die stryd, sien ons Hom nou ook in ons teks kom en aanmarsjeer. Vanaf Josua 5, by Jerigo, het Hy die volk Israel in die stryd gestuur. Die stryd teen die outochtone bevolking van Kanaän. Dit moes 'n totale oorlog word. Die woordjie "genade" moes hulle in hierdie stryd maar uit hulle woordeboek skrap. 'n Wapenstilstand of vredsverdrag mog nie gesluit word nie. Daar mog geen krygsgevangenes gemaak word nie. Daar mog selfs geen buit bewaar word nie. Die HERE het beveel: alles uitroei! Nie net die soldate nie, ook die vroue en dogters, die grysaards en die babas, selfs die diere. En hul eiedomme met vuur verbrand! En alles wat aan hulle godsdiens herinner to op die grond afbreek!

Dit mag vir u dalk nogal rigoreus lyk, gemeente. 'n Baie wrede en onmenslike styl van oorlogvoer.

Dit was ook rigoreus, inderdaad. Maar nie wreed en sekerlik nie onmenslik nie. Want u moet in die oog bly hou dat dit maar nie 'n oorlog was om lewensruimte vir 'n volk wat geen eie plek gehad het, te skep nie. Maar dit was 'n stryd van die HERE teen die sonde!

Alreeds teenoor Abram het die HERE sy oordeel oor die 7 volke van Kanaän aangekondig weens hulle gruwelike goddeloosheid. Maar toe was God uiters lankmoedig gewees. Sy straf sou eers kom as die ongeregtigheid van die volke vòl sou wees. Dit moes eers die spuigate uitloop. Eers dan sou sy toorn losbars en die bewoners van Kanaän van die aarde verdelg soos eendag Sodom en Gomorra.

So ver het dit gekom as die Israeliete oor die Jordaan trek. En hulle word nou die wapen waarmee God die vonnis gaan voltrek. En dààrom moes daardie oorlog so totaal en radikaal word. Die sonde moet nou met wortel en tak en tak uitgeroei word. Die voorsmaak van die hel moet voelbaar word in die ban wat aan die bewoners van Kanaän voltrek sal word: die vloek van die heilige God!.

Die HERE het dit tegelyk ook met die oog op sy verbondsvolk sèlf gedoen. Israel moes nou onder aanvoering van die Engel van die HERE die sondes van Kanaän so radikaal te lyf gaan, omdat enige restant wat sou oorbly vir God se volk 'n lewensgroot gevaar sou kan word. God het daarvoor in Deuteronomium 7 indringend gewaarsku. As die kanker nie heeltemal weggesny word, woeker dit sommer weer verder. God het gewaarsku: geen mens laat lewe nie, geen genade verleen, en veral geen meisies laat lewe om daarmee te trou of seuns om vir jou dogters as man te gee. En geen altaar, gewyde paal of boom of gesnede beeld heel laat bly nie. Want daar sal onvermydelik 'n verleidelike suigkrag uitgaan. Dit sal jou by My, die HERE vandaag suig. En julle is 'n volk heilig aan die HERE julle God. Julle het die HERE uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.

God wil sy volk heeltemal by die sonde met sy suigkrag weghou, om dit vir Hom alleen te hê. Soos 'n skat waarop Hy suinig is.

Vanaf Jerigo het die Israeliete hulle vol oorgawe in die stryd gewerp. Agter hulle Aanvoerder, die Engel van die HERE aan. En dit het die een oorwinning na die ander geword. Dit het 'n ware triomftog geword. Stad na stad het in hulle hande geval. Gebied na gebied is beset.

Is daar, aan die begin van die boek Rigters, nie volop rede om te juig nie?

Maar nou sien ons in ons teks hoedat Israel se Aanvoerder sy troepe op die appèl roep en aan hulle voorhou dat daar hoegenaamd geen rede om te juig is nie. Dit is, inteendeel, om te huil!

Ons kry die indruk dat die volk in 'n volksvergadering byeen is op die plek wat hulle later Bogim genoem het. Of miskien het net die volksverteenwoordigers bymekaar gekom.

Daar heers 'n opgewekte stemming. 'n Gevoel dat alles tot nou toe pragtig verloop het. Hulle het swaar teëstanders verpletterend verslaan, enige verset die kop ingedruk. En elke stam het inmiddels 'n mooie plekkie vir homself verower, met goeie lewensmoontlikhede. 'n Gevoel van voldaanheid het die volk oormeester.

Maar wanneer hulle in diè stemming bymekaar is, sien hulle plotseling hulle goddelike Aanvoerder aankom.

Rigters 2 vertel dat die Engel van die HERE vanuit Gilgal na Bogim gekom het. En die roetebeskrywing staan daar nie vir niks nie, broeders en susters. Dit is hier veelseggend. Want Gilgal- dis mos die plek waar hulle begin het. Was Gilgal nie die vertrekpunt na die deurtog deur die Jordaan nie? Die laer waar hulle vir die komende stryd geïnstrueer is. Besnydenis en Pasgaviering het daar eers nog weereens vir hulle duidelik gemaak, dat dit 'n stryd teen die sonde sou word. Die sonde wat eweseer hul eie lewe bedreig het.

Vandag kom die Engel van die HERE aanmarsjeer (ja, daar staan in die Hebreeus 'n militêre uitdrukking) vanuit daardie Gilgal.

Hy is terug by die begin- wil Hy daarmee vir sy volk duidelik maak. Hùlle is vandag in 'n oorwinningsroes, hùlle meen hulle het al heelwat bereik. Maar hul Aanvoerder is weer ewe ver as by die begin. Want in die afgelope jare van stryd is die geveg nie soos een man gestry soos die bedoeling was nie. Maar Aanvoerder en leër het mekaar al gou kwytgeraak. Omdat die volk in ongehoorsaamheid op hulle eie gang aangegaan het.

Dit kom en verwyt die Engel van die HERE dan nou ook vir die volk: ongehoorsaamheid! Hulle het die instruksies nie nougeset opgevolg en uitgevoer nie. Hulle het maar net 'n probeerslag gedoen.

As u Rigters 1 lees, sien u hoedat geleidelik die ywer platgeval het. Toe elke stam vir homself die terrein wat aan hulle toegewys was, moes gaan suiwer, na die eerste groot oorwinnings, was hulle nie so baie lus meer nie. Eers het hulle nie mooi gedurf nie, al gou het dit hulle ook nie so veel meer kan skeel nie. En hulle het 'n baie soepeler en ongevaarliker metode om hul gebied in die hande te kry, geleer: 'n verdrag met die outochtone bevolking sluit. Daar was mos ruimte genoeg vir hulle saam. En hulle het huweliksbande gelê. So kon mens makliker kontakte kry. Die Kanaäniete het darem wel ontsag vir hulle gehad, oor die reputasie wat hulle in eerdere oorwinnings opgebou het. En ag, die altare wat daar eeue lank al gestaan het- waarom sou hulle dit verniel? Elkeen moet God maar op sy eie manier dien....

So was die stryd teen die sonde inmekaargesak en het hulle hul gewete met 'n kompromis gerusgestel.

"Wat het julle nou gedoen? ", vra die Generaal vol verwyt, maar ook verbysterd. "Julle het nie na my stem geluister nie!" Wat het daar van my instruksies tereg gekom??

As die HERE, die Owerste van die hemelse leërmag, vandag ons op die appèl sou roep, gemeente, wat sou Hy vir ons moes sê?

Hy het van sy kant die stryd teen die sonde bly stry. U weet dit. Die Bybel is vol daarvan. Ons Aanvoeder het op Golgotha die vors van die duisternis, die aanstigter van die goddeloosheid, die beslissende slag alreeds toegedien. En vandag mag die kerk as die fronttroepe van God se Koninkryk onder sy aanvoering die eindoorwinning beveg.

Maar veg òns soos Hy dit eis?

Met volledige inspanning? Laat ons ons volkome deur sy instruksies lei? Soos: Gee aan die duiwel geen plek nie; laat die sonde nie langer in julle lewe heers nie, en moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie. Pas op vir die gevaar van wêreldgelykvormigheid. Moenie die kompromis met die teëstander sluit nie, maar handhaaf die antitese.

Is ons regtig wel in alles daarop uit om die sonde, die duiwel en sy ganse ryk te bestry? En wil ons volop die hele lewe aan God se Koninkryk onderwerp?

Breek ons met alles wat ons tot afval van die HERE wil verlei?

Sekerlik, ons het op heelwat terreine oorwinnings vir God se Koninkryk behaal. Ons het gestry vir 'n Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Ons het gestry teen 'n sondige leer en lewe in die kerk. Ons het gestry vir Gereformeerde skoolonderwys, vir 'n maandblad tot ontwikkeling van die Gereformeerde lewe, ons raak toenemend by die sendingwerk in ons omgewing betrokke, daar word binnekort belangrike nuwe aktiwiteite van ons Evangelisasiekommissie van stapel gestuur.

Maar die gevaar is nie denkbeeldig nie dat ons, ten spyte van al daardie oorwinnings, of juis omdat 'n gevoel van voldaanheid oor diè oorwinnings ons oormeester het, dat ons nou al hoe meer die stryd begin staak en ons ongemerk deur die goddelose wêreld rondom ons laat opsluk.

Is ons nie besig om algaande aan te pas aan 'n wêreldse lewensstyl in die wyse waarop ons ons vrye tyd deurbring, in die lektuur wat ons in huis haal, in die t. v. -programme waarna ons luister...? Word die sport ook vir ons al hoe meer 'n afgod waarsonder ons nie meer kan lewe nie?

Ons mag vandag die vyande van God nie meer sommer uitroei nie. Ons moet hulle juis met die evangelie van verlossing probeer bekeer. Maar hoeveel werklike betrokkenheid met die sending en evangelisasiewerk is daar by u?

En hoekom begin so veel jongmense wat 'n verhouding met 'n seun of dogter uit 'n ander kerkgemeenskap kry, eers met mening oor die kerkkeuse nadink as hulle die troudatum al klaar gekies het?

Sou die HERE ook ons vandag nie heelwat kan verkwalik nie, gemeente?

Maar in diè geval moet ons wel weet dat dit dan baie gevaarlik word.

2. Want as die Engel van die HERE in Rigters 2 die volk ter verantwoording geroep het, en aan hulle ongehoorsaamheid moes verwyt, word dit baie ernstig en dreigend.

Hy herinner daaraan hoedat Hy voor hulle uitgetrek het, uit Egipte uit, in Kanaän in, na die reis deur die woestyn. Met Hom vooraan het die stryd voorspoedig gegaan. Langs 'n pad waarop hulle van die een verbasing in die ander geval het, het hul Generaal hulle saamgeneem. Met Hom kon hulle ook ewig verder. Nooit sou die weg doodloop nie.

Hy het met 'n eed beloof: "Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie".

Maar dan klink daar nou in v3. 3 die dreigende woord: "So sê Ek nou dan ook: Ek sal die bewoners van hierdie land nie meer voor julle uit verdrywe nie, maar hulle sal vyande vir julle wees, en hul gode 'n strik vir julle".

Dit kan dus ook anders! Israel se Aanvoerder dreig om die leiding neer te lê en Homself aan die stryd te onttrek. Hy sê hulle aan dat hulle dan voortaan maar sonder Hom teenoor hul vyande moet staan. As hulle dan tog hul eie gang gaan en sy instruksies in die wind slaan, moèt hulle ook maar op hul eie gang aangaan. Dan moet hulle voortaan maar sonder Hom regkom. Dan gaan Hy nie langer vooraan nie. Maar dan is Hy voortaan afwesig.

Hulle sal gou genoeg agterkom wat dit beteken! Dit word hulle ondergang.

Nou maar goed, gemeente, die hele vervolg van die boek Rigters is daar vol van. Eers was Israel die vyande die baas, maar al gou word die rolle omgedraai. Hulle kom van alle kante Israel oorspoel. En die afgodediens blyk hulle van die reën in die drup te help. As ons van al daardie vyande wat God se volk kom en tiranniseer, lees, broeders en susters, wil dit nie sê dat God die beheer begin verloor nie. Nee, God gee die beheer uit hande! Hy self gee sy volk nou in die hand van die een vyand na die ander oor. En Hy laat die afgodediens welig tier. Maar dan wel so, dat die mense daaraan kapot gaan. Die afgode word 'n valstrik, soos 'n aantreklike muisvalletjie wat jou jou nek breek.

Dit kan die gevolge wees as God se volk nie meer sy goddelike Aanvoerder fyn dophou nie en maklik word in die stryd teen die sonde. Dan kan die Generaal die leiding bewus neerlê en Homself in 'n veelbetekenende adfwesigheid terugtrek.

Diè waarskuwing moet ons vandag nog altyd ter harte neem, broeders en susters. Ons HERE kan ons vir straf aan die sonde en 'n wêreldse lewensstyl, aan die kompromis en die gemaksug oorgee as ons ons maar weinig meer van sy leiding aantrek.

Dan kan die wêreldgelykvormigheid waarteen ons ons nie meer uit alle mag verset nie, ons ondergang word. Dan kan die afgode van hierdie wêreld ons na die afgrond sleep en die vreugde uit ons lewe verniel. Dan kan verkeerde vriende en vriendinne ons vir goed by die God van die verbond wegsuig. Dan kan 'n huwelik wat nie uit die staanspoor uit begin het om die verbond en die kerk van die HERE ernstig te neem nie, 'n bron van ellende word.

God kan Homself vir straf van ons terugtrek en die lewe volledig in goddeloosheid laat vasloop. Want wie nie met Hom op alle fronte vir die oorwinning op die sonde wil veg nie, sal sonder

Hom die stryd definitief verloor.

3. Ons teks vertel tenslotte dat Israel destyds nie weinig geskrik het nie. Hulle het nou tog begin insien dat dit om te huil was.

Die volk het hulle stem verhef en geween, lees ons. En dit was daar en toe geen oppervlakkige uiterlike vertoon nie, broeders en susters. Die feit dat die plek waar hul op daardie oomblik was. voortaan "Weenen" genoem is, "Bogim", maak wel duidelik dat daar hewig en langdurig gehuil is. Hulle was verslae. Daar was klaarblyklik sprake van 'n egte skuldbesef wat begin deurbreek het. Hulle het na hierdie woorde van die Engel van die HERE begin besef hoeveel daar op die spel gestaan het.

Die verwyt en die waarskuwing van hulle Aanvoerder het weer vir hulle geleer hoe afhanklik hulle feitlik van God se hulp was. Hulle het nou tog verstaan: as die HERE die leiding neerlê- wat gaan daar dan van ons kom? Dan loop die lewe hier in Kanaän onvermydelik vir ons dood. As die HERE Homself terugtrek is die lewe voortaan sonder uitsig.

Daarom het hulle hul gehuil met 'n duidelike blyk van skuldbesef en bekering onderstreep. Hulle het daar ook aan die HERE geoffer. Kyk, gemeente, en sò ver wou die Engel van die HERE sy volk nou juis ook hê. So ver dat hulle hul afhanklikheid van Hom weer sou raaksien.

Dit wou Hy bereik.

Daarom kon Hy na Bogim vereers tog nog weer verder met hierdie volk. Hulle berou het 'n nuwe begin moontlik gemaak.

Ons weet uit die vervolg van die boek Rigters dat die bekering nie lank geduur het nie. Die HERE het na Bogim nog dikwels sy volk aan die huil moet maak, voordat Hy met hulle verder kon. Want dit is die enigste voorwaarde waarop Hy nog met sy volk verder wil: dat hulle hul afhanklikheid van Hom insien en weer volgens sy instruksies begin lewe. Dat hulle insien dat die lewe aan die ewige dood prysgegee word as Hy Homself uit die lewe terugtrek.

Maar dan is dit dus genadige ontferming, broeders en susters, as die HERE sy volk aan die huil maak deur hulle tot die orde te roep en deur te dreig om die leiding uit hande te gee!

So bewerk Hy juis dat Hy die leiding terugkry. So sorg Hy daarvoor dat ons weer by Hom terugkeer en ons weer na sy leiding skik.

Met diè bedoeling het Hy ook u vanmôre in hierdie preek gesoek.

AMEN

(Pretoria 10 September 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)